Labu v S [2006] ZAFSHC 116 (30 March 2006)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Appeal against conviction and sentence — Appellant convicted of rape and sentenced to 15 years imprisonment — Appellant's defense based on alleged consensual relationship with complainant — Complainant's testimony corroborated by medical evidence and police reports — Appellant's appeal against conviction dismissed as no merit found — Sentence reduced to 10 years imprisonment due to improper consideration of sentencing guidelines and personal circumstances of the appellant.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2006
>>
[2006] ZAFSHC 116
|

|

Labu v S [2006] ZAFSHC 116 (30 March 2006)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A199/2004
In
die appèl van:-
DANIëL
LABU
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
MALHERBE
RP
et
VAN
ZYL R
____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
13
FEBRUARIE 2006
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
30
MAART 2006
_____________________________________________________
[1] Appellant
het in die streekhof, Zastron, tereggestaan op ‘n aanklag van
verkragting deurdat hy na bewering op 2 April 1994 en
te of naby
Zastron vir Sophie Alonie, ‘n volwasse vrou, verkrag het.
Appellant het nie regsverteenwoordiging in die hof
a
quo
geniet nie. Hy het onskuldig gepleit en sy pleitverduideliking was
een van algehele ontkenning op die basis dat hy beweer het dat
hy en
die klaagster sedert 1988 gereeld gemeenskap gehad het en toe
appellant op ‘n stadium besluit het dat hy nie meer gemeenskap
met
die klaagster wou hê nie, het die klaagster valslik die klag teen
hom aanhangig gemaak. Appellant is skuldig bevind en op 26
Junie
2001 tot 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf gevonnis.
[2] Die
appèl is teen beide die skuldigbevinding en die vonnis gerig.
[3] Mej. Bezuidenhout,
wie namens appellant opgetree het, het na ‘n behoorlike evaluering
van die getuienis reeds in haar betoogshoofde
toegegee dat daar geen
meriete in die appèl teen die skuldigbevinding is nie, welke
toegewing sy in die hof herhaal het. Ek meen
dat hierdie toegewing
heeltemal tereg gemaak is. Die klaagster het getuig dat sy 41 jaar
oud was ten tyde van die verhoor, maar
slegs 33 jaar oud ten tyde van
die voorval. Dit blyk uit die oorkonde dat die rede waarom dié
aangeleentheid so gesloer het, was
omdat appellant op ‘n stadium
soek was. Volgens die klaagster was sy die betrokke aand in haar
huis aan die slaap, nadat sy die
huis behoorlik toegemaak en gesluit
het. Teen 11 uur die aand het iemand haar wakker geklop en toe sy
vra wie dit is, het die man
geantwoord dat dit “Abba” was. Sy
het verduidelik dat sy appellant as Abba ken. Hy het versoek dat
iemand buite die huis haar
wou sien, maar sy het geweier en verder
geslaap. Sy het later wakker geword van iemand wat haar wurg met die
een hand, terwyl hy
‘n mes in die ander hand vasgehou het. Sy het
op daardie stadium appellant aan sy stem herken. Hy het daarop
gedurende die loop
van die nag driekeer met haar gemeenskap gehad
teen haar wil. Toe sy op ‘n stadium om hulp geskree het, het hy
gedreig dat hy
haar gaan doodmaak. Gedurende die nag het hy heeltyd
bo-op haar gelê en soms selfs bo-op haar aan die slaap geraak. Wat
haar identifisering
van hom betref, het sy op ‘n later stadium ook
getuig dat sy in die lig van die masligte in die omgewing appellant
gesien het op
die stadium wat hy haar huis verlaat het. Toe hy om
ongeveer 5h00 die volgende oggend die huis verlaat, het sy haar na
die polisiestasie
gehaas waar sy teen ongeveer 6h00 arriveer het en
‘n rapport omtrent die verkragting aan ‘n polisiebeampte gemaak
het. Sy is
toe deur die polisiebeampte na ‘n dokter geneem.
