S v Abels (CA&R 167\05) [2006] ZANCHC 85 (30 March 2006)

55 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Identification — Dock identification — Appellant convicted of robbery based on identification by witnesses — Appellant challenged reliability of identification evidence. Appellant, Marlon Abels, appealed against his conviction for robbery, sentenced to 8 years' imprisonment, with 4 years to run concurrently with an existing sentence. The robbery involved the theft of cash and goods from two retail stores, with witnesses identifying the appellant in court. The trial court found the identification credible, considering the witnesses' opportunity to observe the appellant during the crime. The appeal court upheld the conviction, confirming that the identification was reliable and the trial court had properly assessed the evidence.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2006
>>
[2006] ZANCHC 85
|

|

S v Abels (CA&R 167\05) [2006] ZANCHC 85 (30 March 2006)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R
167\05
Datum
verhoor: 2006\03\27
Datum
gelewer: 2006\03\30
In
die appél van
:
ORIL
MARLON ABELS APPELLANT
versus
DIE
STAAT RESPONDENT
Coram
:
MAJIEDT R et LACOCK R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die
appellant kom met verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen sy
skuldigbevinding aan roof. Hy is gevonnis tot 8 jaar
gevangenisstraf
en daar is gelas dat 4 jaar daarvan samelopend
uit-gedien moet word met die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf wat
die appellant
op daardie stadium besig was om uit te dien. Die
appellant is verlof tot appél verleen alreeds in 2000. Daar is
geen feite en/of
redes voorgelê waarom die appél nie tydig
voortgesit is nie. Daar is ook geen behoorlike aansoek vir
kondonasie vir dié nalate
voor ons nie – die
roneo
vorms wat deur die appellant gebruik is, is bloot oop gelaat in dié
verband. Ek oorweeg tog egter die meriete van die appél,
doelmatigheidshalwe.
Die
appellant was beskuldigde 2 tydens die verhoor. Hy en sy
mede-beskuldigde is dit ten laste gelê deur die Staat dat hulle op
1 Februarie 1998 die Langstons en Shoeline winkels beroof het
van kontant, klerasie, skoene en ander items ter waarde van
R12 080,19. Beide beskuldigdes het onskuldig gepleit. Hulle
was onverteenwoordig tydens die verhoor. Na afloop van die
Staatsaak is die destydse beskuldigde 1 ontslaan ingevolge artikel
174 van die Strafproseswet (Wet 51/1977) se bepalings.
Die
Staat het vier getuies geroep om getuienis te lewer ten aansien van
die pleging van die bepaalde misdryf. Al vier die getuies
was
werknemers by die voormelde winkels. Twee van die vier getuies het
die appellant uitgeken as een van die rowers. Sodanige
uitkenning
het geskied in die hof, met ander woorde dit was ‘n sogenaamde
“
dock
identification
”.
Die vier getuies wat
getuig het is as volg:
a) Florence
Pierce (“
Florence”
),
wat destyds in diens was as bestuurderes van die skoenewinkel,
Shoeline;
b) Gregory
Julius (“
Gregory
”)
wat in diens was as ‘n verkoopsman by Shoeline skoenewinkel;
c) Clifton
Lombaard (“
Clifton
”)
wat werksaam was as ‘n verkoopsman by Langstons;
d) Deline
Julius (“
Deline
”)
wat ook gewerk het as ‘n verkoopsdame by Langstons klerewinkel.
Die
voormelde vier getuies se weergawes van die verloop van gebeure stem
in breë trekke ooreen en kan as volg saamgevat word:
5.1 Kort voor toemaaktyd
op die dag van die voorval (‘n Sondag) het twee mans die winkels
binnegestap (dit blyk uit die getuienis
dat Langstons en Shoeline een
groot winkel gedeel het). Een van die mans (wat later blyk die
appellant te gewees het) het ‘n hoed
op sy kop gehad met goed wat
daar langsaan afgehang het langs sy gesig. Dié hoed het hy egter na
sy binnekoms by die winkels afgehaal
en op een van die klererakke
geplaas. Die ander persoon saam met die appellant het kort na hulle
binnekoms die winkelsaal verlaat
en geeneen van die staatsgetuies het
dié onbekende persoon weer daarna opgemerk in die winkel nie.
