Afrifresh Export (Edms) Bpk v Visser N.O and Others (1476/2006) [2006] ZANCHC 28 (30 April 2006)

55 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Loan agreement — Dispute over amounts owed — Plaintiff, Afrifresh Export, claimed R4 million and additional amounts from defendants, trustees of a trust and a partnership, based on a loan agreement and an export agreement for grape marketing — Defendants contested the claim, arguing that the plaintiff was only entitled to R4 million and that additional claims were unfounded — Court held that the plaintiff's claims were partially valid, but the defendants had raised legitimate disputes regarding the amounts and terms of the agreements, necessitating a trial for resolution of factual disputes.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 28
|

|

Afrifresh Export (Edms) Bpk v Visser N.O and Others (1476/2006) [2006] ZANCHC 28 (30 April 2006)

Reportable:
YES / NO
Circulate
to Judges: YES / NO
Circulate
to Magistrates: YES / NO
Circulate
to Regional Magistrates: YES / NO
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno:
1476/2006
Datum
Aangehoor: 20/04/2007
Datum
Gelewer: 30/04/2007
In
die saak tussen:
AFRIFRESH
EXPORT (EDMS) BPK
teen
EUGENE VISSER
NO 1ste VERWEERDER
HEINRICH JOHANNES VISSER NO 2de
VERWEERDER
CHRISTIAAN LINDENBERG VISSER
NO 3de VERWEERDER
ONDERSTEPOORT
BOERDERY 4de VERWEERDER
EUGENE VISSER 5de
VERWEERDER
HEINRICH JOHANNES
VISSER 6de VERWEERDER
CHRISTIAAN LINDENBERG
VISSER 7de VERWEERDER
KAAP AGRI BEDRYF BEPERK 8 ste
VERWEERDER
Coram:
Olivier R
UITSPRAAK
OLIVIER R:
Die
eiser, Afrifresh Export (Edms) Bpk, het aksie ingestel teen mnre
Eugene Visser, Heinrich Johannes Visser en Christiaan Lindenberg
Visser, eerstens as eerste tot derde verweerders in hulle
hoedanighede as die trustees van die Nuweland Eiendomme Trust en
verder
ook as vyfde tot sewende verweerders in hulle hoedanighede as
borge, teen die vennootskap Onderstepoort Boerdery (as vierde
verweerder)
en teen Kaap Agri Bedryf Limited (as agtste verweerder).
Dit is gemenesaak dat
daar tussen die eiser, die trust en die vennootskap twee
ooreenkomste totstand gekom het.
‘
n
Uitvoerooreenkoms is gesluit, ingevolge waarvan die eiser vir die
betrokke seisoen sou optree as agent vir die trust en die
vennootskap in die bemarking van druiwe in die buiteland,
voorskotte op die opbrengs van die druiwe aan die trust en die
vennootskap
sou betaal en dan die oorblywende netto opbrengs (na
die eiser
“se
koste en kommissies”
afgetrek is) aan die trust en aan die vennootskap verskuldig sou
wees.
Die terme van ‘n
skriftelike leningskontrak wat tussen die betrokke partye aangegaan
is, het - toe daar nie aan die opskortende
voorwaardes daarvan
voldoen is nie - ‘n stilswyende leningsooreenkoms tussen die
partye geraak ten aansien van al die oorblywende
terme en bepalings
daarvan, ingevolge waarvan:
die eiser onderneem
het om ‘n bedrag van R4 miljoen namens die trust en die
vennootskap aan die agtste verweerder te
betaal ter delging van
hulle skuld aan die agtste verweerder, en om ‘n verdere bedrag
van R1.5 miljoen aan die trust en die
vennootskap te leen; en
ooreengekom is dat
die eiser verplig sou wees om bedrae wat die trust en die
vennootskap sou toekom uit hoofde van die uitvoerooreenkoms,
te
krediteer in hulle guns en ter delging van hulle verskuldigheid
ingevolge die leningsooreenkoms (klousule 2.1.2 van die
skriftelike leningskontrak).
Dit
is voorts gemenesaak dat die vyfde, sesde en sewende verweerders
hulle as borge en mede-hoofskuldenaars verbind het vir die
verskuldigheid van die trust en die vennootskap teenoor die eiser.
