About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2005
>>
[2005] ZAFSHC 4
|
|
De Leeuw and Others v MEC for Local Government and Housing Free State and Others (3099/2004) [2005] ZAFSHC 4 (10 March 2005)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 3099/2004
In
die saak tussen:
CORNELIS
P DE LEEUW
Eerste Applikant
MICHAEL
NICOLAS GEORGIOU N.O.
Tweede Applikant
JOSEPH
R CHEMALY N.O.
Derde Applikant
STAMATIOS
TSANGARAKIS N.O.
Vierde Applikant
en
DIE
LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD
Eerste Respondent
VAN
DIE VRYSTAATSE PROVINSIALE
REGERING
BELAS MET PLAASLIKE
REGERING
EN BEHUISING
DIE
VOORSITTER VAN DIE DORPERAAD
Tweede Respondent
VAN
DIE VRYSTAAT
CONSOUW
BK
Derde Respondent
CORAM
: BECKLEY
R
et
VAN DER MERWE R
UITSPRAAK:
VAN DER MERWE R
AANGEHOOR OP:
24 FEBRUARIE 2005
GELEWER OP:
10 MAART 2005
[1] Hierdie is ân
aansoek om hersiening en tersydestelling van ân administratiewe
handeling, te wete ân besluit van die eerste
respondent.
[2] Die eerste applikant
praktiseer as ân stads- en streeksbeplanner. Die tweede, derde en
vierde applikante is die trustees van
The Michael Family Trust (âdie
trustâ). Die trust is die geregistreerde eienaar van vaste eiendom
tans bekend as Erf 17095,
Bloemfontein, groot 1,8036 hektaar. In die
getuienis is na hierdie eiendom verwys as die Shoprite Checkers
perseel. Die Shoprite
Checkers perseel word aan die noordekant
daarvan begrens deur Nelson Mandelarylaan, aan die oostekant daarvan
deur Eerste Laan en
aan die suidekant daarvan gedeeltelik deur
Henrystraat en deur die aangrensende Erf 28420. Op laasgemelde erf
is ân BMW motorhandelaar
gevestig. Gevolglik is in die stukke
geriefshalwe na hierdie eiendom verwys as die BMW perseel en ek doen
dieselfde.
[3] Die eerste respondent
is die lid van die Uitvoerende Raad van die Vrystaatse Provinsiale
Regering belas met Plaaslike Regering
en Behuising. Die tweede
respondent is die voorsitter van die Dorperaad daargestel deur die
Vrystaatse Ordonnansie op Dorpe Nr.
9 van 1969. Die derde respondent
is die eienaar van die BMW perseel. Slegs die eerste respondent en
die derde respondent het die
onderhawige aansoek teengestaan.
[4] Die Shoprite Checkers
perseel is reeds ontwikkel deurdat ân winkelkompleks met ân
supermark as ankerhuurder en ân diensstasie
daarop gebou is en
opereer word. Daar is ook verskeie ander winkels, ân bakkery, ân
restaurant en bank. Gedurende Oktober 2003
is ingevolge die
bepalings van die Wet op Opheffing van Beperkings, Nr. 84 van 1967
aansoek gedoen om wysigings van bepalings van
die dorpsaanlegskema
van Bloemfontein wat betrekking het op die Shoprite Checkers perseel
en die ontwikkeling daarop. Aldus die
motiveringstuk vir hierdie
aansoek, is die wysiging van die dorpsaanlegskema se bepalings
essensieel nodig om die trust in staat
te stel om die huidige
winkelkompleks en diensstasie te moderniseer, meer winkels op te rig
nader aan Eerste Laan en om veel meer
parkering beskikbaar te maak.
Die applikante se bewering dat daar geruime tyd ân nypende tekort
aan parkering ten opsigte van
die Shoprite Checkers perseel is en dat
daardie tekort vererger is deur die ontwikkeling van die BMW perseel
vir doeleindes
van ân motorhandelaar, is nie betwis nie. Die trust
se voorneme is om aansienlik meer parkeerplek beskikbaar te stel deur
die
bou van ân parkeergarage wat uit drie vloere sal bestaan bo-op
die winkelkompleks. Die boonste vloer sal dakparkering bied. Dit
is
ook in die motiveringstuk gemeld dat die huidige gebruik van die
Shoprite Checkers perseel in ooreenstemming is met die
toestemmingsgebruike
ten opsigte daarvan vervat in die
dorpsaanlegskema, d.w.s doeleindes waarvoor die perseel gebruik mag
word met toestemming van die
Raad van die Plaaslike Munisipaliteit.
Ook is aangeheg by die aansoek twee bladsye, genommer 29 en 30 wat ân
uittreksel is uit
ân verkeersimpakstudie wat gedoen is ten aansien
van ân ander ontwikkeling in die omgewing, te wete die sogenaamde
Waterfront
ontwikkeling en wat ân opsomming bevat van voorstelle
wat gemaak is ten opsigte van daardie studie.
[5] Formeel was die
aansoek vir wysiging van die doeleindes waarvoor die Shoprite
Checkers perseel kragtens Spesiale Gebruik I van
die dorpsaanlegskema
gebruik mag word van âblok woonstelle onderhewig aan artikel 30(3)
Subsone âCâ beperkingsâ na âgarage
(geen paneelklopwerk
toegelaat); motorwas; parkeergarage; inkoopsentrum wat insluit
winkels; kantore; banke; restourante; kroeë;
bakkery; vlooimark en
ontspanningsareasâ. Origens was die aansoek vir wysiging van die
dorpsaanlegskema ooreenkomstig die volgende:
â
WYSIGING VAN ARTIKEL
29.10 (Onderstreepte gedeeltes moet geskrap word en die vetgedrukte
gedeeltes moet ingevoeg word
Beskrywing Erwe
1-7 en 2108-2110
Erf 17095
Toegelate
Blok
woonstelle in terme van
Sien spesiale gebruik I
gebruike
artikel
30(3) Subsone C
Toestemming=
Winkels,
kantore en
Geen
gebruike
diensstasie
met
Dekking
29%
80%
Vloerruimte
0.57
0.60
Hoogte
9m
20m
maksimum. Gemeet
vanaf die laagste grondvlak
tot
by die hoogste punt op
die
dak van die gebou
Parkering Verwys
na artiekel 23(9) & (10)
Verwys na artikel 23(9) & (10)
Voertuig
Tot
die bevrediging van die
toegange
Direkteur
Stedelike
Beplanning
en Behuising
Mangaung
Plaaslike
Regering
Boulyne
12m
langs Eerste Laan en nul meter langs die ander grense
â
[6] Die onderhawige
aansoek om wysiging van bepalings van die dorpsaanlegskema ten
aansien van die Shoprite Checkers perseel is gedoen
deur eerste
applikant as gevolmagtigde van die trust, maar in die naam van eerste
applikant. Soos vereis deur artikel 3(2) van die
Wet op Opheffing
van Beperkings, Nr. 84 van 1967, is hierdie aansoek ingedien by die
Mangaung Plaaslike Munisipaliteit. Dit het
plaasgevind op of omtrent
31 Oktober 2003. Daar bestaan geen geskil daaroor dat behoorlike
kennisgewing van die aansoek geskied
het soos wat bedoel word in
artikel 3 van gemelde Wet Nr. 84 van 1967. Slegs die derde
respondent het beswaar aangeteken teen die
aansoek. Daaropvolgend is
gereël dat die inspeksie ter plaatse en ondersoek deur die Dorperaad
soos bedoel in artikel 4(1) van
Wet Nr. 84 van 1967, plaasvind op 23
Maart 2004. Die inspeksie ter plaatse het op daardie dag
plaasgevind, maar die ondersoek is
vanwee die ongesteldheid van die
advokaat wat opgetree het vir die derde respondent, uitgestel tot 16
April 2004. Intussen het ân
skrywe vanaf die Mangaung Plaaslike
Munisipaliteit, gedateer 29 Maart 2004, die lig gesien. Hierdie
skrywe het die kommentaar en
aanbeveling van die betrokke plaaslike
owerheid soos bedoel in artikel 3(2) van Wet Nr. 84 van 1967 bevat.
Ingevolge hierdie brief
het die Mangaung Plaaslike Owerheid deur
middel van sy uitvoerende burgemeester besluit dat die onderhawige
aansoek aanbeveel word
vir goedkeuring onderworpe aan tien
voorwaardes en dat die aansoek nie finaal goedgekeur word alvorens
die applikant daardie voorwaardes
in skrif aanvaar het nie. Vir
redes wat later sal blyk, is dit nie nodig om hierin na die eerste
agt van hierdie voorwaardes te
verwys nie. Die laaste twee van die
gemelde voorwaardes was die volgende:
â
(ix) that the maximum height of the
proposed development will be restricted to nine (9) metres, and the
amendments to the Bloemfontein
Town Planning Scheme as contained in
this application, be amended accordingly; and
(x) that the
coverage be restricted to 60%.â
Dit is nie uit die
stukke duidelik wanneer en hoe hierdie brief die Dorperaad bereik het
nie, maar dit moet aanvaar word dat dit
voor die Dorperaad was tydens
die vergadering van 16 April 2004, aangesien die uittreksel uit die
notule van die Dorperaad van daardie
dag die volgende in hierdie
verband bevat:
â
The comments from the Mangaung
Local Municipality in this case were not received and must be ignored
as the time for objections and
comments has lapsed.â
[7] Dit wil dus voorkom
dat die Dorperaad die houding ingeneem het dat dit verplig was om die
skrywe vanaf die Mangaung Plaaslike
Munisipaliteit te ignoreer en
buite rekening te laat, omdat dit nie betyds ontvang is nie. Hierdie
benadering is myns insiens foutief.
