IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 4455/2005
In die saak tussen:
CARLOS ALBERTO DA SILVA EN 33 ANDER Applikante
en
VRYSTAAT MIELIES (EDMS) BEPERK Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 17 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: KRUGER R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 24 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Applikante vra ‘n verklarende bevel dat applikante en
respondent ingevolge die Arbitrasiewet 42 van 1965 ‘n
ooreenkoms bereik het met betrekking tot die hou van
arbitrasieverrigtinge ten einde enige geskille tussen hulle op
te los en dat hierdie ooreenkoms steeds van krag is.
Samehangend daarmee versoek applikante ‘n bevel wat
respondent verbied om voort te gaan met die uitreik van
dagvaardings en ‘n bevel dat enige hofverrigtinge
voortspruitend uit of gebaseer op ‘n dagvaarding wat reeds
uitgereik is, opgeskort word hangende die finalisering van die
arbitrasieverrigtinge. Alternatiewelik tot hierdie bevele oor
arbitrasie vra applikante ‘n verklarende bevel dat die
skriftelike koopkontrakte wat hulle met respondent
aangegaan het, nietig verklaar word vanwe ë die vaagheid
daarvan.
[2] Applikante is graanprodusente wat kontrakte met respondent
gesluit het ingevolge waarvan hulle graan aan respondent
moet lewer.
[3] Verskeie geskille het tussen die partye ontstaan as gevolg
waarvan applikante geweier en/of versuim het om graan aan die
respondent te lewer.
[4] Die partye het toe ‘n tussentydse reëling getref wat blyk uit
aanhangsels “F” en “G” tot die stukke. Respondent se prokureur
het die volgende aanbod gemaak:
“5. Ons kliënt maak naa mlik die volgende voorstel ter skikking
van die onderhawige dispuut:
5.1 U kliënte lewer die uitstaande gedeelte van die
oeste in naam van ons kli ënt, sonder benadeling
2
van hulle regte.
5.2 Ons kliënt betaal die netto prys wat bepaal is per die portefeuljereëls
(dit wil sê volgens ons kliënt se weergawe) ten opsigte van die verdere
lewerings, in trust by ons in, hangende die beslegting van die dispuut.
5.3 Die dispute soos voorlopig blyk uit die korrespondensie en/of soos
aangevul, word besleg by wyse van summiere, informele arbitrasie.
5.4 Die arbitrasie word gedoen deur ‘n afgetrede regter.
5.5 Moontlike arbitrasie datums is 5, 6, 8, 9 en 26 September 2005.
5.6 Daar kan hierna oor die besonderhede van die
prosedure ooreengekom word.”
[5] Hierdie aanbod was vir die applikante se prokureurs
aanvaarbaar:
“2. Ons kliënte gaan akkoord met die inhoud van par. 5 van u brief
en sal voortgaan om hul mielies, onderhewig aan par. 5 van u
brief, aan u kli ënt te lewer. Ons bevestig dat die lewering van
die mielies nie geag moet word as ‘n erkenning van die
terme en voorwaardes van die betrokke
verkoopsooreenkomste, welke huidig in dispuut is nie.”
[6] Applikante se prokureurs gaan akkoord met die voorstel ten
aansien van die beregting van die aangeleentheid by wyse
van arbitrasie.
3
[7] Die tussentydse re ëling het dus behels dat applikante graan
sou lewer en dat die aangeleentheid by wyse van arbitrasie
besleg sou word.
[8] Die applikante het versuim om graan te lewer. Respondent
se prokureur het toe in ‘n brief van 5 Oktober 2005 vir
applikante se prokureurs daarop gewys dat die applikante
verplig was om graan te lewer, maar dat hulle tot op datum
versuim het om dit te doen. Applikante is aangemaan om
voor Vrydag 7 Oktober 2005 te lewer, by versuim waarvan
respondent die ooreenkoms sou kanselleer.
