S v Nomo (CA&R /200) [2006] ZANCHC 42 (18 August 2006)

45 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Theft — Appeal against conviction and sentence — Appellant convicted of attempted theft and theft of vehicles and a cellphone — Evidence of possession of stolen property shortly after theft — Appellant's explanation deemed implausible and rejected by trial court — Appeal dismissed as no merit found in the convictions or the sentences imposed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 42
|

|

S v Nomo (CA&R /200) [2006] ZANCHC 42 (18 August 2006)

VERSLAGWAARDIG JA/NEE
SIRKULEER
ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER
ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE
AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK
NO.: CA&R /200
DATUM
GELEWER:18-08-2006
In die Appél van:
ALBERT
NOMO APPELLANT
teen
DIE
STAAT RESPONDENT
CORAM:
C C WILLIAMS R et VAN ZYL R:
UITSPRAAK
WILLIAMS R:
1. Die
appellant het in die Streekhof te Kimberley tereg gestaan op sewe
aanklagte, te wete aanklagte 1, 3, 4, 6 en 7 – diefstal,
aanklag 2
- poging tot roof en aanklag 5 – onwettige besit van ‘n
vuurwapen. Ten spyte van sy pleit van onskuldig op al die
aanklagte
is hy op 25 Augustus 2003 skuldig bevind ten opsigte van aanklag 3
aan poging tot diefstal en aanklagte 4 en 6 soos aangekla.
2. Op dieselfde dag is
die appellant gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf vir die poging tot
diefstal van ʼn Toyota Hilux voertuig
(aanklag 3), 1 jaar
gevangenisstraf vir die diefstal van ʼn Nokia selfoon (aanklag 4) en
6 jaar gevangenisstraf vir die diefstal
van ʼn Toyota Hilux Raider
voertuig (aanklag 6). Die verhoorhof het gelas dat die vonnis op
aanklag 4 samelopend uitgedien word
met die vonnis op aanklag 3 en is
die appellant dus effektiewelik 9 jaar gevangenisstraf opgelê.
3. Die appellant kom nou
in hoër beroep teen die skuldigbevindings en vonnisse hom opgelê.
4. Die
drie aanklagte waaraan die appellant skuldig bevind is, is nou
verbind en word bes in samehang hanteer.
5. Gedurende
die nag van 20 Julie 2002 het mnr. Jannie Coetzee wakker geword en
gehoor dat daar ‘n voertuig op sy werf, in die Hopetown
distrik,
aangeskakel word. Toe hy gaan ondersoek instel het hy ontdek dat sy
voertuig, ‘n Toyota Hilux bakkie ongeveer 100 meter
van waar dit
oorspronklik parkeer was gestaan en luier het. Sy vader se bakkie
wat ook op die perseel geparkeer was, was besig om
te luier en
net-net aan die beweeg. Toe Coetzee nader hardloop het twee mense
uit sy vader se voertuig gespring en weggehardloop.
Sy eie voertuig,
wat ook net daar gelaat is se deurslot en aanskakelaar was beskadig
en sy Nokia selfoon wat hy vroeër binne sy
voertuig gelaat het was
weg.
6. Gedurende
Saterdagnag, 21 Julie 2002, is mnr. Hermanus Nel se Toyota Hilux
Raider bakkie vanuit sy erf in die Hopetown distrik
gesteel. Hierdie
voertuig is die volgende dag op die Maserubrug, by die Lesothogrens,
deur die grenspolisie voorgekeer, waar dit
op daardie stadium ʼn
Lesotho nommerplaat en lisensieskyf opgehad het.
7. Inspekteur Tsolo, wat
aan diens was by die grenspos, het onraad vermoed toe hy agterkom dat
die aanskakelaar van die voertuig stukkend
was en het toe die
voertuig deursoek. Onder andere is gevind ‘n Nokia selfoon, wat
later sou blyk Coetzee se selfoon te wees wat
vanuit sy bakkie
gesteel is. Die appellant, wat die bestuurder en enigste insittende
van die voertuig was, het probeer weghardloop
toe Tsolo die enjin en
onderstelnommers van die voertuig wou toets om te sien of dit nie
moontlik ‘n gesteelde voertuig was nie.
8. Toe
dit wel so bevestig is, is daar benewens die voertuig en selfoon ook
beslag gelê op die skoene van die appellant. Hierdie
skoene is
later vergelyk met voetspore wat gevind is in Nel se erf. Inspekteur
Bekker, ʼn hondemeester wat opgelei is in reprodusering
van spore met
behulp van gips, het gevind dat die spore soortgelyk is in grootte en
patroon asook ʼn soortgelyke afloopatroon het
as die skoene gevind by
die appellant.
9. Die appellant, ‘n
Lesotho burger, se weergawe is dat hy deur sy werkgewer, wat ‘n
paneelklopperbesigheid het, gestuur is Bloemfontein
toe om geld te
kollekteer by ‘n kliënt. Die kliënt het egter nie op die
afgespreekte tyd en plek, ‘n taxistaanplek opgedaag
nie. ʼn
Persoon met die naam van Thabiso Koo, ʼn taxieienaar, ook van
Lesotho, het egter daar aangekom en iemand gesoek om teen
vergoeding
een van sy voertuie (Coetzee se bakkie) te bestuur na Maseru,
aangesien sy bestuurder siek was. Die appellant het, aangesien
die
kliënt nie opgedaag het nie en hy daar in die steek gelaat is sonder
geld, ingestem om die voertuig Maseru toe te bestuur.
10. Die appellant se
getuienis is dat hy nie geweet het dat dit ‘n gesteelde voertuig
was nie. Hy het wel opgemerk dat die voertuig
se aanskakelaar
stukkend was en dat dit met drade aangeskakel moes word. Hy was
egter tevrede met Thabiso Koo se verduideliking
dat die voertuig in
daardie toestand was omdat daar ‘n poging was om die voertuig van
hom te steel en dat hy dit in Lesotho sou
laat herstel. Verder het
die appellant ook ontken dat hy ooit op Hopetown was en dat dit sy
skoene was waarop beslag gelê is en
wat gebruik is om te vergelyk
met die spore op Nel se erf. Hy het ook ontken, ten spyte van
Inspekteur Tsolo se getuienis dat hy
die selfoon in die appellant se
teenwoordigheid in die voertuig gevind het, dat hy enige kennis het
van waar die selfoon gevind is.
11. Die verhoorhof het
die appellant se weergawe verwerp as hoogs onwaarskynlik en
leuenagtig. As daar na die getuienis in die geheel
gekyk word kan
daar na my mening nie fout gevind word met hierdie bevinding nie.
Nie net is dit hoogs toevallig dat die appellant,
‘n Lesotho
burger, in die steek gelaat word deur ‘n kliënt op die
Bloemfontein taxistaanplek en dan verskyn daar tot sy redding
ook ‘n
Lesotho burger wat hom die geleentheid gee om teen vergoeding ‘n
voertuig Lesotho toe te neem nie. Daar is boonop getuienis
dat die
appellant op ‘n vorige geleentheid, op 12 Oktober 2001, op die
Prieskapad in die nabyheid van ‘n gesteelde voertuig gevind
is
terwyl hy oningevulde Lesotho lisensieskywe in sy besit gehad het.
12. Die
geleentheid waar die appellant gearresteer is op die Prieskapad het
betrekking op aanklag 1, diefstal van ‘n Ford Courier
bakkie,
waarop hy onskuldig bevind is. Dit is egter insiggewend dat
dieselfde persoon etlike maande later in besit gevind is van
‘n
gesteelde voertuig met ‘n vervalste Lesotho lisensieskyf op.
13. Alhoewel daar nie
direkte getuienis is teen die appellant wat die drie onderhawige
aanklagte betref nie is hy slegs twintig uur
na Nel se voertuig
gesteel is in besit daarvan gevind sowel as Coetzee se selfoon wat
kort voor dit gesteel is uit sy voertuig en
is die appellant se
verduideliking van sy besit van die goedere ooglopend vals. Diefstal
is in elk geval ‘n voortdurende misdryf
en duur voort solank as wat
die goedere nog in besit is van die dief, ‘n persoon wat deelgeneem
het aan die diefstal of iemand
wat namens so ‘n persoon optree.
Die appellant se reaksie toe Inspekteur Tsolo die voertuig se
besonderhede wou nagaan en die
feit dat die voertuig deur middel van
drade aangeskakel moes word, kan geen twyfel laat dat die appellant
deeglik bewus moes wees
daarvan dat die voertuig gesteel was selfs al
het hy nie self die diefstal gepleeg nie.
14. Daar
is na my mening geen meriete in die appél teen die skuldigbevindings
nie.
15. Wat die appèl teen
vonnis aanbetref is dit geykte reg dat vonnisoplegging binne die
diskresie van die verhoorhof lê en sal daar
nie mee ingemeng word op
appèl tensy dit blyk dat die diskresie nie redelikerwys uitgeoefen
is nie, of die vonnis onvanpas of skokkend
swaar is.
16.
In
casu
is dit so dat die appellant gunstige persoonlike omstandighede toon
deurdat hy op 39 jarige ouderdom ‘n eerste oortreder is, ‘n
vaste
werk by ‘n paneelklopperbesigheid gehad het, getroud is en drie
kinders het om te onderhou. Aan die anderkant egter is die
misdrywe
waaraan hy skuldig bevind is ernstig van aard. Hierdie tipe misdrywe
kom ook al hoe meer algemeen voor en moet daar ‘n
stok voor gesit
word. Die afleiding is onvermydelik dat die appellant deel is van ‘n
sindikaat wat goedere, veral voertuie, hier
kom steel en oor die
grens neem Lesotho toe. Die kanse om gesteelde goedere wat oor die
grens geneem is terug te vind is maar uiters
gering en is die skade
wat hierdeur veroorsaak word onomkeerbaar.
17. Hierdie
is ʼn geval waar die aard en erns van die misdryf die gunstige
persoonlike omstandighede van die appellant totaal oorskadu
en is die
opgelegde vonnis na my mening heeltemal vanpas.
In die omstandighede
word die volgende bevel gemaak.
Die appèl teen die
skuldigbevindings en vonnisse opgelê word van die hand gewys.
________________________
C
C WILLIAMS
REGTER
Ek
stem saam.
________________________
VAN
ZYL
WAARNEMENDE REGTER
Nms.
Appellant: Adv. Cloete
Regshulpraad
Nms.
Respondent: Adv. Mashalane
Kantoor van die Direkteur
van Openbare Vervolgings, Noord-Kaap