S v Ntsane (444/2004_ [2004] ZAFSHC 44 (24 May 2004)

52 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Theft — Possession of unprocessed precious metal — Accused convicted of possession of gold-bearing material and theft — Evidence insufficient to prove theft beyond reasonable doubt — Accused found with material but denied ownership and claimed employment at a mine — Court held that conviction for theft cannot stand as evidence did not establish guilt beyond reasonable doubt — Conviction for theft set aside while conviction for possession upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 44
|

|

S v Ntsane (444/2004_ [2004] ZAFSHC 44 (24 May 2004)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening
Nr. 444/2004
In
die hersiening tussen:
DIE
STAAT
en
JOHN
NTSANE
___________________________________________________________
CORAM:
CILLIé
et
VAN
DER MERWE, RR
___________________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN DER MERWE, R
___________________________________________________________
GELEWER
OP:
24 MEI 2004
___________________________________________________________
[1] Die beskuldigde in hierdie
aangeleentheid het in die Landdroshof te Theunissen tereggestaan op
twee aanklagte. Die eerste aanklag
was een van besit van onbewerkte
edelmetaal, te wete gouddraende stof ter oortreding van die bepalings
van artikel 143(3) van die
Wet op Mynregte, Nr. 20 van 1967. Die
tweede aanklag was een van diefstal van dieselfde gouddraende stof
ter waarde van R186,57,
die eiendom of in regmatige besit van ‘n
onbekende persoon of instansie. Na ‘n verhoor is die beskuldigde
op beide aanklagte
skuldig bevind soos aangekla. Op aanklag 1 is die
beskuldigde gevonnis tot ‘n boete van R1 800,00 of nege maande
gevangenisstraf.
Op aanklag 2 is die beskuldigde gevonnis tot ses
maande gevangenisstraf. By die vonnis op aanklag 1 het die
verhoorlanddros bygevoeg:
“Art
287(11), Wet 51/77 van toepassing op klagte.”
[2] Die skuldigbevinding aan besit
van onbewerkte edelmetaal ten opsigte van aanklag 1, is myns insiens
in orde. Dieselfde geld egter
nie vir die skuldigbevinding aan
diefstal ten aansien van aanklag 2 nie. Die getuienis namens die
Staat was dat die beskuldigde
in die agterplaas van sy woning betrap
was saam met ‘n ander persoon, in die proses om die betrokke
gouddraende stof te verwerk
deur dit met ‘n stamper in ‘n
staalhouer fyn te stamp. Die enigste ander relevante bewysmaterial
voor die hof was dat die beskuldigde
gemelde optrede in sy getuienis
valslik ontken het. Volgens die getuienis van die beskuldigde, wat
nie betwis is nie, was hy werksaam
by ‘n myn, waarvan die naam nie
genoem is nie maar in ‘n stoorkamer, sodat hy nie met die goud van
daardie myn werksaam was nie.
[3] Dit is so dat ‘n persoon skuldig bevind kan word
aan diefstal van goedere waarvan die eienaar aan die aanklaer
onbekend is.
Sien artikel 84(2) van die Strafproseswet, Nr. 51 van
1977 (die “Wet”). Bewys bo redelike twyfel dat die betrokke
goedere wel
gesteel is en dat die beskuldigde dit gesteel het, is in
so ‘n geval uiteraard moeiliker as gewoonlik. In die onderhawige
geval
kan na my oordeel geensins bo redelike twyfel bevind word dat
die beskuldigde die betrokke gouddraende stof gesteel het nie. Van
die blote feit dat die beskuldigde valslik kennis van die gouddraende
stof ontken het, kan dieftige opset ook nie bo redelike twyfel
afgelei word nie. Die skuldigbevinding en vonnis op aanklag 2 moet
dus tersyde gestel word.
[4] Wat betref die verwysing na artikel 287 van die Wet
ten aansien van die vonnis op aanklag 1, verduidelik die
verhoorlanddros in
sy redes vir vonnis dat hy bedoel het om te verwys
na artikel 287(4) van die Wet en dat sy bedoeling was om ’n
lasgewing soos bedoel
in daardie artikel te maak.
[5] Artikel 287(4) van die Wet bepaal
tans soos volg:
“(4) Tensy die hof wat ‘n tydperk van gevangenisstraf as
alternatief vir ‘n boete opgelê het anders gelas het, kan die
Kommissaris
by inwerkingtreding van die alternatiewe straf of op
enige tydstip daarna, indien dit nie vyf jaar te bowe gaan nie, na
goeddunke
–
(a) optree asof die persoon gevonnis is tot gevangenisstraf soos
bedoel in artikel 276(1)(i); of
(b) ooreenkomstig die bepalings van artikel
276A(3) aansoek doen dat die vonnis deur die hof
a
quo
heroorweeg word, en daarop is die
bepalings van artikel 276A(3)
mutatis
mutandis
op so ‘n geval van
toepassing.”
[6] Artikel 287(4) verleen dus ‘n
diskresie aan ‘n hof wat gevangenisstraf as alternatief vir ‘n
boete opgelê het om te gelas
dat die Kommissaris van Korrektiewe
Dienste verbied word om by inwerkingtreding van die alternatiewe
gevangenisstraf of op enige
tydstip daarna op te tree asof die
betrokke persoon gevonnis is tot gevangenisstraf waaruit so iemand na
goeddunke deur die Kommissaris
onder korrektiewe toesig geplaas kan
word ingevolge artikel 276(1)(i) of om ooreenkomstig die bepalings
van artikel 276A(3) op grond
van die oordeel dat die beskuldigde
geskik is om aan korrektiewe toesig onderwerp te word, aansoek te
doen by die hof
a
quo
dat die vonnis
heroorweeg word. Die diskresie om ’n lasgewing ingevolge die
bepalings van artikel 287(4) van die Wet te maak,
moet uiteraard
regterlik uitgeoefen word. Dit beteken in wese dat die diskresie
uitgeoefen moet word op grond van ‘n redelike
of aanvaarbare
tersaaklike rede. Die vraag is derhalwe in die betrokke geval of
sodanige rede(s) aanwesig is waarom die beskuldigde
nie na goeddunke
van die Kommissaris ingevolge artikel 276(1)(i) van die Wet onder
korrektiewe toesig geplaas kan word nie, of waarom
die Kommissaris
nie ‘n versoek om heroorweging van vonnis op grond van geskiktheid
om aan korrektiewe toesig onderwerp te word,
mag doen nie.
[7] In sy redes bekla die verhoorlanddros hom daaroor
dat die Departement van Korrektiewe Dienste gevonnisde persone te gou
uit die
gevangenis vrylaat, volgens sy persepsie ten einde die
probleem van oorvol gevangenisse te bekamp. Daarby verklaar die
landdros
dat sy bedoeling met die beoogde lasgewing was om te sorg
dat die beskuldigde ten minste twee-derdes van die vonnis van
gevangenisstraf
moet uitdien. Dit is nie vir my duidelik hoe die
twee-derdes van die vonnis bereken is of hoe die uitdiening daarvan
bewerkstellig
sou word nie. Wat wel duidelik is, is dat die
verhoorhof in werklikheid beoog het om die vroeë vrylating van die
beskuldigde op
parool te verhoed en dat die verhoorhof vrylating op
parool gelykstel aan plasing onder korrektiewe toesig. In beide
hierdie opsigte
het die verhoorhof hom myns insiens wanvoorgelig.
[8] Hoewel geregtelike en openbare
kommer oor ongeregverdigde vrylating op parool verstaanbaar is (sien
bv.
S v BULL AND
ANOTHER; S v CHAVULLA AND OTHERS
2001 (2) SASV 681 (HHA) op 702 par [45]
),
is daar verskeie beslissings waarin dit baie duidelik gemaak word dat
howe tans (artikel 276B van die Wet het nog nie in werking
getree
nie) nie mag inmeng met die uitvoerende gesag se bevoegdheid ten
aansien van parool nie. (Sien
S
v BULL AND ANOTHER; S v CHAVULLA AND OTHERS
(
supra
)
op
694
en
S v MATLALA
2003 (1) SASV 80 (HHA) op 82 par [7]
).
Ook bly korrektiewe toesig ‘n vorm van straf en afhangende van
die voorwaardes daarvan, ‘n gevoelige straf. Die verhoorlanddros
se motivering vir ‘n lasgewing ingevolge die bepalings van artikel
287(4) van die Wet is dus nie houdbaar nie.
[9] Daar is myns insiens geen rede waarom die
onderhawige beskuldigde, indien en wanneer hy daarvoor kwalifiseer,
nie onder korrektiewe
toesig geplaas kan word of waarom die
moontlikheid van ‘n heroorweging van vonnis ingevolge artikel
276A(3) vooraf uitgesluit moet
word nie.
[10] Gevolglik word die skuldigbevinding aan diefstal op
aanklag 2 en die vonnis van ses maande gevangenisstraf op daardie
aanklag
tersyde gestel. Die verwysing na artikel 287 van Wet 51 van
1977 ten aansien van die vonnis op aanklag 1 word deurgehaal, maar
die
skuldigbevinding en vonnis ten aansien van aanklag 1 origens
bekragtig.
___________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
EK STEM SAAM
______________
C.B. CILLIé, R
/scd