S v Gunda (CA&R 139\06) [2006] ZANCHC 109 (8 December 2006)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Appeal against conviction — Appellant convicted of rape and sentenced to 10 years imprisonment — Application for leave to appeal granted — State conceded that conviction was legally untenable — Trial court erred in excluding crucial witness testimony and misapplied the admissibility of evidence principles — Appellant denied a fair trial, violating constitutional rights — Conviction and sentence set aside due to lack of sufficient evidence to sustain the charge.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 109
|

|

S v Gunda (CA&R 139\06) [2006] ZANCHC 109 (8 December 2006)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R
139\06
Datum
verhoor: 2006-12-04
Datum
gelewer: 2006-12-08
In
die appél van
:
JAN
JOHANNES GUNDA APPELLANT
versus
DIE
STAAT RESPONDENT
Coram
:
MAJIEDT R et MOLWANTWA WNR
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die appellant is in die
Streekhof in Upington skuldig bevind op ‘n aanklag van verkragting
en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf.
Sy aansoek om verlof om te
appelleer is afgewys deur die verhoorlanddros. Op petisie na
hierdie Hof is aan hom verlof verleen
om te appelleer teen die
voormelde skuldigbevinding en vonnis.
Namens die Staat het Me
Van Dyk tereg toegegee dat die skuldigbevinding regtens onontvanklik
is en dis gevolglik nie nodig om in
groot besonderhede met die
getuienis wat in die verhoor aangebied is te handel nie. Daar is
tóg sekere kommerwekkende aspekte
van die verhoor wat kommentaar
verg en in dié verband is dit dienstig om kortliks na die aangebode
getuienis te verwys.
Die Staat se saak het
grootliks berus op die getuienis van ‘n enkelgetuie, die
klaagster. Haar getuienis kan bondig as volg opgesom
word:
3.1 Die
klaagster het soos gewoonlik by die appellant, wat toe namens ‘n
vriend ‘n taxi-diens bedryf het, op die namiddag van
die voorval ‘n
geleentheid gekry vanaf die hospitaal na haar woonplek. Daar was
verskeie ander mense ook vervoer in die appellant
se voertuig. Die
klaagster was gewoonlik tweede laaste afgelaai, maar op dié betrokke
dag het die appellant, vanweë ander sakeverpligtinge,
voorgestel dat
sy heel laaste afgelaai word.
3.2 Die
appellant het naamlik ook ‘n bottelstoor bedryf en moes dringend
voorraad daarvoor aankoop by die Oranje Wynkelder alvorens
die
wynkelder sou toemaak om 17h00. Die appellant het gevolglik so
skuins voor 17h00 wyn ingelaai by die voertuig (‘n Toyota Venture
bussie) daar by die wynkelder. Dit is van belang om te let daarop
dat dié wyn nie agter by die Venture ingelaai is nie, maar wel
by
die sydeur en dit is op die middelste sitplek en op die vloer van die
voertuig gepak. Op hierdie stadium was dit slegs die appellant,
die
klaagster en ‘n ander passassier, ene Shuping, wat nog in die
bussie was.
3.3 Nadat
die wyn opgelaai is soos voormeld, het die appellant vir Mnr. Shuping
by sy huis gaan aflaai. Hy het toe, volgens die klaagster,
instede
daarvan om haar by haar woonplek af te laai, gery na ‘n dam buite
die woonbuurt. Daar het hy teen haar sin met haar geslagsgemeenskap
gevoer.
3.4 Volgens die klaagster
het die appellant onbeskermd en sonder ‘n kondoom met haar
gemeenskap gehou en het hy ook binne-in haar
ge-ejakuleer.
3.5 Na die verkragting
het die appellant volgens die klaagster haar by haar huis afgelaai
waar haar saamleefman, Lebogang Schoeman,
voor die deur gesit het.
Sy het nie aan hom vertel wat gebeur het nie, maar het bloot aan hom
gesê dat hulle na die polisiestasie
moet gaan.
3.6 Die klaagster en Mnr.
Schoeman het na die polisiestasie, wat ‘n ent weg was, gestap en
daar het sy ‘n rapport gemaak aan inspekteur
Sethwala aangaande die
verkragting. Daarna is sy na ‘n forensiese verpleegkundige geneem,
ene Mnr. Sokoyi, wat haar medies ondersoek
en ‘n verslag
daaraangaande opgestel het.
Mnr. Schoeman het getuig
en het bevestig dat die appellant die klaagster daar afgelaai het,
dat dit later gelyk het asof die klaagster
huil en dat sy hom gevra
het dat hulle polisiestasie toe moet gaan waar sy die voorval
gerapporteer het.
Mnr.
Sokoyi het getuig en het ook die gewone J88-mediese verslag
ingehandig wat hy opgestel het ten aansien van sy ondersoek van
die
klaagster. Die belangrikste punte van sy ondersoek is dat hy gevind
het dat daar geforseerde penetrasie was en hy het vars
skeurtjies
by die
labia
minora
en
labia
majora
opgemerk.
Hy het verder ook aangeteken dat die klaagster aan hom meegedeel
het dat die appellant tydens die daad wel ‘n kondoom
gebruik het,
maar dat dit geskeur het tydens geslagsgemeenskap. Daar is ook
smere van haar vagina geneem en haar damesbroekie
tesame met die
smere is daarna deur die polisie versend vir forensiese ontleding by
die forensiese laboratorium van die polisie.
‘
n
Forensiese verslag wat by ooreenkoms ingevolge die bepalings van
artikel 212 van die Strafproseswet, 51 van 1977, ingehandig is,
het
aangedui dat geen seminale vloeistof in die
vaginale
smere of op die damesbroekie nagespeur kon word nie.
‘
n
Onrusbarende aspek van die verhoor
is
dat die verhoorlanddros by twee geleenthede sogenaamde
“binneverhore” gehou het ten aansien van die “toelaatbaarheid”
van twee getuieverklarings, te wete die eerste getuieverklaring van
die klaagster aan inspekteur Sethwala en die getuieverklaring
van
Mnr. Lebogang Schoeman wat hy gemaak het aan speurder-inspekteur Van
den Heever. Dié “binneverhore” was oënskynlik daarop
gemik om
te bepaal of die bepaalde getuies (die klaagster en Mnr. Schoeman)
daaraangaande gekruisondervra kon word. In beide gevalle
was die
bevinding (sonder opgaaf van volledige redes) dat die
getuieverklarings sogenaamd “ontoelaatbaar” is en dat gevolglik
nie daaraangaande gekruisondervra kon word nie.
Ek
het in my loopbaan in die reg nog nooit teëgekom dat ‘n
binneverhoor gehou word vir ‘n geval soos hierdie nie en dit is,
soos Mnr. Pistorius namens die appellant tereg aangevoer het en Me
Van Dyk namens die Staat tereg toegegee het, geheel en al
onreëlmatig.
Die streeklanddros het ‘n growwe denkfout begaan
deur die regskonsep van die
toelaatbaarheid
van getuienis geheel en al te verwar met dié van die
bewyswaarde
van getuienis. In die geval, soos
in
casu
,
waar dit gaan oor die weersprekings van ‘n getuie tussen sy/haar
viva
voce
getuienis
in die hof en sy/haar weergawe in die getuieverklaring is
“
die doel ….. immers in geen geval
om te bewys welke van die weergawes die korrekte een is nie, maar
oortuiging te bring dat die
getuie kan fouteer, hetsy weens ‘n
defektiewe rekolleksie of weens oneerlikheid”
per
Olivier AR in
S
v Mafaladiso en andere 2003(1) SASV 583 HHA
te
593 f. Die vraag is derhalwe nie of so ‘n getuieverklaring
toelaatbaar is nie, maar wat die bewyswaarde van ‘n getuie se
getuienis
is, gegewe die weersprekings tussen die
viva
voce
getuienis
en die getuieverklaring. Dit is ‘n aspek wat prosedureel aan die
einde van die saak bepaal moet word met inagneming van
al die ander
aangebode en aanvaarde getuienis voor die hof. Dit is beslis nie ‘n
aspek wat in ‘n binneverhoor tuis hoort nie.
9.1
In
die onderhawige geval het die streeklanddros die werkwyse gevolg dat
die betrokke Staatsgetuie getuienis lewer aangaande die omstandighede
tydens die aflegging van die getuieverklaring en dan is die bepaalde
polisiebeampte wat die verklaring afgeneem het geroep deur die
Verdediging om aangaande dieselfde aspek te getuig. Daarna het die
streeklanddros, soos alreeds gesê sonder opgaaf van volledige
redes,
bloot bevind dat die getuieverklaring nie toelaatbaar is nie.
Gevolglik is die prokureur van die appellant van die geleentheid
ontneem om die klaagster en die getuie Lebogang Schoeman te
kruisondervra aangaande die weersprekings in hul getuieverklarings,
waar
dit ookal mag voorkom. Hierdie is uiteraard nuttige
kruisondervraging materiaal wat so uitgesluit is. In dié verband
het Botha
AR in
S
v Xaba 1983(3) SA 717 (A)
te
729 H as volg verklaar:
“
Whether or not a
discrepancy between the evidence of a State witness and his previous
statement to the police is sufficiently serious
to call for the
performance of the duty of disclosure by the prosecutor must
therefore be assessed in the context of the effect that
such
disclosure and the cross-examination following upon it might have on
the credibility and reliability of the witness. In my opinion
a
discrepancy is serious whenever there is a real possibility that the
probing of it by means of cross-examination could have an
adverse
effect on the assessment by the trial Court of the witness'
credibility and reliability.”
9.2
Boonop
het die verhoorlanddros by die aanvang van die tweede “binneverhoor”
ten aansien van Lebogang Schoeman se getuie-verklaring
as volg aan
die appellant verduidelik:
“
Goed, meneer wat nou gaan gebeur is
die Prokureur moet bewys dat dit wat u daar gesê het is inderdaad
deur u gesê, en u is ook nie
gedwing om die verklaring te teken nie,
so ek gaan nou eers die ondersoekbeampte roep en dan gaan die Hof sy
getuienis aanhoor en
dan gaan die Hof besluit of u gedwing was en of
u nie gedwing was nie.”
Hiermee het die
verhoorlanddros verder wesenlik misgetas deur ‘n bewyslas op die
appellant te plaas.
Vanweë
hierdie growwe onreëlmatighede in die verhoor is ek die mening
toegedaan dat die appellant nie ‘n billike verhoor gehad
het nie,
veral wat betref die streeklanddros se bevinding dat die klaagster
nie aangaande haar getuieverklaring aan inspekteur
Sethwala
gekruisondervra mag word nie. Die klaagster was uiteraard die Staat
se sleutelgetuie tydens die verhoor. Hierdie onbillike
verhoor het
die appellant se grondwetlike regte vervat in artikel 35(3) van
die Grondwet, 108 van 1996, fundamenteel misken
wat opsigself
tersydestelling van die skuldigbevinding en vonnis regverdig.
Bowendien
en in elk geval het die Staat op die aangebode getuienis voor die
streeklanddros glad nie bo redelike twyfel bewys dat
die appellant
die klaagster verkrag het nie. Die klaagster was, soos alreeds
aangedui, ‘n enkelgetuie en moes haar getuienis
in alle wesenlike
opsigte bevredigend wees, tensy daar ander stawende getuienis
aanwesig was. Ten aansien van die volgende aspekte
wat ek as
wesenlik beskou by ‘n aanklag van verkragting, skiet die klaagster
se getuienis ver tekort aan die standaard wat vereis
word van ‘n
enkelgetuie in ‘n strafsaak:
11.1 Die
klaagster het getuig dat die appellant onbeskermd en sonder ‘n
kondoom met haar geslagsgemeenskap gehou het teen haar sin,
terwyl
Mnr. Sokoyi, die verpleegkundige, aangeteken het dat sy inteendeel
aan hom meegedeel het dat die appellant wel ‘n kondoom
gebruik het,
maar dat dit geskeur het tydens geslagsgemeenskap. Die klaagster het
heftig ontken dat sy so aan Mnr. Sokoyi sou gesê
het, maar is daar
geen rede om Mnr. Sokoyi se getuienis in twyfel te trek aangaande
hierdie weerspreking nie.
11.2 Die
klaagster se weergawe was dat die appellant die Toyota Venture se
deur agter oopgemaak het en haar toe laat lê het op die
vloer van
die voertuig agter toe hy haar verkrag het. Die appellant se
weergawe, ondersteun deur ‘n staatsgetuie, Me Nkebana,
was dat
daardie deur nie van buite af kon oopmaak nie omdat die voertuig in
‘n botsing agter beskadig was. Ten einde die betrokke
agterdeur te
kon oopmaak, moes iemand dit van binne af gedoen het aldus die
appellant en Me Nkebana. Hierdie aspek word boonop verder
indirek
gestaaf deur die getuienis van beide die appellant en die klaagster
dat die wyn wat by Oranje Wynkelder opgelaai is, by die
sydeur van
die Venture bussie ingelaai is en nie agter nie. Dít staaf die
appellant se weergawe dat daardie agterdeur nie van buite
oopgemaak
kon word nie.
11.3 Buiten
hierdie voormelde twee wesenlike weersprekings is daar ook verdere
kommerwekkende aspekte in die klaagster se weergawe,
soos ondermeer
die feit dat sy nie aan haar saamleefman, Mnr. Schoeman vermeld het
dat sy deur die appellant verkrag is nie en ook
die feit dat sy
volgens beide inspekteur Sethwala en Mnr. Sokoyi wat haar later
dieselfde dag net na die voorval gesien het, rustig
en kalm voorgekom
het.
11.4 Verder
is daar natuurlik die belangrike aspek dat, ten spyte van die
klaagster se bewering dat die appellant binne haar sou ge-ejakuleer
het, die forensiese verslag aangaande seminale vloeistof op haar
damesbroekie en ook die vaginale smere, negatief was. Hierdie
bevindinge
weerspreek direk die klaagster se bewering.
11.5 Dit
is ook belangrik om daarop te let dat die verpleegkundige, Mnr.
Sokoyi, toegegee het onder kruisondervraging deur die appellant
se
prokureur, dat die beserings wat hy opgemerk het op die klaagster se
privaatdele nie slegs deur geforseerde penetrasie kon veroorsaak
gewees het nie, maar ook deur ‘n skerp nael of deur
geslagsgemeenskap met toestemming met ‘n man met ‘n groot penis.
11.6 Laastens
is daar die feit dat die klaagster volgens inspekteur Sethwala ‘n
punt op ‘n grondpad uitgewys het aan die polisie
as die
verkragtingstoneel. Die klaagster het, soos reeds gesê, egter
getuig dat sy by ‘n dam verkrag was. Die klaagster het,
heeltemal
onoortuigend, ontken dat sy die punt in die grondpad uitgewys het aan
die polisie as die verkragtingstoneel.
Alles
inaggenome meen ek dat die klaagster se getuienis net eenvoudig nie
die mas opgekom het as ‘n enkelgetuie nie. Die Staatsaak
bied
verder geen stawing vir haar weergawe van verkragting nie,
inteendeel, dit spreek eerder in die guns van die appellant se
weergawe.
Die
verhoorlanddros het na die twee weersprekings in die klaagster se
getuienis, vermeld in 11.1 en 11.2 hierbo, verwys in sy uitspraak,
maar het dit klaarblyklik nie as wesenlik beskou nie, aangesien hy
beïndruk was met die klaagster as ‘n goeie getuie en het hy
geen
onwaarskynlikhede in haar weergawe gevind nie. Vir die redes hierbo
vermeld het die verhoorlanddros myns insiens ernstig gefouteer
in
hierdie bevindinge. Verder is ek die mening toegedaan dat die
verhoorlanddros te veel klem gelê het op die vraag naamlik waarom
die klaagster valslik die appellant sou wou beskuldig. In dié
verband het Horwitz WnR in
S
v Lesito 1996(2) SASV 682 (O)
te 687 j – 688 a, tereg daarop gewys dat:
“
Daar moet ook
daarteen gewaak word om sondermeer op 'n beskuldigde 'n las te plaas
om 'n verduideliking te verstrek waarom 'n getuie
namens die Staat
sou lieg. Waarom juis moet 'n beskuldigde weet om welke rede 'n
getuie leuenagtige getuienis teen hom lewer? Hy
mag dink dat dit om
'n bepaalde rede is, terwyl die getuie om 'n geheel en al ander rede
'n grief teen die beskuldigde koester.”
Wat
die appellant se weergawe aanbetref is ek die mening toegedaan dat
daar nie gesê kan word dat dit nie redelik moontlik waar
is nie.
Die appellant se weergawe strook ook baie beter met die
waarskynlikhede. Volgens die appellant was hy dié dag effens
laat
met die oplaai van sy passassiers, deurdat hy eers by die apteek ‘n
draai moes ry om vir sy siek vrou medisyne aan te koop.
Dié feit
word bevestig, selfs ook deur die klaagster. Daarna het hy vanweë
tydsdruk eers na die wynkelder gegaan om drankvoorraad
aan te koop
terwyl twee passassiers, te wete die klaagster en Mnr. Shuping, wat
tydens die verhoor alreeds oorlede was en dus nie
kon getuig nie,
steeds in sy Venture bussie was. Die appellant het verder getuig
dat hy eerste vir Mnr. Shuping afgelaai het en
daarna die klaagster,
omrede dit vir hom makliker was gegewe die rigting van waaruit hy
gekom het en waarheen hy oppad was. Lugfotos
van die onderskeie
punte strook in die algemeen met dié weergawe van die appellant.
Die appellant het aangevoer dat hy, nadat
Mnr. Shuping afgelaai is,
die klaagster daarna by haar huis afgelaai het en dat hy nooit met
haar gemeenskap gehou het nie. Daar
is geen rede om nie hierdie
weergawe as redelik moontlik waar aan te merk nie.
Gevolglik
is die skuldigbevinding regtens onontvanklik en moet die
skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel word.
‘
n
Laaste aspek wat na my mening vermelding verdien is die feit dat die
streeklanddros dit goed geag het om, vreemd genoeg, die appellant
as
volg te vermaan net voordat die aanklaer met kruisondervraging begin
het:
“
U getuienis is nog steeds
bevestigend, Mnr Gunda die Hof wil u sommer van voorbaat af waarsku u
moet maar u geduld gebruik, die Aanklaer
hy kan baie krapperig raak
as hy tyd het, en u moet maar net een vraag op ‘n slag antwoord, ja
Mnr. Aanklaer? Moet tog maar nie
u humeur verloor nie”.
Hierdie
vermaning was geheel en al onvanpas. Soos te verwagte kan wees, was
die streeklanddros se vermaning eerder kruit op die vuur
en het die
appellant se kruisondervraging deur die aanklaer ontaard in ‘n
verbale onderonsie tussen dié twee. Die streeklanddros
het dan ook,
verkeerdelik na my mening, by die evaluering van sy getuienis die
appellant daarvoor verkwalik dat hy in dié verbale
onderonsie
betrokke geraak het en het dit teen hom in ag geneem. Hierdie
onvanpaste optrede aan die kant van die streeklanddros
het eweneens
die appellant benadeel tydens sy verhoor, maar is dit nie nodig om
daaraangaande ‘n bevinding te maak nie, gegewe
die bevinding hierbo
dat die skuldigbevinding regtens onontvanklik is.
Die volgende bevel word
uitgereik:
16.1 Die appellant se
appél slaag.
16.2 Die
skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek
stem saam:
_______________
BC MOLWANTWA
WAARNEMENDE
REGTER
NAMENS
APPELLANT : ADV PISTORIUS
NAMENS
RESPONDENT : ADV E VAN DYK