Ludada v S [2006] ZAFSHC 57 (7 December 2006)

62 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Identification evidence — Appellant convicted of rape alongside two co-accused — Victim identified appellant after the incident but inconsistencies in her testimony regarding lighting conditions and recognition — Appellant appeals conviction and sentence of 15 years imprisonment — Court finds that the identification evidence was unreliable due to contradictions in the victim's account and lack of distinctive features noted during the attack — Conviction set aside.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2006
>>
[2006] ZAFSHC 57
|

|

Ludada v S [2006] ZAFSHC 57 (7 December 2006)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnommer : A165/2006
In
die appèl van:-
JOHN
MAHLALELA LUDADA
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_______________________________________________________
CORAM:
HATTINGH
R
et
KRUGER R
et
C.J. MUSI R
_______________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
4 DESEMBER 2006
_______________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
DIE HOF
_______________________________________________________
GELEWER
OP:
7 DESEMBER 2006
_______________________________________________________
[1] Drie beskuldigdes het
in die Streekhof te Bultfontein tereggestaan op ‘n klagte dat hulle
vir Letti Monyeni, ‘n 35-jarige
vrou, verkrag het. Appellant was
beskuldigde nr. 1. Beskuldigde nr. 2 was Barry Vetman en beskuldigde
nr. 3 was Elias Jonas. Al
drie het onskuldig gepleit en al drie is
skuldig bevind en na die Hooggeregshof vir vonnis verwys.
[2] Die aangeleentheid
het onder artikel 52(1)(b) van Wet 105 van 1997 voor Rampai R gedien.
Voor hom was geen submissies gemaak
dat daar probleme met die
skuldigbevinding is nie en hy het die skuldigbevinding, van al drie
beskuldigdes, bekragtig. Hy het die
beskuldigdes soos volg gevonnis:
Beskuldigde
1 (appellant) - 15 jaar gevangenisstraf
Beskuldigde 2 (wat
vyftien jaar oud was by die pleging van die misdryf) - 10 jaar
gevangenisstraf
Beskuldigde
3 - 15 jaar gevangenisstraf
[3] Slegs beskuldigde 1
is tans voor hierdie Hof in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en
vonnis.
[4] Die klaagster, Letti
Monyeni, het getuig dat sy op die oggend van 10 Julie 1999 om 05H30
op pad was na haar werk. Dit was nie
donker nie. Drie persone nader
haar van agter. Een gryp haar keel, die ander druk ‘n mes teen
haar rug en sê sy moet stilbly.
Die drie trek haar toe na ‘n boom
op ‘n afstand van ongeveer 50 meter vandaar.
[5] Die een met die naam
Mahlalela het gepraat. Sy het die drie persone uitgewys as die drie
beskuldigdes voor die Hof. Die tydperk
vandat hulle haar gevang het
tot by die boom was ongeveer tien minute en sy het na hulle gesigte
gekyk. Sy het hulle nie voor die
voorval geken nie. Sy kon geen
uitstaande kenmerke van enige van die drie uitwys nie.
[6] By die boom het
appellant haar klere afgetrek en die ander het hom gehelp. Appellant
het haar op die grond gestoot en gesê sy
moet lê.
[7] Nadat appellant met
haar gemeenskap gehou het, het beskuldigde 2 gevolg; daarna
beskuldigde 3. Beskuldigde drie hoor toe mense
naby haar en hardloop
weg nadat hy gemeenskap gehad het. Die ander twee het ook
weggehardloop.
[8] Gevra
of die beskuldigdes gepraat het toe hulle met haar besig was, sê
klaagster dat appellant gesê het hulle moet haar nie
slaan of met ‘n
mes steek nie, want hy ken haar. Appellant het gekeer dat hulle haar
horlosie vat. Hy het gesê sy sal raas as
hulle die horlosie vat.
Beskuldigdes 2 en 3 het die naam Mahlalela genoem ten opsigte van
appellant, wat hulle gesê het hulle hinder.
[9] Sy is na die
polisiestasie en die kliniek en is deur ‘n dokter ondersoek.
[10] Daarna is sy na haar
huis waar sy gewas het en toe geslaap het. Toe sy opstaan, het sy na
haar tante se huis gegaan en vir haar
niggie (Mvulazana) gesê wat
gebeur het en haar gevra of sy nie vir Mahlalela ken nie. Toe sy
haar tante se woning verlaat, het
sy appellant teëgekom. Hy het in
die teenoorgestelde rigting geloop. Appellant het sy baadjie oor
beide sy skouers gesit en vinniger
gestap toe hy klaagster sien. Sy
het agter appellant aangeloop en die mense het die polisie ontbied.
Toe die polisie opdaag, was
appellant reeds weg.
[11] Na
afloop van klaagster se hoofgetuienis het appellant se prokureur
onttrek, omdat die saak na ‘n ander setel verskuif het.
Sy nuwe
regsverteenwoordiger, Mnr. Coetzee, het die kruisondervraging van die
klaagster waargeneem.
[12] Tydens
kruisondervraging het klaagster getuig dat daar gewone straatligte
was. Dit was daardie tyd nie meer baie donker nie.
Die son het
amper opgekom.
[13] Sy was nie seker wie
die mes gehad het nie – beskuldigde 2 of 3. Appellant het haar
vasgehou.
[14] Wat die weghardloop
betref, het appellant en beskuldigde nr. 2 weggehardloop nadat hulle
haar verkrag het; beskuldigde nr. 3
het eers weggehardloop toe hy die
kerkmense hoor aankom.
[15] Twee van die mans
het die een man Mahlalela genoem. Sy het appellant onmiddellik
herken toe sy hom in die straat sien.
[16] Sy
sê na die voorval was sy onseker of sy die appellant weer sal kan
uitken. Toe sy hom op straat sien, het sy gesien dat hy
die persoon
is wat haar verkrag het.
[17] In kruisondervraging
deur die regsverteenwoordiger van beskuldigde 3 het klaagster daarop
gewys dat die insident twee jaar tevore
gebeur het.
[18] Die tweede
staatsgetuie was sersant Masumpa. Klaagster het by hom opgedaag by
die aanklagkantoor. Hy het later op 21 Julie
1999 twee persone gaan
arresteer – appellant en beskuldigde 2 – na aanleiding van
inligting wat hy van sy kollega, Hans Hugo,
ontvang het. Hy het
hulle na klaagster geneem en haar gevra of dit die regte persone is.
Sy het bevestig. Appellant en beskuldigde
2 was in die voertuig toe
hy hulle aan klaagster uitwys.
[19] Inspekteur Van der
Walt is die ondersoekbeampte. Sy getuienis is dat dit sou nie gehelp
het om ‘n uitkenningsparade te hou
nie, want klaagster het reeds
die beskuldigdes uitgewys. Op 18 September 1999 het klaagster hom
geskakel en ‘n beskrywing van
beskuldigde 3 en ‘n adres waar hy
hom kan aantref gegee. Hy het op dieselfde dag na die adres gegaan
en vir beskuldigde 3 daar
gearresteer.
[20] Nomvulazana Kheswa,
klaagster se niggie, bevestig dat klaagster by haar woning was. Sy
het buite gestaan toe die klaagster huis
toe geloop het. Klaagster
het vir Mahlalela aan haar uitgewys met haar vinger en gesê hy is
die een wat haar verkrag het. Toe
sê Kheswa, ja dit is Mahlalela.
Hulle het appellant ongeveer 150 meter gevolg. Hy het omgekyk en
weggehardloop. Hulle het agter
hom aangehardloop. Hulle was 10 –
15 meter agter appellant. Hy het gesien hulle volg hom.
[21] Mnr Hein Heindrich
Freisenberg, ‘n forensiese wetenskaplike, het getuienis met
betrekking tot DNS analise gelewer. Die DNS
verbind beskuldigde 2
met die pleeg van die misdryf en sy skuldigbevinding is bo twyfel
korrek.
[22] Al drie beskuldigdes
het aandadigheid aan die misdaad ontken. Al drie het beweer dat
hulle nie op die toneel was nie. In kruisondervraging
het appellant
bevestig dat hy as Mahlalela bekend staan, omdat hy werkloos is.
Beskuldigdes 2 en 3 het hom by diè naam geken en
soms so genoem.
[23] Mnr. Pretorius,
namens respondent, betoog dat daar belangrike
betroubaarheidswaarborge vir die klaagster se getuienis is:
1. Die klaagster gee
appellant se naam aan die polisie. Toe appellant gearresteer word,
lei hy die polisie na beskuldigde 2. Belangrik
is dat beskuldigde 2
positief met DNS ontleding verbind word. Klaagster was dus korrek in
haar identifisering van beskuldigde 2.
2. Appellant
is ‘n leuenagtige getuie.
3. Appellant
se gedrag na die voorval spreek boekdele.
4. Appellant
opper nie sy alibi gedurende sy arrestasie of kort daarna nie. Dit
strook nie met normale menslike gedrag nie en is
nie redelik moontlik
waar nie.
5. Klaagster
getuig dat drie persone haar verkrag het. Die DNS ontleding bevestig
dit.
[24] Die landdros het die
regsposisie met betrekking tot die evaluering van enkelgetuies en
identifikasie getuienis korrek opgesom.
Die regsposisie
daaraangaande is geyk en dit verg nie herhaling of beklemtoning in
hierdie uitspraak nie. In sy evaluering van
die getuies se getuienis
het hy egter verskeie mistastings begaan.
[25] Die landdos het
bevind dat die klaagster ondanks die feit dat sy meer as jaar nadat
sy haar hoofgetuienis gelewer het gekruisondervra
was, ‘n goeie
getuie was. Hy bevind dat
“
(S)y
was onderwerp aan deurtastende kruisverhoor en het sy volstaan hy
haar weergawe.”
Later maak die landdros
die volgende bevinding:
“
Dit word aanvaar dat die
geleentheid en die beligting voldoende was om ‘n behoorlike
uitkenning te maak. Die hof is tevrede dat
die getuie eerlik en
betroubaar is met haar identifikasie van die beskuldigdes. Dit is so
dat daar verskille is in haar getuienis
maar soos sy ook getuig het,
twee jaar en vier maande is ‘n lang tyd om alles te onthou.”
[26] Die klaagster se
getuienis is, met respek, vatbaar vir ernstige kritiek. Sy kon geen
kenmerkende eienskappe, waarom sy die beskuldigdes
uitken, verskaf
nie. Sy volstaan deur te sê dat sy hulle gesigte gesien het omdat
dit nie donker was nie en die son alreeds begin
opkom het. Haar
getuienis wat die ligbron, wat haar in staat gestel het om die
beskuldigdes te identifiseer, betref is teenstrydig.
Haar getuienis
hieraangaande is as volg:
“
Wat se ligte is daar in daardie
straat waar u afgestap het die betrokke dag? ---Elektriese ligte.
Is
dit hoë masligte of is dit gewone straatligte?---Dit is gewone
straatligte.
HOF: Hierdie kort paaltjies?--- Dit
is kort paaltjies.
MNR COETZEE: Was hulle nog aan gewees
toe u nou daar stap en deur hierdie drie persone genader word? ---
Teen daardie tyd dit was
nie baie donker gewees nie.
As
gevolg van die son wat opgekom het of besig was om op te kom, of as
gevolg van die beligting, elektries van aard? --- Jy was in
staat om
‘n persoon te sien, dit was nie baie donker gewees nie en jy kon
sien dat die son is amper om uit te kom...
Met ander woorde dit was van die
sonlig was die verligting gewees, dit was nie elektriese ligte nie?
---Ja.
U
sien Juliemaand is dit winter, die son is nie halfses in die oggend
al op, of besig om op te kom nie.--- Ja die son het nog nie
uitgekom
nie, maar dit was lig gewees.”
