About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 98
|
|
De Lange v Minister van Veiligheid en Sekuriteit en Andere (3580/1999) [2004] ZAFSHC 98 (29 October 2004)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 3580/1999
In die saak tussen:
L L E DE LANGE
Eiser
en
MINISTER VAN
VEILIGHEID
EN
SEKURITEIT
Eerste
Verweerder
NICO
SMIT
Tweeede Verweerder
A
C DU PREEZ
Derde
Verweerder
MINISTER
VAN JUSTISIE
Vierde
Verweerder
NASIONALE DIREKTEUR
VAN
OPENBARE
VERVOLGINGS
Vyfde
Verweerder
ANDRé
DU TOIT
Sesde
Verweerder
JOSEPH
F VAN WYK
Sewende
Verweerder
IZAK
J VAN DER MERWE
Agtste
Verweerder
VIERFONTEIN
ONTWIKKELINGSGROEP
Negende
Verweerder
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
KRUGER
R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
9,
10, 11, 12 September 2004; 12 Januarie 2004; 10, 11, 12 Augustus
2004; 6 Oktober 2004
_____________________________________________________
GELEWER OP:
29
OKTOBER 2004
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ân aksie
vir skadevergoeding weens kwaadwillige vervolging. By die aanvang
van die verrigtinge is
quantum
en meriete geskei ingevolge Reël 33(4) van die eenvormige hofreëls.
Hierdie uitspraak handel slegs met die meriete van eiser se
eis.
[2] Die
verweerders kan breedweg in drie kategorieë ingedeel word:
A.
DIE
POLISIE
2.1 Die Minister van
Veiligheid en Sekuriteit (Eerste Verweerder)
2.2 Inspekteur
Nico Smith (Tweede verweerder)
2.3 Inspekteur
A C du Preez (Derde Verweerder)
B.
DIE
VERVOLGINGSGESAG
2.4 Die Minister van
Justisie (Vierde Verweerder)
2.5 Die Nasionale
Direkteur van Openbare Vervolging
(Vyfde verweerder)
2.6 Advokaat A F du Toit
(Adjunk Direkteur van Openbare Vervolgings, Bloemfontein) (Sesde
verweerder)
C.
DIE
PLAASLIKE GEMEENSKAP TE VIERFONTEIN
2.7 Mnr J F van Wyk
(Voorsitter van die Vierfontein Ontwikkelingsgroep) (Sewende
verweerder)
2.8 Mnr I J van der Merwe
(Lid van die gemeenskap; daar was geen betekening op hom nie en die
saak het nie teen hom voortgegaan nie)
(Agtste verweerder)
2.9 Vierfontein
Ontwikkelingsgroep (Bestuursliggaam van
die ou koolmyn
Vierfontein) (Negende verweerder)
[3] Ná vier dae van die
verhoor is op 12 Januarie 2004 die eis teen die vierde, vyfde, sesde
en sewende verweerders teruggetrek.
Die saak het toe slegs teen die
eerste, tweede en derde verweerders (die polisie) voortgegaan.
[4] In sy besonderhede
van eis beweer die eiser dat die verweerders die regsproses
onregmatiglik en kwaadwilliglik teen hom in werking
gestel het. Die
eiser is op 6 Oktober 1998 in die streekhof, Kroonstad onskuldig
bevind en ontslaan op ân diefstal klagte. Hierdie
verrigtinge is
na aanleiding van daardie ontslag ingestel.
AGTERGROND
[5] Die eiser was
predikant in die N G Kerk Vierfontein van 1984 tot November 1996. In
1876 het Evkom opgehou om krag by Vierfontein
te produseer. Dit het
die koolmyn daar beïnvloed, produksie het verminder en mense het
weggetrek en die gemeente in Vierfontein-Noord
het begin leegloop.
Daar was ân dorpsuitleg van omtrent 96 huise, verder was daar
kampongs, werkswinkels, woonstelle en dies meer.
Die kerkraad het
toe die koolmyn, dorp en omgewing, bekend as Vierfontein-Noord gekoop
van Armcole maatskappy. Die kerk het toe
mense na Vierfontein-Noord
probeer lok, en huise in die dorp in die mark gesit. Die dorp is as
deeltitel geregistreer en die bestuursliggaam
daarvan was die
Vierfontein Ontwikkelingsgroep (die negende verweerder).
Buite die dorp was twee
kampongs, die Wes-kampong, ân baie ou kompleks en die Oos-kampong,
ân moderne kompleks. Die Wes-kampong
is relevant vir hierdie saak.
[6] Met die oorname van
die dorp deur die kerk, het die Wes-kampong leeg gestaan. Dit was
reeds in 1985/1986 ontruim. Daar was ân
stuk oop veld tussen die
kampong en die verbypad en dit het hom aan vandalisme en plundery
blootgestel. Sinkplate en ander toerusting
is helder oordag
weggedra. Die kampong was minstens 50 jaar oud, bouvallig, verroes
en vervalle.
[7] Die bestuurskomitee
het bekommerd begin raak oor die plundery, en op 27 April 1992
besluit dat die goedere verkoop word.
CHRONOLOGIE VAN
RELEVANTE GEBEURE
[8] Die
volgende gebeure en datums is relevant:
27 April 1992
Op hierdie datum is ân
vergadering gehou van die Vierfontein Bestuurskomitee. ân Klousule
van die notule van daardie vergadering
waarna telkens verwys is, was
klousule 6.10 wat soos volg lees:
â
H
Verster versoek dat kookpotte en inhoud van kampongs op tender
uitgesit word. Wes kampong â goedgekeur dat hulle verkoop word
teen beste prys verkrygbaar. Oos kampong â vergadering sal weer
besluit.â
Die diefstal klagte
waaroor dit in die relevante verrigtinge gegaan het, het betrekking
gehad op goedere van die Wes-kampong en die
eiser se saak was in ân
groot mate daarop gebaseer dat die notule van hierdie vergadering
bevestig dat goedere van die Wes-kampong
verkoop kon word teen die
beste pryse verkrygbaar. Sy saak is dat dit is wat hy gedoen het en
dat hierdie notule tot die beskikking
van die polisie en
vervolgingsgesag was en dat die instel van die vervolging dus nie
geregverdig was nie.
4 Junie 1994
Datum waarop
massastoompot, twee staaltafels en twee wasbakke uit die Wes-kampong
verwyder is en verkoop is aan mnr Vercueil vir R2
000,00. Eiser is
in die streekhof aangekla van diefstal van hierdie items en ontslaan.
9 Januarie 1996
Mnr Vercueil koop drie
dakwaaiers vir R1 091,00.
1 Julie 1996
Datum waarop klagte gelê
is by polisie deur mnr J F van Wyk, namens die Vierfontein
Ontwkkelingsgroep as eienaar. Daarin word gekla
oor die diefstal van
dakwaaiers, steenkoolstofies en vermeld dat die items in die omgewing
van R 8000,00 werd is (A1 in polisie dossier).
15 Julie 1996
Waarskuwingsverklaring
deur eiser. Hy het geen weergawe oor ân klagte gegee nie, maar
gekla oor sy behandeling deur tweede en derde
verweerders.
16 Julie 1996
Datum van verskyning in
hof te Vierfontein en arrestasie. Dit blyk uit die getuienis van die
tweede en derde verweerders dat eiser
slegs gearresteer is omdat dit
die prosedure was om hom deur die Hofboeke te sit en dat hy nooit
toegesluit was nie. Hy het by die
polisiebeamptes in die hof gesit.
Hy was dus wel onder arres, maar daar was geen vryheidsbeneming nie,
omdat hy in elk geval moes
wag vir sy saak om in die hof geroep te
word.
1 Augustus 1996
Verklaring van
ondersoekbeampte â tweede verweerder â na afhandeling van
ondersoek waarin die getuienis in die saak opgesom word
en waarop
eiser grootliks steun, vir sy eis teen die eerste, tweede en derde
verweerders. Eiser sê dat hierdie opsomming op plekke
feitelik
verkeerd is, en dat gelade woorde gebruik word.
16
Augustus 1996
Klagtes teen eiser
teruggetrek deur senior staatsaanklaer, Kroonstad.
20
Augustus 1996
Brief van die senior
staatsaanklaer, wat op versoek van die negende verweerder, haar redes
gee vir haar beslissing om die saak terug
te trek. Die brief beslaan
drie bladsye en volledige redes word deur me Tredoux gegee, wat ook
geroep was as getuie deur die verweerders.
23
September 1996
Mnr
Davids, die senior staatsaanklaer te Kroonstad, skryf ân brief aan
die Prokureur-generaal en vermeld dat die gemeenskap ontevrede
is en
dat die dossier aan die Prokureur-generaal voorgelê word vir
beslissing oor die vervolging.
27
September 1996
Advokaat
Landman, namens die Prokureur-generaal, rig ân navraag aan die
polisie waarin besonderhede gevra word i.v.m. sekere aspekte
van die
dossier.
24
Januarie 1997
Prokureurs Claassen en
Claassen, namens die Vierfontein Ontwikkelingsgroep â negende
verweerder â antwoord op die navrae van
die Prokureur-generaal.
Dit blyk dat die ondersoekbeampte, inspekteur Smith â die tweede
verweerder â daardie navraag deurgegee
het aan hulle ten einde dit
te kan beantwoord. Die prokureurs het hul antwoord direk aan die
Prokureur-generaal gestuur.
4
Maart 1997
Die ondersoekbeampte,
tweede verweerder, skryf ân antwoord op die navrae aan die
Prokureur-generaal wat hy self hanteer. Hy sluit
die brief soos volg
af:
â
Die dossier gaan hiermee. Hoop dat
die dokumentasie u goedkeuring wegdra en dat daar ân suksesvolle
vervolging ingestel kan word.â
14
April 1997
Die
Prokureur-generaal skryf aan die senior staatsaanklaer, Kroonstad en
gee opdrag dat die eiser vervolg moet word en gee besonderhede
van
die klagtes:
â
L L E de Lange moet egter in die
streekhof vervolg word weens diefstal van die massastoompot, die
staaltafels en die staalwasbakke.
Alternatiewelik tot hierdie
aanklag moet ân klag van diefstal van R2000,00 kontant gevoeg word.
Alhoewel die NG Kerk Vierfontein die
eienaar van die Wes-Kampong is, en eienaar van die meerderheid van
eenhede in die skema is, het
De Lange geen mandaat of magtiging gehad
om die vermelde items te verkoop nie.â
11
September 1997
Senior staatsaanklaer
Prinsloo skryf ân navraag aan die Prokureur-generaal en
bevraagteken die vervolging.
6
Oktober 1997
Die
Prokureur-generaal skryf ân brief aan die senior staatsaanklaer en
bevestig dat vervolging moet plaasvind op die basis wat in
die vorige
brief uiteengesit is.
6
Oktober 1998
Eiser
word aangekla in die streekhof te Kroonstad en ontslaan aan die einde
van staatsaak.
GETUIENIS
[9] Die eiser het getuig,
sy vrou, Dr de Villiers (wat ook op die bestuurskomitee was), Mnr
Vercuiel, eiser se swaer wat die items
wat die onderwerp van die
diefstalklagtes was, gekoop het, Mnr Nelson, wat oor die waarde van
ân nuwe stoomketel soos wat Vercuiel
gekoop het, getuig het.
[10] Namens verweerder
het tweede en derde verweerders getuig, sowel as Me Tredoux (wat
destyds geweier het om eiser te vervolg in
haar hoedanigheid as
senior staatsaanklaer) en Kpt Bruwer, wat in bevel van tweede en
derde verweerders te Vierfontein was.
[11] Die saak berus
grotendeels op ân beoordeling van tweede verweerder se optrede,
soos blyk uit sy verklarings en kruisondervraging.
PLEITSTUKKE EN
GESKIL
[12] Nadat eiser se eis
teen almal behalwe die eerste tot derde verweerders teruggetrek was,
was die enigste vraag of enige van daardie
verweerders aanspreeklik
is teenoor eiser, en spesifiek of die tweede verweerder, wat die
ondersoekbeampte was, meer gedoen het as
wat van hom verwag sou word
en of hy tot dien mate die vervolging bevorder het dat hy
aanspreeklik gehou sou word in ân aksie vir
kwaadwillige
vervolging.
[13] In die eiser se
besonderhede van eis word die volgende bewerings gemaak t.o.v. die
tweede en derde verweerders:
â
11.1 tweede
en/of derde verweerder het gedurende die periode vanaf ongeveer
4
Julie 1996 tot 6 Oktober 1998
en te die distrik VIERFONTEIN onder andere die volgende handelinge
verrig:
deur ân vals klagte van diefstal
teen eiser te lê;
deur ân vals beëdigde
verklaring in verband met die gemelde klagte af te lê te
VIERFONTEIN op of omtrent
1
Augustus 1996
;
deur vertoë
alternatiewelik
ân motivering aan vyfde en sesde verweerders te rig met die
doel om hulle te oorreed om voort te gaan met die vervolging
van
die eiser op gemelde klagte;
deur te versuim om inligting
waaroor hulle beskik, aan vyfde en sesde verweerder voor te lê
wat eiser se onskuld staaf;
deur te versuim om beëdigde
verklarings van getuies te neem wel wetende dat sodanige getuies
se getuienis sal aantoon dat
eiser onskuldig is met betrekking
tot die gemelde klagte;
deur persone te probeer oorreed en
druk op hulle uit te oefen om vals beëdigde verklarings af te lê
waarin eiser inkrimineer
word met betrekking tot die gemelde
klagte;
deur valslik aan getuies voor te
doen dat vyfde verweerder nie tevrede is met verklarings deur
hulle afgelê nie en sodanige
getuies te dreig met vervolging
indien hulle nie gewysigde verklarings sou aflê waarin eiser
inkrimineer word nie;
deur ân persoon te probeer
oorreed om ân vals beëdigde verklaring wat reeds vooraf
opgestel was, af te lê in stryd met
inligting aan hulle verskaf
en waarin eiser inkrimineer word;
deur vals inligting aan die
Staatsaankler KROONSTAD te verskaf en vals getuienis af te lê in
die Streekhof KROONSTAD op of
omtrent
4
Augustus 1998
;â
EISER SE GETUIENIS
[14] Eiser het getuig dat
kleiner items van dag tot dag verkoop is. Groter items is in die
wandelgange bespreek. Die prys is bepaal
deur die aanbod wat die
koper gemaak het. Die items wat verkoop is, was skroot, afvalyster.
Verskeie items in die Wes-kampong is
op ân deurlopende basis
verkoop. Verslag daarvan is nie in die notule gedoen nie, maar in
finansiële state.
[15] Mnr Nick Vercueil,
eiser se swaer, het ân aanbod van R2 000,00 gemaak vir ân
stoompot, wasbakke en staaltafels. Sy aanbod
is aanvaar en hy het op
4 Junie 1994 R2 000,00 by die dorpskantoor inbetaal waarvoor ân
kwitansie aan hom uitgereik is. Hierdie
verkoping was die onderwerp
van die diefstalklagte waarop eiser vervolg en ontslaan is op 6
Oktober 1998.
[16] Die aanvanklike
klagte gelê deur die klaers, Van der Merwe en Van Wyk (A1 en A2 in
die Polisiedossier) op 24 Junie 1996 en 1
Julie 1996 verwys na
dakwaaiers en steenkoolstofies wat in Januarie 1996 verwyder is (6
maande tevore).
[17] Vercueil het in
Januarie 1996 met ân tjek (R1 091,00) betaal, en in Junie 1994 R2
000,00 kontant. Inbetaling van die kontant
kon nie opgespoor word
nie, hoewel ân kwitansie uitgereik is. Gevolglik was daar ân
diefstalklagte ten opsigte van die 1994-items,
met ân alternatiewe
klagte van diefstal van R2 000,00.
[18] Me de Lange, die
eiser se vrou, het getuig oor die inbetaling van die R2 000,00
kontant. Sy het getuig dat omdat mnr Vercueil
voorheen ân huurder
was, het sy per abuis die R2 000,00 in die boeke ingeskryf onder
âHuurgeldâ. Daarom verskyn die R2 000,00
nie onder verkope nie.
Wat die bankdeposito betref, toon die deposito-strokie die onderskeie
tipes note wat gebruik is. Met haar
toeligting kon mens sien dat die
R2 000,00 deur Vercueil betaal, inderdaad in die bank inbetaal is.
[19] Die gebeure na die
instel van die hofverrigtinge teen eiser is van belang. Op 22 Julie
1996 (nadat die eiser op 16 Julie 1996
in die hof te Vierfontein
verskyn het) vergader die bestuurskomitee, en die volgende word
genotuleer:
â
6.7 Hofsaak
en hofkostes. Ds. De Lange vestig die aandag op die bestuursreëls
bladsy 6.12.1 (dit is van die deeltitel se bestuursreëls)
na
aanleiding van ân saak wat teen hom geopen is. Hy stel dit dat hy
die uitvoering gegee het aan ân besluit van die Raad soos
genotuleer. Dit was nie ân
mala
fide
handeling wat in sy
persoonlike hoedanigheid uitgevoer is nie. Dr. De Villiers sê dat
ons almal as Raad betrokke is by die saak.
Die vergadering is
eenstemmig. Toppie van der Linde voeg by dat ds. De Lange net nie 20
advokate moet kry nie. Toppie van der
Linde wil in sy persoonlike
hoedanigheid graag ân regsopinie kry en het 48 uur tyd om dit te
doen.â
[20] Eiser getuig dat Van
Wyk, die sewende verweerder, wat die klagte by die polisie teen hom
gelê het, eers in November 1996 ân
trustee van die beheerliggaam
geword het. Van Wyk kla oor items wat na bewering in Januarie 1996
gesteel is, lank voordat Van Wyk
ân trustee geword het.
[21] Aan die einde van
1996 is die eiser saam met ander lede uitgestem en vervang deur ân
nuwe bestuurskomitee.
[22] Eiser is deur
Advokaat van Rhyn gevra of daar enigiemand was wat hom te na gekom
het. Daarop het hy geantwoord dat die groep
van ses hom te na gekom
het, maar dit is baie moeilik om dit in ân Hof te bewys. Hy het
gesê die groep van ses bestaan uit:
1. Mnr Toppie van der Linde; 2.
Mnr Oosthuizen; 3. Mnr Izak Nothling; 4. Mnr Coetzee; 5. Mnr Tienie
Britz. Hy kon nie die sesde
persoon se naam onthou nie. Hy het gesê
hulle is ook die ses persone wat na die Ring van die N G Kerk gegaan
het en ân klag teen
hom by die Ring gelê het. Die eiser is gevra
of die groep van ses ân vendetta teen hom gevoer het waarop hy gesê
het: âJa
tot ân mateâ. Daardie groep van ses het persoonlik
kontak gemaak met die Ringskommissie, maar die eiser het gesê dit
was moeilik
om te bewys dat hulle die Ringskommissie beïnvloed het.
Hy sê die groep van ses het mnr Van der Merwe gebruik om die
strafsaak
teen hom te voer.
Die eiser is ook ondervra
oor sy onderhoud toe sy waarskuwingsverklaring geneem is deur
konstabel Smith. Hy sê dat dit ân lang
ondervraging was. Hy sê
hy is nie van die klagtes meegedeel nie en hy sê dat hy ongelukkig
was en gebelgd gevoel het soos geblyk
het uit verskeie inskrywings
wat hy op daardie verklaring gemaak het. Hy sê die derde
verweerder, adjudant Du Preez, was saam met
Smith teenwoordig en dit
was ân seun wat hy gekatkiseer het. Hy het die gevoel gekry dat
hulle hom wil benadeel.
[23] In
kruisondervraging, namens die vervolgingsgesag, is die volgende aan
hom gestel:
â
Verstaan
u dat die Prokureur-generaal handel op inligting voor hulle?â
waarop hy geantwoord het: âEk het dit nie tot vandag toe
geweet
nieâ.
[24] In kruisondervraging
namens die sewende verweerder, deur Advokaat Horn, is eiser gevra hoe
die sewende verweerder regsproses
misbruik het, maar hy kon nie ân
direkte antwoord gee nie. Hy sê dit dui op ân kringloop van Van
Wyk na die bestuurskomitee
om die saak te bevorder. Hulle was ân
party tot die vervolging, het hy getuig. Dit is aan hom gestel dat
die eintlike klaer teen
hom die komitee (negende verweerder) was
waarop die eiser geantwoord het dat hy nie weet nie.
[25] Advokaat S Reinders,
namens negende verweerder, het aan eiser gestel dat die uiteindelike
klagte wat teen die eiser gevoer is,
nie een was ten opsigte waarvan
die klagte deur die negende verweerder gelê was nie en het gesê om
daardie rede kon die negende
verweerder nie aanspreeklik gehou word
nie. Die hele regsprosedure moet as een geheel gesien word en die
identiteit van die besondere
klagtes waarop die eiser moes
teregstaan, is nie van soveel belang nie. Die vervolging is begin en
daar is stappe daaroor gedoen.
Hoe die werklike klagtes op die einde
geformuleer word, is nie voorsienbaar aan die begin nie. Die punt is
dat die proses begin
word en die res vloei daaruit voort. Hierdie
aspek het ook nie verdere aandag geniet in die verrigtinge nie, veral
ook natuurlik
omdat die negende verweerder ook uit die prentjie
verdwyn het.
DR DE VILLIERS
[26] Dr de Villiers het
getuig dat tweede en derde verweerders hom gedurende Junie 1996
besoek het. Tweede verweerder het ân vooraf-voltooide
verklaring
gehad wat hy gevra het Dr de Villiers moet teken. De Villiers het
geweier omdat die inhoud daarvan nie korrek was nie.
Hy is nooit
later deur die polisie gevra om ân verklaring te maak nie. Hy het
nie geweier om ân verklaring te maak nie, hy
het net geweier om die
vooraf-voorbereide verklaring te teken omdat die feite daarin nie
korrek was nie.
[27] Dr de Villiers was
ân goeie getuie. Hy het op ân nugter en objektiewe wyse sy
relaas gegee. Hy het geen geheim daarvan
gemaak dat hy die eiser
goedgesind was nie. Hy het duidelik kennis van die werking van die
korporatiewe wêreld. Vandaar sy besorgdheid
oor moontlike
aanspreeklikheid van al die lede van die bestuurskomitee soos wat
blyk uit die resolusie van 22 Julie 1996. Ek het
geen huiwering om
sy weergawe oor die besoek van tweede en derde verweerders aan hom,
te aanvaar bo hulle weergawe nie. Ek bevind
dat tweede verweerder
inderdaad ân vooraf opgestelde verklaring aan De Villiers voorgelê
het en hom versoek het om dit te teken.
Smith se getuienis dat hy
nie eers weet of hy die polisiedossier by hom gehad het nie, vind ek
uiters onwaarskynlik en verwerp dit.
DIE
ONDERSOEKBEAMPTE SE VERKLARING
[28] Die belangrikste
bewerings teen die eerste tot derde verweerders spruit uit die
ondersoekbeampte se verklaring wat hy gemaak
het op 1 Augustus 1996
by die voltooiing van sy ondersoek. Onder meer maak hy die volgende
uitlatings en ek verwys hier spesifiek
na die gedeeltes wat mnr
Danzfuss sê daarop dui dat die tweede verweerder meer gedoen het as
om die feite objektief voor te lê:
â
Ek het verskillende / verskeie
verklarings geneem van persone, wat beweer dat hulle ân ene Mnr de
Lange en sy seun, op verskeie
geleenthede betrap het waar, hulle
eiendom wat aan Vierfontein Deeltitel behoort verwyder het, met die
verskoning dat Mnr de Lange,
die predikant van die dorp en lid van
die Trustees (Deeltitel) is.â
â
My ondersoek het my na Volksrust
dorp geneem, waar ek ân ene Mnr N.J. Vercuiel by sy slaghuis
opgespoor het. Ek het die persoon
volgens die regte voorskrifte
gewaarsku, dat ek ondersoek doen na beweerde klagte van diefstal
en/of bedrog, waarop hy my na die
items geneem het, wat hy vanaf die
predikant gekoop het, nadat hy saam met die predikant Ds. De Lange
die goedere verwyder het, op
1996-01-29. Ek het die artikels waarvan
die getuies in hulle verklarings melding maak gesien, wat behels het
die volgende (1) 3
x âextractor fansâ met âcanopysâ, (2): 1
x massastoompot (3 kompartemente). Mnr Vercuiel het
dienooreenkomstig ân verklaring
aan my afgelê, waarin hy erken dat
hy bogenoemde items by Ds. de Lange gekoop het en hy het ook van 2 x
stainless steel tafels en
2 x wasbakke melding gemaak. Mnr Vercuiel
het aan my ân kwitansie gegee, met datum 1994-06-04 no 3544 en ân
tjekteenblad gedateer
1996-01-29. Die bedrag ter sprake op die
kwitansie is R2000-00 kontant vir die 1 X massastoompot, 2 x
staaltafels en 2 staalwasbakke.
Op die tjekteenblad, word duidelik
uitgespel dat R1091-00 betaal is vir waaiers vir sy fabriek. Op die
kwitansie word slegs van
toerusting melding gemaak en die items word
nie gespesifiseer nie.â
â
Ek het aan Mnr. De Villiers genoem,
dat in die notules van April 1994, daar wel sprake gemaak is van
herwinning by die Wes-Kampong,
waarop hy geantwoord het dat dit die
besluit was van die Trustees, om die items te verkoop. (Aangeheg
sien bl 383 HAT Woordeboek
â herwin A 44). My submissie is dat die
Voorsitter van die Ontwikkelingsgroep â Deeltitel, die aksie waar
die items deur Ds.
De Lange, sonder toestemming verkoop is probeer
regstel deur verskeie afleidings te maak. Voorts is my submissie dan
ook dat, die
feit dat daar tweespalk in die geledere van die Trustees
is, verdag voorkom. In die Beeld Koerant, het ds. de Lange ruiterlik
erken,
dat Vierfontein-Noord ân Volkstaat is. (Sien A52) Dit is
dan ook een van die redes, hoekom daar tweespalk in die geledere van
die Trustees, asook inwoners van die dorp is. Sekere lede van die
Trustees, asook inwoners van die dorp, distansieër hulle dan
ook van
die uitlatings. By my as ondersoekbeampte ontstaan die vraag: âWie
of wat is dan die oorsaak van die tweespalk in die
geledere van die
Trustees, asook inwoners van die dorp?â
â
Ek
het die Inkomste en Uitgawe state bekom, van die datum waarop die
kwitansie met no 3544 vir R2000-00 kontant uitgemaak is. Die
R2000-00 in kontant, is nie inbetaal op albei state van Junie en
Julie 1994 nie en tog is daar ân kwitansie uitgereik.â
â
In
Mnr. Van der Merwe se verklaring, maak hy melding dat hy ân Mnr P.
de Lange, die predikant se seun gesien het, terwyl hy die
steenkoolstofies verwyder het. Toe Mnr. Van der Merwe hom
konfronteer, het Mnr. De Lange gesê, dat sy pa toestemming gegee het
tot die verwydering van die stofies. Weereens, word daar glad nie
melding gemaak, op enige notule, waar toestemming verleen is tot
die
neem en verkoop van die stofies nie. Ek moet voorts noem, dat mnr
Vercueil die predikant, Ds. de Lange se swaer is. Dit wil
vir my
blyk, of daar ân besluit geneem is wat nie genotuleer is nie, vir
persoonlike gewin. Met ander woorde, die ds. het nie
Bona Vide
opgetree nie, want dit blyk dat hy Mnr. Vercueil, sy swaer wil
bevoordeel deur die transaksie.â
â
Volgens Mnr. De Villiers, word die
meeste items wat verkoop word, se prys gedeel deur 2, om die prys van
die item te bepaal. Die
besluit kom duidelik na vore, in die notule
van Augustus 1995, waar die verkoopprys die helfte van die
oorspronklike prys is. Nou
ontstaan die vraag? Waarom 3x âextractor
fansâ, 1x massastoompot, 2x tafels en 2x wasbakke verkoop vir
R3091-00 waar die vervangingswaarde
R45000-00 beloop. Dit is dan
beleid volgens die notules, dat die verkoopprys die helfte van die
oorspronklike koopprys moet wees.â
â
Alle verklarings wat afgelê is
deur die Trustee-lede, sê uitdruklik dat daar geen besluit geneem
word op grond van beginsel nie,
met ander woorde, daar bestaan geen
mandaat by die Trustee om slegs items te verkoop na willekeur, sonder
dat daar toestemming verleen
is.â
â
Ds. De Lange is wel ân Trustee en
die predikant van die kerk, maar hy opsigself het geen volmag om
bates wat aan die Regspersoon
behoort te verkoop, sonder die
toestemming van die Trustees nie. Voorbeeld : ân Stasiekommissaris
in die SAPD kan nie na willekeur
bates wat aan die Staat behoort
verkoop en nadat die transaksie voltooi is, die geld aan die Staat
teruggee en aan die Staat ân
verduideliking aanbied, dat hy as
Stasiekommissaris volmag het oor bates op sy perseel en hy alleenlik
kan toestemming gee tot vervreemding.
Toestemming vanaf hoër gesag
tydens ân vergadering, waar so ân voorstel gesekondeer is, is
noodsaaklik indien bates behorende
aan die Staat verkoop word (Verwys
na Staatsveilings). Die predikant, ds. De Lange, word deur die
gemeente aangestel. Die Kerkraad
stel dan immers die leraar aan om
hul belange te beskerm, veral ten tye van vergaderings gehou deur die
Trustees. Nêrens in die
Bestuursreëls Vierfontein Ontwikkelings
Groep word daar melding gemaak dat ds. de Lange volmag het om sekere
van die bates behorende
aan Vierfontein Deeltitel te vervreem nie.
Die notules is duidelik ten opsigte van die bewoning van die
Wes-Kampong. Op verskeie
stadiums in die notules is daar selfs
sprake gemaak van huur wat gehef is van persone wat woonagtig is by
die Wes-Kampong. (Sien
A 8 punt 6.3 asook A 18 punt 3.1) Die
notules is baie duidelik dat daar uitdruklik melding gemaak word van
OF die herwinning OF
die stoor van items by die Wes-Kampong.â
â
Op 1996-07-15 om 13:00 het ds
L.L.E. de Lange my kom sien by die Polisiestasie te Vierfontein, waar
ek die klagtes aan hom gestel
het. Ek het voorts ook die bedrag ter
sprake aan hom bekend gemaak en hy het aan my gesê dat dit belaglik
is om die prys in terme
van vervangingswaarde neer te lê. Dit wil
vir my voorkom asof die predikant dubbele standaarde handhaaf, want
die Bestuursreëls
Vierfontein Ontwikkelings Groep sê duidelik dat
alle geboue wat aan die gemeenskaplike eiendom behoort verseker moet
word vir die
volle vervangingswaarde van die eiendom (sien A 42
Bestuursreëls Vierfontein Ontwikkelings Groep punt 17.1). Ek het
ds. de Lange
gewaarsku in terme van artikel 25 van die Grondwet: Wet
200/1993 dat hy die reg het om met ân Regspraktisyn van sy keuse te
konsulteer
en indien hy dit nie kan bekostig nie hy wel aansoek kan
doen vir die aanstelling van ân Regspraktisyn op Staatskostes. Die
beskuldigde
het sy vrye keuse uitgeoefen en dienooreenkomstig sy seun
tans ân prokureur geskakel in my teenwoordigheid. Die Ds. het
homself
soos ân krimineel gedra. Hy het op ân stadium ân brief
vir my gegooi soveel so dat ek aan hom gesê het dat ek nie ân dier
is nie vir wie hy goed kan gooi nie. Hy het vir my en Insp. Du Preez
beskuldig dat dit ons skuld is en dat daar tweespalk in die
dorp is.
Ek het aan hom verduidelik dat ek slegs my werk doen en dat ek
verantwoording doen aan hoër gesag. Voorts moet ek verklaar
dat die
ds. reeds ân verdagte is in ân saak van Crimen Injuria waar die
klaer obsene briewe ontvang het. (Sien A53 MR 35/02/96).
Dit is
weereens ân onomstootlike feit dat daar slegs een persoon
verantwoordelik is vir die skeuring in die dorp Vierfontein.
Die ds.
is op ân menswaardige wyse behandel en ek het hom mondelings
gewaarsku om op 1996-07-16 om 09:00 die hofverrigtinge te
Vierfontein
by te woon. Op 1996-07-16 het ek die beskuldigde ds. L.L.E. de Lange
gearresteer op klagtes van diefstal en bedrog.
Insp. A.C. du Preez
was die heeltyd tydens die ondersoek teenwoordig behalwe te
Volksrust. My beskeie submissie is dat die beskuldigde
Mnr L.L.E. de
Lange onregmatig opgetree het om die items genoem in A 38 te verkoop
het sonder die toestemming van die Raad van Trustees
waar hy in ân
vertrouenswaardige posisie gestaan het teenoor die inwoners van die
Vierfontein-Noord Deeltitel en dat hy hierdie
situasie uitgebuit het
en sodoende sy swaer Mnr N.J. Vercuiel bevoordeel het om die items
teen ân belaglike bedrag aan te koop.
Hierdie saak is bo redelike
twyfel DIEFSTAL omrede die items wederegtelik en opsetlik verwyder is
om homself en of ân lid van
sy familie te bevoordeel ten spyte
daarvan dat die eiendom nie aan hom behoort het nie maar wel aan die
Vierfontein Bestuurskomitee.â
DIE GETUIENIS VAN
DIE TWEEDE VERWEERDER
[29] In kruisondervraging
sê Inspekteur Smith onder meer, gevra wat hy doen as hy die
ondersoek voltooi het: âEk oordeel nie, ek
laat die
Prokureur-generaal besluitâ. Toe hy gevra is of hy in sy gemoed
besluit of die persoon skuldig is sê hy: âOns moet
objektief
oordeelâ. Hy sê wel ân bietjie later dat hy as ondersoekbeampte
die gevolgtrekking maak of hier ân
prima
facie
saak is of nie, hoewel hy nie daardie woorde gebruik nie.
[30] Wat betref Dr De
Villiers sê hy dat na 10 Julie 1996 hy nooit weer teruggegaan het na
De Villiers nie. Smith se houding was
dat dr De Villiers daardie dag
aangedui het dat hy nie ân verklaring wil maak nie en selfs nadat
die Prokureur-generaal die opdrag
gegee het dat ân verklaring by De
Villiers gekry moet word het hy nie teruggegaan om dit te doen nie.
[31] Die verloop van die
ondersoek word aan Smith gestel naamlik dat die eerste stap was op 24
Junie 1996 waar Van der Merwe ân
verklaring maak. Dit het gegaan
oor die eiser se seun se verwydering van die stofies, iets wat 5 tot
6 maande vroeër gebeur het.
Dit is aan hom gestel dat Van der Merwe
gevoel het hy is aanspreeklik gehou en na aanleiding daarvan was daar
toe ân ondersoek
gewees. (Dit is belangrik om hier daarop te let
dat die kwessie van die stofies nie deel gevorm het van die aanklag
wat uiteindelik
teen mnr De Lange gelê is nie.)
[32] Die volgende stap
was Van Wyk se verklaring op 1 Julie 1996. Uit die getuienis blyk
dat Van Wyk, wat later voorsitter van die
Vierfontein
Ontwikkelingsgroep Bestuurskomitee geword het, eintlik die persoon
was wat die vervolging gedryf het. Die tweede verweerder
het getuig
dat Van Wyk hom voortdurend gebel het, ook in die nag, en navraag
gedoen het oor hoe die ondersoek vorder. Wat betref
die items wat
Vercueil verwyder het, word dit aan tweede verweerder gestel dat dit
hier iets betref het wat al op 4 Julie 1994 gebeur
het, maar tog word
op 29 Januarie 1996 daarna verwys. Smith antwoord dat hy nie oplet
na die datums nie en nie gemerk het dat daar
iets verkeerd is nie.
Later erken hy, âek sien iets is foutâ. Dit word aan hom gestel
dat Pieterse en Schoeman (wat ook verklarings
gemaak het dat eiser
nie toestemming gehad het om die items te verkoop nie) eers later
daar kom woon het waarop hy antwoord: âDit
kan wees.â Hy
antwoord ook dat hy merk dat daar fout moet wees ten opsigte van die
kwitansies, en dit blyk dat ân betaling gemaak
moes gewees het.
[33] Wat betref die
notule van 27 April 1992 sê hy dat dit vir hom, toe hy sy ondersoek
begin het, half onmoontlik sou wees om daardie
notule in die
dorpskantoor te kry. Hy sê die notule van 27 April 1992 sou sy
houding verander het en dan sou hy nie die eiser aangekla
het nie.
Net ân rukkie later sê hy in kruisondervraging: âEk voel nie
hierdie notule strook met wat almal gesê het nie.â
Verder sê hy:
âDit hang nie van my af of die saak voortgaan of nie dit hang van
baie rolspelers af of die saak voortgaan of
nieâ.
[34] Dit word aan hom
gestel dat Van der Linde, Van den Heever en Nothling wat verklarings
gemaak het A35, A36 en A37 by die vergadering
op 27 April 1992
teenwoordig was, en tog sê hulle dat daar geen sodanige besluit was
op vergaderings wat hulle bygewoon het nie.
Hierop sê Smith dat dit
vir hom snaaks was en dat daar iewerste ân groot fout was. Later
word dit aan hom gestel met verwysing
na sy verklaring van 1 Augustus
1996 dat ân ondersoekbeampte nie moet probeer om ân besluit om te
vervolg te bewerkstellig nie
waarop hy sê âân ondersoekbeampte
het glad nie ân invloed op wat die Prokureur-generaal besluit nieâ.
[35] Met verwysing na sy
eie verklaring, gedateer 1 Augustus 1996 word dit aan hom gestel dat
dit ân betoog was. Smith sê hy
het die feite weergegee. Dit
word aan hom gestel dat hy gelade woorde gebruik het bv. soos
âbetrapâ, en âruiterlikâ en derglike.
Wat betref die
âruiterlike erkenningâ oor die artikel erken hy dat die eiser se
naam nie eers in die berig waarop hy sy bewering
grond, verskyn nie.
[36] Smith sê dat hy
eendag by die dorpskantoor was maar die algemene atmosfeer was nie
baie wonderlik nie. Toe hy verder daaroor
gevra word sê hy dat die
inkomste en uitgawe state nie die betaling getoon het nie. Die feit
is egter dat hy nooit ân deposito
boek gekry het om te kyk of die
betaling gemaak is nie. (Dit is ook natuurlik ân feit dat die
eiser self nie daardie deposito
boek beskikbaar gestel het of
verduidelik het hoe die deposito plaasgevind het nie. Die vraag is
in hoe ân mate die eiser dit
moes gedoen het en in hoe verre die
eiser geweet het dat dit ân probleem is wat die Prokureur-generaal
ervaar want dit blyk uit
die brief waarop die Prokureur-generaal
besluit om te vervolg dat daar onduidelikheid was oor die verkoping).
[37] Met betrekking tot
die resolusie van 4 April 1994 betreffende stoompotte word dit aan
hom gestel dat hy sê dat die eiser hierdie
resolusie oortree het ân
jaar voordat dit gemaak is. Smith antwoord dat hy dink hierdie basis
was ter bevestiging van ân bestaande
praktyk. Hy sê die latere
notules toon nie ân basis vir enige verandering nie. Hy sê met
verwysing na die beleid dat hy ander
notules nagegaan het en dit toon
dat die verkoopprys helfte van die oorspronklike prys moet wees.
Later word dit aan hom gestel
dat dit nie in die notules is nie en
dan sê hy, hy weet nie. Met verwysing na mnr Van der Merwe se
polisieverklaring erken hy dat
Van der Merwe nie sê dat daar nie ân
beginselbesluit was nie. Met verwysing na die feit dat hy sê dat
niemand weet van ân
beginselbesluit nie sê hy dat hy nie moes gesê
het âalleâ persone nie. Dit word aan hom gestel dat dit is ân
geval waar
hy oorbeklemtoon maar hy ontken dit.
[38] Hy word gevra wat
versekering van die geboue te doen het met hierdie klagtes en hy gee
daarop nie ân sinvolle antwoord nie.
[39] Met verwysing na
waarom hy sê dat die dominee hom soos ân krimineel gedra het sê
hy dit was die hele ondersoek wat hy weergee.
Met verwysing na die
âonomstootlike feitâ, waarna hy in sy verklaring verwys
betreffende die skeuring in die Vierfontein gemeenskap,
sê hy dat
dit nie negatiewe kommentaar is nie.
[40] Wat die
crimen
iniuria
klagte teen eiser betref waarvan die tweede verweerder ook in sy
verklaring melding maak erken hy dat hy nie genoem het dat
proefhandtekeninge
van die hele dorp bekom is nie.
[41] Wat betref Dr. de
Villiers, sê hy dat hy inderdaad nie ân verdere verklaring probeer
kry het nie, maar volstaan het met wat
hy gedoen het. Hy het
eenvoudig aanvaar dat dr De Villiers nie ân verdere verklaring wou
maak nie.
DU PREEZ (DERDE
VERWEERDER)
[42] Du Preez sê oor De
Villiers:
â
Ek onthou nie of hy spesifiek gesê
het hy gaan nie ân verklaring aflê nie.â
Du Preez kan ook baie min
onthou en weet nie wat alles in die dossier was op daardie stadium
nie.
Oor die kwessie van
arrestasie sê Du Preez dat hy nie weet of dit nodig was om die eiser
te arresteer nie.
[43] Du Preez was ân
swak getuie wat swakker geword het hoe meer hy gekruisondervra is.
Sy geheue het ook swakker en swakker geword.
Sy getuienis is vrywel
waardeloos. Hy het òf net tyd verkwis deur oral saam met die
ondersoekbeampte te gaan (konstabel Smith),
òf hy is oneerlik.
DIE REGSBEGINSELS
BY KWAADWILLIGE VERVOLGING
[44] Ten einde met ân
aksie op grond van kwaadwillige vervolging te kan slaag, word die
volgende vereis:
1. Die verweerder moet
die vervolging aangestig het.
2. Die verweerder moet
sonder redelike gronde (âreasonable and probable causeâ)
opgetree het.
3. Die verweerder moet
animo
iniuriandi
(met
âmaliceâ) gehandel het.
4. Die
vervolging moet misluk het.
Sien Neethling Potgieter
en Visser,
Deliktereg
Vierde Uitgawe bladsy 377 bo-aan. Die geleerde skrywers sê dat die
vraag of daar redelike gronde bestaan aldan nie, kan slegs met
verwysing na die feite van elke besondere geval geantwoord word. Die
subjektiewe geloof van die verweerder in die skuld van die
eiser, is
ân noodsaaklike element vir die bestaan van redelike gronde.
(Bladsy 378).
REGSPRAAK
[45] In
HOOPER
v MOORE AND VARTY
1921 NPD 96
sê
die hof op bladsy 108:
â
But,
of course, it is not enough that he was imprudent and indiscreet. He
must have been actuated by some motive which cannot be
regarded as a
proper one for the institution of legal proceedings which have proved
to be quite unwarranted, and resulting in damage,
as for the present
we are assuming that they did to the person against whom they were
instituted.â
[46] Die feite in
Hooper
se saak
is soortgelyk aan die huidige, waar Van Wyk baie gedetermineerd was
om die aksie teen die eiser te voer en hy het voortdurend
daaroor
navrae gerig en die tweede verweerder eintlik verpes, ook in die nag,
om navraag te doen oor die vordering met die ondersoek.
Die vraag is
egter of die tweede verweerder sodanig opgetree het, dat gesê kan
word hy die aksie inderdaad ingestel het. Mens
weet dat daar nog
verdere persone was wat by die besluitnemingsproses betrokke was en
in besonder die Prokureur-generaal. Die vraag
is of die tweede
verweerder die feite sodanig verdraai het of leuens vertel het dat
dit die Prokureur-generaal se besluit dermate
beïnvloed het dat gesê
kan word dat as dit nie was vir die optrede van die tweede
verweerder, die Prokureur-generaal desnieteenstaande
sou besluit het
om te vervolg. Dit is duidelik dat die tweede verweerder in hierdie
saak nie die reg gehad het om te besluit of
die eiser vervolg sou
word nie. Hy het as polisiebeampte opgetree en ân verslag in groot
besonderhede opgestel, maar of dit werklik
gelei het tot die
vervolging is ân ander vraag.
[47] In
LEDERMAN
v MOHARAL INVESTMENTS (PTY) LTD
1969 (1) SA 190
(A) op 198
was
daar vals inligting voor die polisie geplaas, naamlik kunsmatig
verhoogde pryse. In daardie geval het die Hof
a
quo
nie
gevind dat die persoon wat vals inligting gegee het die vervolging
aangewakker het nie. Die Hof het bevind dat hy ân onbetroubare
getuie was en dat sy gedrag aanleiding gegee het tot ernstige
suspisie, maar nietemin was dit nie genoeg om op ân oorwig van
waarskynlikhede
aan te dui dat hy aanspreeklik was op die eis nie.
Weereens is die feite soortgelyk aan hierdie. Inspekteur Smith het
verkeerde
feite voor die Prokureur-generaal geplaas. Die vraag bly
egter steeds of daardie feite verantwoordelik was vir die instel van
die
vervolging en of die plaas van daardie feite sodanig was dat dit
aangemerk kan word as ân kwaadwillige vervolging.
[48] In
PRINSLOO
AND ANOTHER V NEWMAN
1975 (1) SA 481
(A)
het die verhoorhof ses gronde gevind waarom die polisiebeampte
aanspreeklik gehou moes word: (i) Die polisiebeampte het die
beweerde
klagte ondersoek sonder dat enigiemand ân klagte gelê
het. (ii) Hy het ân vertroulike opinie op ân onbehoorlike wyse
verkry
van ân werknemer van die betrokke maatskappy. (iii) Hy het
âas klaerâ die klagte gelê. (iv) Hoewel hy geweet het die
klagtes
is dun, het hy arrestasielasbriewe uitgeskryf. (v) Hy het
onreëlmatig opgetree toe hy eiser om ân afskrif van sy
dienskontrak
versoek het. (vi) Toe hy die saak met die aanklaers
bespreek het, het hy sy mening oor die saak gelug. Die Appèlhof
vind dat al
daardie gronde nie op kwaadwilligheid dui nie.
[49] Dit is belangrik om
daarop te let dat dit nie die plig van die aanklaer is om vas te stel
of daar ân verweer is nie, maar dit
is die vraag of daar redelike
vooruitsigte is vir ân vervolging: (
VAN
DER MERWE v STRYDOM
1967 (3) SA 460
(A) op 468 G â H)
.
Waar
slegs bewys word dat die verweerder kennis gehad het dat eiser
voorgee dat hy ân goeie verweer het, kan die verweerder nogtans
redelikerwys besluit dat die eiser ân misdryf gepleeg het, omdat
die verweerder byvoorbeeld oortuig is dat die verweer nie goed
is nie
of selfs omdat hy onseker is daaroor (
468
C â G)
.
Dan
kan dit juis die rede wees om die vervolging in te stel, naamlik om
sekerheid te verleng.
[50] In
Van
der Merwe
se saak het geblyk dat die verweerder se verduideliking op
oneerlikheid dui (
loc
cit
).
Dus het die verhoorhof bevind dat nie bewys is dat die verweerder nie
redelikerwys kon besluit dat eiser waarskynlik diefstal
gepleeg het.
Dus: Verweerder kon redelikerwys besluit dat eiser diefstal gepleeg
het. Sien
LANDMAN
AND OTHERS v MINISTER OF POLICE
1975 (2) SA 155
(OK) op 156 A â B.
[51] Kritiek wat teen die
tweede verweerder geopper is, is dat hy nie ân verklaring van dr De
Villiers bekom het nie. Soos wat
mnr Van Rhyn betoog het, was die
weergawe van dr De Villiers reeds van die begin af voor die polisie
en die vervolgingsgesag. Die
Prokureur-generaal was bewus daarvan dat
daar sekere mense was wat gemeen het dat die eiser wel rede gehad het
om die goedere te
verkoop en dit is ân kwessie van interpretasie
van die notule van 27 April 1992. Die Prokureur-generaal se
interpretasie van daardie
notule was dat dit nie toestemming verleen
vir verkoop nie. ân Ander interpretasie sou wees dié van die
eiser en van De Villiers
dat dit wel sodanige toestemming daargestel
het. Die Strafhof het moontlik ook daardie siening ingeneem in die
ontslag van die eiser
by die vervolging wat in die streekhof in
Kroonstad ingestel was.
[52] Die belangrikste
verkeerde feite wat moontlik deur die tweede verweerder voor die
vervolgingsowerheid die Prokureur-generaal
gestel is, was die
onrealistiese waardes wat gegee is aan die items en die feit of daar
bewyse was dat gelde ontvang is. Die boeke
is maar ietwat deurmekaar
en ân mens sou van die eiser verwag het dat hy mooi sou verduidelik
het hoe daardie gelde betaal is.
Indien die eiser volledig
verduidelik het hoe die betaling en die inbetaling in die boeke
weergegee is, sou die saak moontlik ân
ander wending geneem het.
Me de Lange, eiser se vrou, wat die sekretaresse was wat die
inskrywings in die boeke gedoen het, het
verduidelik hoe die kontant
depositos gedoen is, met verwysing na die depositostrokie. Sy het
ook verduidelik dat sy die R2 000,00
onder ân verkeerde hofie
(âHuurâ) ingevul het, vandaar dat dit nie die verkoping gestaaf
het nie. Sonder haar toeligting,
is dit moeilik om die boeke te
verstaan, veral omdat die R2 000,00 onder huurinkomste getoon word en
die bankdeposito ân gekombineerde
deposito is van Vercueil se geld
en ander kontant. Mens kan kwalik sê dat die Prokureur-generaal (Me
Landman) en die tweede verweerder
opsetlik die deposito misgekyk het
â dit was moeilik na te speur.
SLOT
[53] Die bewoording van
paragraaf 6.10 van die notule van 27 April 1992 het tot verskeie
interpretasies gelei. So sê Advokaat Landman
byvoorbeeld in haar
brief gedateer 6 Oktober 1997 onder meer:
â
Wat punt 2 van die staatsaanklaer
se vertoë betref, stem ek saam met die staatsaanklaer dat die notule
aantoon dat daar ân besluit
geneem is om die items op tender uit te
sit. Dit het egter nog geensins aan De Lange enige bevoegdheid of
mag verleen om op enige
wyse daarmee te handel nie. Die eienaarskap
van die items ter sprake het gesetel in die NG Kerk Vierfontein. ân
Verdere aspek
is dat hierdie artikels vir belaglike pryse verkoop
is.â
[54] Vir my is dit
duidelik, soos die eiser ook getuig het, dat daar ân voorstel deur
mnr Verster was om die goed op tender uit
te sit, maar dat die
besluit was dat die Wes-kampong se goed (waaroor dit hier gaan)
verkoop word teen die beste pryse verkrygbaar.
As die
Prokureur-generaal paragraaf 6.10 ook so geïnterpreteer het, sou
hier waarskynlik geen vervolging ingestel gewees het nie.
[55] Die persone wat
hierdie vervolging gedruk het, was die bestuurskomitee (negende
verweerder) onder leiding van Van Wyk (sewende
verweerder) wat dan
ook druk geplaas het op die polisie, die aanklaer en spesifiek die
Prokureur-generaal. Die Prokureur-generaal
het besef dat hierdie ân
kontensieuse aangeleentheid is en in sodanige geval neem die
Prokureur-generaal dikwels die houding in
dat die Hof moet besluit.
Mens moet aanvaar dat die Prokureur-generaal in goeie trou opgetree
het. Mens moet aanvaar dat hier ân
vervolging ingestel was omdat
die vervolgingsowerhede gemeen het dat dit wel geregverdig is.
[56] Twee ander faktore
wat ân rol gespeel het in die Prokureur-generaal se besluit om te
vervolg, was:
(i) die feit dat die geld
nie in die bankrekening inbetaal is nie (met verwysing na A51 par
7);
(ii) die feit dat die
goed teen âbelaglikeâ pryse verkoop is.
In hierdie verband meld
me Tredoux in haar brief, reeds geskryf op 20 Augustus 1996 (Die
Prokureur-generaal se besluit om te vervolg
is gedateer 14 April
1997):
â
Beide bedrae deur meneer Vercuil
betaal is ontvang en gedeponeer in die rekening van die N.G. Kerk
Bestuurskomitee Vierfontein, welke
inbetaling getoon word in die
bankboek van die N.G. Kerk Bestuurskomitee en deur meneer Vercuil
bevestig word.â
en
â
Alhoewel
die saakdossier dus die waarde van die gesteelde eiendom in totaal
aantoon as ±R40 000 is dit bereken as vervangingswaarde
en
weerspie
ël
dit nie die toestand en verkoopwaarde van die vermiste items nie.â
Hierdie brief was tot die
Prokureur-generaal se beskikking toe besluit is om eiser te vervolg.
Die skuld vir die Prokureur-generaal
se uitleg van paragraaf 6.10 van
die notule en die feit dat die Prokureur-generaal mev Tredoux se
brief skynbaar geïgnoreer het,
kan kwalik aan die deur van die
ondersoekbeampte gelê word.
[57] Smith was oorywerig,
hy het hom op sleeptou laat neem deur Van Wyk en andere. Smith wou
graag ân skuldigbevinding hê. Maar
dit is seker die ambisie van
elke polisiebeampte dat sy ondersoekwerk op ân suksesvolle
vervolging uitloop. Hy het wel sekere
feite verkeerd weergegee in sy
verklaring, maar die Prokureur-generaal kon sonder veel moeite die
korrekte feite bekom het, soos
wat in me Tredoux se brief uiteengesit
is, wat ook in die dossier was.
[58] Mens moet hierdie
saak beoordeel volgens sy feite, naamlik dat ân vervolging ingestel
is in opdrag van die Prokureur-generaal.
Om die eerste, tweede en
derde verweerders aanspreeklik te kan hou vir kwaadwillige vervolging
moet mens feitelike en juridiese
kousaliteit bestaan.
[59] Selfs as mens
feitelike kousaliteit bevind in die sin dat tweede verweerder aktief
betrokke was by die instel van die vervolging
(
WATERHOUSE
V SHIELDS
1924 CPD 155
op 160)
(tot
ân groter mate as wat van hom as ondersoekbeampte vereis word) bly
die vraag na juridiese kousaliteit. Daar moet bepaal word
of daar ân
juridiese band bestaan tussen die handelinge van die tweede
verweerder en die nadeel of skade wat uit die handelinge
voortgevloei
het. Dit is ân juridiese ondersoek waarby beleidsoorwegings ân
rol speel, dis ân waarde-oordeel. Daar moet ân
redelike verband
bestaan tussen dit wat intree en die handeling wat dit veroorsaak het
(
HEYNS
V VENTER 2004
(3) SA 200 (T) par 10
).
[60] Ek kan nie sê dat
ân vervolging nie geregverdig sou wees as die tweede verweerder nie
opgetree het soos wat hy opgetree het
nie. Daar het baie faktore ân
rol gespeel. Sy optrede het moontlik ook ân rol gespeel, maar kyk
ân mens na juridiese kousaliteit
soos in
INTERNATIONAL
SHIPPING CO (PTY) LTD V BENTLEY
1990 (1) SA 680
(A) op 700 E â I
deur
Hoofregter Corbett verduidelik, is dit na my mening glad nie deur die
eiser bewys dat hier juridiese kousaliteit was nie. Die
tweede
verweerder het nie die klagte gelê nie, en hy het ook nie besluit om
te vervolg nie. Daar is na my mening nie ân redelike
verband
tussen die handelinge van die tweede verweerder en die gevolge wat
vir eiser ingetree het nie.
[61] Eiser se eis word
met koste afgewys.
____________
A. KRUGER, R
Namens Eiser: Adv. F.W.A.
Danzfuss SC
In
opdrag van:
Schoeman
Maree Ingelyf
BLOEMFONTEIN
Namens Verweerders 1, 2,
3: Adv. A.J.R. van Rhyn SC
In
opdrag van:
Die Staatsprokureur
BLOEMFONTEIN
Namens Verweerders 4, 5,
6: Adv. C. Ploos van Amstel SC
In
opdrag van:
Bezuidenhouts &
Milton Earle
BLOEMFONTEIN
Namens 7de
Verweerder: Adv. C.J. Horn en op 12 Januarie 2004 Adv. C. Reinders
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens 8ste
Verweerder: Geen.
Namens 9de
Verweerder: Adv. S.J. Reinders
In
opdrag van:
Claude Reid Ingelyf
BLOEMFONTEIN
/S
Pieterse