[9] Nadat applikante se prokureur op 7 Oktober 2005 laat weet
het dat slegs twee van die applikante nog mielies voorhande
gehad het wat gelewer kon word, het respondent se prokureur in ‘n
brief van 11 Oktober 2005 gesê dat daar uitdruklik ooreengekom
was dat die gekontrakteerde mielies gelewer moet word, wat
applikante nie gedoen het nie. Hy sê dan verder:
“Dit is dus duidelik dat u kli ënte in stryd met die tussentydse
reëlings optree en word dit derhalwe hiermee beëindig.”
[10] Respondent se saak word soos volg in Mnr. Pretorius se
betoogshoofde uiteengesit:
4
“5.7 Daar is naamlik die volgende tyssentydse reëling getref:
5.7.1 Applikante gaan voort om die graan te lewer,
sonder benadeling van regte; en
5.7.2 Die dispute voortspruitend uit die koopkontrakte
word by wyse van arbitrasie besleg.
5.8 Gemelde tussentydse re ëling is een, ondeelbare re ëling:
Die tussentydse lewering is beding, juis omdat die
arbitrasie reëling moontlik tussentydse regshulp deur die
howe mag uitgesluit het.
5.9 Die tussentydse lewering van die graan was dus wesenlik, hangende
die arbitrasie.
5.10 Op ‘n behoorlike uitleg van die skrywes en/of met inagneming van die
omringende omstandighede, moes hierdie lewering van graan onverwyld
geskied het, selfs al sou die prosedure ten opsigte van die arbitrasie nog nie
gefinaliseer gewees het nie.
5.11 Die reëlings was van toepassing op alle applikante en ongeag die
vraag of sodanige graan reeds weggelewer was.
5.12 Die versuim van applikante om die graan te lewer, het dus ‘n
verbreking van die tussentydse reëling daargestel.
5.13 Respondente was derhalwe geregtig om applikante aan te maan in
hierdie verband.
5.14 Applikante se versuim om te lewer, die ontkenning van sodanige plig
tot lewering en die bewering dat slegs twee applikante al dus verplig is, na
finalisering van die arbitrasie reëlings, stel kontrakbreuk daar, synde positiewe
5
wanprestasie en/of repudiëring.
5.15 Respondent was derhalwe geregtig om die tussentydse reëling te
kanselleer.
5.16 Die lewering en arbitrasie is onlosmaaklik deel van
dieselfde tussentydse re ëling. Die regsgeldige
beëindiging daarvan, het ook ‘n einde gebring aan die
gedeelte wat op arbitrasie betrekking het.
5.17 Hierdie geval is naamlik onderskeibaar van ‘n
sogenaamde ‘hoofkontrak’ wat bepaal dat alle dispute,
voortspruitend uit die hoofkontrak, deur arbitrasie besleg
sal word. In sodanige geval sou die kansellasie (weens
kontrakbreuk) van die hoofkontrak, nie per se ‘n einde
bring aan die arbitrasieklousule nie: Dit mag juis die tipe
dispuut wees wat die partye bedoel het, deur arbitrasie
besleg moet word.
5.18 In casu was daar voortspruitend uit die koopkontrakte
twee aspekte ter sprake: Tyssentydse beveiliging van die
graan en ‘n alternatiewe dispuutbeslegtingsmetode. As
gevolg van die arbitrasie was dit noodsaaklik om
daarmee saam , los van die hoofkontrak, re ëlings te tref
vir die tussentydse beveiling.
6
5.19 Die tussentydse beveiliging (deur ooreenkoms, aangesien die
arbitrasie regshulp deur die howe sou uitsluit), was derhalwe onlosmaaklik
verbind aan die arbitrasie reëling: Anders gestel, die arbitrasie het as
voorwaarde gehad die tussentydse beveiliging, deur dieselfde ooreenkoms.
5.20 Verbreking van die tussentydse beveiliging, welke respondent sonder
remedie deur die geregshowe sou laat indien die arbitrasiereëling steeds sou
geld, het dus tot gevolg dat die geheel van die tussentydse reëls gekanselleer
kon word.