Volgens haar getuienis het sy krapmerke aan haar nek gehad waar
appellant haar
met sy naels gekrap het. Met betrekking tot hoe
appellant haar huis sou binnegekom het, het sy verduidelik dat haar
huis uit ‘n
sinkstruktuur bestaan en dat appellant ‘n gat in die
grond onderdeur die sinkstruktuur gegrawe het. Volgens haar het die
polisiebeamptes
van Bloemfontein die volgende oggend, nadat sy die
saak by die polisie rapporteer het, ‘n foto van die grond kom neem
wat in ‘n
hoop by haar huis gelê het waar appellant die gat
gegrawe het. Sy het ontken dat sy ooit ‘n verhouding met appellant
sou gehad
het en het getuig dat sy hom slegs van sien ken.
[4] Die klaagster se
getuienis is in wesenlike opsigte deur die getuienis van Inspekteur
Paulus Lesikana en die geneesheer, Dr. Hanekom,
gestaaf. Paulus
Lesikana het getuig dat die oggend na die voorval, synde 3 April
1994, om ongeveer 6h00 die oggend, het die klaagster
by die
polisiestasie opgedaag, baie ontsteld en hom meegedeel dat sy verkrag
is deur ene “Abba”. Dr. Hanekom het getuig dat
hy op 3 April
1994 in sy hoedanigheid as distriksgeneesheer die klaagster ondersoek
het en het hy, onder andere, as volg getuig:
“
Betreffende
kneusings en skaafplekke, daar was teerheid aan die linker, aan die
nek, links en regs.
Daar was twee klein krapmerkies, moontlik as gevolg van naelmerke
aan die linkerkant van die nek. En dit was teer met aanraking,
die
stukkende plekkies.”
(Sien
oorkonde p. 25 reël 10 – 14.)
Hy kon geen beserings aan
haar geslagsdele vind nie, hoewel sy gekla het van pyn met die
ondersoek. Hy het egter verduidelik dat
inaggenome dat die klaagster
‘n volwasse vrou is wat seksueel aktief is en reeds 3 kinders het,
die blote feit dat hy nie sodanige
beserings gevind het nie, nie
noodwendig beteken dat daar nie geweldadige gemeenskap plaasgevind
het nie. Die J88 mediese verslag
is ingehandig as bewysstuk “A”.
[5] Teenoor bogemelde
weergawe het appellant tydens sy getuienis volhard met sy ontkennende
weergawe. Hoewel hy egter tydens sy pleitverduideliking
aangevoer
het dat die klaagster ‘n valse aanklag teen hom gemaak het omdat hy
geweier het om gemeenskap met haar te hê, het hy
tydens sy getuienis
die indruk geskep dat die rede waarom sy ‘n valse klagte teen hom
aanhangig gemaak het, is omdat hy R7.00 aan
haar verskuldig is, welke
geld hy nie vir haar betaal het nie. Dit dien vermeld te word dat
gedurende kruisverhoor appellant wel
saamgestem het dat sy bynaam
“Abba” is.
[6] Wanneer gelet word op
die verhoorlanddros se beoordeling en evaluering van die getuienis,
blyk dit dat hy dit op behoorlike en
ewewigtige wyse gedoen het, met
inagneming van die tersaaklike versigtigheidsreëls wat betref die
klaagster as enkelgetuie en ook
die identifisering deur haar van die
appellant. Terselfdertyd het hy behoorlik inaggeneem dat appellant
se weergawe slegs redelik
moontlik waar hoef te wees. (Sien
oorkonde, uitspraak, p. 56 reël 18 tot p. 63 reël 12.) Na
aanleiding hiervan het die verhoorlanddros
appellant se weergawe
verwerp en bevind dat die Staat die skuld van appellant bo redelike
twyfel bewys het. Na my mening blyk hierdie
gevolgtrekking korrek te
wees en is daar geen basis waarop die verhoorlanddros se voormelde
evaluering van die getuienis gekritiseer
kan word en kan daar nie met
sy gevolgtrekking ingemeng word nie.
