S v Van der Vyver (SS 190/06) [2007] ZAWCHC 69; 2008 (1) SA 556 (C) (29 November 2007)

81 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Alibi defence — Accused charged with the murder of his girlfriend, Inge Lotz, who was found dead in her apartment — Accused's defence centred on an alibi, claiming he was at work during the time of the murder — State relied on circumstantial evidence, including a motive derived from a letter and the accused's behaviour — Court found that the state had established a prima facie case against the accused, leading to the rejection of the alibi and a conviction for murder.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2007
>>
[2007] ZAWCHC 69
|

|

S v Van der Vyver (SS 190/06) [2007] ZAWCHC 69; 2008 (1) SA 556 (C) (29 November 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer: SS 190/06
In die
saak tussen:
DIE
STAAT
en
FREDERIK
BAREND VAN DER VYVER
UITSPRAAK: 29 NOVEMBER 2007
VAN ZYL
R:
INLEIDING
[1] Die beskuldigde word daarvan aangekla dat hy
op 16 Maart 2005 sy vriendin, Inge Lotz, in haar woonstel, bekend as
Shiraz 21, Klein
Welgevonden, Cloetesville, Distrik Stellenbosch,
vermoor het. Die staat beweer dat hy haar met ‘n onbekende stomp
voorwerp en/of
‘n ornamentele hamer-botteloopmaker teen haar kop
geslaan het en met 'n skerp voorwerp verskeie steekwonde in haar bors
en nek
toegedien het. In sy pleitverduideliking ontken die
beskuldigde skuld vir sover hy in die relevante stadium by sy
werksplek te Ou
Mutual, Pinelands, in die Kaap was en dus nie die
moord kon gepleeg het nie. Sy verweer is dus een van
alibi
.
[2] Die staat is deur Adv C J Teunissen en Adv C van der Vijver
verteenwoordig. Die beskuldigde is verteenwoordig deur Adv P J de
Bruyn SC, wat aanvanklik deur Adv T N Price en Adv B J Pienaar
bygestaan is, maar daarna alleen opgetree het tot op betoogstadium.
Ná sluiting van die verdedigingsaak en voordat Adv de Bruyn sy
betoog voltooi het, het Adv H P Viljoen SC by die verdedigingspan
aangesluit en suksesvol aansoek gedoen om die heropening van die
verdedigingsaak. Daarna het hy as Adv de Bruyn se leier opgetree
tot
en met die voltooing van die saak. Die hof wens sy opregte dank
teenoor die regspanne aan beide kante te betuig vir die uiters
bekwame wyse waarop hulle hul van hul onderskeie take gekwyt het. Dit
was ‘n lang, uitmergelende en emosie-belaaide saak wat die
rolspelers tot die uiterste beproef het.
[3] Oor ‘n tydperk van etlike maande, met
tussenposes, het die staat 'n groot aantal getuies geroep en ‘n
aansienlike hoeveelheid
bewysstukke voorgelê. Na sluiting van die
staat se saak het Adv de Bruyn namens die beskuldigde ‘n aansoek om
ontslag ingevolge
die bepalings van artikel 174 van die
Strafproseswet
51
van 1977 gebring. Die aansoek is van die hand gewys. Daarna
het Adv de Bruyn aan die hof te kenne gegee dat hy besluit het om nie
die beskuldigde as getuie namens die verdediging te roep nie.
Hy het
egter die getuienis van 'n aantal deskundige getuies, asook twee
getuies ten opsigte van die
alibi
deur die beskuldigde
opgewerp, aangebied voordat hy die saak vir die verdediging gesluit
het. Nadat verlof, soos voormeld, aan die
verdediging verleen is om
sy saak te heropen, het die beskuldigde wel getuienis gelewer, waarna
die verdedigingsaak finaal gesluit
is.
[4] Soos
te verwagte het sowel die staat as die verdediging volledig betoog
gelewer ten opsigte van wat in die verhoor as die kerngeskilpunte
uitgekristalliseer het. Dit was, naamlik, die oorkoepelende dispuut
met betrekking tot die beskuldigde se
alibi
verweer en, in
aansluiting daarby, die bloedmerk op die vloer van die oorledene se
gastebadkamer, die moontlikheid dat die beskuldigde
se ornamentele
hamer as moordwapen gebruik is en die vingerafdruk op ‘n DVD houer
wat in die oorledene se woonstel aangetref is.
Om 'n motief vir die
moord aan die beskuldigde se deur te lê het die staat sterk gesteun
op die aard en inhoud van 'n brief wat
die oorledene enkele ure voor
haar dood aan die beskuldigde oorhandig het. Daar is ook in die
algemeen gesteun op die beskuldigde
se gedrag voor en na die
oorledene se dood. In wat volg bespreek ek elk van hierdie
geskilpunte.
[5] Die
verdediging het op sy beurt die bewerings teen die beskuldigde
verwerp en aan die hand gedoen dat daar geen motief vir die
moord by
die beskuldigde gevind kon word nie. Daar is ook besware geopper oor
die regverdigheid van die verhoor vir sover sekere
van die
staatsgetuies na bewering op ‘n oneerlike en bedrieglike wyse
getuienis teen en ten nadele van die beskuldigde òf gefabriseer
òf
gemanipuleer het.
[6] Vir
doeleindes van hierdie uitspraak sal dit gerieflik wees om die
relevante getuienis in samehang met die voormelde geskilpunte
in
behandeling te neem. In hierdie verband moet dit in gedagte gehou
word dat die staat se saak volkome berus op omstandigheidsgetuienis.
Vir sover dit nodig mag wees, sal daar later na die toepaslike
regsbeginsels verwys word met die oog op bepaling van die relatiewe
waarde van sodanige getuienis.
AGTERGROND
[7] Die
beskuldigde se
alibi
verweer, wat uitvoerig in sy
pleitverduideliking en getuienis uiteengesit is, moet gelees word
teen die agtergrond dat hy en die oorledene
vanaf begin 2001, toe
hulle as eerste-jaar studente vir die graadkursus B.Com (Aktuariële
Wetenskap) aan die Universiteit van Stellenbosch
ingeskryf het,
klasmaats was. Daarna het die beskuldigde, gedurende 2004, 'n
honneursgraad in aktuariële wetenskap behaal. Die
oorledene het, op
haar beurt, 'n honneursgraad in wiskundige statistiek voltooi. Aan
die begin van 2005 het die beskuldigde by Ou
Mutual, van wie hy 'n
studiebeurs gehad het, begin werk, terwyl die oorledene voltyds met
'n meestersgraad in wiskundige statistiek
aan die Universiteit van
Stellenbosch voortgegaan het. Sy het terselfdertyd as junior dosent
tutoriaal- of groepsklasse vir derde-jaar
studente by die
Universiteit aangebied.
[8] Op
sosiale gebied het die oorledene, gedurende haar voorgraadse jare,
deel geword van 'n betreklik uitgebreide vriendekring, bestaande
merendeels uit klasmaats. Dit het ingesluit Marius Botha, wat ten tye
van die oorledene se dood 'n woonstel in Anfield Village, 'n
woonstelkompleks in Pinelands, met die beskuldigde gedeel het, en
Wimpie Boshoff, wat saam met die oorledene op hoërskool was en
as
haar beste vriend en vertroueling beskryf is. Volgens Wimpie was sy
vanaf haar eerste jaar op universiteit baie gewild onder die
klasmaats. Marius Botha en heelwat van hulle ander vriende was glo op
haar verlief. Marius het juis aan haar gedigte en "'n
meterlange
brief" geskryf. Vanaf 2003 het sy houding teenoor haar egter
verander aangesien hy toe met 'n ander persoon 'n verhouding
gehad
het. Toe die oorledene met die beskuldigde 'n verhouding aangeknoop
het, het Marius glo aan haar gesê dat sy moet besef dat
hulle
vriendskap nie meer dieselfde sou kon wees nie. Benewens Marius het
Wimpie in hierdie verband ook verwys na Braam Kruger, met
wie die
oorledene in 'n stadium 'n lang verhouding gehad het, en Jean
Minnaar, wat 'n woonstel, ook in Anfield Village, met Braam
Kruger
gedeel het. Ook Jean het, volgens Wimpie, van die oorledene gehou.
[9] Die
beskuldigde was aanvanklik nie deel van hierdie vriendekring nie,
maar vanaf 2004 het hy meer betrokke daarby geraak toe hy
en die
oorledene mekaar beter leer ken het. Gedurende 2004 het hulle
verhouding gaandeweg ontwikkel in iets meer as net vriendskap.
Mev
Lotz se herinnering aan hulle eerste afspraak was toe hy haar, die
dag na Wimpie se een-en-twintigste verjaardag op 28 April
2004, fliek
toe geneem het. Hy het van toe af gereeld oor naweke by hulle aan
huis besoek afgelê en soms op Saterdagaande daar oorgeslaap.
Op 25
November 2004 het hulle begin vas uitgaan.
[10] Gedurende
die loop van die verhoor is daar heelwat aandag bestee aan die
beskuldigde se lidmaatskap van His People kerk in Stellenbosch
wat
baie gewild by die studente was. Die oorledene en haar ouers was in
die betrokke stadium lidmate van die N G Gemeente Welgemoed.
Hulle
het gereeld kerkdienste in die gemeente bygewoon en die oorledene het
dikwels as sangeres daar opgetree, soos sy ook die Sondagoggend
voor
haar dood, naamlik 13 Maart 2005, gedoen het. Die beskuldigde het
juis daardie naweek (12 tot 13 Maart 2005) by hulle aan huis
oorgebly
en het die Sondagoggend saam met die oorledene en Mev Lotz die diens,
waarin die oorledene opgetree het, bygewoon.
[11] Kort
voordat hulle daardie middag om ongeveer 17:00 na hulle onderskeie
wonings sou vertrek, het Mev Lotz gehoor dat die beskuldigde
die
oorledene vra of sy die aand saam met hom na His People kerk sou
gaan. Haar antwoord was dat sy die oggend in die kerk was en
nie
daardie aand kerk toe wou gaan nie. Sy het bygevoeg: "In fact,
ek gaan nie weer na daardie kerk toe nie". Die beskuldigde
het
ontevrede gelyk, maar het skynbaar nie daarop gereageer nie. In
antwoord op 'n vraag deur Adv de Bruyn het Mev Lotz aangedui
dat sy
bewus was van die kere wat die oorledene saam met die beskuldigde op
Sondagaande na His People kerk gegaan het. Sy was ook
daarvan bewus
dat sy by twee geleenthede 'n selgroep van die kerk bygewoon het. Toe
dit aan haar gestel is dat die beskuldigde ontken
dat sy "in
fact" nie meer na daardie kerk toe gaan nie, het Mev Lotz
geantwoord dat sy dit baie duidelik gehoor het. Die
oorledene het
juis, volgens haar, "haar nek langer gemaak en gesê, 'in
fact'".
[12] In sy
getuienis het die beskuldigde ontken dat daar soiets gebeur het.
Volgens hom het hy en die oorledene juis vroeër die dag
saam besluit
dat hulle nie die aand weer kerk toe sou gaan nie aangesien hulle die
oggend reeds in die kerk was. Oor His People kerk
as sodanig het hy
getuig dat Marius Botha, wat 'n lid van die kerk was, hom gedurende
die tweede helfte van hulle tweede jaar op
universiteit (2002) genooi
het om daarheen te gaan. In daardie stadium het heelwat van hulle
vriende en ander studente die kerk bygewoon.
Toe hy by hulle
ingeskakel het, het hy die dienste baie geniet en al hoe meer by die
kerk betrokke geraak, byvoorbeeld by selgroep
byeenkomste wat
gedurende die week gehou is. Wat hom beïndruk het van die kerk was
die sosiale werk en uitreik-werk wat hulle gedoen
het. Hy het in sy
vierde jaar (2004) self 'n gemeenskapsprojek begin met vyf-en-dertig
studente wat 'n winterskool by Jamestown,
in die Stellenbosch
distrik, aangebied het.
[13] Die
oorledene het gesien hoe gelukkig hierdie projek hom gemaak het en hy
het haar meegedeel wat sy planne vir die winterskool
was. Dit was in
daardie stadium 'n groot deel van sy lewe en sy het, volgens hom,
deel daarvan geword. Sy het hom toe gevra of sy
saam met hom na die
kerk kon gaan en het van daardie tyd af gereeld saam met hom dienste
op Sondagaande bygewoon. Sy het in Februarie
2005 uit haar eie uit by
'n selgroep, oftewel bybelstudiegroep, van die kerk betrokke geraak
en was juis die dag voor haar dood (15
Maart 2005) met ene Sylvia
Strauss, 'n "senior persoon" in die kerk, in aanraking.
[14] Marius
Botha het in hierdie verband getuig dat hy reeds in sy eerste jaar
(2001) by His People (tans bekend as Every Nation)
kerk aangesluit
het en tot aan die einde van 2004 'n lid daarvan gebly het. Hy en die
beskuldigde het vanaf hulle eerste jaar op
universiteit (2001) met
mekaar bevriend geraak het. Vanaf hulle tweede jaar (2002) het hulle
"redelik baie goeie vriende"
geword en teen hulle derde en
vierde jaar (2003-2004) was hulle beste vriende. Marius het ook 'n
beurs by Ou Mutual gehad en hulle
het saam daar begin werk - hy vanaf
November 2004 en die beskuldigde vanaf begin 2005. Die beskuldigde
het hom toe genooi om sy woonstel
in Anfield Village met hom te deel.
Vanaf einde Januarie of begin Februarie 2005 was hulle dus
woonstelmaats. Hulle het dan ook saam
dikwels oor naweke by die Lotz
woning in Welgemoed gekuier.
[15] In
hierdie verband het Marius niks gesê van sy eie gevoel teenoor die
oorledene nie en Wimpie se getuienis, dat hy ook op haar
verlief sou
wees, is nie aan hom gestel nie. Volgens Marius het die beskuldigde
hom baie uitgevra oor die oorledene voordat hy met
haar begin vas
uitgaan het. Hy wou onder andere weet van haar vorige verhoudings.
Voordat hulle begin vas uitgaan, het sowel die
beskuldigde as die
oorledene hom genader vir sy mening oor 'n moontlike verhouding
tussen hulle. Hy het aanvanklik gedink dat dit
nie 'n goeie idee is
nie, veral omdat die oorledene by geleentheid aan hom gesê het dat
sy nie graag in 'n vaste verhouding betrokke
wou wees nie. As hulle
egter wel tot so 'n besluit sou oorgaan, sou hy hulle daarin
ondersteun. Interessant genoeg, nadat hulle wel
besluit het om vas
uit te gaan, het die beskuldigde hom nie meer oor die verhouding in
sy vertroue geneem nie.
[16] Met
verwysing na 'n persberig dat hy (Marius) 'n vloek oor die oorledene
en beskuldigde sou uitgespreek het, het Marius getuig
dat dit
voortgespruit het uit die invul van 'n bybelstudiegids tydens 'n
naweek seminaar van His People kerk ('n sogenaamde "victory
weekend") aan die begin van 2005. Die seminaar het gefokus op
die emosionele en fisiese genesing van Christene en die
bybelstudiegids
was 'n joernaal waarin die deelnemers persoonlike
aantekeninge gemaak het gedurende die loop van die kursus wat
aangebied is. Een
van die onderwerpe wat behandel is, was
verskillende vorms van vervloeking ("curses"). In die
afdeling oor gesproke vervloekinge
("spoken curses") het hy
'n aantekening gemaak ingevolge waarvan hy vergiffenis gevra het vir
die "curses" wat
hy oor die beskuldigde en oorledene
uitgespreek het. Dit het verwys na negatiewe opmerkings wat hy oor
hulle gemaak het, byvoorbeeld
die feit dat hy geskinder het oor hulle
verhouding en genoem het dat dit nie 'n goeie idee was nie. Hy het
juis sulke opmerkings
tydens 'n gesprek met Sylvia Strauss voormeld
gemaak.
[17] Die
beskuldigde het ook by Wimpie Boshoff raad gevra oor sy verhouding
met die oorledene. Omdat Wimpie haar so goed geken het,
het hy hom
versoek om hom in te lig oor foute wat hy in die verhouding mag maak
en oor hoe hy die verhouding moet aanpak. Hy was
bewus daarvan dat sy
baie vorige verhoudings gehad het en het teenoor Wimpie opgemerk dat
hy wou hê dat sy eers oor haar vorige
verhoudings moet kom voordat
hy sou begin om aan 'n verhouding met haar te bou.
[18] Toe
die oorledene gedurende Februarie 2005 in haar nuwe woonstel ingetrek
het, het die beskuldigde gereeld Dinsdagaande daar
oorgeslaap
aangesien hy die volgende oggend om 08:00 by die Universiteit klas
gehad het. Hy het dit ook gedoen op Dinsdagaand 15
Maart 2005, toe hy
om ongeveer 18:45 met sy wit Opel Corsa bakkie, met registrasienommer
CMK 623 EC, daar opgedaag het. Oor die gebeure
die aand en die
volgende oggend het hy volledig getuig. Volgens hom het hy gedurende
die aand sy broer Dawie, wat twee jaar ouer
was as hy, gebel om hom
geluk te wens met die nuus dat sy skoonsuster haar eersteling verwag.
Dawie was skynbaar enigsins kil teenoor
hom en dit het hom ontstel,
veral in die lig daarvan dat sy verhouding met Dawie en sy oudste
broer, Alfons, wat vier jaar sy senior
was, in daardie stadium nie
baie goed was nie. Hy het dit aan die oorledene genoem, maar wou dit
nie verder met haar bespreek nie.
Gevolglik was dit enigsins stiller
as gewoonlik tussen hulle. Omdat hy nie lekker gevoel het nie en moeg
was, het hy toe vroeg gaan
slaap.
[19] Die
volgende oggend, synde Woensdag 16 Maart 2005, was hy skynbaar steeds
stil en, toe die oorledene hom vra wat fout is, het
hy geantwoord dat
daar niks fout is nie. Dit het haar ongelukkig gemaak aangesien sy
oënskynlik die beskuldigde se optrede gewyt
het aan iets wat sy
gedoen of gesê het. Sy het inderdaad die beskuldigde se liefde vir
haar bevraagteken en wou by hom weet of hy
nog seker is oor hulle
verhouding. Hy het haar verseker dat hy nog baie lief vir haar is en
het haar verkwalik dat sy by haarself
die fout gesoek het. Sy het
hartseer geword en begin huilerig raak, wat weer by hom die indruk
geskep het dat iets haar gepla het.
Hy het, op sy beurt, vir haar
gevra of sý oor hulle verhouding seker is. Sy het hom dadelik
verseker dat sy vir hom lief is, maar
was steeds ontsteld. Hy het
haar probeer troos en het haar gevra om aan hom 'n e-pos te stuur oor
die dinge wat haar pla.
[20] Nadat
hy haar gedruk en gesoen het en weer eens van sy liefde verseker het,
het die beskuldigde om ongeveer 07:45 van die oorledene
se woonstel
vertrek om 'n lesing aan die Universiteit van Stellenbosch by te
woon. 'n Rukkie later, om 08:08, het sy aan hom op sy
selfoon 'n SMS
boodskap gestuur. Daarin het sy gevra: "
Laat weet asb as jou
klas klaar is - wil gou vir jou iets kom gee. Al my liefde … x
".
Hy het om 08:43 hierop geantwoord: "
Ek gaan so 10:15 moet ry
want ek moet 11uur by die kantoor wees. Sal jou mc as ek uit kom. Lde
F
". Hy het dit opgevolg met 'n verdere SMS om 09:40: "
Dit
lyk asof ons vroer gaan klaar maak. Kan ek jou miskien 10uur al kry
of is dit te vroeg vir jou? Lde F
". Ná die lesing, om
ongeveer 10.00, het die oorledene hom toe buite die lesinglokaal
ontmoet en aan hom 'n handgeskrewe brief
in 'n koevert gegee. Sy het
hom gevra om dit nie te laat rondlê of in ander se hande te laat
beland nie aangesien dit persoonlik
en privaat is. Sy het toe saam
met hom na sy bakkie gestap en van hom afskeid geneem.
[21] Die
beskuldigde is daarna, om ongeveer 10.15, na Merriman Furnishers in
Stellenbosch, waar hy 'n kombuiskas namens Jean Minnaar
voormeld
betaal en in ontvangs geneem het. Jean het vroeër vir hom laat weet
dat die prys van die kassie R500,00 was en met die
oog daarop het die
beskuldigde tydens die lesingpouse sodanige bedrag by ‘n
outomatiese bankteller in die Neelsie Studentesentrum
onttrek. In
hierdie verband het Mnr J N Swart, wat toe by Merriman Furnishers
gewerk het, getuig dat die beskuldigde en 'n tweede
persoon twee keer
op die betrokke dag daar was, naamlik kort na 10:00 die oggend en toe
weer "redelik" ná 12:00 die middag.
Die betroubaarheid van
hierdie getuienis is te bevraagteken en spruit waarskynlik voort uit
'n verwarde herinnering, aan Mnr Swart
se kant, van die gebeure met
betrekking tot die aankoop van die kas. Dit strook hoegenaamd nie met
bewese feite nie en behoef geen
verdere oorweging nie.
[22] Intussen
het die oorledene om ongeveer 09:15 Mev Lotz gebel om vir haar
hondjie op sy verjaardag geluk te sing. Sy was vrolik
en het nie
vertel wat tussen haar en die beskuldigde die oggend plaasgevind het
nie. Sy het wel aangedui dat sy haastig was om by
die Universiteit
iets aan hom af te gee voordat hy werk toe gaan. Mev Lotz het aanvaar
dat dit 'n briefie is aangesien sy graag briefies
aan mense gegee
het. Die oorledene het vervolgens by die Universiteit 'n
tutoriaalklas gaan aanbied, waarna sy om 11:50 aan die beskuldigde
die volgende SMS gestuur het: "
Hi! Die klas was nie so bad
nie

Die girl wat my so geskel het was ook daar!! Lief vir jou skat en
lekker dag xx
". Die meisie wat glo op die oorledene "geskel"
het was, volgens die beskuldigde, een van die studente in haar
tutoriaalklas
wat die een of ander probleem met haar gehad het
betreffende die manier waarop sy die klas aangebied het of op 'n
vraag geantwoord
het.
[23] Die
oorledene het toe, om ongeveer 12:00, saam met Wimpie Boshoff by
Papa's Bistro Restaurant in die Neelsie middagete gaan eet.
Volgens
Wimpie, wat besig was met 'n meestersgraad in ekonomie, het hulle
gereeld, om en by elke twee weke, saamgeëet. Op hierdie
besondere
dag, het hy getuig, het die oorledene aan hom gesê dat sy dink dis
verby tussen haar en die beskuldigde. Hy het hierdie
mededeling
probeer afmaak omdat sy dikwels in die verlede oordryf het toe sy oor
ander verhoudings soortgelyke aankondigings gemaak
het. Sy het egter
aangegaan en vertel dat sy en die beskuldigde die oggend "'n
helse fight" gehad het waarna hy die woonstel
verlaat het.
Wimpie het steeds nie gedink dat dit ernstig is nie en het gesê dat
sy nie met die beskuldigde moet "baklei"
nie omdat hulle
goed by mekaar pas: hy het trouens hulle verhouding as "perfek"
beskryf. Haar reaksie hierop was dat sy
graag aan die einde van die
jaar aan die beskuldigde verloof wou raak. Sy het bygevoeg dat sy ná
sy klas 'n brief na hom geneem
het en wel omdat hy, na afloop van die
"onderonsie", aan die hand gedoen het dat sy baie mooi moes
dink of sy met die verhouding
wou voortgaan. Nadat sy die brief aan
hom oorhandig het, het hy aangedui dat hy van sy kant weer daaroor
sou dink.
[24] Na
haar ete met Wimpie het die oorledene om 13:10 'n SMS van die
beskuldigde ontvang in antwoord op haar SMS aan hom van 11:50.
Dit
was vanaf sy werksrekenaar versend en het aldus gelui: "
Hi,
ek is bly klas was lekker en hoop jy het darem lekker met W ook
gekuier? Ek het gou oor mid ete jou brief gelees. Baie dankie.
Ek sal
vanaand weer rustig daarna kyk. Ek waardeer dit. Hoop jy het ook baie
lekker middag verder. Lief vir jou skat F xx
". Sy het om
13:36 hierop geantwoord: "
Lekker gekuier met W! Teels klaar
gelê. Mis jou al klaar …xx
". Sy was skynbaar toe reeds
terug in haar woonstel, soos getuig deur Mev Lotz wat om ongeveer
13:20 van haar 'n oproep ontvang
het. Sy het haar juis gehoor praat
met iemand wat twee beskadigde vloerteels op haar woonstel se balkon
vervang het. Sy het haar
gehoor die persoon bedank en die
veiligheidshek sluit nadat hy die woonstel verlaat het. In die
verdere gesprek, wat ongeveer vyftien
minute geduur het, het die
oorledene aangedui dat sy tot 17:00 gaan rus aangesien sy moeg was na
haar tutoriaalklas.
[25] Die
oorledene se verdere bewegings gedurende die vroeë namiddag blyk uit
strokies wat daarop dui dat sy in die Simonsrust Winkelsentrum
inkopies gaan doen het. Eers het sy, om 14:55, by Steers Fast Foods
'n kaasburger gekoop, waarna sy om 15:00 by die Stellenbosch
Superspar 'n "Shape" tydskrif en 'n "Bioplus"
drankie gekoop het. Sy is toe na The Video Place waar sy, om 15:07,
‘n DVD, naamlik “The Stepford Wives”, uitgeneem het. Daarvanaf
het sy skynbaar na haar woonstel teruggekeer, gemaklike klere
aangetrek en die kaasburger en drankie geniet. Sy het haar intussen
op die rusbank voor die televisiestel tuisgemaak om die tydskrif
te
lees en die DVD te kyk. Sy het klaarblyklik eers die DVD uit sy houer
gehaal en in die DVD speler ingesit. Die leë DVD houer
het, langs 'n
leë gebruikte glas, op 'n hopie tydskrifte op die tafeltjie langs
die rusbank oopgelê toe haar liggaam ontdek is.
[26] Dit
is gemenesaak dat geen waardevolle artikels, soos haar skootrekenaar,
selfoon, beursie of motorsleutels, uit die oorledene
se woonstel
verwyder is nie. Slegs die afstandbeheer toestel vir die buitehek en
'n skilmes uit 'n kombuislaai was vermis. Daar was
geen tekens van
enige gedwonge toegang tot die woonstel nie. Dit wil dus voorkom dat
sy vir die aanvaller, wat oënskynlik ‘n bekende
was, die buitehek
en ook die sekuriteitshek en deur tot haar woonstel moes oopgemaak
het. Sy het toe skynbaar na die rusbank teruggekeer
en met haar
tydskrif en die DVD voortgegaan terwyl sy op die besoeker gewag het.
Omdat sy baie gesteld was op sekuriteit, soos blyk
uit die getuienis
van Mev Lotz, Wimpie Boshoff en die beskuldigde, is dit hoogs
onwaarskynlik dat sy vir 'n vreemdeling sou oopgesluit
het.
[27] Die
besoeker het toe, op die oog af, sonder enige waarskuwing haar skuins
van agter begin aanval terwyl sy ontspanne en niksvermoedend
op die
rusbank gesit-lê het. Die aard van die wonde wat sy opgedoen het,
dui op 'n verwoede en onbeheerste aanval wat vir haar totaal
onverwags moes gewees het en waarteen sy geen weerstand kon bied nie.
Die geweldadigheid van die aanval getuig van onbegryplike wreedheid
teen 'n weerlose jong vrou.
[28] Volgens
die verslag van Dr R A Adendorff, die distriksgeneesheer wat op 18
Maart 2005 om 08:30 'n regsgeneeskundige nadoodse
ondersoek op die
oorledene uitgevoer het, was haar kop "pap as gevolg van
stompgeweld" en was daar 'n groot aantal steekwonde
aan haar nek
en bors. Die stompgeweld het verskeie ingedrewe skedel frakture, 'n
skedelbasis fraktuur asook meerdere skeurwonde en
laserasies
veroorsaak. Dit het met 'n fraktuur van die neusbrug en erge
kneusings oor die hele kop gepaardgegaan. Die skerpgeweld
het weer
tot sewentien steekwonde in die nek en toraks aanleiding gegee,
minstens vyf waarvan tot in die linker long gedring het
en dit laat
kollabeer het. Dit het 'n gapende wond in die linker toraks gelaat en
die tweede, derde en vierde ribspasies oopgekloof.
Die derde en
vierde ribbes is inderdaad mors-af gesny as gevolg van die geweld wat
toegepas is.
[29] Die
aard van die wonde deur stompgeweld veroorsaak het, volgens Dr
Adendorff, gedui op groot geweld, veral wat betref die skedelbasis
fraktuur. Voorts kon dit toegeskryf word aan die gebruikmaking van
meer as een voorwerp, een waarvan moontlik 'n hamer sou kon wees.
Die
breuk van die neusbrug en die kneusing om die regter oog het weer
gelyk asof dit deur 'n vuishou veroorsaak is. Die skerpgeweld
was
egter aanduidend van 'n skerp voorwerp soos 'n mes eerder as 'n skêr.
Dr Adendorff was die mening toegedaan dat die oorledene
slegs vir die
eerste paar houe teen haar kop nog geleef het. Toe die eerste hou
haar van agter tref, het sy waarskynlik probeer terugkyk
om haar
aanvaller te sien. Sy het terselfdertyd probeer om verdere houe te
keer, soos blyk uit die fraktuur, skeurwonde en kneusings
aan haar
regter wysvinger en die twee skeurwonde aan die basis van haar regter
duim. Kort daarna moes sy egter haar bewussyn verloor
het. Teen die
tyd dat die skerpgeweld toegepas is, was sy reeds dood. Die geweldige
hoeveelheid bloed aan haar kop en aan die boonste
deel van haar
liggaam was dus hoofsaaklik te wyte aan die skedelwonde.
DIE BESKULDIGDE SE
ALIBI
[30] Ek
kom nou terug by die beskuldigde se weergawe van sy bewegings vanaf
die tyd toe hy die voormelde transaksie by Merriman Furnishers
afgehandel het. Nadat hy die kombuiskas in sy bakkie opgelaai het,
het hy, om ongeveer 10.30, vertrek na sy werksplek by Ou Mutual
in
Mutualpark, Pinelands, Kaapstad. Daar het hy sy voertuig geparkeer in
die "Policy Files" se eerste parkeerdek. Volgens
die
elektroniese rekord van die draaihek waardeur hy met sy toegangskaart
tot die gebou toegang gekry het, het hy om 11.08 die gebou
binnegegaan. Dit is bevestig deur 'n video opname van 'n
sekuriteitskamera wat om 11.09 sy aankoms in die gebou gefotografeer
het.
[31] Oor
die sekuriteitsisteem wat in die relevante stadium by Mutual Park in
plek was, het Mnr H J Louw, die bedryfsbestuurder van
sekuriteitsdienste, 'n volledige uiteensetting gegee met verwysing na
vloerplanne, video opnames en elektroniese toerusting. Die
kern van
sy getuienis was dat elke werknemer 'n unieke, of persoonlike,
toegangskaart tot die gebou gehad het. Daarop het sy of haar
foto,
personeelnommer en identiteitsnommer verskyn. Wanneer die kaart by
enige toegangsdraaihek gebruik sou word, sou die besonderhede
daarop
verskyn op 'n rekenaarskerm wat deur 'n sekuriteitsbeampte gemonitor
word. 'n Deurlopende rekord van elke sodanige gebruik
word op 'n
sentrale data basis gehou. By elke toegang is daar ook CCTV kameras
wat alle bewegings in die omgewing van die toegang
fotografeer. Die
opnames word dan vir 'n tydperk van drie maande gestoor. In die
onderhawige geval was al die tersaaklike draaihekrekords
en video
opnames nog steeds beskikbaar, en dele daarvan is aan die hof
tentoongestel.
[32] Hoewel
die sisteem oor die algemeen effektief blyk te gewees het, het Mnr
Louw toegegee dat dit nie volmaak was nie en dat daar
wel gebreke
daarin voorgekom het. Die vernaamste hiervan was die menslike
element, vir sover dit die taak van die sekuriteitsbeampte
was om
visueel vas te stel of die persoon wat die toegangskaart gebruik 'n
geldige of wettige kaarthouer is. As sy aandag afgetrek
was sou dit,
byvoorbeeld, moontlik wees dat iemand deur 'n draaihek kon gaan, of
onder die draaihek kon deurglip, sonder dat sy of
haar identiteit
gemonitor word. In so 'n geval sou daar ook moontlik van 'n ander
persoon se kaart gebruik gemaak kon word sonder
dat die beampte dit
agterkom. Dit sou ook kon gebeur dat twee persone met een kaart
toegang kon verkry bloot deur dit twee keer deur
die gleuf te trek
("double-badging"). 'n Deeglike studie van die relevante
rekords en opnames in die onderhawige geval
het egter geen sodanige
onreëlmatighede blootgestel nie. Aan die ander kant was dit oor die
algemeen aan die personeel en bestuur
bekend dat dit soms maklik was
om die gebou in of uit te gaan sonder om gewaar te word.
[33] By sy
werksplek het die beskuldigde aangesluit by 'n sogenaamde "GAP
Analysis" werksessie wat gehou is in die "Smooth
Room"
by die "Employee Benefits Investment Services" (EBIS)
afdeling op die sewende vloer van die Ou Mutual gebou.
Hy het die
vorige middag, op 15 Maart 2005, 'n "power point"
aanbieding gedoen vir die voordeel van 'n aantal Amerikaanse
sisteem
ontwikkelaars wat hulle maatskappy, Sungard, se sagteware stelsel aan
Ou Mutual wou verkoop. Die doel van die aanbieding
was om te
demonstreer hoe die bestaande produkte van Ou Mutual, meer spesifiek
hulle "gewaarborgde fonds" ("guaranteed
fund"),
gewerk het. Na sy aankoms die oggend van 16 Maart 2005 was daar 'n
in-diepte bespreking van die aanbieding waaraan hy
aktief deelgeneem
het. Hy kon egter nie onthou of hy weer sekere skyfies by wyse van 'n
beknopte samevatting ("recap")
vertoon het nie. Wat hy wel
onthou het, was dat die bespreking tot ongeveer 17.00 aangehou het en
dat hy in geen stadium tydens die
duur daarvan die perseel verlaat
het nie.
[34] Uit
die beskuldigde se selfoonrekord blyk dit dat hy om 14:13 'n SMS van
'n onbekende nommer ontvang het en om 14:52 'n stemboodskap
("voicemail") op sy selfoon van Jean Minnaar ontvang het.
Dit was voorafgegaan deur 'n verlore oproep ("missed call")
van Jean om 14:51 wat hy nie kon beantwoord nie omdat hy in die
werksessie was. Om 15:29 het hy tydens 'n teepouse die gemelde
stemboodskap
onttrek deur 121 op Vodacom te skakel. Dit is opgevolg
deur 'n SMS wat hy om 16:20 van 'n onbekende nommer ontvang het.
Volgens die
selfoonuitstipping het hierdie aktiwiteit in die geheel
by sy werksplek plaasgevind.
[35] Die
beskuldigde het eers teen ongeveer 17:10 na sy eie werkstasie in die
gebou teruggekeer het, alwaar hy om 17:14 by sy werksrekenaar
ingeskakel het. Hy het ten aanvang 'n e-pos boodskap aan 'n senior
kollega, Trevor Pascoe, gestuur in verband met sy bywoning van
'n
vergadering, en daarna een aan Jasmine Carelse van Sanlam ten opsigte
van 'n werkverwante aangeleentheid. Om 17:33 het hy sy rekenaar
afgeskakel. In hierdie verband het 'n kollega, Mnr S de W van der
Spuy, bevestig dat hy tussen 17:00 en 18:00 by sy werkstasie aanwesig
was. Hy het inderdaad met hom 'n gesprek aangeknoop. In antwoord op
'n vraag of die beskuldigde enigsins gespanne voorgekom het,
het hy
getuig dat hy normaal en op sy gemak was.
[36] In
hierdie stadium kan daarop gewys word dat die staat sterk gesteun het
op die feit dat daar tussen 15:29 en 17:14 geen aktiwiteit
deur die
beskuldigde op sy selfoon of rekenaar geïnisieer is nie. Dit is aan
die hand gedoen dat hy juis in dié tyd ongesiens uit
sy werksplek
kon wegkom, met sy bakkie na die oorledene se woonstel kon ry, die
moord kon pleeg, en dan weer terug kon ry om weer
'n keer ongesiens
sy werksplek binne te gaan. Ek sal later met hierdie betoog handel.
[37] Dat
die beskuldigde inderdaad aan die werksessie deelgeneem het, word
bevestig deur die getuienis van Mev Janine von Stein, 'n
besigheidsanalis wat aan Ou Mutual gekontrakteer was en wie se
funksie dit was om die betrokke werksessie te fasiliteer. Sy het
spesifiek
onthou dat hy om ongeveer 11:00 die oggend opgedaag het
maar kon nie onthou of hy die res van die dag aanwesig was nie. Vir
haar
was dit nie belangrik dat hy aan die werksessie deelneem nie,
aangesien die sleutelspeler tydens die hele verrigtinge sy
onmiddellike
hoof, Me Shahana Toefie, was. Hy was juis daar om Me
Toefie behulpsaam te wees en om soveel as moontlik uit die sessie te
leer. Me
Toefie het nie self getuig nie, maar in 'n beëdigde
verklaring gedateer 13 Junie 2005 het sy bevestig dat die beskuldigde
op 16
Maart 2005 by die werksessie aanwesig was vanaf ongeveer 11:15
totdat dit tussen 17:00 en 17:30 beëindig is. Hy het langs haar
gesit
en was nooit vir lang tydperke afwesig nie. Sy het hom na die
sessie weer gesien toe hy tussen 18:00 en 18:10 op pad uit was en
haar
gegroet het. Hy het normaal opgetree en nie gespanne voorgekom
nie.
[38] Mnr
Mkhuseli ("MK") Mbomvu, die hoof van die administratiewe
afdeling van EBIS, het bevestig.dat die beskuldigde aan
die betrokke
werksessie deelgeneem het. Hy was self by die werksessie betrokke vir
sover hy moes sorg dat die verrigtinge glad verloop
en die deelnemers
behoorlik ingelig word. Hy het verder getuig dat die beskuldigde sy
aanbieding op 15 Maart begin het en toe op
16 Maart voortgesit het.
In hierdie opsig was hy klaarblyklik verwar, aangesien dit nie in
geskil was nie dat die aanbieding op 15
Maart was en dat slegs die
bespreking daarvan op 16 Maart plaasgevind het. Toe dit aan hom
gestel is, het hy beklemtoon dat die aanbieding
op 16 Maart was. Sy
getuienis kan nie as betroubaar beskou word nie.
[39] Die
beskuldigde het voorts aangedui dat hy daardie dag die Ou Mutual
gebou eers om 18:05 verlaat het, soos elektronies bevestig
deur die
rekord van die draaihek waardeur hy die gebou verlaat het. Dit word
verder bevestig deur die video opname van 'n sekuriteitskamera
wat
hom om 18:06 afgeneem het.
DIE LATERE GEBEURE
[40] Die beskuldigde het direk vanaf sy werksplek by Ou Mutual gery
na sy woonstel te Anfield Village.39, Pinelands, en het teen
ongeveer
18:15 daar aangekom. Hy en Marius Botha, sy woonstelmaat, het toe
saam geëet en televisie gekyk voordat hulle die kombuiskas
voormeld
om ongeveer 19:30 by Jean Minnaar se woonstel, ook in Anfield
Village, gaan aflaai het. Jean was nie self daar nie, maar
sy
woonstelmaat, Braam Kruger, het dit namens hom in ontvangs geneem.
Toe hulle later uitkom, was die wiele van die beskuldigde se
bakkie
geklamp omdat hy nie op 'n wettige parkeerplek stilgehou het nie. Hy
het aan die sekuriteitswag verduidelik waarom hy daar
geparkeer het
en dié het toe die klampe verwyder. Om ongeveer 20:00 was hy weer
terug in sy woonstel.
[41] Om
20:11 het die beskuldigde 'n SMS aan die oorledene gestuur: "
Hi
my skat …Ek sal bietjie later vanaand bel om sommer net te gesels
en jou stem te hoor. Ek is baie lief vir jou - F
". Daar was
geen antwoord hierop nie en om 21:03 het hy haar gebel. Daar was
weereens geen antwoord nie. Binne dertig sekondes
het die oorledene
se selfoon op haar stempos oorgegaan en hy het vir haar 'n boodskap
gelaat. Daarna het hy op sy rekenaar begin
om aan haar 'n e-pos te
tik in antwoord op die brief wat sy hom die oggend gegee het: "
Hallo
my skat. Baie dankie vir jou brief. Ek waardeer dit regtig baie en
omdat ek jou ook al so goed ken, kan ek sien dat dit baie
opreg,
eerlik en uit die diepte van jou hart uitkom. Soos ek al baie vir jou
gesê het …
" Hy het die brief egter nie voltooi nie
aangesien dit reeds 21:38 was en hy begin bekommerd raak het omdat sy
nog niks van haar
laat hoor het nie. Om 21:39 het hy toe weer aan
haar 'n SMS gestuur: "
Hi skat, is jy ok? Gee my asb net 'n mc
as jy die SMS kry dan bel ek jou terug …Lde Fx
".
[42] Toe
die oorledene ook nie op hierdie SMS geantwoord het nie, het hy
besluit om met Mev Lotz te skakel om sy bekommernis met haar
te deel.
Op 22:01 het hy aan haar 'n SMS gestuur: "
Hi Tannie. Ek kry
nie vir Inge in die hande nie. Sy antw nie as ek bel of sms nie. Wil
net weet wanneer Tannie laas met haar gepraat
het en of alles reg is?
Ek is maar net bietjie onrustig. Baie dankie. Liefde, Fred
".
Mev Lotz het nie hierop gereageer nie en enkele minute later, om
22:08, het hy weer die oorledene se selnommer geskakel. Dit
het egter
weer eens op stempos oorgegaan. Om 22:09 het hy toe Mev Lotz op haar
landlyn geskakel en aan haar vertel wat hy reeds in
die SMS aan haar
meegedeel het. Mev Lotz het aangedui dat sy nog nie die aand met die
oorledene gepraat het nie, maar was daarvan
bewus dat sy besig was om
te studeer: haar telefoon was miskien net sag gestel. Sy het verwag
dat die oorledene haar later sou bel
wanneer sy 'n breek van haar
studies neem. Klaarblyklik bekommerd oor wat die beskuldigde aan haar
gesê het, het sy toe self verskeie
oproepe na die oorledene se
selfoon gemaak. Al die oproepe was onbeantwoord en die selfoon het
telkens op stempos oorgegaan.
[43] Intussen
het die beskuldigde nog een keer, om 22:16, 'n oproep na die
oorledene se nommer gemaak voordat hy Mev Lotz om 22:18
gebel het om
te sê dat hy Stellenbosch toe wou ry om self te gaan kyk wat
aangaan. Mev Lotz het aan die hand gedoen dat hy die afstandbeheer
en
sleutels van die oorledene se woonstel by haar moet kom kry. Terwyl
sy met hom in gesprek was, het sy in die agtergrond gehoor
dat hy met
Marius Botha praat. Dié het gesê dat hy 'n vriend het wat in die
kompleks woon en wat ondersoek sou kon instel. Mev
Lotz het egter
agtergekom dat die beskuldigde bekommerd en ontsteld was en het
voorgestel dat hy liewer self moet ry. Hy het toe
vir Marius gesê
dat hy maar vir die vriend, Christo Pretorius, kon bel, maar hy was
in elk geval op pad.
[44] Die
beskuldigde het toe skoon klere in 'n sportsak gesit met die oog
daarop dat hy by die oorledene sou oornag indien daar niks
ernstigs
fout sou wees nie en dan daarvanaf die volgende oggend werk toe gaan.
Net voordat hy gery het, het hy om 22:22 Mev Lotz
weer gebel om te sê
dat hy op pad is. Sy het hom in die motorhuis ingewag en die
afstandbeheer en sleutels aan hom oorhandig. Volgens
Mev Lotz het hy
gevra of sy wil saamry. Sy het die uitnodiging van die hand gewys
maar het gevra dat hy moet reël dat die oorledene
haar bel wanneer
hy by haar uitkom.
[45] In sy
relaas van die gebeure tot op hierdie punt het Marius getuig dat die
beskuldigde hom meegedeel het dat hy en Mev Lotz baie
bekommerd oor
die oorledene was. Volgens hom het hulle reeds sedert drie-uur die
middag na haar gesoek. Hy het aan hom genoem dat
hy bang was dat sy
flou geval het of dat iets met haar gebeur het. Om die beskuldigde
die moeite te bespaar om deur te ry Stellenbosch
toe, het Marius
voorgestel dat hulle sy vriend Christo Pretorius, wat op Welgevonden
Landgoed gewoon het, moet vra om te gaan kyk
wat aangaan. Die
beskuldigde het nie daarteen beswaar gehad nie, maar wou steeds self
daarnatoe gaan. Net voor hy gery het, het hy
aan Marius die oorledene
se adres gegee. Hy het toe om 22:23 vir Christo gebel en vertel van
die beskuldigde se bekommernis oor die
oorledene. Hy het haar adres
aan hom verstrek en gevra dat hy gaan kyk of alles reg is.
[46] Christo
het om 22:36 teruggeskakel en gesê dat hy die oorledene se liggaam
op die rusbank in haar woonstel se sitkamer gevind
het. Volgens
Marius het hy bietjie deurmekaar gepraat. Hy het vertel dat daar baie
bloed was en dat dit vir hom gelyk het asof sy
selfmoord gepleeg het.
Hy het iets genoem van 'n skerp voorwerp, soos 'n mes of 'n skêr.
Toe Marius in 'n stadium hom vra of hy
seker is dat dit selfmoord
was, het hy geantwoord dat hy nie seker is nie: dit kon moord of
selfmoord wees. Toe Marius hom vra of
hy kon kom help, het Christo
gesê dat dit nie nodig is nie aangesien hy reeds die polisie ontbied
het. Hy moes net sorg dat die
oorledene se familie of die beskuldigde
nie na die woonstel kom nie aangesien dit "baie erg" was.
[47] Kort
hierna, om 22:42, het die beskuldigde, wat pas van die Lotz woning
vertrek het en nog steeds in Welgemoed was, vir Marius
gebel om te
hoor of hy al iets van Christo verneem het. Marius was in sy motor en
het aanvanklik genoem dat hy op pad winkel toe
was. Iets in die
gesprek het die beskuldigde egter gepla, want twee minute later, om
22:44, het hy hom weer gebel en, soos Marius
dit gestel het, het hy
gesê dat hy kon agterkom dat daar iets fout is en dat Marius nie vir
hom moet jok nie. Marius het hom gevra
om hom te vertrou en by die
Lotz woning vir hom te wag. Hy het toe omgedraai en in Classenstraat
langs die woning geparkeer om vir
Marius in te wag. Terwyl hy daar
was het hy sy ouers geskakel en gevra dat hulle saam met hom moet bid
want hy weet nie wat aangaan
nie.
[48] Intussen
het Marius 'n hele aantal verdere oproepe gemaak of ontvang. Om 22:46
het hy vir Christo gebel en 'n verdere gesprek
met hom gevoer.
Daarna, om 22:49, het Mev Lotz hom gebel. Hy het haar meegedeel dat
hy nie goeie nuus het nie en op pad was na haar
woning. Net daarna,
om 22:50, het hy die beskuldigde se moeder, Mev Karien van der Vyver,
gebel. Sy het gesê dat die beskuldigde
met haar in aanraking was en
meegedeel het dat hy baie bekommerd was en nie weet wat aangaan nie.
Hy het vermoed dat daar fout met
die oorledene was maar hy, Marius,
wou nie vir hom sê wat dit is nie. Marius het toe Mev Van der Vyver
vertel dat Inge dood is en
dat dit onseker was of dit moord of
selfmoord was. Tydens hierdie oproep het hy ook met die beskuldigde
se vader, Mnr Louis van der
Vyver, gepraat. Dit was die laaste
gesprek wat hy gevoer het voordat hy by die Lotz woning aangekom het.
[49] Oor
die gebeure wat toe by die Lotz woning afgespeel het, is daar
botsende weergawes. Volgens Mev Lotz het sy, 'n tydjie nadat
Marius
laat weet het dat hy nie goeie nuus het nie, uitgegaan om te kyk of
hy op pad is. Sy het toe gesien dat die beskuldigde agteroor
en met
toe oë in sy geparkeerde bakkie in Claassenstraat sit. Sy het tot
ongeveer 'n meter van die bakkie se venster gestap en hom
gevra:
"Fred, wat maak jy hier?" Hy het nie geantwoord nie. Net
toe het Marius aangekom en met sy voertuig in die woning
se oprit
ingedraai.
Hy het uitgeklim en na die huis se
voorhek gestap.
Mev Lotz het na hom toe begin stap, gevolg
deur die beskuldigde, wat intussen uit sy bakkie geklim het. Hy het
skynbaar eerste by
Marius uitgekom en met hom begin praat. Mev Lotz
het net gehoor Marius sê iets van "Inge" en "vermoor".
Sy het
geskreeu: "Waar is my kind?" Die beskuldigde het toe
aan haar gesê: "Tannie, Inge is vanmiddag in haar woonstel
vermoor".
Sy het gegil en, terwyl hulle op pad was na die
voordeur, het die beskuldigde gesê: "Toe maar tannie, alles sal
oukei wees,
ek sal hier agter in die agterste kamer intrek. Ek sal
hier studeer en ek sal die kind in die huis word". In daardie
stadium
was sowel hy as Marius kalm. Hy het inderdaad herhaaldelik
gesê: "Alles gaan oukei wees", waarop sy hard geskreeu
het:
"Amper niks gaan ooit weer oukei wees nie".
[50] Marius
se relaas het wesenlik met dié van Mev Lotz ooreengekom. Volgens hom
het hy by die voorhek aan die beskuldigde gesê
dat Christo hom
teruggebel het en meegedeel het dat die oorledene dood is. Hy het met
hom gesimpatiseer en gesê dat hy nie presies
seker is wat gebeur het
nie, aangesien Christo opgemerk het dat dit lyk na moord of
selfmoord. Die beskuldigde het sprakeloos gestaan
en in ongeloof na
hom gekyk. Marius het hom probeer ondersteun deur hom 'n drukkie te
gee. Hy het trane in sy oë begin kry. Net
toe het Mev Lotz by hulle
aangesluit en gevra: "Fred, wat gaan aan, waar is my kind?"
Die beskuldigde het na haar gestap
en gesê: "Tannie, Inge is
vanmiddag vermoor". Mev Lotz het in ongeloof gesê dit kan nie
wees nie, waarop die beskuldigde
haar probeer troos het deur aan haar
te sê: "Toemaar tannie, alles sal oukei wees, ek sal die kind
in die huis word".
Mev Lotz het toe gillend die huis in
gehardloop.
[51] Volgens
die beskuldigde het hy uit sy bakkie geklim en na Mev Lotz gestap toe
sy die huis uit kom. Sy was baie ontsteld en hy
het saam met haar by
die huis ingestap. Daar het hulle in die klein sitkamertjie langs die
kombuis op 'n bank gaan sit en wag vir
Marius. Hoewel hy self
ontsteld was, het hy haar probeer kalmeer. Toe Marius arriveer het hy
vooruit gestap en hom by die houthekkie
ontmoet. Daar het Marius hom
vertel dat die oorledene dood is en dat sy vermoor is. Hy kon nie sy
presiese woorde onthou nie. Hy
was geskok en sprakeloos. Al wat hy
onthou was dat hy met sy rug teen die muur geleun het en "fisies
inmekaar gesak" het
voordat hy begin huil het.
[52] Marius
het toe by hom verbygestap en Mev Lotz by die voordeur tegemoet
gegaan. Aangesien hy nog by die houthekkie agtergebly
het, kon hy nie
hoor wat Marius vir haar sê nie. Mev Lotz het egter begin gil. Hy
het toe opgestaan en by hulle aangesluit. Hulle
was aldrie ontsteld.
Terwyl hulle bymekaar staan het hy by Marius probeer vasstel wat
gebeur het of hoe dit gebeur het. Mev Lotz
het toe die huis
ingehardloop en hulle is agterna. Die beskuldigde het onomwonde
ontken dat hy aan Mev Lotz gesê het: "Tannie,
Inge is vanmiddag
in haar woonstel vermoor". Hy was nie eers naby toe Marius met
haar gepraat het nie.
[53] In
hierdie stadium mag dit waardevol wees om Christo Pretorius se
weergawe van die gebeure in oënskou te neem. Volgens hom was
hy en
sy vrou reeds in die bed toe Marius gebel het om te vra of hy na die
oorledene se welstand kon verneem. Marius het aan hom
genoem dat die
oorledene flou word en 'n siekte het. Hy het bygevoeg dat "hulle"
reeds sedert drie-uur die middag na haar
soek. Hy het egter nie
gespesifiseer wie almal by die soektog betrokke was nie. Christo het
ingewillig om te gaan kyk by die adres
wat Marius aan hom verstrek
het. Toe hy daar kom het hy die oorledene se woonstelnommer gedruk op
die interkomstelsel by die hoofingang
tot die woonstel kompleks. Toe
sy nie antwoord nie, het hy 'n persoon wat op die balkon van 'n ander
woonstel gestaan het, naamlik
ene André Beelders, gevra om vir hom
oop te maak.
[54] Nadat
André vir hom oopgemaak het, het Christo na die oorledene se
woonstel gestap en aan die deur geklop. Daar was geen reaksie
nie. Hy
het toe ontdek dat die deur nie gesluit was nie en het ingestap. Soos
hy kon onthou was die lig af en net die televisie se
lig was aan. Hy
het die oorledene op die bank gesien lê en het haar naam geroep. Sy
het nie gereageer nie en hy het nader gestap.
Hy het 'n wond aan haar
nek gesien asook donker kolle, wat hy vermoed het bloed was. Te
oordeel aan die posisie van haar liggaam
en die feit dat sy 'n
voorwerp, wat soos 'n mes gelyk het, in haar hand gehou het, was dit
sy indruk dat sy selfmoord gepleeg het.
Hy was in skok en het eers
later verneem dat die voorwerp in haar hand 'n televisie
afstandbeheer was. Hy het uitgehardloop en na
André se woonstel
gegaan. Hy het hom gesê dat hy meen die oorledene het selfmoord
gepleeg en het hom gevra om die polisie te skakel.
Daarna het hy vir
Marius, pastoor Neels Hendrickse en sy broer, Philip Pretorius,
gebel. Aan al drie was sy eerste woorde dat die
oorledene selfmoord
gepleeg het. Later die aand het hy weer met Marius 'n telefoniese
gesprek gehad maar hy kon nie onthou waaroor
dit gegaan het nie.
[55] André
Beelders het Christo Pretorius se weergawe, so ver dit hom aangegaan
het, bevestig. Kort nadat hy die hek vir Christo
oopgemaak het en hom
gesien stap het in die rigting van die oorledene se woonstel, het
Christo aan sy deur kom klop. Toe hy vir hom
oopmaak het hy gesien
dat hy baie "shaky" gelyk het. Hy het toe vertel dat die
oorledene "haarself vermoor" het
deur haarself met 'n mes
in die nek te steek. Hy het ook genoem dat daar baie bloed was. André
het toe, op versoek van Christo,
die polisie gebel en aangemeld dat
iemand in die kompleks selfmoord gepleeg het.
[56] Adv
de Bruyn het geen kruisondervraging vir Christo Pretorius of André
Beelders gehad nie. In sy kruisondervraging van Mev Lotz
en Marius
Botha het hy egter klem gelê op die feit dat nòg Mev Lotz nòg
Marius Botha in hulle onderskeie polisie verklarings enigiets
vermeld
het van die bewering dat die beskuldigde aan Mev Lotz sou gesê het
dat die oorledene daardie middag in haar woonstel vermoor
is nie.
Weliswaar het Marius in sy getuienis nie die woorde "in haar
woonstel" gebruik nie, maar die indruk word uit hulle
verklarings geskep dat dit inderdaad Marius was wat die nuus aan Mev
Lotz gebreek het.
[57] Hierdie
was juis 'n aspek wat die hof in 'n vroeë stadium van die verhoor
gepla het: indien Christo Pretorius vir Marius Botha
ingelig het dat
die oorledene selfmoord gepleeg het - en dit is nooit in dispuut
geplaas nie - waar sou Marius daaraan gekom het
dat sy vermoor is?
Die sleutel mag in André Beelders se getuienis lê vir sover dit sy
herinnering was dat Christo aan hom berig
het dat die oorledene
"haarself vermoor" het. Dit is 'n vreemde manier om
selfmoord te beskryf, maar dit mag 'n verduideliking
bied vir Marius
se indruk dat Christo enigsins deurmekaar gepraat het en waarom Mev
Lotz gehoor het dat hy die woorde "Inge
…vermoor" gebruik
het toe hy met die beskuldigde in gesprek was. Dit mag ook wees dat,
in sy latere gesprek met Marius om
22:46, Christo begin twyfel het
oor sy aanvanklike mening dat dit selfmoord was. Hoe dit ook al sy,
soos Adv de Bruyn tereg betoog
het, kan dit nie aan die beskuldigde
se deur gelê word indien Marius iets oorgedra het wat hy nie by
Christo gehoor het nie.
[58] Oor
die verdere gebeure gedurende die nag van 16 Maart 2005 en in die
daaropvolgende weke hoef ek nie nou stil te staan nie.
Vir sover dit
relevant mag wees met betrekking tot 'n moontlike motief vir die
moord, sal dit later aandag geniet. Ek keer vir eers
terug na die
verdere getuienis wat deur die staat aangebied is ter weerlegging van
die beskuldigde se
alibi
, naamlik die bloedmerk op die vloer
van die gastebadkamer, die ornamentele hamer as moontlike moordwapen
en die vingerafdruk op die
DVD houer.
DIE
BLOEDMERK OP DIE VLOER VAN DIE GASTEBADKAMER
[59] Ter weerlegging van die beskuldigde se
alibi
het die
staat aangevoer dat 'n bloedmerk wat op die vloer van die
gastebadkamer in die oorledene se woonstel gevind is, met die
skoensool-loopvlak
van een van die beskuldigde se sportskoene
vergelyk is en bevind is ooreenstemmend te wees. In hierdie verband
het die staat veral
gesteun op die getuienis van Superintendent Bruce
Bartholomew, wat ten tye van die ondersoek na die moord op die
oorledene met die
rang van kaptein by die Suid-Afrikaanse Polisie
Dienste ("SAPD") se Plaaslike Kriminele Rekordsentrum
("PKRS")
in die Paarl gestasioneer was. Hy was ook indertyd
aan die provinsiale toneelondersoekspan van die SAPD verbonde maar
het in Julie
2006 uit die SAPD se diens getree. Saam met 'n hele
aantal kollegas was hy reeds gedurende die vroeë oggendure van 17
Maart 2005
op die misdaadtoneel aanwesig.
[60] Een
van sodanige kollegas was Superintendent Johan Kock van die
Biologiese Eenheid van die SAPD se Forensiese Wetenskap Laboratorium
te Delft. Hy het die toneel ondersoek en foto's van, onder andere,
die bloedmerk op die vloer van die gastebadkamer deur Inspekteur
Desmond Share van die PKRS laat afneem. Hy het die merk as 'n
vermoedelike "bloed kontak" of "oordragpatroon"
geïdentifiseer en het dit as sodanig aan Superintendent Bartholomew
uitgewys. In daardie stadium het hulle bloot kennis geneem daarvan
sonder om dit verder te ondersoek.
[61] Nadat
die beskuldigde as verdagte op 15 April 2005 uitgewys is, het
Superintendent Kock, op versoek van Superintendent Bartholomew,
hom
na die beskuldigde se woonstel in Anfield Village vergesel. Daar het
hy beslag gelê op die beskuldigde se Hi-Tec sportskoene,
wat
oënskynlik gewas was en waarvan die veters voor in die skoene
ingedruk was. Die skoene is in 'n later stadium vir bloed getoets
deur Sersant Peta Davidtsz, 'n lid van die Biologiese Eenheid van die
Forensiese Wetenskap Laboratorium. Sy het dit aan luminol en
multistix toetse onderwerp maar kon geen spoor van bloed vind nie.
Dit het daartoe aanleiding gegee dat die fokus na die bloedmerk
in
die gastebadkamer verskuif het in 'n poging om te bepaal of dit nie
dalk van die loopvlak van een van die skoene afkomstig kon
wees nie.
'n Hele reeks gebeure het hierop gevolg.
[62] Op 28
April 2005 het Superintendent S J Koekemoer, eweneens op versoek van
Superintendent Bartholomew, die bloedmerk met 'n chemiese
middel,
bekend as amido black, behandel nadat hy eers met 'n multistix toets
'n voorlopig positiewe toets vir bloed gedoen het. Sodanige
toets het
'n "stertjie" of "tongetjie" gelaat wat tot
bewerings van manipulasie van die merk deur die verdediging
aanleiding gegee het. Hierdie bewerings het mettertyd enigsins
afgewater geraak en behoef geen verdere bespreking nie. Die
belangrike
is dat die amido black visueel verborge bloedmerke na vore
kon bring en dit vatbaar kon maak vir verdere ontwikkeling en
ondersoek.
Afhangende van die hoeveelheid proteïne in die bloed wat
in die bloedmerk aanwesig was, sou daar, volgens Superintendent
Koekemoer,
kontrasterende ligter en donkerder areas of kolletjies ná
die toets in die merk waarneembaar wees.
[63] Dit
blyk dat die ondersoekspan aanvanklik gemeen het dat die bloedmerk
deur bloed aan die sykant van 'n hamer veroorsaak kon
gewees het.
Onder aansporing van Superintendent Bartholomew het die gedagte later
egter posgevat dat dit inderdaad 'n skoenafdruk
kon wees. As gevolg
daarvan is Superintendent Kock op 9 Junie 2005 terug na die
misdaadtoneel om 'n skraapsel monster van die bloedmerk,
wat intussen
met amido black behandel is, te neem. Die merk was, as gevolg van die
behandeling, toe reeds donker blou, pers of swart
gekleur. Dit is nie
duidelik of hierdie skraapsel ooit aan 'n bloed- of DNS toets
onderwerp is nie. Dit is waarskynlik as onnodig
beskou in die lig van
Superintendent Koekemoer se multistix en amido black toetse.
[64] In sy
getuienis het Superintendent Bartholomew bevestig dat hy op 17 Maart
2005 aanwesig was toe Inspekteur Share die bloedmerk
in die
gastebadkamer van die oorledene se woonstel gefotografeer het. Hy was
eweneens op 15 April 2005 teenwoordig toe daar op die
beskuldigde se
Hi-Tec sportskoene in sy woonstel te Anfield Village beslag gelê is.
Nadat die skoene in 'n bewystuksak geplaas en
aan hom oorhandig is,
het hy dit met hom saamgeneem vir verdere ondersoek
[65] Met
die oog daarop om die bloedmerk in die gastebadkamer en ander
bloedmerke, byvoorbeeld in die omgewing van die rusbank waar
die
oorledene vermoor is, verder forensies te laat ondersoek, het
Superintendent Bartholomew met die nasionale prosesseringspan in
Pretoria geskakel. Hy het met Superintendent Koekemoer gepraat en hom
versoek om met die spuit van chemiese middels op die toneel
behulpsaam te wees. Die rede waarom hy dit gedoen het was dat die
plaaslike eenheid nie oor dieselfde gevorderde toerusting en kennis
beskik het as die Pretoria kantoor nie. Superintendent Koekemoer het
teenoor hom onderneem om 'n navorsingspan saam te stel en die
nodige
goedkeuring vir die operasie te bekom. Daar is onderling besluit dat
amido black, synde die mees doeltreffende middel hiervoor,
aangewend
sou word.
[66] Toe
Superintendent Koekemoer en sy span op 28 April 2005 na die woonstel
gegaan het om die verdere ondersoek te doen, was Superintendent
Bartholomew op die perseel. Hy kon self geen bystand verleen nie
aangesien hy nie ondervinding van die aanwending van amido black
gehad het nie. Hy het wel waargeneem wat die span doen en het ook
gesien dat Superintendent Koekemoer foto's voor en na die aanwending
van die middel geneem het.
[67] Die
volgende stap in die proses was toe Superintendent Bartholomew op 22
Julie 2005 'n vergroting gemaak het van die bloedmerk
op die vloer
van die gastebadkamer. Hy het dit fisies vergelyk met die beskuldigde
se regter Hi-Tec sportskoen en gevind dat dit
ooreenstemmend was. In
paragraaf 7 van sy verklaring ingevolge artikel 212(4)(a) en (8)(a)
van Wet 51 van 1977, gedateer 22 Augustus
2005, het hy dit so gestel:
Betreffende die soort, grootte, plek, posisie en verhouding van die
unieke kenmerke tot mekaar, stem die skoenafdrukke se klas ooreen
met
die regterskoen wat aan ene Frederick Barend van der Vyver behoort.
[68] Hierdie gevolgtrekking was volgens Superintendent Bartholomew
gebaseer op sowel klaseienskappe as unieke kenmerke wat in die
bloedmerk voorgekom het. Die bloedmerk het volgens hom met die kurwe
en middelste gedeelte van die sportskoen ooreengekom, en dus
klaseienskappe van die sportskoen vertoon. Nog belangriker was egter
die aanwesigheid van vier (aanvanklik drie) kolletjies wat ná
die
amido black behandeling in die bloedmerk sigbaar geword het. Hierdie
kolletjies, wat as unieke kenmerke beskryf is, het met vier
sandkorreltjies, wat in 'n groef tussen riffels onder die skoen se
hak vasgesit het, ooreengekom. Om dit te illustreer het
Superintendent
Bartholomew gebruik gemaak van foto's en transparante
waardeur hy aangedui het dat die kolletjies in die bloedmerk met die
korreljies
sand onder die skoen korreleer. Dit het egter saamgehang
met wat hy genoem het twee trapmerke, die tweede trapmerk synde
veroorsaak
deur 'n verdraaing van die skoen se hak nadat die persoon
wat die skoen gedra het die eerste keer met die hak op die teel
getrap
het.
[69] Superintendent
Bartholomew het vervolgens Kaptein F A Maritz, 'n lid van die
Ballistieke Eenheid van die Forensiese Wetenskap
Laboratorium,
genader om die unieke kenmerke elektronies, met 'n digitale passer,
in te meet. Kaptein Maritz het bevind dat die afstand
tussen die
kolletjies in die merk presies ooreengekom het met die afstand tussen
die sandkorrels in die groef onder die sportskoen.
Dit het gestrook
met Superintendent Bartholomew se eie mikroskopiese ondersoek van die
skoen se klas- en unieke eienskappe. Ten spyte
hiervan was hy nie
daartoe in staat om die steun van senior kollegas in Pretoria vir
verifikasie doeleindes te werf nie. Weliswaar
het hy Superintendent
Koekemoer oortuig, soos reeds vermeld, om die amido black behandeling
op die misdaadtoneel te kom toepas. Hy
het ook daarin geslaag om
goedkeuring te kry om gedurende Junie 2006 by Mnr William John
("Bill") Bodziak, wat beskryf
is as die wêreld se grootste
kenner op die gebied van skoenafdruk getuienis, in Palm Coast,
Florida, VSA, besoek af te lê.
[70] Superintendent
Bartholomew se besoek aan Mnr Bodziak op 30 Junie 2006 het oënskynlik
nie heeltemal aan sy verwagtinge voldoen
nie. Hoewel hy slegs 'n
mondelinge opinie van hom verwag het, was hy skynbaar teleurgesteld
dat Mnr Bodziak nie enige mikroskopiese
ondersoek gedoen het nie.
Daarbenewens het hy, na oorweging van die bewysstukke wat aan hom
voorgelê is, slegs "in 'n mate"
met Superintendent
Bartholomew se bevinding saamgestem.
[71] Superintendent
Bartholomew se terugvoer aan sy seniors oor sy besoek het tot 'n
ongetekende verslag, gedateer 20 Julie 2006,
van Direkteur Attie
Trollip aan sekere hooggeplaaste SAPD amptenare aanleiding gegee.
Daarin is gesê dat Superintendent Bartholomew
die relevante
bewysstukke aan Mnr Bodziak oorhandig het met die versoek dat hy
onafhanklik die skoen- en bloedmerke met mekaar moet
vergelyk. Mnr
Bodziak het glo mondeling die identifikasie van die skoenafdruk
bevestig en het verder vir Superintendent Bartholomew
van raad bedien
met die oog op die hangende hofsaak. Dit het ingesluit dat die
identifikasie primêr gebaseer moet word op die drie
patroonmerke wat
op die skoen sigbaar was en dat die sandkorrels as aanvullende punte
van identifikasie gebruik moet word. Direkteur
Trollip het dit
benadruk dat dit nie die doel van die besoek was om Mnr Bodziak as
getuie te werf nie. Dit was slegs daarop gerig
om Superintendent
Bartholomew in staat stel om aan die hand van sy advies 'n hofkaart
te finaliseer en aan die hof voor te lê. Volgens
Mnr Bodziak sou
Superintendent Bartholomew in ieder geval die aangewese persoon wees
om die skoenspoor getuienis aan te bied.
[72] Mnr
Bodziak het met skok en verbasing van hierdie verslag verneem toe dit
aan hom beskikbaar gestel is, soos blyk uit 'n e-pos
gedateer 9 Maart
2007 wat hy in verband hiermee aan Adv de Bruyn gestuur het. Daarin
het hy die inhoud van 'n brief gedateer 19 Desember
2006 aan Adv de
Bruyn, wat by die beskuldigde se pleitverduideliking aangeheg is,
bevestig. Meer spesifiek vermeld hy dat die bewysstukke
aan hom
voorgelê nie vir 'n behoorlike ondersoek geskik was nie.
Daarbenewens wou Superintendent Bartholomew nie hê dat hy die
betrokke skoen aan enige toets moes onderwerp nie aangesien hy
bevrees was dat dit die sandkorrels sou versteur. Hy het onomwonde
ontken dat hy die identifikasie van die skoenafdruk bevestig het. Hy
het dit inteendeel duidelik gemaak dat die sandkorrels so diep
in die
groef van die skoen se hak vasgesit het dat dit onmoontlik met die
oppervlakte van 'n vloer kontak sou kon maak. Superintendent
Bartholomew het juis onsuksesvol probeer om, by wyse van 'n toets,
die linkerskoen se groef met 'n harde oppervlakte kontak te laat
maak. Hy het die afdruk waarop hy die toets uitgevoer het, met hom
saamgeneem.
[73] Hoewel
Mnr Bodziak geensins van plan was om na Suid-Afrika te kom om in
hierdie saak te getuig nie, het die verdediging hom tog
oortuig om
dit te doen. Soos blyk uit sy buitengewoon indrukwekkende
curriculum
vitae
,
het hy hom bekwaam as, waarskynlik, die voorste
deskundige in die wêreld op die gebied van skoen- en
buitebandafdrukke ("footwear
and tyre tread impressions").
Sy boek oor
Footwear Impression Evidence
(2e uitgawe 2000)
word allerweë aanvaar as die mees gesaghebbende werk in die wêreld
op die gebied van skoenafdruk getuienis.
[74] Mnr
Bodziak het in sy getuienis gehandel met die korrespondensie wat
Superintendent Bartholomew se besoek op 30 Junie 2006 voorafgegaan
het en het die inhoud van die briewe deur hom geskryf, bevestig. Hy
het daarop gewys dat, ten spyte van sy versoek dat Superintendent
Bartholomew die bes moontlike getuienis met hom moet saambring, hy
slegs twee CD's en 'n aantal foto's, wat nie op skaal was nie,
aan
hom voorgelê het. Van die CD's kon die een nie oopgemaak word nie
terwyl die ander irrelevante inligting bevat het. Weliswaar
het
Superintendent Bartholomew die betrokke sportskoene by hom gehad,
sodat hy die drie sandkorrels, waarop hy in daardie stadium
gesteun
het, aan Mnr Bodziak kon uitwys.
[75] Hierdie
voorlegging was vir Mnr Bodziak van weinig hulp, soos blyk uit 'n
verslag wat hy vir die verhoor voorberei het. Daarin
het hy, onder
andere, gesê:
Bartholomew advised that three small pieces of debris lodged in one
of the shoe grooves led him to believe that he could identify
the
prints on the tile floor. He had some photographs of this and some
small overlays, but they were not scaled the same and detail
was
limited. Even in the absence of the scale, the relative location of
the debris in the shoe did not correspond with the areas
of the
impression he said he believed matched. I also explained that the
debris was too deep in the grooves and would never contact
the
surface during walking. He said he thought the perpetrator may have
stood on one leg while putting on a shoe, causing sufficient
pressure
to make the impression. I provided an identicator pad and paper and
we made some impressions of the opposite shoe and Bartholomew
was
unable to reproduce that portion, even when stomping hard. He
explained that no impressions of the shoe in question had been
made,
since they do not want to disturb the debris in the heel area. It is
noted that this debris could not have caused any impression
on a flat
surface, due to its location deep in the groove.
[76] Mnr Bodziak kon geensins aanvaar dat die kolletjies in die
bloedmerk unieke eienskappe van 'n skoenafdruk daargestel het nie.
Sy
eie toetse met die linkerskoen het hom tevrede gestel dat die
sandkorreltjies in die groef van die regterskoen se hak so diep
was
(2,5mm) dat dit nie met 'n gelyke oppervlakte kontak sou kon maak
nie. In ieder geval was daar heelwat meer as net drie of vier
sandkorreltjies in die groef van die hak aanwesig. Hy het minstens
een-en-dertig getel. Dit was, volgens hom, onwetenskaplik om net
drie
of vier te selekteer wat toevallig met kolletjies op die merk
gekorreleer het.
[77] Voorts
het Mnr Bodziak daarop gewys dat die tekstuur van die teels, waarvan
die oppervlakte nie volkome gelyk was nie, ook tot
die aanwesigheid
van kolletjies in die bloedmerk kon bygedra het. 'n Verdere bydraende
faktor kon die amido black proses self gewees
het, vir sover die
persoon wat dit aangewend het oor die merk kon gevee het om oorbodige
klamheid te verwyder en in die proses van
die ongelykhede op die
oppervlakte van die teel kon vernietig of versteur het. Die
kolletjies kon dus produkte van die versterkingsproses
("artefacts
of the enhancement process") gewees het.
[78] Mnr
Bodziak kon ook geen klaseienskappe van die skoen in die merk
waarneem nie. Hoewel hy destyds aan Superintendent Bartholomew
voorgestel het dat hy toetse met die regterskoen moet doen om te
probeer bepaal of daar nie wel klaseienskappe van die skoen aanwesig
kon wees nie, blyk dit dat hy dit nooit gedoen het nie. Indien daar
geen klaseienskappe, in die sin van 'n spesifieke patroon, grootte
of
vorm, aanwesig sou wees nie, het hy getuig, sou dit in werklikheid
die einde van die ondersoek wees. Sy oorwoë mening was dus
dat die
bloedmerk op die vloer van die oorledene se gastebadkamer nie van die
beskuldigde se skoen afkomstig kon gewees het nie.
[79] Hierdie
mening is gedeel deur Mnr Paul Francis Ryder, 'n hoogs
gekwalifiseerde deskundige van die Forensic Science Service in
die
Verenigde Koninkryk. Ook sy sonderlinge deskundigheid op die gebied
van bloedspore wat deur 'n skoen veroorsaak is, het bo twyfel
gestaan. Aangesien sy getuienis in wesenlike opsigte ooreengekom het
met dié van Mnr Bodziak, is dit nie nodig om in enige besonderhede
daarna te verwys nie. Daar kan miskien daarop gewys word dat hy die
mening toegedaan was dat die merk veroorsaak kon gewees het deur
'n
bebloede voorwerp, soos 'n hamer of iets soortgelyks wat moontlik as
moordwapen gebruik kon gewees het.
[80] Mnr
Ryder het die moontlikheid van 'n skoenmerk verwerp om soortgelyke
redes as dié deur Mnr Bodziak verskaf. Hy het bygevoeg
dat, indien
dit 'n skoenspoor was, daar ander soortgelyke spore ook op die
toneel, tussen die rusbank in die sitkamer en die gastebadkamer,
gevind moes gewees het. Selfs al sou sulke spore deur ander persone
wat op die toneel gekom het, vertrap gewees het, sou sodanige
spore
nog steeds sigbaar gewees het indien 'n ophelderingsmiddel soos amido
black aangewend sou word.
[81] Mnr
Ryder was ook van mening dat, indien sandkorrels in 'n groef van 'n
skoensool aanwesig sou wees wanneer dit met bloed in
aanraking kom,
daar ook op die sandkorrels bloedspore sou wees. Sulke bloedspore sou
dan sigbaar word indien luminol of 'n soortgelyke
chemiese middel vir
die toets van bloed op die skoen aangewend sou word. Dit het egter
nie gebeur nie, soos uit Sersant Davidtsz
se getuienis afgelei kon
word. In ieder geval sou hy verwag dat sulke sandkorrels verwyder sou
word, of nie staties sou bly nie,
indien die skoen in 'n wasmasjien
gewas sou word.
[82] Die
verdediging het nog een buitelandse deskundige wat oor die bloedmerk
sou getuig het, by die hof beskikbaar gehad, maar het
hom nie as
getuie geroep nie aangesien sy getuienis grootliks met dié van Mnre
Bodziak en Ryder sou oorvleuel het. Dit was Mnr Michael
R Grimm, 'n
forensiese konsultant van Virginia in die VSA, wat twee verslae,
gedateer 25 Julie 2006 en 5 Februarie 2007 onderskeidelik,
geproduseer het. Die beskuldigde verwys juis in sy
pleitverduideliking na hierdie verslae en het hulle inderdaad daarby
aangeheg
veral ter illustrasie van wat hy aangevoer het 'n
doelbewuste manipulasie van getuienis deur die polisie sou wees.
Vir
teenswoordige doeleindes is dit nie nodig om verder daarmee te handel
nie.
[83] Wanneer
hierdie getuienis van nader beskou word, moet daar desnoods tot die
gevolgtrekking geraak word dat die staat nie daarin
kon slaag om te
bewys dat die bloedmerk op die vloer van die oorledene se
gastebadkamer van een van die beskuldigde se sportskoene
afkomstig
was nie. Superintendent Bartholomew, wat nie 'n goeie indruk as
getuie gemaak het nie, se getuienis was onbetroubaar en
veral gekleur
deur die ernstig misleidende bewerings wat hy oor sy besoek aan Mnr
Bodziak kwytgeraak het.
Hy het
klaarblyklik ook nie met sy senior kollegas oop kaarte gespeel toe hy
aan hulle terugvoer van sy besoek gegee het nie. Dit
blyk duidelik
uit Direkteur Trollip se verslag. Mnr Bodziak, wat op sy beurt 'n
uiters goeie indruk as getuie gemaak het, se skok
en verbasing toe hy
in Direkteur Trollip se verslag moes verneem dat hy met
Superintendent Bartholomew se bevinding oor die bloedmerk
saamgestem
het, was heeltemal geregverdig.
[84] Die
redes wat Mnr Bodziak en Mnr Ryder, wat die hof eweneens as getuie
beïndruk het, vir hulle deskundige menings aangebied
het, was in
alle opsigte logies en wetenskaplik gefundeer. Hoewel Superintendent
Bartholomew se vergelyking van sandkorrels en wit
kolletjies op die
oog af aantreklik gelyk het, was dit in verskeie opsigte te
bevraagteken. Daar was, byvoorbeeld, geen verduideliking
van hoe daar
slegs een spoor, en nie 'n sekwensie van spore nie, aanwesig was.
Daar was ook geen verduideliking van hoe die sandkorrels
bloed-kontaminasie kon vrygespring het of hoe hulle, ten spyte van
die diepte waartoe hulle in die betrokke groef vasgesit het, steeds
daarin kon slaag om hulle afdruk op die bloedmerk te maak. Net so kon
dit nie verklaar word hoe die sandkorrels, ten spyte daarvan
dat die
skoen waaraan hulle gekleef het oënskynlik in 'n stadium in 'n
wasmasjien gewas moes gewees het, steeds in die groef tussen
twee
riffels in die hak van die skoen bly vassit het. Les bes was daar
geen betroubare bewys van enige klaseienskappe van die skoen
in die
merk waarneembaar nie. Die suggestie dat die kurwe van die skoen as
klaseienskap waarneembaar was, was daarvan afhanklik dat
die skoen se
hak moes gedraai het om 'n "tweede trap" daar te stel. Dit
het eenvoudig nie sin gemaak nie.
[85] Dit
volg dus dat Superintendent Bartholomew se bevinding oor die herkoms
van die bloedmerk verwerp moet word ten gunste van dié
van Mnre
Bodziak en Ryder. Daar was klaarblyklik nie genoegsame getuienis om
aan te toon dat die bloedmerk van een van die beskuldigde
se skoene
afkomstig was nie.
DIE ORNAMENTELE HAMER
[86] Die
staat het verder gesteun op die gebruikmaking van 'n ornamentele
hamer, wat agter in die beskuldigde se voertuig gevind is,
as
moontlike moordwapen. Mev Lotz het getuig dat die Lotz gesin dit as
'n Kersgeskenk in Desember 2004 aan hom gegee het. Omdat die
oorledene dit meer persoonlik wou maak, het hulle sy voornaam en die
jaartal ("Fred 2004") op die hamer se steel laat graveer.
[87] Volgens
die beskuldigde het hy die hamer by sy ouerhuis in Oos-Londen, waar
hy en die oorledene Kersfees 2004 deurgebring het,
oopgemaak. Met
hulle terugkeer Kaap toe, het hy dit in sy bakkie onder die
bestuurdersitplek gesit en vergeet daarvan. Toe Mnr Boet
Claassen,
die privaatspeurder van George Fivaz en Genote wat deur die oorledene
se ouers aangestel is om die moord te ondersoek,
aan hom meld dat 'n
hamer in die oorledene se woonstel gevind is, het hy gesê dat hy nie
weet van welke hamer hy praat nie. Hy het
self 'n hamer wat in sy
bakkie behoort te wees. Hy het toe in sy bakkie gaan kyk en vasgestel
dat dit wel nog daar is. Hy het nooit
die hamer, wat vir hom van
sentimentele waarde was, gebruik nie. Dit het inderdaad in sy bakkie
gebly totdat daar op 15 April 2005
beslag gelê is daarop.
[88] Oor
die beslaglegging as sodanig het Superintendent Kock getuig dat hy by
die beslaglegging op 'n klouhamer, wat hy beskryf het
as 'n houtwerk-
of nutsmanhamer, op 18 Maart 2005 in die oorledene se woonstel
betrokke was. Aan die een kant van die kop het dit
'n ronde
slaangedeelte gehad en aan die ander kant 'n tweetandklou waarmee
spykers uitgetrek kon word. Dit was heelwat groter as
die beskuldigde
se ornamentele hamer waarop Superintendent Kock op 15 April 2005
beslag gelê het. Dit het juis na vore gekom toe
hy op die
beskuldigde se bakkie beslag wou lê. Hy het die beskuldigde eers
gevra of daar enigiets waardevols in die bakkie was,
waarop die
beskuldigde die bakkie oopgesluit het en die ornamentele hamer agter
die sitplek uitgehaal het. Dit het Superintendent
Kock enigsins
verbaas aangesien hy die hamer nie as waardevol beskou het nie. Hy
het eerder verwag dat die beskuldigde met geld of
juwele te voorskyn
sou kom.
[89] Superintendent
Bartholomew het getuig dat die moontlikheid van 'n hamer as
moordwapen vir die eerste keer geopper is deur Dr
Adendorff tydens
haar lykskouing van die oorledene. Volgens haar moes hulle soek na 'n
hamer en 'n skerp voorwerp. Hy was self teenwoordig
toe daar op die
klouhamer beslag gelê is.
[90] Sersant
Peta Davidtsz het die ornamentele hamer vir die aanwesigheid van
bloed met luminol, 'n chemiese reageermiddel ("chemical
reagent"), getoets en bevind dat daar wel moontlik bloed, wat
nie visueel sigbaar was nie, daarop aanwesig kon wees. Sy het
vermoed
dat dit bloed was maar het beklemtoon dat die toets bloot deel van 'n
siftingsproses ("screening process") was.
In die
onderhawige geval sou sy die meeste ander stowwe wat positief op die
luminol sou reageer, uitskakel ten gunste van haar vermoede
dat daar
bloed aan die hamer was.
[91] Sersant
Davidtsz kon natuurlik nie bepaal of die vermeende bloed van die
oorledene afkomstig was nie. Dit sou aan 'n DNS deskundige
oorgelaat
moes word. Die aangewese persoon, Superintendent Sharlene Otto, het
nie getuig nie, maar sy het 'n beëdigde verklaring
ingevolge die
bepalings van artikel 212(4)(a) en (8)(a) van Wet 51 van 1977 en
gedateer 22 Junie 2005, aan die hof voorgelê. Dit
het gedien as
prima facie
bewys van die toetse wat sy uitgevoer het en die
gevolgtrekkinge waartoe sy gekom het.
[92] Superintendent
Otto word in die gemelde beëdigde verklaring beskryf as 'n Hoof
Forensiese Analis verbonde aan die Biologie Eenheid
van die
Forensiese Wetenskap Laboratorium. Haar kwalifikasies, wat uiters
indrukwekkend is, sluit in vakkundigheid op die gebied
van molekulêre
mikrobiologie. Dit is juis haar kennis van molekulêre en sellulêre
biologie wat haar daartoe in staat stel om DNS-tegnologie
te beoefen.
Sy het onder andere die "vermoedelik waterige bloed oplossing",
wat van die ornamentele hamer afkomstig was
en per hand aan haar deur
Sersant Davidtsz besorg is, getoets. Sy het tot die gevolgtrekking
gekom dat "die geringe hoeveelheid
genetiese materiaal geïsoleer
vanaf die hamer dui op manlike genetiese materiaal".
[93] Die
manlike persoon van wie die gemelde genetiese materiaal afkomstig
was, is nie deur Superintendent Otto as die beskuldigde,
of enigeen
anders, geïdentifiseer nie. Uit die beskuldigde se getuienis kan dit
egter in alle waarskynlikheid afgelei word dat dit
wel van hom
afkomstig was, aangesien daar geen aanduiding is dat enige ander
manlike persoon die hamer fisies betas het nie. Die
genetiese
materiaal, soos ek dit verstaan, beteken natuurlik nie dat dit
noodwendig bloed moes wees nie. Dit sou selfs aan velweefsel
of
liggaamsvloeistowwe, soos sweetafskeiding, toegeskryf kon word.