[27] Dit is heeltemal
onduidelik of die primêre ligbron elektriese ligte of natuurlike lig
was. Dit is ook onduidelik of die
elektriese ligte aan of af was
nie. Getuienis oor die aard van die ligbron en of dit voldoende lig
verskaf het om ‘n persoon te
identifiseer is van kardinale belang
om ‘n bevinding rakende die betroubaarheid van identifikasie te
maak. ‘n Vae bewering dat
dit nie baie donker was nie is
onvoldoende.
[28] Haar getuienis oor
hoe sy appellant aan Nomvulazana uitgewys het is ook teenstrydig.
Gedurende kruisondervraging deur appellant
se prokureur het sy as
volg getuig:
“
Het u alleen in die straat gestap
toe u beskuldigde 1 teëkom? ---Ja.
U
herken hom dadelik aan sy algemene voorkoms synde een van die persone
wat u verkrag het? --- Ja en ek het toe ‘n kind van my tante
geskree...(tussenbei)
HOF: Ja en ek het toe? ---
Die kind
van my tante geskree en haar gevra of is dit Mathlalela hierdie een
en sy het toe gesê ja, dit is reg dit is Mathlalela
.
MNR COETZEE: Verstaan ek u reg, u
loop alleen in die straat af, u sien beskuldigde 1, is dit korrek?
--- Ja, ek was nie ver van die
huis wat ek pas verlaat het.
Maar
u herken beskuldigde 1 aan sy gesig, sy algemene voorkoms? ---Ja.
Waar
is die kind van u tante vir wie u toe skree? --- Op haar ouers se
perseel.
Wat
is hierdie kind se naam? ---Mvulazwana.
HOF:
Wat is die naam? Mvulazwana.
MNR COETZEE: Hoe ver is sy van u af
toe u nou vir haar skree, afstandsgewys? --- Van hier af tot by die
twee deur daarso.
HOF: Die tweede deur, daardie
agterste deur? --- Ja.
Voor
die deur of na die deur? --- As iemand hierso uitgaan, daar is ‘n
deur daarso wat in daardie gebou ingaan, dit was daardie
afstand
gewees. Van daar af tot by daardie deur.
Omtrent
so vyftien meter plus-minus.
MNR COETZEE: En u skree vir daardie
kind is dit Mathlalela hierdie, is dit korrek? ---
Ek het gesê
hier is Mathlalela
.”
(ons onderstreping)
.
Daardie getuienis bots
lynreg met haar verklaring wat sy op 12 Julie 1991 afgelê het. In
haar verklaring het sy die volgende gesê:
“
Net
toe ek terug na my huis nou gaan, nadat ek reëlings met Mvulazana
getref het om ‘n draai by my te kom maak, het daar ‘n jong
man
van vooraf gekom en
Mvulazana
het vir my gewys dat dit die man Mahlalela is
.”
(ons
onderstreping)
.
Die landdros het bevind
dat die verskille nie wesenlik is nie omdat die klaagster nie haar
verklaring deeglik afgelê het nie aangesien
sy gehuil het en
ontsteld was toe sy die verklaring gemaak het. Die verklaring, wat
as bewysstuk A ingehandig was, was deeglik en
volledig geneem.
Gedurende haar getuienis het dit ook duidelik geblyk dat sy detail
vergeet het wat wel in die verklaring vervat
was. Die feit dat sy
ontsteld was of gehuil het tydens die aflê van die verklaring
affekteer nie die gehalte van die verklaring
nie, dit is waarskynlik
eerder die feit dat sy so lank na die voorval getuig het wat haar
geheue affekteer het.
