IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. 1306/2005
In die hersiening tussen:
DIE STAAT
versus
MARK AUGUST Beskuldigde 1
ELRICO CASTER Beskuldigde 2
_____________________________________________________
CORAM: HANCKE R et MATSEPE WND R
UITSPRAAK DEUR: MATSEPE WND R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 3 NOVEMBER 2005
_____________________________________________________
Die beskuldigdes hierin is skuldig bevind aan huisbraak met die
opset om te steel en diefstal en gevonnis tot 18 (agttien) maande
gevangenisstraf. In die geval van beskuldigde 2 is 12 (twaalf)
maande gevangenisstraf opgeskort vir 3 (drie) jaar op sekere
voorwaardes.
Op 11 Oktober 2005 het Regter C.J. Musi die saak van
beskuldigde 1, Mark August, aan die betrokke landdros F.J. van
Noordwyk teruggestuur met die volgende opmerkings:
“1. Waarom het die landdros nie die beskuldigde gehelp om
die dienste van ‘n prokureur te bekom nie?
2. Is beskuldigde 2 se skuldigbevinding – as begunstigde – korrek?
3. Die landdros word versoek om volledige redes vir vonnis te verskaf.”
Die redes vir vonnis deur die landdros is voorgel ê en dien voor my
op 25 Oktober 2005. Wat betref die eerste navraag van Regter
C.J. Musi met betrekking tot waarom die landdros nie die
beskuldigde gehelp het om die dienste van ‘n prokureur te bekom
nie, verwys die landdros na vyf verskillende uitstelgeleenthede wat
die beskuldigdes verleen was in die hof a quo, wat bedoel was om
hulle geleentheid te gun om aansoek te doen vir regshulp vanaf
die Regshulpraad.
In dié opsig verwys hy na die volgende uitstelle op 25 Mei 2005, 1
Junie 2005, 23 Junie 2005, 6 Julie 2005, 27 Julie 2005 sowel as
op 16 Augustus 2005.
Die opmerking word gemaak dat dit op 16 Augustus 2005 geblyk
het dat die beskuldigdes steeds nie by die Regshulpkliniek was nie
2
en omrede die Hof van mening was dat hulle geen pogings
aangewend het om regshulp te verkry nie en dat hulle die
afhandeling van die saak vertraag en dat die tydperk ‘n onredelike
lang tydperk is wat verstryk het sonder dat hulle enige pogings
aangewend het om regshulp te verkry, dat hy derhalwe van
oordeel was dat hulle genoegsame hulp verleen was om regshulp
te bekom en dit blyk dat hulle nie daarin belangstel nie.
Die vraag is of die tydperk vanaf 25 Mei 2005 tot 16 Augustus
2005 onredelik was en of die landdros nie verdere moeite moes
gedoen het om die beskuldigdes inderdaad aktief te help om
regshulp te bekom deur bv. hulle met ‘n hofordinans te stuur na die
Regshulpraad en/of selfs die Regshulpraad te skakel om te
verneem of die beskuldigdes nie hulp kan kry nie. Ek is van
mening dat onder hierdie omstandighede die landdros meer moes
gedoen het om die beskuldigdes behulpsaam te wees en dat
hierdie siening onder die aandag van die landdros gebring moet
word.
Wat betref die tweede punt wat Regter C.J. Musi geopper het, nl.
3
of beskuldigde 2 se skuldigbevinding op grond daarvan dat hy as
begunstigde bestempel kon word, korrek is, voer die landdros aan
dat die saak van S v MAREE EN ANDERE 1964 (4) SA 545 (A)
op p. 557 stawing daarvoor is dat die skuldigbevinding van
beskuldigde nr. 2 as begunstiger in orde is.
Hy verwys na die bespreking van hierdie aspek in die Vierde
Uitgawe van Strafprosesreg deur Snyman waar die konsep van
diefstal as ‘n voortdurende misdaad bespreek word en daar geen
begunstiging by diefstal sal wees nie.
Dit is inderdaad korrek dat die misdaad waarmee die Hof in hierdie
saak te doene het, nie diefstal as sulks is nie, maar wel huisbraak
met die opset om diefstal te pleeg.