Die eiser se aksie is
gebaseer op beweringe:
dat die eiser ‘n
bedrag van R4 092 085.05 aan die agtste verweerder betaal
het namens die trust en die vennootskap;
dat die eiser ‘n
bedrag van R1.7 miljoen aan die trust en die vennootskap geleen
het;
dat
die eiser alle geld (in ‘n totale bedrag van R2 101 884.91)
wat die trust en die vennootskap uit hoofde van die
uitvoerooreenkoms toegekom het nadat die eiser se
“koste”
en kommissie van die opbrengs van die druiwe afgetrek is, en wat
nog nie reeds aan hulle uitbetaal was in die vorm van voorskotte
nie, in hulle guns gekrediteer het op die leningsooreenkoms;
dat
sodanige
“koste”
ingevolge die uitvoerooreenkoms die
“koste”
van verpakkingsmateriaal (die kartonne waarin die druiwe verpak is)
in die totale bedrag van R2 369 180.18 ingesluit
het; en
dat die trust en die
vennootskap (en gevolglik ook die borge) op die gemelde berekening
nog ‘n bedrag van R3 690 200.14,
asook rente daarop,
aan die eiser verskuldig is;
en wel uit hoofde van
die leningsooreenkoms, alternatiewelik op grond van onregmatige
verryking.
Die verweerders het
die aksie verdedig, waarop die eiser ‘n aansoek geloods het om
summiere vonnis. Die aansoek is later teen
die agtste verweerder
teruggetrek.
Die
eerste tot sewende verweerders (dit wil sê die trust soos
verteenwoordig deur die eerste drie verweerders, die vennootskap
(vierde verweerder) en die borge (vyfde tot sewende verweerders),
waarna gerieflikheidshalwe hierinverder verwys sal word as
“die
verweerders”
,
opponeer die aansoek om summiere vonnis op verskeie basisse:
Die omvang van die
bedrag voorgeskiet in terme van die leningsooreenkoms word
aangeval. Daar word aangevoer dat die leningsooreenkoms
slegs tot
die effek was dat die eiser ‘n bedrag van R4 miljoen aan die
agtste verweerder sou betaal namens die trust en die
vennootskap en
dat, indien die eiser dan enige bedrag meer as dit aan die agtste
verweerder betaal het, die eiser nie geregtig
is om daardie
bykomende bedrag van enige van die eerste tot sewende verweerders
te verhaal nie.
Van meer belang, word
egter ook gewys op die feit dat die deponent namens die agtste
verweerder, in die opponering van die aansoek
om summiere vonnis,
onder eed verklaar het dat die eiser slegs ‘n bedrag van R4 miljoen
aan die agtste verweerder betaal het namens
die trust en die
vennootskap.
Die verweerders voer
dus aan dat daar reeds op hierdie basis ‘n bedrag van R92 085.05
verkeerdelik ingesluit is in die eisbedrag
se berekening.
Die verweerders voer
aan dat die eiser nie uit hoofde van die bepalings van klousule A6
van die uitvoerooreenkoms geregtig was
om die koste van die
kartonne af te trek van die opbrengs van die druiwe nie en dat
sodanige kartonne inderdaad deur die trust
en die vennootskap van
die eiser aangekoop is ingevolge totaal ander kontrakte.
Verder voer die
verweerders aan dat die opbrengs van druiwe wat die eiser namens
die trust en die vennootskap in Skandinawië
sou bemark het teen ‘n
gewaarborgde prys, nooit in hul guns gekrediteer is in enige van
die twee ooreenkomste, en in enige
bedrag hoegenaamd, nie.
Wat
betref die eiser se bewering, blykens aanhangsel POC 2 tot die
eiser se besonderhede van vordering, dat deel van die eiser
se
“koste”
die betaling van BTW in ‘n bedrag van R197 592.98 op die
uitvoerkoste ingesluit het, verklaar die deponent namens die
verweerders
dat
“dit
geensins duidelik is uit die eiser se Besonderhede van Eis of enige
aanhangsels daartoe, hoe die bedrag van BTW bereken
word nie en is
dit ook glad nie duidelik op watter basis dit betaalbaar was nie
”.
Met
verwysing daarna dat die eiser uit hoofde van klousule A3 van die
uitvoerooreenkoms verplig was om die trust en die vennootskap
se
druiwe te bemark teen
“die
hoogs haalbare prys”
,
voer die verweerders aan dat die hoogs haalbare prys te alle
relevante tye minstens R45.00 per karton druiwe was en dat die
bedrag waarmee die eiser hulle uitvoerrekening gekrediteer het,
afgebreek tot ‘n prys per karton, neerkom op ‘n bedrag heelwat
laer as R45.00 per karton.
Die
gevolg hiervan sou dan wees dat die trust en die vennootskap op die
leningsooreenkoms met ‘n groter bedrag gekrediteer moes
gewees het
uit hoofde van die uitvoerooreenkoms as wat wel gebeur het, wat ook
die eisbedrag sou raak en verminder.
Ook
is dit die verweerders se saak dat die eiser verplig was om,
wanneer daar bedrae beskikbaar was wat tot die krediet van die
trust en die vennootskap aangewend kon gewees het op die lening,
dit dadelik te krediteer (en nie eers aan die einde van die
seisoen
as ‘n globale bedrag nie), en dat daar weens die eiser se versuim
om so te doen te veel rente gedebiteer is.
Verder voer die
verweerders aan dat die trust en die vennootskap meerdere teeneise
teen die eiser het:
Die verweerders voer
aan dat ‘n verteenwoordiger van die eiser voor kontraksluiting ‘n
voorstelling gemaak het dat die druiwe
verkoop sou word teen ‘n
prys van tussen R51.00 en R59.00 per karton, dat dit vir baie
minder verkoop is en dat die die trust
en die vennootskap
gevolglik op hierdie basis skadevergoeding van die eiser gaan
vorder.
In die alternatief
hiertoe voer die verweerders aan dat ‘n teeneis ingestel gaan
word vir skadevergoeding op die basis dat die
druiwe in elk geval
teen nie minder nie as R45.00 per karton verkoop kon of moes gewees
het.
Laastens voer die
verweerders aan dat die eiser kontrakbreuk gepleeg het in die
uitvoering van die leningsooreenkoms, deur die
verskillende bedrae
(in totaal R4 miljoen) wat aan die agtste verweerder betaal moes
word, nie uit te betaal teen die ooreengekome
datums nie, wat vir
die verweerders gelei het tot ‘n renteverlies van in die omgewing
van R99 000.00.
Die
verweerders het dus aangevoer dat, op die voormelde basis, die
verweerders geen bedrag hoegenaamd aan die eiser verskuldig is
nie.
In betoog namens die
eiser het mnr Burger van die standpunt uitgegaan dat, selfs al sou
die bedrag wat die eiser op grond van die
leningsooreenkoms kon eis
beperk word tot ‘n bedrag wat die gemelde bedrag van R92 085.05
sou uitsluit:
die
verweerders dan steeds die balans verskuldig is, en wel omdat die
eiser geregtig was om die koste van die kartonne af te trek
van die
bruto opbrengs van die druiwe; en dat
die verweerders,
selfs al sou hulle ook gelyk gegee word wat die
verpakkingsmateriaal betref, steeds op hulle eie weergawe minstens
R1 371 710.00 verskuldig is omdat die verweerders onvoldoende
besonderhede verstrek het van hulle teeneis en nie die bepalings
van Hofreël 32 (3) (b) nagekom het nie.
Alhoewel
mnr Burger dus die bykomende bedrag van R92 085.05 vir
doeleindes van die aansoek om summiere vonnis laat vaar het,
het hy
aangevoer dat, by die verhoor van die aksie, die eiser se saak sal
wees dat, al het dit nie dié bedrag aan die agtste verweerder
betaal nie, dit teenoor die agtste verweerder aanspreeklikheid
aanvaar het nie net vir R4 miljoen nie, maar ook vir hierdie
bykomende
bedrag.
Mnr
van Niekerk, wat namens die verweerders verskyn het, se antwoord
hierop was, na my oordeel tereg, dat die leningsooreenkoms, waarop
die eiser immers steun, slegs op die eiser die verpligting geplaas
het om names die trust en die vennootskap ‘n bedrag van R4 miljoen
oor te betaal aan die agtste verweerder.
Om
mee te begin, is mnr Burger se vertrekpunt, naamlik dat die
verweerders sou erken het dat hulle, indien ‘n teeneis op grond
van die pryse waarteen die druiwe bemark is nie sou slaag nie, aan
die eiser die bedrag van R1 371 710.00 verskuldig
is,
verkeerd. Die verweerders het niks van die aard erken nie. Daar is
duidelik in die opponerende eedsverklaring bloot by hierdie
bedrag
uitgekom vir die doeleindes van ‘n berekening, en uitgaande van
die veronderstelling dat die eiser se weergawe van die
bruto-opbrengs van die druiwe en van die verhaalbare koste korrek
was; iets wat uitdruklik nie toegegee is nie.
Inteendeel, soos reeds
aangetoon, het die verweerders juis die omvang van die eisbedrag op
verskeie basisse aangeval wat hierdie syfer
sou kon beïnvloed.
Wat betref die
onderskeie standpunte met betrekking tot die kwessie van die
verpakkingsmateriaal se kostes, lees die bepalings van
klousule A6
van die uitvoerooreekoms soos volg:
“
Die
balans van die finaal gerealiseerde prys (netto van Afrifresh se
koste en kommissies) by die werklike verkoop van die produk sal
deur
Afrifresh aan die Produsent betaal word binne 90 ... dae na
verskeping van die produk by wyse van see tensy
,
vooraf anders gereël.”
Die
eiser vertolk hierdie bepalings om te beteken dat die verwysing na
die eiser se
“koste”
ook die koste van die verpakkingsmateriaal sou insluit wat die eiser
aan die trust en die vennootskap voorsien het. Mnr van Niekerk
het
egter namens die verweerders betoog dat dié
“koste”
slaan op onkostes
“by
die werklike verkoop van die produk”
,
en het daarop gewys dat die deponent namens die verweerders dan ook
uitdruklik onder eed verklaar het dat die verpakkingsmateriaal
voorsien is aan die trust en die vennootskap uit hoofde van ander
selfstandige koopooreenkomste.
Dit
is onwenslik om in ‘n aansoek om summiere vonnis te poog om die
terme van ‘n kontrak te vertolk, sonder die hulpmiddel van
getuienis rakende die omringende omstandighede waaronder die kontrak
gesluit is (sien
Millman
NO v Klein
1986 (1) SA 465
(C) op 480F-I). Dit het mnr Burger dan ook in
argument toegegee.
Bowendien
sou dit gesê kon word dat hier ook ‘n feitegeskil is, vir soverre
die eiser aanvoer dat dit die verpakkingsmateriaal
gelewer het uit
hoofde van die uitvoerooreenkoms, terwyl die verweerders aanvoer dat
dit gelewer is uit hoofde van ander ooreenkomste.
In die geval van
so ‘n feitedispuut sal die Hof die oorweging van die aansoek om
summiere vonnis benader op die basis dat die
verweerder se bewering
die korrekte is (sien
Bowman
NO v Howe
1980 (2) SA 226
(W) op 228H), en ook dit het mnr Burger geredelik in
argument toegegee.
Vir doeleindes van
hierdie aansoek sal dus van die standpunt uitgegaan word dat die
verweerder se beweringe oor die ooreenkoms/te
uit hoofde waarvan die
verpakkingsmateriaal gelewer is, die korrekte is en dat hierdie
bedrag dus ook beskikbaar moes gewees het
om in die guns van die
verweerders te krediteer op die leningsooreenkoms.
Mnr Burger het
geargumenteer dat, selfs al sou dan aanvaar word dat die koste van
die verpakkingsmateriaal die onderwerp van selfstandige
ooreenkomste
was, die koste steeds aan die eiser verskuldig sou wees en die eiser
dit as ‘n likiede teeneis sou kon opwerp teen
enige eis wat die
trust en die vennootskap teen die eiser sou kon hê.
Dit mag seker wees,
maar die terme van sodanige ander ooreenkoms/te is op hierdie stadium
onbekend. In elk geval sou dit ook geen
afbreuk doen aan die feit
dat die eisbedrag in hierdie saak dan verkeerd bereken is nie.
Dit bring my by die
kwessie van die pryse waarteen die druiwe verkoop is, of minstens
dan veronderstel was om verkoop te gewees
het. In die lig daarvan
dat die leningsooreenkoms pertinent lui dat bedrae wat die trust en
die vennootskap uit hoofde van die
uitvoerooreenkoms sou toekom,
gekrediteer moes word vir hulle in die leningsooreenkoms, is die
uitvoerooreenkoms ‘n integrale
deel van die skuldoorsaak waarop
die eiser steun, en kan ek nie saamstem met mnr Burger se submissie
dat die verweerder die bewyslas
ten aansien van die
uitvoerooreenkoms dra nie.
In
die lig van die bepalings van klousule 2.1.2 van die
leningsooreenkoms sou die eiser nie sy skuldoorsaak behoorlik kon
uiteensit
sonder om te handel met wat die opbrengs ingevolge die
uitvoerooreenkoms was en watter bedrag ingevolge daarvan beskikbaar
geraak
het (en moes geraak het) om aan te wend in die
leningsooreenkoms nie; en het die eiser dan ook inderdaad sy
skuldoorsaak so gepleit
(sien
R
M van de Ghinste & Co (Pty) Ltd v Van Ghinste
1980 (1) SA 250
(C) op 253f).
Wanneer
die twee ooreenkomste saamgelees word, blyk dit dan ook baie
duidelik dat daar geen manier is waarop die twee ooreenkomste
in
isolasie van mekaar gelees kan word nie. In die leningsooreenkoms
word meerdere verwysings na die uitvoerooreenkoms aangetref
(dit wil
sê afgesien van die bepalings van klousule 2.1.2), en word wel na
die betrokke ooreenkoms verwys as die
“MAIN
AGREEMENT”
tussen die partye.
Afgesien van die
bepalings van klousule 2.1.2 van die leningsooreenkoms, lees die
laaste gedeelte van die aanhef tot die betrokke
ooreenkoms
insiggewend soos volg:
“
AND
WHEREAS it is the intention of both the COMPANY
(die eiser)
and the GROWER
(die trust en die vennootskap)
that repayment of the loan should take place in the first instance by
means of a set-off against the proceeds of the produce/product
received by the COMPANY on the GROWER’S behalf as envisaged in the
MAIN AGREEMENT, ...”
.
Mnr Burger het
aangevoer dat, alhoewel die eiser in sy besonderhede van vordering
gehandel het met die bedrag wat reeds vanuit die
opbrengs van die
uitvoerooreenkoms aangewend is vir die krediet van die trust en die
vennootskap in die leningsooreenkoms, dit
vir die verweerders was
om te bewys dat hulle ook nog op verdere krediete geregtig was uit
hoofde van die uitvoerooreenkoms.
Hierdie
submissie kan nie korrek wees nie. Dit is vir ‘n eiser wat op ‘n
kontrak steun om te bewys dat die eiser die terme
daarvan behoorlik
uitgevoer het, of om dit te tender. Die leningsooreenkoms plaas in
op klousule 2.1.2 ‘n verpligting op die
eiser om
“On
the date that the COMPANY receives any payment in respect of
produce/product sold by it on the GROWER’S behalf”
sodanige bedrag aan te wend vir die krediet van die trust en die
vennootskap in die leningsooreenkoms. Om te bewys dat voldoen
is
aan klousule 2.1.2 sal die eiser moet bewys dat dit alle sodanige
bedrae aldus gekrediteer het soos ooreengekom.
In elk geval blyk dit
uit die eiser se eie berekening van die eisbedrag (aanhangsel POC 2
by die besonderhede van vordering) dat
dit waarskynlik nie enige
bedrae so gekrediteer het op die datum waarop die bedrae ontvang is
nie, maar dat gewag is tot aan die
einde van die seisoen en dat die
oorblywende bedrag wat toe aan die trust en die vennootskap toegekom
het, teen die leningsrekening
gekrediteer is op daardie stadium.
Dit sou beslis ‘n nadelige rente-impak vir die trust en die
vennootskap gehad het.
Ongeag van op wie die
bewyslas egter rus, gaan die vraag op hierdie stadium steeds
eenvoudig wees of, selfs indien die bewyslas
hiervoor op die
verweerder sou rus, die behoorlike bewys van hierdie beweringe ‘n
geldige en afdwingbare teeneis sal uitmaak
in die verhoor van die
aksie.
Om dan egter terug te
keer na die verweerders se beweringe ten aansien van die pryse
waarteen die druiwe verkoop moes gewees het,
kan sodanige beweringe
dus nie slegs gesien word as beweringe wat opgewerp word om ‘n
teeneis te probeer aantoon nie, maar sou
dit noodwendig ook kon
slaan op ‘n verweer ten aansien van die omvang van die eisbedrag.
Soos hieronder aangetoon sal word,
sou dit in die onderhawige geval
egter nie veel verskil maak of die beweringe gesien word as ‘n
basis vir ‘n suiwer verweer
of as ‘n basis vir ‘n teeneis nie.
Mnr
Burger het, soos reeds gemeld, aangevoer dat die verweerders in elk
geval onvoldoende besonderhede verskaf het in hierdie verband
en dat
daar nie voldoen is aan die voorskrifte van Hofreël 32 (3) (b) nie.
Die toets in hierdieverband is soos volg uitgelê in
Breitenbach
v Fiat SA (Edms) Bpk
1976 (2) SA226 (T) op 22B en D-E:
“
it will suffice
... if the defendant swears to a defence, valid in law, in a manner
which is not inherently and seriously unconvincing”.
“
...
no more is called for than this: that the statement of material
facts be sufficiently full to persuade the Court that what the
defendant has alleged, if it is proved at the trial, will constitute
a defence to the plaintiff’s claim.”
Selfs
al sou die verweerders se bewering van ‘n voorstelling van ‘n
prys tussen R51.00 en R59.00 per karton vir die oomblik
buite
rekening gelaat word, is dit steeds gemenesaak dat die eiser die
druiwe teen die
“hoogs
haalbare prys”
moes bemark het. Soos wat ek die verweerder se beweringe in hierdie
verband verstaan, kom dit op die volgende neer:
Die trust en die
vennootskap het druiwe van die ooreengekome gehalte aan die eiser
gelewer vir bemarking.
Selfs produsente wie
se druiwe van soortgelyke gehalte eers later as dié van die trust
en die vennootskap bemark is, het pryse
gehaal van R45.00 per
karton en omdat die pryse later in die seisoen altyd laer is as
vroeër in die seisoen, kon en moes die
trust en die vennootskap se
druiwe vir minstens R45.00 per karton bemark gewees het.
Selfs al word bloot
die druiwe wat in die Verenigde Koningkryk bemark is in ag geneem,
was die getal kartonne betrokke 218 740,
wat teen R45.00 per karton
‘n bruto opbrengs van R9 843 300.00 moes opgelewer het.
Volgens aanhangsel
POC 2 by die eiser se besonderhede van vordering sou die totale
opbrengs van al die trust en vennootskap se
druiwe die bedrag van
R7 402 234.61 gewees het, en dus ongeveer R2 441 065.40
minder as wat dit teen R45.00 per karton
moes beloop het.
Vir soverre daar ná
lewering van die druiwe hier te Suid-Afrika (aan die eiser)
kwaliteitsprobleme mag ontstaan het, was die
eiser ingevolge die
uitvoerooreenkoms self vir die gevolglike skade verantwoordelik.
Ek
is van oordeel dat hierdie beweringe voldoende is om te dien, vir
die doeleindes van die opponering van ‘n aansoek om summiere
vonnis, as basis vir hetsy ‘n
bona
fide
verweer met betrekking tot die omvang van die eisbedrag of ‘n
teeneis wat ‘n substantiewe deel van die eisbedrag (indien daar
nog enige deel verskuldig sou bly ná die terugrekening van die
verpakkingsmateriaal se bedrag) sal uitwis.
Mnr Burger het in
argument toegegee dat, indien hierdie beweringe by die verhoor bewys
sou word, dit ‘n suksesvolle teeneis sou
fundeer. Hy het egter
vir die eerste keer in argument toe aangevoer dat die verweerders se
beweringe in hierdie verband hoorsê-getuienis
is en as sulks
ontoelaatbaar is.
Mnr
Burger het in hierdie verband eerstens verwys na paragraaf 57 van
die opponerende eedsverklaring, waar die deponent verklaar
het:
“Sover
my kennis strek is al die druiwe gelewer aan die eiser
geklassifisseer as klas 1”
.
Dit is onnodig om te beslis of dié woorde vatbaar is vir die
afleiding dat die respondent die inligting uit ‘n ander bron
verkry het (sien
Bewysreg
,
Schmidt, 4de uitgawe, bladsy 475), want mnr van Niekerk het uitgewys
dat die deponent in paragraaf 49 van die verklaring dit pertinent
gestel het dat
“Die
druiwe wat gelewer is, was alles van eerste klas kwaliteit ...”
.
Dan het mnr Burger ook
verwys na paragraaf 66 van die verklaring, waar die deponent vir die
verweerders soos volg verklaar het:
“
Ek is bewus van
ander produsente wat druiwe van soortgelyke kwaliteit deur die eiser
bemark het en, alhoewel sodanige bemarking later
dan die eerste tot
die vierde verweerders s’n geskiet het, steeds ‘n netto opbrengs
van R45.00 per karton geniet het. Ek wens
daarop te wys dat hoe later
bemarking geskiet hoe swakker die pryse raak.”
Ek kan nie sien hoe
die enigste afleiding hieruit kan wees dat die deponent se stelling
op hoorsê-getuienis neerkom nie. Mnr Burger
het betoog, as ek hom
reg verstaan het, dat die deponent die verklarings van die ander
produsente waarna verwys is, moes aangeheg
het.
Ek
kan glad nie hiermee saamstem nie. Dit sou glad nie strook met wat
in die
Breintenbach
-saak
beslis is ten aansien van hoe voldoen kan word aan die voorskrifte
van Hofreël 32 (3) (b) nie (sien ook
Maharaj
v Barclays National Bank Limited
1976 n(1) SA 418 (A) op 426C-D). Wat mnr Burger van die verweerders
verlang, sou effektief daarop neerkom dat hulle nie bloot
bewerings
moes maak wat, indien dit later bewys sou word in die verhoor, ‘n
geldige verweer of teeneis sou wees nie, maar dat
hulle inderdaad
nou reeds daardie verweer moes bewys. Dit is duidelik nie die
bedoeling met Hofreël 32 (3) (b) nie.
Dan is daar nog die
renteverlies van nagenoeg R99 000.00. Die verweerders se saak in
hierdie verband is duidelik en ook ten aansien
hiervan meen ek nie
dat gesê kan word dat onvoldoende beweringe hieroor gemaak is nie.
Geen argument is
namens die eiser aangevoer met betrekking tot die verweerders se
bewering dat geen gedeelte van wat ookal die opbrengs
mag gewees het
van die druiwe wat te Skandinawië bemark is, ooit deur die eiser
gekrediteer is nie.
Alhoewel
die bewering dat dit
“geensins
duidelik is”
hoe die BTW bereken is wat volgens die eiser op die uitvoerkoste
betaal is, moontlik geargumenteer mag word nie te voldoen aan
Hofreël 32 (3) (b) nie, het mnr van Niekerk in argument, en met
verwysing na die eiser se eie gegewens (in aanhangsel POC 2 tot
die
besonderhede van vordering), aangetoon dat daar inderdaad vrae in
hierdie verband is.
Die bedrag van
R197 592.98, wat volgens die eiser betaal sou gewees het aan
BTW, sou nie neerkom op 14% (die BTW koers) van
enige van die
komponente van die uitvoerkoste gereflekteer in aanhangsel POC 2
nie, en ook nie van die totale van enige kombinasies
daarvan nie.
Selfs
sonder om enigsins die verweerder se beweringe van ‘n voorstelling
(dat die druiwe R51.00 tot R59.00 per karton sou haal)
in ag te
neem, meen ek dus dat die verweerders daarin geslaag het om aan te
toon dat hulle
bona fide
verwere teen die geheel van die eisebedrag het.
Mnr
Burger het ook namens die eiser aangevoer dat die Hof nie sy
diskresie ten gunste van die verweerders moet uitoefen deur verlof
te verleen om te verdedig nie. Daar sou egter slegs sprake van
enige ‘n diskresie kon wees indien die verweerders nie voldoen
het
aan die bepalings van Hofreël 32 (3) (b) nie (sien
Soil
Fumigation Services v Chemfit Technical Products
2004 (6) SA 29
(SCA) op 35B-C), wat nie hier die geval is nie.
Die
Hof sou dan ook in elk geval slegs ‘n diskresie kon hê om
summiere vonnis te weier, nie om dit toe te staan nie (sien
A
E Motors (Pty) Ltd v Levitt
1972 (3) SA 658
(T)). Dit beteken dat, indien ‘n verweerder hom
sou kwyt van die plig om ‘n
bona
fide
verweer ooreenkomstig die bepalings van Hofreël 32 (3) (b) aan te
toon, die Hof verplig sou wees om verlof te verleen om te verdedig.
Die
beslissing van
Soil
Fumigation Services v Chemfit Technical Products, supra
,
waarop mnr Burger gesteun het, het geen verskil gemaak hieraan nie,
en bloot neergelê dat, waar die Hof wel reeds ‘n diskresie
het om
die aansoek om summiere vonnis te weier, die Hof in die uitoefening
van sodanige diskresie in ag sal neem dat die verweerder
wat steun
op ‘n teeneis nog altyd daardie teeneis sou kon uitoefen deur ‘n
aparte geding in te stel teen die eiser, selfs al
sou summiere
vonnis teen die verweerder toegestaan word.
Daar is nie in die
laasgemelde beslissing neergelê dat die Hof, selfs al het ‘n
verweerder voldoen aan die bepalings van Hofreël
32 (3) (b), ‘n
diskresie sou hê om, waar sodanige verweerder op ‘n teeneis sou
steun, tog summiere vonnis toe te staan nie.
In elk geval steun die
verweerders hier nie bloot op ‘n teeneis alleen nie.
Namens die verweerders
is onder eed verklaar dat die aansoek om summiere vonnis
voorafgegaan is deur ‘n aansoek om ‘n interdik
en dat die eiser
reeds toe al bewus geraak het van dieselfde verwere as wat die
verweerder nou weer geopper het ter opponering
van die aansoek om
summiere vonnis. Op hierdie basis is dan reeds in die opponerende
eedsverklaring in hierdie aansoek van die
kant van die verweerders
duidelik gemaak dat hulle voornemens was om ‘n bestraffende
kostebevel teen die eiser te versoek.
Hofreël
32 (9) (a) skep spesifiek die bevoegdheid vir ‘n Hof om te gelas
dat die eiser die koste betaal op die skaal van prokureur
en kliënt
waar die eiser
“geweet
het dat die verweerder op ‘n betoog steun wat hom tot verlof om te
verdedig geregtig maak”
.
Die
verweerder se beweringe in hierdie verband is nooit deur of namens
die eiser aangeval nie. Inteendeel, dit is deur mnr Burger
toegegee
dat wesenlik dieselfde feite toe reeds van die kant van die
verweerders onder eed verstrek is.
Mnr Burger het egter
aangevoer dat dit nie onredelik was van die eiser om tot die slotsom
te kom dat die verweerders nie sou slaag
om summiere vonnis met
behulp van daardie beweringe te ontduik nie. Mnr Burger het
gevolglik aan die hand gedoen dat, sou summiere
vonnis geweier word,
die koste behoort oor te staan vir latere beregting.
Ek kan ongelukkig nie
hiermee saamstem nie. Na my oordeel moes daar vir die eiser reeds
voor die aansoek om summiere vonnis voldoende
gronde gewees het om
tot die slotsom te kom dat ‘n aansoek om summiere vonnis nie
aangewese was nie. Mnr Burger het, byvoorbeeld,
nie eers werklik
met enige oortuiging gepoog om te argumenteer waarom die Hof hier
teen die verweerders moes beslis op die interpretasie
van ‘n
kontrak nie.
Ek kan nie sien waarom
die koste onder hierdie omstandighede moet oorstaan vir latere
beregting nie. Die oorweging dat die verweerders
dalk by die
verhoor met dié verwere op die getuienis mag misluk, word nou op
die agtergrond gestoot deur die feit dat die eiser,
voor sy aansoek
om summiere vonnis, minstens geweet het dat dieselfde beweringe,
waar of onwaar, ook gemaak sou word ter opponering
van summiere
vonnis.
Aan
die ander kant het mnr Burger se argument op die meriete in die
algemeen darem ook meer om die lyf gehad as ‘n blote toegewing
dat
verlof verleen behoort te word (vergelyk
Hire-Purchase
Discount Co (Pty) Ltd v Ryan Scholz & Co (Pty) Ltd and Another
1979 (2) SA 305
(SE),
Absa Bank Ltd (Volkskas Bank Division) v S J Du Toit & Sons
Earthmovers (Pty) Ltd
1995 (3) SA 265
(C) en
South
African Bureau of Standards v G G S/AU (Pty) Ltd
2003 (6) SA 588
(T)), en meen ek nie dat koste of die skaal soos
tussen prokureur en kliënt hier toegestaan behoort te word nie.
Bygevolg word die
volgende bevele gemaak:
Die aansoek om
summiere vonnis teen die eerste tot sewende verweerders word met
koste afgewys.
Verlof word aan die
eerste tot sewende verweerders verleen om die eiser se aksie te
verdedig en verdere kennisgewings en pleitstukke
sal afgelewer word
asof kennis van voorneme om te verdedig gegee is op die datum van
hierdie bevel.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Namens Eiser: Adv L
Burger
In
opdrag van: Haarhoffs Ing, KIMBERLEY
Namens
Verweerders: Adv J van Niekerk
In
opdrag van: Duncan & Rothman, KIMBERLEY