[7] Die appèl teen die
skuldigbevinding kan derhalwe nie slaag nie.
[8] Wat die opgelegde
vonnis betref, het die verhoorlanddros heeltemal tereg daarop gewys
dat artikel 51 van die Strafregwysigingswet,
105 van 1997, met
betrekking tot die oplegging van sekere minimum vonnisse (lewenslange
gevangenisstraf in ‘n geval soos die onderhawige),
nie van
toepassing is nie, vanweë die feit dat die bepaalde artikel eers op
1 Mei 1998 in werking getree het, terwyl die voorval
reeds op 2 April
1994 plaasgevind het. Desnieteenstaande blyk dit uit die opgelegde
vonnis dat die verhoorlanddros voormelde wetgewing
egter dermate as
riglyn gebruik het dat hy versuim het om die elemente van
strafoplegging op ‘n ewewigtige wyse in aanmerking te
neem. Die
resultaat hiervan is dat ‘n vonnis opgelê is wat na my mening
skokkend onvanpas is gegewe die tersaaklike omstandighede
en derhalwe
inmenging regverdig en noodsaak.
[9] Wat
die persoonlike omstandighede van appellant betref, was hy ten tyde
van vonnisoplegging 29 jaar oud en ten tyde van die voorval
22 jaar
oud. Hy was gevolglik relatief jeugdig ten tyde van die pleging van
die misdryf. Hy is ongetroud met ‘n kind wat ten
tyde van
vonnisoplegging 2 jaar oud was. Hy het standerd 2 op skool geslaag.
Appellant is nie ‘n eerste oortreder nie. Sy eerste
vorige
veroordeling gepleeg in 1987, synde een van diefstal, is nie relevant
vir doeleindes van hierdie oortreding nie. Die daaropvolgende
vorige
veroordeling is wel relevant, synde poging tot verkragting, ten
opsigte waarvan hy op 14 Mei 1992 tot ses houe met ‘n ligte
rottang
gevonnis is. Die daaropvolgende oortredings het hul ontstaan gehad
na die pleging van die onderhawige misdryf en word derhalwe
nie as
vorige veroordelings inaggeneem nie.
[10] Wat die aard en erns
van die misdryf betref, is dit ongetwyfeld ‘n ernstige misdryf en
is dit in belang van die gemeenskap
dat die hof by wyse van sy vonnis
sy afkeur in hierdie tipe misdryf teen vroue en kinders, reflekteer.
Terselfdertyd moet egter
in gedagte gehou word dat die bepaalde
omstandighede van die besondere voorval ook in oënskou geneem moet
word. In die onderhawige
geval het die klaagster nie ernstige
fisiese beserings opgedoen tydens die pleging van die misdryf nie en
is daar ook nie getuienis
met betrekking tot enige psigologiese
letsels wat die klaagster sou oorgehou het as gevolg van die
verkragting nie.
[11] Wanneer voormelde
omstandighede en die elemente van strafoplegging derhalwe behoorlik
inaggeneem word, is ek van mening dat ‘n
termyn van 10 (tien) jaar
gevangenisstraf gepas is.
[12] Bygevolg
word die volgende bevele verleen:
1. Die appèl teen die
skuldigbevinding word van die hand gewys en die skuldigbevinding word
bekragtig.
Die appèl teen die
opgelegde vonnis word gehandhaaf.
Die opgelegde vonnis
word tersyde gestel en vervang met een van 10 (tien) jaar
gevangenisstraf, welke gevangenisstraf geag moet
word opgelê te
gewees het op 26 Junie 2001.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek
stem saam.
__________________
J.P. MALHERBE, RP
Namens
die appellant: Adv. I.J. Bezuidenhout
In
opdrag van:
Regshulpraad
St.
Andrewstraat
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. A. Bester
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp