Mahloko v Multilaterale Motorvoertuig Ongelukkefonds (A203/03) [2004] ZAFSHC 138 (30 August 2004)

45 Reportability
Personal Injury Law - Road Accident Fund

Brief Summary

Negligence — Road traffic accident — Appellant claimed damages for death of partner due to collision with vehicle driven by respondent's insured — Respondent admitted liability for death but contested negligence — Court found insufficient evidence to establish that driver was negligent or that her actions caused the accident — Appeal dismissed with costs, and application for condonation granted.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 138
|

|

Mahloko v Multilaterale Motorvoertuig Ongelukkefonds (A203/03) [2004] ZAFSHC 138 (30 August 2004)

IN DIE HOOGGERGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Appèl
Nr: A203/03
In
die appèl van:
SELLO EMILY
MAHLOKO
Appellant
en
MULTILATERALE
MOTORVOERTUIG
ONGELUKKEFONDS
Respondent
CORAM:
MALHERBE
RP et LOMBARD, VAN DER MERWE RR
UITSPRAAK:
VAN
DER MERWE R
AANGEHOOR OP:
30 AUGUSTUS 2004
GELEWER OP:
23
SEPTEMBER 2004
[1] Die appellant het in
die landdroshof aksie ingestel teen die respondent gegrond op die
noodlottige besering van Michilla Pape
Memane (“die oorledene”),
met wie sy ‘n deelgenoot was in ‘n gebruiklike verbinding. By
die aanvang van die verhoor in die
landdroshof het die respondent
formeel erken dat die oorledene gesterf het as regstreekse gevolg van
‘n botsing waarin hy op 22
Desember 1996 as voetganger getref is
deur ‘n motorvoertuig bestuur deur mej MP Mtimkulu (“die
bestuurder”). By ooreenkoms
tussen die partye is by die aanvang
van die verhoor gelas dat die geskilpunte met betrekking tot meriete
en
quantum
van
skade geskei word. Die gevolg van hierdie lasgewing was dat slegs
die kwessie van nalatigheid aanvanklik bereg was.
[2] Na afloop van die
verhoor op hierdie geskilpunt het die verhoorlanddros die appellant
se eis van die hand gewys met koste. Die
huidige appèl is gerig
teen hierdie uitspraak.
[3] Die appellant se
kennisgewing van appèl is nie tydig afgelewer nie en die aanvraag
van ‘n verhoordatum van die appèl en aflewering
van die oorkonde
van die appèl het ook nie tydig plaasgevind nie. Gevolglik het die
appellant in ‘n aparte kennisgewing van mosie
aansoek gedoen om
kondonasie van die gemelde nie-voldoening aan die betrokke Hofreëls.
Namens respondent is te kenne gegee dat
die aansoek om kondonasie
nie teengestaan word nie met die voorbehoud dat dit nie gesien word
as ‘n toegewing met betrekking tot
die meriete van die appèl nie.
In die omstandighede meen ek dat die aansoek om kondonasie toegestaan
behoort te word.
[4] By die verhoor het
slegs twee getuies getuig, te wete, Inspekteur GA Maklaue namens die
appellant en die bestuurder namens die
respondent.
[5] Mnr Maklaue het
getuig dat hy in diens is van die Suid-Afrikaanse Polisiediens
gestasioneer te Maokeng. Terwyl hy aldus aan diens
was gedurende die
nag van 21 en 22 Desember 1996 het hy ‘n berig ontvang van ‘n
persoon wat noodlottig beseer is op die pad wat
bekend staan as die
Smaldeel-pad. Die getuie het die Smaldeel-pad beskryf as die hoofpad
na die swart woonbuurt. Hierdie pad is
‘n teerpad wat op daardie
stadium heeltemal onverlig was en waarop geen spoedgrens van
toepassing was nie. Volgens die getuie
is sedertdien ligte
aangebring sowel as ‘n spoedgrens op die pad van toepassing gemaak.
[6] By die toneel het die
getuie die oorledene aangetref. Die oorledene het langs die pad gelê
aan die linkerkant gesien vanuit
die rigting waarin dit later geblyk
het die bestuurder onderweg was. Die oorledene was geklee in donker
kleredrag wat hom nie maklik
sigbaar sou maak nie. By die plek waar
die oorledene aangetref is, is aan die een kant van die pad plotte
geleë en aan die ander
kant ‘n woongebied wat, soos hy dit beskryf
het, egter ‘n ent ver was. Dit was donker en die polisie het van
flitse gebruik
