Jansen v Jansen (97/2000) [2004] ZANCHC 84 (15 October 2004)

55 Reportability

Brief Summary

Contempt of Court — Sentence for contempt — Appeal against sentence of six months’ imprisonment suspended for three years — Appellant found in contempt for failure to comply with maintenance order — Legal issue of whether the appellant received a fair hearing and if the presiding judge should have recused himself — Appellant’s failure to comply with court order regarding maintenance payments during divorce proceedings — Appeal upheld on grounds of procedural unfairness and lack of impartiality in the hearing.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2004
>>
[2004] ZANCHC 84
|

|

Jansen v Jansen (97/2000) [2004] ZANCHC 84 (15 October 2004)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno: 97/2000
Datum
verhoor: 2004-09-20
Datum
gelewer: 2004-10-15
In
die appél van
:
ZIRK
BERNARDUS JANSEN APPELLANT
versus
ALINDA
JANSEN RESPONDENT
Coram
:
KGOMO RP, MAJIEDT R
et
MUSI
WnR
UITSPRAAK
OP APPÉL
MAJIEDT
R:
Hierdie
is ‘n appél teen ‘n bevel waarvolgens die appellant gevonnis is
vir minagting van ‘n hofbevel tot ‘n periode van
ses maande
gevangenisstraf, welke gevangenisstraf opgeskort is vir ‘n tydperk
van 3 jaar op bepaalde voorwaardes. Verlof tot
appél na hierdie
Hof is toegestaan aan die appellant deur die Hoogste Hof van Appél
op versoekskrif, nadat die verhoorregter
verlof tot appél geweier
het. Die Hoogste Hof van Appél het pertinent gelas dat die
voortsetting van die appél moet geskied
ooreenkomstig die bepalings
van Reël 49 van die Eenvormige Hofreëls, insluitende die
bepalings ten opsigte van sekuriteit,
asof verlof ingevolge daardie
Reël toegestaan is.
Hierdie
appél is geplaas voor ‘n Volbank vroeër vanjaar, maar is van die
rol geskrap, alternatiewelik was geag van die rol geskrap
te wees,
omrede daar geen verskyning namens die appellant was nie. Daar is
by dié geleentheid gelas dat die appél binne een
maand vanaf die
datum van die bevel weer ter rolle geplaas mag word, mits daarmee
saam ook ‘n substantiewe aansoek om kondonasie
is waarin die
appellant se nie-nakoming van die Hoogste Hof van Appél se
voorskrifte en/of enige ander relevante reëls van die
Hof
verduidelik moes word.
Daar
is voor ons dus ook ‘n aansoek om kondonasie van die nie-nakoming
van die voorskrifte vervat in Reël 7(3) en Reël
49(13), sowel
as die nie-verskyning by die vorige verhoordatum.
Die
respondent het weliswaar aangedui dat sy nie die aansoek om
kondonasie bestry nie, maar is dit steeds vir hierdie Hof om te
beslis of kondonasie verleen behoort te word. Na my mening behoort
die uitgangspunt te wees dat indien daar meriete in die voorgenome
appél is, behoort kondonasie toegestaan te word. Sien:
Uitenhage
Transitional Local Council v SA Revenue Services
2004(1) SA 292 (HHA) te 299 G-J (par. 11).
Ek
wend my vervolgens na die meriete van die appél.
Die
bevel vir die gevangesetting van die appellant het gevolg nadat
respondent ‘n aansoek gebring het onder saaknommer 97/2000
uit hoofde daarvan dat die appellant na bewering opsetlik versuim
het om te voldoen aan ‘n hofbevel uitgereik deur Alkema WnR
in Reël 43-verrigtinge. In die voormelde bevel het Alkema WnR
gelas dat die appellant
pendente
lite
sekere bedrae aan die respondent moet betaal ten aansien van haar
onderhoud en as bydrae tot haar regskoste, hangende die afhandeling
van ‘n egskeidingsgeding tussen die partye.
Tydens
die aanhoor van die aansoek vir gevangesetting was dit gemene saak
tussen die partye dat die appellant op daardie stadium
geen betaling
van die bedrae gemaak het ooreenkomstig die hofbevel van Alkema WnR
nie. Dit was ook gemene saak dat die voormelde
bevel nooit gewysig
of tersyde gestel was nie.
Die
appellant het as eiser ‘n egskeidingsaksie ingestel teen die
respondent onder saaknommer 1657/98 en dit is hangende die
afhandeling
van hiérdie egskeidingsgeding wat Alkema WnR se
voormelde hofbevel gemaak is. Tydens die verhoor van die vermelde
egskeidingsaksie
het dieselfde regter voorgesit wat later ook die
aansoek vir gevangesetting bereg het. Die appellant was
verteenwoordig deur ‘n
advokaat en prokureur; die respondent het
in persoon verskyn tydens dié egskeidingsaksie, aangesien sy
volgens haar nie regsverteenwoordiging
kon bekostig nie, gegewe die
appellant se nie-nakoming van die bevel waarvolgens hy ‘n bydrae
tot haar regskoste moes gemaak
het.
By
die aanvang van die egskeidingsaksie se verhoor was daar, blykens
die oorkonde, ook ‘n hoflêer ten aansien van saaknommer
97/2000,
d.w.s. die aansoek vir gevangesetting, voor die verhoorregter
geplaas. Hierdie laasvermelde hoflêer moes nooit voor
die
verhoorregter gewees het op daardie stadium nie, aangesien die
appellant slegs die egskeidingsgeding ter rolle geplaas het
vir
verhoor, só blyk dit uit die oorkonde. Ek sal later meer volledig
handel met hierdie aspek, aangesien dit van kardinale belang
is
hierin. Nadat die verhoorregter die getuienis van die appellant (as
eiser) en die respondent (as verweerderes) aangehoor het,
het hy
gelas dat die aansoek vir gevangesetting, sowel as ‘n aansoek
ingevolge die bepalings vervat in Reël 43(6) van die
Eenvormige Hofreëls waarin die appellant die aansoekdoener was,
later voor hom ter rolle geplaas moes word, sodat hy dié twee
aansoeke tesame met die egskeidingsgeding kon afhandel. Uitspraak
in die egskeidingsgeding was gevolglik voorbehou. Die verhoorregter
het dan ook uiteindelik, nadat sy lasgewing uitgevoer is soos
voormeld, een gekonsolideerde uitspraak in drie dele gelewer waarin
hy afsonderlik handel met die egskeidingsgeding, die aansoek vir
gevangesetting en die Reël 43(6)-aansoek.
Die
appellant se appél is primêr gefundeer op twee bene, te wete:
a) Dat
die appellant nie ‘n billikke verhoor gehad het nie in verskeie
opsigte; en
b) Dat
die verhoorregter homself
mero
motu
moes gerekuseer het na afhandeling van die egskeidingsgeding voordat
hy die aansoek vir gevangesetting aangehoor het.
Ek
vind dit gerieflik om eers te handel met die tweede been van die
appellant se appél, te wete die aspek van rekusering. Namens
die
appellant het Mnr. Snellenburg betoog dat die verhoorregter nie ‘n
onbevange, objektiewe oordeel kon vel in die beregting
van die
aansoek vir gevangesetting nie, aangesien hy alreeds bepaalde
geloofwaardig-heidsindrukke gevorm het, minstens op ‘n
prima
facie
-basis,
nadat hy getuienis in die egskeidingsaksie aangehoor het. Mnr.
Snellenburg het verder betoog dat die kerngeskilpunt in
die aansoek
vir gevangesetting presies dieselfde was as die kerngeskilpunt in
die egskeidingsgeding en moes die verhoorregter derhalwe
mero
motu
homself gerekuseer het nadat hy die egskeidingsaksie se getuienis
aangehoor het en die egskeidingsgeding afgehandel het. Namens
die
respondent het Mnr. Fourie gesubmitteer dat daar nie redelike gronde
vir die vermoede van bevooroordeeldheid aan die kant van
die
verhoorregter bestaan nie en dat hy geregtig was om die aansoek vir
gevangesetting self af te handel.
11.1 ‘n
Behoorlike oorweging van hierdie aspek verg redelik breedvoerige
verwysing na die verrigtinge tydens die egskeidingsgeding
soos
weergegee deur die oorkonde.
11.2 By
die aanvang van die verhoor het die verhoorregter navraag gedoen by
die advokaat wat toé vir die appellant verskyn het (dit
was nie Mnr.
Snellenburg nie) aangaande die teenwoordigheid van die hoflêer van
die aansoek van gevangesetting wat toe ook voor
die verhoorregter
geplaas was. Ná bespreking met dié advokaat en met die respondent
(wat in persoon verskyn het), het dit geblyk
dat die enigste
aangeleentheid wat voor die verhoorregter was inderdaad die
egskeidingsgeding was, aangesien dit behoorlik ter rolle
geplaas was
deur die appellant as eiser. Die posisie was duidelik op rekord
geplaas deur die appellant se advokaat dat die aansoek
vir
gevangesetting nie behoorlik ter rolle geplaas is nie en het hy
versoek om voort te gaan met die egskeidingsgeding, ‘n versoek
waaraan die verhoorregter toe voldoen het.
11.3 Tydens
sy inleidende toespraak het die appellant se advokaat die geskilpunte
tussen die partye voorgehou aan die verhoorregter.
Op daardie
stadium het die verhoorregter die volgende opmerking gemaak:
“
HOF
: U
sien ‘n mens kan nie buite rekening laat die feit dat daar ‘n
bevel gemaak is vir onderhoud ......
pendente
lite
wat blykbaar nie nagekom is nie.”
Hierna
het die advokaat aan die verhoorregter meegedeel dat daar
uitwinningstappe in dié verband aan die gang was en dat dit die
appellant se saak was dat hy nie die bevel kan nakom nie vanweë
finansiële onvermoë. Hierna het die volgende gesprek tussen die
verhoorregter en die advokaat gevolg:
HOF
: Dan
moes hy Hof toe gekom het. U kan nie weier om te betaal en terugsit
en sê ek kan nie betaal nie. As daar ‘n hofbevel is
moet jy Hof
toe kom en sê ek kan nie betaal nie. So hierdie is ‘n afdwingbare
bevel. Al wat ek op die oomblik sê dit is iets
wat in aanmerking
geneem sal moet word by die uiteindelike of daar enigiets verskuldig
is en het julle dit in aanmerking geneem by
julle onderhandelings?
MNR
BENADE:
Dit
is in die agtergrond ,ja. Maar die situasie is maar net Edele soos
die Eiser ook sal getuig ‘n mens kan ook nie bloed uit
‘n klip
uittap nie.
HOF
: Dan
gaan hy tronk toe. U sien, u weet dit so goed as wat ek dit weet, u
kan nie net ‘n hofbevel ignoreer nie en sê ek kan nie
betaal nie.
Dan is jy mos verplig om terug te kom Hof toe. In elk geval ek dink
u moet maar aangaan. Dit gaan definitief ‘n
faktor wees wat
uiteindelik seker ter sake gaan wees by welke bedrag betaal moet word
en vir my is die kommerwekkende op hierdie
stadium die feit dat ‘n
man doodeenvoudig (onduidelik) dit ignoreer. ‘n Mens ignoreer mos
nie hofbevel nie u weet mos u gaan
tronk toe as jy ‘n hofbevel
ignoreer.
MNR
BENADE
: Edele
dit is aspekte wat ek deur middel van die getuienis sal probeer
ondervang om vir die Hof die posisie te skep.”
Getuienis
is toe by die egskeidingsverhoor gelewer deur die appellant en
daartydens het die appellant se finansiële posisie pertinent
ter
sprake gekom. Die appellant het in sy hoofgetuienis aangaande sy
finansiële posisie getuig, omrede die respondent as verweerderes
in
die egskeidingsaksie sogenaamde “rehabiliterende onderhoud”
gevorder het in haar teeneis. Die kwessie van die onderhoud
wat die
appellant
pendente
lite
kragtens die Reël 43-hofbevel aan die respondent moes betaal, is
deur die appellant self geopper, sonder dat óf sy advokaat óf
die
verhoorregter hom daaroor uitgevra het. Die appellant het naamlik
aangevoer dat die respondent tydens die Reël 43-aansoek
onwaarhede verklap het in haar eedsverklaring en dat daar toe ‘n
“onregverdige bevel” uitgereik is teen hom deur Alkema WnR.
Dit
is opvallend en van belang dat die appellant se advokaat nooit self
vrae aan die appellant gestel het ten aansien van die
voormelde
hofbevel nie.
Nadat
die appellant sy hoofgetuienis afgelê het, het die respondent aan
hom vrae gestel in kruisondervraging op ‘n uiters onbeholpe
wyse.
Die verhoorregter moes noodgedwonge telkemale die respondent bystaan
in die formulering van haar vrae. Tydens hierdie kruisondervraging
was dit veral aspekte van die appellant en sy vader se finansiële
vermoëns wat te berde gebring is. Dit was naamlik die respondent
se saak dat die appellant en sy vader saamgespan het om die
appellant se ware finansiële posisie te verdoesel ten einde die
respondent
se eis vir onderhoud te frustreer. Die appellant se
advokaat het daarna vrae gevra ter herondervraging waarna die Hof
sekere vrae
aan die appellant gevra het. Ek ag dit nodig om dié
gedeelte van die oorkonde volledig hierin te herhaal:
HOF
: Meneer
Jansen wat het u gedoen, was u by die Hof gewees toe Regter Alkema
die bevel teen u gemaak het? -- Ja u Edele.
Toe jy nou sien
jy kan nie betaal nie wat het jy gedoen? -- Korrek u Edele.
Toe
u sien u kon nie betaal nie wat het u gedoen? -- U Edele ek het die
Hof gebel en gesê ek kan nie betaal nie of ek nie kan
appél
aanteken nie, toe sê hulle vir my nee ek kan nie appelleer nie die
bevel bly staan.
Het
u die Hof gebel? -- Ek het die Hof, wat noem jy?
Die
Griffier? -- Die Griffier ja Edele.
Toe
sien jy, jy kan nie appél aanteken nie? -- Ja.
Wat
doen jy toe? -- U Edele en toe het ek my prokureur genader en vir
hulle gesê ek kan nie my bevel nakom nie ek het nou ‘n
probleem.
Ek het my prokureurs gekontak vir hulp.
Wat
het hulle vir jou gesê? -- U Edele nee ek kan nou nie onthou
presies wat hulle vir my gesê het nie.
Gesê
u kan maar net ‘n hofbevel ignoreer? -- Nee u Edele.
Het
hulle gesê u moet betaal? -- Hulle het gesê as ek nie kan betaal
nie dan sal ek, dagvaardigings teen my kom en lasbriewe
vir inwinning
van moontlikheid van bates, wat gebeur het.
Het
hulle vir jou vertel jy gaan tronk toe gaan as jy ‘n hofbevel, as
jy ‘n hofbevel minag? -- Edelagbare nee ek het nie daarvan
geweet
nie.
Wat
het jy gedink gaan met jou gebeur as jy ‘n hofbevel ignoreer? --
U Edele as ek dit moedswillig doen dan moet ek my konsekwensies
aanvaar vir ‘n moedswillige besluit, maar ek is werklik nie by
magte om dit te kan doen nie.
As jy dit nou nie
moedswillig doen nie, maar jy ignoreer net ‘n hofbevel? -- U
Edele ek het skaars ‘n maand na die bedrae nie
gebetaal is nie het
ek ‘n dagvaardiging al gekry.
Vir wat? -- Vir
‘n uitwinning van bates al, vir my goed wat moet verkoop word soos
my bates is hulle opgeteken en gelys. En
dit was meer gewees as wat
die bevel op daardie stadium was.
U het nou gehoor
dat daar is R38 000 agterstallig. Op die stukke daarso is daar
iets soos R19 000 se bates op beslag gelê.
U sien ons sal
terugkom later na die hele kwessie toe. Ek wil op hierdie stadium
net van u weet wat u gedink het waarvoor maak
Howe bevele, as mense
maar net doodeenvoudig sê ja maar ek kan nou nie betaal nie ek doen
niks daaromtrent nie? -- U Edele mag
ek ‘n bietjie uitwei op
daardie aspek asseblief?
Ek gee vir u die
geleentheid om uit te brei op daardie aspek. -- U Edele die vrou
het gekom met ‘n aansoek, soos ek sê ek verdien
R10 000 ‘n
maand inkomste.
Ek stel nie
belang in die meriete nie, daar is ‘n hofbevel gemaak ek wil weet
wat u gedink het toe u ‘n hofbevel nie nagekom
het nie? -- U
Edele ek het gedink ek moet gaan aanklop by my regspersoneel vir
hulp.
Ek is seker
daarvan hulle het nie vir u gesê u kan net ignoreer nie? Ek sal
uiters verbaas wees as dit die advies was wat vir u
gegee is. So
hulle het nie vir u gesê u kan dit ignoreer nie. Ek wil by u weet
hoekom ignoreer u ‘n hofbevel? - U Edele omdat
ek nie by magte is
om dit te kan betaal nie.
Dan
doen ‘n mens mos iets daaromtrent meneer Jansen. -- Edele ek het
nie geld nie wat kan ek doen.
Dan doen jy wat
jou vrou gedoen het. Jy kom Hof toe op jou eie en jy kom sê vir die
Hof ek kan nie betaal nie julle moet iets omtrent
hierdie vonnis
maak. -- Ek is jammer Edele ek het nie geweet nie.
Baie seerkry om
uit te vind wat jy moes gedoen het Mnr. Jansen.”
Die
respondent het getuig in haar eie saak nadat die appellant sy saak
gesluit het. Daar is weereens in groot besonderhede ingegaan
op die
respondent en appellant se finansiële posisies. Die respondent het
geen verdere getuienis gelei nie en het haar saak gesluit,
waarna
beide die appellant se advokaat en die respondent mondelinge betoë
aan die verhoorregter voorgehou het. Die Hof het daarna
verdaag en
toe uitspraak gelewer moes word in die egskeidingsgeding, het die
verhoorregter aangedui dat hy van mening is dat hy
nie finale
uitspraak in die egskeidingsgeding kan gee nie
“
...
terwyl daar Reël 43 tussentydse aansoeke is wat nog hangende is wat
nie afgehandel is nie.
”
Die
verhoorregter het gevolglik gelas dat die aansoek vir die appellant
se gevangesetting op ‘n later stadium voor hom ter rolle
geplaas
moes word sodat hy dit saam met die egskeidingsgeding kon afhandel.
Tydens die bespreking van hierdie aspek het die appellant
se advokaat
dit baie duidelik op rekord geplaas dat hy nie saamstem met die
verhoorregter se siening van die saak nie en het hy inderdaad
daarop
aangedring dat die egskeidingsaksie afgehandel moet word, aangesien
daar geen verband bestaan tussen die egskeidingsaksie
en die aansoek
vir gevangesetting nie. Die verhoorregter het hierna ‘n kort
uitspraak
ex
tempore
gelewer waarin hy sy redes uiteensit waarom hy nie gehoor gegee het
aan die appellant se advokaat se versoek dat die egskeidingsgeding
afgehandel moet word, sonder inagneming van die aansoek vir
gevangesetting nie.
Nadat
sekere verdere stukke geliasseer is in die aansoek vir
gevangesetting en nadat die appellant ook ’n aansoek ingevolge
Reël 43(6)
se bepalings gebring het, het die verhoorregter al
drie aangeleenthede, te wete die egskeidingsgeding, die
Reël 43(6)-aansoek
en die aansoek vir gevangesetting bereg in
een gekonsolideerde uitspraak in drie afsonderlike dele. In die
egskeidingsgeding
het die verhoorregter sterk
geloofwaardigheidsbevindinge teen die appellant gemaak, sy weergawe
verwerp en sy eis van die hand
gewys, terwyl die verhoorregter ten
gunste van die respondent bevind het en haar teeneis met koste
toegestaan het. In die aansoek
om gevangesetting het die
verhoorregter bevind dat die appellant se versuim om die
Reël 43-bevel van Alkema WnR na te
kom, nie weens ‘n
gebrek aan middele was nie, maar dat hy
mala
fide
en opsetlik in hierdie versuim was en het hy gelas dat die appellant
gevonnis word tot gevangenisstraf van ses maande, opgeskort
vir drie
jaar op die volgende voorwaardes:
a) Dat
die appellant nie gedurende die periode van opskorting weer skuldig
bevind word aan siviele of strafregtelike minagting van
die hof nie;
b) Dat
die appellant die volle bedrag van R41 500.00 by die Griffier
van die Hof inbetaal ten gunste van die respondent voor
of op 30
September 2001. Die appellant is ook gelas om die aansoek van
gevangesetting te betaal.
Alhoewel
dit nie direk tersaaklik is in hierdie appél nie, vermeld ek
volledigheidshalwe dat die Reël 43(6) aansoek deur die verhoorregter
van die hand gewys is met koste.
16.1 Die
toets wat aanwending vind by die vraag aangaande rekusering van ‘n
voorsittende beampte is gesaghebbend as volg geformuleer:
“
(1) There must
be a suspicion that the judicial officer might, not would, be biased.
(2) The
suspicion must be that of a reasonable person in the position of the
accused or litigant.
(3) The
suspicion must be based on reasonable grounds......
(4) The suspicion
is one which the reasonable person referred to would, not might,
have.”
Sien:
S v Roberts
1999(4)
SA 915 (HHA) te 924 E – 925 C (paras [32] – [34]).
16.2 In
President
of the RSA and others v South African Rugby Football Union
and others 1999(4) SA 147 (CC) te 177 B-C (par. [48]) stel
die Grondwetlike Hof dit as volg:
“
The
question is whether a reasonable, objective and informed person would
on the correct facts reasonably apprehend that the Judge
has not or
will not bring an impartial mind to bear on the adjudication of the
case, that is a mind open to persuasion
by the evidence and the submissions of counsel”.
Vergelyk
ook:
S
v Basson
2004(1) SA 246 (HHA) te 261 E-G;
Take
and Save Trading CC & others v Standard Bank of SA Ltd
2004(4) SA 1 (HHA) te 4 B-F.
16.3 ‘n
Voorsittende beampte is egter uiteraard nie bloot ‘n passiewe
waarnemer nie – hy of sy moet per slot van sake die verrigtinge
voor hom of haar behoorlik bestuur; vgl.:
Take
and Save Trading CC and others v Standard Bank of SA Ltd
,
supra
te 4 G.
17. Namens
die appellant het Mnr. Snellenburg beklemtoon dat hy nie steun op
werklike vooroordeel nie, maar op ‘n redelike suspisie
van
vooroordeel. Hy het ook aangedui tydens sy betoog dat hy geen klagtes
het teen die bystand wat die verhoorregter noodgedwonge
moes verleen
aan die respondent tydens die verhoor nie, veral met
kruisondervraging, gegewe die feit dat die respondent ‘n
onverteenwoordigde
leek was. Hierdie is ‘n sinvolle en die
korrekte benadering wat Mnr. Snellenburg ingeneem het.
18.1 Ek
is die mening toegedaan dat die verhoorregter vir hom ‘n onhoudbare
situasie op die hals gehaal het toe hy daarop aangedring
het dat hy
die aansoek vir gevangesetting saam met die egskeidingsgeding wil
afhandel, nadat hy toe reeds getuienis tydens die egskeidingsverhoor
aangehoor het. Die afleiding is onafwendbaar dat die verhoorregter
toe al reeds ferm geloofwaardigheidsindrukke gevorm het, welke
later
vergestalt is in sy uitspraak soos ek aanstons sal aantoon.
18.2 ‘n
Belangrike oorweging is die feit dat slegs die egskeidingsgeding ter
rolle geplaas was. Die feit dat die aansoek vir gevangesetting
se
lêer voor die verhoorregter was, was bloot toevallig en was
waarskynlik teweeggebring deur ‘n fout aan die Griffier en/of die
respondent se kant. Dit ly geen twyfel nie dat die verhoorregter
insae gehad het in daardie lêer, soos duidelik blyk uit sy verskeie
verwysings na die nie-nakoming van die Reël 43-bevel. Dit kan
na my mening met reg geargumenteer word dat hierdie kennis aangaande
die appellant se beweerde versuim ‘n rol gespeel het by die
verhoorregter se hantering van die verrigtinge, veral ten aansien van
sy aandrang dat die gevangesettingsaansoek ook gelyktydig deur hom
afgehandel moes word.
18.3 ‘n
Verbandhoudende aspek met die voorafgaande is dat die verhoorregter,
met respek, gefouteer het deur die standpunt in te
neem dat hy nie
die egskeidingsgeding kan bereg nie,
“
.... terwyl daar Reël 43 tussentydse aansoeke is wat nog
hangende is wat nie afgehandel is nie”.
Die
Reël 43-verrigtinge wat daar was, was inderdaad afgehandel.
Nie-nakoming van die bevel daarkragtens uitgereik laat tog
nie die
Reël 43-verrigtinge herleef nie. Ek is nie bewus van gesag tot
dien effekte nie. Mnr. Fourie namens die respondent
het ook toegegee
dat die regsposisie is soos wat ek dit uiteengesit het. Hy het ook
toegegee dat daar nie tot sy kennis gesag is
wat die verhoorregter se
standpunt ondersteun nie. Dat sodanige nie-nakoming ‘n rol kan
speel wanneer ‘n verhoorregter by ‘n
egskeidingsgeding
beslissings moet maak aangaande bv. die verdeling van gemeenskaplike
boedelbates of die bedrag van onderhoud betaalbaar
aan die ander
party, kan beswaarlik betwyfel word. Dit beteken egter allermins dat
die Reël 43-verrigtinge as onafgehandeld
beskou kan word.
18.4 Die
kerngeskilpunt by die egskeidingsverhoor vir soverre dit die
respondent se teeneis vir onderhoud betref het, was presies
dieselfde
as dié in die aansoek vir gevangesetting, naamlik die appellant se
finansiële vermoë om sodanige onderhoud te betaal
en om die
hofbevel na te kom. Die verhoorregter bevestig dan ook in sy
uitspraak in die aansoek om verlof om appel dat dit wel die
geval
was:
“
Die
kerngeskil in die gevangesetting aansoek was dieselfde as ‘n geskil
wat in die egskeidingsgeding beslis is”
.
Later,
in dieselfde uitspraak sê die verhoorregter:
“
Die vraag is
dan of ‘n voorsittende beampte in ‘n aansoek hom moet onttrek as
hy reeds die kerngeskilpunt in die aansoek in ‘n
geding tussen die
partye beslis het.”
Na
my mening is die antwoord op die voormelde vraag ‘n klinkklare
“
ja
”.
Daar moet deurgaans in gedagte gehou word dat die toets vir
rekusering nie “
actual
bias
”
is nie, maar “
a
reasonable
apprehension
of
bias
”.
Die
vraag wat beantwoord moet word is –
hoe
sou die redelike litigant in die skoene van die appellant daaroor
gevoel het dat die verhoorregter dieselfde kerngeskilpunt weer
beslis
in die gevangesettingsaansoek
?
Hiermee saam moet in gedagte gehou word dat die verhoorregter sterk
geloofwaardigheidsbevindinge teen die appellant gemaak het
in sy
uitspraak – hierdie indrukke moes na my mening tot ‘n groot mate
alreeds vorming gevind het na afloop van die getuienis
in die
egskeidingsgeding.
18.5 Die
oorkonde van die egskeidingsverhoor getuig oorvloediglik van die
prominente rol wat die appellant se beweerde opsetlike versuim
om die
Reël 43-bevel na te kom deurgaans gespeel het. In die
gedeelte van sy uitspraak wat handel met die egskeidingsgeding,
maak
die verhoorregter etlike ernstige geloofwaardigheidsbevindinge teen
die appellant. Ek volstaan met die volgende voorbeelde:
a) “Ek
bevind dat die man doelbewus nie die waarheid gepraat het oor die
bedrag van sy salaris nie”.
b) “Ten
opsigte van ‘n polis van R1 miljoen het die man ooglopend ook nie
die waarheid vertel nie.”
c) “Die
aanhaling uit die oorkonde is ‘n tipiese voorbeeld van die wyse
waarop die man getuig het. Hy was antagonisties, ontwykend
en
oneerlik.”
d) “Ek
bevind dat Mnr. Jansen ‘n onbevredigende en leuenagtige getuie was
wie se getuienis ek geen huiwering het om te verwerp
nie.”
Ek
het alreeds in par. 13 hierbo volledig aangehaal uit die
oorkonde hoedat die verhoorregter se ondervraging van die appellant
aan die einde van sy getuienislewering in die egskeidingsverhoor
verloop het. Ek is die mening toegedaan dat dit alreeds uit dié
ondervraging geblyk het dat die verhoorregter sterk
prima
facie
indrukke teen die appellant gevorm het vir soverre dit sy beweerde
opsetlike versuim betref. Veral die laaste opmerking van die
verhoorregter
“
Baie seerkry om
uit te vind wat jy moes gedoen het Mnr. Jansen”
is
insiggewend in dié verband.
18.6 Die
verhoorregter het in sy uitspraak in die aansoek om verlof om te
appelleer volledig gehandel met die appélgrond aangevoer
deur die
appellant dat die verhoorregter hom
mero
motu
moes rekuseer het by die gevangesettingsaansoek. Ek ag dit nodig om
seriatim
te handel met elk van die redes wat die verhoorregter voorgehou het
ter motivering van sy beslissing dat daar nie meriete is in die
betoog dat hy hom
mero
motu
moes onttrek het nie.
a) Eerstens
stel die verhoorregter die situasie in die onderhawige geval analoog
aan die gevalle van ‘n binneverhoor in ‘n strafsaak
waar beslis
moet word of ‘n bekentenis of uitwysing toelaatbaar is en aan ‘n
motorbotsing eis wat in twee dele afgehandel word,
te wete
nalatigheid en kwantum. Die verhoorregter wys daarop dat, alhoewel
in beide voormelde gevalle daar by die eerste fase
geloofwaardigheidsbevindinge
teen die beskuldigde/eiser gemaak kan
word, dit nie ‘n grondslag daarstel dat die voorsittende beampte
dan moet onttrek van latere
verrigtinge nie. Die verhoorregter gee
dan egter self tereg toe dat dié voormelde gevalle onderskeidbaar is
van die onderhawige
situasie. Ek wil selfs verder gaan en die mening
uitspreek dat dié twee situasies nie eers naastenby vergelykbaar is
met die onderhawige
een nie. ‘n Beslissing aan die einde van ‘n
binneverhoor aangaande die toelaatbaarheid van ‘n bekentenis of
uitwysing is slegs
interlokutoor en kan te enige tyd voor
skuldigbevinding heroorweeg word. Dieselfde is natuurlik nie die
geval hier nie. Verder
gaan dit by ‘n binneverhoor en ‘n
strafverhoor op die meriete, soos wat ook die geval is by nalatigheid
en kwantum, oor heeltemal
verskillende geskilpunte.
In
casu
het ons die situasie dat juis dieselfde
kerngeskilpunt
finaal
beslis is deur die verhoorregter (met gepaardgaande ernstige
geloofwaardigheidsbevindinge teen die appellant) as wat later bereg
moes word in die gevangesettingsaansoek. Die analogie is, met
respek, regtens onhoudbaar.
b) Die
verhoorregter wys daarop dat
“die
feite in die twee aansoeke (die Reël 43(6)- en
gevangesettingsaansoeke) ... vervleg geraak (het)”.
Die
verhoorregter verklaar ook dat:
“Die
gevangesettingsaansoek het op ‘n manier deel geword van die vrou se
eis om onderhoud. Die besluit deur die partye dat die
hof al die
getuienis voor hom in aanmerking kon neem, het die einde beteken van
die gevangesettingsaansoek, as ‘n totaal aparte
aansoek.”
Die
eenvoudige antwoord hierop is dat die feite in die onderskeie
verrigtinge “vervleg geraak het” as gevolg van slegs een
uitsluitlike
rede, te wete die verhoorregter se (verkeerde) aandrang
dat die egskeidingsgeding nie afgehandel kan word nie terwyl daar
“onafgehandelde,
hangende reël 43-verrigtinge” is.
Nóg
die appellant nóg sy advokaat het luidens die oorkonde op enige
stadium tydens die egskeidingsverhoor toegestem daartoe dat
die
beweerde opsetlike versuim om die Reël 43-bevel na te kom deel
vorm van die egskeidingsverhoor nie. Inteendeel, die appellant
se
advokaat het in geen onsekere terme die verhoorregter meegedeel dat
hy nie die verhoorregter se siening soos voormeld deel nie.
Die
advokaat het moedig, dog tevergeefs, probeer om die verhoorregter tot
ander insigte te oorreed, naamlik om die egskeidingsgeding
af te
handel. Die appellant en sy regsverteenwoordigers kan tog nie nou
verkwalik word dat hulle toe later noodgedwonge moes handel
met die
“vervlegte feite” in al die gedinge nie.
c) Die
verhoorregter wys vervolgens op die onbevredigende stand van sake
indien hy hom moes onttrek het, naamlik die feit dat dieselfde
getuienis oor die man se beweerde finansiële onvermoë weer sou
gelei moes word in die gevangesettingsaansoek (die verhoorregter
aanvaar dat dié aansoek vir
viva
voce
-getuienis
verwys sou moes word). Die verhoorregter sê:
“
Dit
sou ‘n herhaling afgegee het van getuienislewering
oor
presies dieselfde geskilpunt waaroor hierdie Hof op daardie stadium
dan reeds tot ‘n beslissing gekom het
”
(my
onderstreping).
Só
‘n herhaling is na my mening in hierdie omstandighede heeltemal
onafwendbaar. Myns insiens illustreer die laasvermelde onderstreepte
gedeelte van die aangehaalde passasie juis treffend waarom die
verhoorregter homself
mero
motu
moes onttrek het van die gevangesettingsaansoek. Die feit dat daar
alreeds ‘n beslissing op die kerngeskilpunt was, met gepaardgaande
ernstige geloofwaardigheidsbevindinge teen die appellant, het na my
mening ‘n situasie geskep waar geregtigheid slegs sigbaar sou
kon
geskied het uit die oogpunt van die redelike litigant indien ‘n
ander Regter die gevangesettingsaansoek bereg het – d.w.s.
die
bekende stelling dat “
justice
must not only be done, but must manifestly be seen to be done
”.
d) Die
verhoorregter verwys verder na die ongerapporteerde uitspraak in
hierdie afdeling van Van der Walt R in
Dancarl
Diamonds (Pty) Ltd v Wilmans NO en ‘n ander
(saaknr. 1174/00, gelewer op 14 Augustus 2001). Daar het
Van der Walt R ‘n aansoek om rekusering afgewys, welke
aansoek
gebaseer was op die feit dat die geleerde Regter daar ‘n beslissing
moes maak aangaande ‘n aspek wat hy alreeds vantevore
beslis het in
‘n likwidasie-aansoek. Van der Walt R bevind dat hy bevoegd
is om die aangeleentheid te bereg, aangesien ‘n
ander Regter hom in
elk geval in dieselfde posisie as hy sou bevind en ook om
teenstrydige uitsprake op dieselfde geskilpunte te
vermy.
Ek
is van mening dat die onderhawige geval onderskeidbaar is van die
Dancarl
-saak
hierbo. Eerstens blyk dit nie dat daar in die
Dancarl
-saak
ernstige geloofwaardigheidsbevindinge gemaak is pertinent aangaande
die kerngeskilpunt nie, soos wat hier die geval is. Verder
sou die
verhoorregter se beslissing en geloofwaardigheidsbevindinge
in
casu
nie
bindend wees op ‘n ander Regter wat die gevangesettingsaansoek
aanhoor nie. Bowendien en in elk geval gaan dit
in
casu
oor die “
reasonable
apprehension of bias
”
wat by die appellant geskep is en nie soseer oor die feit dat ‘n
ander Regter weer dieselfde getuienis sou moes aanhoor en dieselfde
geskilpunt moes beslis nie.
e) Ten
slotte wys die verhoorregter daarop dat hy nie die Reël 43- en
gevangesettingsaansoeke aangehoor het
nadat
die uitspraak in die egskeidingsgeding geskryf is nie – hy het
inderdaad een gekonsolideerde uitspraak ten aansien van al drie
gedinge geskryf. Die verhoorregter maak dan die insiggewende
opmerking dat
“...
ek kan onthou dat ek ‘n duidelike mening oor die man se
geloofwaardigheid gevorm het gedurende sy getuienislewering en aan
die einde van die egskeidingsgeding”.
Hierdie
opmerking strook met dit wat op die oorkonde voorkom en waarvan ek
alreeds melding gemaak het, naamlik dat die verhoorregter
verseker
sterk
prima
facie
indrukke moes gevorm het aangaande die geloofwaardigheid van die
partye, veral van die appellant, tydens getuienislewering in die
egskeidingsgeding. Hierdie sterk indrukke is later vergestalt in die
uiteindelike uitspraak.
18.7 Alles
inaggenome dus en vir die redes hierin uiteengesit, is ek die mening
toegedaan dat die geleerde verhoorregter gefouteer
het deur nie
homself
mero
motu
te
rekuseer van die gevangesettingsaansoek nie.
19.1 ‘n
Verdere aspek wat tot ‘n mate saamhang met dié wat behandel is in
subparagrawe (d) en (e) hierbo, is die vraag wat voor
ons gedebatteer
is aangaande die toelaatbaarheid van die getuienis en die uitspraak
van die (afgehandelde) egskeidingsgeding in ‘n
gevangesettingsaansoek voor ‘n ander Regter.
19.2 Daar
kan beswaarlik enige twyfel bestaan dat die uitspraak van die
verhoorregter in die egskeidingsgeding wel voor ‘n ander
Regter wat
die gevangesettingsaansoek bereg, geplaas mag word. In dié verband
sal die bepalings van artikel 18 van die Wet
op die
Hooggeregshof, 59 van 1959, aanwending vind. Die vraag wat
onmiddellik ontstaan is:
wat
sou die bewyswaarde van dié uitspraak wees?
Na my mening stel dié uitspraak bloot ‘n mening van die
verhoorregter daar, welke mening bereik is ná ‘n evaluering van
die
aangebode getuienis, feite- en geloofwaardig-heidsbevindinge en
regsbevindinge. Só ‘n mening kan tog nooit ooit bindend wees
op
die Regter wat later die gevangesettingsaansoek aanhoor nie. In dié
verband vind die sg. “
Reël
in Hollington v Hewthorn
”
aanwending na my mening; sien: Joubert (ed)
The
Law of South Africa
(1e heruitgawe), Vol. 9 te p. 345 (par. 512).
19.3 Die
getuienis, gelewer in die egskeidingsverhoor, staan egter op ‘n
ander been. Sulke getuienis is, na my mening, ontoelaatbaar.

Schmidt,
Bewysreg
,
4
de
uitgawe te 357 stel dit as volg:
“Die
oorkondes van ‘n geding kan normaalweg nie aangewend word om die
verklarings wat daarin genotuleer is, as die waarheid te
bewys nie.”
Gemeenregtelik
is sodanige getuienis, gelewer in die egskeidingsgeding,
ontoelaatbare hoorsê getuienis in ‘n latere geding, m.a.w.
die
oorkonde is nie getuienis van die waarheid van die inhoud daarvan
nie.
19.4 Daar
bestaan ‘n belangrike uitsondering in sivielregtelike verrigtinge
(soos die onderhawige) op die voormelde algemene reël.
Getuienis
gelewer in vorige verrigtinge sal naamlik wel toelaatbaar wees in
daaropvolgende verrigtinge, mits die volgende vereistes
nagekom word:
a) die
vorige geding tussen dieselfde partye of hul regsbetrokkenes was;
b) die
geskilpunte wesenlik ooreenstem;
c) daar
‘n geleentheid was om die getuies behoorlik te kruisondervra; en
d) die
getuie(s) nie meer beskikbaar is om weer getuienis af te lê nie, as
gevolg van byvoorbeeld oorlye, siekte, verdwyning,
geestesongesteldheid,
ens.
Selfs
al word nie aan al die bovermelde voorvereistes voldoen nie, sal dié
getuienis tog toelaatbaar wees mits die partye daartoe
toestem. Sien
in die algemeen in hierdie verband:
Schmidt,
Bewysreg
,
4
de
uitgawe te 273-274;
Hoffmann
& Zeffert:
The
South African Law of Evidence
,
4
de
uitgawe
te 152.
Hierdie
prosedure behoort egter ontmoedig te word, want dit bemoeilik ‘n
Hof se beoordeling van die feite;
Schmidt,
ibid
;
Ruthenberg
v Otto
1974(2) SA 268(K) te 270 B-C.
In
die onderhawige geval sal daar weliswaar nakoming van vereistes (a)
en (b),
supra
,
wees, maar beslis nie van vereiste (d) nie. Daar is geen sprake
daarvan dat óf die appellant óf die respondent nie beskikbaar
is
vir die lewering van getuienis nie. Verder is dit te betwyfel of
gesê kan word dat daar behoorlike nakoming was van vereiste
(c),
inaggenome die feit dat die respondent as onverteenwoordigde litigant
taamlik gesukkel het om die appellant behoorlik te kruisondervra.
19.5 Die
bepalings vervat in Deel VI van die Wet op Bewysleer in Siviele
Sake. No. 25 van 1965, verg ook oorweging hierin.
Volgens
artikel 34 se bepalings moet sodanige getuienis by latere verrigtinge
toegelaat word, mits aan bepaalde vereistes voldoen
is. Vir
doeleindes van hierdie uitspraak is dit voldoende om daarop te wys
dat een van dié vereistes eweneens is dat die getuie(s)
nie
beskikbaar is om te getuig nie, wat nie hier die geval is nie.
Artikel
35 verleen ‘n diskresie aan die voorsittende beampte om sodanige
getuienis toe te laat, selfs al word nie aan die vereistes
voldoen
nie, byvoorbeeld waar die getuie(s) nie meer beskikbaar is om
getuienis af te lê nie. Hierdie diskresie word egter slegs
verleen
in omstandighede waar buitensporige vertraging of onkoste andersins
veroorsaak sou word – wat hier na my mening nie die
geval is nie.
19.6 Gevolglik
is ek die mening toegedaan dat nóg die gemeenregtelike uitsondering,
bespreek in par. 19.4 hierbo, nóg die statutêre
uitsondering,
bespreek in par. 19.5 hierbo, van toepassing is in die
onderhawige geval.
Gevolglik
meen ek dat die getuienis soos genotuleer op die oorkonde,
ontoelaatbaar sal wees in die latere gevangesettingsaansoek.

Getuienis sal dus opnuut gelei moet word (ek gaan uiteraard van die
veronderstelling uit dat
viva
voce
getuienis aangehoor sal moet word by daardie aansoek).
20. Gegewe
die gevolgtrekking waartoe ek gekom het ten aansien van die
rekuseringsaspek, is dit nie nodig om te handel met die interessante
betoog van Mnr. Snellenburg dat die appellant hom in die
gevangesettingsaansoek in dieselfde posisie as ‘n beskuldigde in ‘n
strafregtelike aangeleentheid bevind en die verdere submissies dat
die appellant se fundamentele grondwetlike regte
qua
beskuldigde persoon soos vervat in artikel 35 van die Grondwet, in
verskeie opsigte wesenlik geskend is tydens die verrigtinge
a
quo
nie.
21. Na
my mening behoort die appél te slaag en die appellant se
gevangesetting behoort tersyde gestel te word. Ons het dit teenoor
die advokate tydens betoog geopper en is beide van hulle dit eens,
heeltemal tereg ook, dat hierdie bevinding nie beteken dat die
appellant sukses behaal het op die meriete nie. Dit beteken op sy
beurt weer dat die appellant steeds in versuim is van die bevel
uitgereik deur Alkema WnR in die Reël 43-aansoek. Dit
staan die respondent dus heeltemal vry om, sou sy só verkies,
opnuut
‘n aansoek te bring vir regshulp ten aansien van appellant se
nie-nakoming van Alkema WnR se bevel. Die kwessie van
res
judicata
kan myns insiens glad nie ter sprake kom in só ‘n geval nie; ‘n
siening wat beide advokate ook deel.
22. Laastens
moet die kwessie van koste aangespreek word. Die appellant was
weliswaar suksesvol met sy appél, alhoewel op ‘n tegnikaliteit.

Aan die ander kant moet in ag geneem word die appellant se ernstige
versuim in verskeie opsigte wat betref die voortsetting van
die
appél. Verder meen ek dat dit onbillik sou wees teenoor die
respondent om haar te belas met ‘n kostebevel in hierdie
omstandighede
waar die appél suksesvol was, nie op die meriete nie,
maar op ‘n tegniese punt. In die uitoefening van ons diskresie ten
aansien
van koste meen ek dat die mees billike en mees gepaste bevel
sal wees dat elke party sy eie koste moet betaal. Mnr. Snellenburg
het dan ook uiteindelik tydens sy betoog toegegee dat só ‘n bevel
die mees billike een sou wees in die omstandighede.
23. Ek
sou die volgende bevel uitreik:
A. Die
appellant se nie-nakoming van die bepalings van Eenvormige Hofreëls
7(3) en 49(13) asook sy wanverskyning in hierdie Hof
op 15 Maart
2004 word gekondoneer.
B. Die
appél slaag. Die Hof
a
quo
se bevinding dat die appellant hom skuldig gemaak het aan minagting
van die Hof en die bevel van gevangesetting van die appellant,
word
tersyde gestel.
C. Elke
party word gelas om sy eie koste van hierdie appél te betaal, welke
koste sal insluit die koste van appellant se aansoek
vir verlof om te
appelleer asook die koste van appellant se versoekskrif aan die
Hoogste Hof van Appél vir verlof om te appelleer.
___________
SA
MAJIEDT
REGTER
Ek
stem saam en dit word aldus gelas.
_____________
FD
KGOMO
REGTER-PRESIDENT
Ek
stem saam.
_________
C.J.
MUSI
WAARNEMENDE
REGTER
NAMENS
APPELLANT : Adv. N. Snellenburg
NAMENS
RESPONDENT : Adv. T. Fourie
DATUM VAN VERHOOR : 2004-09-20
DATUM
VAN UITSPRAAK : 2004-10-15