About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 41
|
|
S v Mazibuko and Another (CA&R 62/2005) [2006] ZANCHC 41 (11 August 2006)
Reportable:
YES / NO
Circulate
to Judges: YES / NO
Circulate
to Magistrates: YES / NO
Circulate
to Regional Magistrates: YES / NO
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno:
CA&R 62/2005
Saak
Aangehoor: 07/08/2006
Datum
Gelewer: 11/08/2006
In
die saak:
N N MAZIBUKO 1st
APPELLANT
L LUKHELENI 2de APPELLANT
versus
DIE
STAAT RESPONDENT
Coram:
Williams R et Olivier R
UITSPRAAK OP APPéL
OLIVIER
R:
[1]
Die
eerste en tweede appellante het onderskeidelik as beskuldigdes twee
en drie in die Streekhof verskyn saam met nog ân beskuldigde,
beskuldigde een. Hulle het tereggestaan op sewe aanklagte.
[2]
Aanklag
een was dat hulle in die periode vanaf Januarie tot September 1999,
toe hulle gearresteer is, saamgesweer het om ene mnr Bok
te vermoor.
[3]
Aanklagte
twee, drie en vier was geskoei op ân voorval wat op 29 Januarie
1999 sou plaasgevind het, toe daar op mnr Bok geskiet
is en hy deur
verskeie skote getref is. Aanklag twee was een van poging tot moord,
terwyl aanklagte drie en vier geslaan het op
die onwettige besit van
ân vuurwapen en ammunisie tydens dié voorval.
[4]
Aanklagte
vyf en ses was weer gebaseer op ân voorval wat op 1 Mei 1999 sou
plaasgevind het by die huis van me Margaret Esinkeng
Damane, toe sy
en andere na bewering met vuurwapens aangehou en beroof is en haar
bed aan die brand gesteek is. Aanklag vyf was
roof met verswarende
omstandighede en aanklag ses brandstigting.
[5]
Aanklag
sewe was dat die beskuldigdes in die periode vanaf 1 Mei 1999 (dit
wil sê vanaf die voorval by me Damane se huis) tot 21
September
1999, toe hulle inhegtenis geneem is, onwettiglik in besit was van
twee vuurwapens.
[6]
Sonder
om op hierdie stadium enigsins met die getuienis in besonderhede te
handel, was die Staat se saak in baie breë trekke dat
beskuldigde
een, me Nomaliza Elizabeth Bok, wat die eggenote was van mnr Bok (op
sy beurt die klaer of onderwerp van aanklagte een
en twee), haar man
vermoor wou hê.
[7]
Op
29 Januarie 1999 is mnr Bok aangeval toe hy tuisgekom het en is hy
geskiet. Alhoewel hy beskuldigde een by dié geleentheid vasgebind
in haar kamer aangetref het, het hy haar verdink van aandadigheid in
die aanval. Mnr Bok kon egter nie sy aanvaller of aanvallers
identifiseer nie.
[8]
Alhoewel
dit nie die onderwerp was van enige van die aanklagte teen die
beskuldigdes nie, was daar ook getuienis van staatsweë dat
daar op
29 April 1999 etlike skote gevuur is op die huis van me Damane, op ân
tydstip toe mnr Bok daar teenwoordig was. Dit was
duidelik dat me
Damane en mnr Bok ten tye van al hierdie gebeure in ân
liefdesverhouding betrokke was.
[9]
Op
1 Mei 1999, en toe mnr Bok nie daar was nie, het twee persone me
Damane se huis binnegestorm. Hulle het haar, ene mnr Kok en haar
twee dogters met vuurwapens aangehou en hulle van ân klomp goedere
beroof, waaronder die dienspistool van me Damane se seun, mnr
Moleko
Damane, wat ân konstabel in die Suid-Afrikaanse Polisie Diens was.
Die matras en beddegoed van me Damane is ook aan die
brand gesteek.
[10]
Volgens
die getuienis van me Damane en van een van haar dogters, die
sewentienjarige Masego Antoinette Dlamani, was een van die aanvallers
beskuldigde drie, oftewel dan die tweede appellant, mnr Lucky
Lukheleni. Hulle getuienis was verder dat die tweede appellant op
soek was na mnr Bok en hom wou inwag toe hulle besef het dat hy nie
daar was nie.
[11]
Wat
aanklag een betref, dié van sameswering om mnr Bok te vermoor, was
die enigste direkte getuienis wat die Staat verder in hierdie
verband
aangebied het dié van mnr Phillimon Jim, wat getuig het oor onder
andere verskeie gesprekke tussen hom, die eerste appellant,
(me Nora
Nomsa Mazibuko) en die tweede appellant. Volgens mnr Jim sou die
eerste van dié gesprekke egter eers op 4 Junie 1999 plaasgevind
het.
