IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak nr: 1269/2005
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
RELEBOHILE MOEJANE
_____________________________________________________
CORAM: HANCKE, J et WRIGHT, J
_____________________________________________________
UITSPRAAK: WRIGHT, J
_____________________________________________________
GELEWER OP: 10 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Die beskuldigde, ‘n agtienjarige eerste oortreder, is skuldig
bevind aan die oortreding van Artikel 5(b) van Wet 140 van
1992, te wete handel dryf in 7kg dagga. Hy is gevonnis tot
18 (agtien) maande gevangenisstraf wat op gepasde
voorwaardes opgeskort is asook tot ‘n boete van R3 000,00
(drieduisend rand) of 300 (driehonderd) dae
gevangenisstraf.
[2] Nadat navraag gerig, is blyk dit dat die beskuldigde oop
kaarte met die hof gespeel het en meegedeel het dat hy die
misdaad gepleeg het om klere te koop. Die beskuldigde
het verder in die hof meegedeel dat hy nog skoolgaan en
dat hy eers 18 jaar oud word in Oktober 2005. (Die
misdaad is derhalwe gepleeg toe hy nog 17 jaar oud was.)
[3] Dit is erkende reg dat ‘n hof ‘n sewentienjarige eerste
oortreder meer tegemoedkomend sal straf as in die geval van ‘n
volwasse persoon. Daar sal veral gepoog word om te kyk of die
persoon nie uit die gevangenis gehou kan word nie. Omdat ons
hier met ‘n baie ernstige misdaad te doen het is dit myns insiens in
orde dat ‘n langerige termyn van gevangenisstraf wat opgeskort
word, opgelê word en het ek geen probleem met die 18 maande
gevangenisstraf wat op gepasde voorwaardes opgeskort is en wat
as ‘n swaard oor die beskuldigde se kop sal hang sodat hy nie
weer hierdie misdaad pleeg nie.
[4] Wat die boete met alternatiewe gevangenisstraf betref,
word besef dat ‘n mens nie vir ‘n misdaad van hierdie aard
‘n mindere boete as die opgelegde boete kan oplê nie maar
meen ek dat die 300 dae gevangenisstraf buite verhouding
tot die boete is. In die verband word gewys na S v
KAPENG 1992 (1) SASV 596 (O) en ook die latere
2
beslissing van S v MAKOAE 1997 (2) SASV 705 (O)
waarop gewys word dat die verhouding tussen die boete en
die alternatiewe gevangenisstraf gedurig in heroorweging
geneem moet word as gevolg van die waardevermindering
van geld. In laasgenoemde beslissing word die volgende
gesê op bladsy 709 CF:
“Hierdie is duidelik ‘n geval waar die beskuldigde nie in
staat sal wees om uit sy eie inkomste ‘n boete wat gepas
sal wees in die lig van die erns van die misdryf te betaal
nie. Nogtans word daar saamgestem met die beginsel, dat
in misdade van hierdie aard, die keuse van ‘n boete aan ‘n
eerste oortreder verskaf moet word. (Cf bv S v Nxumalo
1992 (2) SASV 268 (O) en S v Monisa 1992 (2) SASV 671
(O) op 672i.)
Wat meer kommentaar vereis is die verhouding tussen die boete en die
alternatiewe gevangenisstraf. Dit het in elk geval geblyk dat die beskuldigde
nie eers in staat was om die boete van R3 000 te betaal nie. Selfs al sou die
boete dubbel die bedrag wees wat inderdaad opgelê is, sou dit nog ‘n
relatiewe ligte straf wees in verhouding tot 30 maande gevangenisstraf. Selfs
‘n persoon met ‘n relatiewe geringe inkomste van ongeveer R6 000 per jaar,
sou eerder ten alle koste wou poog om die boete te betaal eerder as om vir
twee en ‘n half jaar tronk toe te gaan. Die verhouding van boetes wat op gelê
word teenoor die alternatiewe gevangenisstraf het nie tred gehou met die
waardevermindering van geld nie. (Sien S v Kapeng 1992 (1) SASV 596 (O)
en die sake daar aangehaal, asook die hersieningsuitspraak in S v Andries
Motsamai (hersieningsno 132/97).) Dit geld des te meer in ‘n geval soos
hierdie waar dit vir die landdros duidelik moes gewees het dat die beskuldigde
nie in staat sal wees om die boete te betaal tensy hy finansiële hulp van ‘n
3
vriend of familielid ontvang nie of oor ander onverklaarde bates beskik wat hy
te gelde kom maak.”
[5] In hierdie geval sal die 300 dae gevangenisstraf beteken dat
die beskuldigde in alle waarskynlikheid vir bykans ‘n jaar in die
tronk deurbring wat ongetwyfeld ‘n baie swaarder straf is as ‘n
boete van R3 000,00. Hierdie aspek moet in samehang gesien
word met die feit dat ons hier met ‘n jeugdige eerste oortreder te
doen het en die ander versagtende faktore waarna hierbo verwys
is.
[6] In die lig van al die omstandighede meen ek dat
alternatiewe gevangenisstraf van 6 (ses) maande
voldoende behoort te wees. (Dit blyk nie eers uit die J4
vorm of die boete inderdaad betaal is alhoewel die
belangrikheid van die voltooiing van die betrokke gedeelte
van die vorm al by herhaling beklemtoon is).
[7] Bygevolg word die skuldigbevinding bekragtig sowel as die
vonnis behalwe dat die gedeelte van die vonnis dat die
beskuldigde beboet word met R3 000,00 of 300 (driehonderd) dae
gevangenisstraf ter syde gestel word en vervang word met die
volgende:
‘n Boete van R3 000,00 (drieduisend rand) of 6 (ses)
maande gevangenisstraf.
Die gewysigde vonnis moet geag word opgel ê te gewees
het op 13 September 2005.
4
______________
G.F. WRIGHT, R
Ek stem saam.
________________
S.P.B. HANCKE, R
/em
5