[94] Die
staat het swaar geleun op die getuienis van Kaptein Frans Albertus
Maritz om die hof te oortuig dat die aard van die wonde
aan die
oorledene se kop dui op die gebruikmaking van die ornamentele hamer
as die stompgeweld moordwapen. Meer spesifiek is dit
aangevoer dat
beide kante van die kop van die hamer, te wete die slaan-oppervlakte
kant en die botteloopmaker kant, vir die wonde
aan die oorledene se
kop verantwoordelik was. Hoewel dit gemenesaak is dat skerpgeweld,
vermoedelik deur 'n mes of iets soortgelyks,
aangewend is om die
veelvuldige steekwonde aan die oorledene se nek en in haar bors te
veroorsaak, is geen sodanige tweede wapen
ooit gevind nie. Kaptein
Maritz het egter wel 'n vlekvrye staalmes, ongeveer 107,60mm lank en
met 'n dikte van ongeveer 19,30mm,
wat vermoedelik met die wapen wat
die steekwonde aan die oorledene se nek en op haar bors ooreengekom
het, getoets. Sy verslag, soos
vervat in sy beëdigde verklaring
gedateer 7 Junie 2005 wat hy ingevolge die bepalings van artikel
212(4)(a) en (8)(a) van Wet 51
van 1977 afgelê het, was dus nie
beperk tot die hamer as moontlike moordwapen nie. Vir teenswoordige
doeleindes bepaal ek my egter
slegs by die moontlikheid dat die hamer
as moordwapen aangewend kon word.
[95] Kaptein
Maritz was, ten tye van sy ondersoek met betrekking tot moontlike
moordwapens, 'n Senior Forensiese Analis verbonde aan
die Ballistieke
Eenheid van die Forensiese Wetenskap Laboratorium. Sedertdien het hy,
in November 2005, verhuis na South Dakota in
die VSA waar hy
afdelingshoof en tegniese leier van die vuurwapen en gereedskapmerk
ondersoekafdeling van die Division of Criminal
Investigation is. Hy
het 'n indrukwekkende
curriculum vitae
aan die hof voorgelê,
waaruit sy besondere deskundigheid en uitgebreide ervaring op die
gebied onder bespreking ten duidelikste geblyk
het.
[96] Op 17
Mei 2005 het Kaptein Maritz die ornamentele hamer forensies ondersoek
om te probeer vasstel of dit vir die wonde aan die
oorledene se kop
verantwoordelik kon gewees het. Met die oog hierop sou hy die aard en
omvang van die wonde vergelyk met die vorm
en mates van die ronde
plat slaanvlak en die bottelopmaker gedeelte van die hamer. Die
slaanvlak het 'n gemiddelde deursnee van ongeveer
21,68mm gehad,
terwyl die maksimumbreedte van die botteloopmaker ongeveer 37,22mm
was. Op 19 Mei en 2 Junie 2005 het hy, deur die
aanwending van die
hamer se slaanvlak en die botteloopmaker gedeelte daarvan,
gereedskapmerk toetse uitgevoer op 'n varkkarkas, varkskedels
en
skaapskedels, die vel waarvan die naaste aan menslike velweefsel is.
Op 31 Mei 2005 het hy op loodplaat en pottebakkersklei afdrukke
daarvan gemaak en 'n menslike oormodel gegiet. Hy het sy ondersoek
gedoen aan die hand van die lykskouingsverslag, foto's van die
misdaadtoneel en digitale beelde. Daaruit het hy afgelei dat die
wonde aan die skedel die beskrywing en fisiese voorkoms gehad het
van
wonde veroorsaak deur stompgeweld (kapwonde), terwyl die wonde aan
die nek en bors die beskrywing en fisiese voorkoms gehad het
van
wonde veroorsaak deur skerpgeweld (steekwonde). Die wonde moes dus
deur minstens twee voorwerpe veroorsaak gewees het.
[97] Kaptein
Maritz het vervolgens die vorm en mates van die kopwonde vergelyk met
die resultate van die gereedskapmerk toetse asook
met die afdrukke en
gietsel voormeld. Met gebruikmaking van transparante kon hy 'n
ooreenstemming tussen die wonde en die gereedskapmerke
aantoon. Hy
het tot die gevolgtrekking geraak dat die mees prominente kapwonde
aan die oorledene se kop en die kapwond net agter
haar linkeroor en
oorskulp kon inpas met die dimensies en profiel van beide
aanwendingsvlakke van die hamer, dit wil sê die slaanvlak
en die
botteloopmaker gedeelte daarvan. Dit kon eweneens inpas met die
klaseienskappe van die gereedskapsmerke wat deur beide
aanwendingsvlakke
van die hamer op die onderskeie toetsmediums,
insluitende velweefsel, beenweefsel, pottebakkerskei en loodplaat,
gelaat is. In hierdie
verband het Kaptein Maritz uitgewys dat die
slaanvlak van die hamer 'n sirkelvormige, semi-sirkelvormige en
"boontjievormige"
(of "niervormige") ingedrewe
afdruk gelaat wanneer dit 'n geronde oppervlak tref. Die
botteloopmaker het weer 'n effe geboë
langwerpige tot net
langwerpige ingedrewe afdruk gelaat wanneer dit 'n oppervlak tref, en
die punte van die afdruk het by tye na
binne gekrul en geneig om in
sekere gevalle "verwyd en afgerant" voor te kom. Dit kon
toegeskryf word aan die verdikte
rondings aan weerskante van die
botteloopmaker. Verder het dit voorgekom dat die binne-krulling van
die botteloopmaker se gereedskapmerk
profiel na die teenoorgestelde
kant van die hamer gekrul het.
[98] In
kruisondervraging deur Adv de Bruyn het Kaptein Maritz toegegee dat
die foto's wat hy gebruik het om tot sy bevindings te
geraak nie
almal reghoekig van bo geneem is nie, sodat die hoek waaruit die
foto's geneem is misleidend kon wees. Hy het ook toegegee
dat daar
soms verskille in die groottes van die wonde was vergeleke by dié
van die gereedskapmerke. Dit het hy egter verduidelik
deur daarop te
wys dat die menslike velweefsel elasties is en van nature geneig is
om na sy oorspronklike posisie terug te keer.
Daarbenewens sou
kneusings om 'n wond die wond groter laat lyk as wat hy regtig is.
[99] 'n
Ernstiger probleem wat tydens kruisondervraging na vore gekom het,
het geblyk uit 'n video-opname van die toetse op 'n varkkop.
Met die
eerste of tweede hou van die botteloopmaker kant van die hamer het
die botteloopmaker gebuig. Dit is nooit in Kaptein Maritz
se verslag
genoem nie. Dit is ook nie genoem dat, uit vrees dat die gebuigde
gedeelte van die hamer sou afbreek indien dit verder
aangewend sou
word, hy met groot moeite 'n soortgelyke hamer bekom het nie. Verdere
toetse is toe met die plaasvervangende hamer
gedoen, ten spyte van
die feit dat die mates daarvan in sekere opsigte beduidend, tussen
37% en 49%, verskil het van dié van die
ornamentele hamer. Niks
hiervan blyk uit die verslag nie. Daar is eweneens geen melding
daarin gemaak van die feit dat sekere toetse
ook met die klouhamer,
wat in die oorledene se woonstel gevind is, gedoen is nie.
[100] In
antwoord op 'n vraag deur Adv Teunissen gedurende herondervraging,
naamlik of Kaptein Maritz die ornamentele hamer (bewysstuk
2) as
moordwapen sou uitsluit, was sy antwoord: "U Edele, op grond van
die klaseienskappe wat nagelaat word deur die gereedskapsmerk
veroorsaak deur bewysstuk 2, kan dit nie bo redelike twyfel
uitgesluit word nie". Hy was tevrede dat die gebruikmaking
daarvan
met die aard van die stompgeweld wonde aan die oorledene se
kop vereenselwigbaar was. Dit was egter anders gestel met die
klouhamer
wat in die oorledene se woonstel gevind is. Hy sou dit as
'n moontlike moordwapen definitief uitsluit: nòg die slaankant nòg
die
klougedeelte was met die kopwonde vereenselwigbaar. Dit strook
met Sersant Peta Davidtsz se bevinding dat sy geen spoor van
moontlike
bloed daarop kon vind nie.
[101] Die
verdediging se antwoord op Kaptein Maritz was Professor Gert Saayman,
wat sedert 1998 die Hoof van die Departement Geregtelike
Geneeskunde
in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van
Pretoria is. Hy is terselfdertyd die Hoofspesialis in
Geregtelike
Patologiedienste vir Noordelike Gauteng. Soos blyk uit sy
buitengewoon indrukwekkende
curriculum vitae
, praktiseer hy
sedert 1984 as geregtelike geneeskundige en patoloog, terwyl hy
gedurende dieselfde tydperk op voor- en nagraadse
vlak lesings op sy
vakgebied aanbied. Sy ervaring as deskundige getuie, assessor en
konsultant in verskeie rigtinggewende hofsake
en ondersoeke, sowel
nasionaal as internasionaal, is merkwaardig. Hy is gereeld betrokke
by regsmediese na-doodse ondersoeke van
sterfgevalle waar die
slagoffers op onnatuurlike wyse gesterf het, die mees onlangse synde
die ondersoek, in April 2007, na die vliegramp
waarby 'n Keniaanse
vliegtuig in die Kameroen betrokke was.
[102] In
sy getuienis het Professor Saayman, met verwysing na die foto's en
ander relevante bewysstukke in hierdie saak, uit die staanspoor
die
mening gehuldig dat dit hoogs onwaarskynlik was dat die oorledene se
kopwonde deur die ornamentele hamer veroorsaak is. Hy het
toegegee
dat enkele van die wonde miskien met die gebruikmaking daarvan
versoenbaar mag wees, maar het dit steeds as onwaarskynlik
beskou. Hy
het dit oor die algemeen daaraan gewyt dat die kopwonde ooglopend
groter was as wat 'n mens van die hamer se slaanvlak
sou verwag.
Hoewel hy nie kon uitsluit dat 'n hamer gebruik is nie, het die aard
en voorkoms van die wonde eerder op die gebruikmaking
van 'n liniêre,
rigiede, staafvormige of silindriese voorwerp gedui.
[103] Professor
Saayman het die aanwending van die botteloopmaker gedeelte van die
hamer onomwonde verwerp, omdat dit vir praktiese
doeleindes 'n skerp
eerder as 'n stomp trefvlak gehad het. Behalwe in die geval van 'n
enkele wond wat die voorkoms gehad het dat
die vel redelik skoon
geklief is, was dit hoogs onwaarskynlik dat dit enige van die wonde
sou kon veroorsaak het.
[104] 'n
Verdere probleem wat Professor Saayman met die hamer as moontlike
moordwapen gehad het, was dat dit relatief klein en lig
was en
onwaarskynlik sulke ernstige wonde soos ingedrewe frakture en 'n
skedelbasis fraktuur sou kon veroorsaak het. Hy het dit juis
beskryf
as "n klein hamertjie" wat eenvoudig nie met sulke
gewelddadig veroorsaakte trauma versoenbaar was nie. Dit het
eerder
gekorreleer met 'n relatief swaar en heelwat groter voorwerp met 'n
breër trefvlak as dié van die hamer. Dit spreek vanself
dat selfs
so 'n voorwerp met groot krag aangewend sou moes gewees het om wonde
van hierdie aard tot gevolg te hê. En selfs groot
krag sou nie
maklik tot 'n skedelbasisfraktuur aanleiding gee nie. Dit is die tipe
fraktuur wat 'n mens in motorongelukke kon verwag
of waar die
slagoffer met swaar bakstene geslaan sou word. Dit sou ook kon gebeur
waar die slagoffer se kop op die vloer gestut sou
word en daar dan op
hom getrap of gestamp sou word. In hierdie verband het Professor
Saayman verwys na 'n aantal gesaghebbende handboeke
waarin die
onderwerp in fyn besonderhede met bypassende illustrasies verduidelik
is.
[105] Professor
Saayman het voorts gesuggereer dat die aard van die kopwonde sodanig
was dat die gebruikmaking van twee stompgeweld
voorwerpe nie
uitgesluit sou kon word nie. Sommige van die wonde het die voorkoms
gehad dat hulle deur 'n liniêre staafvormige voorwerp
veroorsaak kon
gewees het terwyl ander weer, soos die groot ingedrewe skedelfrakture
en die skedelbasis fraktuur, die gevolg kon
wees van houe met 'n
onreëlmatige, dog steeds swaar, voorwerp.
[106] Aan
die begin van die kruisondervraging het Adv van der Vijver dit op
rekord geplaas dat daar geen verslag van Professor Saayman
aan die
staat beskikbaar gestel is nie en dat hy getuienis gelewer het wat
nooit aan Dr Adendorff of Kaptein Maritz gestel is nie.
Hy het dit in
die vooruitsig gestel dat die staat sy opsies sou moet oorweeg om sy
saak te heropen om verdere patologiese getuienis
aan te bied. Dit was
uiteindelik nie nodig nie, maar dit spreek vanself dat die hof dit in
gedagte moet hou dat die staat hierdeur
benadeel sou kon word en dat
die getuienis van Professor Saayman met die nodige omsigtigheid
benader sou moet word.
[107] In
kruisondervraging deur Adv Teunissen het Professor Saayman dit
duidelik gemaak dat, hoewel hy nie die hamer as moordwapen
kon
uitsluit nie, veral met betrekking tot enkele van die wonde, hy dit
steeds as hoogs onwaarskynlik beskou het. Hy het dit beklemtoon
dat
dit nie sy bedoeling was om die getuienis van Dr Adendorff of Kaptein
Maritz aan te val nie. Hy wou bloot onafhanklik tot sy
eie slotsom
kom. Aan die ander kant kon hy hom nie vereenselwig met Kaptein
Maritz se transparant oefening nie, tensy dit ingevolge
streng
wetenskaplike beginsels sou geskied, wat klaarblyklik nie gebeur het
nie.
[108] Wanneer
hierdie getuienis in oorweging geneem word, moet daar desnoods tot
die gevolgtrekking geraak word dat Kaptein Maritz
die staat se saak
nie wesenlik bevorder het nie. Sy uiteindelike gevolgtrekking,
naamlik dat hy nie bo redelike twyfel die ornamentele
hamer as 'n
moontlike moordwapen kon uitsluit nie, is aansienlik verwyder van die
las wat op die staat rus om aan te toon dat dit
bo redelike twyfel
wel as moordwapen gebruik is. In effek kom dit daarop neer dat hy dit
nie as wapen kon uitsluit nie, maar ook
nie kon sê dat dit
waarskynlik aldus gebruik is nie.
[109] Die
toetse wat Kaptein Maritz met transparante gemaak het was op die oog
af aantreklik, maar het klaarblyklik nie voldoen aan
die
wetenskaplike presiesheid wat vir die akkuraatheid van so 'n toets
geverg word nie, soos tereg deur Professor Saayman uitgewys.
Daarbenewens was sy toetse met die hamer, wat later vervang is met 'n
soortgelyke hamer, geheel en al onbetroubaar. Dit grens myns
insiens
aan die onprofessionele dat hy in sy beëdigde verklaring nie 'n
woord gerep het oor die buig van die ornamentele hamer se
botteloopmaker gedeelte en die latere vervanging daarvan met 'n
soortgelyke hamer nie. Hierdie verswyging het inderdaad sy getuienis
as geheel gekleur.
[110] Die
getuienis van Professor Saayman, wat in alle opsigte sy reputasie as
'n voorste kenner op sy gebied gestand gedoen het,
was myns insiens
helder, duidelik en wetenskaplik gefundeer. Die staat het weliswaar
te kenne gegee dat hy oorweeg om 'n patoloog
te roep om as teenvoeter
vir hom te dien. Dit het egter nie gebeur nie, met die gevolg dat sy
getuienis alleen staan as 'n weergawe
wat op geregtelik geneeskundige
beginsels geskoei en verantwoordbaar is. Hoewel hy tereg krities was
oor die staat se beperkte patologiese
getuienis en oor die gebrek aan
presiesheid by Kaptein Maritz se toetsings, was hy telkens bereid om
toegewings te maak oor moontlikhede
wat aan hom gestel is. Hy het
egter voet by stuk gehou by sy mening dat, al kon hy nie die hamer as
moontlike moordwapen uitskakel
nie, dit hoogs onwaarskynlik was dat
dit die wonde aan die oorledene se kop veroorsaak het.
[111] Hierdie
gevolgtrekking word ondersteun deur die feit dat daar geen bloed aan
die hamer gevind kon word nie en dat dit slegs
spore van manlike
genetiese materiaal geopenbaar het. Dit is in ieder geval hoogs
onwaarskynlik, indien dit inderdaad 'n moordwapen
was, dat die
beskuldigde dit heeltemal vrywillig aan Mnr Boet Claassen sou genoem
het toe hy verneem het dat daar op 'n hamer in
die oorledene se
woonstel beslag gelê is. Nog meer onwaarskynlik is die suggestie
dat, indien hy dit self as moordwapen gebruik
het, hy dit agter in sy
bakkie sou los en aan die polisie sou uitwys toe hulle op die bakkie
beslag wou lê. Dit mag wees dat dit
nie as 'n waardevolle bate
beskou kon word toe die polisie hom vra of hy enigiets van waarde in
die bakkie het nie. Aan die ander
kant was dit die eerste Kersgeskenk
wat hy van die oorledene ontvang het en hy sou logieserwys
sentimentele waarde daaraan heg.
[112] Dit
volg dus dat die hof noodwendig die waarskynlikheid moet uitsluit dat
die ornamentele hamer as moordwapen gebruik is. Daar
is eenvoudig nie
genoegsame getuienis om die staat se bewerings in hierdie verband te
staaf nie.
DIE VINGERAFDRUK OP DIE DVD HOUER
[113] Die
bewering dat die beskuldigde se vingerafdruk gevind is op 'n DVD
houer in die oorledene se woonstel, was kontroversieel
nog voordat
die verhoor 'n aanvang geneem het. Die verdediging het dit vroeg
reeds beskryf as gefabriseerde getuienis wat die regverdigheid
van
die saak teen die beskuldigde in die gedrang gebring het. Soos reeds
vermeld, het die oorledene om 15:07 op 16 Maart 2005 die
DVD by The
Video Place uitgeneem. Daarna het sy dit by haar woonstel uit sy
houer gehaal en in die DVD speler geplaas, waar dit steeds
was toe
haar liggaam die aand ontdek is. Die leë houer het op 'n tafeltjie
tussen die rusbank, waar sy gelê het, en die televisiestel
oopgelê.
Indien dit inderdaad die beskuldigde se vingerafdruk daarop was, sou
dit beteken dat hy ná 15:07 by haar woonstel was
en nie by sy werk
nie. Uit die aard van die saak sou dit sy
alibi
vernietig.
[114] Die
vingerafdruk voorval het die oggend van 17 Maart 2005 'n aanvang
geneem toe 'n span ondersoekers van die Paarl PKRS op die
moordtoneel
na vingerafdrukke gesoek het. Inspekteur Mariaan Booysens het die
betrokke DVD houer met aluminiumpoeier behandel en
identifiseerbare
vingerafdrukke daarop gekry. Konstabel Elton Swartz het die houer toe
na die werkoppervlakte of toonbank in die
kombuis geneem en die
vingerafdrukke met folien gelig. Hy het dit as folien #1 gemerk en op
die agterkant van sy toneelverslag aangedui
waar en waarvanaf hy dit
gelig het. Volgens Superintendent Bartholomew, wat in toesighoudende
hoedanigheid op die toneel aanwesig
was, het hy hierdie prosedure
persoonlik waargeneem. Hoewel hy nie self die vingerafdruk op die DVD
houer gesien het nie, het hy
dit wel op folien #1 gesien.
[115] Bykans
'n maand later, op 12 April 2005, is dit vasgestel dat die
vingerafdruk op folien #1 dié van die beskuldigde is. Intussen
het
die ondersoekbeampte, Inspekteur Deon de Villiers, die DVD houer
egter reeds op 24 Maart 2005 aan The Video Place terugbesorg.
Volgens
Superintendent Bartholomew is dit gedoen met sy goedkeuring en wel op
sterkte van 'n departementele riglyn dat, indien die
afdruk eers op
folien is, die folien dan die bewysstuk word en nie die voorwerp
waarvanaf dit gelig is nie. Om praktiese redes kon
die polisie nie
alles hou waarvan hulle vingerafdrukke gelig het nie, aangesien dit
tot 'n groot bergingsprobleem aanleiding sou
gee. Dit is louter
onsin. Ek het by meer as een geleentheid gedurende die loop van die
verhoor my ernstige misnoeë ten opsigte van
hierdie prosedure te
kenne gegee. Dit is vir my verregaande dat die polisie goedsmoeds
besit van so 'n belangrike bewysstuk kon afstaan.
Dit spreek vanself
dat die verdediging die geleentheid moes gekry het om die
oorspronklike houer verder te ondersoek. Die beskuldigde
kan nie
kwalik geneem word dat hy hom genoop gevoel het om in sy
pleitverduideliking aan te voer dat sy grondwetlike reg op 'n
regverdige
verhoor hierdeur verydel kon gewees het nie. Volgens hom
het die polisie nie alleen onreëlmatig, en oënskynlik strydig met
staande
orders, versuim om foto's van die afdruk op die DVD houer te
neem nie, maar hulle terugbesorging van die houer sou op die
vernietiging
van wesenlik belangrike getuienis kon neerkom.
[116] Die
kern van die beskuldigde se aantyging oor fabrisering van getuienis
was dat, hoewel hy erken het dat sy vingerafdruk op
folien #1
voorgekom het, hy ontken het dat dit van 'n DVD houer afkomstig was.
Hy het aangevoer, met verwysing na 'n aantal deskundige
menings, dat
die vingerafdruk van 'n glas afkomstig was en dat dit verkeerdelik
beskryf is as synde afkomstig van 'n DVD houer. Dit
het tot 'n
verskeidenheid uiteenlopende menings aanleiding gegee.
[117] Die
eerste mening was dié van Mnr Daan Bekker, 'n forensiese ondersoeker
en opgeleide vingerafdrukdeskundige van Pretoria,
wat op 25 November
2005 folien #1 ondersoek en bestudeer het. In sy verslag aan Adv de
Bruyn gedateer 29 November 2005, het Mnr Bekker
tot die
gevolgtrekking gekom dat die vingerafdruk daarop onmoontlik vanaf 'n
DVD houer ("omslag") gelig kon gewees het.
Hy het hierdie
mening op 'n aantal oorwegings gebaseer, een waarvan was dat hy dit
vreemd gevind het dat daar slegs van die beskuldigde
'n
identifiseerbare vingerafdruk op die houer sou wees. Hy sou verwag
het dat daar ook, byvoorbeeld, van die oorledene of van die
klerk by
die videowinkel of van vorige huurders van die DVD daarop sou
voorgekom het. Die beskuldigde se vingerafdruk sou in ieder
geval met
dié van sodanige persone gekontamineer gewees het, en dus beswaarlik
identifiseerbaar gewees het.
[118] Die
staat het die hulp van Direkteur Ruben Botha, die Provinsiale Hoof
van die PKRS in die Oos-Kaap, ingeroep om as onafhanklike
kundige op
Mnr Bekker se bevinding te reageer. Bygestaan deur Superintendent V L
C Meyer het hy, gedurende Desember 2005, ondersoek
gedoen na folien
#1 en ander materiaal voordat hy punt vir punt Mnr Bekker se gronde
vir sy bevinding in behandeling geneem het.
Sy gevolgtrekking was:
"Very possible that the fingerprints lifted by Constable Swartz
originate from open DVD holder as found
on coffee table on top of
magazines". In sy getuienis voor hierdie hof het hy egter 'n
glos hiertoe bygevoeg toe hy sê dat
dit nie slegs "baie
moontlik" ("very possible") was nie, maar ook "baie
waarskynlik" ("very likely")
dat die vingerafdruk op
folien #1 van die DVD houer afkomstig was.
[119] Die
verdediging se antwoord op Direkteur Botha se verslag en bevinding
was om 'n uitvoerige verslag voor te lê van Mnr Pat
Wertheim van
Tucson, Arizona in die VSA. Hy word allerweë beskou as een van die
bekendste vingerafdruk deskundiges ter wêreld.
Dit was juis hy wat
onomwonde die mening geuiter het dat folien #1 gefabriseerde
getuienis daarstel, soos blyk uit sy gevolgtrekking
in paragraaf 71
van sy verslag gedateer 20 Augustus 2006:
In summary, after a thorough analysis of lift #1, the folien
represented as having been lifted from a DVD case, after evaluating
lift #1 in light of the reports of Mr Bekker and Mr Botha, and after
numerous experiments on a variety of drinking glasses, it is
my
conclusion that lift #1 was taken from a drinking glass and was
intentionally mislabeled as having come from a DVD case. Lift
#1 has
all the characteristics of fabricated fingerprint evidence and, in my
opinion, is intentionally fabricated fingerprint evidence.
[120] Die staat het vervolgens Superintendent Keith Rance van die
Ballistieke Eenheid van die Forensiese Wetenskap Laboratorium versoek
om toetse op die folien en DVD houer uit te voer. In sy verslag,
gedateer 15 November 2006, het hy bevind:
After a visual examination of the exhibits mentioned above, I
concluded that a physical match of these items is not possible, due
to the incompatibility of the materials for such an examination.
[122] Uiteindelik is die aangeleentheid verwys na Senior
Superintendent Roger David Dixon, die Beheer Forensiese Analis
verbonde
aan die Wetenskaplike Analise Eenheid van die Forensiese
Wetenskap Laboratorium. In 'n beëdigde verklaring, gedateer 12
Desember
2006, wat hy ingevolge die bepalings van artikel 212 van Wet
51 van 1977 afgelê het, het Senior Superintendent Dixon verwys na
uitvoerige
toetse wat hy, met gebruikmaking van al die relevante
materiaal, insluitende folien #1, gedoen het. In die proses het hy
toetse uitgevoer
op verskeie DVD houers en glase wat bekom is uit die
oorledene se woonstel, vier waarvan dieselfde hoogte gehad het as die
afstand
wat tussen die twee geboë lyne op folien #1 waarneembaar is.
Met een van die glase (glas 8) het hy 'n drink-aksie laat uitvoer met
die oog daarop om die oënskynlike lipmerk, wat aan die bokant van
die folien voorgekom het, te repliseer. Hy het voorts gereël
dat
Konstabel Swartz aan hom demonstreer hoe hy die vingerafdruk wat op
folien #1 voorkom, van die betrokke DVD houer gelig het.
[123] Die
vernaamste bevindings uit hierdie toetse voortspruitend blyk uit
paragraaf 7 van die verklaring. Dit lui aldus:
As a result of my examination I determined that:
The curved parallel lines on folien 1, as described in paragraph
3.2.1, are not consistent with having come from the DVD cover,
as
described in paragraph 3.1.1. Thes lines are, however, consistent
with having come from one of the four matching glasses described
in
paragraph 6.4.
The background density of the aluminium powder on folien 1 is not
consistent with having come from a DVD cover. The DVD covers
all
retain a large amount of powder, most probably due to static build
up on the plastic. The background is, however, consistent
with
having come from one of the drinking glasses described in paragraph
6.4.
The positions of the finger and the right thumb, as seen on folien
1, is consistent with the lift having been taken from one
of the
four drinking glasses described in paragraph 6.4. In addition the
lip mark produced while drinking from glass 8 is in
the same
position as that observed on folien 1, above the left fingers.
The water droplets observed on folien 1 are consistent with water
droplets having dried on a vertical surface. They are oval
in shape
with their longitudinal axis parallel to the bottom of a glass.
The concentrations of powder observed on the two parallel lines, as
described in paragraph 7.1, and in the area in the middle
where
smearing is observed at right angles to the lines, is consistent
with an up-and-down brush action while powdering a drinking
glass
with a wet surface. The concentration of powder on the lower line
is not consistent with the line having been produced
as a result of
a first lift from the middle of the DVD cover, representing the
edge of the previous folien, but rather consistent
with an edge
having been powdered.
Die finale gevolgtrekking blyk uit paragraaf 8 van die verklaring:
In my opinion the black folien described in paragraph 3.2.1.1 was not
"lifted from a DVD" but instead lifted from one of
the four
glasses described in paragraph 6.4. The features observed on the
folien match test lifts from the glasses, and not those
made from the
DVD covers.
[124] Hierdie verklaring en die gevolgtrekkings waartoe Senior
Superintendent Dixon gekom het, het die Direkteur van Openbare
Vervolgings
van die Kaap genoop om die verklaring, onder dekking van
'n brief gedateer 13 Desember 2006, aan Adv de Bruyn te stuur. Die
eerste
paragraaf van die brief lui:
Ek bevestig hiermee dat die Staat nie meer van voorneme is om voort
te gaan met die getuienis rondom u kliënt se beweerde vingerafdruk
op die DVD omslag nie.
[125] Dit behoort die einde van die gewraakte vingerafdruk te gewees
het, maar die verdediging het die houding ingeneem dat hierdie
toegewing deur die staat hulle nie daarvan weerhou om getuienis oor
die beweerde fabrisering van die vingerafdruk aan die hof voor
te lê
nie. In hierdie verband het die beskuldigde in sy pleitverduideliking
gesê dat "die vingerafdruk-bedrog die Staat se
saak teen my
besmet". Elders het hy na die verslag van Direkteur Botha en
Superintendent Meyer verwys as "'n blatante en
oneerlike poging
… om stawing te verleen aan die klaarblyklik misleidende houding
van die SAPD dat die vingerafdruk op folien 1
van 'n DVD houer af kom
instede van 'n glas".
[126] In
die lig van hierdie houding het Adv van der Vijver in sy
openingsbetoog te kenne gegee dat die staat inderdaad nie met die
vingerafdruk getuienis voortgaan nie, behalwe vir sover dit nodig mag
wees om die verdediging se bewerings van bedrog te weerlê.
Dit het
ongelukkig tot gevolg gehad dat die staat 'n aansienlike hoeveelheid
getuienis hieroor voorgelê het. Dit het op sy beurt
tot uitgerekte
kruisondervraging en, meer nog, tot die aanbied van getuienis deur
twee buitelandse deskundiges, Mnr Pat Wertheim
van die VSA en Mnr
Arie Zeelenberg van Nederland, aanleiding gegee. Hierdie getuies het
in wese, die bevindings van Senior Superintendent
Dixon beaam en
gesuggereer dat daar iewers in die prosedure wat deur die
ondersoekspan gevolg is, 'n ernstige fout moes ingesluip
het. Hoewel
hierdie deskundiges dit beskou het as 'n opsetlike fabrikasie, kan
dit nie uitgesluit word nie dat dit miskien aan nalatigheid
of louter
onbevoegdheid gewyt sou kon word. Vir teenswoordige doeleindes is dit
egter irrelevant aangesien die meriete van die saak
beslis kan word
sonder om hieroor tot 'n beslissing te geraak.
[127] Dit
is natuurlik so dat ek in my uitspraak ten opsigte van die
ontslag-aansoek ingevolge artikel 174 van Wet 51 van 1977 die
mening
geuiter het dat, hoewel die staat te kenne gegee het dat hy nie op
die vingerafdruk getuienis sou steun nie, die getuienis
voor die hof
was en op eie meriete beoordeel moes word. Dit beteken nie dat dat
die verklaring van Senior Superintendent Dixon eenvoudig
geïgnoreer
mag word nie, al is dit nie deur getuienis bevestig nie. Volgens die
bepalings van artikel 212(4)(a) en (8)(a) van Wet
51 van 1977 dien sy
verklaring voor hierdie hof as
prima facie
bewys van die
inhoud daarvan. Dit sou slegs deur aanvaarbare getuienis tot die
teendeel weerlê kon word.
[128] Wanneer
die staatsgetuienis in oorweging geneem word, wil dit nie voorkom of
die getuienis van Direkteur Botha bedoel was om
Senior Superintendent
Dixon se verklaring te weerspreek of neutraliseer nie. Inteendeel, sy
getuienis was in 'n groot mate 'n aanvulling
daartoe in die sin dat
hy nie kon ontken dat die vingerafdruk op folien #1 van 'n glas
afkomstig was nie. Volgens hom kon dit egter
ook van 'n DVD houer
gekom het. Hy kon nie die een of die ander uitsluit nie.
[129] 'n
Soortgelyke houding blyk uit die getuienis van Kaptein Jan Albert
Bester, wat in die relevante stadium verbonde was aan die
PKRS te
Kaapstad. Volgens hom sou hy, uit 'n visuele waarneming van folien
#1, nie 'n glas of 'n DVD houer kon uitsluit nie. Die
afdruk op die
folien was egter kenmerkend van 'n glas en die merk op die folien,
wat as 'n lipmerk beskryf is, sou hy as 'n lipmerk,
eerder as 'n
vingermerk, beskou. In hierdie verband het hy getuig dat die beste,
en inderdaad die enigste, persoon wat daaroor met
sekerheid sou kon
getuig, die persoon sou wees wat die afdruk gelig het, naamlik
Konstabel Swartz. Hierdie mening kom ooreen met
die mening van
Direkteur Botha, wat eweneens getuig het dat slegs Konstabel Swartz
met enige sekerheid sou kon sê waarvanaf die
afdruk kom.
[130] Wanneer
daar nou gekyk word na Konstabel Swartz se getuienis, blyk dit dat hy
in die relevante tyd minder as twee jaar lank
by die PKRS was en dus
betreklik beperkte ondervinding gehad het. Hy was klaarblyklik nog
nie 'n deskundige op die gebied van vingerafdrukke
nie, maar bloot,
soos hy dit self gestel het, "'n ondersoeker van
vingerafdrukke". Die eerste vingerafdruk wat hy op 17
Maart 2005
op die misdaadstoneel gelig het was dié wat deur Inspekteur Booysens
aan hom op die DVD houer as 'n identifiseerbare
afdruk uitgewys is.
Hy het die houer na die kombuisblad geneem en die afdruk, wat aan die
buitekant daarvan was, met folien gelig.
Hy het juis folien gebruik
omdat Inspekteur Booysens aluminium (silwer) poeier daarop gebruik
het. In sy toneelverslag het hy hiervan
'n nota gemaak wat gelui het:
"Fingerprint lifted from DVD disc holder which was found on a
coffee table in the lounge of the
flat and showed sideways to the
left".
[131] Oor
die presiese prosedure wat hy gevolg het, het Konstabel Swartz getuig
dat hy twee foliene aan die voorste buitekant van
die houer, waarvan
die oopmaak-kant na regs voor hom was, aangebring het. Om aan te toon
wat die bokant van die folien was, het hy
die hoekie daarvan
afgeknip. Hy het die plastiekomhulsel van die foliene afgehaal en toe
eers aan die onderkant en daarna aan die
bokant van die houer 'n
folien geplak. Daar was nie identifiseerbare vingerafdrukke op die
onderste folien waarneembaar nie. Hy het
dit dus in sy tas gesit en
later vernietig. Op die boonste folien was daar wel identifiseerbare
vingerafdrukke. Hy het aan die agterkant
daarvan 'n plakker
aangebring waarna hy dit met gom verseël en as folien #1 genommer
het. Die enigste ander folien wat hy gebruik
het, was een waarmee hy
'n vingerafdruk van die glas op die koffietafel gelig het. Dit het hy
as folien #2 beskryf. Verder het hy
nege oppervlaktes met kleefband
("scotch tape") gelig. Toe hy later die oggend op sy
kantoor in die Paarl aangekom het,
het hy die relevante inligting
agterop die folien en kleefband bewysstukke geskryf. Hy het dit toe,
saam met die toneelverslag, in
'n bewysstuk-koevert gesit en na die
Outomatiese Vingerafdruk Identifikasie Stelsel ("OVIS")
operateur vir inskandering
geneem. Daarna het hy dit aan Kaptein
Matheus vir sy vier-en-twintig uur inspeksie voorgelê.
[132] Toe
hy verder in hoofondervraging oor die prosedure uitgevra is, het hy
gesê dat hy die inskandering laat doen het voordat
hy die relevante
inligting agterop die bewysstukke aangebring het. Nadat hy dit vir
inspeksie deurgestuur het, het hy niks meer daarmee
te doen gehad
nie. Toe hy egter nog verder daaroor ondervra is, het hy getuig dat
hy wel, na fotografering van die bewysstukke, die
foto's daarvan
terugontvang het vir aanbring in die grootboogkaart wat hy saamgestel
het.
[133] In
kruisondervraging het Konstabel Swartz aangedui dat daar moontlik 'n
oorvleueling van die twee stukke folien was, in die
sin dat die
onderkant van die boonste folien die bokant van die onderste folien
effens kon oorskry het. Hy kon nie met sekerheid
sê waar presies op
die houer die vingerafdruk was nie. Daar is nie op die toneel enige
foto's van die identifiseerbare vingerafdrukke
geneem nie omdat dit
nooit voorheen gedoen is nie. In ieder geval het die ondersoekspan,
wat ingesluit het vingerafdrukdeskundiges
soos Superintendent
Bartholomew, Inspekteur Booysens en Inspekteur Coetzee, nie gedink
dat dit noodsaaklik is nie.
[134] Konstabel
Swartz het toegegee dat hy strydig met die toepaslike beleid opgetree
het toe hy nie die oggend op die toneel die
relevante inligting
agterop folien #1 en die ander bewysstukke geskryf het nie. Sy
verduideliking was dat hy al die nodige inligting
op die
toneelverslag aangebring het en dit sou vir hom geriefliker wees om
die middag rustig op kantoor al die bewysstukke op te
skryf. Die
probleem is dat hy nie notas gehou het van die tye waarop hy die
afdrukke op folien of kleefband gelig het nie, maar tog
blyk presiese
tye agterop elke bewysstuk. Hoewel die tye oneweredig versprei was,
het hy aangevoer dat hy op sy geheue staatgemaak
het. In ieder geval
was dit slegs benaderde tye.
[135] Konstabel
Swartz is verwys na 'n beëdigde verklaring wat hy op 18 Julie 2005
voor Direkteur Trollip afgelê het. Daarin het
hy gesê dat hy nie
alles kon onthou wat hy op die toneel hanteer het nie. Hy het egter
wel onthou dat hy 'n DVD houer, wat aan beide
kante gepoeier was,
gehanteer het. Hy het slegs een folien gebruik om die afdrukke te lig
aangesien hy tevrede was dat die ander
merke op die houer nie
identifiseerbaar was nie. Toe hy die folien daarop plaas het hy die
oopmaak kant as bokant gebruik. Hy het
toegegee dat hy strydig met
beleid opgetree het toe hy nie die folien en kleefband bewysstukke
deur 'n onpartydige persoon laat teken
het nie. Dit was sy eie
besluit om nie die bewysstukke na een van die ander vingerafdruk
ondersoekers te neem vir handtekeninge nie,
aangesien hy van oordeel
was "dat ons almal in dieselfde mate betrokke was met die
ondersoek". Dit, het hy getuig, was
"standaard optrede"
waar geen privaat persoon by die toneel beskikbaar was nie. Kennelik
het hy geen van sy kollegas hieroor
geraadpleeg nie.
[136] Dit
is uit hierdie getuienis duidelik dat Konstabel Swartz op sy eie
weergawe 'n aantal onreëlmatighede begaan het waarvoor
hy nie 'n
bevredigende verduideliking kon gee nie. Daarbenewens is daar
wesenlike weersprekings tussen sy getuienis en sy voormelde
beëdigde
verklaring ten opsigte van die aantal foliene deur hom aangewend op
die DVD houer en die posisie van die oopmaak kant daarvan
ten tye van
die lig van die afdrukke. As getuie het hy 'n swak indruk gemaak. Hy
was geneig om ontwykend te wees en om bykans onverstaanbare
antwoorde
te verstrek op eenvoudige vrae. Oor die algemeen sou hy beswaarlik as
'n betroubare getuie aangemerk kon word.
[137] Kaptein
Matheus het die staat se saak nie enigsins bevorder nie. Volgens hom
was dit hy, en nie Konstabel Swartz nie, wat die
oorspronklike
bewysstukke, insluitende folien #1, na OVIS vir inskandering geneem
het. Hy het glo daarvoor gewag en, toe hy dit terugontvang,
het hy
dit in 'n laai in sy lessenaar toegesluit vir vyf dae totdat hy dit,
op die vyfde dag, vir fotografering geneem het. Daar
was egter geen
bewys dat hy dit wel na OVIS geneem het nie en hy kon ook nie onthou
aan wie hy dit vir inskandering gegee het nie.
Die rede waarom hy die
bewysstukke in sy laai gehou het was dat, in so 'n ernstige saak,
senior offisiere mag skakel om te verneem
of daar enige resultate is,
in welke geval hy dan die korrekte inligting aan hulle sou kon gee.
In kruisondervraging het hy hierdie
rede enigsins aangepas deur te
noem dat hy tydens die verdaging die datums nagegaan het en vasgestel
het dat dit 'n langnaweek was.
Senior offisiere het hom egter nogtans
gebel om inligting van hom te bekom.
[138] Ook
Kaptein Matheus het voor Direkteur Trollip 'n beëdigde verklaring,
gedateer 7 Maart 2006, afgelê, waarin hy te kenne gegee
het dat hy
op 18 Maart 2005 die bewysstuk koevert van Konstabel Swartz ontvang
het. Nadat hy elke bewysstuk nagegaan het en geen
ongerymdhede gevind
het nie, het hy dit op dieselfde dag vir fotografering gestuur. Tog
blyk dit later uit hierdie verklaring dat
hy dit eers op 23 Maart
2005 vir fotografering gestuur het en eers op 29 Maart 2005 in die
sogenaamde "folienregister"
aangeteken het. Hy het besef
dat dit 'n oorsig aan sy kant was om so lank te neem om dit te doen,
maar hy was tevrede dat die inskrywings
op die bewysstuk koevert
genoegsame bewys van die hantering daarvan was.
[139] Kaptein
Matheus was eweneens nie 'n indrukwekkende getuie nie. Soos blyk uit
sy getuienis en beëdigde verklaring, was hy ontwykend
en het hy hom
telkens weerspreek. Oor die algemeen het hy uiters onbevredigende
verduidelikings aangebied vir wat klaarblyklik onreëlmatige
optrede
was in sy hantering van die bewysstukke, insluitende folien #1. Sy
getuienis kan hoegenaamd nie as betroubaar beskou word
nie.
[140] Hieruit
volg dit dat die staat geensins genoegsame getuienis aangebied het om
die
prima facie
saak, soos vervat in Senior Superintendent
Dixon se verklaring, in die geringste mate aan te tas nie. Hierdie
prima facie
saak is inderdaad aansienlik versterk deur die
hoogs deskundige aanbiedinge van Mnre Wertheim en Zeelenberg. Hulle
intensiewe kennis
en kundigheid, en hulle wydreikende ervaring wat
aan hulle internasionale roem besorg het, het in hulle getuienis
sterk na vore gekom.
[141] In
sowel hulle omvangryke verslae as hulle indrukwekkende getuienis, het
hulle punt vir punt die bevindings van Senior Superintendent
Dixon in
sy verklaring onderskraag en verder uitgebrei. Vir teenswoordige
doeleindes is dit onnodig om in enige besonderhede daarmee
te handel,
buiten om aan te dui dat beide dit onomwonde gestel het dat die
vingerafdruk op folien #1 onmoontlik van 'n DVD houer
afkomstig kon
gewees het. Hulle was beide die mening toegedaan dat dit van 'n
kegelvormige ("conical") glas ongeveer tagtig
millimeter in
hoogte gekom het. Dit het beteken dat die beskrywing agterop folien
#1 foutief was.
[142] Hoewel
beide hierdie deskundiges onder die indruk was, soos reeds vermeld,
dat folien #1 'n doelbewuste fabrisering van getuienis
daargestel
het, is dit nie, vir doeleindes van die onderhawige saak, nodig om
daaroor enige bevinding te maak nie. Dat daar moontlik
ernstige
onreëlmatighede mag plaasgevind het, een of meer waarvan tot die
foutiewe beskrywing van folien #1 aanleiding mag gegee
het, is
bepaald debatteerbaar. Daar is egter nie genoeg getuienis voor
hierdie hof om met enige sekerheid te bevind dat dit aan opsetlike
optrede deur die polisie te wyte was nie. Dit mag trouens die gevolg
gewees het van nalatigheid of bloot onbevoegdheid.
[143] Dit
volg dus dat hierdie hof noodwendig moet bevind dat die staat nie
daarin geslaag het om te bewys dat die beskuldigde se
vingerafdruk op
folien #1 van die DVD houer afkomstig was nie. Die waarskynlikhede is
oorweldigend dat dit inderdaad van 'n glas
gekom het, al is dit nie
duidelik vanaf welke glas nie. Daar rus natuurlik nie 'n las op die
verdediging om aan te toon vanaf welke
glas dit moontlik, of
waarskynlik, gekom het nie. Dit sal ongelukkig 'n onbeantwoorde vraag
moet bly.
DIE MOTIEF VIR DIE MOORD
[144] Die staat se saak ten opsigte van die vraag of die beskuldigde
'n motief gehad het om die oorledene te vermoor, het grotendeels
gedraai om die brief wat sy die oggend aan hom geskryf het. Ook sy
gedrag voor en nadat hy verneem het van haar dood was in hierdie
verband van belang. Die primêre vraag is of die gebeure by die
oorledene se woonstel die aand van 15 Maart en oggend van 16 Maart
2005, gesien teen die agtergrond van haar verhouding met die
beskuldigde, genoegsame rede vir hom was om haar te wou vermoor.
Sekondêr
hiertoe is die vraag of, op die veronderstelling dat daar
inderdaad 'n motief vir die moord bestaan het, die beskuldigde
daardeur
gedryf kon gewees het om, met oortuigende toneelspel en fyn
beplanning van 'n oënskynlik waterdigte
alibi
, die moord te
pleeg.
[145] In
hierdie verband het die staat gesteun, onder andere, op 'n
misdaadtoneel analise ("Crime Scene Analysis") van Dr
G N
Labuschagne, 'n Senior Superintendent in die SAPD en die bevelvoerder
van die Sielkundige Ondersoek Eenheid ("Investigative
Psychology
Unit") te Pretoria. Sy besondere deskundigheid op die gebied van
die profielsamestelling van misdadigers en die forensies-sielkundige
ondersoek van ernstige misdade en misdaadtonele blyk ten duidelikste
uit sy indrukwekkende reeks kwalifikasies en sy uitgebreide
kliniese
en forensiese ervaring, sowel nasionaal as internasionaal. In sy
volledige verslag, gedateer 29 Januarie 2007, oor die huidige
saak
het hy tot die volgende gevolgtrekking gekom:
It is my opinion that the motive for this murder was a personal one
due to the circumstances under which the crime was committed
and the
type of aggression displayed towards the victim. Therefore the
offender must have been well-known to the victim and motivated
by
anger.
[146] Die oorledene se brief, wat gedateer is 16 Maart 2005 en gerig
word aan "Liewe Fred", vertoon aan die bokant van
die
eerste bladsy twee kruisies en 'n hartjie by die datum en vier
kruisies, 'n hartjie en 'n glimlaggende gesiggie by sy naam. Die
hartjies is bekende simbole vir liefde, die kruisies vir soentjies en
die glimlaggende gesiggie vir geluk. Die liggaam van die brief
lui
aldus:
Hierdie brief gaan bietjie moeiliker gaan as email (kan nie delete en
sinne oor en weer verander nie

),
maar ek moet hierdie goedjies vanoggend van my hart af kry.
Ek is
jammer dat jy vanoggend so deurmekaar hier weg is - ek was aanvanklik
onredelik en toe het die hele storie net uit beheer geraak.
Eerstens
oor jou en jou broers …
Ek bid dat
God jou sal wysheid gee in hoe om die situasie te hanteer en dat
julle dit wat tussen julle staan sal uitsorteer. Onthou,
ek is ALTYD
daar as jy wil praat en ek wil BAIE graag deel wees van jou lewe en
probeer verstaan waardeur jy gaan.
Die
dingetjies wat my pla op die oomblik …
Ek is
werklik jammer oor party van die goed wat ek vanoggend kwytgeraak
het. My grootste fout van die afgelope tyd was on my sekuriteit
en
oplossing vir 'n swak selfbeeld in jou te vind i.p.v. in God. Ek het
dit nie besef tot vanoggend/nou nie, maar God het ongelooflike
maniere om met 'n mens te kom praat en ek besef nou dat ék eintlik
die onregverdige een was nié jý nie.
Verder is
ek ongelooflik bang vir die Paasnaweek en dat jy my pa sal sien as hy
te veel gedrink het. Ek wil jou nie op só 'n manier
verloor nie en
ek wil nie hê jy moet daardie kant van ons familie sien nie. Dit
klink seker simpel, maar dit is werklik vir my 'n
groot bekommernis.
En
laastens die gewone ou goedjies - werk, CT1 [skynbaar die afkorting
van 'n vak wat sy geloop het], gaan ek werk kry? wat gaan ek
met my
woonstel maak? ens ens Dit klink nou so simpel as ek dit op papier
neerskryf, maar dit is net reg dat jy weet wat aangaan.
[die woord
"Eintlik" word hier deurgehaal] Wil jou net nie
herhaaldelik pla met dieselfde issues nie!
Jammer dat
ek soms vergeet dat jy net 'n mens is - ek kyk só op na jou en het
soveel respek vir jou, jou menings en die manier hoe
jy probleme
hanteer, dat ek soms nie besef dat jy ook soms slegte dae het of
sommer net seerkry nie. Ek weet nie altyd hoe om jou
te ondersteun
nie en of jy hoegenaamd ondersteuning nodig het/wil hê nie … ek
verstaan nie hoe jy seerkry verwerk of hanteer nie
- jy sal my asb.
moet leer om jou in hierdie opsig te verstaan en hoe om jou te
ondersteun.
Ek voel
dat ek jou teleurstel as ek nie by bg. goed reg doen nie en dat jy
verdien om 'n pragtige meisie te hê wat mooi lyk, kan
kos kook (

) !! ) en wat in alle opsigte net so perfek is soos jy - en ek
sukkel soms om daarby uit te kom - miskien is dit wat vir my die
moeilikste
is … Ek weet wel jy verwag dit nie van my nie, maar dan
moet jy my asb. wys hoe om die perfekte meisie vir JOU te wees. Ek is
baie
lief vir jou en ek wil nie verder soek nie - môre is dit 'n
jaar vandat ek op jou verlief geraak het:

(die 1
ste
Woensdagmiddag wat jy alleen by my kom koffie
drink het

) -
en ek het nog nie van daardie dag af 'n oomblik getwyfel dat dit jy
is wat ek wil hê nie. Jy het my lewe op soveel maniere verryk
en
elke dag saam met jou is die grootste geskenk waarvan 'n mens kan
droom.
Jy hoef
NOOIT
weer vir een oomblik te twyfel dat ek absoluut committed
is en dat ek met alles in my vir altyd by jou wil wees nie. Ek wil
vandag
belowe dat ek nie meer afhanklik sal wees van jou vir 'n goeie
selfbeeld en vir sekuriteit nie, maar dat ek na God toe sal gaan
daarmee,
dat ek jou sal ondersteun in alles wat jy doen en dat ek
absoluut eerlik sal wees met jou in alle gebiede van my lewe. Ek kan
ook
vandag vir jou belowe dat ek met God se genade altyd 'faithful'
sal bly en dat ek [die woorde "jou nooit sal verneuk nie"
is deurgehaal] nooit iets agter jou rug sal doen nie. Ek is lief vir
jou met my hele hart en daar is by my geen twyfel dat ek die
res van
my lewe saam met jou wil deurbring nie.
Sterkte
met alles by die werk …
Al my
liefde [gevolg deur twee kruisies, twee hartjies en weer twee
kruisies]
[147] Volgens die beskuldigde was daar ook 'n ongedateerde kort
briefie in die koevert wat die oorledene die oggend aan hom gegee
het. Inteenstelling met die lang brief, wat aan weerskante van 'n vel
A4 grootte gelinieerde skryfpapier geskryf is, was die kort
briefie
geskryf op 'n vel gekleurde papier met hartjies op. Dit het gekom uit
'n skryfblok wat in die oorledene se woonstel gevind
is en het soos
volg gelui:
Hi Skat!
Ek wil ook
sommer net sê hoe baie ek jou waardeer en hoe special jy is!
Dankie vir
jou liefde, ondersteuning en sagte hart en dat jy ALTYD bereid is om
te luister na my klein probleempies!
Ek is
BAIE, BAIE, BAIE lief vir jou!
Sterkte
met jou dag en week en weet Jesus is elke oomblik by jou!
Liefde en
xx
Inge
Ps. Jy is
die hele tyd in my gedagtes en gebede … I
[148] Op die oog af het ons hier te doen met twee briewe waarvan die
gees en inhoud aansienlik verskil en wat 'n mens nie in dieselfde
koevert sou verwag nie. Dit is egter moontlik dat, nadat die
oorledene die eerste brief, met sy bespreking van sake wat
klaarblyklik
vir haar van groot erns was, neergepen het, sy die
tweede briefie in 'n meer spontane trant geskryf het. Ter aanvulling,
en moontlik
met die oog op tempering van die erns van die eerste
brief, wou sy in die tweede briefie aan die beskuldigde die
versekering gee
dat sy hom baie lief het en waardeer vir sy besondere
kwaliteite.
[149] Vir
onderhawige doeleindes is dit van weinig belang of die kort briefie
saam met die lang brief in die koevert was of nie. Die
enigste
wesenlike relevansie daarvan is eintlik dat die beskuldigde die kort
briefie die volgende oggend (en nie die vorige aand
nie, soos
foutiewelik in sy pleitverduideliking vermeld) op Mev Lotz se versoek
aan haar gegee het. Hy wou nie die lang brief ook
aan haar gee nie
omdat hy bekommerd was dat die inhoud daarvan haar sou ontstel. Toe
die oorledene die oggend dit aan hom gegee het,
het sy juis gevra dat
hy dit nie moet laat rondlê of in ander se hande laat beland nie, en
wel omdat dit privaat en persoonlik was.
Hy het toe die koevert met
beide briewe geplaas in 'n lêer op sy lessenaar in die woonstel wat
hy met Marius Botha gedeel het. Op
sy versoek het Marius dit na hom
gebring.
[150] Die
persoonlike aard van die lang brief is deur die beskuldigde bevestig
in 'n dekbriefie gedateer 29 Maart 2005 wat hy aan
die
privaatspeurder, Mnr Boet Claassen, gerig het toe hy 'n afskrif van
die lang brief aan hom gegee het. Dit lui:
Hallo oom. Hier is die brief wat ek van gepraat het. Oom kan maar
lees en besluit of dit vir julle enige waarde het. Ek twyfel, maar
wil net nie iets wegsteek nie.
Die brief
is baie persoonlik, en as dit kan sal ek dit baie waardeer as dit nie
in te veel ander mense se hande beland nie.
Maar doen
maar wat ook al nodig is om julle te help in die ondersoek.
Bel my
asseblief gerus as oom enige vrae het oor die brief of enige iets
anders.
Baie
sterkte met alles. Ek bid vir julle ook.
Fred.
P.S. Die
belangrikste vir my is maar net dat die paragraaf wat oor haar pa
gaan op 1
ste
bladsy net asseblief nie by oom Jan
[Professor Lotz] moet uitkom nie (as dit kan). Dankie.
[151] Dr Labuschagne het op versoek van Direkteur Trollip, soos in 'n
inligtingsnota gedateer 27 Julie 2005 vervat, die lang brief
geanaliseer teen die agtergrond van sekere dokumentasie wat aan hom
beskikbaar gestel is. Dit het ingesluit verklarings van Mev Lotz,
Wimpie Boshoff, Marius Botha en die beskuldigde. Daar is ook verwys
na 'n verklaring van Braam Kruger en briewe van Marius Botha
en die
beskuldigde. Laasgenoemde dokumente is, na die beste van my wete, nie
aan die hof voorgelê nie. Dit was moeilik om die gevoel
te ontkom
dat heelwat verdere inligting nie sy weg na die hof gevind het nie.
Waarom dit so was, sal ons seker nooit weet nie. Dit
mag egter tot
gevolg gehad het dat 'n onvolledige saak voor die hof gedien het wat
die hof moontlik in die uitoefening van sy funksies
aan bande kon
gelê het.
[152] Ietwat
steurend is die feit dat die agtergrondsfeite wat deur Direkteur
Trollip aan Dr Labuschagne verskaf is, enigsins gekleur
blyk te
gewees het. In hierdie verband is sekere bewysstukke direk aan die
beskuldigde as verdagte gekoppel, terwyl daar ook ongetoetste
bewerings gemaak is van moontlike jaloesie aan sy kant en ontrouheid
aan die kant van die oorledene. Hoewel Dr Labuschagne dit beklemtoon
het dat die analise van 'n misdaadtoneel nie gebruik kan word om 'n
spesifieke "oortreder" ("offender") aan die
misdaad te koppel nie, is dit logies dat foutiewe of gekleurde
agtergrondsfeite moontlik sy ondersoek sou beïnvloed.
[153] Wanneer
die inhoud van die lang brief van nader beskou word, is dit duidelik
dat daar wel die oggend, en miskien reeds die vorige
aand, 'n
betreklik ernstige verskil van mening tussen die oorledene en die
beskuldigde moes plaasgevind het. Haar brief was klaarblyklik
daarop
ingestel om die versteurde vrede tussen haar en die beskuldigde te
herstel en om hom te verseker van haar ewige en onvoorwaardelike
liefde en trou. Sy was sterk apologeties oor goed wat sy teenoor hom
kwytgeraak het en het die blaam vir die onenigheid tussen hulle
volkome op haarself geneem. In alle waarskynlikheid het sy, tydens
hulle meningsverskil, hom daarvan beskuldig dat hy onredelik en
onregverdig was. Dit blyk uit die feit dat sy, by nabetragting,
haarself as die onredelike en onregverdige persoon beskou het. Sy
het
dit aan haar swak selfbeeld gewyt dat sy van hom so afhanklik geraak
het, in plaas daarvan om in God haar veilige vesting te
soek. In die
proses het sy haarself verkleineer en die beskuldigde as 'n volmaakte
persoon geskilder, 'n persoon vir wie sy die volmaakte
meisie wou
wees.
[154] Die
beskuldigde het Wimpie se getuienis oor die "helse fight",
soos dit aan hom deur die oorledene weergegee is tydens
hulle
middagete samesyn, enigsins bevraagteken. Hoewel daar persoonlike
sake in die brief geopper is, het hy dit steeds as 'n liefdevolle
brief gesien. Tog blyk dit uit sy eie getuienis dat daar wel die
oggend tussen hom en die oorledene 'n betreklik ernstige
meningsverskil
was. Nie alleen het sy sy liefde vir haar betwyfel
nie, maar sy het hom ook gevra of hy van die verhouding seker is. Dit
mag wees
dat dit voortgespruit het uit sy onwilligheid om die
probleem met sy broers met haar te bespreek. Dit mag ook wees dat
haar getrouheid
teenoor hom ter sprake gekom het, in welke geval hy
dan haar liefde sou bevraagteken. Wat ook al gesê is, het haar hewig
ontstel
en tot trane gedwing.
[155] Die
oorledene het blykbaar haar ontsteltenis redelik gou onder beheer
gebring, aangesien sy kort na die beskuldigde se vertrek
haar
ouerhuis gebel het en heel vrolik oor die telefoon vir haar hondjie
op sy verjaardag gesing het. Sy het niks van die meningsverskil
tussen haar en die beskuldigde aan haar moeder, Mev Lotz, vertel nie.
Intussen moes sy die brief geskryf het en haar reggemaak het
om dit
by die Universiteit aan die beskuldigde te besorg sodra hy om 10:00
uit sy klas sou kom. Hoewel die inhoud van die brief ernstige
sake
aangeroer het, was dit steeds liefdevol en deurspek met hartjies,
soentjies en glimlaggende gesiggies. Toe sy aan hom 'n liefdevolle
SMS gestuur het om te reël dat sy aan hom die brief gee wanneer sy
klas uitkom, het hy nie die ontmoeting probeer kelder nie, maar
het
kort na mekaar twee SMS boodskappe, met liefde, aan haar gestuur om
die ontmoeting te bevestig.
[156] Indien
die beskuldigde voor sy vertrek van die oorledene se woonstel om
ongeveer 07:45 hoogs ontsteld of miskien selfs woedend
was, het dit
hom duidelik nie daarvan weerhou om normaalweg klas toe te gaan nie.
Dit het hom ook nie gekeer om die oorledene na
sy klas te ontmoet,
die kombuiskas by Merriman Furnishers te koop en kort na 11:10 by sy
kollegas by Ou Mutual aan te sluit nie.
Indien hy steeds ontsteltenis
en woede ervaar het, het hy dit uiters effektief onderdruk of
verberg, aangesien niemand dit skynbaar
opgelet het nie. Geen sweem
daarvan blyk uit die oorledene se SMS wat sy om 11:50 aan hom gestuur
het om hom te vertel van haar klas
nie. Sy het die boodskap geëindig
met: "Lief vir jou skat en lekker dag xx".
[157] Soos
reeds vermeld het Wimpie Boshoff die oorledene se mededeling aan hom
van die "helse fight" tussen haar en die
beskuldigde nie
ernstig opgeneem nie. Na sy versekering dat haar verhouding met die
beskuldigde "perfek" was, was sy blykbaar
sodanig gerus
gestel dat sy aan Wimpie meegedeel het dat sy graag teen die einde
van die jaar aan die beskuldigde verloof wou raak.
Sy was waarskynlik
verder gerus gestel toe die beskuldigde kort daarna, om 13:10, op
haar 11:50 SMS boodskap geantwoord het en sy
waardering vir haar
brief uitgespreek het. Hy het sy boodskap beëindig met die woorde:
"Lief vir jou skat F xx". In haar
reaksie hierop om 13:36
het sy haar boodskap op soortgelyke wyse beëindig deur te sê: "Mis
jou al klaar … xx". Hierdie
liefdevolle boodskappe oor en weer
kom op die oog af spontaan en natuurlik voor, en skep die indruk dat
die ontsteltenis van die
oggend iets van die verlede was.
[158] Die
latere gebeure waarby die beskuldigde betrokke was, neig enigsins om
hierdie indruk te versterk. Nadat hy vroegaand van
die werk af gekom
het, geëet het en die kombuiskas by Jean Minnaar se woonstel gaan
aflaai het, het hy om 20:11 'n SMS aan die oorledene
gestuur. Daarin
het hy onderneem om haar later die aand te bel "om sommer net te
gesels en jou stem te hoor". Hy het dit
afgesluit met die
woorde: "Ek is baie lief vir jou". Toe sy nie daarop
reageer nie het hy haar om 21:03 gebel, maar weer
eens geen reaksie
gekry nie. Hy het 'n boodskap op haar stempos gelaat en kort daarna,
om 21:38, op sy rekenaar 'n liefdevolle e-pos,
in antwoord op die
brief wat sy die oggend aan hom gegee het, begin tik. Hy het na haar
verwys as sy skat en het sy dank en waardering
teenoor haar vir die
brief uitgespreek, juis omdat hy haar so goed geken het en besef het
dat dit opreg, eerlik en uit die diepte
van haar hart gekom het. In
die middel van 'n sin het hy egter die brief onderbreek om weer 'n
SMS te stuur omdat hy bekommerd was
oor die feit dat hy nog niks van
haar gehoor het nie. By die verdere gebeure daardie aand het ek reeds
stilgestaan en is dit nie
nodig om dit te herhaal nie.
[159] Die
aard en gees van hierdie gebeure en kommunikasies maak dit skaars
denkbaar dat die meningsverskil tussen die beskuldigde
en oorledene
'n motief vir die moord aan die kant van die beskuldigde sou
regverdig. Indien hy sodanig met onbeheerste woede vervul
was dat hy
haar sou wou vernietig, sou 'n mens verwag dat hy daar en dan daartoe
sou oorgegaan het. Dit sou strook met die aard en
omvang van die
stomp- en skerpgeweld wonde wat die oorledene opgedoen het. Dit het
egter nie so gebeur nie. Inteendeel, beide van
hulle het, op die oog
af, binne 'n kort tydperk ten volle afgekoel en vrede gemaak, tensy
die beskuldigde deurgaans besig was met
'n fyn berekende en beplande
stuk toneelspel. En selfs al sou die moord op die oorledene met
voorbedagte rade uitgevoer gewees het,
sou 'n mens nie sulke
oordadige geweld verwag nie. Dit sou eerder versoenbaar wees met
onbeheerste aggressie wat as gevolg van intense
provokasie en op die
ingewing van die oomblik op die slagoffer losgelaat sou word,
byvoorbeeld as die moordenaar die slagoffer op
heterdaad met 'n derde
party sou betrap.
[160] Namens
die staat is dit aangevoer dat die beskuldigde se skyn van
liefdevolheid en bekommernis geveins was. Dit sou redelikerwys
van
hom verwag kon wees dat hy, na die ontsteltenis van die vorige aand
en die vroeë oggend, gretig sou wees om met die oorledene
te skakel
by die eerste die beste geleentheid. Hy het dit egter nie gedoen na
sy dag se bedrywighede om 17:00 afgehandel was en hy
in sy kantoor
voor sy rekenaar ingeskuif het nie. Hy het dit ook nie gedoen toe hy
by sy woonstel kort na 18:00 aangekom het nie.
Eers nadat hy geëet
het en Jean Minnaar se kombuiskas afgelewer het, het hy, om 20:11,
aan haar 'n SMS gestuur waarin hy onderneem
het om haar later te bel.
Daar was geen rede waarom hy haar nie onmiddellik kon bel nie. Toe
verloop daar bykans 'n uur voordat hy
haar uiteindelik wel gebel het
en by haar stempos uitgekom het. Daar het toe weer meer as 'n
half-uur verbygegaan voordat hy 'n e-pos
aan haar begin skryf het.
