S v Mtini and Another (CA&R 65/04) [2004] ZANCHC 5 (1 January 2004)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Appeal against sentence — Appellants convicted of robbery and sentenced to 15 and 8 years imprisonment respectively — Appellants challenged severity of sentences imposed by the Regional Court — First appellant had prior convictions including murder; second appellant was a first-time offender aged 18 — Court considered personal circumstances of appellants and the nature of the crime, including the trauma suffered by the victim — Sentences deemed excessively harsh for the second appellant, who was a minor and first offender, warranting reconsideration of alternative sentencing options.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2004
>>
[2004] ZANCHC 5
|

|

S v Mtini and Another (CA&R 65/04) [2004] ZANCHC 5 (1 January 2004)

Verslagwaardig:
JA / NEE
Sirkuleer
Aan Regters: JA / NEE
Sirkuleer
Aan Landdroste: JA / NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
IN
THE HIGH COURT OF SOUTH AFRICA
(Noord-Kaapse
Afdeling / Northern Cape Division)
Saakno:
/ Case number:
CA&R
65/04
Datum
verhoor: / Date heard:
11/10/2004
Datum gelewer: /
Date delivered:
In
die saak van:
MTINI,
MONDE
1
ste
Appellant
ADAMS,
JACKSON
2
de
Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram:
Lacock R et Olivier R
UITSPRAAK OP
APPÉL
LACOCK
R:
Die appellante is
op 1 Oktober 2002 in die Distrikshof van Upington skuldig bevind aan
roof. Na skuldigbevinding het die Distrikslanddros
die appellante
na die Streekhof verwys vir vonnis kragtens die toepaslike
voorskrifte van art 116 van die Strafproseswet, nr. 51
van 1977.
Op 10 Februarie
2003 is die appellante in die Streekhof, Upington, gevonnis tot 15
(vyftien) en 8 (agt) jaar gevangenisstraf onderskeidelik.
Beide appellante
kom nou in hoër beroep teen die vonnisse hulle opgelê.
Die feitelike
omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het dat die appellante
aan roof skuldig bevind is, kan as volg saamgevat
word:
Net voor 12:00 op
Saterdag, 9 Maart 2002 het die klaagster, mev. Rene Williams, met
haar passasiersmotor voor die sekuriteitshekke
van ‘n onderneming
genaamd Clover, in die sakegebied van Upington stilgehou. Sy wou
haar man wat werksaam was te Clover, besoek.
Terwyl sy in haar motor
gesit het en getoeter het vir die hekwag om haar in die perseel in te
laat, het die eerste appellant by
die regter venster van haar motor
verskyn en iets aan haar beduie. Sy het die venster gedeeltelik
afgedraai, en het die eerste appellant
‘n sak met ‘n broek daarin
oor haar mond en neus gedruk. Terwyl sy gespartel en geskree het,
het die tweede appellant die linker
voorste ruit van haar motor
stukkend geslaan en haar handsak wat op die linker voorste sitplek
gelê het, gegryp. Hierna het die
appellante weggehardloop met haar
handsak. Die klaagster het skade gely in ‘n bedrag van ongeveer R1
224.00, synde die waarde
van die gesteelde goedere wat nie terug
gevind is nie. Die skade aan haar voertuig, synde die gebreekte ruit
en skade opgedoen terwyl
sy die appellante agtervolg het, het meer as
R4 000.00 beloop.
Tydens die rooftog
het die klaagster ook ‘n sny in haar linker hand opgedoen. Sy is
nie seker hoe sy hierdie snywond opgedoen het
nie.
Die persoonlike
besonderhede van die appellante soos blyk uit die oorkonde, kan as
volg opgesom word:
Die eerste
appellant was 28 jaar oud ten tye van die pleeg van die misdryf. Hy
was ongetroud, maar die vader van ‘n kind vir
wie hy by
geleenthede onderhoud betaal het. Hy is ‘n sogenaamde teellêer
van beroep.
Minder as drie
maande voor die pleeg van hierdie misdryf is hierdie appellant uit
die gevangenis vrygelaat waar hy ‘n vonnis van
5 (vyf) jaar vir
moord uitgedien het. Dit blyk uit sy lys van vorige veroordelings
dat hy op 8 Februarie 1996 skuldig bevind
is aan diefstal
waarvoor hy gevonnis is tot R70.00 of 50 dae gevangenisstraf wat in
die geheel opgeskort is. Op 4 Mei 1998 is hy
weereens vir diefstal
gevonnis tot 3 (drie) jaar gevangenisstraf. Op 10 September 1998 is
hy skuldig bevind aan moord en gevonnis
tot 5 (vyf) jaar
gevangenisstraf. Daar is gelas dat hierdie vonnis en die vonnis van
3 (drie) jaar wat hy toe reeds op die diefstal
uitgedien het, saam
uitgedien moes word.
