About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2004
>>
[2004] ZAWCHC 17
|
|
Davids and Others v Absa Bank beperk (A15/03) [2004] ZAWCHC 17; [2005] 1 All SA 583 (C); 2005 (3) SA 361 (C) (19 April 2004)
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP
DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: A15/03
In die saak tussen:
JOHANN
LE MEYER DAVIDS
Eerste Appellant
BASIL
PETER CUPIDO
Tweede Appellant
ANTHONY
ABRE JOHAN COERECIUS
Derde Appellant
en
ABSA BANK
BEPERK
Respondent
UITSPRAAK GELEWER: 19 APRIL
2004
FOURIE, R:
INLEIDING
[1] Die respondent het in die
Bellville landdroshof aksie ingestel teen die drie appellante en ene
Anthony Daniel Klaasen (âKlaasenâ),
gesamentlik en
afsonderlik, vir betaling van die bedrag van R359, 009.69, tesame met
rente en koste op die skaal soos tussen prokureur
en kliënt. Die
appellante en
Klaasen
het die aksie bestry, maar by die aanhoor
daarvan op 10 September 2002, was
Klaasen
in verstek en het die
landdros vonnis by verstek teen hom toegestaan. Die verhoor van die
aksie teen die appellante het voortgegaan
en na die aanhoor van
mondelinge getuienis, het die landdros vonnis teen appellante
gesamentlik en afsonderlik toegestaan, soos aangevra
deur respondent.
Die appellante kom nou in hoër beroep teen die vonnis van die
landdros en die bevel ten aansien van koste.
PLEITSTUKKE
[2] Die respondent se
skuldoorsaak word gegrond op onbeperkte skriftelike borgaktes wat die
appellante op 26 Maart 1998 by die Bellville
tak van respondent
onderteken het. Die appellante erken dat hulle die gemelde borgaktes
onderteken het, maar voer aan dat dit ân
uitdruklike beding van ân
voorafgaande mondelinge ooreenkoms tussen respondent en appellante
was dat appellante se totale aanspreeklikheid
beperk sou wees tot ân
bedrag van R50, 000.00. Appellante beweer voorts dat hulle die
onderskeie borgaktes onderteken het in die
bona fide
, maar
foutiewe geloof dat dit die ooreenkoms tussen die partye behoorlik
weergee, terwyl die borgaktes, strydig met sodanige ooreenkoms,
van
onbeperkte omvang was. Appellante voer derhalwe aan dat die betrokke
borgaktes nietig, alternatiewelik vernietigbaar is.
[3] Die appellante se
verweerskrif is geen toonbeeld van duidelikheid nie. Aanvanklik wil
dit voorkom of die pleitbesorger steun op
ân verweer van
rektifikasie, maar later blyk dit tog dat daar gesteun word op
eensydige dwaling wat tot gevolg het dat die betrokke
borgaktes
nietig, alternatiewelik vernietigbaar is. Soos Harms WAR (soos hy
toe was) dit in
Sonap Petroleum (SA) (Pty) Ltd v Pappadogianis
,
[1992] ZASCA 56
;
1992 (3) SA 234
(A) te 238D-E, beklemtoon het, is rektifikasie en
eensydige dwaling wedersyds uitsluitende begrippe, aangesien
rektifikasie ân
gemeenskaplike bedoeling veronderstel terwyl
eensydige dwaling ân gemeenskaplike bedoeling uitsluit.
[4] Dit blyk egter uit die
oorkonde van die verrigtinge in die hof
a quo
, dat die partye
en die landdros die saak benader het op die basis dat die appellante
se verweer dié van eensydige dwaling is wat
ân afwesigheid van
wilsooreenstemming tot gevolg gehad het. Dit is dus duidelik dat die
ware geskilpunt deur die partye uitgepluis
en deur die hof
a quo
is, met gevolg dat daar nie meer soveel nadruk op die pleitstukke
gelê hoef te word nie. Sien
Sentrachem Bpkv Wenhold
,
1995 (4)
SA 312
(AA) te 320 A.
