Absa Bank Beperk v Vrystaat Ontwikkelingskorporasie (3360/2005) [2005] ZAFSHC 13 (20 October 2005)

60 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Execution — Preliminary judgment — Liquid document — Application for preliminary judgment based on a guarantee — Guarantee did not contain unconditional acknowledgment of liability — Court finding that the guarantee created only potential or conditional liability dependent on the occurrence of certain registrations — Preliminary judgment refused as the guarantee was not a liquid document for the purposes of such relief.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2005
>>
[2005] ZAFSHC 13
|

|

Absa Bank Beperk v Vrystaat Ontwikkelingskorporasie (3360/2005) [2005] ZAFSHC 13 (20 October 2005)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 3360/2005
In
die saak tussen:
ABSA
BANK BEPERK
Eiser
en
VRYSTAAT
ONTWIKKELINGSKORPORASIE
Verweerder
______________________________________________________
UITSPRAAK:
VAN DER MERWE R
AANGEHOOR OP:
13 OKTOBER 2005
GELEWER OP:
20 OKTOBER 2005
[1] Hierdie
is ‘n
aksie vir voorlopige vonnis gegrond
op ‘n waarborg.
[2] Dit blyk uit die
stukke voor my dat ene Me. D.G. Manzini die eienares was van
onroerende eiendom bekend as erf 4384, Bloemside
(“die eiendom”).
Me. Manzini was op ‘n sogenaamde verbandlening met rekeningnommer
8051800475 aan die eiser die bedrag verskuldig
wat die eiser in
hierdie aangeleentheid van die verweerder vorder. Die bedrag
verskuldig deur Me. Manzini op hierdie rekening was
verseker deur ‘n
eerste verband geregistreer oor die eiendom ten gunste van die eiser.
‘n Mnr. en Mev. Boleke was te alle tersaaklike
tye hiertoe kliënte
van die verweerder. Hulle het met die verweerder ooreengekom dat die
verweerder aan hul geld sal leen vir doeleindes
van die aankoop van
die eiendom vanaf Me. Manzini, welke lening verseker sou word deur ‘n
eerste verband ten gunste van die eiser
oor die eiendom. Vir hierdie
doel moes die verband ten gunste van die eiser natuurlik gekanselleer
word. Die onderhawige waarborg
is gevolglik namens die verweerder
uitgereik op versoek van die prokureurs van Me. Manzini, wat die
registrasie van die transport
van die eiendom sou hanteer.
[3] Die waarborg is gerig
aan die eiser vir krediet van D.G. Manzini, rekeningnommer
8051800475001. Die syfers 001 vorm nie deel
van die rekeningnommer
nie, maar is ‘n kode wat die rekening identifiseer as ‘n
verbandleningsrekening en welke kode afsonderlik
van die
rekeningnommer aangedui moes gewees het. Die liggaam van die
waarborg lees soos volg:
“
Graag deel ons u mee dat Vrystaat
Ontwikkelingskorporasie die ondervermelde bedrag tot u beskikking
hou, wat aan u betaalbaar sal
word op ontvangs deur ons, van
skriftelike kennisgewing deur
Mthembu Inc., Bloemfontein
dat
die saak/sake hieronder na verwys, behoorlik geregistreer is.
Vrystaat Ontwikkelingskorporasie behou
die reg voor om hierdie waarborg te eniger tyd voor sodanige
registrasie/s te kanselleer deur
u skriftelik kennis te gee tot dien
effekte. In geval hierdie waarborg (s)ou gekanselleer word sal
Vrystaat Ontwikkelingskorporasie
enige stukke wat Vrystaat
Ontwikkelingskorporasie van u mag ontvang het, aan u terugstuur.
Hierdie waarborg is nie oordraagbaar
of verhandelbaar nie en moet aan Vrystaat Ontwikkelingskorporasie
oorhandig word op die datum
van registrasie teen betaling van die
genoemde bedrag, vanaf welke datum geen aanspreeklikheid vir rente
aanvaar sal word nie, nieteenstaande
enigiets teenstrydig hierin
vervat.”
Mthembu
Inc. is
die verweerder se
prokureurs ten opsigte van die onderhawige transaksie. Die sake wat
volgens die waarborg behoorlik geregistreer
moes wees is drieërlei
van aard, naamlik eerstens kansellasie van alle bestaande verbande
oor die eiendom, tweedens registrasie
van oordrag van die eiendom in
die naam van Mnr. en Mev. Boleke en derdens registrasie van ‘n
eerste verband oor die eiendom ten
gunste van die verweerder.
Geriefshalwe verwys ek hierna na hierdie drie handelinge as “die
registrasies”. Die registasies
het dienooreenkomstig geskied en is
verweerder aldus daarvan in kennis gestel op 30 September 2004.
[4] Dit blyk dat die
verweerder nie elektroniese oorbetaling van die bedrag van die
waarborg na die rekeningnommer wat op die waarborg
verskyn, via die
internet kon bewerkstellig nie. Klaarblyklik het dit gebeur as
gevolg van die foutiewe byvoeging van die kode 001
by die
rekeningnommer van die verbandleningsrekening. By navraag deur
verweerder by Me. Manzini se prokureurs, is toe ‘n ander
rekeningnommer verskaf, naamlik dié van ‘n lopende rekening van
Me. Manizini by die eiser en het die verweerder op 1 Oktober 2004
betaling van die bedrag van die waarborg elektronies in hierdie
lopende rekening gemaak. Die praktiese effek hiervan was dat die
eiser se verband gekanselleer is sonder dat die verbandlening wat
daardeur verseker is, afgelos is.
[5] Twee aspekte is in
geskil, naamlik eerstens of die waarborg ‘n likiede dokument is
waarop voorlopige vonnis verleen kan word
en tweedens, indien wel, of
die verweerder aangetoon het dat hy waarskynlik in die prinsipale
saak ooreenkomstig sy bewyslas daarin,
sal slaag met sy kontensie dat
die waarborg betaal is.
[6] Die beginsels van
toepassing by beantwoording van die eerste vraag in hierdie saak, is
welbekend. Voorlopige vonnis is ‘n buitengewone
en spoedige
remedie wat tot beskikking is van ‘n skuldeiser wat beskik oor ‘n
likiede dokument ter bewys van sy eis. ‘n Likiede
dokument is een
waarin die skuldenaar onvoorwaardelik aanspreeklikheid in ‘n
bepaalde bedrag erken of onvoorwaardelik onderneem
om ‘n bepaalde
bedrag te betaal. Dat ‘n dokument aldus ‘n likiede dokument is,
moet uit die dokument self blyk, sonder die
hulp van ekstrinsieke
getuienis. Die bewyslas ten aansien hiervan rus op die eiser. Op
hierdie reëls is in die praktyk oor baie
jare ‘n uitsondering
erken, naamlik in gevalle waar die dokument wel ‘n duidelike
erkenning van aanspreeklikheid bevat maar
betaling
onderworpe
is aan ‘n voorwaarde of gebeurtenis waarvan die vervulling of
plaasvind maklik bewysbaar is. In so ‘n geval is dit
voldoende
indien die eiser vervulling van die eenvoudige voorwaarde (“simple
condition”) of gebeurtenis beweer en kan ekstrinsieke
getuienis
daaromtrent toegelaat word indien die verweerder die bewering betwis.
Dit is egter duidelik dat ‘n fundamentele verskil
bestaan tussen
‘n dokument waarin die bestaan van die aanspreeklikheid onderworpe
is aan ‘n voorwaarde en een waarin die aanspreeklikheid
vasstaan,
maar betaling daarvan onderworpe is aan vervulling van ‘n
voorwaarde of plaasvind van ‘n gebeurtenis. In die eerste
geval is
daar slegs voorwaardelike aanspreeklikheid, is voorlopige vonnis dus
nie geoorloof nie en is dit onsaaklik of die voorwaarde
as eenvoudig
beskou word of nie. Slegs in die tweede geval ontstaan die vraag of
die voorwaarde waaraan betaling van die erkende
aanspreeklikheid
onderworpe is, as ‘n eenvoudige of maklik bewysbare een beskryf kan
word. Hierdie beginsels is vasgelê in
PEPLER v HIRSCHBERG
1920 CPD 438
, soos bekragtig, en ten opsigte van die bewyslas
aangevul, in
UNION SHARE AGENCY & INVESTMENT LTD v SPAIN
1928 AD 74
op 78 en 79 en is sedertdien herhaaldelik nagevolg. Sien
byvoorbeeld
RICH & OTHERS v LAGERWEY
1974 (4) SA
748
(A) op 755 A tot 758 A en 761 A – D en
HARROWSMITH v
CERES FLATS (PTY) LTD
1979 (2) SA 722
(T) op 727 D en verder.
[7] Vanselfsprekend moet
die dokument in die samehang daarvan uitgelê word. Die samehang van
die waarborg sluit in die agtergrondsomstandighede
daarvan. Hierdie
agtergrondsfeite sluit in die omstandighede waaronder die waarborg
gegee is en die verhouding waarin die betrokke
partye tot mekaar
gestaan het. Sien in hierdie verband
PANGBOURNE PROPERTIES LTD
v GILL & RAMSDEN (PTY) LTD
1996 (1) SA 1182
(A) op 1187
en
SUN PACKAGING (PTY) LTD v VREULINK
[1996] ZASCA 73
;
1996 (4) SA 176
(A) op 184 A – D.
[8] By uitleg van die
onderhawige waarborg val dit onmiddelik op dat dit geen erkenning van
aanspreeklikheid bevat nie. Wat dit wel
bepaal, is dat die betrokke
bedrag tot beskikking van die eiser gehou word, wat aan die eiser
betaalbaar sal word na ontvangs van
skriftelike kennisgewing dat die
registrasies plaasgevind het. Die wesenlike omstandighede wat gelei
het tot die verskaffing van
die waarborg is myns insiens dat die
verweerder voornemens was om sekuriteit te bewerkstellig vir die
lening wat die verweerder aan
sy eie kliënte gemaak het of sou maak
en dat daar geen regsband tussen die eiser en die verweerder
hieromtrent bestaan het nie.
In die samehang waarvan ek reeds
melding gemaak het, beteken die woorde gebruik in die eerste
aangehaalde paragraaf van die waarborg
myns insiens dat
ex facie
die waarborg, die verweerder slegs aanspreeklikheid teenoor die eiser
sal oploop indien die registrasies wel plaasvind. Indien die
registrasies vir een of ander rede nooit plaasvind nie, sal vir die
verweerder geen verskuldigheid ooreenkomstig die waarborg tot
stand
kom nie. So gesien het die verweerder
ex facie
die waarborg
slegs potensiële of voorwaardelike aanspreeklikheid en is die
onderhawige geval nie te onderskei van ‘n geval soos
JOOSUB v
EDELSON
1998 (3) SA 534
(W) nie. Vir hierdie redes is die
waarborg myns insiens dus nie ‘n likiede dokument vir doeleindes
van voorlopige vonnis nie.
Die tweede voormelde aangehaalde
paragraaf van die waarborg, neem dit nog verder weg van
onvoorwaardelike aanspreeklikheid. Die
effek van die voorbehoue reg
op kansellasie deur skriftelike kennisgewing voor die registrasies
plaasvind, is dat die ontstaan van
verskuldigheid van die verweerder
daarkragtens onderworpe gestel word aan ‘n verdere kwalifikasie,
naamlik dat die waarborg ten
tye van die registrasies boonop nog nie
gekanselleer is by wyse van skriftelike kennisgewing nie. Kortom,
die waarborg moet myns
insiens uitgelê word om te beteken dat
verweerder se aanspreeklikheid teenoor die eiser ontstaan indien die
registrasies plaasgevind
het, mits die waarborg teen daardie tyd nog
nie deur die verweerder gekanselleer is nie.
[9] Bogemelde
gevolgtrekking maak dit onnodig om te handel met die vraag of
betaling ooreenkomstig die waarborg geskied het en is
dit in die lig
van die bevel wat ek voornemens is om te gee, onvanpas dat ek my nou
daaroor uitlaat.
[10] Die volgende bevele
word dus verleen:
Voorlopige vonnis word
geweier.
Die voorlopige vonnis
dagvaarding bly staan as enkelvoudige dagvaarding, dit word geag dat
die verweerder verdediging aangeteken
het op datum van hierdie
uitspraak en die eenvormige hofreëls is van toepassing ten opsigte
van aflewering van verdere pleitstukke.
Die eiser word gelas om
die koste van die aansoek om voorlopige vonnis te betaal en die
restant van die koste is koste in die geding.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Namens
eiser: Adv. P. Zietsman
In
opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens
verweerder: Adv. P. J. T. de Wet
In
opdrag van:
Symington & De
Kok
BLOEMFONTEIN
/em