IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Aansoek Nr. : 2658/2005
In die aansoek van:
GEORGE FREDERIK WESSELS N.O. Applikant
en
DIE MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF 1ste Respondent
BLOEMFONTEIN
FREDERIK JOHANNES THEODORUS 2de Respondent
BEZUIDENHOUT (JNR)
JACOMINA JOHANNA GROBLER 3de Respondent
JEREMIAS JACOBUS ANDRIES 4de Respondent
BEZUIDENHOUT
WILHELMINA CECILIA RAUTENBACH 5de Respondent
FREDDIE RAUTENBACH 6de Respondent
REINETTE RAUTENBACH 7de Respondent
ESMARELDA BEZUIDENHOUT 8ste Respondent
JOHANNA ELIZABETH NEL 9de Respondent
PATRICIA BEZUIDENHOUT 10de Respondent
FREDERIK BEZUIDENHOUT (JNR) 11de Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 27 OKTOBER 2005
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 10 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n aansoek en ‘n teenaansoek wat betrekking het
op die vererwing van die boedel van wyle Frederik Johannes
Theodorus Bezuidenhout (“die testateur”).
[2] Die applikant in die hoofaansoek is die eksekuteur van die
boedel van die testateur. Die testateur is oorlede op 7 Maart
2004. Die 1ste respondent is die Meester van die Ho ë Hof,
Bloemfontein. Die 2de, 3de, 4de en 5de respondente is
kinders gebore uit die huwelik tussen die testateur en sy
vooroorlede eggenote, Elizabeth Wilhelmina Bezuidenhout
(“die testatrise”). Die 6de, 7de en 8ste respondente is
kleinkinders van die testateur en die testatrise. Die 9de
respondent is ‘n vriendin van die testateur wat vermeld word
in van die ondergemelde testamentêre geskrifte van die
testateur. Die 10de respondent is die eggenote van die 2de
respondent en die 11de respondent is die seun van die 2de
respondent en die 10de respondent en dus ook ‘n kleinseun
van die testateur en testatrise. Slegs die 2de respondent en
die 3de respondent staan die aansoek van die applikant teen
en het ook die teenaansoek gebring.
2
[3] Die testateur en die testatrise was met mekaar getroud in
gemeenskap van goedere. Op 18 Januarie 2002 het die
testateur en die testatrise ‘n gesamentlike testament (“die
gesamentlike testament”) verly. Dit is nodig om die inhoud
van die gesamentlike testament hierin weer te gee:
“1.
ONS herroep hiermee alle vorige Testamente, Kodisille of ander
Aktes van Uiterste Wil deur ons gesamentlik of afsonderlik
gemaak en verklaar hierdie ons Laaste Testament te wees.
2.
ONS bemaak spesiaal die opbrengs van ons beleggings en
kontant, indien die Testateur die eerste te sterwe kom soos volg:
i) Eenderde aandeel aan ons dogter JACOMINA;
ii) Eenderde aandeel aan ons dogter MIEMIE;
iii) Eenderde aandeel verdeel te word in gelyke derde
aandele tussen ons kleinseun Frederik en ons
kleindogters REINETTE (Miemie se dogter en
ESMERALDA (Frederik se dogter);
onderhewig aan die volgende voorwaardes:
3
(a) dat die opbrengs daarvan nie uitbetaal word nie, maar
belê sal word teen die hoogs moontlike rentekoerse by ‘n
Bank of ander finansiële instelling;
(b) dat die Testatrise lewenslange Reg van Vruggebruik sal geniet op
gemelde bemaking, maar dat haar reg daarop beperk sal wees tot ‘n bedrag
van R1 000,00 (EENDUISEND RAND) per maand wat maandeliks aan haar
betaal moet word uit genoemde belegging, plus huurgelde ten opsigte van die
plase wat aan my Administrateur betaal moet word om aangewend te word vir
die losies en welstand van my nagelate eggenote;
(c) alle surplus rente sal by die kapitaal gevoeg en herbelê word, tot datum
van dood van die Testatrise wanneer die bemaking uitbetaal sal word;
3.
(a) ONS bemaak spesiaal indien die Testateur eerste te
sterwe kom aan ons kleinseun FREDDIE RAUTENBACH
al ons vaste eiendom, onderhewig aan die lewenslange
Reg van Vruggebruik van ons seun JEREMIAS ten
opsigte van die plaas WATERPLAAS, en ten opsigte
waarvan die vaste eiendom aan hom verhuur sal word
teen ‘n huurgeld van die danheersende huurprys van
soortgelyke grond, wat jaarliks deur die langslewende
bepaal en aangepas sal word, met inagneming van die
langslewende se lewensbehoeftes, en bepaal ons dat die
Testatrise sodra sy daartoe besluit het, opgeneem sal
word in ‘n ouetehuis.
Ons bepaal dat ons kleinseun FREDDIE RAUTENBACH Vruggebruik
sal geniet ten opsigte van ons woonhuis en store sodra dit beskikbaar word.
4
(b) Die Testatrise sal nie geregtig wees om afstand te doen van haar
Vruggebruik ten gunste van ons kinders of ons kleinkinders of ten behoewe
van hulle nie.
4.
ONS bemaak spesiaal aan ons kleinseun FREDDIE
RAUTENBACH alle huisraad sodra dit beskikbaar is.
5.
ELKEEN van ons kinders sal verantwoordelik wees in gelyke
dele vir boedelbelasting, indien enige.
6.
ONS bemaak spesiaal soos volg by die dood van die
langslewende:
a) AAN JACOMINA die klavier en ouma se blou borde;
b) AAN MIEMIE die 12 outydse borde en teestel;
c) AAN JEREMIAS die groot groen stoel (elektriese stoel);
d) AAN REINETTE die trousseau kis met inhoud;
e) AAN ESMERALDA die swart en wit eetstel met messe,
vurke en teelepels asook die Datsun bakkie.
7.
NA dood van die eerssterwende sal ‘n dubbelgrafsteen vir albei
die Testateure opgerig word, die koste waarvan uit ons boedel
5
betaal moet word.
8.
INDIEN die Testatrise eerste te sterwe mag kom, benoem en
stel ons hiermee aan die Testateur as die enigste erfgenaam.
9.
INDIEN die Testateur eerste te sterwe mag kom, bemaak ons
spesiaal aan ons skoondogter PATRICIA die Erf gele ë te van
Heerdenstraat, EXCELSIOR, op voorwaarde dat dit na haar
dood verkoop sal word ten behoewe van haar boedel.
10.
AS Eksekuteur van ons boedel en Administrateur vir die
uitbetaling van bogenoemde Vruggebruikgelde stel ons
hiermee aan GERT FREDERICK MEYER VAN ROOYEN en
ons stel hom vry van verpligting om enige sekuriteit te verskaf.
11.
TENSLOTTE behou ons vir onsself die reg voor om ons
Testament te enige tyd te wysig of te verander na ons
goeddunke.”
Dit blyk dat die woorde “asook die Datsun bakkie” in klousule
6(e) van die gesamentlike testament, deurgehaal is onder
6
wat voorkom die handtekeninge van die testateur en
testatrise en twee getuies te wees.
[4] Dit is gemeensaak dat na die oorlye van die testatrise, die
testateur die voordele kragtens die gesamentlike testament
aanvaar het en dat die boedel van die testatrise beredder is
ooreenkomstig die toepaslike bepalings van die
gesamentlike testament.
[5] Op 7 Mei 2003, na die oorlye van die testatrise, het die
testateur ‘n kodisil (“die eerste kodisil”) verly. Hierdie eerste kodisil
bepaal soos volg:
“EK, die ondergetekende
FREDERIK JOHANNES THEODORUS BEZUIDENHOUT
Maak hiermee hierdie KODISIL wat deel sal vorm van my
Testament gedateer 18 JANUARIE 2002.
1.