[5] Samevattend
was die landdros geroepe om die volgende geskilpunte te bereg:
(a) Het
die appellante in dwaling verkeer? en, indien wel,
(b) Wat was die gevolg (indien
enige) van sodanige dwaling? In besonder, het sodanige dwaling die
nietigheid van die betrokke borgaktes
tot gevolg gehad?
[6] Wat die bewyslas betref, was
die partye in die hof
a quo
en op appèl dit eens dat
appellante geroepe was om op ân oorwig van waarskynlikhede te bewys
dat hulle in dwaling verkeer het,
welke dwaling die nietigheid van
die borgaktes tot gevolg gehad het. Ek aanvaar derhalwe, sonder om ân
bevinding in hierdie verband
te maak, dat die bewyslas op die
appellante gerus het.
AGTERGROND
[7] Die ondervermelde
agtergrondfeite is gemeensaak of onbetwis:
(a) Die eerste en derde
appellante, tesame met ene
John Edward Bailey (âBaileyâ)
en
Klaasen
, het belê in ân besigheid wat bedryf is onder die
naam Just Foam BK (âJust Foamâ). Die tweede appellant was
betrokke by Just
Foam as ân werwer van beleggings.
Bailey
en
Klaasen
het die daaglikse hantering en bestuur van die
besigheid van Just Foam behartig. Gedurende 1998 het Just Foam
kontantvloei probleme
ondervind en het
Bailey
vir appellante
meegedeel dat bedryfskapitaal van R50, 000.00 benodig word ten einde
chemikalieë aan te koop. Die appellante het ingestem
om hulle te
verbind om hierdie bedryfskapitaal te bekom en het
Bailey
onderneem
om die nodige reëlings te tref om ân lening vir die bedrag van
R50, 000.00 van die respondent te bekom. Appellante,
Bailey
en
Klaasen
ooreengekom dat elkeen aanspreeklik sou wees teenoor
respondent vir ân bedrag van R10, 000.00.
(b)
Bailey
die
onderhandelinge met respondent se Bellville tak gevoer. Op hierdie
tydstip was die limiet van die oortrokke fasiliteit wat respondent
aan Just Foam toegestaan het, ân bedrag van R150, 000-00.
Bailey
en
Klaasen
het op ân vroeër stadium, naamlik op 8 Junie 1997,
reeds onbeperkte borgaktes ten gunste van respondent verly vir die
oortrokke
fasiliteit van Just Foam. Na die ondertekening van die
onderhawige drie borgaktes deur appellante op 26 Maart 1998, het
respondent
die oortrokke limiet van Just Foam verhoog na R200,
000-00.
(c)
Bailey
het die
appellante verwittig dat hy al die reëlings met respondent getref
het ter verkryging van die addisionele finansiering en
dat appellante
op 26 Maart 1998 na respondent se Bellville tak moes gaan vir die
ondertekening van die nodige dokumentasie. Appellante
het voor
ondertekening van die betrokke borgaktes geen persoonlike kontak
hoegenaamd met respondent gehad nie.
Bailey
was op 26 Maart
1998 ook by respondent se Bellville tak, maar nie teenwoordig tydens
die ondertekening van die borgaktes nie.
[d] Mnr.
J. W. Geldenhuys
,
die bestuurder van respondent se Bellville tak, was op 26 Maart 1998
teenwoordig toe elk van die appellante sy betrokke borgakte
onderteken het. Elke appellant se eggenote was ook teenwoordig en het
die betrokke borgakte mede-onderteken, aangesien appellante
in
gemeenskap van goedere getroud was. Dit dien gemeld te word dat die
appellante en hulle eggenotes die betrokke borgaktes by verskillende
geleenthede op 26 Maart 1998 onderteken het, d.w.s. die onderskeie
egpare het nie die borgaktes in mekaar se teeenwoordigheid onderteken
nie, maar wel in die teenwoordigheid van
Geldenhuys
.