5.21 Die arbitrasieafspraak het dus tesame met die geheel van die
tussentydse reëling verval.
5.22 Alternatiewelik behoort die Agbare Hof, in die lig van
applikante se verbreking van die tussentydse re ëling, die
diskresie ten opsigte van die afdwing van die arbitrasie
ooreenkoms teen applikante uit te oefen.”
[11] Artikel 3 van die Arbitrasiewet 42 van 1962 bepaal:
“3. Bindende krag van arbitrasieooreenkoms en
bevoegdheid van hof met betrekking daartoe. (1) Tensy
die ooreenkoms anders bepaal, kan ‘n arbitrasieooreenkoms
nie beëindig word nie behalwe met die toestemming van al die
partye daarby.
2) Die hof kan te eniger tyd op aansoek van ‘n party by ‘n
arbitrasieooreenkoms, om ‘n gegronde rede aangevoer
(a) die arbitrasieooreenkoms tersyde stel; of
7
(b) beveel dat ‘n bepaalde geskil in die arbitrasie
ooreenkoms bedoel, nie na arbitrasie verwys word
nie; of
(c) beveel dat die arbitrasieooreenkoms ophou om
van krag te wees met betrekking tot ‘n geskil wat
verwys is.”
[12] ‘n Arbitrasieooreenkoms is:
“’n Skriftelike ooreenkoms wat voorsiening maak vir die verwysing na
arbitrasie van ‘n bestaande geskil of ‘n toekomstige geskil met
betrekking tot ‘n aangeleentheid in die ooreenkoms vermeld,
hetsy ‘n arbiter daarin genoem of aangewys word al dan nie;”
[13] Mnr. Pretorius sê die normale situasie by arbitrasiereëling is
dat daar ‘n hoofkontrak is waarvan slegs een bepaling ‘n
arbitrasieklousule is. Dit is soos by die saak van GARDENS
HOTEL (PTY) LTD v SOMADEL INVESTMENTS (PTY)
LTD 1981 (3) SA 911 (W): waar die hoofkontrak in so ‘n
geval by wyse van kansellasie tot ‘n einde kom, oorleef die
arbitrasieklousule.
8
[14] Elke geval het egter sy eie feite. Hy sê hier was ‘n
koopkontrak. Dit was die hoofkontrak. Daar was geen
arbitrasieklousule in daardie kontrak nie. Toe is ‘n
tussentydse reëling getref ingevolge waarvan die graan
beveilig sou word, hangende arbitrasie. Hierdie was ‘n
tussentydse voorstel – een aanbod, een aanname. Toe
lewering nie geskied het nie, het die tussentydse re ëling tot
‘n einde gekom.
[15] Mnr. Pretorius sê die ooreenkoms tussen die partye moet
uitgelê word teen die omringende omstandighede:
1. Die wyse waarop die partye opgetree het;
2. Korrespondensie;
3. Wat was waarskynlik in die gedagte van die partye met
die aangaan van die reëling? Sien VAN DER
WESTHUIZEN v ARNOLD 2002 (6) SA 453 (HHA)
par. [13] en RANE INVESTMENTS TRUST v CIR 2003
(6) SA 332 (HHA) par. [26].
[16] Mnr. Pretorius se betoog is dat in die onderhawige geval volg
9
die dispute uit die koopkontrakte self. Dit is juis ten opsigte
van hierdie dispute dat die partye ‘n afsonderlike,
onafhanklike tussentydse re ëling getref het: Lewering van
die mielies en beslegting van die dispute deur arbitrasie. Dit
is naamlik ‘n ondeelbare kontrak waar die arbitrasie nie
afsonderlik beding is nie, maar deel vorm van die
tussentydse reëling.