gemaak. Alhoewel volgens die getuie baie voetgangers
van die pad gebruik maak, was daar geen voetganger-oorgange in die
nabyheid
nie. Hy het getuig dat by daardie plek gras, ± ‘n halwe
meter hoog, sowel as bome langs die pad was. Alhoewel hy getuig het
dat hierdie gras en bome nie ‘n bestuurder se uitsig op die pad
versper het nie, is geen getuienis aangebied van wat die afstand
tussen die gras en die teeroppervlakte was nie. Daar is ook nie
getuienis aangebied aangaande hoe breed die pad was of wat die aard
of breedte van enige skouer van die pad was nie.
[7] Terwyl mnr Maklaue op
die toneel was, het die bestuurder se vader daar opgedaag. Hy is
saam met die bestuurder se vader na sy
huis toe alwaar hy die
betrokke motorvoertuig inspekteer het. Hy het gevind dat die
modderskerm van die motorvoertuig beskadig was
aan die linker sykant
bokant die linker voorwiel. Ook die voorruit was aan die linkerkant
beskadig.
[8] Op ‘n latere
stadium, dit is nie duidelik wanneer nie, het hy ‘n gesprek gevoer
met die bestuurder. Die bestuurder het hom
meegedeel dat sy nie die
oorledene opgemerk het nie maar slegs ‘n stampgeluid gehoor het.
Sy het hom ook meegedeel dat omdat sy
alleen in die donker was, sy
bang was om te stop en derhalwe voortgery het. Ook is op daardie
stadium vasgestel dat sy slegs oor
‘n leerling-bestuurderslisensie
beskik het.
[9] Die bestuurder was 20
jaar oud ten tye van die botsing. Die bestuurder het getuig dat sy
om ongeveer middernag vertrek het vanaf
‘n bruilof en op die
Smaldeel pad in die rigting van Kroonstad gery het na haar ouerhuis
wat op ‘n plot geleë was. Dit was
donker. Sy het geen
voetgangers waargeneem nie. Daar is ook geen huise langs die pad
nie. Sy het getuig dat terwyl sy aldus gery
het teen ‘n snelheid
van 60 tot 65 kilometer per uur, ‘n voertuig van voor gekom het
waarvan die ligte op helder gestel was.
Sy het haar voertuig se
ligte geflikker in ‘n poging om die bestuurder van die ander
voertuig te kry om die ligte daarvan te domp
maar sonder sukses. Die
helder ligte van die aankomende voertuig het haar tot ‘n mate
verblind, as gevolg waarvan sy haar voet
van die versneller afgehaal
het. Net toe die aankomende voertuig langs haar voertuig was, het sy
‘n donker voorwerp vinnig van
links in die pad sien inkom op so ‘n
kort afstand dat dit nie moontlik was om ‘n botsing daarmee op
enige wyse te vermy nie.
Die voorwerp het die voorruit van haar
voertuig getref en aan die regterkant van haar voertuig te lande
gekom. Sy was geskok,
bang om te stop en het teruggery na die
bruilof waar haar vader was, waarna die voorval aan die polisie
gerapporteer is.
[10] Die bestuurder het
volgehou daarmee dat haar voertuig aan die regterkant voor beskadig
was asook die kantspieël aan die regterkant.
Sy het getuig dat sy
nie kan onthou dat sy met mnr Maklaue oor die aangeleentheid gepraat
het nie.
[11] Die verhoorlanddros
het nie die getuienis van die bestuurder verwerp nie. Namens die
appellant is ook nie betoog dat die getuienis
van die bestuurder
verwerplik was nie maar is aangevoer dat alhoewel haar getuienis ten
aansien van wat gebeur het totdat sy deur
die aankomende voertuig tot
‘n mate verblind is aanvaarbaar is, haar getuienis van wat daarna
gebeur het onderworpe is aan kritiek.
Ek is vir doeleindes van
beregting van die appèl bereid om in twee opsigte die getuienis
namens die appellant te aanvaar waar dit
verskil van dié van die
bestuurder. Die getuienis van mnr Maklaue dat die bestuurder hom
meegedeel het dat sy nie die persoon gesien
het voordat die botsing
plaasgevind het nie, is nie in kruisverhoor betwis nie. In lig van
die getuienis van die bestuurder dat
sy nie kan onthou dat sy met mnr
Maklaue hieroor gepraat het nie, is ek bereid om vir doeleindes
hiervan te aanvaar dat die bestuurder
nie die oorledene gesien het
voordat sy met hom in botsing gekom het nie. Die getuienis van mnr
Maklaue aangaande waar die skade
aan die voertuig was, was insgelyks
nie gedurende kruisverhoor betwis nie. Aangesien dit moontlik is dat
die bestuurder hieromtrent
verward is of fouteer, meen ek dat ook in
hierdie verband, die getuienis namens die appellant vir doeleindes
van die beregting van
die appèl aanvaar moet word.
[12] Namens die appellant
is in die eerste plek aangevoer dat die bestuurder versuim het om ‘n
behoorlike uitkyk te hou. Van die
blote feit dat die oorledene deur
die voertuig van die bestuurder getref is sonder dat die bestuurder
hom gesien het, kan in die
omstandighede van hierdie saak, nie ‘n
afleiding van kousaal verbonde nalatigheid gemaak word nie.
Gevolglik was dit vir die appellant
nodig om op ‘n oorwig van
waarskynlikhede te bewys dat die oorledene sigbaar was in die pad of
in omstandighede waarin redelikerwys
verwag kon word dat hy die pad
sou binnegaan, op ‘n tydstip toe ‘n botsing deur die uitoefening
van redelike sorg vermy kon word.
Vergelyk in hierdie verband
BOOYSEN
v AA MUTUAL INSURANCE ASSOCIATION LIMITED
1981 (1) SA 526
(K) op 529 G – H en
GUARDIAN
NATIONAL INSURANCE COMPANY LIMITED v SAAL
1993 (2) SA 161
(K) op 163.
[13] Bogemelde behels in
besonder bewys van die die posisie en optrede van die oorledene kort
voordat die botsing plaasgevind het.
Hieromtrent kan m.i. geen
bevinding op ‘n oorwig van waarskynlikhede op die getuienis gemaak
word nie. Die moontlikheid dat die
oorledene die pad onverwags
binnegekom het toe dit onmoontlik was om ‘n botsing te vermy, is
net so aanvaarbaar soos enige ander
moontlikheid. Trouens, die feit
dat die skade aan die voertuig aan die linker sykant daarvan was, is
op waarskynlikhede ‘n aanduiding
daarvan dat dit juis die geval
was. Op die retoriese vraag waarom die bestuurder die oorledene nie
betyds gesien het nie, bied
die appellant se saak m.i. geen antwoord
ander dan spekulasie nie.
[14] Dit volg dat na my
oordeel nie deur appellant bewys is dat die bestuurder in hierdie
opsig nalatig was wat kousaal aan die dood
van die oorledene verbonde
is nie. Hierdie gevolgtrekking sou myns insiens ook gemaak moes
word, indien respondent bloot sy saak
gesluit het.
[15] Dit is ook aangevoer
dat die bestuurder nalatig was deur toe sy tot ‘n mate verblind
was, te versuim om die remme van die voertuig
aan te slaan in plaas
van bloot haar voet van die petrolpedaal te lig. Soos blyk uit die
voormelde, moet aanvaar word dat die onderhawige
botsing op die oop
pad plaasgevind het. Ek meen nie dat dit redelikerwys van ‘n
bestuurder in hierdie omstandighede verwag kan
word om remme aan te
slaan telkens wanneer hy tot ‘n mate deur die ligte van ‘n
aankomende voertuig verblind word nie. In ieder
geval kan nie bevind
word dat sodanige nalatigheid kousaal verbonde is aan die dood van
die oorledene nie, anders gestel, dit is
nie op ‘n oorwig van
waarskynlikhede aangetoon dat indien remme aangeslaan is die botsing
nie sou plaasgevind het nie.
[16] Ten slotte is namens
die appellant aangevoer dat die bestuurder teen ‘n te hoë snelheid
in die omstandighede gery het. Hierdie
argument het na my oordeel
geen substansie nie. Soos gemeld, was die betrokke pad ‘n oop pad
waarop geen spoedgrens van toepassing
was nie. Die bestuurder het
beweeg teen 60 tot 65 kilometer per uur wat selfs in ‘n besige
stadsgebied gewoonlik geoorloof is.
[17] Gevolglik kan die
appèl na my oordeel nie slaag nie.
[18] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
Die aansoek om
kondonasie word toegestaan.
Die appèl word afgewys
met koste.
_________________________
C.H.G.
VAN DER MERWE, R
Ek stem saam:
__________________
J.P.
MALHERBE, RP
Ek
stem saam:
________________
D.J.
LOMBARD, R
Namens
Appellant Advokaat N Snellenburg
i.o.v.
Rosendorff
Reitz Barry
BLOEMFONTEIN
Namens
Respondent: Advokaat Le R Pohl
i.o.v.
Honey
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/ec
/ec