DIE
LANDDROS SE BEVINDING
[8] Die landdros het, na my
mening tereg, bevind dat appellante in dwaling verkeer het. Hulle
ware bedoeling was om saam met
Bailey
en
Klaasen
aanspreeklikheid te aanvaar teenoor respondent vir ân
totale bedrag van R50, 000-00. Hulle het egter die onbeperkte
borgaktes onderteken
in die
bona fide
, maar foutiewe geloof
dat die borgaktes aldus beperk was. Die landdros het egter bevind dat
nieteenstaande sodanige dwaling, die
appellante gebonde is teenoor
respondent uit hoofde van die onbeperkte borgaktes. Ek handel
hierinlater meer volledig met die landdros
se redes vir laasgenoemde
bevinding.
TOEPASLIKE
REGSBEGINSELS
[9] Die vertrekpunt is die
landdros se bevinding dat appellante by ondertekening van die
borgaktes in dwaling verkeer het oor die
inhoud daarvan. Daarteenoor
was die respondent se bedoeling dat appellante onbeperkte borgaktes
moes verly en het die skriftelike
borgaktes gevolglik die respondent
se ware bedoeling weergegee. Die vraag wat dan beantwoord moet word,
is of appellante se eensydige
dwaling die afwesigheid van
wilsooreenstemming
(dissensus)
tot gevolg gehad het. Anders gestel, is die vraag of appellante se
dwaling wesenlik was. In
Trust
Bank of Africa Ltd v Frysch
,
1977 (3) SA 562
(AA) te 587 D-E, stel Corbett AR (soos hy toe was)
dit as volg:
â
It
is trite, nevertheless, that not every error in the mind of a
contracting party, even if
induced by the other party, results in the vitiation of the contract
on the ground of dissensus. To have
this effect the error must, at
least, have played a material role in the decision of the mistaken
party to enter into the contract.â
[10] Indien bevind word dat
appellante se dwaling wel wesenlik was en
dissensus
tot gevolg gehad het, is die volgende vraag of appellante hulle
hierop kan beroep ten einde aan te voer dat dit die nietigheid van
die borgaktes tot gevolg gehad het. Hierdie vraag beslaan ân
problematiese gebied van ons reg waar daar nie altyd duidelikheid
is
oor die korrekte benadering by ân beroep op die afwesigheid van
wilsooreenstemming weens dwaling nie. In ân insiggewende artikel
van Hutchison en Van Heerden, getitel âMistake in Contract: A
comedy of (justus) errorsâ, SA Law Journal, Volume 104, November
1987 te 523, het die skrywers dit as volg gestel:
â
Despite the flurry of cases
and articles on the topic, the law on mistake remains riddled with
apparent contradictionsâ.
[11] Hutchison
en Van Heerden het in hulle gemelde artikel verwys na die twee
verskillende benaderings wat ons howe gevolg het by
ân beroep op
dissensus
weens dwaling. Hulle stel dit as volg te 523:
â
Thus, for example, the
Appellate Division has in a series of recent cases expressed the view
that, in its approach to the formation
of a contract, our law
adheres to the subjective will theory, as tempered by the reliance
theory in the form of the doctrine of
quasi-mutual assent, that is
the principle expressed by Blackburn J in the famous English case of
Smith v Hughes
(1871) LR 6 QB 597
at 607 (See Saambou-Nasionale
Bouvereniging v Friedman 1979(3) SA 978 (A); Mondorp
Eiendomsagentskap (Edms) Bpk v Kemp en De Beer
1979(4) SA 74 (A);
Spes Bona Bank Ltd v Portals Water Treatment South Africa (Pty) Ltd
1983 (1) SA 978
(A)). Nevertheless the courts persist in applying to
cases of mistake the doctrine of justus error which, although perhaps
also a
reflection of the reliance theory, is generally regarded as a
corrective to the objective declaration theory.â
Die skrywers het ân beroep
gedoen dat hierdie onderskeid in benadering in die geval van dwaling
uit die weg geruim moet word en
die volgende voorgestel te 530:
â
..... consistency, clarity
and simplicity in this area of the law can best be achieved by asking
in all cases of mistake: did the
parties reach consensus (that is,
was the mistake material)? If not, did the one party induce in the
mind of the other the reasonable
belief that consensus had been
reached? If the concept of justus error is to be retained, it should
consistently be defined in terms
of reasonable reliance of the other
party.â
[12] In
Sonap
Petroleum (Pty) Ltd v Pappadogianis
,
supra, het die Appèlhof by monde van Harms WAR die volgende beginsel
soos neergelê in
South
African Railways and Harbours v National Bank of South Africa
Limited
,
1924 AA 704 te 715-716, bekragtig:
â
The law, as a general rule,
concerns itself with the external manifestations and not the
workings, of the minds of parties to a contract.â
Die geleerde Appèlregter wys
egter te 238J-239A verder daarop dat in die geval van beweerde
dissensus
ons
reg met ân beroep op die vertrouensteorie bepaal of ân
afdwingbare kontrak tussen die partye tot stand gekom het. In hierdie
verband verwys die geleerde regter na twee beslissings van die
Appèlhof, naamlik
George
v Fairmead (Pty) Ltd
,
1958 (2) SA 465
en
National
and Overseas Distributors Corporation (Pty) Ltd v Potato Board
,
1958 (2) SA 473
, waar, volgens Harms WAR, gesaghebbend gehandel is
met die vraagstuk van
iustus
error
in die konteks
van sogenaamde eensydige dwaling. Die geleerde regter kom te 239G-H
tot die gevolgtrekking dat dit die benadering
van die Appèlhof was
om vir doeleindes van die laasgenoemde twee beslissings die volgende
bekende
dictum
van Blackburn J in
Smith
v Hughes,
supra te
607, aan te pas:
â
If, whatever a manâs real
intention may be, he so conducts himself that a reasonable man would
believe that he was assenting to
the terms proposed by the other
party, and that other party upon the belief enters into the contract
with him, the man thus conducting
himself would be equally bound as
if he had intended to agree to the other partyâs terms.â
[13] Die Appèlhof het gevolglik
in die
Sonap
Petroleum-saak
die
vertrouensteorie as grondslag aanvaar vir die beoordeling van die
geldigheid van ân beroep van ân kontrakparty op
dissensus
weens eensydige dwaling. Harms WAR kom te 239I-240B tot die
gevolgtrekking dat die bepalende vraag wat gevra moet word by ân
beroep
op
dissensus
weens beweerde
eensydige dwaling, die volgende is:
â
Het die party wie se
werklike bedoeling nie ooreenstem met die gemeenskaplik verklaarde
bedoeling van die partye nie, die ander party,
asân redelike man,
beweeg om te aanvaar dat sy verklaarde bedoeling sy werklike
bedoeling verteenwoordig?â(my vertaling).
Die geleerde regter doen verder
aan die hand dat die volgende drieledige ondersoek nodig is ten einde
hierdie vraag te beantwoord:
â
Eerstens,
was daar ân wanvoorstelling met betrekking tot een party se
bedoeling? Tweedens, wie het die wanvoorstelling gemaak? Derdens,
was
die ander party daardeur mislei? Wat die laaste vraag betref, word
twee moontlikhede voorsien: Was hy werklik mislei en sou ân
redelike man mislei gewees het?â
(my vertaling).
[14] ân
Beslissing waar die ondertekenaar van ân borgakte hom suksesvol
beroep het op
dissensus
weens sy eensydige dwaling, nieteenstaande die skyn van ân kontrak
wat hy verwek het deur die ondertekening van ân onbeperkte
borgakte, is
Prins v
Absa Bank Ltd
,
1998
(3) SA 904
(K). Davis WR (soos hy toe was), met Friedman RP
instemmend, het bevind dat die borg bewys het dat dit onredelik sou
wees indien
die bank toegelaat sou word om hom te beroep op die
onbeperkte borgakte. Davis WR stel te 909B-D, die volgende reeks vrae
voor ten
einde te bepaal of ân verweer van hierdie aard behoort te
slaag:
â
In other words, the
following series of questions can be used to determine whether a
reliance on the contract was reasonable in terms
of the conduct of
the party allegedly creating the impression of consensus and the
conduct of the other party in believing this impression:
1. Is there consensus?
2. If
not, is the dissensus caused by a mistake?
3. Is
the other party aware of the resilerâs mistake?
4. Who induced the mistake and
was it done by commission or omission which was either fraudulent,
negligent or even innocent?
This set of questions is
designed to assist the enquiry into the justification for relying on
the form of the contract and hence the
appearance of consensus.â
[15] Ek
is, met respek aan die geleerde regters, van mening dat dit nie nodig
was vir die beslissing van die
Prins-
saak
om opnuut die vrae te 909B-D te formuleer nie. Soos in paragraaf (13)
hierbo aangedui, het die Appèlhof reeds in die
Sonap
Petroleum-
saak
ân drietal vrae voorgestel wat logies en duidelik is en as volg in
die
Prins-
saak
aangewend kon word:
(a) Was
daar ân wanvoorstelling met betrekking tot een party se bedoeling?
Antwoord - Ja.
(b) Wie
het die wanvoorstelling gemaak? Antwoord - Die borg wie se werklike
bedoeling nie ooreengestem het met die gemeenskaplik verklaarde
bedoeling van die partye soos vervat in die skriftelike borgakte nie.
(c) Was
die bank daardeur mislei? Antwoord - Al was die bank werklik mislei
deur die wanvoorstelling, sou ân redelike persoon in
die posisie
van die betrokke bankamptenaar nie daardeur mislei gewees het nie.
TOEPASSING VAN DIE
REGSBEGINSELS OP DIE FEITE
[16] Dit is eerstens in hierdie
verband nodig om te verwys na twee brokkies getuienis wat deur
appellante gelewer is:
(a) Die eerste appellant en sy
eggenote het getuig dat
Geldenhuys
voor die ondertekening van die betrokke borgakte aan hulle gemeld het
dat âhulle net teken vir R50 000-00â.
Geldenhuys
het in sy getuienis ontken dat hy dit gesê het. Na my mening het die
landdros tereg bevind dat dit onwaarskynlik is dat
Geldenhuys
hierdie woorde sou geuiter het, terwyl daar ân onbeperkte borgakte
voor hom op die lessenaar was wat nog deur eerste appellant
en sy
eggenote onderteken moes word.
(b) Tweede appellant en sy
eggenote het getuig dat hy by die ondertekening van die borgakte
teenoor haar opgemerk het dat appellante
hulle slegs vir ân bedrag
van R50 000-00 verbind en dat
Geldenhuys
waarskynlik hierdie opmerking sou gehoor het.
Geldenhuys
kan nie onthou dat so ân opmerking gemaak was nie, maar is ek dit
eens met die landdros se bevinding dat dit onwaarskynlik is dat
ân
hoorbare opmerking van hierdie aard gemaak was.
[17] Die strekking van appellante
en hulle eggenotes se getuienis is dat
Geldenhuys
haastig was tydens die ondertekening van die borgaktes en nie die
aard of inhoud daarvan aan hulle verduidelik het nie. Die betrokke
borgaktes bestaan uit ân enkele dokument, maar bevat drie bladsye.
