About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2006
>>
[2006] ZAFSHC 99
|
|
Lamprecht v S [2006] ZAFSHC 99 (31 August 2006)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appelnommer : A222/2005
In die appèl tussen:-
A J H
LAMPBRECHT
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
CILLIé
R
et
EBRAHIM
R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
14
AUGUSTUS 2006
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
CILLIé
R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
31
AUGUSTUS 2006
_____________________________________________________
[1] Die appellant is in
die landdroshof skuldig bevind aan gewone aanranding en gevonnis tot
ân boete van R1 500,00 of 90 (negentig)
dae gevangenisstraf. Met
verlof van die verhoorhof kom hy nou in hoër beroep teen die
skuldigbevinding sowel as die opgelegde vonnis.
[2] Die beweringe teen
die appellant, soos vervat in die klagstaat, is dat hy die klaer op
die grond gedruk en met gebalde vuiste
geslaan het. Hierop het die
appellant by die aanvang van die verrigtinge, by monde van sy
regsverteenwoordiger en soos voorsien
deur artikel 115 van Wet 51 van
1977, verduidelik dat hy in geregverdigde noodweer opgetree het.
Geen besonderhede van die omstandighede
waaruit die beweerde noodweer
ontstaan het, is egter verskaf nie.
[3] Die klaer, ân
bejaarde ongeletterde swart man, se getuienis was as volg: Hy was op
ân Saterdagoggend na sy werkgewer se huis
onderweg om sy weeklikse
loon af te haal. Hy was vergesel van sy vrou. Die klaer se
werkgewer en die appellant se wonings is langs
mekaar geleë. Toe hy
op die sypaadjie voor die appellant se woning verbybeweeg, arriveer
die appellant met sy voertuig en stop
langs hom. Die appellant
beveel hom om pad te gee voor sy huis. Klaer verduidelik dat hy op
pad is na sy werkgewer om sy loon te
gaan haal. Die appellant
beskuldig hom dat hy Mnr. Mandela en Mnr. Mbeki se seun is. Die
klaer ontken dit. Hy word toe beskuldig
dat hy ân skurk is, wat
ook deur die klaer ontken word met ân verdere verduideliking dat hy
dan vergesel is van sy vrou. Die
klaer loop toe verder na sy
werkgewer se huis. Die appellant volg hom en gryp hom voor sy bors
aan sy klere en slaan hom met die
vuis. Appellant gooi die klaer op
die grond. Hy word met vuiste geslaan. Hy kan nie sê hoeveel keer
nie. Sy vrou hardloop om
die polisie te ontbied. Die appellant laat
hom los. Hy gaan toe polisie toe en vandaar na die speurderskantore
en lê ân klagte.
Sy tande was los en hy het ân laserasie op sy
bo-lip opgedoen, as gevolg van die voorval. Dit is dieselfde dag in
die hospitaal
behandel.
[4] Die
klaer is uitvoerig gekruisverhoor. Daardie kruisverhoor beslaan
vyftig bladsye van die oorkonde. Reg aan die einde van daardie
kruisverhoor is dit afgesluit met die enkele volgende stelling:
â
I
want to finish off by saying to you that the accused
,
if necessary, will tell Her Worship that, on the day in question, you
were the aggressor and he acted entirely in self defence there.
Without saying to her exactly what he did, he will tell Her Worship,
if necessary, that you in fact, attacked him and you drew a
knife
whereafter, he was forced to defend himself, to disarm you. And it
was during this process that he got involved in a struggle
with you.â
Vergelyk oorkonde bladsy
69 reël 1 tot 12.
Hierop
het die klaer as volg geantwoord:
â
No, I was not carrying a knife. I
am an elderly person who does not carry around a knife with me.â
Vergelyk bladsy 69 reël
18.
[5] Die klaer se vrou het
hierna getuig en in die breë die klaer se weergawe bevestig. Aan
haar is ter afsluiting van die kruisverhoor
slegs die volgende
gestel:
â
I
want to put it to you finally
,
that what you and your husband are trying to do, is to shift the
blame away from the disorderly behaviour of your husband. And
that
you came to court with dirty hands, putting the blame on the accused
instead of laying the blame before the person who was responsible
for
this whole incident, your husband. All you are doing is, you are
covering up for your husband because you have been living with
him
for the last seven years.â
Vergelyk bladsy 82 en 83.
Dit
het die staatsgetuienis afgesluit.
[6] Die appellant het sy
saak gesluit sonder die aanbieding van enige getuienis.
[7] Mnr. Nel, namens die
appellant, het met ân beroep op
S
v FRANCIS
1991 (1) SASV 198 (A) betoog dat die weersprekings tussen die
appellant se getuienis en die van sy vrou sodanig was dat die
appellant
se versuim om getuienis af te lê nie daardie gebreke
sodanig aanvul dat bevind kan word dat die appellant se skuld bo
redelike twyfel
bewese is nie. Hy beklemtoon ook dat daar geen las
op die appellant gerus het om die ge-opperde noodweer te bewys nie.
[8] ân Beskuldigde wat
sy swygreg uitoefen, moet besef dat dit ân
prima
facie
saak van die Staat onaangeveg laat. Waar daar direkte getuienis is
wat die beskuldigde impliseer, versterk stilswye daardie direkte
getuienis. Vergelyk
S
v NKOMBANI AND ANOTHER
1963 (4) SA 877
(A);
S
v MTHETWA
1972 (3) SA 766
(A).
[9] In die onderhawige
geval was daar twee getuies wat direk die ge-opperde noodweer
weerspreek. Beide van hulle het ontken dat die
klaer ooit ân mes
hanteer het en meer nog by hom gehad het die dag. Die skrapse wyse
waarop die feite wat die verweer van noodweer
sou daarstel aan die
staatsgetuies gestel was, het ook nie eintlik meegehelp om die
verhoorhof in die posisie te plaas om te weet
presies wat die
appellant se weergawe van die feite is nie. Die klaer en sy eggenote
is twee bejaarde mense. Die appellant is volgens
die klagstaat 42
jaar oud. Die waarskynlikhede is oorweldigend in die guns van hul
weergawe van die gebeure. Dit is so dat daar
onderlinge
weersprekings is in hul getuienis, maar hulle het getuig meer as ân
jaar na die voorval plaasgevind het. Daarby het
die klaer se vrou
tydens die gebeure weggehardloop polisie toe en duidelik nie alles
waargeneem nie. Ek vind dit totaal onwaarskynlik
dat die klaer, as
hy sondermeer die appellant met ân mes aangeval het, so as wat
appellant beweer, hom polisie toe sou haas sodra
hy daarin slaag om
homself van die appellant te bevry. Nog meer so ten aansien van sy
vrou. Maar die deurslaggewende lê, myns
insiens, in hul getuienis
rakende appellant se uitlatings oor Mnr. Mandela en Mnr. Mbeki. Dit
is eenvoudig nie die tipe van beweringe
wat ân bejaarde
ongeletterde eenvoudige arbeider soos die klaer uit sy duim kan suig
nie. Hierdie getuienis het net dit wat die
moeilik vertaalbare
Engelse uitdrukking âa ring of truthâ inhou.
[10] Die verhoorlanddros
se bevinding dat die staatsgetuienis ân
prima
facie
-saak
daargestel het, wat ân voldoende bewese saak geword het, in
afwesigheid van getuienis van die appellant, kan dus nie fouteer
word
nie.
[11] Vonnis:
Soos reeds gemeld, is
die appellant gevonnis tot R1 500,00 of 90 (negentig) dae
gevangenisstraf. Die appellant se aanranding op
die klaer, was
totaal ongevraagd. Die klaer was geregtig om te wees waar hy was,
daar op die sypaadjie. Dit is moeilik om die indruk
te ontsnap dat
hierdie blatant rassistiese optrede van die appellant was. Hy moet
homself eintlik gelukkig ag dat hy nie ân veel
swaarder vonnis en
selfs effektiewe gevangenisstraf opgelê was nie.
Bygevolg
word die appèl afgewys en die skuldigbevinding en opgelegde vonnis
bekragtig.
____________
C.B. CILLIé, R
Ek stem saam.
_____________
S. EBRAHIM, R
Namens die
appellant: Adv. J. Nel
In
opdrag van:
Webbers
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. J. Botha
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp