S v Pieterse (CA&R 79/04) [2004] ZANCHC 27 (26 August 2004)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Appeal against conviction and sentence — Appellant convicted of murder for fatally stabbing the deceased during a confrontation — Appellant's claim of self-defense rejected by the trial court as implausible — Trial court's finding that the deceased was acting as a peacemaker and did not threaten the appellant — Appellant's appeal against conviction dismissed due to lack of merit — Sentence of twenty years imprisonment confirmed as the trial court failed to properly consider substantial and compelling circumstances justifying a lesser sentence.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2004
>>
[2004] ZANCHC 27
|

|

S v Pieterse (CA&R 79/04) [2004] ZANCHC 27 (26 August 2004)

Verslagwaardig:
JA / NEE
Sirkuleer
Aan Regters: JA / NEE
Sirkuleer
Aan Landdroste: JA / NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
IN
THE HIGH COURT OF SOUTH AFRICA
(Noord-Kaapse
Afdeling / Northern Cape Division)
Saakno:
/ Case number:
CA&R
79/04
Datum
verhoor: / Date heard:
26/08/2004
Datum gelewer: /
Date delivered:
26/08/2004
In
die saak van:
PIETERSE,
PIET
Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram:
Lacock R et Musi WnR
UITSPRAAK
OP APPÉL
LACOCK
R:
Die appellant is
in die Streekhof, Upington, skuldig bevind aan moord deurdat hy na
bewering op 11 Desember 1998 ene Manfred van
der Westhuizen
wederregtelik en opsetlik gedood het. Nadat hy skuldig bevind is,
is hy gevonnis tot twintig jaar gevangenisstraf.
Hoewel dit op die
oog af uit die kennisgewing van appél voorkom dat die appellant
slegs teen sy vonnis appelleer, blyk dit uit
die behoorlike nalees
van sy kennisgewing van appél dat hy hom ook verontreg voel deur
die skuldigbevinding.
Terselfdertyd
doen die appellant ook aansoek vir kondonasie vir die laat
aflewering van sy kennisgewing van appél. Ek is van mening
dat,
indien daar vooruitsigte op sukses in die appél is, kondonasie aan
die appellant verleen behoort te word. Dit is vervolgens
nodig om
te handel met die vraag naamlik of daar vooruitsigte op sukses in
die appél self is.
In soverre dit
uit die kennisgewing van appél blyk dat die appellant hom ook
verontreg voel deur die skuldigbevinding, is ons bereid
om in die
belang van die appellant, die appél teen skuldigbevinding ook te
oorweeg.
Die feitelike
omstandighede waaronder die oorledene gedood is, en soos blyk uit
die getuienis deur die Staat aangebied, kan kortliks
as volg opgesom
word:
Laat gedurende
die aand van 11 Desember 1998 het die appellant homself in die
geselskap van ‘n aantal van sy vriende bevind, waaronder
die twee
staatsgetuies, Cecil Louw en Bernard Strauss. Op ‘n stadium en
aan die buitekant van ‘n drinkhuis het daar ‘n stryery
ontstaan
tussen die appellant en ene Emmanuel Ritters. Ritters het die
toneel verlaat, en kort daarna het die appellant en sy
vriende in
dieselfde rigting gestap waarin Ritters vroeër beweeg het.
Ritters en die
appellant het bymekaar gekom, en het Ritters die appellant een hou
met ‘n plank teen sy kop geslaan, waarop hy (Ritters)
weggehardloop
het.
Die
appellant het agter Ritters aangehardloop en is gevolg deur die
oorledene wat op daardie stadium met sy meisie in die straat staan
en
gesels het, asook deur van die vriende wat saam met die appellant die
aand verkeer het.
Ritters het om ‘n
straathoek gehardloop en oor ‘n heining van ‘n woonerf gespring
en homself uit die voete gemaak. Voor die
heining het die appellant
tot stilstand gekom, en het die oorledene ook tot by hom gehardloop.
Die oorledene en van die vriende
van die appellant het gepoog om hom
te keer om verder agter Ritters aan te gaan en hom versoek om die
tersaaklike woonarea te verlaat.
Louw getuig dat
die oorledene sy arms na die appellant uitgesteek het in ‘n poging
om hom te laat afsien daarvan om Ritters verder
te volg, en op
daardie stadium het die appellant ‘n mes wat hy in ‘n skede by
hom gedra het, te voorskyn gehaal en die oorledene
een hou daarmee
in die omgewing van sy linker sleutelbeen gesteek. Strauss kon nie
onthou dat die oorledene sy hande na die appellant
uitgesteek het
nie, en getuig dat die appellant sy hande in sy broeksakke gesteek
het toe hy by die appellant aangekom het en hom
bloot op ‘n
rustige en kalm wyse versoek om sy aanval op Ritters te staak en die
area te verlaat. Hierop het die appellant sy
mes te voorskyn gehaal
en die oorledene een hou daarmee op sy linker skouer gesteek.
Beide die
voormelde staatsgetuies getuig dat die appellant vroeër daardie dag
die tersaaklike mes (en wat ook as ‘n tipe dolk
beskryf is) by ‘n
ander persoon genaamd Preen afgeneem het en in sy besit gehad het
gedurende die tersaaklike aand.
Dit is gemeensaak
dat die appellant die persoon was wat die oorledene met hierdie mes
gesteek het, en dat die steekwond die aorta
van die oorledene
gedeeltelik deurgesny het en tot ‘n diepte van ongeveer elf
sentimeter die liggaam van die oorledene binne
gedring het en die
linkerlong van die oorledene getref het, en dat hierdie steekwond
die dood van die oorledene tot gevolg gehad
het.
Die appellant het
in sy eie verdediging getuig, en aangevoer dat, nadat Ritters hom
drie houe met die plank geslaan het, hy Ritters
gejaag het, en dat
hy toe deur ongeveer vyf persone aangeval was wat hom aangerand het
en van sy beursie beroof het. Nadat hy
daarin geslaag het om van
hierdie persone weg te kom, het die oorledene van skuins oorkant die
straat na hom gehardloop gekom met
‘n mes in die hand en hom
daarmee aangeval. Hy beweer dat hy daarin geslaag het om die
aanvalle te ontduik, en dat hy sowel
as die oorledene oor ‘n hoop
rommel gestruikel het en waarop die mes wat die oorledene sou gehad
het, op die grond beland het.
Hy het die mes opgetel. Hierop het
die oorledene wat in ‘n half sittende posisie op sy knieë was,
hom aan sy lyfband aan die
linkerkant van sy lyf gegryp. Die
appellant sou toe na sy regterkant omswaai en een hou met die mes na
die oorledene steek wat
hom in sy linkerskouer getref het.
Die appellant se
verweer was dus een van noodweer.
Die Landdros het
myns insiens heeltemal tereg die weergawe van die appellant as vals
en nie redelik moontlik waar nie, verwerp en
die weergawes van die
staatsgetuies aanvaar.
Hoewel daar
geringe verskille was in die weergawes van die twee staatsgetuies
ten aansien van die gebeure self, is dit myns insiens
te begrepe dat
sodanige verskille in die getuienis van getuies wat duidelik onder
die invloed van drank was en vinnig bewegende
tonele moes weergee,
sou voorkom. Die Landdros was dan ook duidelik hierop bedag, en
het, weereens heeltemal tereg, bevind dat
die getuies mekaar in alle
wesenlike opsigte staaf. Die mees belangrike hiervan is naamlik dat
die oorledene geensins die appellant
aangeval het soos hy beweer
nie, maar dat hy alleen die rol van vredemaker vertolk het.
Voorts het die
Landdros in sy uitspraak gewys op die talle weersprekings en
onwaarskynlikhede in die getuienis van die appellant.
Hierdie
kritiek is myns insiens geregverdig, en ek vind dit nie nodig om na
al hierdie weersprekings en onwaarskynlikhede in die
getuienis van
die appellant te verwys nie.
Uit die getuienis
van die staatsgetuies is dit glashelder dat die oorledene op geen
stadium die appellant aangeval het of hom op
enige wyse bedreig het
nie. Die aanval deur die appellant op die oorledene was totaal en
al ongeregverdig en onnodig. Die oorledene
het bloot as vredemaker
probeer verhoed dat die appellant Ritters verder agtervolg en of
aanval.
Die weergawe van
die appellant naamlik dat die oorledene gewapen met ‘n mes op hom
afgestorm het en gepoog het om hom daarmee
te steek is ooglopend ‘n
weergawe wat die appellant uit sy duim gesuig het ten einde sy eie
wederregtelike gedrag te probeer
regverdig.
Uit hoofde van
die voorgaande is daar geen meriete in die appél teen
skuldigbevinding nie, en kan dit nie slaag nie.
Wat vonnis
aanbetref, blyk dit uit die uitspraak dat die Landdros hom,
heeltemal tereg so, gebonde geag het aan die tersaaklike
voorskrifte
van die Strafregwysigingswet nr. 105 van 1997. Hy het korrek
geoordeel dat hy verplig was om aan die appellant die
minimum vonnis
van vyftien jaar gevangenisstraf soos voorgeskryf in Deel II van
Bylae 2 daartoe, op te lê tensy hy sou bevind
dat daar wesenlike en
dwingende omstandighede aanwesig was wat hom sou regverdig om ‘n
mindere vonnis op te lê.
Die Landdros het
hom egter wanvoorgelig ten aansien van wat kwalifiseer as wesenlike
en dwingende omstandighede. In hierdie verband
sê die Landdros die
volgende:
“
So in die
vonnis is daar die gebruiklike riglyne wat die hof in aanmerking
neem. Nou is dit ongelukkig so dat die gebruiklike riglyne
wat die
hof in aanmerking neem by die vonnisoplegging baie afgewater is na
die inwerkingtreding van Wet 105 van 1997.”
en
“
Hierdie
hof is van oordeel in elke geval dat daar geen dwingende of wesenlike
omstandighede bestaan wat ‘n ligtere straf regverdig
nie. Dit is
geykte reg in Noord-Kaap in elke geval dat daar uiters besondere
omstandighede moet bestaan wat in die normale loop
van omstandighede
nie in sake van hierdie aard gevind word nie.”
Hierdie benadering
van die Landdros is nie ooreenkomstig die reg nie, en weerspieël ‘n
wanopvatting van die betekenis van die tersaaklike
voorskrifte van
Wet 105 van 1997. Sien
S
v Malgas 2001 (1) SASV 469 (HHA)
waar
Marais
AR
die volgende gesê het te
477
h tot 478 b
:
“
There
is no indication in the language it has employed that it intended the
enquiry into the possible existence of substantial and
compelling
circumstances justifying a departure, to proceed in a radically
different way, namely, by eliminating at the very threshold
of the
enquiry one or more factors traditionally and rightly taken into
consideration when assessing sentence. None of those factors
have
been singled out either expressly or impliedly for exclusion from
consideration.
To the extent
therefore that there are dicta in the previously decided cases that
suggest that there are such factors which fall to
be eliminated
entirely either at the outset of the enquiry or at any subsequent
stage (eg age or the absence of previous convictions),
I consider
them to be erroneous. Equally erroneous, so it seems to me, are dicta
which suggest that for circumstances to qualify
as substantial and
compelling they must be 'exceptional' in the sense of seldom
encountered or rare. The frequency or infrequency
of the existence of
a set of circumstances is logically irrelevant to the question of
whether or not they are substantial and compelling.”
en
“
All
factors (other than those set out in D above) traditionally taken
into account in sentencing (whether or not they diminish moral
guilt)
thus continue to play a role; none is excluded at the outset from
consideration in the sentencing process.”
(te
482
c
).
Die voorgaande
benadering gevolg deur die Landdros, het tot gevolg gehad dat hy nie
behoorlike oorweging gegee het aan die persoonlike
omstandighede van
die appellant nie, en ook versuim het om oorweging te gee aan ander
tersaaklike faktore soos byvoorbeeld die
soberheidstoestand van die
appellant ten tye van die pleeg van die misdryf, en die vraag
naamlik wat die opsetvorm was waarmee
die appellant die oorledene
die fatale wond toegedien het.
Ek is van mening
dat die Landdros, waarskynlik weens die toepassing van ‘n foutiewe
toets ten aansien van die betekenis van die
begrip
“wesenlike
en dwingende omstandighede”
kragtens art 51 (3) (a) van Wet 105 van 1997, verkeerdelik bevind
het dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede in hierdie
aangeleentheid aanwesig was wat hom sou regverdig om ‘n ligter
vonnis dan die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar op te lê
nie.
Na my mening kwalifiseer die volgende omstandighede as wesenlike en
dwingende omstandighede:
Die beskuldigde
was duidelik die tersaaklike nag onder die invloed van sterk drank.
Dit verg geen deskundige om te weet dat ‘n
persoon wat onder die
invloed van drank is, nie dieselfde rasionele en gedissiplineerde
beheer oor sy denke en doen en late het
soos ‘n nugter persoon
nie.
Dit blyk verder
dat die appellant onmiddelik voordat hy die oorledene gesteek het,
erg geprovokeerd was deur mnr Ritters wat hom
met ‘n plank oor die
kop geslaan het. Trouens, hy was sodanig geprovokeer dat hy Ritters
agterna gesit het, en dit kan aanvaar
word dat, op die stadium toe
die oorledene by hom aangesluit het, hy steeds kwaad en geprovokeerd
was. Hierdie gemoedstoestand
van die appellant het waarskynlik
daartoe bygedra dat hy nie sy handelinge rasioneel ingerig het nie.
Dit blyk uit die
getuienis van mnr Strauss dat daar ook van die vriende van mnr
Ritters in die onmiddellike omgewing was waar die
appellant hom
agternagesit het. Dit is gevolglik verstaanbaar dat die appellant
onder die indruk kon verkeer dat die oorledene
een van die vriende
van mnr Ritters was, en dat hy hom wou verhinder om by Ritters uit
te kom.
Myns insiens gaan
die staatsgetuienis nie sover dat daarvan die enigste redelike
afleiding gemaak kan word dat die appellant die
direkte opset gehad
het om die oorledene te dood toe hy hom met die mes gesteek het nie.
Indien in ag geneem word die getuienis
van mnr Louw tot die effek
dat die oorledene die appellant om sy lyf gegryp het in ‘n poging
om hom te verhinder om Ritters verder
te agtervolg, is die afleiding
eweneens geregverdig dat die appellant bloot na die oorledene
gesteek het ten einde hom van hom
weg te kry sodat hy sy
agtervolging van Ritters kon voortsit. Die getuienis is vervolgens
eweneens versoenbaar met ‘n redelike
afleiding dat die appellant
nie die oorledene gesteek het met die opset om hom te dood nie, maar
dat hy besef het dat die oorledene
kon sterf as gevolg van die
steekwond wat hy hom toegedien het, maar nie omgegee het of hy sou
sterf nie en desnieteenstaande voortgegaan
het om hom te steek. Dit
moes dus bevind gewees het dat die opsetvorm waarmee die appellant
die oorledene gesteek het, een was
van
dolus
eventualis
.
Die appellant was
nog relatief jonk ten tye van die pleeg van hierdie misdryf. Hy was
slegs 26 jaar oud.
Dit blyk ook dat
die appellant ‘n bestendige werksrekord gehad het voor die pleeg
van hierdie misdryf. Hy was vir ‘n ononderbroke
tydperk van tien
jaar werksaam as ‘n leerling elektrisiën by ‘n
elektrisiteitsonderneming. Daarna was hy tot en met die pleeg
van
hierdie misdryf in diens van Oranje Koöperasie in ‘n
vleisverwerkingsafdeling van die Koöperasie. Hy het homself dus

bewys as ‘n deugsame lid van die publiek.
Dit blyk ook dat
die appellant in ’n huweliksverhouding met ‘n vrou saamgeleef
het met wie hy nie getroud was nie, en wat die
moeder is van sy twee
kinders. Dit blyk nie dat daar enige lewensgebrek tuis was nie en
dat hy sy gesin behoorlik versorg het.
Teenoor die
voormelde versagtende omstandighede, is dit natuurlik ook so dat die
appellant reeds ‘n aantal vorige veroordelings
vir onder andere
aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer op sy
kerfstok het. Hierdie vorige veroordelings
is as volg opgesom in
die oorkonde:
“
1993 is die
beskuldigde skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te
beseer en gevonnis tot sewe houe met ‘n ligte
rottang.