[29] Die klaagster word
ook deur Nomvulazana weerspreek. Volgens Nomvulazana het die
klaagster glad nie geskree nie, maar slegs na
die appellant se kop
gewys en met behulp van gebaretaal aangetoon dat die persoon wel
Mahlalela is. Die landdros het bevind dat
hiedie weerspreking ook
nie wesenlik is nie. Daar kan, met respek, nie met hom saamgestem
word nie. Die getuienis oor hoe en onder
watter omstandighede die
appellant uitgewys is, is van deurslaggewende belang. Die
weersprekings tussen die twee getuies en die
verskillende weergawes
van die klaagster is wesenlik en slaan direk op die betroubaarheid
van haar getuienis met betrekking tot die
identifikasie van
appellant.
[30] Mnr Pretorius, steun
ook op die getuienis van Van der Walt wat getuig het dat appellant
beskuldigde 2 se naam genoem het en dat
dit gelei het tot beskuldigde
2 se arrestasie. Dit is egter belangrik om daarop te let dat
Masumpa, wat die arrestasies uitgevoer
het, getuig het dat hy
beskuldigde 1 en 2 saam gearresteer het. Van der Walt se getuienis
is in elk geval ontoelaatbare hoorsê
getuienis aangesien hy nie
betrokke was by die arrestasie van appellant en beskuldigde 2 nie.
Die getuienis ondersteun dus nie die
argument nie.
[31] Dit is gemene saak
dat appellant Mahlalela genoem word. Dit is ook gemene saak dat dit
‘n algemene noemnaam vir ‘n leeglêer
is. Daar is niks uniek aan
die naam nie. Die feit dat sy een van haar aanvallers se naam gehoor
het is dus nutteloos.
[32] Die
feit dat appellant en beskuldigde 2 saam gearresteer is en
beskuldigde 2 met die misdryf verbind word regverdig nie noodwendig
die afleiding dat appellant ook aandadig was aan die misdaad nie.
[33] Wat
die appellant se optrede na die voorval betref het die landdros
bevind dat hy sy baadjie uitgetrek het en daaragter geskuil
het.
Hierdie bevinding strook nie met die getuienis van die klaagster en
Nomvulazana nie. Die klaagster se getuienis is dat hy
“’
n baadjie by hom gehad, hy het
hierdie baadjie op hom skouer gesit asof hy dit skeur en vinniger
gestap.”
Nomvulazana het getuig
dat hy
“‘
n
lumberjacket aangehad, hy het dit uitgetrek en dit geskeur”.
[34] Mnr Pretorius is
korrek dat die appellant ‘n leuenagtige getuie was. ‘n Ander
punt van kritiek wat teen appellant geopper
kan word, is dat hy nie
sy alibi vroeër geopper het nie. Dit is verstaanbaar dat hy dit nie
vir die ondersoekbeampte sou noem nie,
maar hy moes dit op ‘n
vroeëre stadium reeds vir sy prokureur gesê het. Daar is egter
geen bewyslas op appellant nie en die
sentrale aspek in hierdie saak,
is steeds of die uitwysing van die klaagster van appellant
bevredigend en betroubaar is. Daar kan
nie bo redelike twyfel gesê
word dat haar uitkenning betroubaar was nie.
[35] Wat
beskuldigde 3 betref, is hy nie tans voor die Hof nie, maar dieselfde
kritiek geld ten opsigte van sy uitkenning as ten opsigte
van
beskuldigde 1 (appellant). In sy geval is daar ook geen kenmerkende
beskrywing nie en daar is in sy geval geen naam wat hom
sou kon
koppel nie. Hy was ook nie kort na die insident gesien nie. Hy was
eers later gearresteer. Daar is minder getuienis teen
hom as teen
appellant.
[36] In die omstandighede
moet die appèl van appellant slaag. Beskuldigde 3 het nie appèl
aangeteken nie en is derhalwe nie hierdie
Hof nie.
[37]
Die volgende
bevel word dus gemaak:
1. Die appèl slaag.
Appellant se skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
________________
G.A. HATTINGH, R
Ek
stem saam.
_____________
KRUGER, R
Ek
stem saam.
___________
C.J. MUSI, R
Namens
die appellant: Mnr. P.L. van der Merwe
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. Danie J. Pretorius
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp