About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2004
>>
[2004] ZANCHC 40
|
|
S v Niewilds (CA&R 152/03) [2004] ZANCHC 40 (5 November 2004)
Verslagwaardig:
JA / NEE
Sirkuleer
Aan Regters: JA / NEE
Sirkuleer
Aan Landdroste: JA / NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
IN
THE HIGH COURT OF SOUTH AFRICA
(Noord-Kaapse
Afdeling / Northern Cape Division)
Saakno:
/ Case number:
CA&R
152/03
Datum
verhoor: / Date heard:
01/11/2004
Datum gelewer: /
Date delivered:
05/11/2004
In
die saak van:
NIEWILDS,
WESSELS
Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram:
Lacock R et Williams R
UITSPRAAK OP
APPÃL
LACOCK
R:
Die appellant is
op 30 Mei 2002 in die Streekhof, Kimberley, skuldig bevind aan
poging tot moord deurdat hy na bewering op 9 April
1999 gepoog het
om sy vriendin, Ursula Jenkins, en met wie hy ân jarelange intieme
verhouding gehad het, te dood deur haar met
ân vuurwapen te skiet.
Op 27 September
2002 is die appellant gevonnis tot 6 (ses) jaar gevangenisstraf. Hy
kom nou in hoër beroep teen sowel sy skuldigbevinding
en die vonnis
hom opgelê.
Die feitelike
omstandighede waarop die appellant skuldig bevind is, kan kortliks
as volg saamgevat word:
Die appellant en
die klaagster het vir ân periode van ongeveer 10 (tien) jaar ân
intieme verhouding gehad ten spyte daarvan
dat die appellant getroud
was. Uit hierdie verhouding is twee seuns gebore wat ten tye van
die gebeure hierin tersaaklik ongeveer
6 en 3 jaar oud was
onderskeidelik. Die klaagster en die kinders het by haar moeder,
me. Kathleen Jenkins (Kathleen) te Homevale,
Kimberley, gewoon.
Nadat die
klaagster op 9 April 1999 van haar werk tuis gekom het, het sy die
appellant daar aangetref. Kort hierna het sy en hul
oudste kind
saam met die appellant gestap in die rigting van ân
huurmotorstaanplek. Op pad daarheen het ân argument tussen
die
klaagster en die appellant ontstaan nadat die klaagster te kenne
gegee het dat hulle hul verhouding moes beeïndig daar dit
geen
toekoms het nie omdat die appellant nie van sy vrou wou skei nie.
Die appellant het toe terug gedraai na die woning van Kathleen
en
gedreig om die klaagster en hul kinders te skiet tensy sy die
volgende dag vir hom ân antwoord gee.
Die appellant is
eerste die huis binne en is deur die woonkamer na die kombuis. Kort
op sy hakke het die klaagster gevolg, en hom
in die kombuis
aangetref waar hy met sy een hand om hul jongste seun gestaan het,
en met sy ander hand op die pistoolsak aan sy
heup waarin sy 9mm
pistool was. Die klaagster het die seun na haar geroep en van hulle
weggestoot.
Hierop het die
appellant die klaagster aan die arm gegryp, maar het sy los geruk en
in die gang van die huis na die badkamer gehardloop.
Die oudste seun
was saam met haar. Voordat sy die badkamer se deur kon toedruk, het
die appellant met die vuurwapen op haar gerig,
op haar gevuur.
Die appellant het
drie skote afgevuur. Een skoot het die klaagster in haar kuiltjie
getref en het haar liggaam agter haar linker
blad verlaat. ân
Tweede skoot het die klaagster aan die voorkant van haar regter
bobeen getref.
Die derde skoot
het die appellant, volgens ân mediese verslag wat by ooreenkoms
voor die Hof geplaas is, in sy regter oog getref
en is uit op sy
linker wangbeen net voor die oor.
Na die skietery
is die klaagster op die vloer van die badkamer in ân beswyming
aangetref, en die appellant het gelê in die deur
van ân kamer wat
regoor die deur van die badkamer waarin die klaagster aangetref is,
geleë is. Sy bolyf het in die kamer gelê
en sy bene in die gang.
Hy was bewusteloos en bloed het uit sy kop gestroom.
Die pistool het in
die kamer naby die kop van die appellant op die vloer gelê.
Die kind wat saam
met die klaagster in die badkamer was, was ongedeerd.
Beide die
klaagster en die appellant het van hul beserings aldus opgedoen,
herstel, hoewel die appellant die gebruik van sy regter
oog verloor
het.
Die appellant se
weergawe van die gebeure was as volg:
Nadat die
klaagster die betrokke dag by hul huis opgedaag het, het sy en die
oudste kind saam met hom van die huis gestap. Die
klaagster het ân
obsessie gehad dat hy van sy vrou moes skei en met haar trou.
Terwyl hulle so gestap het, het ân rusie ontstaan
en het sy
gedreig om die kinders te dood. Hy het terug gedraai na die huis en
die klaagster het hom skel-skel gevolg. Hy is eerste
die huis in,
waarna die klaagster gevolg het. Sy is deur die kombuis na die
badkamer waar sy in die deur gaan staan het. Die
appellant het die
gang afgestap op pad na ân toilet, en toe hy by die klaagster kom,
het sy hom met haar been gekeer. Hy het
met sy hande teen die muur
gedruk. Die volgende oomblik het die klaagster sy pistool gegryp uit
sy houer, het sy na agter in die
badkamer inbeweeg en het hy gepoog
om die pistool van haar af te neem. In die proses het twee skote
afgegaan. Nadat die tweede
skoot afgegaan het, het hy geval en eers
weer sy bewussyn in die hospitaal herwin.
Die appellant het
ontken dat hy die vuurwapen op die klaagster gerig het, of dat hy na
haar geskiet het.
Namens die
verdediging het ook getuig mnr. Esau Thys, ân goeie vriend van die
appellant. Hy het beweer dat die klaagster by geleentheid
aan hom
erken het dat sy die appellant geskiet het.
Dit was
gemeensaak tussen die Staat en die verdediging dat
die appellant
linkshandig is;
â
n
monster vanaf beide hande van die appellant geneem is ongeveer 1½
ure na die skietvoorval vir die toets van ontstekingresidu
op sy
hande;
die uitslag van
die toets vir ontstekingresidu negatief was; en
geen monster van
die klaagster geneem is vir ontstekingresidu toetse nie.
Die Landdros het
bevind dat die Staat die skuld van die appellant bo redelike twyfel
bewys het.
Adv. Van Heerden,
en wat ook namens die appellant in die Verhoorhof opgetree het, het
eerstens aangevoer dat die Landdros fouteer
het deur die getuienis
van die sogenaamde ooggetuies, dit is die klaagster, Kathleen en
Nathan Jenkins, te aanvaar daar hulle mekaar
op feitlik alle
wesenlike aspekte weerspreek het.
Hierdie kritiek is
myns insiens geensins geregverdig nie.
Dit is so dat die
getuies se onderskeie weergawes van die gebeure nie presies met
mekaar ooreenstem nie, maar dit is myns insiens
heeltemal te
begrepe. Indien in gedagte gehou word dat die skietery in ân baie
kort tydsbestek plaasgevind het en dat alle persone
in die
onmiddellike omgewing waar dit plaasgevind het, geskrik en ontsteld
was, sou dit my verstom het indien hul weergawes in
alle opsigte
ooreengestem het.
Menslike ervaring
leer dat verskillende persone onverwagse en traumatiese gebeure
uiteenlopend beleef en onthou. Sekere gebeure of
grepe daarvan laat
op een persoon ân groter en blywender indruk, terwyl ander gebeure
of grepe daarvan weer op die volgende persoon
ân meer blywende
herinnering of indruk laat.
Ervaring het ook
geleer dat mense, en meer bepaald jonger of onervare persone, geneig
is daartoe om, wanneer hulle opgeroep word
om ân gebeurtenis in ân
Hof weer te gee, soms poog om ân rekonstruksie van die gebeure weer
te gee soos hy dink dit moes gebeur
het en nie noodwendig van dit wat
hy in werklikheid uit sy geheue kan onthou nie. Dit beteken egter
nie dat so ân persoon leuenagtig
is nie. Allermins.
My indruk van
hierdie getuies is dat hulle eerlik gepoog het om die gebeure so
getrou moontlik weer te gee soos hulle dit beleef
het en onthou het.
Die verskille in hulle weergawes blyk eerder te wyte te wees aan ân
poging tot rekonstruksie daarvan in sovere
hulle nie elke klein
besonderhede kon onthou of waargeneem het nie; eerder dan dat hulle
leuenagtig daaraangaande was. Hierdie
verskille is in ieder geval
gering van aard en slaan nie op die wesenlike aspekte van die
gebeure nie.
Op die wesenlike
aspekte staaf hierdie getuies mekaar grootliks.
Die klaagster
getuig dat die appellant by die huis in gehardloop het. Kathleen
getuig dat hy vinnig die huis ingekom het.
Die klaagster en
Kathleen getuig beide dat die appellant en die klaagster na die
kombuis is nadat hulle die huis binnegekom het.
Die klaagster
getuig dat sy in die kombuis die jongste kind na haar geroep en toe
na eenkant gestoot het. Kathleen getuig dat sy
die kind in die
kombuis gevat het met die gebeure (hoewel sy op ân stadium ook
gesê het die kind was in die woonkamer).
Die klaagster
getuig dat sy van die kombuis na die badkamer gevlug het en dat die
oudste kind saam met haar was. Kathleen bevestig
dat, na die
skietery, die oudste kind van die klaagster by haar in die badkamer
was. Trouens, hy het die deur van binne toegesluit.
Die klaagster het
gesien hoe die appellant die vuurwapen wat hy in beide hande gehou
het, op haar rig en die vuur uit die loop van
die wapen gesien het
voordat sy die deur van die badkamer kon toemaak. Kathleen getuig
ook dat sy die appellant in die gang sien
staan het met die
vuurwapen in beide hande gerig na die badkamer. Van waar sy was op
daardie moment kon sy nie die klaagster sien
nie. Ook Nathan getuig
dat hy gesien het die appellant vuur na die badkamer waar die
klaagster in is terwyl die deur nog
âop
ân skrefieâ
oop was.
Die voormelde
getuienis gee ân logiese geheelbeeld van die gebeure weer, en
strook met die volgende reële getuienis:
Slegs een
patroondoppie is in die badkamer gevind. Dit strook met die
getuienis namens die Staat naamlik dat die eerste skoot afgevuur
is
voordat die badkamerdeur toegedruk is. ân Vuurwapendeskundige het
getuig dat, nadat die pistool afgevuur is, die doppie van
die
patroon óf na die kant óf na voor uitgeskiet sou word.
Een skoot het
deur die deur van die badkamer gedring in ân afwaartse rigting.
Op waarskynlikhede is dit die koeël wat die klaagster
in haar
bo-been getref het nadat die deur toegedruk was.
Twee doppies is
in die gang buite die badkamer gevind. Dit is aanduidend daarvan dat
die laaste twee skote in die gang afgevuur
is nadat die badkamerdeur
toegedruk is.
Die skoot wat die
appellant getref het, sou hom op waarskynlikhede - en ook op sy eie
weergawe â onmiddellik buite aksie gestel
het. Dit kan dus as
waarskynlik aanvaar word dat hy geval het op die plek waar hy
gestaan het toe hy getref is, en dit is buite
die badkamer in die
gang.
Na die skietery
het die pistool in die kamer waar die appellant gelê het, op die
vloer naby sy kop gelê. Dit strook met die waarskynlikheid
dat hy
die laaste skoot op homself afgevuur het, en toe hy op die vloer
val, die pistool uit sy hand geval het.
Die weergawe van
die appellant strook eenvoudig nie met die reële getuienis en die
waarskynlikhede nie.
Eerstens vind ek
dit totaal onwaarskynlik dat die klaagster, en wat as ân klein
geboude persoon beskryf is, daarin sou slaag om
die knip van die
pistoolhouer waarin die pistool in ân lyfband aan die appellant
was, oop te maak, die pistool uit te haal, die
veiligheidsknip te
de aktiveer en die wapen te span (soos deur die appellant
voorgehou) voordat hy daarin kon slaag om sy
hande op die wapen te
lê. Dit kom my voor dat die appellant hierdie onwaarskynlikheid
besef het en daarom voorgegee het dat
hy voor die klaagster tot
stilstand gekom het met sy hande teen die muur gestut toe sy hom
voorgekeer het in die gang.
Tweedens vind ek
dit onwaarskynlik dat, soos die appellant voorgegee het, twee skote
in die badkamer afgevuur was terwyl hy aldaar
met die klaagster
gestoei het om besit van die wapen. Indien dit so was, sou ek
verwag het dat minstens twee doppies in die badkamer
gevind moes
gewees het. Die weergawe van die appellant bied ook geen
verduideliking vir die skoot deur die badkamerdeur nie.
Ook sou ek verwag
het dat, indien die appellant in die badkamer geskiet is, hy op
waarskynlikhede net daar op die vloer sou beland
het en nie geval het
in die kamer aan die oorkant van die gang nie.
Laastens is dit
hoogs onwaarskynlik dat, op die weergawe van die appellant, die
pistool naby sy kop in die kamer waar hy gelê het,
sou opeindig na
die skietery. Indien hy nie self die skoot deur sy eie skedel
afgevuur het nie, sal aanvaar moet word dat die
klaagster nadat die
appellant geskiet is, haarself in die kuiltjie geskiet het, die
pistool langs die appellant gaan plaas het,
en toe terug is na die
badkamer waar sy in ân beswyming aangetref is. So ân
moontlikheid grens aan die absurde.
In die tweede
plek voer mnr. Van Heerden aan dat die afwesigheid van
ontstekingsresidu op sy hande na die voorval aanduidend daarvan
is
dat die appellant nie die vuurwapen hanteer het en die skote wat die
klaagster en homself getref het, afgevuur het nie.
Die deskundiges
wat getuig het aangaande die aanwesigheid van ontstekingsresidu op
die hande van ân persoon wat ân pistool afvuur,
het dit onbetwis
gestel dat die residu baie maklik van ân persoon se hande
verwyder kan word deurdat die hande óf gewas óf
afgevee word óf
dat dit deur hantering van die liggaam afgevee kan word.
Dit is gemeensaak
dat die appellant vanaf die huis waar die skietery plaasgevind het,
verwyder is deur ambulans assistente na die
hospitaal. Dit volg dus
dat die appellant fisies hanteer is op die skiettoneel, geneem is na
die ambulans, daar in die ambulans
gelaai is, en weer by die
hospitaal uit die ambulans getel is en in die hospitaal geneem is.
Daar is geen getuienis voor die Hof
wat aandui hoe hy hanteer is nie,
byvoorbeeld of hy aan sy hande gevat is, of selfs of daar nie
byvoorbeeld bloed van sy hande gevee
is nie.
Wat egter met
hierdie argument uit die oog verloor word, is dat â op die
weergawe van die appellant self â daar noodwendig
ontstekingsresidu op sy hande moes beland het toe die skote afgevuur
was. Sy weergawe was dat hy sy hande om en bo-oor die hande
van die
klaagster gehad het in ân poging om die pistool uit haar greep te
verwyder toe twee skote afgevuur is. Op die weergawe
van die
deskundiges sou in daardie proses ontstekingsresidu waarskynlik op
die hande van die appellant beland het. Die afwesigheid
van
sodanige residu met die neem van die monsters is dus aanduidend
daarvan dat die ontstekingsresidu van sy hande verwyder is
gedurende
die verloop van die periode van ongeveer 1½ ure vanaf die skietery
totdat die monsters geneem is.
Derdens voer mnr.
Van Heerden aan dat, op die weergawe van dr. Els, dit onwaarskynlik
is dat ân linkshandige persoon homself in
sy regteroog sal skiet
in die rigting van sy linker wangbeen. Ook hierdie argument het
myns insiens nie veel om die lyf nie.
Die blote feit
dat die appellant linkshandig is, regverdig nie noodwendig ân
afleiding dat hy hierdie skoot met sy linkerhand
afgevuur het nie.
Op sy weergawe het hy sy vuurwapen aan sy regtersy gedra, en sou dit
seker nie moeilik gewees het om die wapen
met sy regterhand uit die
houer te haal nie.
Beide die
klaagster en Kathleen het getuig dat, toe die appellant op die
klaagster geskiet het hy die wapen in beide hande vasgehou
het. Hy
kon dus net so wel, nadat hy op die klaagster geskiet het, die wapen
in sy regterhand of steeds in beide hande gehou het
toe hy homself
geskiet het.
In iedere geval
kom dit my twyfelagtig voor of die ingangs- en uitgangswonde korrek
aangegee is op die verslag van dr. Londau (bewysstuk
âEâ).
Hierdie verslag is weliswaar by ooreenkoms voor die Hof geplaas en
is die inhoud daarvan as korrek deur die verdediging
erken.
Dr. Els het egter
sy bedenkinge of die ingangs- en uitgangswonde korrek as sulks
aangegee is, in geen onsekere taal te kenne gegee
nie. Behalwe die
aantekeninge op bewysstuk âEâ voormeld, is daar geen ander
getuienis en veral nie van enige deskundige aard
dat die ingangswond
inderdaad in die regteroog van die appellant geleë was nie. Dr.
Els, ân uiters ervare patoloog en forensiese
mediese praktisyn,
getuig dan ook dat navorsing getoon het dat gewone klinici slegs in
15-20% gevalle positiewe of korrekte identifikasie
van in- en
uitgangswonde kan doen. Sou dr. Londau dus die in- en uitgangswonde
verkeerdom aangedui het, sou daar duidelik nog minder,
indien enige,
meriete in hierdie argument gesteek het.
Laastens betoog
mnr. Van Heerden dat die Landdros onvoldoende gewig geheg het aan
die getuienis van mnr. Esau Thys.
Ek meen dat die
Landdros heeltemal tereg
âonrustigâ
was aangaande die geloofwaardigheid van hierdie getuie.
Eerstens het die
appellant getuig dat mnr. Thys hom voor die aanvang van die verhoor,
dit wil sê voordat die klaagster in die Hof
a
quo
getuig het, meegedeel het dat die klaagster aan hom (mnr. Thys) sou
gesê het dat sy hom geskiet het. Die klaagster is egter op
geen
stadium hiermee in kruisverhoor gekonfronteer nie. Dit is eenvoudig
onwaarskynlik dat die appellant nie sy regsverteenwoordiger
van
hierdie
âerkenningâ
sou ingelig het nie, en, indien hy dit wel gedoen het, sou mnr. Van
Heerden beslis daardie getuienis aan die klaagster gestel het.
Dit blyk dus dat
hierdie getuienis â op die appellant se weergawe â ân
gefabriseerde nagedagte was.
Tweedens het die
appellant getuig dat mnr. Thys hierdie mededeling telefonies aan hom
oorgdra het. Daarteenoor getuig mnr. Thys
dat hy die betrokke dag
waarop die klaagster die
âerkenningâ
aan hom gemaak het, persoonlik ân gesprek eers met die appellant
gevoer het, daarna met die klaagster gepraat het, en, nog steeds
op
dieselfde dag, weer ân persoonlike gesprek met die appellant
gevoer het waartydens hy aan die appellant sou oorgedra het wat
die
klaagster sou gesê het.