Terwyl hy
gevangenisstraf uitgedien het, het die appellant matriek geskryf en
geslaag in die gevangenis.
Ten tye van die
pleeg van die onderhawige misdryf het die appellant geen vaste
betrekking beklee nie, en het by sy ouers gewoon.
Dit blyk ook dat
hy nadat hy vrygelaat was, betrokke geraak het by sokker
ontwikkeling.
Die tweede
appellant was 18 jaar oud ten tye van die pleeg van die misdryf, en
‘n graad 9 skolier aan die Paballelo Senior Sekondêre
Skool,
Upington. Hy het gewoon aan huis van ‘n suster van sy moeder wat
hom ook as kind grootgemaak het. Hy het weinig bande
met sy eie
moeder en ken nie sy natuurlike vader nie. Aldus ‘n
voorvonnis-verslag voorberei deur ‘n senior maatskaplike werker
verbonde aan Upington Korrektiewe Dienste, beskou die pleegtante van
die appellant hom as ‘n verantwoordelike, en betroubare
en rustige
persoon wat hom aan haar gesag onderwerp. Sy hou die appellant se
assosiasie met swak vriende voor as die rede dat
hy by die misdaad
betrokke geraak het. Hy het geen geskiedenis van kriminele gedrag
nie, en het dan ook as ‘n eerste oorteder
voor die Hof tereg
gestaan.
Vir
vonnisdoeleindes het die Staat die getuienis van die klaagster, dié
van ene Superintendent van Wyk, ‘n polisie-beampte verbonde
aan
die ernstige geweldsmisdaadeenheid van die Suid-Afrikaanse Polisie,
Upington, asook dié van me. Britz, die voormelde maatskaplike
werkster, aangebied.
Die klaagster,
mev. Williams, het getuig dat sy, na die tersaaklike voorval
waartydens sy beroof was, na ‘n plaaslike hospitaal
was waar sy ‘n
inspuiting vir skok ontvang het. Hierna het sy medikasie ontvang op
voorskrif van ‘n geneesheer vir haar skoktoestand,
en het sy die
medikasie vir ongeveer een maand gebruik. Nadat sy opgehou het met
die medikasie het sy ‘n senuwee ineenstorting
gehad. Sy getuig
verder dat sy steeds nagmerries kry en daagliks in vrees lewe vir ‘n
herhaling van die gebeure. Haar senu
toestand het egter
gestabiliseer.
Mnr. van Wyk het
getuig dat gedurende 2001 daar in die Upington gebied 375 gevalle
van roof by die polisie aangemeld was, waarvan
55.5% suksesvol
opgelos was.
In die jaar 2002
was in totaal 349 gevalle van roof aangemeld, waarvan 64% suksesvol
opgelos was. Voorts het hy getuig dat daar ‘n
toename ondervind
word in
“ernstige
rooftogte”
dit wil sê ander dan die sogenaamde
“wynkanrowe”
.
Hy getuig ook dat ‘n toenemende tendens ondervind word in rowe
teenoor vrouens en persone in voertuie wie se vermoë tot verset
beperk is, en dat die meer ernstige rowe gepleeg word deur persone
wat in groepsverband handel.
Me. Britz het die
inhoud van haar voorvonnis-verslag ten aansien van die tweede
appellant aan die Hof voorgehou, en aanbeveel dat
die Hof
korrektiewe toesig as vonnis vir hierdie appellant oorweeg daar hy
na haar mening ‘n geskikte kandidaat vir korrektiewe
toesig was.
Sy getuig dat, na
haar mening, direkte gevangenisstraf die appellant nadelig sou tref
aangesien hy dan ontneem sou word van sy steunstelsels.
‘n
Korrektiewe toesig vonnis sou ook die appellant in staat stel om sy
studies op skool te voltooi.
Die Landdros se
kritiek teen die verslag opgestel deur hierdie getuie en haar
getuienis as sulks, kom my onverdiend voor. Die Landdros
het die
getuie verkwalik dat sy nie meer moeite gedoen het en die
omstandighede waaronder die misdryf gepleeg is, nagevors het nie,
en
haar ook nie uitgespreek het oor die erns van die misdryf as sulks
nie. Dit is immers nie die taak van ’n maatskaplike werker
om hom
of haar uit te spreek oor die meriete van ‘n skuldigbevinding en
die erns van ‘n misdryf nie. Dit is die Hof se taak.
Die
maatskaplike werker se taak is primêr daarop gemik om aan die Hof ‘n
karakterskets en daarmee gepaardgaande inligting aangaande
die
betrokkene se vormingsjare, sy opvoeding, woonomstandighede en ander
tersaaklike omstandighede te verskaf ten einde die Hof behulpsaam
te
wees met die oorweging van alternatiewe vonnisopsies. Uiteraard sal
kennis van die omstandighede waaronder ‘n betrokkene aan
die
tersaaklike misdaad skuldig bevind is, ‘n maatskaplike werker beter
in staat stel om die reaksie van so ‘n persoon op ‘n
ondersoek na
die pleeg van die misdryf self beter te evalueer, maar ek meen nie
dat ‘n nalate van sodanige navorsing noodwendig
die inhoud van die
verslag tot eenogigheid doem soos die Landdros in
casu
bevind het nie.
Die
Streekhoflanddros het hierdie appellante onderskeidelik gevonnis tot
15 (vyftien) en 8 (agt) jaar (direkte) gevangenisstraf,
op grond van
onder andere die volgende verswarende omstandighede:
Die toenemende
tendens wat in die Upington area ondervind word in meer ernstige
gevalle van roof.
Die misdaad is
beplan.
Die slagoffer was
‘n vrou wat alleen in haar voertuig was en wat as ‘n sagte
teiken beskryf kan word.
Die skade van die
slagoffer veroorsaak deur die roof het beloop meer as R4 000.00.
Slegs die
klaagster se beursie met kredietkaarte is herwin.
Die klaagster het
die gebeure traumaties beleef en moes na die voorval medikasie vir
haar senu toestand gebruik, en het uiteindelik
‘n senu
ineenstorting beleef.
Die erns van die
misdryf as sulks, en die wyse waarop die slagoffer buite aksie
gestel is.
Die tendens dat
misdrywe van hierdie aard normaalweg in groepsverband gepleeg word
waar meerdere misdadigers as ‘n groep hul slagoffer
beroof.
Die appellante
het nie uit lewensnood die misdryf gepleeg nie, maar bloot vir eie
gewin.
Die appellante
het weinig berou vir hul wandade.
In soverre die
Landdros bevind het dat die appellante die misdaad beplan het, meen
ek dat hy ‘n mistasting begaan het. Uit die
gtuienis van mev.
Williams blyk dit dat sy op die ingewing van die oomblik besluit het
om haar eggenoot te besoek by sy werk.
Sy was duidelik nie ‘n
persoon wat óf gereeld óf op bepaalde tye by die tersaaklike
perseel aandoen nie. Die appellante kon
dus nie vooraf geweet het
dat sy op daardie dag en op die tydstip waarop sy voor die perseel
stilgehou het, daar sou wees nie.
Daar is geen
direkte getuienis tot die effek dat die appellante vooraf die roof
beplan het, voor die Hof geplaas nie. Uit die feitelike
getuienis
kon myns insiens nie die afleiding as enigste redelike afleiding
gemaak gewees het dat die appellante beplan het om wie
ook al daar
sou aankom by die tersaaklike perseel te roof nie. Die feitelike
omstandighede is eweseer versoenbaar met ‘n optrede
wat op die
ingewing van die oomblik uitgevoer is.
Afgesien van die
voorgaande is ek van mening dat die vonnisse die appellante opgelê,
skokkend swaar en onvanpas is.
Die
Streekhoflanddros was heeltemal geregverdig om die oorblywende
verswarende omstandighede soos hierbo vermeld in ag te neem by
die
oorweging van ‘n gepaste vonnis. In hierdie proses egter het hy
myns insiens die erns en die reëlmaat waarin hierdie tipe
misdrywe
in sy regsgebied voorkom, oorbeklemtoon ten koste van die
persoonlike omstandighede van die appellante.
Die tweede
appellant was 18 jaar oud ten tye van die pleeg van die misdryf en
‘n graad 9 skolier sonder enige vorige veroordelings.
Ooglopend
het die Landdros geen of weinig oorweging gegee aan die beginsel ter
sake by straftoemeting van ‘n jeugdige eerste
oortreder, naamlik
dat so ‘n persoon nie ligtelik na die gevangenis gestuur behoort
te word nie en dat oorweging verleen behoort
te word aan
alternatiewe vorme van straf. Sien
S
v Z en Andere
1999
(1) SASV 427 (OKA) te 441 e tot g
;
en
S
v Nkosi 202 (1) SASV 135 (W) te 147 f
en die sake daarin aangehaal.
Om ‘n kind en
eerste oortreder van hierdie ouderdom en wat boonop nog op skool
was, vir die oortreding in
casu
gepleeg vir ‘n tydperk van 8 (agt) jaar na die gevangenis te stuur,
kan myns insiens nie anders as gevoelloos en wreed bestempel
word
nie. Dit is beslis nie die taak van enige Hof om straf op hierdie
onmenslike wyse uit te meet nie. Genadiglik vir hierdie
appellant
was die Streekhoflanddros nie, soos hy dit homself in sy uitspraak
aangematig het,
“die
eindverbruiker van alles wat verkeerd gebeur in ons samelewing”
nie, en is minstens nog hierdie Hof vir die appellant tot toevlug
beskore.
Na my mening sou
‘n meer gepaste vonnis vir hierdie appellant een gewees het van óf
korrektiewe toesig soos aanbeveel deur die
maatskaplike beampte
voormeld, óf ‘n vonnis kragtens art. 276(1)(i) van die
Strafproseswet, nr. 51 van 1977. Soos adv. Barnard
namens die Staat
betoog het, sou so ‘n vonnis kentekenend gewees het van die
weerspieëling van die voormelde beginsel naamlik
dat ‘n jeugdige
eerste oortreder nie ligtelik direkte gevangenisstraf opgelê word
nie, en sou dit ook die appellant ‘n geleentheid
tot rehabilitasie
bied terwyl dit terselfdertyd die gemeenskapsbelang akkommodeer.
Ook wat betref
die eerste appellant meen ek dat die Landdros ‘n buitensporige
swaar vonnis opgelê het.
Hierdie appellant
het weliswaar twee vorige veroordelings van diefstal en een van
moord, en verdien vervolgens ‘n aansienlik swaarder
vonnis as die
tweede appellant. Dit blyk egter uit die uitspraak dat die Landdros,
en wat dieselfde Landdros was wat hierdie appellant
op die
moordklagte skuldig bevind het, in wese op die feite van die
moordsaak bevind het dat die appellant in daardie saak ook deel
was
van die persone wat eers die slagoffer beroof het en daarna gedood
het. Die Landdros neem dan die omstandighede van daardie
saak in
soverre hierdie appellant deel was van die persone wat die oorledene
geroof het, as verswarend teen hom in ag asof hy hom
ook aan die roof
(van ‘n kan wyn) skuldig gemaak het. Dit is myns insiens ‘n
mistasting en was die Landdros nie geregtig om
sy kennis van die
omstandighede van die vorige saak verswarend teen hierdie appellant
in ag te neem asof hy hom ook toe aan roof
skuldig gemaak het nie.
Duidelik het
hierdie vorige kennis en vooroordeel van die Landdros bygedra tot die
swaar vonnis die appellant opgelê. Op bladsye
146 tot 147 van die
oorkonde sê die Landdros die volgende:
“
Maar
my probleem is dat as ‘n mens met genade straf en as ‘n hof
iemand vir ‘n moord soos ek dit reeds na verwys het gekoppel
ook
aan roof alhoewel hy nie aan roof skuldig bevind was nie maar dit is
baie duidelik dat beskuldigde 1 destyds op skool was in
daardie
diefstalsaak waar hy saam met ene Mashlacuba was, het hulle beweer
hulle was nog op skool gewees. Hulle was nou maar net
die
Vrydagmiddag nou ‘n bietjie rondloop toe die voorval plaasgevind
het. Op die roof uit die motorvoertuig of diefsal (verskoning)
het
die hof vir hom drie jaar gegee. In daardie selfde tydperk het
hierdie moord waarop hy vyf jaar gekry het plaasgevind.
Nou dit is baie duidelik uit
die moordsaak dat beskuldigde 1 toe as skolier soos wat beskuldigde 2
ook nou voorgee hy is saam met
‘n groep ander persone geloop het,
‘n man is beroof van ‘n kan wyn, beskuldigde 1 het destyds nog
vir my gesê hy het nou nie
regtig in die roof in die kan wyn belang
gestel nie want die wyn het hom nou nie geval nie. Hulle wou eintlik
die wyn gaan verkoop
het.
Toe die ou man hom nou
verset daarteen en luidkeels protesteer soos dit sy goeie reg is,
soos enige mens wat geroof word sal doen
toe was beskuldgide 1 een
van die persone wat hom aan die hand gevat het en ‘n ander man het
sy ander hand gevat en die die man
wat die eintlike roof gepleeg het
het hierdie man net so doodgesteek, ten aanskoue van sy kinders en
mense.
Nou ek het beskuldigde
destyds met wat ek beskou het ‘n groot mate van genade gestraf en
het ek hom vyf jaar tronkstraf opgelê
en ek het gelas dat dit nog
saamloop met die drie jaar wat hy uitdien. Die ander man het ek 10
jaar gegee en hy behoort seker darem
hopenlik nog in die tronk te
wees want hy het drie jaar vir die roof gekry. So hy het so 13 jaar
gekry. Hy sal waarskynlik nog
‘n bietjie in die tronk wees.
Maar as beskuldigde 1 nou
destyds ook miskien met ‘n groter oormaat van behoorlike straf
besoek was was hy nog in die tronk en nie
alweer betrokke by hierdie
huidige voorval nie. Dit is die bitter ironie wanneer die hof met te
veel genade straf dat dit selde
of ooit sukses is en ek sê dit nie
om watter rede nie dit is my ondervinding die afgelope 16 jaar. Dat
as die hof vir ernstige
misdade, selfs jeugdiges met te veel genade
probeer straf dan het dit nooit ‘n werklike heilsame effek nie.”
Indien ek hierdie
appellant in die eerste instansie sou vonnis, sou ek hom nie gevonnis
het tot gevangenisstraf vir ‘n langer periode
as 8 (agt) jaar nie.
Die appellant is nie skuldig bevind aan roof met verswarende
omstandighede nie. Vergelyk hiermee
S
v Mondi, 1999 (1) SASV 292 (O)
.
Die laaste
stelling van die Landdros hierbo aangehaal is tiperend van ’n
verwronge en foutiewe benadering tot die oogmerke van
straftoemeting. Sien
Ex
Parte Minister of Justice:
in
re
R v Berger,
1936 AD 334
te 341,
waar die volgende gesê is:
“
Tereg
word gesê
dat na skuldigbevinding die regter in ‘n ander sfeer verkeer waar
die oplê van die straf gepaard moet gaan met oordeelkundige
genade
en menslikheid ooreenkomstig die feite en omstandighede van die
geval. Dit bring mee dat die regter kennis moet neem van
die gevolge
van enige moontlike straf op die veroordeelde, en dan die straf
volgens reg en billikheid moet bepaal.”
Sien verder
S
v Rabie,
1974 (4) SA 855
(A) te 861 C tot 862 G.
Dit kom my voor
asof die volgende uittreksel uit die uitspraak in
S
v Khumalo & Others,
[1984] ZASCA 30
;
1984 (3) SA 327
(A) te 331 F tot G
ook toepassing vind op die onderhawige saak:
“
It
is the experience of prison administrators that unduly prolonged
imprisonment, far from contributing towards reform, brings about
the
complete mental and physical deterioration of the prisoner.
The
learned Judge does not appear to have considered whether the aim of
reformation and rehabilitation was not more likely to be achieved
by
the imposition of a lesser period of imprisonment.
In my opinion, therefore,
the learned trial Judge over-emphasized the retributive aspect, with
the result that he did not give due
consideration to the more
important aspects of deterrence and reformation.”
Bygevolg slaag
die appél en word die volgende bevele verleen:
Die vonnisse
die appellante opgelê word ter syde gestel en vervang met die
volgende:
Beskuldigde 1
word gevonnis tot 8 (agt) jaar gevangenisstraf.
Beskuldigde 2
word gevonnis tot gevangenisstraf kragtens die voorskrifte van art.
276(1)(i) van Wet 51 van 1977 vir ‘n periode
van 4 (vier) jaar.”
Die voormelde
vonnisse word terugdateer na 10 Februarie 2003.
_______________
HJ Lacock
REGTER
Ek
stem saam.
_______________
CJ Olivier
REGTER
Namens
appellant:
Adv
JJ Schreuder
Namens
respondent:
Adv
TE Barnard