5.2 Die
appellant het gekyk na klerasie en het van die items op die toonbank
geplaas waarin hy belanggestel het. Hy is kort daarna
uit en het toe
teruggekeer. Met sy terugkeer het die appellant reguit na die skoene
afdeling (dit wil sê die Shoeline-gedeelte
van die winkel) beweeg
waar die staatsgetuie Gregory hom bedien het. Die appellant het op
‘n stadium ‘n vuurwapen tevoorskyn
gebring en vir Gregory aangesê
om vir Clifton na agter te roep (dit blyk uit die getuienis dat die
skoenegedeelte aan die agterkant
van die winkel is).
5.3 Nadat
Clifton opgedaag het by die agterste gedeelte van die winkel waar die
appellant besig was om Gregory met die vuurwapen aan
te hou, is hy
aangesê om vir Florence na daardie agterste gedeelte te roep, wat hy
dan ook gedoen het.
5.4 Die
appellant het toe dié drie (Gregory, Florence en Clifton) na die
voorste gedeelte van die winkel laat beweeg terwyl hy agter
hulle
aangestap het met sy vuurwapen op hulle gerig. By die voorste
gedeelte en wel by die toonbank is Deline deur die appellant
gekonfronteer aangaande die vraag of sy die alarmknoppie gedruk het,
wat sy ontken het.
5.5 Die
vier Staatsgetuies is toe na die agterste kombuisgedeelte van die
winkel geneem waar Clifton aangesê is om die ander drie
met
kleefband vas te maak. Hy het dan ook al drie sy medepersoneellede
se arms vasgebind met die kleefband. Deline se mond is ook
toegeplak
daarmee, aangesien sy blykbaar geskree het.
5.6 Daarna
het die appellant en Clifton na die kluis beweeg waar ‘n sekere
bedrag kontantgeld uitgehaal is. Hulle twee is toe terug
na die
kombuis waar Clifton vasgebind is en waar Florence uitgeneem is om
geld uit die kluis by die Shoelinegedeelte van die winkel
te gaan
haal. Daarna is sy weer vasgebind in die kombuis en is hulle vier
aangesê om daar stil te sit en nie te beweeg nie. Op
dié stadium
het die appellant homself klaarblyklik uit die voete gemaak.
Die appellant is
uitgeken in die hof deur Florence en Clifton as die rower wat met
die vuurwapen hulle daar beroof het op die bepaalde
dag.
In
die Verdediging se saak het die appellant self getuig en het hy
aandadigheid aan die misdryf heeltemal ontken. Hy het aangevoer
dat
Florence hom vantevore al kon gesien het by die huurmotorstaanplek
in die stad waar hy gereeld dwelms verkoop het oorkant die
gebou van
die Narkotika Buro. Hy het verder ook aangevoer dat Clifton hom ken
omdat Clifton voorheen aan hom gebruikte klerasie
verkoop het,
waarvoor hy (die appellant) nie ten volle betaal het nie. Hy het
aangevoer dat Clifton ‘n wrok teen hom het daaroor
en hom derhalwe
valslik beskuldig van die roof.
Die
appellant het aangedui dat hy twee getuies, ene Prince en Gamodine
wou roep as getuies, synde twee persone wat aanwesig was
toe die
appellant die transaksie met die klere aangegaan het met Clifton
waaroor die appellant getuig het. Die appellant (wat
op ‘n baie
laat stadium toe deur ‘n advokaat Brown verteenwoordig was) het
toe afgesien van die voormelde voorneme, aangesien
dit geblyk het
dat Gamodine volgens die appellant alreeds met die Staatsaanklaer
gepraat het en omrede Prince alreeds ‘n verklaring
oor die
onderhawige gebeure aan die polisie afgelê het en in ‘n ander
saak vir die Staat getuig het. Dit het geblyk dat Prince
se
getuienis nie gunstig teenoor hom sou wees nie – ek maak dié
afleiding uit die Staatsaanklaer se kruisondervraging van die
appellant.
Die
streeklanddros het die staatsgetuies as geloofwaardig en betroubaar
bevind en het in die besonder bevind dat Florence en Clifton
‘n
bona
fide
,
eerlike en betroubare uitkenning gemaak het van die appellant. Mnr.
Fourie wat namens die appellant in hierdie appél voor ons
verskyn
het, het grootliks op dié bepaalde aspek van die skuldigbevinding
gekonsentreer tydens sy betoog.
Dit
is wel so dat die enigste getuienis wat die appellant aan die
pleging van die misdryf verbind die “
dock
identification’
deur
Florence en Clifton is. Die streeklanddros was ook terdeë bewus
van dié bepaalde feit. Hy het in sy uitspraak noukeurig
oorweging
geskenk aan die omstandighede waaronder die misdryf gepleeg is, meer
bepaald met verwysing na die geleentheid vir waarneming
wat daar aan
Florence en Clifton beskikbaar was om die appellant se gesig te kan
sien en later te kan uitken. In dié verband
het dié twee getuies
albei konsekwent getuig dat die winkel baie helder verlig was, hulle
het dit albei bestempel as helderder
as die ligte in die hof.
Verder het beide van hulle ‘n aansienlike tydperk deurgebring in
die geselskap van die appellant, soos
hy met hulle rondbeweeg het
daar in die winkel. Die streeklanddros het ook as bykomende
waarborg vir die betroubaarheid van hulle
uitkenning aangemerk die
feit dat beide dié twee getuies slegs vir appellant as beskuldigde
2 uitgeken het in die hof. Beide
van hulle het (soos die geval ook
was met Deline en Gregory) aangedui dat hulle nie kan sê of
beskuldigde 1 die ander persoon
was wat in die winkel was nie.
Die
streeklanddros se sorgvuldige oorweging van dié betrokke getuienis
dui onteenseglik aan dat hy die uitkenningsgetuienis van
Clifton en
Florence met die nodige versigtigheid benader het wat regtens vereis
word. Hy het veral oorweging daaraan geskenk dat
die twee getuies
(wat albei die eerste keer volgens hulle daardie bepaalde dag die
appellant gesien het) moontlik ‘n
bona
fide,
eerlike fout kon begaan met hulle uitkenning. In dié verband het
hy volledig gehandel met die faktore wat ‘n rol kon gespeel
het by
die getuies se waarneming van die appellant en soos onder andere
uiteengesit in
S v
Mthetwa 1972(3) SA 766 (A) te 768.
12.1 Dit
is na my mening nou gevestigde reg dat ‘n uitkenning in die hof
(
“dock
identification
”)
nie sonder enige bewyswaarde is nie. Die vraag wat afgevra moet word
is eerder: As deel van die bewysmateriaal teen ‘n beskuldigde
persoon, hoe betroubaar sodanige uitkenning in die hof in al die
omstandighede van ‘n gegewe saak is.
Sien
in dié verband die breedvoerige bespreking deur Leach R in
S
v Matwa 2002(2) SACR 350 (E) te 354 j – 356 f
.
12.2 Soos
die geleerde Regter tereg aantoon moet die bewyswaarde van ‘n
uitkenning in die hof beoordeel word aan die hand van al
die
omstandighede, insluitende die geleentheid vir waarneming, beligting,
gemoedstoestand van die getuie wat die uitkenning gemaak
het en dies
meer. Daar is geen vasgestelde reëls in dié verband nie. Elke
saak moet op sy eie meriete beoordeel word aan die
hand van al die
wesenlike faktore wat ter sprake mag wees.
12.3 In
die onderhawige geval staan dit na my mening vas dat die twee
getuies, Florence en Clifton, oorgenoeg geleentheid gehad het
vir
waarneming, dat die winkel goed belig was en dat hulle beskrywing van
appellant tot ‘n groot mate ooreenstem. In laasvermelde
verband is
dit belangrik om in gedagte te hou dat beide Florence en Clifton
vermeld het dat die appellant ‘n hoed opgehad het wat
gelyk het
soos ‘n strooihoed met goed wat langs die kant afgehang het. Nadat
hy sy hoed afgehaal het, het hulle gesien dat hy
baie kort hare het.
Hierdie beskrywing van die appellant is nooit in geskil geplaas nie.
Dit is verder van groot belang om te let
op die getuie Florence se
uitstekende waarnemingsvermoë. Sy het naamlik getuig dat sy vir ‘n
totaal van 15 jaar tot op daardie
stadium in skoenewinkels gewerk
het. Sy het aangedui dat in gevalle waar kliënte by haar skoene
gekoop het, sy gewoonlik in staat
is om so ‘n kliënt se gesig lank
te onthou, veral waar sy ‘n aansienlike hoeveelheid tyd met
sodanige kliënt deurgebring het
tydens die transaksie.
12.4 Vergelyk
verder ook in die algemeen die bespreking deur Plasket R in
S v T
2005(2) SACR 318 (E) te 328 h-i.
Die
appellant se verduideliking oor hoe die twee uitkenningsgetuies,
naamlik Florence en Clifton, hom vantevore kon geken of gesien
het,
is na my mening tereg deur die verhoorlanddros verwerp as vals bo
redelike twyfel. Die appellant het aangevoer dat Florence
hom
moontlik vantevore by die huurmotorstaanplek kon opgemerk het.
Hierdie verduideliking gaan net eenvoudig nie op nie – daar
is tog
geen rede nie waarom Florence, selfs indien sy haarself op ‘n
stadium by die huurmotorstaanplek kon bevind het vantevore
(iets wat
sy ontken het), vir die appellant uit al die mense daar sou uitkies
om uit te wys as een van die rowers. Wanneer ‘n
mens verder kyk
na die appellant se verduideliking aangaande Clifton se uitkenning,
is dit nog minder oortuigend. Clifton het
deurgaans heftig ontken
dat hy ooit sake met die appellant vantevore gedoen het aangaande
gebruikte klerasie. Hy het naamlik verduidelik
dat indien hy
klerasie sou verwyder by sy werksplek, dit gou openbaar sou word
deur die gereelde voorraadopnames wat daar gehou
word. Hierdie
verduideliking maak vir my sin en was nooit in geskil geplaas nie.
Die
streeklanddros het tereg na my mening kritiek uitgespreek aangaande
die feit dat daar nie ‘n uitkenningsparade in hierdie
saak gehou
is nie. Die appellant het tewens ook herhaaldelik op dié
tekortkominge in die verrigtinge gesinspeel. Die appellant
het
egter selfs ‘n verduideliking vir dié situasie gebied toe hy deur
die Staatsaanklaer daaraangaande gekruisondervra is.
Die appellant
het naamlik getuig in kruisondervraging dat ‘n uitkenningsparade
wel geskeduleer was by die gevangenis, maar dat
dit toe gekanselleer
is toe hy (die appellant) onverwags en per toeval hom vasgeloop het
in die uitkenningsgetuies in die gang.
Na my mening sou dit geen
doel dien om onder sulke omstandighede voort te gaan met die
uitkenningsparade nie, waar die uitkenningsgetuies
alreeds die
verdagte waargeneem het voor die uitkenningsparade.
Alles
inaggenome is ek die mening toegedaan dat die streeklanddros regtens
korrek was om die staatsgetuies, Florence en Clifton,
se uitkenning
van die appellant as een van die rowers te aanvaar as bewys bo
redelike twyfel. Gevolglik is ek die mening toegedaan
dat die appél
teen die skuldigbevinding afgewys behoort te word.
Die appellant is nie
verlof verleen om te appelleer teen sy vonnis nie en het ook nie so
‘n aansoek gerig tot die verhoorlanddros
nie. Hy het weliswaar in
‘n skrywe uit die gevangenis aangevoer dat die opgelegde vonnis te
swaar is, omrede hy “onskuldig”
is. Daar is egter geen appél
teen vonnis voor ons nie en is dit nie nodig om daarmee te handel
nie.
Bygevolg word die
volgende bevel uitgereik:
DIE
APPELLANT SE APPÉL WORD AFGEWYS.
DIE SKULDIGBEVINDING
EN VONNIS HOM OPGELÊ WORD BEKRAGTIG.
_____________
SA MAJIEDT
REGTER
Noord-Kaapse
Afdeling
Ek
stem saam:
_____________
HJ LACOCK
REGTER
Noord-Kaapse
Afdeling
NAMENS
APPELLANT : ADV T FOURIE
NAMENS
RESPONDENT : ADV M MPOFU
DATUM VAN
VERHOOR : 2006\027
DATUM VAN UITSPRAAK :