About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 93
|
|
Pretorious v Somchem Eiendoms Beperk (378/04) [2006] ZANCHC 93 (2 June 2006)
verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saaknommer: 378\04
Datum
Verhoor: 25\05\2006
Datum
Gelewer: 02\06\2006
In
die saak van
:
GERRIT
JOHANNES PRETORIUS EISER
versus
SOMCHEM EIENDOMS
BEPERK VERWEERDER
Coram:
MAJIEDT
R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
In
hierdie saak het die eiser dagvaarding uitgereik teen die verweerder
vir skade deur die eiser gely nadat hy beseer is tydens
die toets
van ammunisie toe ân lading ammunisie prematuur in ân G6-kanon
ontsteek het. Dit is die eiser se saak dat die verweerder
die
vervaardiger van die lading ammunisie is. Die eiser spreek die
verweerder aan vir sy skade gely as gevolg van die beserings
opgedoen in die voormelde ontploffing uit hoofde daarvan dat die
premature ontsteking van die ammunisie en die daaropvolgende
ontploffing veroorsaak is deur die uitsluitlike nalatigheid van die
verweerder.
Die
verweerder het nie net ân pleit op die meriete geliasseer nie,
maar ook ân spesiale pleit geopper. Daarin beweer die verweerder
dat hy verkeerd gesiteer is en dat hy eerder gesiteer moes gewees
het as: â
Somchem,
a division of Denel (Pty) Ltd., registration number 1992\001337\07
â.
Die spesiale pleit handel verder met die bepalings vervat in
artikel 35 van Wet 130 van 1993 (â
die
Wet
â)
en word beweer dat, aangesien die eiser aan diens beseer is, die
verweerder nie aanspreeklik gehou kan word vir vergoeding
vir die
gelede skade nie. In die pleit op die meriete self, het die
verweerder eweneens die bewering ontken dat hy as verweerder
reg
gesiteer is en het herhaal dat hy gesiteer moes wees soos hierbo
vermeld.
Die eiser het repliek
afgelewer op hierdie verweerskrif en het daarin slegs gehandel met
die gedeelte van die spesiale pleit wat
verwys het na die bepalings
van artikel 35 van die Wet, soos hierbo na verwys. In die repliek
het die eiser glad nie gehandel
met die verweerder se bewering dat
hy verkeerd gesiteer is nie.
Die geding is derhalwe
deurgaans verder gevoer deur die eiser op die basis dat die
verweerder korrek gesiteer is.
Op 19 Mei 2006 het die
eiser ân ân kennisgewing van terugtrekking geliasseer waarin hy
kennis gee dat hy sy eis terugtrek.
Daarna en wel op 22 Mei 2006
het die eiser kennis gegee dat die aangeleentheid geplaas is vir
aanhoring op Donderdag 25 Mei 2006
vir die koste-argument soos deur
myself bepaal. Ek moet hier vermeld dat die verhoor aanvanklik
geplaas was vir drie dae, te wete
23, 24 en 25 Mei 2006. Ek is
egter in kennis gestel deur die eiser se prokureur dat die
aangeleentheid nie sal voortgaan nie en
dat ân datum slegs bepaal
moes word vir aanhoor van ân koste-argument. Ek het toe die datum
van Donderdag 25 Mei 2006 vasgestel.
Namens die eiser het
Mnr. Gerber aangedui dat die eis teruggetrek is, aangesien die eiser
ontdek het dat die verweerder, synde die
entiteit Somchem (Edms) Bpk
nie meer bestaan nie, aangesien dit gederegistreer is. Mnr. Gerber
het verder vir my ingelig dat die
eiser dié kennis aangaande die
verweerder se deregistrasie bekom het tydens voorbereiding vir die
verhoor. Hy het verder aangedui
dat as gevolg van dié stand van
sake, die eiser noodgedwonge die eis moes terugtrek en hy derhalwe
die terugtrekkingskennisgewing
geliasseer het op 19 Mei 2006, waarna
ek alreeds verwys het hierbo.
Mnr.
Gerber het aan die hand gedoen dat die eiser geregtig was om die eis
terug te trek in terme van Hofreël 41 se bepalings.
Hy het verder
verwys na ân skrywe van verweerder se Kimberley prokureurs (Towell
& Groenewald) gedateer 19 Mei 2006 waarin
beweer word dat die
terugtrekkings-kennisgewing ongeldig is, aangesien daar nie
toestemming van die verweerder bekom is nie of
verlof deur die Hof
verleen is tot sodanige terugtrekking nie. Daar is verder in dié
skrywe aangedui dat die verweerder van voorneme
was om voort te gaan
met die verhoor soos dit geplaas was op 23 Mei 2006.
Verdere briefwisseling
het toe gevolg op die voormelde skrywe van Towell & Groenewald
prokureurs waarin die eiser se prokureur
versoek het dat toestemming
verleen word dat die geding teruggetrek word op die basis dat elke
party sy eie koste betaal. Daar
is geen antwoord op hierdie skrywe
ontvang nie, maar het Denel se regsafdeling wel ân skrywe aan die
eiser se prokureur gerig
waarin Denel aandring dat die eiser hul
koste betaal. In dié verband het Mnr. Gerber aangevoer dat Denel
se eise ongegrond is,
aangesien Denel nie ân gedingsparty hiertoe
is nie. Ten slotte het Mnr. Gerber toe ingevolge Hofreël 41(1)(a)
versoek dat die
Hof verlof verleen dat die eiser sy eis terugtrek.
Hy het ook daarop gewys dat, indien die verweerder of Denel wil
aandring op
koste, aangesien die terugtrekkingskennisgewing geen
toestemming bevat om koste te betaal nie, die verweerder of Denel
ingevolge
Hofreël 41(1)(c) se bepalings by die Hof moes aansoek
doen by wyse van kennisgewing vir ân kostebevel.
Namens
die verweerder het Me. Janse van Nuwenhuizen ân bundel
korrespondensie voor my geplaas wat geheel en al ân ander prentjie
skets van die verloop van gebeure hierin as dié wat aanvanklik
voorgehou is deur Mnr. Gerber. Ek ag dit nie nodig om volledig
te
handel met die omvattende korrespondensie wat gevoer is tussen Denel
se regsafdeling en eiser se prokureur nie. Die slotsom
van al dié
skrywes wat tussen Denel se regsafdeling en eiser se prokureur
verwissel is, is dat reeds sedert 30 September 2004
Denel se
regsafdeling inligting vanaf die eiser se prokureur versoek het ten
einde die eis na te gaan. Ek is die mening toegedaan
dat daar
hoegenaamd geen twyfel kan bestaan dat eiser se prokureur deeglik
bewus daarvan was dat Denel inderdaad die verantwoordelike
regsentiteit was wat regtens aanspreeklik gehou moes word vir enige
gelede skade aan eiser se kant nie as gevolg van die voorval
wat
plaasgevind het.
Me.
Janse van Nuwenhuizen het ook vanaf die Balie ân sertifikaat van
deregistrasie, uitgereik deur die Registrateur van Maatskappye
en
gedateer 29 Junie 2005, opgehandig. Daarvolgens blyk dit dat die
maatskappy Somchem (Edms) Bpk met registrasienommer 1972\001209\07
gederegistreer was ingevolge die bepalings vervat in artikel 73 van
die Maatskappyewet, 61 van 1973, onder Staats-kennisgewing
nommer
442/99 in Staatskoerant nommer 19855 van 26 Maart 1999. Die voorval
waarin die eiser beseer is as gevolg van die ontploffing
wat
plaasgevind het tydens die toetsing van die ammunisie het
plaasgevind op 9 April 2001 te Copperton in hierdie Hof se
jurisdiksiegebied.
Gevolglik dus het Somchem (Edms) Bpk glad nie
meer bestaan op die datum toe die ontploffing plaasgevind het nie.
Me.
Janse van Nuwenhuizen het gesubmitteer dat:
a) Die eiser alreeds
tydens die liassering van die pleit by wyse van die spesiale pleit
sowel as die pleit op die meriete wat geliasseer
is op 25 Mei 2004
(presies 2 jaar voor die aanhoor van hierdie argument voor my)
deeglik bewus gemaak is daarvan dat die verweerder
verkeerd gesiteer
is en dat Somchem bloot ân divisie is van Denel (Edms) Bpk;
b) Die
eiser desnieteenstaande deurgaans volhard het om sy geding te voer
teen die verweerder soos wat hy dit (verkeerdelik) gesiteer
het in sy
dagvaarding;
c) Uit hoofde van die
briefwisseling wat voor my geplaas is, eiser se prokureur aanvaar het
dat Denel die verantwoordelike regsentiteit
is in hierdie geding;
d) Volgens ân skrywe
van Denel se regsafdeling op 16 Mei 2006 aan die eiser se prokureur
aangedui word dat kennis geneem is van
die Reël 37
(voorverhoorkonferensie) kennisgewing en dat daar toe inderdaad op 17
Mei 2006 ân voorverhoorkonferensie gehou is.