1993 skuldig
aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Gevonnis tot 12
maande gevangenisstraf. Waarvan vyf maande opgeskort
is vir ‘n
tydperk van vyf jaar.
1993 is die
beskuldigde skuldig bevind aan aanranding. Gevonnis tot vyf houe met
‘n ligte rottang.
1994
is die beskuldigde skuldig bevind aan aanranding en gevonnis met ‘n
boete van R80.00 of veertig dae gevangenisstraf.
1996
skuldig an aanranding met die opset om ernstig te beseer. Gevonnis
tot ses maande gevangenisstraf.
1997
skuldig aan diefstal. Gevonnis tot ‘n boete van R800.00 of vier
maande gevangenisstraf opgeskort vir vier jaar.
1998
skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en
gevonnis tot drie maande gevangenisstraf.”
Wat wel uit
hierdie vorige veroordelings van die appellant blyk, is dat hy nog
nie vir ‘n lang periode gevangenisstraf uitgedien
het nie.
Uiteraard was die
Landdros korrek om die sinnelose wyse waarop die oorledene gedood
is, as verswarend teen die appellant in aanmerking
te neem.
Eweneens was die
Landdros geregverdig om die groot hoeveelheid moorde en die toename
daarin wat in sy gebied voorkom, in ag te neem.
Die enigste
motivering waarom die Landdros dit goed geag het om die appellant ‘n
swaarder vonnis as die minimum voorgeskrewe vonnis
van vyftien jaar
gevangenisstraf op te lê, is as volg deur hom bewoord:
“
Maar as ons
na die hele situasie kyk en u geneigdheid oor die jaar om herhaalde
male mense te beseer en wat uiteindelik gelei het
tot die dood van ‘n
onskuldige slagoffer dan is dit baie duidelik dat u verwyder moet
word uit die gemeenskap.
Ek
moet u die minimum vonnis oplê.
Maar ek is van
oordeel dit is nie van pas, dit is ook nie voldoende nie. Dit is
duidelik dat ek u geheel en al uit die gemeenskap
behoort te
verwyder. Ek gaan dit doen. Daarom gaan ek ook van die plus vyf
jaar gebruik maak.”
Na my mening is
hierdie stelling van die Landdros geensins geregverdig nie. Die
omstandighede waaronder hierdie misdryf gepleeg
is, is myns insiens
nie aanduidend daarvan dat die appellant sodanig geweldadig van aard
is dat hy op sy jeugdige ouderdom vir
‘n periode van twintig jaar
uit die gemeenskap verwyder behoort te word nie. Ek is van mening
dat die vonnis van twintig jaar
die appellant opgelê, skokkend
swaar en onvanpas is, en dat geen redelike hof ‘n soortgelyke
vonnis sou opgelê het met inagneming
van alle tersaaklike
omstandighede nie.
Uit hoofde van
die voorgaande is ons vervolgens bevoeg om die vonnis wat die
appellant opgelê moes gewees het, van nuuts te oorweeg.
Met inagneming
van wat hierbo gesê is, sou ek die appellant hoogstens vir ‘n
periode van twaalf jaar na die gevangenis gestuur
het.
Bygevolg word die
volgende bevel verleen:
DIE AANSOEK
OM KONDONASIE VIR DIE LAAT LIASSERING VAN DIE KENNISGEWING VAN
APPÉL WORD TOEGESTAAN.
DIE APPÉL
TEEN SKULDIGBEVINDING WORD VAN DIE HAND GEWYS.
DIE APPÉL
TEEN DIE VONNIS DIE APPELLANT OPGELÊ SLAAG, EN DIE VONNIS OPGELÊ
DEUR DIE VERHOORHOF WORD TER SYDE GESTEL EN VERVANG
MET DIE
VOLGENDE:
12 (TWAALF)
JAAR GEVANGENISSTRAF.
DIE VONNIS
WORD TERUGDATEER NA 3 MEI 2000.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Ek
stem saam.
_______________
CJ Musi
WAARNEMENDE
REGTER
Namens
appellant:
In
persoon
Namens
respondent:
Adv
CG Jansen