About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 141
|
|
Oos Vrystaat Kaap Bedryf Beperk v Van Aswagwen (3016/2003) [2004] ZAFSHC 141; 2005 (4) SA 417 (O) (9 September 2004)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Soak
No.: 3016/2003
In
die saak tussen:
OOS
VRYSTAAT KAAP BEDRYF BEPERK
Eiser
en
ISABELLA
FREDRIKA JOHANNA
Verweerderes
VAN
ASWEGEN
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
VAN
DER MERWE R
AANGEHOOR
OP:
24
en 25 AUGUSTUS 2004
GELEWER
OP:
9
SEPTEMBER 2004
[1] In hierdie aksie
vorder
die eiser kragtens besonderhede van vordering wat by die verhoor
dienooreenkomstig gewysig is, betaling van skadevergoeding in die
bedrag van
R180 500,00. Die eis vir
skadevergoeding is gebaseer op beweerde kontrakbreuk van ân kontrak
vir die verkoop van mielies wat volgens
die eiser aangegaan is op 9
November 2000.
[2] Dit blyk uit die
getuienis dat ân dokument met die opskrif âGRAANAANKOOPOOREENKOMSâ
(hierna geriefshalwe âdie kontrakdokumentâ
genoem) onderteken is
op 26 Oktober 2000 te Excelsior deur die verweerderes se eggenoot, ân
mnr Andries van Aswegen. Die kontrakdokument
is ân gedrukte vorm
wat deur die eiser voorberei is waarin kontraksterme gedruk is en
spasies gelaat is om die besonderhede van
die spesifieke transaksie
in te vul. Die kontrakdokument is ook op 9 November 2000 te
Ladybrand namens die eiser onderteken deur
mnr Stefan Oberholzer.
Ingevolge die inhoud van die kontrakdokument word 500 ton graad 1
witmielies deur verweerderes aan eiser
verkoop teen die koopprys van
R580,00 per ton, om gelewer te word gedurende die tydperk vanaf 1
Julie 2001 tot 31 Augustus 2001.
Mnr Oberholzer was gedurende die
jaar 2000 en is steeds in diens van die eiser by die eiser se
hoofkantoor te Ladybrand. Uit hoofde
van die pos wat mnr Oberholzer
gedurende die jaar 2000 by die eiser beklee het, te wete Bestuurder:
Graan, was mnr Oberholzer volgens
sy onbetwiste getuienis gemagtig om
kontrakte met betrekking tot die koop en verkoop van graan namens die
eiser aan te gaan.
[3] Dit is die eiser se
saak dat op 9 November 2000 ân bindende ooreenkoms tussen die
eiseres en die verweerderes tot stand gekom
het ooreenkomstig die
kontrakdokument. Die verweerderes se saak is dat geen sodanige
kontrak tot stand gekom het nie. Die ontkenning
van die
totstandkoming van ân bindende kontrak berus op drie alternatiewe
gronde. In die eerste plek voer verweerderes aan dat
die afwesigheid
van ân skriftelike volmag deur die verweerderes aan mnr van Aswegen
tot gevolg het dat ân bindende kontrak nie
tot stand gekom het nie.
In die tweede plek word aangevoer dat selfs al sou ân skriftelike
volmag nie vereis word vir totstandkoming
van die kontrak nie, mnr
van Aswegen geen magtiging gehad het om die kontrakdokument namens
verweerderes te onderteken nie. In die
derde plek word aangevoer dat
selfs al sou mnr van Aswegen aldus magtiging gehad het om die
kontrakdokument te onderteken, sy ondertekening
daarvan ân aanbod
daargestel het wat teruggetrek is alvorens dit namens eiser aanvaar
is.
[4] Die bewyslas rus
klaarblyklik op die eiser om te bewys dat ân bindende kontrak tot
stand gekom het soos beweer. In die omstandighede
van hierdie saak
sluit die eiser se bewyslas na my oordeel in dat die eiser ân
aanbod van verweerderes soos vervat in die kontrakdokument,
aanvaar
het toe dit oop was vir aanvaarding, d.w.s. dat dit toe nie
teruggetrek was nie. Insgelyks sluit die eiser se bewyslas in
bewys
daarvan dat mnr van Aswegen gemagtig was om die verweerderes tot
kontraksluiting te verbind.
[5] Ek behandel
vervolgens die verweerderes se voormelde drie verweersgronde.
[6] Klousule 21 van die
kontrakdokument bepaal soos volg:
â
Hierdie
ooreenkoms word eers van krag by ondertekening daarvan deur die
Verkoper of sy skriftelike gevolmagtigde en ân gemagtigde
van die
Koper. In ieder geval sal die Koper, indien hy besluit om hierdie
ooreenkoms te onderteken, dit aldus onderteken nie later
nie as 14
dae na datum waarop die Verkoper of sy verteenwoordiger hierdie
ooreenkoms onderteken het, by gebreke waarvan geeneen van
die partye
gebonde sal wees aan die terme hiervan nie.â
[7] Dit moet op die
getuienis voor my aanvaar word dat die verweerderes nie enige
skriftelike volmag aan mnr van Aswegen verskaf het
nie. Die argument
namens verweerderes kom daarop neer dat ingevolge klousule 21 die
partye ân skriftelike volmag aan die verkoper
se verteenwoordiger
as ân formaliteit gestel het waaraan voldoen moet word alvorens ân
bindende ooreenkoms tot stand kom. Namens
eiser is aangevoer dat die
bepaling ten aansien van ân skriftelike volmag vervat in klousule
21 van die kontrakdokument nie ân
geldigheidsvereiste is nie maar
uitsluitlik tot voordeel van die eiser beding is, dat eiser gevolglik
daarvan kon afstand doen en
inderdaad daarvan afstand gedoen het.
[8] Ek meen dat die eiser
hierin gelyk gegee moet word. Klousule 11 van die kontrakdokument
bepaal soos volg:
â
Die partye erken en bevestig
hiermee dat hulle met die ondertekening van hierdie ooreenkoms ten
volle gemagtig is om die ooreenkoms
aan te gaan en die voorwaardes
hierin te aanvaar.â
Bokant die handtekening
van die verkoper verskyn die woorde:
âNaam van gemagtigde
ondertekenaar:â
Ook bevat die
kontrakdokument geen voorskrif met betrekking tot die inhandiging of
beskikbaarstelling van so ân skriftelike volmag
nie. Hierdie
oorwegings dui na my oordeel sterk daarop dat die bepaling met
betrekking tot ân skriftelike volmag nie ân geldigheidsvereiste
vir die totstandkoming van ân kontrak ingevolge die kontrakdokument
is nie. Indien dit die bedoeling was, kon dit maklik duidelik
gestel
gewees het. Ek kan ook nie insien dat hierdie bepaling tot voordeel
of in belang van die verkoper kan wees nie. Uit die
oogpunt van die
verkoper sou dit ân absurde gevolg wees dat alhoewel die verkoper
sy verteenwoordiger inderdaad gemagtig het om
die kontrak te teken,
die kontrak onafdwingbaar is in die afwesigheid van ân skriftelike
volmag. Aan die ander kant is dit duidelik
dat die bepaling tot
voordeel van die koper sal wees, indien hy verkies om daarvan gebruik
te maak, ten einde bewys van magtiging
te vergemaklik indien die
verkoper dit sou betwis. Volgens die onbetwiste getuienis van mnr
Oberholzer was hy vir ân tydperk van
vyf jaar die persoon wat
namens eiser hierdie tipe kontrakte aangegaan het en was daar volgens
sy kennis nooit enige sodanige skriftelike
volmag deur eiser verlang
of ontvang nie.
[9] Ten aansien van die
vraag of die verweerderes inderdaad vir mnr van Aswegen gemagtig het
om die kontrakdokument namens haar te
onderteken, is dit nodig om te
verwys na die getuienis van die verweerderes en van die getuie namens
verweerderes, mnr Wynand Louw
Steyn.
[10] Die verweerderes is
55 jaar oud. Sy is getoud buite gemeenskap van goedere met mnr van
Aswegen vir ân tydperk van 34 jaar.
Sy het getuig dat in geheel sy
ân goeie huwelik het wat gebou is op vertroue. Toe sy met mnr van
Aswegen getroud is, was hy ân
polisiebeampte. Na hul huwelik het
hy begin boer op grond wat die verweerderes geëerf het. Gedurende
1992 het hy hom in ân motorsaak
begeef wat op ân totale
mislukking uitgeloop het. Die mislukking is opgevolg deur ân
kompromie met die skuldeisers van mnr van
Aswegen wat tot gevolg
gehad het dat groot bedrae van hierdie verskuldigheid op die
verweerderes geneem is. Gevolglik, sê die verweerderes,
het sy die
boerdery oorgeneem gedurende 1995.
[11] Volgens die
verweerderes het mnr van Aswegen na 1995 slegs in raadgewende
hoedanigheid met betrekking tot die boerdery gedien.
Dit blyk egter
dat mnr van Aswegen inderdaad die boerdery bestuur het, ook aankope
gedoen het en tekenmagte op die verweerderes
se tjekrekening gehad
het. Groot besluite, soos verweerderes dit genoem het, het sy egter
self geneem. Volgens die verweerderes
kon mnr van Aswegen onder geen
omstandighede hoegenaamd ân kontrak namens haar onderteken nie.
Dit was ân uitdruklike verbod
waarvan mnr van Aswegen te alle
tersaaklike tye geweet het. Die inhoud van hierdie verbod was dat hy
glad nie ân kontrak namens
verweerderes mag teken nie, met of
sonder haar toestemming.
[12] Gedurende Mei 2000
het mnr van Aswegen in die middag by die huis gekom en vir die
verweerderes meegedeel dat hy ân mieliekontrak
namens haar
onderteken het op Tweespruit. Hy het egter bygevoeg dat hy dit
uitdruklik gestel het dat dit ân voorwaarde is dat
die verweerderes
met die kontrak tevrede is. Dit blyk uit die getuienis dat mnr van
Aswegen inderdaad op 16 Mei 2000 te Excelsior
ân dokument
onderteken het op dieselfde gedrukte vorm as die kontrakdokument.
Hiervolgens het die verweerderes 500 ton graad 1
witmielies aan die
eiser verkoop vir ân koopprys van R525,00 per ton, gelewer te word
vanaf 1 Junie 2000 tot 30 Augustus 2000.
Die verweerderes het getuig
dat sy met hierdie transaksie tevrede was en die volgende dag vir mnr
Thys Venter van die eiser se silos
by Tweespruit gebel het en aldus
meegedeel het. Toe sy gevra was waarom sy mnr Venter, die
silobestuurder van die eiser by Tweespruit,
hieromtrent geskakel het,
was haar antwoord dat sy onder die indruk was dat die dokument te
Tweespruit geteken is. Sy het ook gesê
dat sy nie kan sê of
gemelde mnr Venter toe bewus was van die betrokke transaksie nie.
Hierdie dokument is volgens die getuienis
op 6 Junie 2000 te
Ladybrand deur gemelde mnr Oberholzer geteken. Gevolglik is
uitvoering gegee aan die verkoopkontrak wat op 6
Junie 2000 tot stand
gekom het.
[13] Gedurende Oktober
2000 het mnr van Aswegen, volgens die verweerderes, weer tuis gekom
en vir haar meegedeel dat hy ân kontrak
vir die verkoop van mielies
geteken het by die eiser. Volgens die verweerderes het sy nie vooraf
met mnr van Aswegen hieroor gepraat
nie. Sy was baie ongelukkig
hieroor en het dadelik gesê dat sy nie tevrede is nie en dat hy, mnr
van Aswegen, dadelik die kontrak
moet kanselleer. Dit het mnr van
Aswegen, volgens sy mededeling aan die verweerderes, die volgende
oggend gaan doen. Gedurende
kruisverhoor het sy gesê dat ook by
hierdie geleentheid mnr van Aswegen aan haar meegedeel het dat hy dit
as ân uitdruklike voorwaarde
gestel het dat verweerderes vir mnr
Steyn daarvan in kennis stel dat sy toestem tot die aangaan van die
kontrak. Sy het getuig dat
sy gedurende die volgende week self aan
mnr Steyn by die eiser se tak te Excelsior gevra het of hy die saak
reeds met Ladybrand,
bedoelende die eiser se hoofkwartier, opgeneem
het aangesien sy glad nie die kontrak wou hê nie waarop mnr Steyn
sou gesê het dat
hy geskakel het maar nog niks gehoor het nie.
[14] Nadat die
verweerderes ân brief gedateer 9 November 2000 van die eiser
ontvang het waarin bevestig is dat die kontrak aanvaar
is, het die
verweerderes ân prokureur gaan sien en hierdie prokureur het op 23
November 2000 aan die eiser geskryf tot die effek
dat die
verweerderes ontken dat sy ân kontrak aangegaan het met die eiser
en dat sy aan geen persoon magtiging gegee het om namens
haar so ân
kontrak te sluit nie.
[15] Die verweerderes het
toegegee dat die kontrak van 6 Junie 2000 vir haar ân goeie kontrak
was, aangesien die betrokke mielieprys
na daardie datum gedaal het.
Dit blyk uit die onbetwiste getuienis dat die betrokke mielieprys
gedurende Julie 2000 tot so laag
as R390,00 per ton gedaal het.
Volgens die verweerderes was die restant van die betrokke oes van
ongeveer 1300 ton alles verkoop
en gelewer teen ân prys van minder
as die prys van R525,00 per ton vervat in die kontrak van 6 Junie
2000. Die verweerderes het
ook toegegee dat na 25 Oktober 2000 die
betrokke mielieprys gestyg het. Die partye het dit by ooreenkoms op
rekord geplaas dat die
gemiddelde mielieprys vir November 2000
ongeveer R715,00 per ton was; die laagtepunt was R685,00 per ton en
die hoogtepunt R744,00
per ton. Die verweerderes het ook getuig dat
26 Oktober 2000 sy reeds produksiekoste aan Senwes Beperk verskuldig
was wat gepaard
gegaan het met ân verpligting om mielies aan Senwes
Beperk te lewer.
[16] Mnr Wynand Louw
Steyn is 34 jaar oud en in diens van die eiser. Gedurende 2000 was
hy takbestuurder van die handelstak van die
eiser te Excelsior.
Vanaf 1 Februarie 2004 is hy die takbestuurder van die eiser te
Tweespruit. Te Excelsior het die eiser nie
silos nie maar te
Tweespruit wel. Hy het getuig dat hy die kontrakvorm ingevul het en
as getuie tot die handtekening van mnr van
Aswegen geteken het op die
kontrak van 6 Junie 2000. Hy het getuig dat by daardie geleentheid
mnr van Aswegen geen melding gemaak
het van enige voorwaarde m.b.t.
die betrokkenheid van die verweerderes nie. Hy dra ook kennis
daarvan dat mnr van Aswegen die kontrakdokument
kom teken het. Dit
het plaasgevind in die eiser se tak te Excelsior en is hanteer deur
die betrokke administratiewe beampte, me
Eloise Terblanche.
[17] Volgens
hierdie getuie het mnr van Aswegen óf die dag na 26 Oktober 2000 óf
moontlik die volgende dag, dit was ân Saterdag,
teruggekom by die
tak. Mnr van Aswegen het by daardie geleentheid aan hom gesê: ââ¦
sy
vrou het reeds ân kontrak geteken by ân ander instansie en dat
ons die kontrak wat hy by ons geskryf het, moet kanselleer.â
Volgens mnr Steyn het hy toe die graanafdeling van die eiser te
Ladybrand geskakel. Hy kon nie onthou of hy met ân man of ân
vrou daar gepraat het nie maar weet dat dit nie mnr Oberholzer was
nie. Hy het aan die betrokke persoon verduidelik wat gebeur het
en
gevra of dit moontlik is dat hulle die kontrak kan kanselleer, soos
hy dit gestel het. Volgens die getuie was die reaksie vanaf
die
betrokke persoon van die graanafdeling dat dit nie moontlik is nie.
Mnr van Aswegen was nog in die tak teenwoordig toe hierdie
oproep
gemaak is. Mnr Steyn het toe aan mnr van Aswegen meegedeel wat die
persoon van die graanafdeling gesê het en voorgestel
dat mnr van
Aswegen self met die graanafdeling kontak maak. Mnr van Aswegen het
daarna ân oproep na die eiser se hoofkantoor gemaak,
maar mnr Steyn
was nie teenwoordig nie.
[18] Mnr Steyn het getuig
dat hy nie onthou dat hy daarna met die verweerderes oor hierdie
aangeleentheid gepraat het nie en dat hy
dit sou onthou het indien
dit plaasgevind het. Hy het egter bevestig dat hy via me Eloise
Terblanche verneem het op ân latere
stadium dat die verweerderes
beweer dat mnr van Aswegen nie gemagtig was om die kontrakdokument te
teken nie. Vir hom, wat mnr Steyn
is, het dit geensins gepla dat mnr
van Aswegen die dokument teken nie. Alhoewel die rekening by die
eiser in die naam van verweerderes
was en hy geweet het dat
verweerderes die eienaar van die besigheid was, het hy gewoonlik met
mnr van Aswegen sake gedoen in verband
met die boerdery.
[19] Die advokate was dit
na my oordeel tereg eens dat die getuienis van mnr Steyn
geloofwaardig was en aanvaar moet word. Mnr
van Aswegen het nie
getuienis afgelê nie.
[20] Die
verweerderes het in haar getuienis by my die definitiewe indruk
gelaat van iemand wat na die getuiebank gekom het om ten
alle koste
en by elke geleeentheid dit so duidelik as moontlik te stel dat mnr
van Aswegen hoegenaamd geen magtiging onder enige
omstandighede gehad
het om ân kontrak namens haar te onderteken nie. Dit het vir my
voorgekom ân geval van â
the
lady doth protest too much
â.
Die getuienis van die verweerderes dat mnr van Aswegen geensins
gemagtig was om ân kontrak namens haar te onderteken nie,
is na my
oordeel onderworpe aan wesenlike kritiek. Dit rym glad nie met die
objektiewe feite dat mnr van Aswegen die kontrak van
6 Junie 2000
sowel as die kontrakdokument ongekwalifiseerd as gemagtigde
ondertekenaar van verweerderes onderteken het nie. Dat
hy aldus
ongekwalifiseerd geteken het, blyk uit die getuienis van mnr Steyn
dat toe die kontrak van 6 Junie 2000 onderteken is en
toe mnr van
Aswegen teruggekom het om die kontrak te kanselleer, nie melding van
so-iets gemaak is nie. Verweerderes se woning was
slegs 13 kilomter
vanaf Excelsior, ongeveer 15 minute se ry. Daar was geen rede, soos
verweerderes ook in kruisverhoor toegegee
het, waarom die betrokke
dokumente nie eenvoudig na haar vir ondertekening gebring kon word
nie. Dit is pertinent aan die verweerderes
gevra waarom mnr van
Aswegen aldus by twee geleenthede teen haar uitdruklike verbod sou
optree, maar sy was nie in staat om ân
antwoord te verskaf nie.
[21] Die verweerderes het
getuig dat sy baie ontsteld was toe mnr van Aswegen haar op 26
Oktober 2000 meegedeel het van sy ondertekening
van die
kontrakdokument. Een van die redes vir haar ontsteltenis het sy
aangegee as dat sy ontevrede was aangesien die mielieprys
weer sou
kon opgaan en dat sy weer geld sou verloor soos met die vorige
mieliekontrak. Die ander rede vir haar ontsteltenis was
dat sy aan
Senwes Beperk verbind is tot lewering van die betrokke oes. Die
eerste rede gaan natuurlik volgens haar eie getuienis
nie op nie,
presies die teenoorgestelde het gebeur, die prys het geval en die
eerste kontrak was ân goeie een. Toe aan die verweerderes
gevra
was hoekom sy dan so ontsteld was in die lig daarvan dat geeneen van
hierdie nadele, werklik of gewaand, ter sprake kan kom
voordat sy die
kontrak aanvaar het nie, was sy nie in staat om ân bevredigende
antwoord te gee nie. Dit is in hierdie verband
ook nie onbelangrik
nie om daarop te let dat verweerderes eers in kruisverhoor melding
gemaak het dat sy ook op 26 Oktober 2000 deur
mnr van Aswegen
meegedeel is dat hy die kontrakdokument onderteken het onderworpe aan
die spesifieke voorwaarde van haar goedkeuring.
[22] In die omstandighede
van hierdie saak is ek tevrede dat van die versuim van die
verweerderes om mnr van Aswegen as getuie te
roep, ân afleiding
gemaak kan word dat mnr van Aswegen in getuienis nie die verweerderes
se getuienis sou staaf nie en/of getuienis
sou lewer nadelig vir die
verweerderes se saak.
[23] In die finale
instansie is hier na my oordeel slegs twee moontlikhede ter
verduideliking van die ondertekening van die kontrakdokument
deur mnr
van Aswegen. Die een moontlikheid is dat hy dit gedoen het
ongemagtig en teen die uitdruklike verbod van die verweerderes
en in
die proses vir haar daaroor leuens vertel het, terwyl daar geen rede
vir sodanige optrede uit die getuienis voor my blyk nie.
Die ander
moontlikheid, na my mening die meer waarskynlike, is dat mnr van
Aswegen die kontrakdokument geteken het omdat hy magtiging
gehad het
daartoe, hetsy spesifiek, algemeen, uitdruklik of stilswyend. My
gevolgtrekking is derhalwe dat dit op ân oorwig van
waarskynlikhede
aangetoon is dat mnr van Aswegen inderdaad gemagtig was om die
kontrakdokument namens die verweerderes te teken.
Hierdie bevinding
maak dit onnodig om te handel met die alternatiewe beroep van die
eiser op estoppel.
[24] Dit was na my
oordeel tereg nie namens die eiser betwis dat indien behoorlik
gemagtig, die kontrakdokument ân aanbod om te
verkoop, daargestel
het nie. Die derde verweer van die verweerderes hierbo vermeld,
behels derhalwe die beantwoording van twee vrae,
naamlik eerstens die
vraag of die aanbod onherroeplik was toe dit aanvaar is en indien
nie, tweedens, of dit voor skriftelike aanvaarding
daarvan inderdaad
herroep is.
[25] In die
gerespekteerde werk
Christie,
The Law of Contract in South Africa,
4de uitgawe
word op p. 58 â 59 die standpunt voorgehou dat ân verpligting om
ân aanbod oop te hou of nie te herroep nie, deur eensydige
verklaring of belofte tot stand kan kom. In besonder word gesê dat
die beslissings in
ROSE
AND ROSE v ALPHA SECRETARIES LTD
1948 (1)SA 454 (A) en
BUILDING
MATERIAL MANUFACTURERS LTD v MARAIS N.O.
1990 (1) SA 243(O)
steun
bied vir so ân standpunt. Na my oordeel is geeneen van gemelde
beslissings gesag vir die standpunt wat voorgehou word nie.
[26] Die
ROSE
-
beslissing
het betrekking op ân appèl teen ân eksepsie wat teen ân
deklarasie geslaag het. In die eiser se deklarasie is beweer
dat ân
brief wat daarby aangeheg was, ân ooreenkoms tussen die betrokke
partye bevat het. In die uitspraak van Greenberg AR
is op 458
uitdruklik gestel dat die brief in die deklarasie as ân skriftelike
ooreenkoms beskryf is en dat vir doeleindes van die
eksepsie dit
aldus as ân skriftelike ooreenkoms hanteer is. In die uitspraak
word dit dan duidelik gemaak dat die beslissing van
die
aangeleentheid uitsluitlik afhang van die behoorlike interpretasie
van die brief. Waar daar aan die einde van die uitspraak
bevind was
dat die brief neergekom het op ân aanbod deur ân koper met ân
verpligting om die aanbod oop te hou, is gehandel
met die
interpretasie van die brief wat aanvaar is ân ooreenkoms bevat.
Hierdie uitspraak is dus geen gesag daarvoor dat ân
verpligting om
ân aanbod oop te hou deur eensydige verklaring tot stand kan kom
nie.
[27] In die
BUILDING
MATERIAL MANUFACTURERS
-saak
het die eiser ân prospektus uitgereik waardeur die publiek
uitgenooi is om aanbiedinge vir die verkoop van aandele te maak.
Dit
is in die prospektus bo twyfel gestel dat enige aanbod om aandele te
koop onherroeplik moes wees. Die prospektus was vergesel
van ân
aansoekvorm wat gedien het as ân skriftelike aanbod. In hierdie
dokument is dit ook duidelik gestel dat die aanbod onherroeplik
is.
Smuts RP het bevind dat in die omstandighede ân onherroeplike
aanbod tot stand gekom het toe die aansoekvorm wat deur die
verweerder gebruik is, deur die eiser ontvang is. In sy beredenering
word geensins vermeld dat die aanbod sy onherroeplikheid deur
eensydige verklaring verkry het nie. Die feite van die
aangeleentheid, in besonder die feit dat die eiser dit duidelik
gestel het
dat enige aanbod om aandele te neem onherroeplik moes
wees, waarop Smuts RP klem gelê het, sowel as sy meermalige
verwysing na die
bedoeling van die partye met betrekking tot die
herroeplikheid van die aanbod aldan nie, spreek na my oordeel direk
tot die teendeel.
[28] Hierteenoor
is die standpunt in
De
Wet en van Wyk, Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg en Handelsreg,
5de uitgawe
op
p. 33 â 34 dat ân aanbod slegs by wyse van ooreenkoms
onherroeplik gemaak kan word. Hierdie standpunt is met klaarblyklike
goedkeuring aangehaal in
KOTZE
v NEWMONT SA LTD
1977 (3) SA 368
(NK) op 374 E â G.
Dit is ook die duidelike standpunt wat ingeneem is in
ANGLO
CARPETS (PTY) LTD v SNYMAN
1978 (3) SA 582
(T) op 585 H
.
Sien ook
Kerr,
The Principles of the Law of Contract,
6de uitgawe p. 82 â 84
.
Die beslissing in
WISSEKERKE
EN âN ANDER v WISSEKERKE
1970 (2) SA 550
(A)
is op dieselfde lees geskoei, aangesien die verpligting om ân
aanbod nie terug te trek nie, in daardie geval ontstaan het uit ân
verdelingsooreenkoms.
[29] Die
standpunt dat ân verpligting om ân aanbod oop te hou of nie te
herroep nie slegs by wyse van ooreenkoms kan ontstaan,
kom verkieslik
voor. Dit het ân gesonde teoretiese grondslag en behoort nie in
die praktyk wesenlike probleme te skep nie. Na
my oordeel sal in die
meeste gevalle waar ân aanbod gepaard gaan van ân verklaring van
die aanbieder om die aanbod oop te hou
of nie terug te trek nie, op
die feite bevind kan word dat ân nie-herroepingsooreenkoms, oftewel
ân opsie, aangegaan is. Die
beslissing in
ANGLO
CARPETS (PTY) LTD v SNYMAN,
supra
is
myns insiens ân goeie voorbeeld hiervan. Ook kan na my oordeel die
beslissing in
BUILDING
MATERIAL MANUFACTURERS LTD v MARAIS N.O.
,
supra
,
op hierdie basis verduidelik word. Die feite van hierdie saak is
myns insiens heeltemal vatbaar vir die interpretasie dat die eiser
in
sy prospektus en aansoekvorm die aanbod van onherroeplikheid gemaak
het. Deur die voltooide aansoekvorm aan die eiser te oorhandig
het
die verweerder die aanvaarding van daardie aanbod aan die eiser
oorgedra. Sodoende is ooreengekom dat die verweerder se aanbod
om
aandele te koop onherroeplik is. Dieselfde geld myns insiens
waarskynlik vir die beslissing van
MUSA
v FISCHAT N.O. AND OTHERS
1980 (2) SA 167
(SOK),
soos
aangevul en verduidelik deur AJ Kerr in (
1981)
98 SALJ 6
.
[30] Gevolglik
moet die eiser op ân oorwig van waarskynlikhede bewys dat die
aanbod om te verkoop soos vervat in die kontrakdokument
vergesel was
van ân aanbod om die aanbod om te verkoop oop te hou vir die
onderhawige tydperk van 14 dae
en
dat laasgemelde aanbod deur eiser aanvaar is; derhalwe, dat op ân
opsie ooreengekom is. Geen ander getuienis dan die inhoud van
die
kontrakdokument is in hierdie verband deur die eiser voorgelê nie.
[31] Die
gevolgtrekking waartoe ek geraak het is dat die eiser my nie op ân
oorwig van waarskynlikhede oortuig het dat die bewoording
van
klousule 21 van die kontrakdokument beteken dat ook ân aanbod
gemaak is om die aanbod om te verkoop oop te hou vir 14 dae vanaf
26
Oktober 2000 nie. In die beslissing van
GREENBERG
v WHEATCROFT
1950 (2) P.H. A. 56
is bevind dat waar ân aanbod bepaal dat dit verval op ân sekere
tydstip, dit nie beteken dat die aanbod tot op die vervaldag
onherroeplik is nie. Sien ook
KERR
,
supra
op p. 83 - 84. Dit blyk dus dat deur ân tydsbeperking aan ân
aanbod te koppel, nie ân opsiekontrak aangebied word nie. In
die
onderhawige geval kan ek nie met die vereiste mate van sekerheid
bevind dat klousule 21 van die koopkontrak meer bevat dan of
onderskei kan word van ân aanbod om te verkoop wat verval na 14 dae
na datum van ondertekening daarvan deur die verkoper of sy
verteenwoordiger nie. Soos Roper R in
GREENBERG v WHEATCROFT
,
supra
meen
ek dat dit nie duidelik is dat afgewyk word van die normale regsreël
dat ân aanbod te enige tyd voor aanvaarding daarvan herroepbaar
is
nie. Ook meen ek dat Klousule 21 minstens dubbelsinnig is in hierdie
opsig en derhalwe
contra
proferentem
uitgelê moet word. Sien in hierdie verband
KARSON
v MINISTER OF PUBLIC WORKS
1996 (1) SA 887
(OK) op 896 C â D
.
[32] My bogemelde
gevolgtrekking lei in ieder geval tot die gevolgtrekking dat daar nie
ân eensydige verklaring namens verweerderes
gemaak is dat die
aanbod om te verkoop nie herroep sal word nie en kon selfs op daardie
basis nie ân verpligting ontstaan het om
die aanbod om te verkoop
oop te hou nie. Selfs ook op die basis dat ân aanbod om die aanbod
om te verkoop nie terug te trek nie,
gemaak is, is daar in hierdie
saak geen getuienis waarop bevind kan word dat aanvaarding van
daardie aanbod aan die verweerderes
of haar gevolmagtigde
gekommunikeer is nie, ten minste nie tydig nie.
[33] Die
volgende vraag is of terugtrekking van die aanbod tot kennis van die
eiser gekom het alvorens die kontrakdokument namens
die eiser
onderteken is op 9 November 2000. In hierdie verband is die
beslissing van
WISSEKERKE
EN ANDER v WISSEKERKE
,
supra
van belang. In daardie saak het die aanbieder ân skrywe aan die
ander party gerig wat uitgelê is as ân kennisgewing dat die
aanbod
verval het en dat die eiendom aan iemand anders verkoop sou word.
Gevolglik het die vraag ontstaan of hierdie skrywe ân
terugtrekking
van die betrokke aanbod was. In hierdie verband het Rumpff, AR, soos
hy toe was, die volgende gesê op 557 F - H:
â
Daar
is ook betoog dat kennisgewing dat die aanbod verval het nie as
terugtrekking van die aanbod vertolk kan word nie. Dit spreek
m.i.
vanself dat ân terugtrekking nie in ân bepaalde formule hoef
ingeklee te wees nie. Indien dit duidelik uit die bewoording
van ân
brief blyk dat die aanbieder nie meer bereid is om aan die
aangebodene te verkoop nie sou die aangebodene beswaarlik kon
beweer
dat dit onseker is of daar ân terugtrekking is of nie. Die
genoemde brief van 19 Maart 1968 beteken m.i. dat verweerderes
die
houding inneem dat haar aanbod verval het en nie meer bestaan nie en
dat sy derhalwe die eiendom aan iemand anders gaan verkoop.
So ân
houding is onversoenbaar met die voortbestaan van die aanbod en moet
m.i. as ân terugtrekking van die aanbod beskou word.â
Sien ook
MARKRAM
v SCHOLTZ EN ân ANDER
[2000] 4 ALL SA 452
(NK) op 460. In hierdie saak het die aanbieder
(koper) op grond daarvan dat slegs een van die twee verkopers die
dokument geteken
het, die houding ingeneem dat die ooreenkoms nietig
is. Die houding is beskou as onversoenbaar met ân standpunt dat
die aanbieder
met die ooreenkoms wil voortgaan en beskou as ân
terugtrekking van sy aanbod om te koop.
[34] In die onderhawige
geval het mnr van Aswegen namens die verweerderes op 27 of 28 Oktober
2000 vir mnr Steyn meegedeel dat die
verweerderes reeds ân kontrak
ten aansien van die betrokke mielies aangegaan het met ân ander
instansie en dat daarom die kontrak
wat op 26 Oktober 2000 âgeskryfâ
is, gekanselleer moet word. Sodoende is m.i. ondubbelsinnig
meegedeel dat die verweerderes
nie meer bereid is om aan die eiser te
verkoop nie. Die mededeling is onversoenbaar met die voortbestaan
van die aanbod om te verkoop.
Mnr Steyn, die takbestuurder van die
eiser te Excelsior, was, soos die getuienis van mnr Oberholzer namens
die eiser ook was, die
eiser se verteenwoordiger in die gebied van sy
tak. Terugtrekking van die aanbod het die geadresseerde daarvan, te
wete die eiser,
bereik laastens op 28 Oktober 2000. Dit is na my
oordeel heeltemal onsaaklik dat dit nie die ore van mnr Oberholzer
spesifiek
bereik het nie.
[35] Ek is derhalwe
genoop tot die gevolgtrekking dat die verweerderes haar aanbod soos
vervat in die kontrakdokument teruggetrek
het en die terugtrekking
daarvan tot kennis van die eiser gebring het voordat dit aanvaar is.
[36] Gevolglik word die
eiser se vordering van die hand gewys met koste.
________________________
C.H.G.
VAN DER MERWE, R
Namens
Eiser:
Advokaat
J.P. de Bruin SC
i.o.v.
Symington & De
Kok
BLOEMFONTEIN
Namens
Verweerder:
Advokaat
M.H. Wessels SC
i.o.v.
Rosendorff Reitz
Barry
BLOEMFONTEIN
/ec