Dit is blykbaar by
hierdie konferensie waar ân deregistrasiesertifikaat ten aansien
van Somchem (Edms) Bpk aan die eiser se regsverteenwoordigers
oorhandig is en dáárna toe besluit is om die eis terug te trek.
Me. Janse van
Nuwenhuizen het derhalwe aan die hand gedoen dat die eiser nie bloot
sy eis net kon terugtrek sonder verlof van die
Hof of sonder
toestemming van die verweerder nie en dat in elk geval die eiser
reeds twee jaar gelede kennis gekry het dat die
verweerder verkeerd
gesiteer is en dat die geding eintlik teen Denel gevoer moes gewees
het. Sy het ook na verskeie gewysdes aangaande
hierdie aspek
verwys, waarmee ek later sal handel.
Dit wil my voorkom dat
die pertinente geskilpunte vir beregting hierin die volgende is:
a) Of aan die eiser se
versoek dat die Hof aan hom verlof moet verleen om sy eis terug te
trek, voldoen moet word; en
b) Die koste van beide
die geding self en van die bestrede koste-argument.
Die bepalings van
Hofreël 41 is baie duidelik, naamlik dat nadat ân saak terrolle
geplaas is, ân eis teruggetrek kan word slegs
met die toestemming
van al die partye daartoe of met verlof van die Hof. Indien
sodanige toestemming of verlof verleen word, dan
moet ân eiser ân
kennisgewing van terugtrekking aflewer en mag hy in sodanige
kennisgewing ân toestemming om koste te betaal
insluit. Só ân
toestemming om koste te betaal het die effek van ân hofbevel vir
die betaling van sodanige gedingskoste.
Waar geen sodanige
toestemming om gedingskoste te betaal ingesluit word in die
terugtrekkingkennisgewing nie, het die ander party
tot die geding
die reg om by ân hof kennis te gee dat hy vir ân kostebevel teen
die eiser sal vra (Reël 41(1)(c)).
Dit
is inderdaad so dat die eiser se terugtrekkingskennisgewing nie aan
die voorskrifte vervat in Reël 41(1)(a) voldoen nie. Die
aksie was
alreeds terrolle geplaas en derhalwe moes die eiser óf die
verweerder se toestemming bekom óf die Hof se verlof aanvra
daarvoor. Mnr. Gerber het betoog dat, aangesien die verweerder glad
nie bestaan nie, geen sodanige toestemming bekom kon word
nie en het
hy toegegee dat die Hof se verlof derhalwe aangevra moes gewees het.
Hy het egter daarop gewys dat sodanige verlof
inderdaad vanaf die
Balie tydens die aanhoor van die koste-argument aangevra is. Toe hy
daarop gewys is dat die eiser se prokureur
op ân stadium, nadat
Reël 41 se bepalings aan haar uitgewys is, toestemming vanaf die
verweerder versoek het dat die eis teruggetrek
kan word op die basis
dat elke party sy eie koste betaal, het Mnr. Gerber toegegee dat
hierdie skrywe ân fout is en derhalwe
geïgnoreer moet word.
Dit ly geen twyfel nie
dat die gepoogde terugtrekking van die eis soos per kennisgewing
geliasseer deur die eiser inderdaad ongeldig
is.
Sien
in die verband:
Protea
Assurance Co. Ltd v Gamlase 1971(1) SA 460 (E) te 465 G.
â
n
Hof het ân diskresie of hy sodanige verlof tot terugtrekking
behoort te verleen aldan nie en by die uitoefening van sodanige
diskresie
sal die kwessie van die moontlike onreg wat gepleeg mag
word teenoo
r
alle partye sentraal figureer.
Sien
in die verband:
Pearson
and Hutton NNO v Hitzeroth 1967(3) SA 591 (E) te 593 D
,
594
H
;
Karoo Meat Exchange
Limited v Mtwazi 1967(3) SA 356 (E) te 359 B-G.
Aan die ander kant weer,
moet in gedagte gehou word dat dit gewoonweg nie ân Hof se funksie
is om ân persoon wat nie wil voortgaan
met ân aksie te dwing om
so te doen nie óf om sy redes vir die abandonering van sy eis te
ondersoek nie;
Sien:
Levy
v Levy 1991(3) SA 614 (A) te 620 B.
Inaggenome
die tersaaklike gesag hierbo aangehaal en die omstandighede van
hierdie saak, is ek die mening toegedaan dat dit geen
doel sal dien
om die eiser verlof te ontsê om sy aksie terug te trek nie. Per
slot van sake is dit tog nie ân geregshof se
taak om ân litigant
te dwing om teen sy wil ân aksie voort te sit nie. Die kwessie
van koste staan egter op ân ander been.
Mnr. Gerber het aan die
hand gedoen dat wat die koste in die geding aanbetref, ân billike
bevel sal wees dat elke party sy eie
koste betaal. Hy het verder
aan die hand gedoen dat Denel gelas moet word om die koste van die
bestrede koste-argument betaal,
aangesien hulle, volgens Mnr. Gerber
halsstarrig geweier het om toe te gee tot die terugtrekking van die
eis. Ek stem nie hiermee
saam nie. Die eiser was reeds twee jaar
gelede deeglik ingelig uit hoofde van die spesiale pleit en pleit op
die meriete dat hy
die verweerder verkeerd gesiteer het. Daarna is
vir ân periode van twee jaar korrespondensie gevoer op die basis
dat Denel inderdaad
die aangewese regsentiteit is wat aanspreeklik
gehou moet word vir enige gelede skade vir die beserings van die
eiser. Desnieteenstaande
gaan die eiser voort met die voer van sy
geding teen die verkeerd gesiteerde verweerder. Dit is nou al
geykte gesag dat ân divisie
van ân regsentiteit self geen
regsstatus geniet nie en dat sodanige divisie nie
locus
standi
het
om gedagvaar te word of om te dagvaar nie.
Sien
in die verband:
Megaflex
(ân divisie van Sentrachem Bpk) en ân ander v White River Motor
Trading (Edms) Bpk 1996(1) SA 616 (T);
Absa Bank Ltd v
Blignaut and another and four similar cases 1996(4) SA 100 (O);
De Villiers v Nedfin
Bank, ân division of Nedcor Bank Ltd 1997(2) SA 76 (E).
Mnr.
Gerber het ook aangevoer dat Denel ingevolge die Hofreëls kon
toetree tot die geding indien hy wou, óf dat hy bloot die
dagvaarding kon ignoreer het indien hy van mening was dat hy
verkeerd gesiteer is. Beide van hierdie argumente gaan hoegenaamd
nie op nie. Daar is geen rede hoegenaamd vir Denel om toe te tree
tot die geding nie, aangesien Denel deeglik bewus daarvan was
dat hy
die aanspreeklike verantwoordelike regsentiteit is, maar dat hy
bloot verkeerd gesiteer is. In dié verband het Denel dus
heeltemal
korrek opgetree deur in ân spesiale pleit, sowel as in die pleit
op meriete, die eiser daarop te wys dat hy verkeerd
gesiteer is.
Verder kan ân litigant nie ân dagvaarding ignoreer bloot omdat
hy verkeerd daarin gesiteer is nie.
Sien
in dié verband:
Mutsi
v Santam Versekeringsmaatskappy en ân ander 1963(3) SA 11 (O)
te 18 G â 19 B.
Gevolglik word die
volgende bevel uitgereik:
19.1 Die eiser word
verlof verleen om sy eis terug te trek.
19.2 Die
eiser word gelas om die gedingskoste te betaal.
19.3 Die
eiser word gelas om die koste op ân bestrede basis van die
verrigtinge van 25 Mei 2006 te betaal.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
ADVOKAAT
NAMENS EISER : ADV H GERBER
IN
OPDRAG VAN : HUGO MATHEWSON & OOSTHUIZEN
ADVOKAAT
NAMENS VERWEERDER : ADV N JANSE VAN NUWENHUIZEN
IN
OPDRAG VAN : TOWELL & GROENEWALD