Joubert v Joubert (A1027/2003) [2004] ZAWCHC 6; [2004] 1 All SA 426 (C) (6 February 2004)

60 Reportability

Brief Summary

Divorce — Custody and maintenance — Best interests of children — Parties married out of community of property with three children — Respondent sought custody of children, appellant sought custody and maintenance — Court awarded custody of all three children to respondent with reasonable access to appellant — Appellant claimed two-thirds of respondent's net estate based on contributions to the estate — Court found appellant entitled to one-third of the estate and awarded maintenance of R1,800 per month for 18 months, with medical expenses covered — Appeal against these determinations dismissed as the court found them in the best interests of the children and justifiable based on contributions made by appellant.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2004
>>
[2004] ZAWCHC 6
|

|

Joubert v Joubert (A1027/2003) [2004] ZAWCHC 6; [2004] 1 All SA 426 (C) (6 February 2004)

IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP
DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer: A1027/2003
In die saak
tussen:
URSULA
RUST JOUBERT
Appellant
en
HENDRIK
LUDOLPH NEETHLING JOUBERT
Respondent
UITSPRAAK:
06 FEBRUARIE 2004
VAN ZYL
R:
INLEIDING
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n gedeelte van
die bevel wat op 26 September 2002 deur Waarnemende Regter Newdigate
in die hof
a quo
gegee is. Hoewel die oorkonde lywig is, is
die relevante gedeelte daarvan vir doeleindes van die appèl
betreklik beperk, vir sover
die getuienis van slegs die partye self
en van ene J F Wilbers ter sake is. In sowel hierdie hof as die hof
a
quo
is die appellant (verweerder) deur mnr Ferreira
verteenwoordig, terwyl mnr de Haan namens die respondent (eiser)
opgetree het. Die
hof wil graag sy dank teenoor hulle betuig vir die
bekwame wyse waarop hulle die partye se sake voorgedra en beredeneer
het.
[2] Die
partye is op 15 Desember 1979 buite gemeenskap met mekaar getroud.
Daar is drie kinders uit die huwelik gebore, naamlik ‘n
dogter
Sulante, ‘n seun Neethling en ‘n dogter Ninke, wat onderskeidelik
vyftien, dertien en tien jaar oud was ten tye van die
uitreik van
dagvaarding op 12 Desember 2000. In sy besonderhede van vordering het
die respondent aan die hand gedoen dat die huwelik
tussen die partye
onherstelbaar verbrokkel het en dat dit in die beste belang van die
kinders sou wees indien beheer en toesig oor
hulle aan hom toegeken
sou word, onderhewig aan die appellant se redelike toegang tot hulle.
Daarteenoor het hy aangebied om sekere
bates aan haar oor te dra en
rehabiliterende onderhoud in die bedrag van R2 000,00 per maand vir
‘n tydperk van een jaar aan haar
te betaal.
[3] Die
appellant het in haar verweerskrif erken dat die huwelik
onherstelbaar verbrokkel het maar het ontken dat dit in die kinders
se beste belang sou wees indien die beheer en toesig oor hulle aan
die respondent toegestaan sou word. In haar gewysigde teeneis
het sy
self beheer en toesig oor die kinders gevorder, onderhewig aan die
respondent se redelike toegang tot hulle. Voorts het sy
onderhoud vir
die kinders gevorder asook onderhoud vir haarself in die bedrag van
R2 500,00 per maand en betaling van al haar mediese
uitgawes tot haar
dood of hertroue. Daarbenewens het sy, ingevolge die bepalings van
artikel 7(3) van die
Wet op Egskeiding
70 van 1979 (“die
Wet”), ‘n derde van die respondent se netto bates geëis.
[4] In sy
pleit op die teeneis het die respondent daartoe ingestem om ‘n
derde van sy netto bates aan die appellant oor te dra.
Hy het egter
daarby volstaan dat die beheer en toesig oor die kinders aan hom
toegeken moet word en dat hy slegs rehabiliterende
onderhoud aan haar
betaal.
[5] Ten tye
van die verhoor was die partye dit eens dat dit in die beste belang
van die twee oudste kinders sou wees indien beheer
en toesig oor
hulle aan die respondent toegeken sou word. Die bewaring van die
jongste kind, Ninke, was egter in geskil. Ook in geskil
was ‘n
gepaste verdeling van die respondent se netto bates. Waar die
appellant aanvanklik ‘n derde daarvan gevorder het, het
sy nou haar
visier op twee derdes daarvan gestel. Sy het egter haar onderhoudseis
tot R1 800,00 per maand, tesame met mediese en
verwante uitgawes,
verminder. Die respondent het steeds rehabiliterende onderhoud
aangebied, maar nou slegs vir ‘n tydperk van
ses maande.
[6] Na
aanhoor van getuienis en oorweging van die betoog namens die partye,
het Newdigate WR beveel dat die beheer en toesig oor al
drie kinders
aan die respondent toegestaan moet word, onderhewig aan die appellant
se reg op redelike toegang. Wat betref die verdeling
van die netto
waarde van die respondent se bates en die onderhoud aan die appellant
betaalbaar, het hy in paragrawe 4 en 5 van sy
bevel soos volg beveel:
4. Die Eiser sal ‘n bedrag gelyk aan een-derde van die netto-waarde
van sy boedel aan die Verweerderes oorbetaal. Vir hierdie doeleindes
sal die versekeringspolisse bestem vir die verdere opleiding van die
kinders, Sanlam-polisse Nr. 1593128XO, 9854745X8 en 10974050X6,
nie
by die bates van die eiser ingereken word nie. Die betaling van die
Eiser ingevolge hierdie gedeelte van die bevel sal binne
‘n tydperk
van drie maande vanaf die datum van die bevel gemaak word.
Die
Eiser sal aan die Verweerderes onderhoud in die bedrag van R1 800.00
per maand betaal vir ‘n tydperk van 18 maande vanaf die
datum van
hierdie bevel, betaalbaar op die eerste dag van elke daaropvolgende
maand. Gedurende hierdie tydperk sal die Eiser ook
verplig wees om
al die Verweerderes se mediese en verwante uitgawes te betaal.
Die
huidige appèl word slegs teen hierdie twee paragrawe van die hof
a
quo
se bevel gerig.
DIE
GETUIENIS
[7] Die
relevante gedeelte van die respondent se getuienis was, in 'n
neutedop, dat sy huwelik van vroeg af reeds ongelukkig was maar
dat
sy drie kinders die middelpunt van sy bestaan was. Hulle was juis die
rede waarom hy nie in 'n heelwat vroeër stadium stappe
geneem het om
die huwelik te beëindig nie. Dit was nie sy ambisie om ryk te word
nie en hy het geen besondere professionele ideale
gekoester nie. Dit
was juis een van die probleme in die huwelik. Hoewel sy vrou, die
appellant, 'n knap regssekretaresse was, het
hy verkies dat sy na die
geboorte van hulle eerste kind nie meer werk nie. Sedert hulle
uitmekaar is, was sy finansiële posisie
benard en was hy grotendeels
van sy moeder, by wie hy gewoon het, afhanklik. Indien die
gesinswoning egter teen 'n geraamde prys
van R750 000,00 verkoop sou
word, sou hy daartoe in staat gestel word om homself en die kinders
na behore te kan onderhou. Hy het
toegegee dat hy ook skuld aan die
verbrokkeling van die huwelik gehad het en was heeltemal bereid om 'n
derde van die netto waarde
van sy boedel aan die appellant af te
staan, asook om vir 'n beperkte tydperk rehabiliterende onderhoud aan
haar te betaal. Volgens
hom sou sy sonder te veel moeite weer werk
kon vind by 'n prokureursfirma en aldus 'n goeie inkomste genereer,
mits sy bereid sou
wees om haar kennis en kundigheid weer op datum to
bring en 'n toepaslike rekenaarkursus te voltooi. Hy self het
intussen 'n verhouding
met ene mev Helen Jurgens, 'n geskeie dame met
twee dogters, aangeknoop en was van voorneme om met haar te trou
sodra die egskeiding
afgehandel is.
[8] In
kruisondervraging is die respondent in die fynste besonderhede oor sy
finansiële posisie uitgevra ten einde vas te stel wat
die waarde van
sy bates is en in welke mate hy daartoe in staat sou wees om sy
inkomste te vergroot en sy uitgawes te verminder.
Voorts is groot
gewag gemaak van die bydraes wat deur die appellant en haar ouers
gemaak is tot die vergroting van sy boedel. In
die uitspraak van die
hof
a quo
word daar volledig met sodanige getuienis gehandel.
Ek is dus nie van voorneme om dit te herhaal nie.
[9] Die
appellant het getuig oor haar loopbaan in regssekretariële werk, wat
sy sewentien jaar laas (1985) gedoen het. Sy en die
respondent het
hulle huis in Pretoria vir R80 000,00 gekoop met behulp van 'n
skenking van R15 000,00 wat sy van haar ouers ontvang
het en 'n
lening van R65 000,00 wat haar vader aan haar voorgeskiet het. Die
huis is in haar naam geregistreer. Met die opbrengs
uit die verkoop
van hierdie huis was hulle in staat gestel om ‘n huis in
Somerset-Wes te koop. Hierdie huis is in die respondent
se naam
geregistreer en dit is gemene saak dat dit sy grootste bate is.
Volgens die appellant kom twee derdes daarvan haar toe aangesien
dit
deur middel van die voormelde skenking, lening en diverse verdere
bydraes deur haar gemaak, aangeskaf is. Hoewel sy bereid was
om weer
tot die arbeidsmark toe te tree en om ‘n rekenaarkursus met die oog
daarop te voltooi, was haar verwagting nie groot dat
sy op
sewe-en-veertigjarige ouderdom geholpe sou raak nie. Sy het dus
aangedring daarop dat die respondent aan haar onderhoud in
die bedrag
van R2 500,00 per maand betaal tot haar dood of hertroue. Saam met
die opbrengs van ‘n familietrust, wat aan haar sowat
R20 000,00 per
jaar besorg het, en dividende van ongeveer R2 000,00 per jaar uit
haar aandelebesit afkomstig, sou sy beswaarlik aan
die lewe kon bly.
Sy was dus aangewese op ‘n addisionele bron van inkomste.
[10] Mnr J F
Wilbers, ‘n bedryfsielkundige, het getuig oor sekere psigometriese
toetse wat op die appellant uitgevoer is ten einde
te bepaal wat haar
kanse is om na soveel jaar weer tot die arbeidsmark toe te tree.
Volgens hom was haar kans uiters skraal om ‘n
aanstelling as
regssekretaresse te kry, veral vanweë haar rekenaar-ongeletterdheid
en die feit dat sy so lank laas gewerk het. In
ieder geval sou dit
haar by die R10 000,00 kos om die nodige kursusse to voltooi ten
einde haar in die betrokke mark kompeterend
te maak. Hy het toegegee
dat haar vorige ervaring nie nutteloos sou wees nie en aan haar
sekere voordele sou besorg teenoor kandidate
wat vars uit die kollege
kom. In hierdie verband sou haar volwassenheid, betroubaarheid en
verantwoordelikheidsbesef sterk in haar
guns tel.
UITSPRAAK
VAN DIE HOF
A QUO
[11] Na 'n
uiteensetting van die relevante agtergrondsfeite, het Newdigate WR
aanvanklik gehandel met die beheer en toesig oor Ninke.
Hy het die
tersaaklike getuienis - deskundig en andersins - oorweeg en tot die
slotsom gekom dat dit in Ninke se beste belang sou
wees om saam met
die ander twee kinders onder die beheer en toesig van die respondent
te wees. Dit sou natuurlik onderhewig wees
aan die appellant se reg
van redelike toegang.
[12] Die
geleerde regter het voorts 'n volledige bespreking gewy aan die
verdeling van die respondent se netto bates ingevolge die
bepalings
van artikel 7(3) van die Wet. Die appellant se eis van twee derdes
van sodanige bates was gegrond, enersyds, op haar bydrae
as vrou en
moeder tot die groei en instandhouding van die respondent se boedel
en, andersyds, op haar substantiewe finansiële bydraes
daartoe. In
hierdie verband het sy staatgemaak op die voormelde skenking en
lening, van haar vader afkomstig, waarmee die partye
gedurende 1983
hulle eerste huis in Pretoria aangekoop het. Die lening was teen
R500,00 per maand, teen 'n besonder billike rentekoers
van 5% per
jaar, terugbetaalbaar. Volgens die appellant het sy uit haar eie sak
ongeveer R12 000,00 ten opsigte van sodanige terugbetalings
betaal.
Sy het ook van tyd tot tyd ander bydraes uit haar spaargeld gemaak.
Volgens die appellant is die rente op die lening nooit
betaal nie en
haar ouers het ongeveer R5 000,00 afgeskryf. Die respondent het
hierdie bedrag op R300,00 gestel.
[13] Toe die
partye gedurende 1988 na Somerset-Wes verhuis het, is die huis in
Pretoria teen R105 000,00 verkoop (R101 500,00 netto).
Hierdie bedrag
het hulle aangewend ter gedeeltelike betaling van 'n huis in
Somerset-Wes wat hulle teen R175 000,00 aangekoop het.
Die huis is in
die respondent se naam geregistreer. Weer eens het die appellant se
vader 'n lening vir die balans aangebied teen
'n koers van 10 tot 15%
terugbetaalbaar teen R1 000,00 per maand. Die respondent het die
lening terugbetaal. Vanweë hierdie betrokkenheid
van die appellant
en haar ouers by die opbou van die respondent se boedel, het die
appellant aangevoer dat dit reg en billik sou
wees om twee derdes van
die boedel aan haar oor te dra. Tydens betoog het haar advokaat
hierdie proporsie na die helfte verminder.
Die hof het hierdie betoog
verwerp aangesien die appellant se daadwerklik bewese bydrae tot die
aankoop van die Pretoria huis slegs
R27 000,00 was, terwyl die
lenings van haar vader afkomstig deur die respondent terugbetaal is.
Op grond van haar direkte bydrae
van R27 000,00 en haar indirekte
bydrae as tuisteskepper was die hof dus bereid om aan haar slegs ‘n
derde van die respondent se
netto bates toe te staan. Dit sou reg en
billik wees dat sodanige oordrag van bates binne drie maande geskied.
Vir doeleindes van
die berekening van die bates sou die
versekeringspolisse wat die respondent uitgeneem het om voorsiening
te maak vir die kinders
se universiteitsopleiding egter buite
rekening gelaat word.
[14] Wat
betref die appellant se onderhoudseis het die hof
a quo
daarop
gewys dat die respondent, wat nie ‘n “status of geldgedrewe
persoon” was nie, se gemiddelde inkomste uit sy prokureurspraktyk
sowat R10 500,00 per maand beloop het. Hy het verkies om vrye tyd
saam met sy kinders deur te bring as om sy inkomste op kantoor
te
vergroot, ten spyte daarvan dat sy inkomste inderdaad nie sy uitgawes
gedek het nie.
[15] Ten
voordele van die appellant was die feit dat sy, op gelyke voet met
haar drie susters en die dogter van ‘n oorlede suster,
‘n
begunstigde was van ‘n familietrust deur haar oorlede vader geskep.
Die trust was die eienaar van ‘n huis te Stellenbosch
ter waarde
van R494 515,00 en aandele ter waarde van R2 796 5000,00. Die
appellant het, soos reeds vermeld (par 9 hierbo), ‘n bedrag
van
ongeveer R20 000,00 per jaar as inkomste uit die trust ontvang.
Ooreenkomstig die trustakte sou die trust gedurende 2007 verdeel
word, tensy die bevoordeeldes, in hulle hoedanigheid as trustees, sou
besluit om dit voort te sit. Intussen het hulle die bevoegdheid
gehad
om kapitaalbedrae aan begunstigdes voor beëindiging van die trust
voor te skiet.
[16] Benewens
haar aandeel in die gemelde trust, was die appellant ook die eienaar
van genoteerde aandele ter waarde van ongeveer
R68 000,00 en ‘n
motorvoertuig wat volgens haar skatting ongeveer R8 000,00 werd was.
Sy het ook meubels, waarvan die waarde onseker
was, van haar ouers
geërf.
[17] Die hof
het kennis geneem van die feit dat die appellant ‘n bekwame
regssekretaresse was, maar sedert 1985 nie gewerk het nie.
Ten tye
van die verhoor was sy reeds ses-en-veertig jaar oud. Ten spyte van
die spanning deur die egskeiding veroorsaak, het sy egter
in goeie
gesondheid verkeer. Van belang was Mnr Wilbers se getuienis dat sy
ongeveer ses maande tyd sou benodig om die nodige kursusse
te voltooi
en daarna nog ses maande nodig sou hê om haar praktiese vaardighede
op te knap. Dit sou haar vervolgens ongeveer ses
maande neem om ‘n
betrekking as regssekretaresse te bekom. Die gemiddelde maandelikse
salaris wat sy dan te wagte sou wees, sou
ongeveer R5 900,00 wees.
[18] Met
inagneming van hierdie feite en omstandighede was die hof die mening
toegedaan dat dit nie onredelik sou wees om van die
appellant te
verwag om weer as regssekretaresse te werk nie. Sy het in die verlede
hierdie beroep suksesvol bedryf en, met die nodige
verdere opleiding,
sou sy dit weer kon doen. Aangesien sy egter ongeveer agtien maande
sou benodig om weer tot die arbeidsmark toe
te tree, sou sy intussen
op rehabiliterende onderhoud geregtig wees.
‘n
Onderhoudsbedrag van R1 800,00 per maand, tesame met mediese en
verwante koste, sou onder die omstandighede nie onredelik wees
nie.
[19] Ten
spyte daarvan dat die respondent wesenlik suksesvol was, het die
geleerde regter besluit, met verwysing na die bepalings
van artikel
10 van die Wet, dat dit billik sou wees om geen kostebevel te maak
nie. Hierdie besluit het daarmee saamgehang dat die
appellant
wesenlik suksesvol was in die voorafgaande sake waarin koste
voorbehou is, naamlik ‘n bestrede aansoek om uitstel en
‘n
bestrede aansoek om tussentydse bewaring van Ninke. Die hof het hom
in hierdie verband laat lei deur die nadelige uitwerking
wat ‘n
kostebevel sou hê op of die finansiële posisie van veral die
appellant. Dit sou noodwendig ‘n wanbalans skep.
BETOOG NAMENS DIE APPELLANT
[20] Met
verwysing na die
Childs
en
Bezuidenhout
beslissings
(par 30 hieronder), het Mnr Ferreira betoog dat die hof
a quo
gefouteer het deur nie te bevind dat die appellant op minstens ‘n
helfte van die respondent se netto bates geregtig was nie. In
hierdie
verband het hy aan die hand gedoen dat die styging in die huisverband
sedert 2002 deur die respondent se toedoen, en sy beweerde
regskostes
van R200,000,00, buite rekening gelaat moet word vir doeleindes van
bepaling van die netto waarde van sy bates. Voorts
het hy betoog dat
die respondent op geen ander wyse as deur bemiddeling van die
appellant se ouers sy vernaamste bate, die huis te
Somerset-Wes, sou
kon bekom of finansier het nie. Die appellant was self nie daartoe in
staat om die respondent se boedel te help
vergroot nie aangesien sy,
op die respondent se aandrang, sedert die geboorte van hulle eerste
kind nie meer gewerk het nie. Sy het
egter sedertdien indirek as
tuisteskepper bygedra, terwyl haar direkte bydrae van R27 000,00 (kyk
par 13 hierbo) volgens teenswoordige
geldwaardes op ongeveer R200
000,00 sou neerkom.
[21] Wat
betref die kwessie van onderhoud vir die appellant het mnr Ferreira
aan die hand gedoen dat dit billik sou wees indien die
respondent
gelas sou word om aan haar onderhoud in die bedrag van R2 500,00 per
maand, asook al haar mediese uitgawes, te betaal
tot haar dood of
hertroue. In hierdie verband het hy veral staatgemaak op die feit dat
haar verdienvermoë ten tye van die verhoor
op 'n nul basis gestaan
het en dat haar kanse skraal was dat sy 'n lonende betrekking sou
kry.
BETOOG
NAMENS DIE RESPONDENT
[22] Op sy
beurt het mnr de Haan betoog dat die betrokke bevele van die hof
a
quo
diskresionêr was en dat hierdie hof ongeneë sal wees om
daarmee in te meng. Dit sou hy doen slegs indien hy oortuig sou wees
dat
die hof
a quo
bevooroordeeld, willekeurig of sonder
voldoende redes sy diskresie uitgeoefen het, of indien sy beslissing
op foutiewe beginsels berus
het. Die appellant het in geen stadium
enige sodanige bewering gemaak nie en wou bloot hierdie hof probeer
oortuig om op die feite
'n ander bevel te gee.
[23] Wat
betref die verdeling van die respondent se netto bates, het mnr de
Haan daarop gewys dat die feite in die
Childs
en
Bezuidenhout
sake (par 20 hierbo) hemelsbreed van dié in die onderhawige saak
verskil. Vir sover elke saak op sy eie feite en omstandighede
beoordeel
moes word, kon dit nie, in die teenswoordige geval, gesê
word dat die hof nie al die relevante feite en omstandighede
behoorlik
in ag geneem het toe hy sy verdelingsbevel gemaak het nie.
[24] Dieselfde
het, volgens mnr de Haan, ten opsigte van die onderhoudskwessie
gegeld. Die appellant kon klaarblyklik, na 'n tydperk
van verdere
opleiding, weer tot die arbeidsmark toetree en haarself dus onderhou.
Met haar bekwaamheid en betroubaarheid as 'n potensiële
werknemer
het niks geskeel nie. Daar het geen rede bestaan waarom sy nie, met
haar ervaring en kundigheid, gou weer op peil sou kon
wees as 'n
vaardige en behendige regssekretaresse nie. Dit sou haar 'n goeie
salaris in die sak besorg. Tesame met haar inkomste
uit die trust en
dividende sou sy heeltemal selfversorgend kon wees. Daarbenewens was
daar die vooruitsig van 'n aansienlike kontantinspuiting
uit die
trustopbrengs terwyl die waarde van haar eie aandeel-portefeulje nie
te versmaai was nie.
[25] Die
respondent se finansiële posisie was, volgens mnr de Haan, nie goed
nie. Sy vooruitsigte op verbeterde inkomste uit sy prokureurspraktyk
was beperk vanweë die prioriteite wat hy vir himself en sy kinders
gestel het. Die hof het dus tereg besluit om bloot rehabiliterende
onderhoud vir ’n tydperk van agtien maande toe te staan.
DIE
RELEVANTE BEPALINGS VAN DIE
WET OP EGSKEIDING
70
VAN 1979
[26] Artikel 7 van die Wet handel met die
verdeling van bates en onderhoud van die partye tot ‘n
egskeidingsgeding. Die relevante
deel daarvan, vir teenswoordige
doeleindes, is die volgende:
‘n Hof wat ‘n egskeidingsbevel
verleen, kan in ooreenstemming met ‘n skriftelike ooreenkoms
tussen die partye ‘n bevel gee
met betrekking tot die verdeling
van die bates van die partye of die betaling van onderhoud deur die
een party aan die ander.
By ontstentenis van ‘n bevel
gegee kragtens subartikel (1) met betrekking tot die betaling van
onderhoud deur een party aan die
ander kan die hof, met inagneming
van die bestaande of verwagte vermoëns van elk van die partye,
hulle onderskeie verdienvermoëns,
finansiële behoeftes en
verpligtinge, die ouderdom van elk van die partye, die duur van die
huwelik, die lewenspeil van die partye
voor die egskeiding, hulle
gedrag vir sover dit op die verbrokkeling van die huwelik betrekking
het, ‘n bevel ingevolge subartikel
(3) en enige ander faktor wat
na die oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word, ‘n
bevel gee wat die hof billik
ag met betrekking tot die betaling van
onderhoud deur die een party aan die ander vir enige tydperk tot die
dood of hertroue van
die party ten gunste van wie die bevel gegee
is, na gelang die een of die ander eerste plaasvind.
