About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 125
|
|
Pienaar v Jacobus and Another (1634/2003) [2004] ZAFSHC 125 (26 August 2004)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak
No: 1634/2003
In
die saak tussen:
ELIZABETH
PIENAAR
Eiseres
en
WILLEM
PETRUS JACOBUS
Verweerder
LOUW
STEENKAMP
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
DER MERWE R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
17 AUGUSTUS
2004
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
26
AUGUSTUS 2004
_____________________________________________________
[1] In hierdie aksie
vorder
die eiseres betaling van skadevergoeding deur verweerder op grond
van ân voorval waartydens die eiseres deur honde gebyt
en beseer
is. Die eiseres se saak is gebaseer op die
actio
de pauperie
en in die alternatief op die
actio legis Aquiliae
.
[2] Ooreenkomstig ooreenkoms daartoe bereik tussen die
partye tydens voorverhoor samesprekings, is by die aanvang van die
verhoor
ingevolge die bepalings van Eenvormige Hofreël 33 (4)
beveel dat die geskilpunte vervat in paragrawe 7, 8, 9 en 10 van die
besonderhede
van vordering en in die ooreenstemmende paragrawe van
die verweerskrif, oorstaan vir latere beregting, indien nodig. Die
effek
van hierdie lasgewing was dat die kwessie van aanspreeklikheid
aanvanklik afsonderlik beslis moes word en dat die geskilpunte
met
betrekking tot die omvang van skadevergoeding oorstaan vir latere
beregting.
[3] Slegs die eiseres en die verweerder het getuienis
afgelê by hierdie verhoor.
[4] Die eiseres is tans 40 jaar oud. Gedurende 2002 was
sy in diens van die Departement van Waterwese en Bosbou as
Assistent Projekbestuurder.
Sy is tans steeds in diens van die
gemelde Departement maar nou as Projekbestuurder. Die verweerder
het met die eiseres kontak
gemaak met die bedoeling dat die eiseres
uit hoofde van haar gemelde diensbetrekking gif aan hom verskaf vir
die doeleindes van
bestryding van doringbome wat ân plaag geword
het.
[5] Die eiseres het getuig dat sy uit hoofde hiervan
ongeveer ân maand voor 6 Junie 2002 vir die verweerder ontmoet
het. Hierdie
ontmoeting het plaasgevind by die kantoor van
verweerder. Verweerder se kantoor was in ân buitegebou, ân
motorhuis wat omskep
is, op dieselfde erf as die huis waarin die
verweerder saam met sy eggenote en 2-jarige seuntjie gewoon het.
Die eiseres het getuig
dat hierdie erf omhein is met diamantvormige
ogiesdraad ongeveer 1.4 meter hoog. Die enigste toegang tot die erf
aan die voorkant
van die huis daarop is ân hek waardeur ân
voertuig die erf kon binne ry. Hierdie hek is ongeveer net so hoog
soos die gemelde
draadomheining om die erf en bedek met soortgelyke
ogiesdraad. Die verweerder se kantoor was geleë ongeveer 8 tot 10
meter binne
die erf min of meer in lyn met die hek.
[6] Die eiseres het getuig dat by hierdie eerste
ontmoeting, dokumentasie ingevul en onderteken is met betrekking tot
verskaffing
van die gemelde gif. Sy het getuig dat met haar aankoms
by die erf sy haar voertuig buite geparkeer het. Die voorhek het
oopgestaan
en die verweerder was buite die kantoor. Binne-in die
kantoor het die verweerder se seuntjie gespeel naby ân bruin
Boerboel
hond. Die eiseres het die seuntjie wat by die hond gespeel
het, opgetel en so op die hond gelet. Dit was een van die honde wat
haar later aangeval het. Op ân latere datum het die eiseres vir
die verweerder opgelaai en saam met hom gery na die plaas waar
die
bome bestry moes word. By daardie geleentheid het sy buite die erf
stilgehou en het die verweerder daar in die voertuig kom
klim. By
nie een van hierdie twee geleenthede het die eiseres bewus geword van
enige gevaar by die betrokke perseel van die verweerder
nie.
[7] Vroeg-oggend op 6 Junie 2002 het die eiseres
volgens haar getuienis vir die verweerder telefonies geskakel en hom
meegedeel dat
sy die gif bekom het en navraag gedoen na waar dit
afgelaai kon word. Die verweerder het vir die eiseres meegedeel dat
daar niemand
by sy huis sou wees nie en versoek dat die eiseres die
gif by die deur van sy kantoor neersit. Die eiseres het die
verweerder meegedeel
dat sy vanaf 13H30 tot 14H00 in Jacobsdal sou
wees en die gif daar sal neersit.
[8] Die betrokke dag het die eiseres saam met ene Mnr.
Solly Sumbane gery. Kort voor 14H00 het die eiseres buite die erf
van die
verweerder net links van die voorste hek stilgehou. Hierdie
hek het weer oopgestaan, dit was ongeveer ân halwe meter oop na
buitetoe,
sodat die eiseres deur die opening kon stap met die
kartondoos bevattende die gif. Die eiseres het aldus die perseel
binne gegaan,
terwyl Mnr Sumbane in die voertuig gewag het. Sy het
die kartondoos bevattende die gif gedra tot by die kantoor en naby
die deur
daarvan neergesit. Tot op daardie stadium het sy geen hond
gesien of gehoor nie. Net toe die eiseres die kartondoos klaar
neergesit
het, het sy twee Boerboele om die hoek van die huis in haar
rigting sien kom. Hierdie honde het die eiseres saam aangeval sonder
om te blaf. Die voorste hond het die eiseres omgespring, sodat sy op
die grond geval het. Een hond het haar aan die arm beetgekry
en
gesleep na die een kant toe terwyl die ander hond haar aan haar bene
beetgekry het en na die anderkant gesleep het.
So het die honde vir die eiseres heen en weer op die
grond gesleep en het altwee haar gebyt.
[9] Terwyl die eiseres so gesleep is, het sy ân
waterspreier in die hande gekry en die honde daarmee gekap.
Sodoende het sy kans
gekry om weg te kom en op Mnr. Sumbane te
skreeu om die bakkie binne die erf in te bring. Hy het so gedoen,
die eiseres het in
die bakkie ingespring en sy is reguit na ân
geneesheer geneem.
[10] Die eiseres het getuig dat sy op geen stadium ân
waarskuwingsbord op die hek waargeneem het of raakgesien het nie. Ek
het
nie die eiseres se getuienis verstaan as ân ontkenning van die
teenwoordighed van so ân waarskuwingsbord nie maar dat sy nie
van
so iets bewus geword het nie.
[11] Die verweerder het in sy getuienis tot ân baie
groot mate die getuienis van die eiseres bevestig of onbetwis gelaat.
Hy het
getuig dat die betrokke kantoor gebruik was vir die
administrasie van sy werk wat bestaan het uit die verkope van kunsmis
en saad.
Die verweerder het in getuienis verduidelik hoedat ân
reeks inbrake en diefstal by sy woning gelei het tot die aanskaf van
die
betrokke twee Boerboele as waghonde en dat dit gelei het tot ân
oplossing van die inbraak-probleem. Hy het getuig dat die betrokke
twee honde kwaai en effektiewe waghonde was, soos wat hulle bedoel
was om te wees. Volgens die verweerder was die agterplaas van
sy erf
afgespan op soortgelyke wyse as wat die erf omhein is. Die hekkie
wat toegang gegee het tot die afgespande agterplaas was
geleë naby
die agterkant van die gebou waarin die kantoor gehuisves is. Volgens
die verweerder was hierdie hek toegemaak met ân
meganisme van
staaldraad wat nie deur ân hond op enige wyse oopgemaak sou kon
word nie. Ook die voorste hek se toemaak-meganisme
was van so ân
aard dat die honde dit nie sou kon oopkry nie.
[12] Die verweerder het getuig dat nadat ân voorval
plaasgevind het waartydens ân buurman van hom beweer het dat een
van hierdie
Boerboele die buurman gebyt het, hy, voordat die eiseres
vir die eerste keer by sy perseel gekom het, ân waarskuwingsbord
aangebring
het op die toegangshek aan die voorkant van die perseel.
Aan die agterkant van die erf was ook ân bord aangebring maar dit
speel
geen rol in hierdie saak nie. Die waarskuwingsbord op die
voorste toegangshek was geel van kleur, ongeveer 30 cm. by 20 cm.
Dit
toon prominent die kop van ân Duitse Herdershond en dit bevat
die woorde âBEWAREâ, âPASOPâ en âTSHABAâ.