Volgens appellante en hulle eggenotes het
Geldenhuys
nie die
eerste bladsy van die betrokke borgaktes aan hulle voorgelê tydens
ondertekening nie, maar slegs die laaste bladsy waarop
die
handtekeninge aangebring moes word. Die appellante en hulle eggenotes
het die onderskeie borgaktes onderteken sonder dat hulle
dit gelees
het.
[18] Dit is duidelik dat
Geldenhuys
nie
kon onthou wat presies gebeur het op die dag van die ondertekening
van die borgaktes deur appellante nie. Daarvoor kan hy sekerlik
nie
kwalik geneem word nie aangesien ân tydperk van meer as vier jaar
reeds ten tyde van die verhoor verstryk het. Hy het dus bloot
getuig
oor die normale praktyk wat hy volg by die ondertekening van
bankdokumente deur kliënte. Die landdros het na my mening tereg
bevind dat
Geldenhuys
redelik min tyd met elk van die appellante spandeer het en
waarskynlik nie die inhoud van die betrokke borgaktes aan hulle
verduidelik
het nie. Soos reeds gemeld, het die landdros na my mening
tereg bevind dat appellante nie besef het dat hulle onbeperkte
borgaktes
onderteken nie en derhalwe gedwaal het oor die inhoud van
die betrokke borgaktes.
[19] Dit behoef na my mening nie
enige betoog dat die appellante se dwaling wesenlik was nie. Hulle
getuienis is duidelik dat indien
hulle bewus was daarvan dat die
betrokke borgaktes onbeperk was, hulle dit nie sou onderteken het
nie. Dit is dus duidelik dat hulle
dwaling
dissensus
tot gevolg gehad het.
[20] Die
drietal vrae soos voorgestel deur Harms WAR in die
Sonap
Petroleum-saak
, kan
vervolgens aangewend word ten einde te bepaal of die appellante se
beroep op
dissensus
weens hulle eensydige
dwaling, behoort te slaag. Die eerste vraag of daar ân
wanvoorstelling met betrekking tot een party se bedoeling
was, moet
bevestigend beantwoord word aangesien die appellante se verklaarde
bedoeling soos vervat in die skriftelike borgaktes,
nie ooreengestem
het met hulle werklike bedoeling nie. Dit beantwoord terselfdertyd
ook die tweede vraag oor wie die wanvoorstelling
gemaak het, naamlik
die appellante. Die laaste vraag wat dan beantwoord moet word, is of
respondent werklik mislei was en, indien
wel, of ân redelike
persoon mislei sou gewees het.
[21] Die strekking van die
landdros se bevinding is dat appellante nie vir respondent, en in
besonder vir
Geldenhuys
,
kan blameer vir die dwaling waaronder hulle verkeer het nie en
gevolglik teenoor respondent gebonde is uit hoofde van die borgaktes.
Na my mening het die landdros met hierdie benadering misgetas
aangesien die skuldbeginsel nie toepassing behoort te vind nie. (Sien
die
Sonap
Petroleum-saak
te
240C-I). Soos reeds gemeld, is die werklike vraag egter of
Geldenhuys
deur die apellante se voormelde wanvoorstelling mislei was en of ân
redelike persoon in die posisie van
Geldenhuys
daardeur mislei sou gewees het.
Geldenhuys
kon nie die gebeure tydens die ondertekening van die borgaktes onthou
nie en is die vraag dus of ân redelike persoon in die posisie
van
Geldenhuys
deur
appellante se wanvoorstelling mislei sou gewees het. Anders gestel,
sou die redelike persoon aanvaar het dat die appellante
se ware
bedoeling by die ondertekening van die borgaktes was om hulle
onbeperk teenoor respondent te verbind vir die verskuldigheid
van
Just Foam?
[22] Geldenhuys as die
verteenwoordiger van respondent wat betrokke was by die verhoging van
Just Foam se oortrokke fasilitiet en
die verkryging van verdere
borge, was teenwoordig tydens, en bewus van al die tersaaklike feite
en omstandighede wat aanleiding gegee
het tot, die ondertekening van
die betrokke borgaktes deur appellante. Ek is aan die hand van die
volgende getuienis van oordeel
dat ân redelike persoon in die
posisie en met die kennis van
Geldenhuys
in die gegewe omstandighede bewus sou gewees het dat dit waarskynlik
nie die ware bedoeling van die appellante was om hulle onbeperk
teenoor respondent te verbind vir die skuld van Just Foam nie:
(a) Die appellante, anders as
Bailey
en
Klaasen
,
het hulle nie voor 26 Maart 1998 teenoor respondent verbind vir die
skuld van Just Foam nie. Hulle was gevolglik nie teenoor respondent
aanspreeklik vir enige skuld van Just Foam wat opgeloop het voor 26
Maart 1998 nie.
(b) Die
onderhandeling tussen
Bailey,
namens Just Foam, en die respondent, was vir die verhoging van Just
Foam se oortrokke limiet met ân bedrag van R50, 000-00. Dit
was ten
aansien van hierdie verhoging wat addisionele borge bekom moes word
aangesien respondent van oordeel was dat die bestaande
borgskappe van
Bailey
en
Klaasen
onvoldoende was om die verhoging te regverdig.
(c) Die oortrokke fasiliteit van
Just Foam is onmiddellik na ondertekening van die borgaktes deur
appellante op 26 Maart 1998, met
ân bedrag van R50, 000-00 verhoog.
(
d
) Geldenhuys
getuig as volg oor die
rede waarom addisionele borge bekom was:
â
As
ek nou reg onthou het hulle ekstra kontrakte of iets bekom wat hulle
besigheid sou uitbrei daarom het hulle mense gekry om vir
hulle
sekuriteit te staan
vir
die ekstra geld.â
(my
beklemtoning)
Die âekstra geldâ waarna
Geldenhuys
verwys, is
klaarblyklik ân verwysing na die bedrag van R50, 000-00 waarmee
Just Foam se oortrokke limiet verhoog sou word.
(e)
Bailey
en
Klaasen
het met respondent oor die verkryging van verdere borge onderhandel
en het appellante dus vir die eerste keer by ondertekening van
die
betrokke borgaktes insae daarin gehad.
Geldenhuys
het dus geen sekerheid gehad dat
Bailey
en
Klaasen
die bank se vereistes ten aansien van verdere borgskappe korrek aan
appellante oorgedra het nie.
(f) Appellante het nie by
ondertekening die betrokke borgaktes, en in besonder die eerste
bladsy daarvan, gelees nie. Hulle sou dus
nie uit hoofde van die
inhoud van die borgaktes wat hulle wel gelees het, daarop bedag
gewees het dat dit onbeperkte borgaktes was
nie.
[23] In die lig van voormelde is
ek van oordeel dat ân redelike persoon in die posisie van
Geldenhuys
,
welwetende dat appellante nie betrokke was by die onderhandelinge met
respondent wat die ondertekening van die borgaktes voorafgegaan
het
nie, nie mislei sou gewees het om te glo dat appellante deur die
ondertekening van die borgaktes bedoel het om hulle onbeperk
te
verbind vir die verpligtinge van Just Foam nie. Ek is verder van
mening dat ân redelike persoon in die gegewe omstandighede
die aard
en inhoud van die betrokke borgaktes aan die appellante sou
verduidelik het ten einde te verseker dat hulle ware bedoeling
korrek
daarin weergegee word. Soos reeds gemeld, het
Geldenhuys
versuim om dit te doen en is ek dus van mening dat ân redelike
persoon nie deur appellante se ondertekening van die betrokke
borgaktes
mislei sou gewees het om te glo dat die inhoud van die
betrokke borgaktes die ware bedoeling van die appellante korrek
weergegee
het nie. Dit moet in hierdie verband in gedagte gehou word
dat
Geldenhuys
getuig het dat respondent tydens die opleiding van sy amptenare dit
benadruk dat die inhoud van dokumente voor ondertekening aan
kliënte
verduidelik moet word en nie bloot aanvaar moet word dat kliënte
bewus is van die inhoud daarvan nie. Die klaarblyklike
rede vir
hierdie opdrag aan respondent se amptenare is om te verseker dat
kliënte weet wat hulle teken en daar gevolglik wilsooreenstemming
sal wees.
