Wessels N.O v Meester van die Hooggeregshof- Bloemfontein and Others (2658/2005) [2005] ZAFSHC 147 (10 November 2005)

58 Reportability
Trusts and Estates

Brief Summary

Succession — Testamentary provisions — Joint will and codicils — Dispute regarding validity and effect of codicils on joint will — Testator's intention to maintain joint will after spouse's death — Codicils interpreted as amendments rather than revocations — Court held that joint will remains valid and intestate succession applies to estate, except for specific bequests in the will.

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID­AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Aansoek Nr. : 2658/2005
In die aansoek van:
GEORGE FREDERIK WESSELS N.O. Applikant
en
DIE MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF 1ste Respondent
BLOEMFONTEIN
FREDERIK JOHANNES THEODORUS 2de Respondent
BEZUIDENHOUT (JNR)
JACOMINA JOHANNA GROBLER 3de Respondent
JEREMIAS JACOBUS ANDRIES 4de Respondent
BEZUIDENHOUT
WILHELMINA CECILIA RAUTENBACH 5de Respondent
FREDDIE RAUTENBACH 6de Respondent
REINETTE RAUTENBACH 7de Respondent
ESMARELDA BEZUIDENHOUT 8ste Respondent
JOHANNA ELIZABETH NEL 9de Respondent
PATRICIA BEZUIDENHOUT 10de Respondent
FREDERIK BEZUIDENHOUT (JNR) 11de Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 27 OKTOBER 2005
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 10 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n aansoek en ‘n teenaansoek wat betrekking het  
op die vererwing van die boedel van wyle Frederik Johannes  
Theodorus Bezuidenhout (“die testateur”).
[2] Die applikant in die hoofaansoek is die eksekuteur van die  
boedel van die testateur.  Die testateur is oorlede op 7 Maart  
2004.  Die 1ste respondent is die Meester van die Ho ë Hof, 
Bloemfontein.   Die 2de, 3de, 4de en 5de respondente  is  
kinders gebore uit die huwelik tussen die testateur en sy  
vooroorlede   eggenote,   Elizabeth   Wilhelmina   Bezuidenhout 
(“die   testatrise”).     Die   6de,   7de   en   8ste   respondente   is 
kleinkinders   van   die   testateur   en   die   testatrise.     Die   9de 
respondent is ‘n vriendin van die testateur wat vermeld word  
in   van   die   ondergemelde   testamentêre   geskrifte   van   die 
testateur.  Die 10de respondent is die eggenote van die 2de  
respondent en die 11de respondent is die seun van die 2de  
respondent en die 10de respondent en dus ook ‘n kleinseun  
van die testateur en testatrise.  Slegs die 2de respondent en  
die 3de respondent staan die aansoek van die applikant teen 
en het ook die teenaansoek gebring.
2
[3] Die testateur en die testatrise was met mekaar getroud in  
gemeenskap van goedere.   Op 18 Januarie 2002 het die  
testateur en die testatrise ‘n gesamentlike testament (“die  
gesamentlike testament”) verly.  Dit is nodig om die inhoud  
van die gesamentlike testament hierin weer te gee:
“1.
ONS herroep hiermee alle vorige Testamente, Kodisille of ander  
Aktes   van   Uiterste   Wil   deur   ons   gesamentlik   of   afsonderlik 
gemaak en verklaar hierdie ons Laaste Testament te wees.
2.
ONS   bemaak   spesiaal   die   opbrengs   van   ons   beleggings   en 
kontant, indien die Testateur die eerste te sterwe kom soos volg:
i) Een­derde aandeel aan ons dogter JACOMINA;
ii) Een­derde aandeel aan ons dogter MIEMIE;
iii) Een­derde   aandeel   verdeel   te   word   in   gelyke   derde­
aandele   tussen   ons   kleinseun   Frederik   en   ons  
kleindogters   REINETTE   (Miemie   se   dogter   en  
ESMERALDA (Frederik se dogter);
onderhewig aan die volgende voorwaardes:
3
(a) dat die opbrengs daarvan nie uitbetaal word nie, maar  
belê sal word teen die hoogs moontlike rentekoerse by ‘n  
Bank of ander finansiële instelling;
(b) dat die Testatrise lewenslange Reg van Vruggebruik sal geniet op 
gemelde bemaking, maar dat haar reg daarop beperk sal wees tot ‘n bedrag 
van R1 000,00 (EENDUISEND RAND) per maand wat maandeliks aan haar 
betaal moet word uit genoemde belegging, plus huurgelde ten opsigte van die 
plase wat aan my Administrateur betaal moet word om aangewend te word vir 
die losies en welstand van my nagelate eggenote;
(c) alle surplus rente sal by die kapitaal gevoeg en herbelê word, tot datum 
van dood van die Testatrise wanneer die bemaking uitbetaal sal word;
3.
(a) ONS   bemaak   spesiaal   indien   die   Testateur   eerste   te 
sterwe kom aan ons kleinseun FREDDIE RAUTENBACH  
al ons vaste eiendom, onderhewig aan die lewenslange  
Reg   van   Vruggebruik   van   ons   seun   JEREMIAS   ten 
opsigte   van   die   plaas   WATERPLAAS,   en   ten   opsigte 
waarvan die vaste eiendom aan hom verhuur sal word  
teen  ‘n  huurgeld  van  die   dan­heersende   huurprys  van 
soortgelyke   grond,   wat   jaarliks   deur   die   langslewende 
bepaal en aangepas sal word, met inagneming van die  
langslewende se lewensbehoeftes, en bepaal ons dat die  
Testatrise  sodra sy  daartoe besluit het, opgeneem sal  
word in ‘n ouetehuis.
Ons bepaal dat ons kleinseun FREDDIE RAUTENBACH Vruggebruik 
sal geniet ten opsigte van ons woonhuis en store sodra dit beskikbaar word.
4
(b) Die Testatrise sal nie geregtig wees om afstand te doen van haar 
Vruggebruik ten gunste van ons kinders of ons kleinkinders of ten behoewe 
van hulle nie.
4.
ONS   bemaak   spesiaal   aan   ons   kleinseun   FREDDIE  
RAUTENBACH alle huisraad sodra dit beskikbaar is.
5.
ELKEEN van ons kinders sal verantwoordelik wees in gelyke  
dele vir boedelbelasting, indien enige.
6.
ONS   bemaak   spesiaal   soos   volg   by   die   dood   van   die  
langslewende:
a) AAN JACOMINA die klavier en ouma se blou borde;
b) AAN MIEMIE die 12 outydse borde en teestel;
c) AAN JEREMIAS die groot groen stoel (elektriese stoel);
d) AAN REINETTE die trousseau kis met inhoud;
e) AAN ESMERALDA die swart en wit eetstel met messe,  
vurke en teelepels asook die Datsun bakkie.
7.
NA dood van die eerssterwende sal ‘n dubbelgrafsteen vir albei  
die Testateure opgerig word, die koste waarvan uit ons boedel  
5
betaal moet word.
8.
INDIEN die Testatrise eerste te sterwe mag kom, benoem en  
stel ons hiermee aan die Testateur as die enigste erfgenaam.
9.
INDIEN die Testateur eerste te sterwe mag kom, bemaak ons  
spesiaal aan ons skoondogter PATRICIA die Erf gele ë te van  
Heerdenstraat,   EXCELSIOR,   op   voorwaarde   dat   dit   na   haar 
dood verkoop sal word ten behoewe van haar boedel.
10.
AS   Eksekuteur   van   ons   boedel   en   Administrateur   vir   die 
uitbetaling   van   bogenoemde   Vruggebruik­gelde   stel   ons  
hiermee aan GERT FREDERICK MEYER VAN ROOYEN en  
ons stel hom vry van verpligting om enige sekuriteit te verskaf.
11.
TENSLOTTE   behou   ons   vir   onsself   die   reg   voor   om   ons 
Testament   te   enige   tyd   te   wysig   of   te   verander   na   ons 
goeddunke.”
Dit blyk dat die woorde “asook die Datsun bakkie” in klousule 
6(e) van die gesamentlike testament, deurgehaal is onder  
6
wat   voorkom   die   handtekeninge   van   die   testateur   en 
testatrise en twee getuies te wees.
[4] Dit is gemeensaak dat na die oorlye van die testatrise, die  
testateur die voordele kragtens die gesamentlike testament  
aanvaar het en dat die boedel van die testatrise beredder is  
ooreenkomstig   die   toepaslike   bepalings   van   die  
gesamentlike testament.
[5] Op 7 Mei 2003, na die oorlye van die testatrise, het die 
testateur ‘n kodisil (“die eerste kodisil”) verly.  Hierdie eerste kodisil 
bepaal soos volg:
“EK, die ondergetekende
FREDERIK JOHANNES THEODORUS BEZUIDENHOUT
Maak   hiermee   hierdie   KODISIL   wat   deel   sal   vorm   van   my 
Testament gedateer 18 JANUARIE 2002.
1.
DIE bemaking in terme van Klousule 3(a) is verder onderhewig  
aan  die  bepaling   dat  my  kleinseun,  FREDDIE   maandeliks  ‘n 
bedrag van R1 000,00 (EENDUISEND RAND) sal betaal aan  
7
JOHANNA NEL, vanaf datum van my afsterwe tot datum van  
haar afsterwe.
2.
DIE res van my Testament bly onveranderd.”
[6] Op 11 Junie 2003 het die testateur ‘n verdere kodisil (“die  
tweede kodisil”) verly.  In die tweede kodisil het die testateur  
net soos in die eerste kodisil verklaar dat die tweede kodisil  
‘n   deel   sal   vorm   van   sy   testament   gedateer   18   Januarie 
2002, dit wil s ê verwysende na die gesamentlike testament.  
Vervolgens is aan die 9de respondent spesiaal ‘n Datsun  
motorvoertuig en ‘n televisie stel bemaak en is paragraaf 2  
van die tweede kodisil identies aan die tweede paragraaf van 
die eerste kodisil.
[7] Dit blyk uit die stukke dat die testateur op 11 Junie 2003 ook  
‘n verdere kodisil (“die derde kodisil”) verly het.  Dit blyk uit  
die inhoud daarvan dat dit verly moes gewees het na die  
tweede kodisil.  Die getuienis dat die testateur inderdaad die  
derde kodisil verly het, is onbetwis.   Na die oorlye van die  
8
testateur kon die oorspronklike van die derde kodisil egter  
nie   gevind   word   nie   en   is   die   partye   wat   voor   my  
verteenwoordig is, dit eens dat die 1ste respondent tereg die  
derde kodisil verwerp het.  Die inhoud van die derde kodisil  
is die volgende:
“1.
EK,   synde   die   enigste   erfgenaam   kragtens   die   gesamentlike 
Testament   gedateer   18   JANUARIE   2002     bepaal   dat   alle 
bemakings   en   voorwaardes   van   gemelde   Testament   mutatis 
mutandis onmiddellik van krag sal word en van toepassing wees  
by my afsterwe behalwe dat my seun JEREMIAS vruggebruik  
sal geniet ten opsigte van al die vaste eiendom insluitend die  
woonhuis en store en ek bepaal dat al die vaste eiendom aan  
my   seun   JEREMIAS   verhuur   sal   word   deur   my   kleinseun 
FREDDIE teen ‘n huurgeld van die dan­heersende huurprys van  
soortgelyke grond wat deur my Eksekuteur bepaal sal word en  
mettertyd   aangepas   sal   word   soos   van   tyd   tot   tyd   van 
toepassing.  Ek bepaal verder dat ek hiermee benoem my seun  
JEREMIAS as die enigste erfgenaam van die restant van my  
boedel   insluitende   die   huisraad   en   herroep   ek   hiermee   die 
bepaling ten opsigte van die vruggebruik van die woonhuis en  
9
store.
2.
VERDER bevestig ek die bepalings van my Kodisille van 7 Mei  
en 11 Junie 2003.”
[8] Die   wesenlike   regshulp   wat   deur   die   applikant   aangevra 
word, is ‘n bevel wat verklaar dat die gesamentlike testament 
saamgelees   met   die   eerste   en   tweede   kodisille,   die  
testament   van   die   testateur   is.     Die   grondslag   vir   die 
regshulp is dat die testateur se testament van 18 Januarie  
2002 bly voortbestaan het en deur die kodisille gewysig is,  
alternatiewelik dit herleef het of by verwysing inkorporeer is.  
Geen regshulp is gegrond op die bepalings van artikel 2(3)  
van die Wet op Testamente, Nr. 7 van 1953, nie.   In die  
teenaansoek word gevra vir ‘n bevel wat verklaar dat die  
boedel van die testateur intestaat vererf, alternatiewelik ‘n  
verklarende bevel dat behalwe vir die bemakings vervat in  
klousules   4   en   6   van   die   gesamentlike   testament,   die 
testateur se boedel intestaat vererf.
[9] Na my oordeel is die eerste vraag wat beantwoord moet  
10
word of die bemakings en bepalings wat deur die testateur in  
die gesamentlike testament  gemaak is, by die afsterwe van  
die testatrise verval het of nie, en indien dit wel verval het,  
wat die effek daarvan is.
