Erwee NO en 'n Ander v Erwee NO en Andere (3714/2003) [2004] ZAFSHC 1; [2006] 1 All SA 626 (O) (29 January 2004)

48 Reportability
Trusts and Estates

Brief Summary

Trusts — Appointment of trustees — Dispute over validity of appointments of additional trustees — Applicants sought to set aside appointments made by the first respondent, arguing lack of authority under the trust deeds — Court examined the interpretation of clause 5.3 of the trust deeds, determining that the trust founder retained the exclusive right to appoint trustees during their lifetime, while other trustees could only nominate — Court held that the appointments made by the first respondent were invalid as they did not comply with the provisions of the trust deeds.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2004
>>
[2004] ZAFSHC 1
|

|

Erwee NO en 'n Ander v Erwee NO en Andere (3714/2003) [2004] ZAFSHC 1; [2006] 1 All SA 626 (O) (29 January 2004)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Saak
Nr. 3714/2003
In die
saak tussen:
LAMBERT HENDRIK ROUX ERWEE N.O.
Eerste Applikant
CATHARINA
MARIA SUSANNA ERWEE
Tweede Applikant
en
MAGDALENA
JOHANNA ERWEE N.O.
Eerste Respondent
MARTHINUS
JOHANNES ERWEE N.O.
Tweede Respondent
HENDRIK
BERNARDUS ERWEE N.O.
Derde Respondent
HANLIE
OLWAGE N.O.
Vierde Respondent
MARDA
MöLLER N.O.
Vyfde Respondent
DIE
MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF,
Sesde Respondent
BLOEMFONTEIN
_____________________________________________________________________
CORAM:
CILLIé,
R
_____________________________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
11 DESEMBER 2003
_____________________________________________________________________
GELEWER
OP:
29 JANUARIE 2004
_____________________________________________________________________
Hierdie is ‘n aansoek om die volgende regshulp:
“
1. Dat die
aanstelling van:
1.1 MARTHINUS JOHANNES ERWEE en
HENDRIK BERNARDUS ERWEE as bykomstige trustees van die ROUX ERWEE
TRUST nommer TMP2308; en
1.2 MARTHINUS
JOHANNES ERWEE en HENDRIK BERNARDUS ERWEE as bykomstige trustees van
die CAREN ERWEE TRUST nommer TMP2309; en
1.3 MARTHINUS
JOHANNES ERWEE, HENDRIK BERNARDUS ERWEE en HANLIE OLWAGE as
bykomstige trustees van die NARDU ERWEE TRUST nommer TMP2310;
en
1.4 MARTHINUS
JOHANNES ERWEE, HENDRIK BERNARDUS ERWEE en MARDA MOLLER as bykomstige
trustees van die MORNE ERWEE TRUST nommer TMP2311;
ter syde gestel word.
2. Dat Eerste Respondent verbied
word om bykomstige trustees aan te stel vir die:
2.1 ROUX ERWEE TRUST nommer
TMP2308; en
2.2 CAREN
ERWEE TRUST nommer TMP2309; en
2.3 NARDU
ERWEE TRUST nommer TMP2310; en
2.4 MORNE
ERWEE TRUST nommer TMP2311.
3. Dat alle
besluite wat sedert die aanstelling van die voormelde bykomstige
trustees op 30 September 2003 geneem is ten aansien van
die trusts
vermeld in paragraaf 2 hierbo, ter syde gestel word; en
4. Dat die
Tweede Respondent beveel word om die bedrag van R206 000,00, synde
die verkoopprys van die Landcruiser bedoel in paragraaf
45.1 en 46
van die Applikant se funderende beëdigde verklaring, aan die Morne
Erwee Trust, te betaal; en
5. Dat die Eerste tot die Vyfde
Respondente beveel word om ‘n staat en ‘n debat te verskaf van
alle trustbates wat sedert 30 September
2003 deur hulle verkoop is;
en
6. Dat
Applikant, nadat gevolg gegee is aan bede 5, geregtig sal wees om die
Hof op dieselfde stukke, behoorlik aangevul, te nader
vir ‘n bevel
dat die eerste tot vyfde Respondente, gesamentlik en afsonderlik, die
een betaal, die ander kwytgeskeld te word, beveel
word om die
opbrengs van die verkopings soos dit bepaal mag word op die wyse soos
in bede 5 bedoel, aan die betrokke trust(s) te
betaal.
7. Dat
die Eerste tot die Vyfde Respondente, gesamentlik en afsonderlik, die
een te betaal, die ander kwytgeskeld te word, gelas word
om die koste
van hierdie aansoek te betaal; en .....”
Vir sover daar feitegeskille op die
stukke is, is dit óf ontersaaklik tot die werklike geskil óf van
sodanige ondergeskikte belang
dat dit betekenisloos is. By die
afsluiting van die betoog deur die advokate namens die partye, is
bedes 3, 4, 5 en 6 toegestaan.
Uitspraak op bedes 1, 2 en 7 is
voorbehou. Die sukses al dan nie van die oorblywende aangevraagde
regshulp (bedes 1, 2 en 7) is
afhanklik van die uitleg van ‘n
bepaalde klousule in die tersaaklike trustaktes. Dit is die
trustaktes uiteengesit in par 2 van
die kennisgewing van mosie hierbo
aangehaal. Gemelde klousule handel met die vraag in wie die reg
setel om addisionele trustees
vir die trusts aan te stel.
Daardie klousule is in elk van die
vier trustaktes dieselfde en lees as volg:
“
5.3 Die
diensdoende trustees is geregtig om bykomstige trustees van hulle
keuse te benoem en aan te stel, onderhewig aan die volgende
beperkende bepalings:
(a) Indien enige van die eerste
trustees ‘n egpaar is, sal ‘n toekomstige gade van hulle nooit
kwalifiseer om as ‘n trustee
van die trust op te tree nie;
(b) Gedurende
sy lewe, het die trustoprigter alleenreg om trustees van sy keuse vir
die trust te benoem;
(c) Elke trustee het die reg om
opvolgende trustees by wyse van sy testament te benoem, by
ontstentenis waarvan sy/haar oudste kind
hom/haar as trustee sal
opvolg.”
Dit is gemeensaak dat die eerste applikant en die eerste
respondent voor 30 September 2003 die enigste trustees van elk van
die trusts
was. Per gewysigde magtigingsbriewe, Aanhangsels “RE21”
(p.276 van die stukke), “RE23” (p.278), “RE25” (p.280) en
“RE27”
(p.282) gedateer 30 September 2003 het die sesde
respondent egter die tweede en derde respondente in sekere van die
trusts en tweede,
derde, vierde en vyfde respondente in andere van
die trusts gemagtig om as bykomende trustees op te tree. Hierdie
magtigings is
nie deur die sesde respondent uit eie beweging uit
hoofde van die bevoegdhede hom verleen kragtens artikel 7(2) van die
Wet op Beheer
oor Trustgoed No.57 van 1988 (“die Wet”) gedoen
nie. Die magtigings is uitgereik ingevolge artikel 6(1) van die wet
nadat eerste
respondent voormelde ander respondente as mede-trustees
aangestel het en die sesde respondent versoek het om die voormelde
magtigings
ten aansien van hulle uit te reik. Dit het die eerste
respondent volgens haar gedoen “as oprigter van die trusts in terme
van
klousule 5 van die Trustaktes”.
Die kernvraag is of die tweede,
derde, vierde en vyfde respondente se aanstellings as bykomende
trustees gemagtig word deur die gesegde
klousule 5 van die
trustaktes. Namens die applikante voer mnr. Knoetze aan dat die
trustaktes nie voorsiening maak vir sodanige
aanstellings nie. Mnr.
Jordaan, namens die respondente, betoog dat die aanstellings
reëlmatig was. Die betoë verg dus ‘n uitleg
van klousule 5.3
supra
aangehaal.
Hierdie uitleg word gedoen met
uitgangspunt dat die reëls wat geld vir die uitleg van skriftelike
ooreenkomste ook van toepassing
is op trustaktes. (Vgl.
SEA
PLANT PRODUCTS LTD AND OTHERS v WATT
2000 (4) SA 711
(K)
).
Die vertrekpunt is die gewone grammatiese betekenis van
die woorde wat gebruik is gesien in die samehang van die trustakte as
geheel.
Agtergrondomstandighede kan in ag geneem word, maar slegs om
die breë konteks waarin die woorde wat staan vertolk te word,
gebruik
word. Ek aanvaar verder dat indien moontlik aan elke woord
betekenis geheg moet word op die basis dat die trustakte nie
betekenislose
woorde sal bevat nie.
Mnr. Knoetze, namens die applikante,
betoog dat in die frase “te benoem en aan te stel” soos gebruik
in die inleiding van klousule
5.3 die woorde “benoem” en “aan
te stel” nie as sinonieme nie, maar as elk met ‘n eie
afsonderlike betekenis verstaan moet
word. Saamgelees met klousule
5.3(b) beteken dit dat die trustoprigter gedurende sy lewe die
alleenreg het om trustees te “benoem”
vir “aanstelling” deur
die ander diensdoende trustees. Anders gestel: Nuwe trustees kan
alleen deur die trustoprigter voorgestel
word, maar moet steeds na
oorweging deur die ander trustees goedgekeur en dan aangestel word.
Die ander trustees het dus deurgaans
die reg om benoemings van die
trustoprigter te veto totdat ‘n aanvaarbare kandidaat deur die
trustoprigter benoem word. Na die
dood van die trustoprigter, so
betoog mnr. Knoetze, kan enige trustee egter ‘n bykomende trustee
benoem wat dan egter steeds, desnoods
deur meerderheidstem, deur die
ander trustees aangestel word. Klousule 5.3(b) is ‘n
veiligheidsmeganisme wat verseker dat gedurende
die lewe van die
trustoprigter slegs trustees aangestel word wat vir die trustoprigter
aanvaarbaar is, maar ook tegelyk die meerderheid
van die ander
trustees se goedkeuring wegdra, so lui die betoog.
Mnr. Jordaan, namens die respondente, betoog dat die
onderskeid wat ten behoewe van die applikante tussen die voormelde
woorde “benoem”
en “aan te stel” ten aansien van die reg van
diensdoende trustees soos gebruik in die inleiding van klousule 5.3
getrek word,
geforseerd en kunsmatig is. Hy betoog dat klousule
5.3(b) verstaan moet word as dat slegs die trustoprigter bykomende
trustees kan
benoem om dan deur die Meester in terme van artikel 6(1)
“aangestel” te word. Ander diensdoende trustees het gedurende
die lewe
van die trustoprigter geen rol te speel in die benoeming of
dan aanstelling van trustees nie, aldus die betoog.
Dit is doenlik om uit die staanspoor
daarop te wys dat mnr. Jordaan se benadering dat die Meester ‘n
trustee ingevolge artikel 6(1)
“aanstel” nie korrek is nie. ‘n
Trustee word ingevolge die trustdokument aangestel. Die Meester
magtig hom slegs om aldus
op te tree. In Honore:
SA
Law of Trusts
,
5de Uitg. word dit as volg op p.256 (par 158) gestel:
“
A
trustee acquires the office of trustee by appointment and acceptance
and not .... by the Master’s written authorization ....
This is
because the statute recognises the distinction between the
appointment of a trustee (which takes place in terms of the trust
instrument) and written authorization to act as a trustee (which he
derives from the Master by virtue of the statute).
”
Vergelyk
ook aangehaalde werk p.179 (par 110):
“
Despite the statutory
formulation it is clear that a trustee’s appointment derives from
the trust instrument itself and not from
the Master’s authorization
and that the authority of the trustees derives from the term of the
trust deed. This is because the
office of trustee is created by the
trust instrument and not by the Master or even the Court in filling
it.”
Dit is dus duidelik dat die begrip “aan te stel”
soos gebruik in klousule 5.3 verwys na ‘n regshandeling wat deur
die trustees
verrig moet word en nie deur die Meester soos deur mnr.
Jordaan betoog nie.
Die
vraag bly egter steeds of die woorde “benoem” en “aan te stel”
nie in elk geval as sinonieme van mekaar in klousule 5.3
gebruik word
nie. Indien dit so verstaan sou word hou dit in dat die
trustoprigter gedurende sy lewe die alleenreg sou hê om trustees
van
sy keuse “te benoem en aan te stel” soos mnr. Jordaan in elk
geval betoog.
Ek
het tot die gevolgtrekking gekom dat die begrippe nie as sinonieme in
die betrokke klousule gebruik word nie en wel vir die volgende
redes:
1. Die afwesigheid van die woorde “aan te stel” in
klousule 5.3(b) is opvallend. Indien die bedoeling was om ook “aan
te stel”
in te sluit in die alleenreg van die trustoprigter waarom
dit dan nie soortgelyk uitdruk as in die inleiding van klousule 5.3
nie?
Die weglating van “aan te stel” skep die indruk dat die
bedoeling was om die eksklusiewe aanstellingsbevoegdheid nie ook aan
die trustoprigter toe te ken nie en sy bevoegdheid te beperk tot ‘n
benoemingsbevoegdheid.
2. Klousule 5.2 skep ‘n spesiale reëling in geval
daar net een trustee oorbly. Daardie trustee het dan die bevoegdheid
om ‘n
verdere trustee “aan te stel” by ontstentenis waarvan die
ouditeur van die trust ‘n tweede trustee sal “aanstel”.
Hierdie
woordgebruik bevestig ‘n bedoeling om te onderskei tussen
die begrippe “aanstel” en “benoem”.
3. Die besondere klousule 5.3 in die
trustaktes is ‘ n woordelikse oorname van die voorbeeld wat in die
werk van P.A. Olivier:
Trustreg
en Praktyk
,
1ste Uitg., 1ste druk, p.281 weergegee word. In die Engelse weergawe
van daardie boek, naamlik
Trust
Law and Practice
word dieselfde voorbeeld op p.272 weergegee. Dit lees as volg:
“
5.3 The
trustees shall have the right to nominate and appoint additional
trustees of their own choice subject to the following conditions
:
5.3.1 ......
5.3.2 during his lifetime ....
shall have the sole right to appoint trustees of his choice to act
either as co-trustees or in his
stead.
5.3.3 ......”
Die woord “nominate” is
klaarblyklik die vertaling vir “benoem” en “appoint” vir
“aanstel”. Dit val onmiddellik op
dat in die Engelse weergawe
van die voorbeeld die trustoprigter duidelik bemagtig word met ‘n
alleenreg om “aan te stel” in
teenstelling met bloot “benoem”
soos in die Afrikaanse weergawe. Dit skep ook die indruk dat gemelde
skrywer dit as aparte begrippe
beskou. Dit word nie uit gedagte
verloor nie dat die Engelse weergawe juis voorgee om ‘n vertaling
van die Afrikaanse weergawe
te wees, maar die onderskeid in
woordgebruik is darem werklik te opvallend om bloot toevallig te
wees.
The New
Shorter Oxford English Dictionary
,
Vol.2, 1993 Uitg. definieer “nomination” as volg:
“The
action of mentioning someone or something by name”
en ook:
“
selection to go forward to
the next stage of an election process”
en “nominate” word definieer as:
“propose
or formally enter as a candidate for election”.
“
Appoint” daarenteen word definieer as:
“
come
or bring matter to a point .... agree, settle, arrange
definitely”.
Mnr. Knoetze het ook verwys na die
Woordeboek vir
die Afrikaanse Taal
,
p.31 waar vir die woord “aanstel” die volgende as voorbeeld gegee
word:
“
Hy is tot die hoof van die
skool benoem, maar nog nie aangestel nie.”
By die verklaring vir “benoem” word weliswaar gemeld
“‘n betrekking, ‘n amp opdra” maar ook: “aanwys of kies as
kandidaat”.
4. Die aanstelling van bykomende
trustees is ‘n belangrike aangeleentheid wat ingrypende gevolge vir
die trust kan inhou. Dit is
daarom te verwagte dat al die
diensdoende trustees saam oor so ‘n aanstelling sal besluit, tensy
die trustakte duidelik en ondubbelsinnig
daardie reg tot die
trustoprigter beperk. Vandaar dan ook die bepaling in klousule 8.2.2
dat as daar slegs twee trustees is, daar
‘n eenstemmige besluit van
albei van hulle moet wees.
5. Die eerste respondent self beskryf
die regshandeling wat sy verrig het as volg:
“
....
het ek as oprigter van die trusts in terme van klousule 5 van die
trustaktes verdere trustees benoem wat d
eur
die Meester aangestel en gemagtig is .....”
(Vgl. p.343)
Sy voorsien dus self ‘n onderskeid tussen die begrippe
en dat haar handeling nie ‘n aanstelling was nie en dat daardie
bevoegdheid
elders gesetel is as in haar. Soos reeds aangedui is die
opvatting dat die Meester daardie aanstelling doen foutief.
Toegepas op die feite van hierdie
geskil hou die interpretasie van klousule 5.3 van die trustaktes wat
hierbo verkies word in dat
die eerste respondent die alleenreg het om
voorstelle ten aansien van verdere trustees aan die ander
diensdoenende trustee (in hierdie
geval eerste applikant) voor te lê.
Die trustees moet dan saam besluit oor die aanstelling van verdere
trustees soos voorsien deur
klousule 8.2.2. In geval hulle nie
eenstemmig daaroor is nie tree klousule 8.3 in werking. Die eerste
respondent kon dus nie eensydig
die tweede, derde, vierde en vyfde
respondente as verdere trustees in die betrokke trusts aanstel nie.
Die Meester (sesde respondent)
se magtigings in terme van artikel
6(1) van die wet aan gemelde respondente om as trustees op te tree
was dus ook insgelyks onreëlmatig.
Mnr. Knoetze het ook betoog dat die
alleenreg tot benoeming van trustees in elk geval nie in die eerste
respondent setel nie omdat
sy nie die oprigter van die trusts is nie.
Vanweë die bevinding waartoe hierbo geraak is, is dit onnodig om
oor hierdie betoog
te beslis en sal enige bevinding in hierdie
verband bloot
obiter
wees.
Toe by die afhandeling van die betoë
van die advokate ‘n bevel in terme van bedes 3, 4, 5 en 6
supra
uiteengesit gemaak
was, is daar aangedui dat die redes daarvoor as deel van die
uitspraak op bedes 1, 2 en 7 gegee sal word. Bede
3 is op daardie
stadium reeds toegestaan omdat dit gemeensaak is dat die eerste
applikant om 18h30 op 30 September 2003 in kennis
gestel is van ‘n
vergadering van trustees wat gehou sou word op 2 Oktober 2003. ‘n
Agenda van die vergadering was ook aangeheg.
Die eerste applikant
het per skrywe gedateer 2 Oktober 2003 deur middel van sy prokureurs
die eerste respondent se prokureur in
kennis gestel dat hy nie die
vergadering sal bywoon nie vanweë onvoldoende kennisgewing. Die
vergadering het egter wel voortgegaan.
Geen notule van daardie
vergadering vorm deel van die stukke nie, maar uit die agenda en uit
die eerste applikant se weergawe (p.21)
van wat daarna plaasgevind
het is dit duidelik dat belangrike magte van die eerste applikant hom
aldaar ontneem was. Tydens toestaan
van bede 3 was ek van oordeel
dat die eerste applikant se beswaar van onvoldoende kennisgewing
geregverdig is en is die bede om daardie
rede toegestaan. Vanweë
die bevinding in hierdie uitspraak dat die aanstelling van die
bykomende trustees onreëlmatig was, was
die vergadering vanweë hul
deelname daaraan dus in elk geval ongeldig.
Bede 4 beoog die tersydestelling van ‘n besluit wat op
‘n vergadering van “trustees” gehou op 9 Oktober 2003 geneem
was.
Dit is gemeensaak dat die eerste applikant nooit eers kennis
van hierdie vergadering gegee was nie. Mnr. Jordaan, namens die
respondente,
het betoog dat sy teenwoordigheid op die vergadering in
elk geval geen effek sou gehad het nie omdat hy in die minderheid sou
wees.
Dit is ‘n onaanvaarbare siening dat ‘n trustee uitgesluit
kan word van ‘n vergadering van trustees omdat sy stem in elk geval
in die minderheid sou wees. So ‘n trustee het ten minste die reg
om sy mening daar uit te spreek vir oorweging deur die ander
trustees. Om daardie rede is bede 4 destyds toegestaan. Vanweë die
bevinding in hierdie uitspraak was die vergadering in elk geval
ongeldig vanweë tweede, derde, vierde en vyfde respondente se
deelname daaraan.
Die toestaan van bedes 5 en 6 spruit uit die feit dat
bates van die trusts deur die respondente vervreem was sonder dat
eerste applikant
hoegenaamd daarin geken was of selfs ingelig is.
Dit was klaarblyklik onreëlmatig.
Daar is geen rede waarom die kostebevel soos aangevra in
bede 7 nie die uitslag van die aansoek moet volg nie.
Bygevolg
word smeekbedes 1, 2 en 7 ook toegestaan.
______________
C.B. CILLIé, R
Namens Applikante:
Adv.
B. Knoetze
i.o.v.
Andries
Spangenberg Ingelyf
Namens 1ste tot 5de
Respondente:
Adv.
A.F. Jordaan, SC
i.o.v.
Honey
Prokureurs
/scd