In teenstelling
met die appellant beweer mnr. Thys dat die tersaaklike mededeling
deur die klaagster aan hom gemaak is nadat die
verhoor in aanvang
geneem het, en nadat die klaagster getuig het. Nietemin was geen
aansoek gebring dat die klaagster herroep
word sodat hierdie
getuienis aan haar gestel kon word nie.
Voorts vind ek
dit uiters onwaarskynlik dat, nadat die klaagster vir mnr. Thys sou
gesê het dat sy geskiet het, hy geensins verder
navraag gedoen het
hoe die skietery plaasgevind het nie.
Eweneens vind ek
sy getuienis onwaarskynlik waar hy beweer dat hy en sy boesemvriend,
die appellant, nooit die gebeure van die skietery
in besonderhede
bespreek het nie.
Mnr. Thys het
homself ook weerspreek. By geleentheid het hy te kenne gegee dat,
nadat die klaagster aan hom beken het dat sy geskiet
het, hy daardie
mededeling telefonies aan die appellant oorgedra het. Later onder
kruisverhoor egter sê hy dat hy dit tydens
ân kontak besoek aan
die appellant oorgedra het.
Uit hoofde van
die voorgaande is ek daarvan oortuig dat die Landdros tereg die
weergawe van die appellant as nie redelik moontlik
waar verwerp het,
en bevind het dat die Staat die skuld van die appellant bo redelike
twyfel bewys het.
Die appél teen
skuldigbevinding kan dus nie slaag nie.
Wat vonnis
aanbetref steun adv. Van Heerden nie op enige beweerde mistasting
wat die Landdros sou begaan het nie, maar doen hy aan
die hand dat
die vonnis die appellant opgelê skokkend swaar en onvanpas is.
Hy betoog dat die
Landdros meer gewig moes geheg het aan die gunstige persoonlike
omstandighede van die appellant, die feit dat hy
so emosioneel
onstabiel was dat hy sy eie lewe wou neem, en dat hy die gebruik van
sy een oog verloor het wat op sigself ân swaar
straf is.
Uit die uitspraak
op vonnis blyk dit dat die Landdros al die voormelde faktore asook
die inhoud van die maatskaplike â en mediese
verslae wat voor die
Hof geplaas is, behoorlik in ag geneem en oorweeg het. Dit blyk
verder dat die Landdros alle ander faktore
en omstandighede
toepaslik by die oorweging van vonnis behoorlik in ag geneem en
oorweeg het.
Benewens die
voorgaande, het die Landdros ook met erns oorweging gegee aan ân
sogenaamde korrektiewe toesig vonnis kragtens art.
276(1)(h) en (i)
van die Strafproseswet, nr. 51 van 1977, maar tot die oorwoë
gevolgtrekking gekom dat dit nie ân gepaste vonnis
sou wees nie.
Die wyse waarop die Landdros sy diskresie hieraangaande uitgeoefen
het, is myns insiens regtens onaanvegbaar.
Die vraag hierin
ter sake is nie of hierdie Hof ân ander vonnis sou oplê as dié
opgelê deur die Verhoorhof nie, maar wel of
die Verhoorhof sy
diskresie behoorlik en regtens verantwoord uitgeoefen het.
Vonnisoplegging berus by uitstek in die diskresie
van die
Verhoorhof, en daarmee kan slegs deur ân Hof van Appél ingemeng
word indien dit sou blyk dat die Verhoorhof hom- of
haarself
wanvoorgelig het, of, soos dit soms gestel word, ân mistasting
begaan het, of indien die vonnis sodanig onvanpas is
dat bevind kan
word dat geen redelike Hof so ân vonnis sou oplê nie, of, anders
gestel, die opgelegde vonnis ân gevoel van
skok verwek.
Scott AR
stel dit as volg in
S
v Kgosimore, 1999 (2) SASV 238 (A) te 241 e tot g
:
â
It
is trite law that sentence is a matter for the discretion of the
court burdened with the task of imposing the sentence. Various
tests
have been formulated as to when a Court of appeal may interfere.