‘n Hof wat ‘n egskeidingsbevel
verleen ten opsigte van ‘n huwelik buite gemeenskap van goed …
kan, behoudens die bepalings
van subartikels (4), (5) en (6), op
aansoek van een van die partye by die huwelik, by ontstentenis van
‘n ooreenkoms tussen hulle
betreffende die verdeling van hul
bates, beveel dat dié bates, of dié gedeelte van die bates, van
die ander party wat die hof
billik ag aan eersgenoemde party
oorgedra word.
‘n Bevel kragtens subartikel (3)
word nie gegee nie tensy die hof oortuig is dat dit billik en
regverdig is op grond daarvan dat
die party ten gunste van wie die
bevel gegee word tydens die duur van die huwelik direk of indirek
bygedra het tot die instandhouding
of groei van die boedel van die
ander party, hetsy deur die lewering van dienste, of die besparing
van uitgawes wat andersins aangegee
moes word, of op enige ander
wyse.
By die bepaling van die bates of
die gedeelte van die bates wat oorgedra moet word soos in subartikel
(3) beoog, neem die hof, benewens
enige direkte of indirekte bydrae
deur die betrokke party tot die instandhouding of groei van die
boedel van die ander party gelewer
soos in subartikel (4) beoog, ook
in aanmerking –
die bestaande vermoëns en
verpligtinge van die partye …
enige skenking wat tydens die duur
van die huwelik deur die een party aan die ander gemaak is …
enige bevel deur die hof kragtens
artikel 9 van hierdie Wet of kragtens enige ander wet gemaak wat
die vermoënsposisie van die
partye raak; en
enige ander faktor wat na die
oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[27] Dit is duidelik uit hierdie
bepalings van die Wet dat die hof ‘n diskresie moet uitoefen met
betrekking tot enige bevel van
verdeling van bates of onderhoud wat
hy ingevolge artikels 7(3) en 7(2) onderskeidelik van die Wet sou
verleen. Die maatstaf deur
die Wetgewer in hierdie verband ingevoer,
is billikheid. Botha AR het, in
Beaumont v Beaumont
1987 (1)
SA 967
(A) op 988I-J, die diskresie in artikel 7(3) vervat juis
beskryf as “the exercise of a purely discretionary judgment in
equity”.
Dit hang ten nouste saam, soos blyk uit artikel 7(4),
waarmee artikel 7(3) saamgelees moet word, met geregtigheid in die
sin van
dit wat reg of regverdig is.
[28] Alvorens
‘n hof van appèl met die uitoefening van ‘n diskresie deur die
hof
a quo
kan inmeng, moet hy tevrede gestel word dat sodanige
hof nie op ‘n regterlike wyse sy diskresie uitgeoefen het nie. Dit
beteken
dat hy oortuig moet word dat die hof
a quo
se
beslissing willekeurig of bevooroordeeld was, of op ‘n foutiewe
regsbeginsel gegrondves was of andersins nie behoorlik geregverdig
was nie. Indien aangetoon word dat die hof al die relevante feite en
omstandighede behoorlik en volledig in ag geneem het vir doeleindes
van sy besluit, ongeag of die hof van appèl tot dieselfde
gevolgtrekking op die feite sou kom of nie, is daar geen basis vir
inmenging
nie. Greenberg AR het, met verwysing na die feite in die
saak voor hom, dit in
Ex Parte Neethling and Others
1951 (4)
SA 331
(A) op 335E-G aldus gestel:
Can it be said in
the present case that the Court
a quo
has exercised its
discretion capriciously or upon a wrong principle, that it has not
brought its unbiassed judgment to bear on the
question or has not
acted for substantial reasons? I can see no ground for answering this
question in the affirmative. The Court
fully considered the question
and came to a decision on grounds that were relevant and of
considerable force. Indeed I am far from
satisfied that I would not
have come to the same conclusion, which makes it impossible for me to
say that the Court did not exercise
a judicial discretion, but even
if this Court was satisfied that it would have granted the
application that in itself would not be
ground for interference.
[29] Die bewyslas rus op die appellant
om die hof van appèl te oortuig dat die hof
a quo
sy
diskresie nie judisieel of regterlik uitgeoefen het nie (
Cronje v
Pelser
1967 (2) SA 589
(A) op 593C). Oor die algemeen sal ‘n
hof egter ongeneë wees om op appèl met die uitoefening van ‘n
ander hof se diskresie
in te meng. As die hof hom nie wanvoorgelig
het nie, of op ‘n onbehoorlike wyse sy diskresie uitgeoefen het
nie, is ‘n hof van
appèl se bevoegdheid om daarmee in te meng
besonder beperk (
Ex Parte Neethling and Others
(
supra
)
op 335H;
Beaumont v Beaumont
(
supra
) op 1002C;
Engelbrecht v Engelbrecht
1989 (1) SA 597
(K) op 603G-I;
South
African Chemical Workers’ Union and Another v African Commerce
Developing Co (Pty) Ltd t/a Buffalo Tapes
2000 (3) SA 732
(SCA)
op 738C-E (par 16)). Waar die hof
a quo
se bevinding egter
klaarblyklik verkeerd was en die hof hom op sterkte van sodanige
bevinding wanvoorgelig het of andersins sy diskresie
nie behoorlik
uitgeoefen het nie, sou die hof van appèl van voor af die getuienis
beoordeel en die hof
a quo
se diskresie met sy eie vervang
(
Kritzinger v Kritzinger
1989 (1) SA 67
(A) op 83H;
Archer
v Archer
1989 (2) SA 885
(EC) op 893B-C;
Katz v Katz
1989
(3) SA 1
(A) op7D-F).
[30] Dit
is heeltemal korrek, soos deur mnr Ferreira in sy betoog uitgewys
(par 20 hierbo), dat ‘n vyftig persent verdeling gemaak
is in die
onlangse beslissings van hierdie hof in
Childs v Childs and Others
NNO
2003 (3) SA 138
(C) en
Bezuidenhout v Bezuidenhout
[2003]
3 All SA 82
(C). In beide hierdie sake is klem gelê op die gelykheid
van man en vrou in die huweliksverhouding en die noodsaak om te keer
teen
enige diskriminasie teen die vrou. In die
Childs
saak het
Foxcroft R (op 140F-141A) gesteun op die Engelse beslissing in
White
v White
[2000] 2 WLR 1571
;
[2000] 2 FLR 981
, waarin bevind is
dat, indien beide partye gelykwaardig bygedra het tot die gesin, dit
eintlik nie saak maak wie die geld verdien
het of bates opgebou het
nie. In die
Bezuidenhout
saak het Pincus WR (op 91
e
-92
c
– par 23-24) eweneens die
White
saak met goedkeuring
aangehaal. Beide geleerde regters het egter beklemtoon dat elke saak
op sy eie meriete en ooreenkomstig sy eie
feite beoordeel moet word
vir doeleindes van uitoefening van die regterlike diskresie vervat in
artikel 7(3) van die Wet. Daar moet
dus noukeurig na die getuienis
gekyk word met die oog op bepaling van wat ‘n billike en regverdige
verdeling onder die omstandighede
sal wees.
[31] Dieselfde
oorwegings,
mutatis mutandis
, geld ten opsigte van die
uitoefening van ‘n diskresie ten opsigte van onderhoud ingevolge
die bepalings van artikel 7(2) van die
Wet. Dit hang grotendeels saam
met die verdeling van bates kragtens artikel 7(3) bewerkstellig. Die
algemene beginsel is dat geen
onderhoud betaalbaar is aan ‘n
huweliksparty wat selfonderhoudend is nie. Indien, byvoorbeeld, die
eggenote ‘n middeljarige vrou
is wat kennis, kundigheid en ervaring
in die arbeidsmark verwerf het, maar oor ‘n lang termyn ‘n
tuisteskepper was en kinders
groot gemaak het, sou dit oorweeg kon
word om aan haar rehabiliterende onderhoud toe te staan. Dit sou dan
betaalbaar wees tot tyd
en wyl sy heropgelei en in diens geneem kan
word, mits sy natuurlik heropleibaar is (
Kroon v Kroon
1986
(4) SA 616
(E) op 632H-J). In
Pommerel v Pommerel
1990 (1) SA
998
(E) het die hof egter ter oorweging gegee of dit redelik is dat
van die vrou verwag moet word om weer te gaan werk en slegs
rehabiliterende
onderhoud te ontvang. Kyk ook
Grasso v Grasso
1987
(1) SA 48
(C) op 57D-J). Weer eens hang die beantwoording van hierdie
vraag en die kwessie van onderhoudspligtigheid in terme van artikel
7(2)
van al die relevante feite en omstandighede af.
[32] ‘n
Insiggewende analise en bespreking van die regspraak met betrekking
tot die onderhoud betaalbaar aan huweliksgenote by egskeiding
het
onlangs verskyn uit die pen van Madelene de Jong “New trends
regarding the maintenance of spouses upon divorce” in
1999 (62)
THRHR
75-87.
Die geleerde skrywer toon aan dat daar twee
verskillende benaderings uit die regspraak blyk. Aan die een kant is
daar ‘n neiging
om gades so gou moontlik na die egskeiding van die
verpligting te bevry om mekaar te onderhou. Aan die ander kant noop
billikheidsoorwegings
die howe om verlengde onderhoudsaansprake na
egskeiding te verleen. Volgens me de Jong kom eersgenoemde benadering
neer op onkonstitusionele
diskriminasie teen vrouens en,
voortspruitend daaruit, teen kinders. Sy stel dus voor dat daar aan
permanente onderhoudsbevele voorkeur
gegee moet word.
[33] Ek
het begrip vir hierdie standpunt, maar moet waarsku teen die
gebruikmaking van veralgemenings op 'n gebied waar geen twee
sake
ooit identies kan wees nie, hoe soortgelyk ook al hulle mag voorkom.
Die Wetgewer het in duidelike en uitdruklike terme in die
aangehaalde
deel van artikel 7 van die Wet (par 26 hierbo) aan die hof 'n
diskresie verleen om ooreenkomstig geregtigheid en billikheid
'n
verdelings- of onderhoudsbevel, na gelang van die geval, te verleen.