[12]
Dit
was verder die Staat se saak dat die eerste appellant toe op
20 September 1999 ân sak met goedere gelaat het by die huis
van me Appie, met die versoek om dit vir haar te hou. Onder hierdie
goedere was twee handwapens. Die een se reeksnommer was afgevyl,
maar die ander was Konstabel Moleko se pistool (wat op 1 Mei 1999
geroof is).
[13]
Dit
was die Staat se saak dat die tweede appellant gedurende die vroeë
oggendure van 21 September 1999 die huis van me Appie aan
die polisie
gaan uitwys het as die plek waar dié sak was en dat beskuldigde een
en die eerste appellant ook op daardie stadium gearresteer
is.
[14]
Beskuldigde
een is op al die aanklagte vrygespreek en ontslaan. Die
Streeklanddros het verder bevind dat geeneen van die beskuldigdes
bo
redelike twyfel met aanklagte twee, drie of vier verbind kon word nie
en die appellante is dus op daardie aanklagte onskuldig
bevind en
ontslaan.
[15]
Wat
betref die gebeure van 1 Mei 1999, dit wil sê die voorval by me
Damane se huis, was die Streeklanddros ook nie bereid om te bevind
dat dit bo redelike twyfel bewys is dat die eerste appellant daaraan
aandadig was nie en is sy dus ook op aanklagte vyf en ses onskuldig
bevind.
[16]
Die
eerste appellant is egter skuldig bevind op aanklag een (dié van
sameswering om mnr Bok te vermoor) en op aanklag sewe, die onwettige
besit van die twee vuurwapens wat by me Appie se huis gekry is. Op
aanklag een is sy gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf en op
aanklag sewe tot vyf jaar gevangenisstraf. Daar is gelas dat twee
jaar van die laasgemelde vonnis samelopend met die vonnis op aanklag
een uitgedien moes word, met die gevolg dat die effektiewe termyn wat
die eerste appellant sou moes uitdien dertien jaar gevangenisstraf
is.
[17]
Die
eerste appellant het slegs teen haar skuldigbevindings appél
aangeteken. Haar appél is laat aangeteken en sy doen dus ook
aansoek
om kondonasie. In hierdie verband voer sy aan dat die Hof
nie vir haar verduidelik het hoe om ân appél te loods nie en dat
sy
in die gevangenis bang was om uit te vra. Alhoewel sy
regsverteenwoordig was tydens haar verhoor en haar redes oor die
algemeen
nie werklik bevredigend is nie, meen ek dat voortgegaan moet
word met die oorweging van haar appél; hoofsaaklik omdat sy in
persoon
en vanuit die gevangenis haar appél aangeteken het.
[18]
Die
tweede appellant is op aanklagte een, vyf, ses en sewe skuldig
bevind. Wat aanklag ses betref, is hy egter nie aan brandstigting
skuldig bevind nie, maar slegs aan opsetlike saakbeskadiging, omdat
daar nie bewys is dat hy die huis self aan die brand gesteek
het nie.
[19]
Op
aanklagte een en sewe is die tweede appellant dieselfde vonnisse
opgelê as die eerste appellant. Op aanklag vyf (dié van roof
met
verswarende omstandighede) is hy gevonnis tot vyftien jaar
gevangenisstraf en op aanklag ses is hy gevonnis tot drie jaar
gevangenisstraf
vir die opsetlike saakbeskadiging. Daar is gelas dat
sy vonnisse so uitgedien word dat hy effektiewelik vyf-en-twintig
jaar gevangenisstraf
uitdien. Die tweede appellant kom in hoër
beroep teen sy skuldigbevindings sowel as vonnisse.
[20]
Dit
is geykte reg dat ân Hof van appél nie ligtelik sal inmeng met ân
verhoorhof se geloofwaardigheids- en feitebevindinge nie.
Ek ag dit
dus onnodig om na gesag in hierdie verband te verwys.
[21]
Wat
betref aanklagte vyf en ses was dit nooit werklik in geskil dat die
voorval plaasgevind het, dat die goedere geroof is en dat
die matras
en beddegoed aan die brand gesteek is nie. Dit het maar bloot gegaan
oor die identifikasie van die tweede appellant as
een van die
aanvallers.
[22]
Die
Streeklanddros het die getuienis van die dogter, me Masego Antoinette
Dlamani, rakende die identiteit van die tweede appellant
verwerp; na
my oordeel tereg. Dit is duidelik dat sy deurmekaar was oor watter
van die aanvallers merke aan die gesig gehad het
en ook dat sy maar
geneig was om aan te dik.