Dit het hy egter onvoltooid gelaat toe hy besluit het om weer aan
haar 'n SMS te stuur.
[161] Die
verdere optrede van die beskuldigde is ook deur die staat onder 'n
kritiese vergrootglas geplaas. As hy werklik bekommerd
was omdat hy
nie van die oorledene gehoor het nie, was dit te verstane dat hy na
haar woonstel wou ry. Dit was egter nie verstaanbaar
dat hy vir
Marius sou sê dat hy en Mev Lotz reeds vanaf drie-uur na die
oorledene soek nie en dat hy bang was dat sy miskien flou
geval het
omdat sy nie gesond was nie. Volgens die staat was dit leuens wat
beoog het om die beeld van 'n bekommerde vriend te versterk.
Hierdie
beeld is in 'n nuwe rat geplaas toe hy aan Mev Lotz gesê het dat
alles "oukei" sou wees en dat hy 'n kind in die
huis sou
word, as 't ware as 'n plaasvervanger van die oorledene.
[162] Dit
is wel so dat die beskuldigde in 'n vroeër stadium met die oorledene
kon geskakel het. Die uitruil van liefdevolle SMS
boodskappe
gedurende die loop van die dag sou hom egter positief gestem het en
hy sou waarskynlik nie genoop gevoel het om so gou
moontlik met haar
te kommunikeer nie. Volgens hom was hy nie oor haar welstand
bekommerd voordat sy tweede SMS om 21:39, ongeveer
'n uur-en-'n-half
na sy eerste SMS om 20:11, vir ongeveer twintig minute onbeantwoord
gebly het. Dit was toe dat hy met Mev Lotz
geskakel het om sy
bekommernis met haar te deel.
[163] Dit
was nie korrek dat die beskuldigde en Mev Lotz vanaf drie-uur die
middag na die oorledene gesoek het nie. Dit was ook nie
korrek, soos
deur die beskuldigde aan die hand gedoen, dat hy gesê het dat hulle
drie ure lank na haar gesoek het nie. Mev Lotz
het glad nie na haar
gesoek voordat sy om 22:08 van die beskuldigde 'n oproep ontvang het
nie en die beskuldigde was in daardie stadium
slegs ongeveer twee ure
lank op soek na haar. Dat hy wel vir Marius gesê dat hulle vanaf
drie-uur na die oorledene soek is deur
Marius bevestig en ook deur
Christo Pretorius, wat dit slegs van Marius kon gehoor het. Die
enigste redelike verduideliking vir hierdie
leuen is dat die
beskuldige eenvoudig oordryf het, soos mense somtyds doen wanneer
hulle sê dat hulle die hele dag lank na iets
soek wanneer dit in
werklikheid 'n veel korter tydperk was. Hierdie leuen skep egter nie
'n motief nie en die relatiewe belangrikheid
daarvan in die konteks
van die saak as geheel is na my mening gering.
[164] Die
bewering dat die oorledene aan die een of ander siekte gely en
floutes gekry het, moet in perspektief geplaas word. Volgens
Mev Lotz
het dit wel een maal gebeur dat die oorledene 'n floute gekry het toe
sy vinnig opgestaan het. In die proses het sy haar
kop teen 'n
koffietafel gestamp en haarself sodanig beseer dat sy 'n blou oog
daarvan oorgehou het. Die beskuldigde het getuig dat
dit in 2004
gebeur het toe hy en die oorledene reeds goeie vriende was. Hoewel hy
nie self by die voorval teenwoordig was nie, het
hy daaraan gedink
toe hy die oorledene nie in die hande kon kry nie. Wat hy aan Marius
gesê het was dat sy moontlik flou kon geword
het. Hy het nie gesê
dat sy aan 'n siekte ly nie. Selfs al het hy dit gesê, ontstaan die
vraag weer eens of dit nie bloot aan 'n
oordrywing gewyt kan word
nie, en weer eens is dit in die konteks van die saak van weinig
belang.
[165] Die
beskuldigde kon nie onthou of hy aan Mev Lotz gesê het dat alles
"oukei" sou wees en dat hy die kind in die huis
sou wees
nie. Indien hy dit wel gesê het, het hy nie daarmee bedoel dat hy
die oorledene se plek in haar ouerhuis sou inneem nie.
Die hof
aanvaar dat hy dit wel gesê het en dat dit vir Mev Lotz buitengewoon
ontstellend moes gewees het. Sy het so pas haar enigste
kind verloor
en dit spreek vanself dat niemand ooit in haar plek sou kon kom nie.
Dit was klaarblyklik 'n uiters vreemde aanmerking
om te maak. As dit
bedoel was om Mev Lotz te troos, het dit kennelik nie in sy doel
geslaag nie. Aan die ander kant kan dit nie,
alleenstaande of in
samehang met die getuienis as geheel, 'n motief om die oorledene te
vermoor steun of versterk nie. Uiteindelik
sou dit miskien bloot 'n
onbeholpe manier gewees het om Mev Lotz se leed te probeer versag.
[166] Die
beskuldigde se optrede toe hy by dieselfde video winkel dieselfde DVD
uitgeneem het as dié wat die oorledene op die dag
van haar dood
uitgeneem het, getuig van besonder vreemde gedrag. Me Annemarie
Thomas van The Video Place was aan diens op 16 Maart
2005 om 15:07
toe die oorledene, wat aan haar bekend was as 'n baie vriendelike en
beleefde meisie, die DVD getitel "The Stepford
Wives"
uitgeneem het. Sy was eweneens op 18 April 2005 aan diens toe die
beskuldigde 'n rekening oopgemaak het spesifiek met
die oog daarop om
dieselfde DVD uit te neem. Hy het homself aan Me Thomas voorgestel as
die oorledene se kêrel en het opgemerk dat
dit "snaaks"
was dat die oorledene so 'n DVD sou uitneem. Me Thomas het hom toe
meegedeel dat sy al reeds met die polisie
gepraat het en dat
Inspekteur de Villiers juis die DVD aan haar terugbesorg het.
[167] Die
beskuldigde het erken dat hy die DVD uitgeneem het in 'n stadium toe
hy en sy ouers by vriende in Grabouw tuis was. Mnr
Boet Claassen het
hom gevra om daarna te kyk vir geval hy daaruit iets sou kon
"agterkom". Aangesien hy saam met sy ouers
die betrokke dag
in Stellenbosch was, het hy die geleentheid benut om dit uit te neem.
Toe hy gevra is waarom hy dit nodig geag het
om homself as die
oorledene se kêrel voor te stel, was sy antwoord dat hy dit nie kon
onthou nie, maar in daardie stadium was sy
gesig al in die koerante
gewees. Almal het geweet van die saak en wie hy is.
[168] In
antwoord op 'n vraag waarom hy die DVD by daardie spesifieke winkel
uitgeneem het, het hy gesê dat Mnr Claassen hom vertel
het dat dit
die winkel was waar die oorledene dit uitgeneem het. Hy het toe reeds
geweet dat die polisie beweer het dat sy vingerafdruk
op die DVD
houer gevind is en hy wou dus daardie besondere DVD uitneem. Hy wou
ook probeer vasstel wat die prosedure was wanneer
DVD's uitgeneem
word, sodat hy miskien kon bepaal hoe sy vingerafdruk daarop kon
gekom het. Eienaardig genoeg het hy toe nooit die
DVD gekyk nie omdat
dit hom ontstel het om te dink dat die oorledene daarna gekyk het ten
tye van haar dood.
[169] Die
beskuldigde is ook getakseer oor waarom hy gesê het dat dit "snaaks"
was dat die oorledene "The Stepford
Wives", wat gaan oor
vrouens van die dorpie Stepford wat geprogrammeer was om "perfek"
te wees, uitgeneem het. Weer
eens kon hy nie onthou dat hy dit gesê
het nie, maar hy het aanvaar dat hy na die beskrywing van die DVD op
die omslag gekyk het
en dit vreemd gevind het dat die oorledene juis
hierdie DVD uitgeneem het. Dit mag natuurlik bloot toevallig wees dat
die oorledene
dit uitgeneem nadat sy in haar brief aan die
beskuldigde genoem het dat sy graag die "perfekte" meisie
vir hom wou wees,
net so "perfek" soos hy. Aan die ander
kant mag dit wees dat sy graag die DVD wou kyk juis omdat dit oor so
'n onderwerp
gaan. Hieroor kan ons bloot gis. En dit is juis die rede
waarom daar nie enige duistere motief aan die beskuldigde in hierdie
verband
toegedig kan word nie, hoe onbevredigend ook al die
verduideliking van sy optrede op die oog af mag wees.
[170] Hoewel
daar onbevredigende aspekte van die beskuldigde se getuienis in
hierdie verband was, het hy oor die algemeen 'n goeie
indruk as
getuie gemaak. Sy antwoorde was merendeels spontaan, direk en
duidelik verstaanbaar. Hy het natuurlik die voordeel gehad
om al die
getuienis en die volledige betoog van die staat aan te hoor voordat
hy getuig het. Hy het ook die voordeel gehad om vooraf
die hof se
probleme met die verdediging se betoog te verneem. Dit het hom
natuurlik in staat gestel om sy getuienis sodanig aan te
pas dat hy
die gemelde probleme kon aanspreek en die hoof bied. Sy getuienis het
egter wesenlik met sy pleitverduideliking en die
stellings wat namens
hom aan staatsgetuies gemaak is, ooreengekom. Weliswaar het hy in
sekere opsigte die getuienis van Mev Lotz
en Marius Botha weerspreek.
Sodanige weersprekings was egter nie wesenlik nie en het geen
noemenswaardige rol gespeel in die oorweging
van die beskuldigde se
alibi
of 'n moontlike motief vir die moord nie.
[171] Wanneer
al hierdie oorwegings in ag geneem word, kan die hof myns insiens nie
tot die gevolgtrekking geraak dat die staat daarin
geslaag het om by
die beskuldigde 'n motief vir die moord te vind nie. Nòg die brief
nòg die beskuldigde se gedrag in die relevante
tyd bied genoegsame
gronde vir so 'n bevinding.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[172] Dit is bekende reg dat die staat die beskuldigde se skuld bo
redelike twyfel moet bewys. Gekoppel hieraan is die ewe bekende
beginsel dat, indien die beskuldigde se weergawe redelik moontlik
waar is, hy op sy vryspraak geregtig is. Die
locus classicus
ten opsigte van hierdie beginsels is
R v Difford
1937 AD 370
,
waar Watermeyer WAR die volgende op 373 sê:
It is equally clear that no onus rests on the accused to convince the
Court of the truth of any explanation he gives. If he gives
an
explanation, even if that explanation be improbable, the Court is not
entitled to convict unless it is satisfied, not only that
the
explanation is improbable, but that beyond any reasonable doubt it is
false. If there is any reasonable possibility of his explanation
being true, then he is entitled to his acquittal …
[173] Die hof hoef nie die beskuldigde se relaas te glo nie, solank
daar net 'n redelike moontlikheid bestaan dat dit wesenlik waar
is.
Kyk
R v M
1946 AD 1023
op 1027;
S v Kubeka
1982 (1) SA
534
(W) op 537E-G. Die feit dat dit onwaarskynlik is beteken nie dat
dit verwerp moet word nie. Kyk
S v Shackell
2001 (2) SACR 185
(SCA) op 194
g-i
;
S v M
2006 (1) SACR 135
(SCA) op
183
g-i
. Aan die ander kant hoef die hof nie tevrede gestel te
word dat daar nie 'n sweempie twyfel oor die beskuldigde se skuld is
nie.
Soos Regter Denning dit gestel het in
Miller v Minister of
Pensions
[1947] 2 All ER 372
(KB) op 373H:
Proof beyond reasonable doubt does not mean proof beyond the shadow
of a doubt. The law would fail to protect the community if it
admitted fanciful possibilities to deflect the course of justice. If
the evidence is so strong against a man as to leave only a remote
possibility in his favour which can be dismissed with the sentence
"of course it is possible, but not in the least probable,"
the case is proved beyond reasonable doubt, but nothing short of that
will suffice.
[174] Dieselfde beginsels geld ten opsigte van 'n
alibi
. Die
staat dra nog steeds die bewyslas om die beskuldigde se skuld bo
redelike twyfel te bewys en daar is geen las op die beskuldigde
om
die hof oor sy onskuld te oortuig nie. Indien sy
alibi
redelik
moontlik waar is, moet hy vry uitgaan, ongeag hoe sterk die
staatsgetuienis teen hom mag wees. Om te bepaal of dit redelik
moontlik waar is, moet die hof dit nie in isolasie oorweeg nie, maar
binne die konteks van al die getuienis. Kyk
R v Biya
1952 (4)
SA 514
(A) op 521C-D;
R v Hlongwane
1959 (3) SA 337
(A) op
340H-341B;
S v Van Eck en 'n Ander
1996 (1) SACR 130
(A) op
134
j
-135
g
;
S v Mhlongo
1991 (2) SACR 207
(A) op
210
d-f
;
S v Khumalo en Andere
[1991] ZASCA 70
;
1991 (4) SA 310
(A) op
327H-I;
S v Liebenberg
2005 (2) SACR 355
(SCA) op 358
h
-359
e
.
Die afsonderlike onderdele van die getuienis vorm inderdaad 'n
mosaiek wat aan die einde van die saak as geheel in oënskou geneem
moet word. Kyk
S v Hadebe and Others
1998 (1) SACR 422
(SCA)
op 426
c-h
;
S v Van der Meyden
1999 (2) SA 79
(W);
S
v Van Aswegen
2001 (2) SACR 97
(SCA) op 100
f
-101
e
.
.
[175] Die
benadering tot omstandigheidsgetuienis is gesaghebbend uiteengesit in
die bekende saak van
R v Blom
1939 AD 188
op 202-203. Dit kom
daarop neer dat die afleiding wat die staat uit die getuienis wil
maak, met al die bewese feite moet strook en
dat geen ander redelike
afleiding daaruit gemaak kan word nie. Dit is deur Watermeyer AR
aldus gestel:
In reasoning by inference there are two cardinal rules of logic which
cannot be ignored:
The inference sought to be drawn must be consistent with all the
proved facts. If it is not, the inference cannot be drawn.
The proved facts should be such that they exclude every reasonable
inference from them save the one sought to be drawn. If they
do not
exclude other reasonable inferences, then there must be a doubt
whether the inference sought to be drawn is correct.
[176] Daar moet sorg gedra word dat die verlangde afleiding nie op
veronderstelling, gissing of spekulasie berus nie. In
S v Essack
and Another
1974 (1) SA 1
(A) op 16D het die hof met goedkeuring
verwys na wat Lord Wright gesê het in
Caswell v Powell Duffryn
Associated Collieries Ltd
[1939] 3 All ER 722
(HL) op 733:
Inference must be carefully distinguished from conjecture or
speculation. There can be no inference unless there are objective
facts
from which to infer the other facts which it is sought to
establish. In some cases the other facts can be inferred with as much
practical
certainty as if they had been actually observed. In other
cases the inference does not go beyond reasonable probability. But if
there
are no positive proved facts from which the inference can be
made, the method of inference fails and what is left is mere
speculation
or conjecture.
[177] Wanneer die staat se saak in die geheel op
omstandigheidsgetuienis berus, moet die kumulatiewe uitwerking van al
die getuienis
sorgvuldig in aanmerking geneem word. Dit beteken dat
elke omstandigheid nie afsonderlik opgeweeg moet word en die skuld al
dan nie
van die beskuldigde ten opsigte van elk daarvan bepaal word
nie. Eers aan die einde van die saak, wanneer al die omstandighede
saam
opgeweeg word, kan 'n bevinding oor die beskuldigde se skuld of
onskuld gemaak word. Kyk
R v De Villiers
1944 AD 493
op
508-509;
R v Hlongwane
1959 (3) 337 (A) op 340A;
S v Reddy
and Others
1996 (2) SACR 1
(A) op 8
c-
9
e
.
TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE FEITE EN OMSTANDIGHEDE
[178] Wanneer
die voormelde regsbeginsels op die feite en omstandighede van die
onderhawige saak toegepas word, blyk dit dat die drie
hoofmomente van
die staat se omstandigheidsgetuienis, naamlik die bloedmerk in die
gastebadkamer, die ornamentele hamer as moontlike
moordwapen en die
vingerafdruk op die DVD houer, nie staande gebly het nie. Hoe sterk
die getuienis aanvanklik op die oog af mag
gelyk het, kon dit aan die
einde van die dag nie die toets van redelike twyfel deurstaan nie.
[179] Dieselfde
geld vir die motief wat die staat na aanleiding van die oorledene se
brief en die beskuldigde se gedrag aangebied
het. Hoewel die brief
aanduidend was van ‘n betreklik ernstige meningsverskil tussen die
beskuldigde en die oorledene, is die erns
daarvan enigsins getemper
deur beide se gedrag later die dag. Dit mag wees dat hulle liefde vir
mekaar en die voortsetting van die
verhouding in ‘n stadium tydens
hulle woordewisseling te berde gekom het. Dit mag selfs wees dat die
beskuldigde so ontsteld was
dat hy oorweeg het om die verhouding te
beëindig. Daar is egter geen aanduiding dat hy so ontsteld was dat
hy die oorledene sou
wou vermoor nie. Dit strook eenvoudig nie met sy
latere aktiwiteite die dag nie en dit strook glad nie met die uitruil
van liefdevolle
SMS boodskappe tussen hom en die oorledene nie, hoe
vreemd ook al sy gedrag, nadat hy van die moord op die oorledene
gehoor het,
mag gewees het.
[180] Dit
is natuurlik nie die einde van die saak nie. Daar moet steeds
holisties na die getuienis as geheel gekyk word om te bepaal
of die
alibi
deur die beskuldigde opgewerp redelik moontlik waar is.
Dit moet beoordeel word in die lig van die hof se bevinding dat, al
het hy
eers in ‘n laat stadium getuig, hy ‘n goeie indruk as
getuie gemaak het.
[181] Selfs
al was dit uiteindelik slegs sy woord dat hy die hele middag nog by
die werk was, staan dit bo twyfel dat daar geen aanduiding
is dat hy
in enige stadium gedurende die middag ongesiens die gebou kon verlaat
en weer binnekom sonder om op CCTV kamera vasgevang
te word nie. Ten
spyte van moontlike gebreke in die sekuriteitsisteem, was daar geen
rekord van enige onreëlmatige toegang of uitgang
waarby hy betrokke
was of kon gewees het nie. Daar was geen aanduiding dat hy in enige
stadium, gedurende die relatief kort tydjie
wat hy in diens van Ou
Mutual was, enige belangstelling in die sekuriteitsisteem getoon het
nie.
[182] In
hierdie verband is dit opmerklik dat daar geen getuienis was dat
iemand by sy werk of by die oorledene se woonstel die middag
sy
kenmerkende wit bakkie met Oos-Kaapse registrasienommer gesien
uitbeweeg het of inkom nie. Ten spyte van intensiewe toetse is
geen
spoor van bloed aan sy klere of in sy bakkie gevind nie. Die
suggestie dat hy binne ongeveer een-en-‘n-halfuur ongesiens van
sy
werk kon weg glip, na die oorledene se woonstel kon ry, haar op ‘n
afgryslike manier kon vermoor en dan weer ongesiens na sy
werk kon
terugkeer sonder om in die geringste mate abnormaal op te tree, is
hoogs onwaarskynlik, indien nie onmoontlik nie. Met selfs
die fynste
beplanning sou dit na my mening eenvoudig nie prakties uitvoerbaar
gewees het nie. In ieder geval strook die aard en omvang
van die
oënskynlik onbeheerste en verwoede aanval op die oorledene geensins
met ‘n fyn beplande moord nie. Daarbenewens sou die
beskuldigde met
bykans ongelooflike toneelspelvaardighede en akteursvernuf bedeeld
moes gewees het om soiets onder geweldige tyddruk
te beplan en uit te
voer sonder om die geringste emosie te toon.
[183] As
gevolg van die wye media dekking wat hierdie saak ontvang het, met
die onvermydelike spekulasie wat daarmee gepaard gaan,
moet daar
andermaal daarop gewys word dat, hoe sterk ook al die suspisie teen
‘n beskuldigde mag wees, geen hof ooit op sterkte
van suspisie ‘n
bevinding kan maak nie. Die hof is ook pynlik bewus van die
ongelooflike hartseer wat die familie en vriende van
die slagoffer
onder hierdie omstandighede moet beleef en hoe belangrik dit vir
hulle en die hele gemeenskap is dat geregtigheid moet
geskied.
Wanneer ‘n pragtige en uiters begaafde jong meisie se lewe op
hierdie wyse onbegryplik wreed kortgeknip word, is dit te
verstane
dat die gemeenskap eis dat iemand daarvoor moet boet. Die hof kan
egter niks meer doen as wat die getuienis voor hom toelaat
nie.
[184] In
die onderhawige geval was daar kennelik nie genoeg getuienis om die
beskuldigde tot verantwoording vir hierdie afskuwelike
daad te bring
nie. In die proses het ook hy en sy familie ‘n uitgerekte tydperk
van swaarkry beleef. Die vraag ontstaan onwillekeurig
of daar in die
eerste plek genoegsame gronde was om hom voor hierdie hof te daag.
Hoe traag ek ook al is om die polisie se funksionering
te
bevraagteken, wil dit voorkom of daar in die saak se beginstadium
ondoeltreffende en soms onbeholpe ondersoekwerk plaasgevind
het.
Ongelukkig mag dit grotendeels aan gebrekkige opleiding en
onvoldoende ervaring te wyte wees.
[185] In
die lig van hierdie oorwegings bevind die hof eenparig dat die
beskuldigde se
alibi
redelik moontlik waar is en dat die staat
nie daarin geslaag het om sy skuld bo redelike twyfel te bewys nie.
Hy word onskuldig bevind
en ontslaan.
D H VAN ZYL
Regter van die Hooggeregshof