Artikel 3(8) van Wet Nr. 84 van
1967 bepaal soos volg:
â
(8) Indien ân plaaslike bestuur
versuim om ân in subartikel (2) bedoelde aansoek met sy kommentaar
daarop en aanbeveling daaroor
aan die Direkteur-generaal deur te
stuur binne ân tydperk van dertig dae na ontvangs daarvan of binne
die verdere tydperk wat die
Direkteur-generaal op versoek toelaat,
kan die aansoek sonder daardie kommentaar en aanbeveling behandel en
afgehandel word.â
Volgens hierdie artikel
is dit myns insiens duidelik dat die bevoegdheid verleen word om die
betrokke aansoek af te handel indien
die kommentaar en aanbeveling
van die plaaslike owerheid nie ter hand kom nie. Dit beteken
geensins dat indien die kommentaar en
aanbeveling van die plaaslike
owerheid inderdaad, weliswaar buite die voorgeskrewe tyd, ter hand
kom voordat die aansoek afgehandel
is, dit ignoreer moet word nie.
Aangesien die plaaslike owerheid ân baie belangrike rolspeler in so
ân aansoek is, behoort na
my oordeel in omstandighede soos die
onderhawige en onderworpe aan billikheid teenoor die betrokkenes, die
kommentaar en aanbeveling
van die plaaslike owerheid, alhoewel laat
ontvang, steeds in ag geneem en behandel te word.
[8] Op 16 April 2004 is
die ondersoek van die Dorperaad voortgesit. By daardie geleentheid
was die applikante sowel as die derde
respondent verteenwoordig deur
advokate. Namens die derde respondent is o.a beswaar gemaak teen die
hoogte van die voorgestelde
gebou en is gesê dat ân gebou van 20
meter hoog ân negatiewe visuele effek op die gebied sal hê.
Hierop is namens die applikant
geantwoord dat die hoogtebeperking van
toepassing op die BMW perseel, grondvlak plus twee vlakke sonder
enige beperking in meters
is en dat die applikant tevrede sal wees
indien in plaas van die aangevraagde 20 meter maksimum hoogte, die
beperking van ân grondvlak
plus twee vlakke toegestaan word. Ook
is genotuleer:
â
The applicant in his reply stated
that a comprehensive traffic study for an area much larger than the
immediate vicinity had been
compiled and that the developer will
implement all the requirements as stated in this report.â
[9] In sy private
bespreking het die lede van die Dorperaad tot die gevolgtrekking
gekom dat die aansoek aanbeveel moet word. Daar
is egter gesê dat
die kwessie van die hoogte van die gebou problematies is en daar is
besluit dat dieselfde moet geld as wat van
toepassing is op die BMW
perseel, naamlik:
â
..... ground level plus two floors
with no actual restriction in the height in metres.â
Die besluit van die
Dorperaad was gevolglik dat die aansoek, soos dit staan, aanbeveel
word vir goedkeuring onderworpe aan die volgende:
â
The requested height restriction of
20m must be replaced with a ground level and two levels.â
Ook in die skrywe wat die
aansoek vir goedkeuring aan die eerste respondent aanbeveel het, is
aangetoon dat die aansoek soos aangevra,
aanbeveel word vir
goedkeuring, behalwe dat die 20 meter in die applikant se aansoek ten
aansien van hoogte vervang moet word met
â
ground level plus two floorsâ
maar hierby is bygevoeg
die volgende:
â
..... subject to the requested
height restriction of 20m which must be replaced with a ground level
and two levels and subject to
the condition as imposed by the
Mangaung Local Municipality.â
[10] Op 22 Julie 2004 het
die eerste respondent besluit dat die aansoek nie goedgekeur word
nie. Dit is hierdie besluit wat die applikante
vra hersien en
tersyde gestel moet word.
[11] Op 3 Augustus 2004
is namens die trust ân skrywe afgelewer waarin redes vir sy besluit
van die eerste respondent aangevra is.
In die skrywe is aangedui dat
die aangeleentheid dringend is en is die eerste respondent versoek om
redes te verskaf voor of op
13 Augustus 2004. Op of omtrent 10
September 2004 het die applikante die onderhawige aansoek uitgereik.
Die aansoek is uitgereik
in die vorm van Eenvormige Hofreël 53, maar
is vanwee applikante se persepsie van die dringendheid van die
aangeleentheid, verkorte
tydperke deur die applikante in die
Kennisgewing van Mosie vervat. Dat die aangeleentheid so dringend
was dat afwyking van die bepalings
van die Hofreëls geregverdig was,
is deurgaans tot by die aanhoor van die aansoek deur die respondente
betwis. Op 22 Oktober 2004
het die eerste respondent die redes vir
sy besluit beskikbaar gemaak. Op dieselfde datum het die
Staatsprokureur van Bloemfontein,
namens die eerste respondent, aan
die applikante se prokureurs geskryf. In hierdie brief is gesê dat
die aangeleentheid nie dringend
genoeg is om afwyking van die normale
tydperke ingevolge die betrokke Hofreëls te regverdig nie en is
voorgestel dat die applikante
die geleentheid neem om die redes van
die eerste respondent te oorweeg en indien so geadviseer, die
Kennisgewing van Mosie te wysig
en die stawende eedsverklaring aan te
vul. Sodanige aanvulling van die stawende eedsverklaring is
natuurlik in ooreenstemming met
die bepalings van Hofreël 53 en ook
met wat die applikante self in die stawende eedsverklaring in die
vooruitsig gestel het. Voorts
is voorstelle gemaak met betrekking
tot tydperke, sodat die aansoek deur hierdie Hof aangehoor kon word
op 25 November 2004. Die
reaksie hierop namens die applikante was in
wese dat die applikante daarop aandring dat die aansoek op 4 November
2004 voor die Hof
dien, dat die Kennisgewing van Mosie met verkorte
tydperke dienooreenkomstig gewysig word, maar dat die stawende
beëdigde verklaring
nie aangevul word na oorweging van die redes van
die eerste respondent nie. Uiteindelik is die applikante se
repliserende beëdigde
verklarings eers tussen 17 en 19 November 2004
onderteken.
[12] Dit is geykte reg
dat in aansoekverrigtinge die beëdigde verklarings beide die
pleitstukke en die getuienis moet bevat. Dit
is ook welbekend dat ân
applikant sy saak in sy stawende beëdigde verklarings moet uitmaak
en dat hy as algemene reël daarby
moet staan of val. ân Applikant
kan ook nie net ân raamwerk of ân geraamte in sy stawende
beëdigde verklaring uitmaak en
poog om dit in die repliserende
verklarings in te vul of aan te vul nie. Alhoewel uitsonderings op
hierdie algemene reëls in belang
van geregtigheid toegelaat kan
word, is dit duidelik dat dit slegs toegelaat sal word indien dit
vasstaan dat die ander party of
partye nie daardeur benadeel sal word
nie. Dit geld vanselfsprekend vir nuwe feitebeweringe vervat in die
repliserende beëdigde
verklaring, maar ook, in gepaste gevalle, vir
nuwe regspunte. Sien in hierdie verband
TITTYâS BAR AND &
BOTTLE STORE (PTY) LTD v A.B.C. GARAGE (PTY) LTD AND OTHERS
1974 (4) SA 362
(T) op 369 A â B;
DIRECTOR OF HOSPITAL
SERVICES v MISTRY
1979 (1) SA 626
(A) op 635 H â 636 C;
SHEPHERD v MITCHELL COTTS SEAFREIGHT (SA) (PTY) LTD
1984 (3) SA 202
(T) op 205 E â P;
ACADEMY OF LEARNING (PTY)
LTD v HANCOCK AND OTHERS
2001 (1) SA 941
(K) op 956 A â D.
[13] Die
hersieningsgronde waarop die applikante in hierdie saak steun, is
soos volg uiteengesit in die stawende beëdigde verklaring:
â
11.1 In die eerste plek is die
besluit van die eerste respondent uiters onredelik en sonder enige
rasionele grondslag. Indien eerste
respondent oor enige ander
inligting beskik het wat hom genoop het om teen die gemotiveerde
aanbeveling van die Dorperaad te gaan,
sou dit seer sekerlik blyk uit
die dokumente wat deur eerste respondent blootgelê staan te word
ooreenkomstig die Hofreëls. Indien
daar sodanige inligting bestaan
het, sou dit ook op ân verdere onreëlmatigheid dui deurdat die
applikante nie ân geleentheid
gehad het om dit te oorweeg of daarop
te reageer nie. Geoordeel aan die inligting wat na my wete voor
eerste respondent gedien het,
kon geen redelike LUR in sy posisie so
ân besluit geneem het nie.
11.2 Indien die eerste respondent, so
wil dit vir my voorkom die geval te wees, bloot op ân klakkelose en
arbitrêre wyse willekeurig
gehandel het teen die aanbeveling van die
Dorperaad, dan is dit, en so is ek ook geadviseer, op sigself ân
grondslag om die besluit
van eerste respondent te hersien en tersyde
te stel.
11.4 Indien die eerste respondent van
voorneme was om ander oorwegings aan die dag te lê buite-om die
aanbeveling vervat in die voorlegging
van die Dorperaad, moes eerste
respondent aan my ân redelike geleentheid gebied het om
voorgeggings aan hom te maak om sy
contra
oorwegings teen te
spreek.â
[14] Na my oordeel word
in die voormelde aangehaalde gedeeltes niks meer gesê nie dan dat
die eerste respondent se besluit hersien
moet word omdat hy nie die
aanbeveling van die Dorperaad gevolg het nie, asook dat dit moontlik
is dat die eerste respondent inligting
in ag geneem het ten opsigte
waarvan die applikante ân geleentheid gebied moes gewees het om
daarop te reageer. Die blote feit
dat die aanbeveling van die
Dorperaad nie gevolg is nie, is geen grond vir die tersydestelling
van die eerste respondent se besluit
nie; die eerste respondent het
die diskresie om te besluit of hy die aanbeveling aanvaar of nie.
Die verdere bewerings is kennelik
blote spekulasie. Na my oordeel
moet die respondente gevolglik gelyk gegee word dat die applikante in
hul stawende eedsverklaring
nie ân voldoende saak uitgemaak het vir
die aangevraagde regshulp nie en dat die applikante se aansoek om
daardie rede alleen moet
misluk.
[15] Ek is egter ook van
mening dat by ontleding van eerste respondent se redes dit blyk dat
nie gesê kan word dat sy besluit nie
rasioneel regverdigbaar is soos
bedoel in artikel 6(2)(f)(ii) van die âPromotion of Administrative
Justice Act No. 3/2000â (âPAJAâ)
of dat geen redelike persoon
sy diskresie kon uitoefen om die aansoek te weier soos bedoel in
artikel 6(2)(h) van PAJA nie.
[16] Die eerste
respondent se gemelde redes beslaan tien getikte bladsye. Dit is
waar dat in terme van trant en inhoud, gedeeltes
van die eerste
respondent se redes kritiek teen die Dorperaad se werkswyse en
aanbeveling bevat en dat dit wil voorkom asof die eerste
respondent
buite rekening gelaat het dat die taak van die Dorperaad is om hom te
adviseer en nie vir die applikante optree nie.
By behoorlike analise
van die eerste respondent se redes is dit na my mening egter duidelik
dat daar vier wesenlike gronde is waarop
die eerste respondent tot
die gevolgtrekking gekom het dat die aansoek nie goedgekeur moet word
nie. Daar is aspekte in die eerste
respondent se redes aangeraak wat
na my oordeel nie wesenlik is nie en vir so ver daardie aspekte
gebrekkig mag wees, raak dit uiteraard
nie die wese van die besluit
nie. Sien in hierdie verband ook
FERREIRA v PREMIER, FREE
STATE, AND OTHERS
2000 (1) SA 241
(O) op 253 C.
[17] Na my oordeel kan
die vier wesenlike grondslae of redes vir die weiering van eerste
respondent om die aansoek goed te keur, soos
volg opgesom word. Die
eerste aspek handel met die maksimum toelaatbare hoogte van die gebou
wat die applikante beoog. Eerste respondent
sê dat hierdie aspek
van die aansoek verwarrend en dubbelsinnig is. Hy wys daarop dat ân
beperking van grondvlak plus twee vloere
(âfloorsâ) en grondvlak
plus twee vlakke (âlevelsâ) ter sprake is. Hy wys ook daarop dat
in hierdie konteks vlakke en vloere
nie noodwendig dieselfde is nie.
Hy noem ook dat die verwysing in die aanbeveling â..... subject to
the condition as imposed by
the Mangaung Local Municipalityâ, ân
verwysing is na paragraaf (ix) van die voormelde brief van daardie
plaaslike owerheid gedateer
29 Maart 2004 en dat in daardie paragraaf
vermeld word dat die maksimum hoogte van die beoogde ontwikkeling
beperk moet word tot
9 meter of, ten minste dat dit nie duidelik is
na watter voorwaarde verwys word nie. Eerste respondent sê verder
dat indien hy
die aansoek soos aanbeveel sou goedkeur, dit die gevolg
sou hê dat beoogde gebou die hoogte van die gebou op die BMW perseel
en
selfs die hoogte van 20 meter waarvoor die applikant oorspronklik
aansoek gedoen het, sou kon oorskry en dat ân gebou van hoër
as 9
meter ân negatiewe visuele impak op die gebied sal hê.
[18] Tweedens het die
eerste respondent aangevoer dat dit ân internasionale aanvaarde
beginsel van stadsontwikkeling is dat kernareas
of sentrale
besigheidsgebiede gekaraktiseer word deur hoë digtheid geboue waarop
geen hoogtebeperkings van toepassing is nie, maar
dat waar wegbeweeg
word van sodanige sentrale besigheidsgebiede geboue van laer digtheid
en laer hoogte moet wees vanwee omgewingsoorwegings,
oorwegings van
publieke belang en die nodigheid om ân meer ontspannende atmosfeer
te skep en dat die betrokke dorpsaanlegskema
dienooreenkomstig
beperkings oplê. Aangesien die onderhawige eiendom buite so ân
sentrale besigheidsgebied geleë is, is hy nie
bereid om ân dekking
van 80% ten aansien van die onderhawige voorgestelde ontwikkeling
goed te keur nie en is dit ook nie vir hom
duidelik dat indien so ân
hoë dekking toegelaat word, die 12 meter boulyn langs Eerste Laan
nog moontlik sal wees nie.
[19] In die derde plek
het die eerste respondent daarop gewys dat alreeds ernstige
verkeersopeenhoping plaasvind in die omliggende
strate, te wete
Nelson Mandelarylaan, Eerste Laan en Henrystraat. Hy het daarop
gewys dat die verkeersstudie waarna by die Dorperaadondersoek
verwys
is, betrekking het op ân baie groter area dan die area wat deur die
onderhawige voorgestelde ontwikkeling geraak sal word
en dat hierdie
studie in elk geval nie voorgelê of oorweeg is nie. Hy het gesê
dat die kwessie van die impak op verkeer as gevolg
van die
onderhawige voorgestelde ontwikkeling krities is, dat die
voorgestelde ontwikkeling ân groot ontwikkeling daarstel en dat
ân
verkeersimpakstudie spesifiek met betrekking daartoe essensieel en
noodsaaklik is om hom in staat te stel om ân ingeligte
besluit te
neem. Kortom, die eerste respondent was nie bereid om die aansoek
toe te staan in die afwesigheid van ân verkeersimpakstudie
spesifiek ten aansien van die onderhawige ontwikkeling nie.
[20] Vierdens het die
eerste respondent gemeld dat die aansoek nie in die openbare belang
is nie, wesenlik in die volgende terme:
â
4.1 Both the Free State Development
Plan and the Municipalityâs Integrated Development Plan (IDP)
requires rejuvenation of inner
city areas by both government and the
private sector.
4.2 A proposed development will result
in enticing and luring prestige business ventures out of the in a
city area (CBD) which may
render a disfunctional and may result in
inner city decay.
4.3 ...................
4.4 The efforts of the Provincial
Government to relocate its offices to the CBD in compliance with the
FSDPâs objective of economic
development will not have the maximum
impact if prestige business leaves the CBD to move to this
development.â
[21] Ten aansien van die
tersake beginsels word in
PHARMACEUTICAL MANUFACTURERS
ASSOCIATION OF SA AND ANOTHER: IN RE EX PARTE PRESIDENT OF THE
REPUBLIC OF SOUTH AFRICA AND OTHERS
2000 (2) SA (CC) op 709 D
â F die volgende gesê:
â
Rationality in this sense is a
minimum threshold requirement applicable to the exercise of all
public power by members of the Executive
and other functionaries.
Action that fails to pass this threshold is inconsistent with the
requirements of our Constitution and
therefore unlawful. The setting
of this standard does not mean that the Courts can or should
substitute their opinions as to what
is appropriate for the opinions
of those in whom the power has been vested. As long as the purpose
sought to be achieved by the
exercise of the public power is within
the authority of the functionary, and as long as the functionaryâs
decision, viewed objectively,
is rational, a Court cannot interfere
with the decision simply because it disagrees with it or considers
that the power was exercised
inappropriately.â
In
TRINITY
BROADCASTING (CISKEI) v INDEPENDANT COMMUNICTIONS AUTHORITY OF SOUTH
AFRICA
2004 (3) SA 346
(SCA) stel Howie P dit soos volg op
354 B en 354 H â 355 A:
â
As made clear in
Bel Porto
,
the review threshold is
rationality
. Again, the test is an
objective one, it being immaterial if the functionary acted in the
belief, in good faith, that the action
was rational. Rationality is,
as has been shown above, one of the criteria now laid down in s
6(2)(f)ii) of the Promotion of Administrative
Justice Act.
Reasonableness can, of course, be a relevant factor, but only where
the question is whether the action is so unreasonable
that no
reasonable person would have resorted to it (see s 6(2)(h)).â
â
It is the latter test with which we
are concerned in the present case. In the application of that test,
the reviewing Court will
ask: is there a rational objective basis
justifying the connection made by the administrative decision-maker
between the material
made available and the conclusion arrived at?â
In
BATO STAR
FISHING (PTY) LTD v MINISTER OF ENVIRONMENTAL AFFAIRS AND OTHERS
[2004] ZACC 15
;
2004 (4) SA 490
(CC) word op 513 A gesê dat artikel 6(2)(h) van PAJA
verstaan moet word as ân eenvoudige toets naamlik dat ân
administratiewe
besluit hersienbaar sal wees indien dit een is wat ân
redelike besluitnemer nie kon maak nie. Op 513 B â D word dan die
volgende
gesê:
â
What will constitute a reasonable
decision will depend on the circumstances of each case, much as what
will constitute a fair procedure
will depend on the circumstances of
each case. Factors relevant to determining whether a decision is
reasonable or not will include
the nature of the decision, the
identity and expertise of the decision-maker, the range of factors
relevant to the decision, the
reasons given for the decision, the
nature of the competing interests involved and the impact of the
decision on the lives and well-being
of those affected. Although the
review functions of the Court now have a substantive as well as a
procedural ingredient, the distinction
between appeals and reviews
continues to be significant. The Court should take care not to usurp
the functions of administrative
agencies. Its task is to ensure that
the decisions taken by administrative agencies fall within the bounds
reasonableness as required
by the Constitution.â
[22] Word hierdie
beginsels op die onderhawige saak toegepas, blyk dit na my oordeel
dat dit nie bevind kan word dat die besluit van
die eerste respondent
objektief gesproke nie rasioneel regverdigbaar is nie en ook nie dat
geen redelike persoon in die lig van die
voormelde redes, die
onderhawige besluit kon neem nie. Elkeen van die vier grondslae
hierbo vermeld, stel na my oordeel verstaanbare
en objektief
aanvaarbare redes van die weiering van die aansoek daar. Hul
gesamentlike effek is dat die besluit nie as onredelik,
soos hierbo
bedoel, aangemerk word nie.
[23] Namens die
applikante is aangevoer dat die eerste respondent addisionele
inligting met betrekking tot die aansoek van die applikante
moes
aangevra het. Die Wet op Opheffings van Beperkinge, Nr. 84 van 1967
bevat nie ân uitdruklike bepaling tot die effek dat die
eerste
respondent addisionele inligting sou kon aanvra nie. Ek aanvaar ten
gunste van die applikante dat hy nie buite sy magte sou
optree indien
hy wel in sy diskresie sodanige verdere inligting aangevra het nie.
Wat wel duidelik is, is dat die eerste respondent
volkome geregtig
was om ân besluit met betrekking tot die aansoek te maak soos dit
voor hom was. Ek is nie tevrede dat die eerste
respondent in die
aangevoerde opsig onreëlmatig opgetree het nie. Dit kom my voor dat
ten aansien van belangrike oorwegings waarop
die eerste respondent
gesteun het, geen addisionele feitelike inligting ter sprake is nie.
Boonop is daar niks wat die applikante
verhoed om hulle aansoek te
hernu in die lig van die redes van die eerste respondent nie.
[24] Drie verdere aspekte
wat namens die applikante in betoog voor ons geopper is, verdien
kortliks aandag. Eerstens is aangevoer
dat die eerste respondent
fouteer het deur ag te slaan op die voormelde brief van die Mangaung
Plaaslike Munisipaliteit gedateer
29 Maart 2004. In die tweede plek
is aangevoer dat die eerste respondent fouteer het deur in ag te neem
dat in die betrokke strate
verkeersopeenhopingsprobleme bestaan, ten
minste sonder om die applikant ân geleentheid te gee om daarop te
reageer. Derdens is
gesê dat die eerste respondent internasionale
stadsontwikkelingsbeginsels, sekere wetgewing en ontwikkelingsplanne
in ag geneem
het sonder om, in sy redes, te sê wat dit eintlik is.
[25] Hierdie aspekte is
almal in repliek vir die eerste keer geopper. Omdat ek, vir die
redes wat volg, meen dat die betoë in ieder
geval geen meriete het
nie, beskou ek dit aangewese om hierdie betoë nie buite rekening te
laat nie maar kortliks te behandel.
[26] Dit moet op die
stukke voor ons aanvaar word, so is namens die applikante voor ons
toegegee, dat die gemelde brief vanaf Mangaung
Plaaslike
Munisipaliteit deur die Dorperaad aan die eerste respondent voorsien
is as deel van die dokumentasie wat hy moes oorweeg
vir doeleindes
van beslissing van die aansoek. So gesien, is dit reeds moeilik om
in te sien waarom die eerste respondent nie op
die inhoud daarvan kon
ag slaan nie. Hier moet ook onthou word dat in hierdie brief die
plaaslike owerheid die aansoek onderworpe
aan voorwaardes gesteun
het. In die repliek word verder gesê dat die eerste agt voorwaardes
vervat in daardie brief standaard voorwaardes
is wat gevolglik nie
van wesenlike belang is nie. Vervolgens word in die repliek verder
uitdruklik die standpunt ingeneem dat die
onderwerpe waarmee die
negende en tiende voorwaardes vervat in die brief handel, wel deeglik
by die ondersoek deur die Dorperaad
in oorweging geneem is.
[27] Dit is belangrik dat
die kwessie van die verkeersprobleme in perspektief gesien word. Dit
word nêrens in die repliek ontken
dat daar inderdaad sulke
verkeersprobleme bestaan nie. Verder is die aansoek nie afgewys
omdat dit die verkeersituasie sal verongeluk
of vererger nie, maar
omdat as ân kwessie van beginsel ân groot ontwikkeling soos die
onderhawige nie goedgekeur behoort te word
in die afwesigheid van ân
verkeersimpakstudie wat spesifiek daarop betrekking het nie. Soos
reeds hierbo gesê, kan met so ân
benadering, myns insiens, nie
fout gevind word nie. Vergelyk byvoorbeeld die belangrike rol van
die verkeersimpak op die omliggende
strate by die beoogde
ontwikkeling in die saak van
FERREIRA v PREMIER, FREE STATE,
AND OTHERS,
supra.
[28]
Die
derde voormelde betoog behels uiteraard nie ân hersieningsgrond
per
se
nie. Die betoog is egter feitelik nie korrek nie. Eerste
respondent het duidelik gesê watter internasionaal aanvaarde
beginsels
van stadsontwikkeling hy in aggeneem het. Hy het, net soos
die applikante se motiveringstuk verwys na die Wet op
Ontwikkelingsfasilitering,
Nr. 67 van 1995. Hy het ook inderdaad
vermeld watter ontwikkelingsplanne hy in aggeneem het asook die wyse
waarop dit gedoen is.
Sien ook paragrawe [18] en [20] hierbo.
[29] Na my oordeel kan
die applikante se aansoek derhalwe nie slaag nie. Hierdie
gevolgtrekking maak dit onnodig om uitsluitsel te
gee t.o.v. die punt
in limine
namens die derde respondent dat die eerste applikant
nie
locus standi
het om in eie naam as applikant op te tree
nie. Koste van die aansoek moet myns insiens die resultaat volg.
Namens die applikante
is na my oordeel tereg toegegee dat die gebruik
van twee advokate geregverdig was. Uit die voormelde uiteensetting
is dit na my
oordeel ook duidelik dat die applikante aanspreeklik
gehou moet word vir die koste van verbonde daaraan dat die aansoek op
die rol
was vir verhoor op 4 November 2004.
[30] Gevolglik word die
aansoek van die hand gewys met koste, insluitende die koste van twee
advokate waar toepaslik en insluitende
die koste van 4 November 2004.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Ek stem saam.
_______________
A.P. BECKLEY, R
Namens applikante: Adv.
F.W.A. Danzfuss SC en Adv H.J. Benade
In opdrag van:
EG Cooper & Seuns
Ing
BLOEMFONTEIN
Namens eerste
respondent: Adv. C. Ploos van Amstel SC en Adv. B.S. Mene
In opdrag van:
Staatsprokureur
BLOEMFONTEIN
Namens derde
respondent: Adv. M.J. Möller
In opdrag van:
Israel Sackstein
Matsepe
BLOEMFONTEIN
/sp