In die handboek wat die landdros na verwys soos hierbo vermeld,
word begunstiger as volg omskryf op p. 276 daarvan:
“’n Begunstiger is iemand wat, nadat ‘n misdaad reeds gepleeg is,
wederregtelik en opsetlik ‘n handeling verrig (of versuim om ‘n
4
handeling te verrig) met die opset om die dader wat die gemelde
misdaad gepleeg het of ‘n medepligte tot daardie misdaad in staat te
stel om aanspreeklikheid vir die misdaad te ontduik, of om
dit vir so iemand makliker te maak om aanspreeklikheid te
ontduik.”
Die volgende beslissings wat aangehaal word in Snyman a.w., gee
‘n aanduiding van ons howe se benadering hieromtrent, vergelyk
die volgende:
(i) S v BARNES AND ANOTHER 1992 SASV 485 (N) 493 E,
waar die volgende aangehaal word:
“This conduct was .......... intended to assist the
perpetrator ......... to escape conviction.”
(ii) S v NKOSI AND ANOTHER 1991 (2) SASV 194 (A) 201 A –
D waar op bl. 208 die hof a qou dit so stel:
“The second and narrower approach regards accessories after the fact
are those people who, in helping the perpetrator after the
commission of the offence have a certain object in mind namely
5
to defeat or obstruct the cause of justice. They are people who
prevent the apprehension and bringing to justice of the
perpetrator.”
Dit blyk dus dat beskuldigde nr. 2 in hierdie saak onomwonde
moes erken het dat hy die opset gehad het om vir beskuldigde nr.
1 te help om aanspreeklikheid vir die misdaad te ontduik en/of om
dit vir beskuldigde nr. 1 makliker te maak om aanspreeklikheid te
ontduik.
In S v MAREE EN ANDERE 1964 (4) 558 word die geskiedenis
van hierdie beginsel bespreek en blyk dit dat die hof dit aanvaar
dat dit die bedoeling van die beskuldigde moet wees om die dader
te help om arrestasie te ontkom. Met ander woorde kan dit met
alle sekerheid gestel word dat dit die bedoeling en/of die opset
was waarmee beskuldigde 2 opgetree het op die betrokke dag en
of hy dit so erken het.
Die volgende blyk beskuldigde 2 se erkennings te wees nl.:
1. Hy het by die huis gesit en dat beskuldigde 1 hom
genader het. Beskuldigde 1 het hom toe meegedeel dat
6
die ‘playstation’ hy dit in die agterste perseel van Johan
Visagie gesit het. Beskuldigde 1 het hom nie ges ê waar
hy die ‘playstation’ gekry het nie, maar het hom wel later
gesê dat hy hom van Johan Visagie se huis gekry het vier
vyf. Die ‘ding’, wat veronderstel te wees die sogenoemde
‘playstation’ sê hy:
“Het ek toe by my tante se huis geb êre en s ê hulle is toe na
Cash Crusaders toe waar hulle die ‘ding’ verkoop het.”
Die hof moet homself die vraag afvra of die beskuldigde homself
skuldig maak as ‘n begunstiger deurdat hy die gesteelde item by
sy tante se huis gaan verberg het en sodoende die opset gehad
het om vir beskuldigde nr. 1 te help om aanspreeklikheid vir die
misdaad te ontduik en/of dit makliker vir hom te maak om
aanspreeklikheid te ontduik.
Deur iets te verberg wat gesteel is wat hy weet wel gesteel is met
die doel dat dit nie gevind moet word nie, dui daarop dat daar wel
opset was om die misdaad te pleeg.
7
Derhalwe is ek van mening dat geen fout gevind kan word met die
landdros se bevinding oor die skuldigbevinding nie. Daar is ook
voldoende redes vir die vonnis verskaf.
Bygevolg word beide die skuldigbevindings en vonnisse bekragtig.
__________________
V. MATSEPE, WND R
Ek stem saam.
________________
S.P.B. HANCKE, R
/sp
8