[13] Die verweerder se getuienis was dat hy nie die
telefoniese oproep vanaf die eiseres op die oggend van 6 Junie 2002
kon onthou
nie, maar dat hy die getuienis van die eiseres daaromtrent
nie betwis nie maar aanvaar. Hy het bygevoeg dat dit heelwaarskynlik
korrek is dat hy vir die eiseres meegedeel het om die gif by die
kantoor neer te sit. Volgens die verweerder het hy die hekkie wat
na
die agterplaas lei behoorlik toegemaak, so ook die voorste
toegangshek en vertrek. Gedurende die middag het ân persoon vanaf
die spreekkamer van die dokter waarna die eiseres was vir hom
geskakel. Hy het onmiddellik huistoe gery. Aldaar aangekom het hy
gevind dat die voorhek oopstaan sowel as die klein hekkie wat na die
agterplaas lei, maar het die twee honde in die agterplaas gelê.
Hy
het gesê dat hy hom nie kan voorstel wat gebeur het wat daartoe
gelei het dat die hekke oop was en die honde uitgekom het nie.
Hy
het egter uitdruklik bevestig dat aanvaar moet word dat hy die
eiseres gevra het of versoek het om in die erf in te kom ten einde
die gif daar af te lewer, ondanks die teenwoordigheid van die gemelde
waarskuwingsbord.
[14] Die eiseres het beide wat haar voorkoms in die
getuiebank betref en die inhoud van haar getuienis ân baie goeie
indruk op my
gemaak. In die lig daarvan verder dat haar getuienis
wesenlik onbetwis staan, het ek geen huiwering om die getuienis van
die eiseres
as die waarheid te aanvaar nie.
[15] Verweerder se getuienis aangaande dat en hoe hy
gedurende die vorige aand en op die betrokke oggend van 6 Junie 2002
die honde
in die agterplaas sou toegemaak het, was onindrukwekkend,
om die minste daarvan te sê. Daar bestaan by my ân sterk suspisie
dat
die verweerder bloot nie verseker het dat enige van die hekke
behoorlik toegemaak is nie. Vanweë die gevolgtrekking wat ek in
hierdie
saak bereik het, vind ek dit nie nodig om verder hierop in te
gaan nie. Dit dien egter gemeld te word dat ek aanvaar dat die
waarskuwingsbord
te alle tersaaklike tye op die voorste toegangshek
aangebring was soos wat die verweerder getuig het.
[16] Die skuldlose aanspreeklikheid van die eienaar van
ân huisdier of mak dier ingevolge die
actio
de pauperi
e is onlangs bevestig deur die
Hoogste Hof van Appèl in die beslissing van
LORIZA
BRAHMAN EN âN ANDER v DIPPENAAR
2002
(2) SA 477
(HHA). Die vereistes vir ân suksesvolle beroep op
hierdie aksie deur ân eiser is welbekend, naamlik dat die
verweerder die eienaar
is van die betrokke mak dier en dat die
optrede van die dier
contra naturam
sui generis
was en dus
vanweë innerlike senuweeagtigheid, of wildheid (
sponte
feritate commota
).
[17] In die onderhawige geval was dit van die begin af
gemeensaak dat die verweerder die eienaar was van die betrokke twee
Boerboele,
synde huisdiere. Namens verweerder is egter aangevoer dat
eiseres nie die
contra naturam
-vereiste
bewys het nie. In besonder is aangevoer, soos ek dit verstaan het,
dat vir die betrokke Boerboele of soortgelyke honde
dit nie
contra
naturam sui generis
is om ân persoon wat
die hond se gebied binnekom, aan te val nie maar juis
secundam
naturam sui generis
is om so te doen.
Hierdie argument kan nie aanvaar word nie. Die toets is of die
optrede van die betrokke dier ooreenstem met die
optrede wat regtens
verwag word van ân goed beheerde of goed gemanierde dier van die
betrokke soort d.w.s. honde in die algemeen.
Die toets is nie of die
dier strydig met sy eie geaardheid of normale optrede opgetree het
nie en selfs nie of sy gedrag verskil
het van gewone optrede van die
betrokke tipe hond nie. Sien in hierdie verband
LORIZA
BRAHMAN EN âN ANDER v DIPPENAAR,
supra
op 485 â 486 par. [18] en die uitsprake daarin na verwys. Sien ook
SWART v HONEYBORNE
1981 (1) SA 974
(K) op 978 C â D. Dit is myns insiens duidelik dat
aldus van ân hond verwag word om nie sonder grondige rede ân
persoon aan
te val en te byt nie. Aangesien daar in die onderhawige
saak geen sprake is van enige ander oorsaak vir die optrede van die
honde
nie, is ek tevrede dat hulle, toe hulle die eiseres aangeval
het, beide
contra naturam sui
generis
en
sponte
feritate commota
opgetree het. Dit volg dat
tensy verweerder enige van die verwere waarop hy die bewyslas dra,
bewys, die eiseres moet slaag met
die
actio de
pauperie
.
