S v Fat (1055/2005) [2005] ZAFSHC 64 (29 September 2005)

55 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Appropriateness of sentence — Accused convicted of assault with intent to cause grievous bodily harm after throwing a stone at the complainant, causing injuries — Original sentence of 2 years imprisonment deemed disproportionate to the crime and personal circumstances of the accused, who is a first offender, unemployed, and suffers from AIDS — Sentence reduced to 18 months imprisonment, with 9 months suspended for 3 years on condition of no further convictions for similar offenses.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2005
>>
[2005] ZAFSHC 64
|

|

S v Fat (1055/2005) [2005] ZAFSHC 64 (29 September 2005)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr.
1055/2005
In
die hersiening tussen:
DIE
STAAT
versus
PETRUS
FAT
_____________________________________________________
CORAM:
HATTINGH
R
et
BLOEM
WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
BLOEM
WND R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
29
SEPTEMBER 2005
_____________________________________________________
[1] Die
beskuldigde is in die landdroshof te Botshabelo skuldig bevind op ‘n
aanklag van aanranding met die opset om ernstig te
beseer, gelees met
die bepalings van die Wet op Gevaarlike Wapens, 1968 (Wet Nr. 71 van
1968) deurdat hy op 2 Junie 2005 en te Botshabelo
vir die klaer met
‘n klip gegooi het. Hy is gevonnis tot 2 jaar gevangenisstraf in
terme van die bepalings van artikel 276(1)(b)
van die Strafproseswet,
1977 (Wet Nr. 51 van 1977).
[2] Uit
die getuienis blyk dit dat, hoewel die klaer dit ontken, was daar ‘n
stryery tussen hom en die beskuldigde. Die beskuldigde
het ‘n
klip, min of meer die grootte van ‘n tennisbal, na die klaer
gegooi. As gevolg daarvan het die klaer ‘n 4 cm lang besering
aan
die boonste lid van sy regteroog opgedoen waarvoor hy twee hegsteke
benodig het. Daar was ook ‘n 2 cm lang besering op sy
wang
waarvoor hy twee hegsteke benodig het. Daar was nie mediese
getuienis voor die landdros geplaas oor die presiese aard, omvang
en
gevolge van die beserings nie. Die klaer het getuig dat hy na die
voorval nie meer kon sien met sy linkeroog nie.
[3] Die
beskuldigde was behoorlik skuldig bevind aan aanranding met die opset
om ernstig te beseer.
[4] Ek
het die landdros versoek om redes vir vonnis te verstrek. Ek het die
landdros verwys na
S
v Masha
1990 (1) SASV 104 (T) en
S
v Beukes
1990 (2) SASV 323 (C). Die landdros se redes is nou beskikbaar. Die
landdros steun op die bepalings van artikel 4(1) van die Wet
op
Gevaarlike Wapens wat, so ver dit die feite van dié saak betref,
bepaal dat wanneer iemand bo die ouderdom van 18 jaar skuldig
bevind
word aan ‘n misdryf waarby geweld teenoor ‘n ander persoon
betrokke is en bewys is dat hy sodanige ander persoon deur
gebruikmaking van ‘n gevaarlike wapen beseer het, word hy,
gevangenisstraf vir ‘n tydperk van minstens 2 jaar opgelê, met
dien
verstande dat indien die hof oortuig is dat daar omstandighede
is wat die oplegging van ‘n ligter straf as dié by die straf wat
artikel 4(1) regverdig, hy daardie omstandighede in die notule van
die verrigtinge aanteken en dan die persoon wat aldus skuldig
bevind
word, sodanige ligter straf kan oplê.
[5] Die
landdros sê dat hy nie oortuig was dat daar in hierdie geval
omstandighede is wat ‘n ligter vonnis as 2 jaar gevangenisstraf
regverdig nie. Vir daardie siening steun hy op
S
v Dladla
1992 (1) SASV 360 (Tk). In daardie saak was die geskilpunt of die
landdros, nadat hy bevind het dat daar nie meer verswarende
omstandighede
as versagtende omstandighede bestaan het, ‘n gedeelte
van die opgelegde vonnis in terme van die Wet op Gevaarlike Wapens
kon opskort.
Daardie saak gaan nie oor of die termyn van
gevangenisstraf van pas was aldan nie. Gevolglik was die aard van
die beserings opgedoen,
hoe daardie beserings opgedoen was en die
beskuldigde se persoonlike omstandighede nie bespreek nie.
[6] Dit
is korrek dat die beskuldigdes in die
Masha
-
en
Beukes
-sake
nie ingevolge die bepalings van die Wet op Gevaarlike Wapens aangekla
en skuldig bevind was nie. Ek het na daardie sake verwys
bloot om ‘n
aanduiding te gee van die soort vonnisse wat die howe in soortelyke
sake opgelê het. Elke saak moet natuurlik op
sy eie meriete
behandel word.
[7] In
die
Masha
-saak
het die beskuldigde die klaer met ‘n kierie op sy rug geslaan en
met ‘n vuis op die wang geslaan. Die landdros het die
beskuldigde
gevonnis tot ‘n boete van R800,00 of 12 maande gevangenisstraf plus
‘n verdere 2 maande gevangenisstraf wat opgeskort
was vir 5 jaar op
sekere voorwaardes. Op appèl het die hof bevind dat die vonnis heel
onvanpas was en dat dit onnodig was om ‘n
verdere gevangenisstraf
van 2 maande op te lê, al was dit opgeskort. Die vonnis was
gevolglik verander en verminder tot ‘n boete
van R600,00 of 9
maande gevangenisstraf wat geheel opgeskort was op sekere
voorwaardes.
[8] In
die
Beukes
-saak
blyk dit uit die getuienis wat voor die hof geplaas was dat die
beskuldigde vir die klaer sonder enige rede met ‘n mes gesteek
het.
Die klaer het gevolglik ses steekwonde opgedoen. Die beskuldigde
was 22 jaar oud, ‘n eerste oortreder, ongetroud met geen
afhanklikes en het ‘n goeie salaris verdien. Die hof het op
hersiening bevind dat die gevangenisstraf van 12 maande
gevangenisstraf
te swaar was. Die vonnis was gevolglik verander en
verminder na 12 maande gevangenisstraf waarvan 6 maande opgeskort was
vir 5 jaar
op sekere voorwaardes.
[9] In die onderhawige
geval is die beskuldigde 21 jaar oud, ‘n eerste oortreder,
ongetroud, het geen kinders nie, werkloos, het
standerd 2 geslaag en
ly aan vigs. In die lig van die aard van die besering aan die klaer
se kop en hoe hy die besering opgedoen
het, is ek van oordeel dat die
opgelegde vonnis van 2 jaar gevangenisstraf heeltemal treffend
onvanpas is, omdat dit buite verhouding
is met die misdaad, die
beskuldigde se persoonlike omstandighede en die belange van die
gemeenskap. Uit sy redes vir vonnis is dit
duidelik dat die landdros
nie al die erkende faktore wat by vonnisoplegging inaggeneem moet
word behoorlik teenoor mekaar gebalanseer
het nie. As hy dit wel
gedoen het, sou hy besef het dat die vonnis van 2 jaar
gevangenisstraf in die omstandighede van die saak
te swaar is en ‘n
gevoel van skok openbaar. Die landdros het die vonnis van 2 jaar
gevangenisstraf opgelê bloot omdat die beskuldigde
aangekla was
ingevolge die bepalings van artikel 4(1) van die Wet op Gevaarlike
Wapens.
[10] Na my mening skep
die bogenoemde faktore omstandighede wat die oplegging van ‘n
ligter straf regverdig. Gevolglik moet daar
met die vonnis ingemeng
word.
[11] Die skuldigbevinding
word bekragtig. Die vonnis word tersyde gestel en vervang met ‘n
vonnis van 18 maande gevangenisstraf
waarvan 9 maande opgeskort word
vir 3 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind
word aan aanranding met die
bedoeling om ernstig te beseer gepleeg
gedurende die periode van opskorting nie en waarvoor onopgeskorte
gevangenisstraf opgelê
word.
__________________
G.H.
BLOEM, WND R
Ek
stem saam.
________________
G.A. HATTINGH, R
/sp