[23]
Die
Streeklanddros het egter die getuienis van die moeder, me Damane,
aanvaar as nie alleen geloofwaardig nie, maar ook as bo redelike
twyfel betroubaar vir die doeleindes van die identifikasie van die
tweede appellant as een van die twee aanvallers; en meer spesifiek
die een van gesê het dat hulle soek na mnr Bok en wat met ân
vuurwapen ân skoot afgevuur het in die huis ten tye van die roof.
[24]
Ek
is tevrede dat die Streeklanddros in hierdie verband behoorlik gelet
het op die toepaslike versigtigheidsreël. Die Streeklanddros
het
ook in sy uitspraak gewys op etlike betroubaarheidswaarborge vir me
Damane se identifikasie van die tweede appellant. Alhoewel
ek nie
noodwendig daarmee saamstem dat so ân betroubaarheidwaarborg altyd
gevind kan word in die swak gehalte van ân beskuldigde
se getuienis
nie, kan ek geen fout vind met die etlike ander
betroubaarheidswaarborge wat die Streeklanddros opgehaal het nie.
[25]
Me
Damane het letterlik ure gehad waarin sy die tweede appellant kon
waarneem, terwyl die elektriese ligte van haar huis die vertrekke
belig het. Haar dagboekie wat ook tydens dié voorval geroof is, is
by sy arrestasie in die tweede appellant se besit gekry. Ek
meen dat
die Streeklanddros tereg sy verduideliking vir sy besit van dié
dagboekie verwerp het.
[26]
Verder
het die tweede appellant aan die polisie me Appie se huis uitgewys as
die een waar die twee vuurwapens toe in ân sak gevind
is, een
waarvan toe heel toevallig die vuurwapen was wat uit me Damane se
huis geroof is; volgens haar deur spesifiek die tweede
appellant. Ek
meen dat die tweede appellant se verduideliking vir die uitwysing van
die sak, en sy bewering dat hy nooit geweet
het wat daarin was nie,
eweneens tereg deur die Streeklanddros verwerp is as vals. Ten spyte
daarvan dat me Damane die tweede appellant
tydens sy vroëre
borgaansoek ook gesien het, meen ek dus dat die tweede appellant se
identiteit op haar getuienis bo redelike twyfel
bewys is.
[27]
Dit
bring my dan by die getuienis van mnr Jim ten aansien van aanklag
een. Hy was ân enkelgetuie ten aansien van die sameswering.
Alhoewel hy volgens hom nooit werklik die bedoeling gehad het om self
deel te wees van ân aanslag op mnr Bok se lewe nie, het
hy op sy
eie weergawe aan die onderhandelinge deelgeneem asof hy wel sou
deelneem aan die moord.
[28]
Die
Streeklanddros het by die oorweging van mnr Jim se getuienis gelet op
die toepaslike versigtigheidsvereiste rakende enkelgetuies.
Hy het
boonop mnr Jim se getuienis oorweeg asof hy tegnies gesproke ân
medepligtige was tot die samesweringg om mnr Bok te vermoor
(terwyl
mnr Jim volgens hom nooit werklik van plan was om daaraan deel te hê
nie).
[29]
Die
Streeklanddros het stawing gevind vir mnr Jim se getuienis in sekere
faktore. Ten eerste het die Streeklanddros die tweede appellant
se
betrokkenheid by die gebeure van 1 Mei 1999, toe hy ook by die huis
van me Damane gesoek het na mnr Bok, beskou as stawing vir
mnr Jim se
getuienis dat juis die tweede appellant ook vanaf 4 Junie 1999 ân
sentrale figuur was in die sameswering om mnr Bok
te dood.
[30]
Dit
mag so wees, maar na my oordeel het die Streeklanddros versuim om
oorweging te verleen aan etlike oënskynlike onwaarskynlikhede
in mnr
Jim se relaas.
[31]
Indien
die tweede appellant al op 1 Mei 1999 aktief op soek was na mnr Bok
om hom te dood, en reeds toe al self gewapen was, hoekom
sou dit
nodige gewees het om mnr Jim te nader? Kon dit werklik net gewees
het sodat mnr Jim vir mnr Bok met behulp van sogenaamde
âmutiâ
kon dood? Watter rede was daar vir die appellante om te dink dat dit
beter sou werk as om eenvoudig vir mnr Bok te skiet?
[32]
Selfs
al sou hulle so gedink het, hoekom sou hulle juis vir mnr Jim genader
het, want sy getuienis was dat hy bloot ân
âmedisynemanâ
was wat beslis nie ân bedryf gehad het waar hy mense met sy
medisyne vermoor het of daarvoor bekend was nie. Bowendien was die
eerste appellant self ân tradisionele geneser.
[33]
In
sy getuienis het mnr Jim aangevoer dat hy wel in die algemeen
voorgegee het dat hy toordokter is om mense om die bos te lei en,
soos wat hy dit gestel het, dan hulle geld te eet. Hy het beweer dat
sy vriend Zamile, wat die tweede appellant na hom gebring het,
vertroud was met dié bedrogspul. Mnr Jim het dus duidelik op
daardie stadium te kenne probeer gee dat dit juis hierdie skema van
hom en Zamile was wat die tweede appellant gelok het.
[34]
Kort
daarna het mnr Jim egter beweer dat dit die eerste keer was wat hy en
Zamile so-iets gedoen het. Dit het glad nie gerym met
sy vroeëre
weergawe nie, want dan sou hy wat mnr Jim is nog nie op daardie
stadium valslik bekend gewees het as ân toordokter
nie en sou
Zamile nie, om mnr Jim se eie woorde te gebruik,
âbekend
met die flousery om die mense se geld te eetâ
gewees het nie.
[35]
Hoekom
sou die appellant bereid gewees het om vierduisend Rand af te staan
aan mnr Jim en sy trawant, Zamile, as minstens die tweede
appellant
netsowel weer met ân vuurwapen na mnr Bok kon gaan soek het?
[36]
Hoe
waarskynlik is dit dat die appellante maar sommer sou aanvaar het dat
mnr Jim se
âmutiâ
nie gewerk het nie nadat hulle so ân klomp geld oorbetaal het? Op
sy getuienis is hy bloot gewys waar mnr Bok bly en is hy nie
eers
gevra hoe hy van plan was om die
âmutiâ
vir mnr Bok toe te dien nie.
[37]
Hoekom
sou die appellante toe, nadat mnr Jim aangevoer het dat sy
âmutiâ
nie gewerk het nie, by mnr Jim wou weet waar ân vuurwapen gevind
kon word om mnr Bok mee te vermoor? Op die Staat se eie saak
was die
tweede appellant al teen 1 Mei 1999 self in besit van ân werkende
vuurwapen, en het hy boonop toe nog ân werkende vuurwapen
geroof.
Op die Staat se eie saak het die eerste appellant nog op 20 September
1999 die laasgemelde vuurwapen (en nog een) by me
Appie se huis gaan
versteek. Dit is, op die Staat se eie weergawe, totaal onwaarskynlik
dat nie een van die twee appellante sou
geweet het waar om ân
vuurwapen te kry toe die
âmutiâ
misluk het nie.
[38]
Hoekom
sou enige van die appellante vir mnr Jim of vir Zamile verder nodig
gehad het of wou betrokke hou om mnr Bok te dood toe die
âmutiâ
nie gewerk het nie? Hulle is, op mnr Jim se getuienis, suiwer
genader op grond van sy betrokkenheid by sogenaamde
âmutiâ
en dit het op daardie stadium reeds misluk. Daar was nooit enige
sprake hoegenaamd van die kant van mnr Jim dat die plan was dat
hy of
Zamile toe die skietwerk sou moes doen nie. Volgens hom sou die
tweede appellant dit self doen.
[39]
Ek
vind dit ook vreemd dat die tweede appellant, wat mnr Jim glad nie
voorheen geken het nie, toe vir hom en vir Zamile ân vuurwapen
sou
gaan wys het en die vuurwapen as so ân ongewone ding sou beskou het
dat hy sou gesê het dat die besit daarvan ân man van
hom gemaak
het en dat hy opsoek was na meerdere persone wat met hom wou baklei,
sodat hy dit kon gebruik. Op die Staat se saak was
die tweede
appellant ân man wat teen daardie stadium al voorheen in besit was
van ân vuurwapen en dit gebruik het om ân roof
mee te pleeg.
[40]
Ek
vind dit verder vreemd dat, indien mnr Jim en sy vriend Zamile nooit
werklik vir mnr Bok dood wou hê nie en hulle bloot daarop
uit was om
die appellante so te laat dink en geld uit hulle te kry, hulle steeds
betrokke gebly het nadat die eerste appellant duidelik
gemaak het dat
daar nie eers verdere geld was vir ân vuurwapen nie (en mnr Jim toe
reeds lankal te kenne gegee het dat sy
âmutiâ
nie gewerk het nie).
[41]
Inteendeel,
selfs nadat mnr Jim volgens hom eintlik deur die tweede appellant uit
die hele plan gelaat is, het Zamile volgens mnr
Jim nog betrokke
gebly by die hele plan om mnr Bok te vermoor. Hoekom? Volgens mnr
Jim was Zamile dan sy vriend en trawant in sulke
âflouseryâ
en het hulle van die begin af vir mekaar gesê dat hulle nie vir mnr
Bok wou dood hê nie en dat hulle slegs so sou voorgee om geld
uit
die appellante te kry.
[42]
Selfs
nadat beide hy en Zamile volgens mnr Jim werklik begin bekommerd raak
het dat die tweede appellant inderdaad vir mnr Bok sou
dood, het
Zamile volgens mnr Jim hom toe by die tweede appellant geskaar.
[43]
Die
Streeklanddros het heelwat waarde geheg aan die feit dat mnr Jim
geweet het van die eerste appellant se spreekkamer op die perseel
agter haar huis. Daar is egter ander maniere waarop mnr Jim hiervan
kon geweet het; anders as om daar saam te gesweer het met die
appellante (veral waar die eerste appellant dan klaarblyklik in
dieselfde besigheid as hy was).
[44]
Bowendien
is daar geen aanduiding dat die Streeklanddros ag geslaan het op mnr
Jim se weersprekings oor dié spreekkamer nie. Hy
het eers aangevoer
dat die betrokke kamer van stene gebou is, en eers nadat hy met sy
verklaring gekonfronteer is, gesê dat dit
ân
âshantyâ
was wat van sink gebou was.
[45]
Mnr
Jim se getuienis dat die tweede appellant by geleentheid, toe hy vir
mnr Bok aan hulle sou uitgewys het, sy kop sou bedek het
omdat hy
bang was dat mnr Bok hom sou herken, is ook moeilik te versoen met
mnr Bok se onbetwiste getuienis dat hy die tweede appellant
glad nie
ken nie. Dit blyk nie duidelik uit die Staat se saak by watter een
van mnr Bok se twee huise die tweede appellant volgens
mnr Jim vir
mnr Bok aan hom gaan uitwys het nie. Dit was egter op mnr Jim se
getuienis ân huis waar mnr Bok se kinders ook teenwoordig
was en as
dit die gemeenskaplike woning was waar mnr en mev Bok minstens nog op
29 Januarie 1999 gewoon het, sou mnr Jim se getuienis
strydig wees
met mnr Bok se weergawe dat hy nà die voorval van 29 Januarie
nooit weer daar was nie (behalwe een keer toe hy
uit die hospitaal
ontslaan is en sy besittings gaan haal het). Mnr Jim se weergawe dat
die huis van me Damane nooit aan hom gewys
is as ân plek waar hy
mnr Bok kon vind nie, val ook vreemd op.
[46]
Die
Streeklanddros het verder stawing gevind vir mnr Jim se weergawe
daarin dat die eerste appellant op 20 September 1999 twee
âonwettige
wapensâ
by me Appie
gaan laat het, en die Streeklanddros het daaruit skynbaar die
afleiding gemaak dat die eerste appellant die wapens in
haar besit
gehad het omdat sy deel was van die sameswering om mnr Bok te
vermoor. Dit sou egter nie die enigste redelike afleiding
wees wat
uit haar besit van dié wapens gemaak kon word nie. Net so redelike
afleiding sou wees dat sy tog by die roof van 1 Mei
1999 betrokke
was.
[47]
Laastens
het die Streeklanddros stawing gevind vir mnr Jim se weergawe daarin
dat die eerste appellant ân valse alibi opgewerp het.
Dit is so
dat haar getuienis in hierdie verband totaal onbevredigend en botsend
met haar regsverteenwoordiger se stellings was.
Waar eers namens
haar gestel is dat sy vanaf 25 Mei 1999 tot 1 Augustus 1999 uitstedig
was, het sy later getuig dat dit vir ongeveer
drie weke vanaf 20 of
21 Julie 1999 was.
[48]
Wat
die tweede appellant met dié valse alibi sou wou bereik het, is
onduidelik. Die roof het al op 1 Mei 1999 plaasgevind, terwyl
die
gewraakte sameswering vroeg in Junie 1999 sou gewees het (wat weer
lank voor 20 en 21 Julie 1999 was).
[49]
Hoe
dit ookal sy, stawing kan nie normaalweg gevind word in die
verwerplikheid van ân beskuldigde se getuienis nie. In hierdie
verband verwys ek bloot na bladsy 586 van die werk
The
South African Law of Evidence
van Hoffmann en Zeffertt se vierde uitgawe.
[50]
Dit
is so dat die feit dat dieselfde persoon wat mnr Jim beweer hom
genader het om mnr Bok te vermoor, naamlik die tweede appellant,
heel
toevallig dan ook op 1 Mei 1999 juis op soek was na mnr Bok (gewapen
en terwyl hy verwys het na die feit dat mnr Bok in ân
verhouding
met me Damane betrokke was), mooi inpas by mnr Jim se weergawe.
[51]
Dieselfde
geld tot ân mate vir die feit dat beide appellante duidelik
betrokke was by die vuurwapens wat by die huis van me Appie
gevind
is. Dit is egter juis die gevaar by die getuienis van ân
medepligtige â wat mnr Jim maar vir alle praktiese doeleindes
was â
naamlik dat so ân persoon oor intieme kennis van ân misdaad
beskik wat hom of haar juis in staat stel om sy of haar weergawe
daardie sogenaamde
âring
of truthâ
te gee. (sien
S v Hlapezula and Others
1965 (4) SA 439
(A) op 440D-H).
[52]
Alhoewel
daar dus ân sterk vermoede mag bestaan dat daar so ân sameswering
was, is dit nie na my mening bo redelike twyfel bewys
dat die twee
appellante deel daarvan was nie en moes beide appellante dus volgens
my op hierdie aanklag (aanklag een) onskuldig bevind
gewees het.
[53]
Wat
aanklag sewe betref, meen ek dat daar geen basis is waarop die
Streeklanddros verkwalik kan word vir die aanvaarding van me Appie
en
die polisielede se getuienis in hierdie verband nie.
[54]
In
die lig van wat reeds gesê is oor die eerste appellant se getuienis,
kan die Streeklanddros ook nie gefouteer word vir sy verwerping
daarvan, minstens wat betref aanklag sewe, as ongeloofwaardig nie.
Me Appie se getuienis, daarenteen, was bo verdenking en dit is
dus bo
redelike twyfel bewys dat die eerste appellant die twee vuurwapens by
me Appie gaan laat het en dat sy dus in besit daarvan
was. Sy kon
nie wettiglik in besit van enige daarvan gewees het nie. Die een se
reeksnommer was afgevyl en die ander was Konstabel
Damane se
dienspistool.
[55]
Ek
is van oordeel dat die tweede appellant se getuienis tereg as vals
verwerp is, nie net soverre dit die gebeure van 1 Mei 1999 betref
nie, maar ook vir soverre dit die uitwysing van die sak by me Appie
betref. Ek ag dit onnodig om in besonderhede te handel met die
tweede appellant se getuienis en is van mening dat die Streeklanddros
dit behoorlik oorweeg en benader het.
[56]
Die
tweede appellant se getuienis is eenvoudig deurspek van
onwaarskynlikhede. Op sy weergawe moes daar een massiewe komplot
teen
hom gewees het, waaraan die Damane-gesin, etlike polisielede, me
Appie en mnr Jim deel gehad het. Dit is eenvoudig vergesog.
[57]
Waarom
sou die polisie die tweede appellant aangerand het om te erken dat
die twee wapens by me Appie eintlik syne was, as dit nooit
die Staat
se saak was of is nie?
[58]
Die
tweede appellant voer aan dat ene Luckyboy, wat ân
âshantyâ
by hom gehuur het, hom gevra het om vir ân vriend van Luckyboy die
huis van me Appie te wys as die plek waar die sak gelaat is,
en dat
hy toe later die huis aan ân polisiebeampte uitgewys het terwyl hy
onder die indruk was dat dit inderdaad Luckyboy se vriend
was.
[59]
Dit
was strydig met die tweede appellant se getuienis dat hy en Luckyboy
glad nie kon kommunikeer nie, weens Luckyboy se taal. Daar
bestaan
geen verband tussen Luckyboy en die polisiebeampte nie en dus ook
geen verklaring vir waarom laasgemelde sou kom vra het
na ân sak
wat Luckyboy daar sou gelos het nie.
[60]
In
elk geval sou Luckyboy mos net sowel die sogenaamde vriend direk na
me Appie kon verwys het, of selfs direk na sy verhuurder, die
tweede
appellant, en dan die sak by laasgenoemde gelaat het.
[61]
Boonop
was die tweede appellant se getuienis dat die polisiebeampte, sersant
Mafa, hom by die hek van sy moeder se huis teëgekom
het en hom daar
gekonfronteer het oor die sak, en nie by die plek waar die tweede
appellant gebly het nie. Hoe sou Luckyboy, en
destemeer nog sy
sogenaamde vriend, geweet het om die tweede appellant daar te kry?
[62]
Hoe
sou Luckyboy nie eers vir die tweede appellant die naam gegee het van
die sogenaamde vriend wat vir die sak sou kom vra nie?
[63]
Na
my oordeel was dit na bo redelike twyfel duidelik dat die tweede
appellant goed geweet het dat die eerste appellant die sak met
die
vuurwapens by me Appie gaan laat het en was dit hoekom hy haar huis
aan die polisiebeampte uitgewys het.
[64]
Een
van hierdie vuurwapens was die een wat die tweede appellant by me
Damane se huis geroof het en hy moes dus ook vir minstens ân
periode nà 1 Mei 1999, en dus in die tyd vermeld in aanklag 7, in
besit daarvan gewees het. Hy was dan ook op 1 Mei 1999 in besit
van
ân ander vuurwapen en daar is geen suggestie dat hy wettiglik in
besit daarvan kon gewees het nie. Dit volg dus dat ek van
oordeel is
dat die tweede appellant behoorlik skuldig bevind is op aanklag sewe.
[65]
Dieselfde
geld vir sy skuldigbevindings op aanklagte vyf en ses. Wat die aan
die brand steek van die bed en beddegoed betref, is
die tweede
appellant se weergawe as vals verwerp en is hy nie geregtig op enige
ander afleiding as dat hy daaraan aandadig was nie.
[66]
Die
bring my by die tweede appellant se vonnisse, en meer spesifiek die
vonnisse op aanklagte vyf, ses en sewe.
[67]
Wat
die vonnis op aanklag vyf betref, het die Streeklanddros bevind dat
daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was wat ân
afwyking
regverdig het van die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar
gevangenisstraf nie. Ek meen dat die Streeklanddros in dié
oorweging en bevinding misgetas het.
[68]
Die
Streeklanddros het van die standpunt uitgegaan dat die tweede
appellant, met die aan die brand steek van die bed en beddegoed,
bedoel het om die huis af te brand en om me Damane en die ander
persone in die huis te dood.
[69]
Daar
is nooit bo redelike twyfel bewys dat die tweede appellant gepoog het
om brandstigting (van die huis) te pleeg nie en dit is
dan ook daarom
dat hy slegs aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind is.
[70]
Daar
was ook geen getuienis hoegenaamd dat die tweede appellant in die
proses gepoog het om die mense in die huis te dood nie. Daar
was ook
nooit aanklagte van poging tot moord nie en die tweede appellant het
dus nooit die geleentheid gehad om hom hierop te verweer
nie. Daar
was geen getuienis oor die moontlikheid dat die brandende matras die
hele huis aan die brand kon laat slaan nie.
[71]
Verder
het die Streeklanddros natuurlik die bevinding dat die tweede
appellant deel was van ân sameswering om mnr Bok te vermoor,
deurgetrek na aanklag vyf. Dit val natuurlik nou weg en daar was in
elk geval op die getuienis geen sprake daarvan dat die tweede
appellant op 1 Mei 1999 sou te kenne gegee het dat hulle mnr Bok wou
vermoor nie.
[72]
Ek
is ook van oordeel dat die Streeklanddros onvoldoende oorweging
verleen het aan die feit dat die tweede appellant nie alleen geen
vorige veroordeling van roof gehad het nie, maar ân algehele eerste
oortreder was en dat hy ten tye van die voorval nog relatief
jonk
was.
[73]
Die
Streeklanddros het gemeld dat die tweede appellant me Damane met die
vuurwapen gekap het en het dit beskryf as dat sy
âerg
vernielâ
is. Toe me
Damane uitdruklik gevra is of sy beseer is toe sy met die vuurwapen
gekap is, was haar antwoord egter dat sy die volgende
dag slegs as
gevolg van die vasbind blou kolle gehad het. Haar getuienis was
verder dat geeneen van die ander persone in die huis
enige beserings
opgedoen het nie.
[74]
Die
Streeklanddros het verder bevind dat dit te betwyfel is of me Damane
of enige van die ander persone in die huis ooit sou herstel
van die
sielkundige gevolge van die voorval van 1 Mei 1999. Me Damane se
getuienis was egter dat, alhoewel sy geskrik het tydens
die voorval,
sy reggekom het nadat die skuldiges gearresteer is.
[75]
Alhoewel
die waarde van die gesteelde goed redelik hoog is en niks, behalwe
die vuurwapen, teruggekry is nie, stem ek dus nie saam
met die
Streeklanddros dat hierdie die mees ernstige vorm van roof was (naas
ân geval waar iemand daadwerklik gedood is) nie.
Ek meen dus dat
daar wel wesenlike en dwingende omstandighede was wat die oplegging
van ân mindere vonnis sou regverdig het.
[76]
Die
tweede appellant is op 21 September 1999 gearresteer en het deurgaan
inhegtenis verkeer totdat hy op 20 Junie 2002, byna drie
jaar later,
gevonnis is. Dat hy self verantwoordelik was vir sommige van die
vertragings in die afhandeling van sy verhoor, doen
geen afbreuk
hieraan nie. Na my oordeel sou ân vonnis van tien jaar
gevangenisstraf op aanklag vyf in die omstandighede gepas
gewees het.
[77]
Die
beskadiging van die matras en beddegoed het wesenlik ân deel van
dieselfde voorval uitgemaak en ek is van oordeel dat minstens
ân
substantiewe deel van die vonnis op aanklag ses samelopend met dié
op aanklag vyf uitgedien behoort te word. Daar was ook
nie getuienis
van wat dit me Damane gekos het om die gebrande items te vervang nie.
[78]
Wat
aanklag sewe betref, is dit so dat die wetgewer die onwettige besit
van meer as een vuurwapen in ân ernstige lig sien. Hier
is dit
bowendien duidelik dat die tweede appellant minstens een vuurwapen
ook vir ân onwettige doel in sy besit gehad het, naamlik
toe hy op
1 Mei 1999 die roof gaan pleeg het.
[79]
Ek
is egter nietemin van oordeel dat dit alles inaggenome billik sal
wees dat ân substantiewe deel van ook dié vonnis samelopend
uitgedien word met die vonnis op aanklag vyf, onder andere om die
kumulatiewe effek van die verskillende vonnisse aan te spreek en
gedagtig aan die besondere lang tyd wat die appellant
verhoorafwagtend inhegtenis verkeer het.
[80]
Wat
die eerste appellant betref, is dit so dat sy nie teen haar vonnisse
appél aangeteken het nie. Dit is so dat die Streeklanddros
by die
oorweging van haar vonnis op aanklag sewe, teen haar in ag geneem het
dat sy die vuurwapens vir ân onwettige doel besit
het. Daardie
bevinding was natuurlik gegrond op die bevinding dat sy deel was van
ân sameswering om mnr Bok te vermoor. In die
lig daarvan dat die
laasgemelde bevinding nou op appél omvergewerp gaan word, sal dit
net reg en billik wees as hierdie Hof in die
uitoefening van sy
inherente hersieningsbevoegdheid tog ingryp in die eerste appellant
se vonnis op aanklag sewe; alhoewel dit waarskynlik
nie veel van ân
effek gaan hê vir die eerste appellant (anders as vir
rekorddoeleindes) nie.
[81]
Die
eerste appellant het net meer as twee jaar inhegtenis verkeer voordat
sy gevonnis is. Die Streeklanddros het in elk geval destyds
gelas
dat sy twee jaar van haar vonnis op aanklag sewe samelopend moes
uitdien met dié op aanklag een, wat haar sou gelaat het met
drie
jaar effektiewe gevangenisstraf vir die besit van die twee
vuurwapens. Ook die tweede appellant het geen vorige veroordelings
gehad nie.
[82]
In
die lig van die voorgaande word die volgende bevele gemaak:
1. Beide appellante
se skuldigbevindings en vonnisse op aanklag een word tersyde gestel.
2. Die eerste
appellant se vonnis van vyf jaar gevangenisstraf op aanklag sewe word
tersyde gestel en vervang met ân vonnis van
drie jaar
gevangenisstraf, wat teruggedateer word na 29 Oktober 2001.
3. Ten
aansien van die tweede appellant se vonnisse op aanklagte vyf, ses en
sewe word die volgende bevele gemaak:
(a) Die vonnis van
vyftien jaar gevangenisstraf op aanklag vyf word tersyde gestel en
vervang met ân vonnis van tien jaar gevangenisstraf,
wat
teruggedateer word na 20 Junie 2002.
(b) Die vonnisse van
drie jaar gevangenisstraf en vyf jaar gevangenisstraf op
onderskeidelik aanklagte ses en sewe word bekragtig,
maar dit word
gelas dat twee jaar van elk van die vonnisse op aanklagte ses en sewe
samelopend uitgedien moet word met die vonnis
op aanklag vyf, sodat
die tweede appellant in totaal nie langer as veertien jaar
gevangenisstraf uitdien nie.
_______________________
C
J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek
stem saam en dit word so beveel:
_______________________
C
C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Appellante: Adv B Segone
Namens: Regshulpsentrum,
Kimberley
Nms
Respondent: Adv T T Mashalane
Namens:
Direkteur van Openbare Vervolgings, Kimberley