IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak nr: 1160/2005
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
TANKISO MPOLO
_____________________________________________________
CORAM: HANCKE, J et WRIGHT, J
_____________________________________________________
UITSPRAAK: WRIGHT, J
_____________________________________________________
GELEWER OP: 10 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Die beskuldigde, ‘n 41 jarige man, is skuldig bevind aan
winkeldiefstal en gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf.
[2] Hy het skuldig gepleit en vermeld dat hy nie kos het nie en
dat hy werk gesoek het. Hy het vir ‘n werknemer van Spar in
Ladybrand gevra om vir hom kos te gee aangesien hy nie werk het
nie en laasgenoemde het geantwoord dat hy moet gaan werk soek
en dat hy hom nie enige kos sal gee nie. Daarna het hy kaas en
ham ter waarde van R46,00 gesteel.
[3] Ter versagting het hy vermeld dat hy geskei is van sy vrou
en dat daar twee kinders uit die huwelik gebore is maar dat
die kinders met haar moeder saamwoon. Hy het drie jaar
laas gewerk maar is afgedank en hy doen tans stukwerk en
tuinwerk en verdien R50,00 per dag. Hy het vermeld dat hy
nie geld vir ‘n boete het nie en baie spyt is oor wat hy
gedoen het.
[4] Dit is wel so dat die beskuldigde vorige veroordelings het
onder meer twee van diefstal onderskeidelik in 2003 en
2004. Vir laasgenoemde oortreding is hy 24 maande
gevangenisstraf opgel ê maar het toe algemene amnestie
ontvang. Dit is egter nie duidelik uit die J14 vorms wat die
aard van die diefstal was wat deur hom gepleeg is nie. Dit
is ook so dat ons te doen het met ‘n misdaad wat oor die
algemeen baie voorkom in die betrokke landdroshofdistrik.
[5] Indien dit nie vir bogemelde verswarende omstandighede
gewees het nie sou ‘n algehele opgeskorte vonnis in
hierdie geval aangewese wees. In die lig van die
verswarende faktore meen ek dat die landdros nie
2
gefouteer het nie deur gevangenisstraf op te l ê nie maar
dat die vonnis nog sodanig buitensporig is dat daarmee
ingemeng behoort te word, veral in die lig van die waarde
van die gesteelde goedere en die rede vir die pleging van
die oortreding.
[6] Bygevolg word die skuldigbevinding bekragtig en die vonnis
ter syde gestel en vervang met die volgende:
6 (ses) maande gevangenisstraf. Die vonnis moet geag
word opgelê te gewees het op 23 Augustus 2005.
______________
G.F. WRIGHT, R
Ek stem saam.
________________
S.P.B. HANCKE, R
/em
3