'n Bevel wat aan hierdie eise voldoen sal ook voldoen aan
die
redelikheidskriterium, wat in sowel ons gemenereg as in ons nuwe
Grondwet ten nouste met geregtigheid en billikheid saamhang.
Dit is
juis die gemeenregtelike redelikheid (
ratio recta
) van die
natuurreg wat gerig word op geregtigheid (
iustitia
) en
billikheid (
aequitas
). In die Grondwet (108 van 1996) word dit
telkens van die Staat verwag om "redelike wetgewende en ander
maatreëls" te
neem om aan die doel van 'n besondere bepaling te
beantwoord (kyk, byvoorbeeld, artikels 25(5), 27(2), 29(2) en 32(2)).
Artikel 33(1)
gee die versekering dat almal die reg het op
administratiewe optrede "wat regmatig, redelik en prosedureel
billik is".
Die regte vervat in die handves van menseregte
(hoofstuk 2 van die Grondwet) is verskans en kan beperk word, volgens
artikel 36(1),
slegs indien die beperking "redelik en
regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op
menswaardigheid, gelykheid
en vryheid …".
[34] Dit
is juis met die oog op die bereiking van geregtigheid, billikheid en
redelikheid dat die Wetgewer, in artikel 7 van die Wet,
geen
numerus
clausus
van faktore vermeld het waarna in elke geval gekyk moet
word nie. Artikels 7(2) en 7(5)(d) gee juis aan die hof die
bevoegdheid om
kennis te neem van "enige ander faktor wat na die
oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word". Ek
sou dus
huiwerig wees om enige regulatiewe struktuur op hierdie
gebied in te voer. Mits die voormelde bepalings korrek aangewend
word, behoort
daar geen sprake van enige ongelykheid of diskriminasie
teen die een of die ander van die huweliksgenote ingevolge artikel 9
van
die Grondwet te wees nie. Nog minder sal daar sprake wees van
diskriminasie teen kinders uit die huwelik gebore.
TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE
RELEVANTE FEITE EN OMSTANDIGHEDE
[35] Wanneer die relevante feite en
omstandighede beoordeel word teen die agtergrond van die statutêre
bepalings en regsbeginsels
hierbo bespreek, is dit duidelik dat die
hof
a quo
volledig en noukeurig al sodanige feite en
omstandighede oorweeg en in ag geneem het. Sy bevindings en bevele
ten opsigte van verdeling
van bates en onderhoud in terme van
artikels 7(3) en 7(2) onderskeidelik was, met eerbied, weldeurdag en
behoorlik gefundeer op die
maatstawwe van geregtigheid, billikheid en
redelikheid.
[36] Daar
is na my mening geen aanduiding in die uitspraak van die geleerde
regter dat hy sy diskresie, ingevolge die gemelde artikels
van die
Wet, nie regterlik oftewel judisieel uitgeoefen het nie. Daar was
geen sprake, in die gronde van appèl of tydens betoog
deur die
appellant se regsverteenwoordiger, van enige willekeur, vooroordeel
of foutiewe begrip of toepassing van die tersaaklike
regsbeginsels
nie. Inteendeel, sy bevindings was suiwer op die getuienis voor hom
gegrondves en was, na my eerbiedige mening, volkome
geregverdig en in
ooreenstemming met die eise en voorvereistes van die betrokke wetlike
bepalings en regsbeginsels. In hierdie verband
was daar geen
wanvoorligting of foutiewe interpretasie van die reg of die feite
waarneembaar nie, sodat hierdie hof desnoods tot
die gevolgtrekking
moet geraak dat die geleerde regter sy diskresie behoorlik, reëlmatig
en regterlik uitgeoefen het.
[37] Dit
volg dus dat hierdie hof nie met die bevele van die hof
a quo
kan
inmeng nie. Sodanige bevele was in alle opsigte regverdig, redelik en
billik en dit sou na my mening nie geregverdig wees om te
suggereer
dat die appellant daardeur benadeel is of enigsins ongelykwaardig
behandel is nie. Inteendeel, die hof het haar besonder
billik
behandel deur aan haar agtien maande lank rehabiliterende onderhoud
toe te staan en geen kostebevel teen haar te gelas nie,
al was sy
wesenlik onsuksesvol. Ek het weinig twyfel dat die appellant wel ‘n
geskikte werk sal kan bekom en inderdaad ‘n aanwins
vir enige
prokureursfirma sal wees met haar kennis, kundigheid, ervaring,
volwassenheid en betroubaarheid.
GEVOLGTREKKING
[38] Dit volg dus dat die appèl met
koste van die hand gewys moet word.
D
H VAN ZYL
Regter van die Hooggeregshof
Ek
stem saam.
H J ERASMUS
Regter van die Hooggeregshof
Ek
stem saam.
J
VAN DER WESTHUIZEN
Waarnemende Regter van die Hooggeregshof