DIE bemaking in terme van Klousule 3(a) is verder onderhewig
aan die bepaling dat my kleinseun, FREDDIE maandeliks ‘n
bedrag van R1 000,00 (EENDUISEND RAND) sal betaal aan
7
JOHANNA NEL, vanaf datum van my afsterwe tot datum van
haar afsterwe.
2.
DIE res van my Testament bly onveranderd.”
[6] Op 11 Junie 2003 het die testateur ‘n verdere kodisil (“die
tweede kodisil”) verly. In die tweede kodisil het die testateur
net soos in die eerste kodisil verklaar dat die tweede kodisil
‘n deel sal vorm van sy testament gedateer 18 Januarie
2002, dit wil s ê verwysende na die gesamentlike testament.
Vervolgens is aan die 9de respondent spesiaal ‘n Datsun
motorvoertuig en ‘n televisie stel bemaak en is paragraaf 2
van die tweede kodisil identies aan die tweede paragraaf van
die eerste kodisil.
[7] Dit blyk uit die stukke dat die testateur op 11 Junie 2003 ook
‘n verdere kodisil (“die derde kodisil”) verly het. Dit blyk uit
die inhoud daarvan dat dit verly moes gewees het na die
tweede kodisil. Die getuienis dat die testateur inderdaad die
derde kodisil verly het, is onbetwis. Na die oorlye van die
8
testateur kon die oorspronklike van die derde kodisil egter
nie gevind word nie en is die partye wat voor my
verteenwoordig is, dit eens dat die 1ste respondent tereg die
derde kodisil verwerp het. Die inhoud van die derde kodisil
is die volgende:
“1.
EK, synde die enigste erfgenaam kragtens die gesamentlike
Testament gedateer 18 JANUARIE 2002 bepaal dat alle
bemakings en voorwaardes van gemelde Testament mutatis
mutandis onmiddellik van krag sal word en van toepassing wees
by my afsterwe behalwe dat my seun JEREMIAS vruggebruik
sal geniet ten opsigte van al die vaste eiendom insluitend die
woonhuis en store en ek bepaal dat al die vaste eiendom aan
my seun JEREMIAS verhuur sal word deur my kleinseun
FREDDIE teen ‘n huurgeld van die danheersende huurprys van
soortgelyke grond wat deur my Eksekuteur bepaal sal word en
mettertyd aangepas sal word soos van tyd tot tyd van
toepassing. Ek bepaal verder dat ek hiermee benoem my seun
JEREMIAS as die enigste erfgenaam van die restant van my
boedel insluitende die huisraad en herroep ek hiermee die
bepaling ten opsigte van die vruggebruik van die woonhuis en
9
store.
2.
VERDER bevestig ek die bepalings van my Kodisille van 7 Mei
en 11 Junie 2003.”
[8] Die wesenlike regshulp wat deur die applikant aangevra
word, is ‘n bevel wat verklaar dat die gesamentlike testament
saamgelees met die eerste en tweede kodisille, die
testament van die testateur is. Die grondslag vir die
regshulp is dat die testateur se testament van 18 Januarie
2002 bly voortbestaan het en deur die kodisille gewysig is,
alternatiewelik dit herleef het of by verwysing inkorporeer is.
Geen regshulp is gegrond op die bepalings van artikel 2(3)
van die Wet op Testamente, Nr. 7 van 1953, nie. In die
teenaansoek word gevra vir ‘n bevel wat verklaar dat die
boedel van die testateur intestaat vererf, alternatiewelik ‘n
verklarende bevel dat behalwe vir die bemakings vervat in
klousules 4 en 6 van die gesamentlike testament, die
testateur se boedel intestaat vererf.
[9] Na my oordeel is die eerste vraag wat beantwoord moet
10
word of die bemakings en bepalings wat deur die testateur in
die gesamentlike testament gemaak is, by die afsterwe van
die testatrise verval het of nie, en indien dit wel verval het,
wat die effek daarvan is.
[10] In beginsel moet ‘n gesamentlike testament van eggenote,
soos die gesamentlike testament in hierdie geval, beskou en
gelees word as twee afsonderlike testamente vervat in een
dokument. Elkeen van die eggenote kan te enige tyd en
sonder die kennis of toestemming van die ander, sy of haar
gedeelte van die gesamentlike testament wysig of herroep,
behalwe in gevalle waar daar boedelsamesmelting
plaasgevind het en die langslewende ‘n voordeel kragtens
die testament van die eerssterwende aanvaar het. Dan is
die langslewende gebonde aan die bepalings van die
testament met betrekking tot die saamgesmelte boedel. Die
partye wat voor my verteenwoordig was, is dit eens dat geen
boedelsamesmelting by die afsterwe van die testatrise
plaasgevind het nie. Ek stem saam. Teen die agtergrond
van die vermoede teen boedelsamesmelting, moet klousule
11
8 van die gesamentlike testament myns insiens uitgel ê word
as slegs ‘n beskikking oor die testatrise se halwe aandeel in
die gemeenskaplike boedel. Insgelyks meen ek nie dat
klousules 4 en 6 van die gesamentlike testament enigsins
gedeeltelike boedelsamesmelting daarstel nie. Myns insiens
moet die gesamentlike testament uitgelê word as dat
klousules 4 en 6 van die gesamentlike testament, soos ook
klousules 1, 7, 10 en 11 daarvan, ‘n deel uitmaak van die
testament van elkeen van die testateur en die testatrise en
dat daarkragtens die bemaking van die eerssterwende
onderworpe gestel word aan ‘n modus. Adiasie in so ‘n
geval lei nie tot boedelsamesmelting nie. Sien RHODE v
STUBBS 2005 (5) SA 104 (HHA) op 109 F – H.
[11] Dit is myns insiens baie duidelik dat elk van die gedeeltes
van die gesamentlike testament wat die afsonderlike
testamente van die testateur en die testatrise onderskeidelik
daargestel het, onderhewig was daaraan dat die testateur en
die testatrise onderskeidelik die eerssterwende sou wees. In
ESTATE COATON v THE MASTER 1915 CPD 318 op 325
12
is bevind dat in so ‘n geval waar die testament van ‘n
testateur onderhewig is daarvan dat hy die eerssterwende is,
sy testament verval indien hy nie die eerssterwende is nie en
dat hy intestaat sterf indien hy nie ‘n verdere testament sou
maak nie. Hierdie beslissing is nagevolg in ‘n beslissing in
hierdie Hof, te wete EX PARTE WESSELS, NO AND
LUBBE 1954 (2) SA 225 (O) op 229. Sien ook Corbett,
Hofmeyr & Kahn, The Law of Succession in South Africa,
Tweede Uitgawe p. 439 en The Law of South Africa,
Volume 31, Eerste Herdruk p. 241 para. 362. Ek meen met
eerbied dat bogemelde beslissings nagevolg moet word. Die
redenasie daarin vervat kom vir my suiwer voor. Blykens die
woorde wat die testateur gebruik het, was sy bedoeling dat
sy testament vervat in die gesamentlike testament geld
indien hy voor die testatrise te sterwe sou kom; so nie, is dit
‘n ander saak. Dit volg dat tensy die testateur se testament
soos vervat in die gesamentlike testament by wyse van die
eerste kodisil of tweede kodisil herleef het of tensy dit geldig
by die eerste en/of tweede kodisil deur verwysing
geïnkorporeer is, soos wat aangevoer is, die testateur
13
intestaat gesterf het, behoudens moontlik klousules 4 en 6
van die gesamentlike testament.
[12] In MOSES v ABINADER 1951 (4) SA 537 (A) het Schreiner
AR tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n herroepe testament
kan herleef by wyse van ‘n daaropvolgende testament êre
geskrif tot daardie effek, onderworpe natuurlik daaraan dat
die daaropvolgende testamentêre geskrif self behoorlik verly
is. Van den Heever AR het in dieselfde beslissing tot die
gevolgtrekking gekom dat herlewing van ‘n testament ‘n
beginsel van die Engelse reg is wat onbestaanbaar is met
die SuidAfrikaanse reg. Greenberg AR, met wie Fagan AR
saamgestem het en Hoexter AR het dit onnodig gevind om
hieroor ‘n beslissing te maak. Dit kom voor dat die
meerderheid van skrywers die standpunt van Schreiner AR
ondersteun. Sien byvoorbeeld Corbett, Hofmeyr & Kahn,
supra, p. 111 en Van der Merwe & Rowland, Die Suid
Afrikaanse Erfreg , Sesde Uitgawe, p. 203 – 204. Ek sal
dus vir doeleindes hiervan aanvaar dat die vervalle
testament van die testateur soos vervat in die gesamentlike
14
testament, regtens wel sou kon herleef.
[13] ‘n Meerderheid van die Regters in MOSES v ABINADER ,
supra, te wete Schreiner AR, Van den Heever AR en
Hoexter AR, het tot die gevolgtrekking gekom dat as gevolg
van die formele geldigheidsvereistes vir ‘n testament soos
vervat in die destydse Transvaalse Ordonnansie, Nr. 14 van
1903, inkorporering by wyse van verwysing (“incorporation
by reference”) van ‘n vorige herroepe testament van ‘n
testateur in ‘n latere testament, nie moontlik is nie. In
ESTATE ORPEN v ESTATE ATKINSON AND OTHERS
1966 (2) SA 639 (K) op 644 – 645 is dieselfde beslis met
betrekking tot die Wet op Testamente, Nr. 7 van 1953. Sien
ook Corbett, Hofmeyr & Kahn, supra p. 67. Die partye voor
my het dit by ooreenkoms op rekord gestel dat dieselfde
getuies die gesamentlike testament, die eerste kodisil en die
tweede kodisil onderteken het. Deur die wysiging van artikel
2(1)(a)(iv) van die Wet op Testamente, Nr 7 van 1953 deur
Wet 43 van 1992, is weggedoen met die vereiste dat elke
ander bladsy as die bladsy waarop ‘n testament eindig ook
15
deur die getuies bedoel in artikel 2(1)(a)(ii) en 2(1)(a)(iii) van
Wet Nr. 7 van 1953 onderteken moet word. Die behoud van
die woorde “ook aldus onderteken” in artikel 2(1)(a)(iv)
(Engels: “also so signed”) dui daarop dat dit steeds vereis
word dat die handtekening van die testateur op elke ander
bladsy dan die bladsy waarop die testament eindig,
aangebring of erken moet word in die gelyktydige
teenwoordigheid van dieselfde getuies as wat sy
handtekening op die laaste bladsy attesteer het. Sien THE
LEPROSY MISSION AND OTHERS v THE MASTER OF
THE SUPREME COURT AND ANOTHER, NO 1972 (4) SA
173 (K). Sou die gesamentlike testament in die onderhawige
geval beskou word as geïnkorporeer by die eerste kodisil en/
of tweede kodisil, sou elke bladsy van die geïntegreerde
dokument onderteken wees deur die testateur in
teenwoordigheid van dieselfde getuies wat gelyktydig met
mekaar teenwoordig was, maar nie by dieselfde geleentheid
nie. In ARENDSE v THE MASTER AND OTHERS 1973 (3)
SA 333 (K) is tot die gevolgtrekking gekom dat die unus
contextus reël nie deel van ons reg vorm nie. Sien ook VAN
16
HUYSSTEEN v DIE MEESTER 1975 (4) SA 449 (W) op 451
G – H. Op hierdie basis is dit na my mening tans ‘n ope
vraag of die beslissing van die meerderheid in MOSES v
ABINADER, supra teen inlywing deur verwysing, in alle
gevalle tans steeds geldend is. Vanwe ë die gevolgtrekking
wat ek op die feite bereik het, soos hieronder uiteengesit, ag
ek dit nie nodig om verder hierin op hierdie aspek in te gaan
nie.
[14] Dit is vanselfsprekend dat die bedoeling van die testateur
bepaal moet word aan die hand van die woorde wat in die
eerste kodisil en die tweede kodisil gebruik is. So gesien, is
elk van die eerste kodisil en die tweede kodisil gemaak op
aanvaarding daarvan dat die testateur se testament van 18
Januarie 2002, dit wil s ê soos vervat in die gesamentlike
testament, steeds voortbestaan. Voorts word in elk van die
eerste kodisil en die tweede kodisil niks anders gepoog dan
om die testateur se gemelde testament te wysig nie. In elke
geval word gepoog om die vorige testament te wysig deur
aanvulling daartoe te maak. In die eerste kodisil geskied dit
17
deur die invoeging van ‘n verdere bepaling ingevolge
waarvan die bemaking in terme van klousule 3(a) van die
gesamentlike testament onderhewig gestel word en in die
tweede kodisil deur ‘n verdere spesiale bemaking. Die
erkenning van die voortbestaan van ‘n vorige testament is
strydig met ‘n bedoeling om dit wat nie meer bestaan nie, te
laat herleef. Insgelyks is in terme van die inhoud van elk van
die kodisille nie net iets daarby geïnkorporeer nie, maar
eintlik die teenoorgestelde gedoen, naamlik die wysiging of
aanvulling van iets daarbuite, te wete die gesamentlike
testament.
[15] Ek word in hierdie gevolgtrekking versterk deur die bepalings
van die derde kodisil. In die derde kodisil is van uitdruklike
bewoording gebruik gemaak om ‘n bedoeling van herlewing
of inlywing weer te gee. Die afwesigheid van sodanige
uitdruklike bepaling in die eerste kodisil wat kort tevore verly
is en die tweede kodisil wat op dieselfde dag verly is, is na
my mening gevolglik bevestigend van die afwesigheid van ‘n
bedoeling van herlewing of inkorpering van die bepalings van
18
‘n vervalle testament.
[16] Na my mening het n g die eerste kodisil n g die tweedeό ό
kodisil derhalwe kragtens die bewoording daarvan die
testateur se testament soos vervat in die gesamentlike
testament laat herleef of daarby geïnkorporeer. Sien in
hierdie verband MOSES v ABINADER, supra op 542 C – G,
545 A – D en 547 H. Dit volg dat die applikant se aansoek
na my oordeel moet misluk.
[17] Klousule 4 van die gesamentlike testament moet, myns
insiens, soos klousule 6 daarvan uitdruklik bepaal, uitgel ê
word om te beteken dat dit ‘n bepaling van die testament van
die testatrise was dat die bemaking wat die testateur
aanvaar het, onderworpe daaraan was dat die betrokke
huisraad na die 6de respondent moet gaan by die afsterwe
van die langslewende. Ondanks die feit dat daar nie
boedelsamesmelting was nie, is die testateur gebonde om
uitvoering daaraan te gee. Sien Corbett, Hofmeyr & Kahn,
supra p. 444.
19
[18] Die partye was dit voor my eens dat ongeag die resultaat
van die aansoek en die teenaansoek, die koste daarvan uit
die boedel van die testateur betaal moet word. Ek meen dat
dit billik is om dit so te doen.
[19] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Die hoofaansoek word van die hand gewys.
2. Dit word verklaar dat behoudens die bepalings vervat
in klousule 4 en klousule 6 van die testament gedateer
18 Januarie 2002, die boedel van Frederik Johannes
Theodorus Bezuidenhout (oorlede op 7 Maart 2004),
intestaat moet vererf.
3. Die koste van die aansoek en die teenaansoek moet
betaal word uit die boedel van gemelde Frederik
Johannes Theodorus Bezuidenhout.
20
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die applikant: Adv. J.P. de Bruin SC
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens die 2de en 3de respondente: Adv. P. Zietsman
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
/sp
21