Hierdie skikking is ‘n ondeelbare ooreenkoms en sou
beëindiging daarvan, ook die einde van die arbitrasie re ëling
beteken: Die arbitrasie is naamlik onafhanklik van die
koopkontrak ooreengekom en blyk dit nie van toepassing te
wees op die tussentydse lewering per se nie.
In casu is ‘n afsonderlike, ondeelbare tussentydse re ëling
getref. Kansellasie daarvan, raak beide die lewering en
arbitrasie. Daar is naamlik nie ‘n hoofkontrak met slegs een
klousule wat arbitrasie voorskryf vir alle dispute
voortspruitend uit sodanige hoofkontrak nie. In casu het die
hoofkontrak, waaruit die dispute voortspruit, geen
10
arbitrasieklousule nie. Daar is dus ‘n kontraktuele,
afsonderlike en ondeelbare re ëling getref. Applikant kan nie
eensydiglik besluit om net die dele van die tussentydse
reëling wat hulle pas (arbitrasie) af te dwing nie, en nie die
ander deel nie (lewering).
[17] Die rede waarom die respondent die tussentydse reëling
aangegaan het, blyk uit paragraaf 3 van die brief waarin die
voorstel gemaak is:
“3. Dit word bevestig dat dit in belang van kliënte is om:
3.1 Deur onderhandelings ‘n tussentydse reëling te
tref vir die beveiling van die opbrengs van die
balans mielies; en
3.2 ‘n Ooreenkoms te bereik oor spoedige, informele en summiere
dispuutbeslegting.”
[18] Mnr. Pretorius s ê die tussentydse re ëling het beide lewering
van graan en beslegting van die geskil deur arbitrasie
behels. Die graan is in trust gelewer hangende die
beslegting van die geskille. Hy s ê die tussentydse re ëling
11
bestaande eerstens uit die tussentydse lewering en
tweedens die dispuut beslegting. Dit stel een ondeelbare
reëling daar.
[19] Die fundamentele en oorheersende beginsel by die vraag na
deelbaarheid, is dat ‘n mens kyk na die waarskynlike
bedoeling van die partye. Sien SASFIN (PTY) LTD v
BEUKES 1989 (1) SA 1 (A) op 16 B.
[20] Mnr. Pretorius sê dat die voorstel wat aanvaar is, ‘n
ondeelbare tussentydse reëling daargestel het. Hy sê
tussentydse beveiliging van die graan was wesenlik en
noodsaaklik indien arbitrasie sou plaasvind. Toe applikante
die tussentydse re ëling repudieer, was respondent geregtig
om die tussentydse reëling te kanselleer.
[21] Die respondent se saak is dat toe applikante nie lewer nie,
het die hele tussentydse re ëling insluitend die verpligting tot
arbitrasie, weggeval.
12
[22] In teenstelling hiertoe, is applikante se saak dat daar ‘n
geldige arbitrasieooreenkoms tussen die partye bestaan.
Ingevolge artikel 3(1) van die Arbitrasiewet kan dit slegs
beëindig word by wyse van toestemming van al die partye
daartoe. Artikel 3(2) bepaal dat die Hof genader kan word
deur ‘n party by ‘n arbitrasieooreenkoms ten einde so ‘n
ooreenkoms tersyde te stel. Dit, s ê die applikante, is nie
gedoen nie en die respondent poog steeds nie om dit te
doen nie.
[23] Op die stukke bestaan daar ‘n geskil welke van die
applikante nog steeds mielies gehad het om te lewer op
datum toe die arbitrasieooreenkoms aangegaan is. Mnr.
Knoetze, namens applikante, wys daarop dat die arbitrasie
ooreenkoms nie onderworpe was aan die vervulling van ‘n
opskortende voorwaarde nie. Dit strook met respondent se
siening, want hy het dit as ‘n bestaande ooreenkoms gesien
welke hy gekanselleer het. Mnr. Knoetze s ê die
Arbitrasiewet gee respondente ‘n remedie ingevolge artikel
3(2), maar respondent het verkies om die Arbitrasiewet te
13
ignoreer. Daar is geen teenaansoek vir kansellasie van die
arbitrasieooreenkoms nie.
[24] Respondent se saak is dat toe applikante nie lewer nie, het
die hele tussentydse reëling weggeval.
[25] Die versuim om te lewer, het moontlik kontrakbreuk van die
tussentydse reëling daargestel, maar dit word nie deur
applikante erken nie. Die respondent se reg om die
tussentydse reëling te kanselleer, is in geskil. Daar kan dus
nie sprake wees daarvan dat hierdie ‘n geval is soos in
TURKSTRA AND ANOTHER v MASSYN 1958 (1) SA 623
(T) op 625 G H waar die partye by ooreenkoms die
arbitrasiereëling beëindig het nie.
[26] Die argument rondom deelbaarheid is in hierdie saak nie
behulpsaam nie. Selfs al aanvaar mens dat die lewering en
arbitrasieklousules ondeelbaar was, beteken dit nog nie dat
die arbitrasiereëling outomaties sou wegval as daar nie
nakoming van die leweringsreëling was nie.
14
[27] ‘n Mens moet die rede vir die aangaan van die ooreenkoms
onderskei van die vraag of een klousule van ‘n kontrak
afhanklik is van ‘n ander.
[28] Die rede waarom die respondent die tussentydse reëling
aangegaan het, was om in die tussentyd lewering te
bewerkstellig en die graan te beveilig. Die waarskynlike rede
waarom die applikante die tussentydse re ëling aangegaan
het, was om die geskil na arbitrasie te verwys.
[29] Die respondent se argument dat die arbitrasiere ëling slegs
aanvaar is omdat beveiliging van die graan daarmee sou
saamgaan, word n êrens uitdruklik vermeld in die
korrespondensie nie. Verder verloor dit artikel 21 van die
Arbitrasiewet uit die oog. Artikel 21(1)(f) bepaal dat vir
doeleindes van en met betrekking tot ‘n verwysing kragtens
‘n arbitrasieooreenkoms, het die Hof dieselfde bevoegdheid
om bevele te gee ten opsigte van tussentydse interdik of
soortgelyke verligting. Artikel 21(1)(g) maak voorsiening vir
15
‘n bevel ter versekering van die bedrag in geskil by die
verwysing. Ten spyte van die verwysing na arbitrasie, sou ‘n
Hof dus steeds ‘n tussentydse bevel ter beveiliging van die
graan kon uitreik. Die Hof sou wel ‘n bevel kon uitreik dat die
applikante nie met die graan mag handel hangende
finalisering van die arbitrasie nie, en na my mening is so ‘n
bevel gepas in die omstandighede.
[30] Die lewering en arbitrasieklousules staan beide in die
ooreenkoms. Dit word nie gesê dat arbitrasie eers sal
plaasvind nadat lewering plaasgevind het nie. Daar is geen
opskortende voorwaarde nie. Dit word ook nie ges ê dat die
arbitrasie slegs sal plaasvind nadat die graan beveilig is nie.
Partye litigeer nie noodwendig vanuit ‘n posisie van sterkte
nie. Wanneer ‘n dagvaarding uitgereik word, is daar geen
waarborg dat betaling sal kan geskied indien vonnis verkry
word nie. Die respondent het natuurlik gehoop om lewering
te verkry en so sy eis te beveilig en te versterk. Daar is geen
aanduiding dat die applikante soortgelyke gedagtes gehad
het nie. Die ooreenkoms is aangegaan met die twee
16
onafhanklike bepalings wat saamgestaan het wat moontlik
ondeelbaar is, maar die een is nie afhanklik van die ander
nie.
[31] Die betoog van Mnr. Pretorius is soortgelyk aan die betoog in
SCRIVEN BROS v RHODESIAN HIDES & PRODUCE CO.
LTD., AND OTHERS 1943 (AD) 393 op 401:
“But the heads of argument of Mr. de Villiers , who appeared for
Scrivens in this Court, make the point that the company
repudiated the contract in toto and was therefore not entitled to
avail itself of the arbitration clause, the claim and the
counterclaim going to the root of the contract. The fallacy
underlying this contention is the assumption that a repudiation of
a contract (in the sense of a refusal to continue performance
under it) by one party puts the whole contract out of existence.
It is true that a repudiation of a contract by one party may relieve
the other party of the obligation to carry out the other terms of
the contract after the date of repudiation, but the repudiation
does not destroy the efficacy of the arbitration clause. The real
object of that clause is to provide suitable machinery for the
settlement of disputes arising out of or in relation to the contract
17
and as that is its object it is reasonable to infer that both parties
to the contract intended that the clause should operate even
after the performance of the contract is at an end. If, for
example, this contract had come to an end on a date stipulated
for its termination, I do not think that it could have been
contended successfully that the arbitration clause was no longer
operative. So, too, it seems to me that when the contract is
prematurely terminated by repudiation by one of the parties, the
arbitration clause is still operative.”
[32] Hierdie is ‘n geval waar een ondeelbare ooreenkoms na
bewering verbreek is deur applikante se versuim om te
lewer. Die tussentydse reëling het effektief ‘n arbitrasie
klousule in die hoofkontrak geplaas. Die arbitrasie behels
die hoofkontrak. Die arbiter moet die geskil tussen die
partye beslis met verwysing na die hoofkontrak.
[33] Applikante is dus geregtig op ‘n verklarende bevel dat die
aangeleentheid na arbitrasie moet gaan en dat
hofverrigtinge, hangende daardie arbitrasie, opgeskort word.
[34] Hierdie gevolgtrekking maak dit onnodig om na die aspek
18
van beweerde nietigheid van die koopkontrakte te verwys.
[35] Wat koste betref, is hier nie ‘n basis vir ‘n spesiale
kostebevel nie. Die respondent het voortdurend te goeder
trou opgetree het in die veronderstelling dat die arbitrasie
weggeval het, omdat, volgens hom, die applikante nie by die
leweringsreëling gehou het nie.
[36] Die omvang van die stukke en die ingewikkeldheid van die
regspunte betrokke, regverdig wel die koste van twee
advokate.
[37] Die volgende bevel word gemaak:
37.1 ‘n Verklarende bevel word gemaak dat die applikante
en die respondent ooreenkomstig Wet 42 van 1965 ‘n
ooreenkoms bereik het met betrekking tot die hou van
arbitrasieverrigtinge ten einde enige dispute tussen
hulle op te los en dat hierdie ooreenkoms steeds van
krag is;
19
37.2 Die respondent word verbied om voort te gaan met die
uitreik van dagvaardings teen die applikante hangende
die finalisering van die arbitrasieverrigtinge tussen die
applikante en respondent;
37.3 Enige hofverrigting en/of bevel voortspruitend uit of
gebaseer op ‘n dagvaarding wat reeds sedert die
aangaan van die arbitrasieooreenkoms deur die
respondent teen enige van die applikante uitgereik is,
word opgeskort hangende die finalisering van die
voormelde arbitrasieverrigtinge;
37.4 Die respondent word gelas om sy verpligtinge
voortspruitend uit die arbitrasieooreenkoms, sonder
onredelike versuim na te kom. Die applikante word
verbied om met hulle graan wat die onderwerp van die
arbitrasie is, te handel, hangende finalisering van die
arbitrasieverrigtinge.
20
37.5 Die respondent word gelas om die koste van hierdie
aansoek te betaal insluitend die koste van twee
advokate.
____________
A. KRUGER, R
Namens die applikante: Adv. Barnard Knoetze SC
Bygestaan deur:
Adv. P. Zietsman
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. J.J. Pretorius
In opdrag van:
Horn & Van Rensburg
BLOEMFONTEIN
/sp
21