[18] Ten aansien van die verweer dat die eiseres
onregmatig op die verweerder se perseel was, is dit voldoende om te
sê dat volgens
die uitdruklike getuienis van die verweerder die
eiseres met sy toestemming en kennis op die erf was en dat sy
regmatig daar teenwoordig
was.
[19] By wyse van ân wysiging van sy verweerskrif wat
na sluiting van die eiseres se saak sonder beswaar daartoe vanaf die
kant van
die eiseres toegestaan is, het die verweerder gepleit dat
die verweerder van blaam onthef is aangesien die onderhawige
bytvoorval
te wyte is aan die blaamwaardige optrede van ân derde
persoon of persone. Tydens betoog is na my oordeel heeltemal tereg,
nie
argumente hieromtrent voorgelê nie. Die omstandighede waaronder
ân eienaar van ân dier aanspreeklikheid ingevolge die
actio
de pauperie
kan ontkom vanweë die optrede
van ân derde party, is uiteengesit in die beslissing van
LEVER
v PURDY
1993 (3) SA 17
(A). Dit bestaan
uit twee basiese kategorieë, naamlik eerstens waar ân positiewe
daad van ân derde party die oorsaak is van
die optrede van die dier
en tweedens waar ân derde party in beheer van die dier is en
nalatig versuim om ân besering deur die
dier te voorkom. Dit is
myns insiens voldoende om te sê dat daar geen getuienis hoegenaamd
deur die verweerder aangebied is waarop
hierdie verweer in enige van
die gemelde kategorieë gegrond kan word nie.
[20] Vervolgens moet oorweeg word of verweerder bewys
het dat die eiseres toegestem het tot die risiko van benadeling.
Hierdie regverdigingsgrond
verg bewys daarvan dat die eiseres
inderdaad kennis gehad het van die risiko van benadeling en
bewustelik daartoe toegestem het tot
inkorting van haar regte. Soos
reeds gemeld, moet die getuienis van die eiseres dat sy nie die
waarskuwingsbord raakgesien het nie
en dus nie bewus geword het van
die waarskuwing daarop vervat nie, aanvaar word. Sy het nie tydens
die vorige besoeke by die verweerder
se erf bewus geword van enige
risiko met betrekking tot honde nie, trouens haar ervaring was tot
die teendeel. Op die betrokke dag
het die voorste toegangshek, net
soos by die vorige geleentheid, oopgestaan. Ook het die eiseres nie
enige hond gesien of gehoor
nie. Verweerder het na my oordeel dus
geensins bewys dat die eiseres inderdaad kennis van gevaar gehad het
nie. Verder is dit myns
insiens belangrik om in gedagte te hou dat
verweerder spesifiek vir die eiseres uitgenooi of versoek het om
ondanks die waarskuwingsbord
die verweerder se erf in die afwesigheid
van enigiemand binne te gaan. Ek stem met eerbied saam met die
beslissing in
JOUBERT v COMBRINK
1980 (3) SA 680
(T) op 682 G â H dat in só ân geval ân
verweerder hom nie op die verweer van
volenti
non fit iniuria
behoort te kan beroep nie,
selfs al was die eiser bewus van die risiko van benadeling. Ek meen
dat in só ân geval die benadeelde,
alhoewel bewus van die risiko
van benadeling, nie daartoe toestem tot ontheffing van die verweerder
nie.
[21] Hier was geen sprake daarvan dat nalatigheid of
ander onbehoorlike optrede van die eiseres die oorsaak was van die
optrede van
die honde nie. Na my oordeel slaag die eiseres met haar
hoofskuldoorsaak. Gevolglik vind ek dit onnodig om te handel met
eiseres
se alternatiewe skuldoorsaak. Daar is geen rede waarom koste
nie die resultaat van hierdie verhoor moet volg nie.
[22] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Dit word bevind dat verweerder aanspreeklik is vir
vergoeding van sodanige skade as wat eiseres mag bewys sy gely
het as
gevolg daarvan dat sy deur verweerder se honde beseer is op
6 Junie 2002.
2. Verweerder word gelas om die koste van die verhoor
te betaal.
______________________
CHG
VAN DER MERWE R.
Namens
Eiseres : Adv. P.J. Loubser
i.o.v.
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens
Verweerder: Adv. L Le R Pohl
i.o.v.
Honey
en Vennote
BLOEMFONTEIN
/ec