Geldenhuys
was deeglik bewus van
hierdie opdrag, maar het hy in die onderhawige geval, waarskynlik
weens ân oormaat van haas, verkies om dit
nie na te kom nie.
[24] Daar is na my mening ook ân
verdere rede waarom dit van ân redelike persoon verwag sou word om
die aard en inhoud van die
borgaktes aan die appellante te
verduidelik. Ek verwys in hierdie verband na die inhoud van die
borgaktes. Ter illustrasie kan verwys
word na die eerste bladsy van
elk van die borgaktes wat, met uitsluiting van die opskrif, ân
verstommende 1255 woorde bevat. Dit
is verder verstommend dat die
1255 woorde in slegs vyf sinne vervat word. Die eerste sin bevat 370
woorde en die laaste sin 584 woorde.
Die appellante het nie die
borgaktes gelees nie, maar moet die vraag gevra word hoeveel sin
hulle daarvan sou kon gemaak het indien
hulle dit wel gelees het. Het
die tyd nie aangebreek dat finansiële instellings verplig behoort te
word om in die geval van ân
dokument van hierdie aard, ân kort
opsomming voor ondertekening aan die kliënt te verskaf nie? In
hierdie verband kan verwys word
na die verpligting wat aan
versekeraars opgelê word kragtens artikel 48 van die
Langtermynversekeringswet, No.52 van 1998, om ân
opsomming van ân
langtermynpolis aan ân versekerde te verskaf. Na my mening verg die
openbare belang dat ân uiters moeilik
verstaanbare dokument van
hierdie aard, veral waar die ondertekening daarvan sulke drastiese
gevolge kan hê, aan die persoon wat
dit moet onderteken, verduidelik
word. Sien
Eerste
Nasionale Bank van Suidelike Afrika
Beperk v Saayman NO
,
[1997] ZASCA 62
;
1997 (4) SA 302
(HHA) te 331B-H.
GEVOLGTREKKING
[25] Uit hoofde van die
voorafgaande is ek van mening dat die landdros fouteer het deur nie
die appellante se verweer te handhaaf
en die vordering teen hulle van
die hand te wys nie.
[26] Ek
sou derhalwe die volgende bevel maak:
(a) Die
appèl slaag met koste.
(b) Die landdros se vonnis en
bevel ten aansien van koste word tersyde gestel en vervang met die
volgende:
âDie
eis teen die tweede tot vierde verweerders word met koste van die
hand gewys.â
_______________
P.B. Fourie, R
Ek
stem saam.
________________
L.
Bozalek, R
Ek
stem saam en dit word aldus gelas.
______________
J.V.
Knoll, R
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP
DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: A15/03
In die saak tussen:
JOHANN
LE MEYER DAVIDS
Eerste Appellant
BASIL
PETER CUPIDO
Tweede Appellant
ANTHONY
ABRE JOHAN COERECIUS
Derde Appellant
en
ABSA BANK
BEPERK
Respondent
Advokaat namens
Appellante : Adv. H.E. De La Rey
Advokaat
namens Respondent : Adv. T. Le Roux
Prokureur namens
Appellante : Mnr. A De La Rey van De La Rey Prokureurs
Prokureur namens
Respondent : Bornman & Hayward
Verhoordatum : 6
Februarie 2004
Uitspraak : 19
April 2004