These include whether the reasoning of the trial court is
vitiated by
misdirection or whether the sentence imposed can be said to be
startingly inappropriate or to induce a sense of shock
or whether
there is a striking disparity between the sentence imposed and the
sentence the Court of appeal would have imposed. All
these
formulations, however, are aimed at determining the same thing; viz
whether there was proper and reasonable exercise of the
discretion
bestowed upon the court imposing sentence. In the ultimate analysis
this is the true inquiry. Either the discretion
was properly and
reasonably exercised or it was not. If it was, a Court of appeal has
no power to interfere; if it was not, it is
free to do so.â
Dieselfde toets
geld ook by die oorweging van die vraag naamlik of ân sogenaamde
korrektiewe vonnis nie ân appellant opgelê moes
gewees het nie.
Sien hieraangaande
S
v R,
1993 (1) SA 476
(A) te 485 H tot I
:
â
Dit
beteken nie dat dit hierdie Hof vrystaan om die bestaande vonnis te
vervang deur een van korrektiewe toesig bloot omdat dit veroorloof
is
en geskikter geag word nie. Die geykte benadering tot ingryping met
vonnis geld nadruklik steeds.:
Die volgende
aanhaling uit
S
v W, 1995 (1) SASV 606 (A)
is
myns insiens ook in
casu
toepaslik:
â
Namens
die appellant is egter betoog dat die Hof a quo net sydelings verwys
het na korrektiewe toesig sonder om behoorlik daarop in
te gaan.
Gevolglik, so is betoog, is inmenging geregverdig. Dit is gemene
saak dat korrektiewe toesig as vonnisopsie in die Hof
a quo geopper
en gedebatteer is. Daar is geen rede om te glo dat dit nie
behoorlike aandag en oorweging geniet het nie. Die Hof
a quo het
egter tot die slotsom geraak dat dit nie ân gepaste vonnis in al
die omstandighede is nie. Ek is nie oortuig dat daar
gefouteer is
nie. Maar selfs al sou ons korrektiewe vonnis as ân geskikter
vonnis beskou, sou dit ons nogtans nie vrystaan om
die bestaande
vonnis daarmee te vervang nie by onstentenis van een van die
aanvaarde gronde vir inmenging.
(
Te
609 e tot g
).
Sien verder
S
v Dimpane, 1996 (2) SASV 165 (O) te 170 g tot h
.
Ek meen die
advokate is korrek naamlik dat nie gesê kan word dat die Landdros
homself in enige opsig wanvoorgelig het nie.
Na my mening kan
ook nie gesê word dat die opgelegde vonnis skokkend onvanpas is nie.
Teen die
persoonlike omstandighede van die appellant, waaronder dat hy ân
algehele eerste oortreder was, ân vaste betrekking
beklee het, en
ân gesin het wat van hom vir onderhoud afhanklik is, moet
noodwendig, soos die Landdros gedoen het, die gemeenskapsbelang
en
die erns van die oortreding opgeweeg word.
Hieraangaande het
die Landdros tereg die toename van hierdie tipe geweldsmisdade
waaraan die gemeenskap uitgelewer is, in ag geneem,
asook die
toenemende blootstelling van vroue aan hierdie tipe geweld. Die
Landdros was dus heeltemal geregverdig om die element
van
afskrikking in die vonnis te weerspieël.
Die misdaad self
was uiters ernstig van aard. Die appellant het ân dodelik
gevaarlike vuurwapen op die klaagster gerig en haar,
terwyl sy
totaal weerloos was en gepoog het om van sy aggressie te ontvlug, op
ân kort afstand geskiet op ân deel van haar
liggaam waar so ân
skietwond normaalweg noodlottige gevolge sou hê. Dat die klaagster
die aanval oorleef het, is merkwaardig.
Na my mening verdien
hierdie oortreding ân swaar vonnis.
Vervolgens word
die volgende bevel hierin verleen:
Die appél word
afgewys.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Ek
stem saam.
_______________
CC
Williams
REGTER
Namens
appellant:
Adv
CF Van Heerden (i.o.v. Potgieter & Vennote)
Namens
respondent:
Adv
DP Olivier