[10] In beginsel moet ‘n gesamentlike testament van eggenote,  
soos die gesamentlike testament in hierdie geval, beskou en  
gelees word as twee afsonderlike testamente vervat in een  
dokument.   Elkeen van die eggenote kan te enige tyd en  
sonder die kennis of toestemming van die ander, sy of haar  
gedeelte van die gesamentlike testament wysig of herroep,  
behalwe   in   gevalle   waar   daar   boedelsamesmelting  
plaasgevind het en die langslewende ‘n voordeel kragtens  
die testament van die eerssterwende aanvaar het.   Dan is  
die   langslewende   gebonde   aan   die   bepalings   van   die 
testament met betrekking tot die saamgesmelte boedel.  Die  
partye wat voor my verteenwoordig was, is dit eens dat geen  
boedelsamesmelting   by   die   afsterwe   van   die   testatrise 
plaasgevind het nie.   Ek stem saam.   Teen die agtergrond  
van die vermoede teen boedelsamesmelting, moet klousule  
11
8 van die gesamentlike testament myns insiens uitgel ê word 
as slegs ‘n beskikking oor die testatrise se halwe aandeel in  
die   gemeenskaplike   boedel.     Insgelyks   meen   ek   nie   dat 
klousules 4 en 6 van die gesamentlike testament enigsins  
gedeeltelike boedelsamesmelting daarstel nie.  Myns insiens  
moet   die   gesamentlike   testament   uitgelê   word   as   dat 
klousules 4 en 6 van die gesamentlike testament, soos ook  
klousules 1, 7, 10 en 11 daarvan, ‘n deel uitmaak van die  
testament van elkeen van die testateur en die testatrise en  
dat   daarkragtens   die   bemaking   van   die   eerssterwende 
onderworpe gestel word aan ‘n   modus.   Adiasie in so ‘n  
geval lei nie tot boedelsamesmelting nie.   Sien   RHODE v  
STUBBS 2005 (5) SA 104 (HHA) op 109 F – H.
[11] Dit is myns insiens baie duidelik dat elk van die gedeeltes  
van   die   gesamentlike   testament   wat   die   afsonderlike  
testamente van die testateur en die testatrise onderskeidelik  
daargestel het, onderhewig was daaraan dat die testateur en  
die testatrise onderskeidelik die eerssterwende sou wees.  In 
ESTATE COATON v THE MASTER  1915 CPD 318 op 325  
12
is   bevind   dat   in   so   ‘n   geval   waar   die   testament   van   ‘n 
testateur onderhewig is daarvan dat hy die eerssterwende is, 
sy testament verval indien hy nie die eerssterwende is nie en 
dat hy intestaat sterf indien hy nie ‘n verdere testament sou  
maak nie.  Hierdie beslissing is nagevolg in ‘n beslissing in  
hierdie   Hof,   te   wete  EX   PARTE   WESSELS,   NO   AND 
LUBBE  1954 (2) SA 225 (O) op 229.   Sien ook Corbett,  
Hofmeyr & Kahn,  The Law of Succession in South Africa,  
Tweede   Uitgawe   p.   439   en  The   Law   of   South   Africa, 
Volume 31, Eerste Herdruk p. 241 para. 362.  Ek meen met  
eerbied dat bogemelde beslissings nagevolg moet word.  Die 
redenasie daarin vervat kom vir my suiwer voor.  Blykens die  
woorde wat die testateur gebruik het, was sy bedoeling dat  
sy   testament   vervat   in   die   gesamentlike   testament   geld 
indien hy voor die testatrise te sterwe sou kom; so nie, is dit  
‘n ander saak.  Dit volg dat tensy die testateur se testament  
soos vervat in die gesamentlike testament by wyse van die  
eerste kodisil of tweede kodisil herleef het of tensy dit geldig  
by   die   eerste   en/of   tweede   kodisil   deur   verwysing  
geïnkorporeer   is,   soos   wat   aangevoer   is,   die   testateur 
13
intestaat gesterf het, behoudens moontlik klousules 4 en 6  
van die gesamentlike testament.
[12] In MOSES v ABINADER 1951 (4) SA 537 (A) het Schreiner  
AR tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n herroepe testament  
kan herleef by wyse van ‘n daaropvolgende testament êre 
geskrif tot daardie effek, onderworpe natuurlik daaraan dat  
die daaropvolgende testamentêre geskrif self behoorlik verly  
is.   Van den Heever AR het in dieselfde beslissing tot die  
gevolgtrekking   gekom   dat   herlewing   van   ‘n   testament   ‘n 
beginsel van die Engelse reg is wat onbestaanbaar is met  
die Suid­Afrikaanse reg.  Greenberg AR, met wie Fagan AR  
saamgestem het en Hoexter AR het dit onnodig gevind om  
hieroor   ‘n   beslissing   te   maak.     Dit   kom   voor   dat   die 
meerderheid van skrywers die standpunt van Schreiner AR  
ondersteun.   Sien  byvoorbeeld Corbett, Hofmeyr &  Kahn,  
supra,   p.   111   en   Van   der   Merwe   &   Rowland,  Die   Suid­
Afrikaanse Erfreg , Sesde Uitgawe, p. 203 – 204.   Ek sal  
dus   vir   doeleindes   hiervan   aanvaar   dat   die   vervalle  
testament van die testateur soos vervat in die gesamentlike  
14
testament, regtens wel sou kon herleef.
[13] ‘n Meerderheid van die Regters in   MOSES v ABINADER , 
supra,   te   wete   Schreiner   AR,   Van   den   Heever   AR   en 
Hoexter AR, het tot die gevolgtrekking gekom dat as gevolg  
van die formele geldigheidsvereistes vir ‘n testament soos  
vervat in die destydse Transvaalse Ordonnansie, Nr. 14 van  
1903, inkorporering by wyse van verwysing (“incorporation  
by   reference”)   van   ‘n   vorige   herroepe   testament   van   ‘n 
testateur   in   ‘n   latere   testament,   nie   moontlik   is   nie.     In 
ESTATE   ORPEN   v   ESTATE   ATKINSON   AND   OTHERS 
1966 (2) SA 639 (K) op 644 – 645 is dieselfde beslis met  
betrekking tot die Wet op Testamente, Nr. 7 van 1953.  Sien  
ook Corbett, Hofmeyr & Kahn,  supra p. 67.  Die partye voor  
my het dit by ooreenkoms op rekord gestel dat dieselfde  
getuies die gesamentlike testament, die eerste kodisil en die  
tweede kodisil onderteken het.  Deur die wysiging van artikel  
2(1)(a)(iv) van die Wet op Testamente, Nr 7 van 1953 deur  
Wet 43 van 1992, is weggedoen met die vereiste dat elke  
ander bladsy as die bladsy waarop ‘n testament eindig ook  
15
deur die getuies bedoel in artikel 2(1)(a)(ii) en 2(1)(a)(iii) van  
Wet Nr. 7 van 1953 onderteken moet word.  Die behoud van  
die   woorde   “ook   aldus   onderteken”   in   artikel   2(1)(a)(iv) 
(Engels: “also so signed”) dui daarop dat dit steeds vereis  
word dat die handtekening van die testateur op elke ander  
bladsy   dan   die   bladsy   waarop   die   testament   eindig,  
aangebring   of   erken   moet   word   in   die   gelyktydige  
teenwoordigheid   van   dieselfde   getuies   as   wat   sy  
handtekening op die laaste bladsy attesteer het.  Sien  THE 
LEPROSY MISSION AND OTHERS v THE MASTER OF  
THE SUPREME COURT AND ANOTHER, NO  1972 (4) SA  
173 (K).  Sou die gesamentlike testament in die onderhawige 
geval beskou word as geïnkorporeer by die eerste kodisil en/
of   tweede   kodisil,   sou   elke   bladsy   van   die   geïntegreerde 
dokument   onderteken   wees   deur   die   testateur   in  
teenwoordigheid  van  dieselfde  getuies wat  gelyktydig met  
mekaar teenwoordig was, maar nie by dieselfde geleentheid  
nie.  In ARENDSE v THE MASTER AND OTHERS  1973 (3) 
SA 333 (K) is tot die gevolgtrekking gekom dat die   unus 
contextus reël nie deel van ons reg vorm nie.  Sien ook  VAN 
16
HUYSSTEEN v DIE MEESTER 1975 (4) SA 449 (W) op 451  
G – H.   Op hierdie basis is dit na my mening tans ‘n ope  
vraag of die beslissing van die meerderheid in   MOSES v  
ABINADER,  supra  teen   inlywing   deur   verwysing,   in   alle 
gevalle tans steeds geldend is.  Vanwe ë die gevolgtrekking  
wat ek op die feite bereik het, soos hieronder uiteengesit, ag  
ek dit nie nodig om verder hierin op hierdie aspek in te gaan  
nie.
[14] Dit is vanselfsprekend dat die bedoeling van die testateur  
bepaal moet word aan die hand van die woorde wat in die  
eerste kodisil en die tweede kodisil gebruik is.  So gesien, is  
elk van die eerste kodisil en die tweede kodisil gemaak op  
aanvaarding daarvan dat die testateur se testament van 18  
Januarie 2002, dit wil s ê soos vervat in die gesamentlike  
testament, steeds voortbestaan.  Voorts word in elk van die  
eerste kodisil en die tweede kodisil niks anders gepoog dan  
om die testateur se gemelde testament te wysig nie.  In elke  
geval word gepoog om die vorige testament te wysig deur  
aanvulling daartoe te maak.  In die eerste kodisil geskied dit  
17
deur   die   invoeging   van   ‘n   verdere   bepaling   ingevolge 
waarvan die bemaking in terme van klousule 3(a) van die  
gesamentlike testament onderhewig gestel word en in die  
tweede   kodisil   deur   ‘n   verdere   spesiale   bemaking.     Die 
erkenning van die voortbestaan van ‘n vorige testament is  
strydig met ‘n bedoeling om dit wat nie meer bestaan nie, te  
laat herleef.  Insgelyks is in terme van die inhoud van elk van 
die   kodisille   nie   net   iets   daarby   geïnkorporeer   nie,   maar 
eintlik die teenoorgestelde gedoen, naamlik die wysiging of  
aanvulling   van   iets   daarbuite,   te   wete   die   gesamentlike 
testament.  
[15] Ek word in hierdie gevolgtrekking versterk deur die bepalings 
van die derde kodisil.  In die derde kodisil is van uitdruklike  
bewoording gebruik gemaak om ‘n bedoeling van herlewing  
of   inlywing   weer   te   gee.     Die   afwesigheid   van   sodanige 
uitdruklike bepaling in die eerste kodisil wat kort tevore verly  
is en die tweede kodisil wat op dieselfde dag verly is, is na  
my mening gevolglik bevestigend van die afwesigheid van ‘n  
bedoeling van herlewing of inkorpering van die bepalings van 
18
‘n vervalle testament.
[16] Na my mening het n g die eerste kodisil n g die tweedeό ό  
kodisil   derhalwe   kragtens   die   bewoording   daarvan   die 
testateur   se   testament   soos   vervat   in   die   gesamentlike 
testament   laat   herleef   of   daarby   geïnkorporeer.     Sien   in 
hierdie verband MOSES v ABINADER, supra op 542 C – G,  
545 A – D en 547 H.  Dit volg dat die applikant se aansoek  
na my oordeel moet misluk.
[17] Klousule   4   van   die   gesamentlike   testament   moet,   myns 
insiens, soos klousule 6 daarvan uitdruklik bepaal, uitgel ê 
word om te beteken dat dit ‘n bepaling van die testament van 
die   testatrise   was   dat   die   bemaking   wat   die   testateur 
aanvaar   het,   onderworpe   daaraan   was   dat   die   betrokke 
huisraad na die 6de respondent moet gaan by die afsterwe  
van   die   langslewende.     Ondanks   die   feit   dat   daar   nie 
boedelsamesmelting was nie, is die testateur gebonde om  
uitvoering daaraan te gee.   Sien Corbett, Hofmeyr & Kahn,  
supra p. 444.
19
[18] Die partye was dit voor my eens dat ongeag die resultaat  
van die aansoek en die teenaansoek, die koste daarvan uit  
die boedel van die testateur betaal moet word.  Ek meen dat  
dit billik is om dit so te doen.  
[19] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Die hoofaansoek word van die hand gewys.
2. Dit word verklaar dat behoudens die bepalings vervat  
in klousule 4 en klousule 6 van die testament gedateer  
18 Januarie 2002, die boedel van Frederik Johannes  
Theodorus Bezuidenhout (oorlede op 7 Maart 2004),  
intestaat moet vererf.
3. Die koste van die aansoek en die teenaansoek moet  
betaal   word   uit   die   boedel   van   gemelde   Frederik 
Johannes Theodorus Bezuidenhout.
20
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die applikant: Adv. J.P. de Bruin SC
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens die 2de en 3de respondente: Adv. P. Zietsman
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
/sp
21