De Wet v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (8955/07) [2007] ZAWCHC 68; 2008 (5) SA 418 (C); (29 November 2007)

82 Reportability

Brief Summary

Condonation — Application for condonation of late notice — Applicant sought condonation for failure to provide written notice of intention to institute legal proceedings against the Minister of Safety and Security as required by the State Liability Act — Applicant's claim arose from alleged police misconduct resulting in permanent blindness — Notice sent 18 months after the incident — Court satisfied that the claim had not prescribed, there were valid reasons for the delay, and the respondent was not unreasonably prejudiced by the late notice — Condonation granted.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2007
>>
[2007] ZAWCHC 68
|

|

De Wet v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (8955/07) [2007] ZAWCHC 68; 2008 (5) SA 418 (C); (29 November 2007)

RAPPORTEERBAAR
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING
)
SAAKNR.
8955/07
In die
saak tussen:
ALMA DE WET, N.O.
Applikant
en
DIE MINISTER VAN VEILIGHEID EN
SEKURITEIT
Respondent
_________________________________________________________
UITSPRAAK GELEWER OP HIERDIE 29ste DAG VAN
NOVEMBER 2007
_________________________________________________________
THRING, R.:
Hierdie is ’n aansoek ingevolge art. 3(4) van
die Wet op die Instel van Regsgedinge teen Sekere Staatsorgane, No.
40 van 2002,
waarna ek gerieflikheidshalwe as “die Wet” sal
verwys, vir kondonasie van die applikant se versuim om betyds aan die
respondent
ingevolge art. 3(1)(a) van die Wet skriftelik kennis te
gee van haar voorneme om namens ene David Smit, na wie ek
gerieflikheidshalwe
as “David” sal verwys, ’n regsgeding teen
die respondent vir skadevergoeding in te stel. Die tersaaklike
bepalings van art.
3 van die Wet lui soos volg:
“(1) Geen regsgeding vir die invordering van ’n skuld word teen
’n staatsorgaan ingestel nie tensy –
die skuldeiser die betrokke staatsorgaan skriftelik kennis gegee het
van sy of haar voorneme om die betrokke regsgeding in te stel;
of
die betrokke staatorgaan skriftelik toegestem het tot die instel van
daardie regsgeding –
sonder sodanige kennisgewing; of
by ontvangs van ’n kennisgewing wat nie aan al die vereistes in
subartikel (2) uiteengesit, voldoen nie.
(2) ’n Kennisgewing moet-
(a) binne ses maande vanaf die datum waarop die
skuld opeisbaar geword het, ooreenkomstig artikel 4(1) aan die
staatsorgaan beteken
word; en
bondig uiteensit –
die feite wat tot die skuld aanleiding gegee het; en
die besonderhede van sodanige skuld waarvan die skuldeiser kennis
dra.
.....................................
(4) (a) Indien ’n staatsorgaan steun op ’n skuldeiser se versuim
om ingevolge subartikel (2)(a) ’n kennisgewing te beteken,
kan die
skuldeiser by ’n hof wat regsbevoegheid het, aansoek doen vir
kondonasie van sodanige versuim.
Die hof kan ’n aansoek in paragraaf (a) bedoel, toestaan indien
dit tevrede is dat –
die skuld nie deur verjaring uitgewis is nie;
daar gegronde rede vir die skuleiser se versuim bestaan; en
die staatsorgaan nie onredelik deur die versuim benadeel is nie.
(c) Indien ’n aansoek ingevolge paragraaf (b) toegestaan word, kan
die hof verlof tot die instel van die betrokke regsgeding verleen,
op
die voorwaardes met betrekking tot kennisgewing aan die staatsorgaan
wat die hof goedvind.”
David is op 20 Mei 1988 gebore. Sy ouers is plaasarbeiders, wie se
adresse aan die applikant onbekend is. Hulle misbruik drank.
Hulle
het belangstelling in hom verloor en hom geabandonneer. Tot Februarie
2006 het hy in haglike omstandighede in ’n plakkerskamp
te Sir
Lowry’s Pas by ’n sogenaamde “Rasta” ingewoon. Hy is erg
verwaarloos. Gelukkig is hy in Februarie 2006 deur ’n sekere
mev.
Wilhelmina Bailey, wat by die Cape Town Society for the Blind
werksaam is, by haar in haar huis ingeneem, en sy sorg nou vir
hom.
Na bewering is David op of ongeveer 1 November 2004 te Sir Lowry’s
Pas deur ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ene
Kaptein
Young, wat te Somerset-Wes gestasioneer is, met traangas direk in sy
oë gespuit. David moes toe 16 jaar oud gewees het.
Hy is nou in
albei oë permanent blind. Sekere rekords van die Hottentots-Holland
Hospitaal dui aan dat hy in November 2004 daar
behandel is nadat hy
gekla het dat hy drie weke vantevore met traangas in die oë gespuit
was, dat hy daarna nie behoorlik kon sien
nie, en dat sy oë pynlik
en rooi was.
Op 3 November 2006 het David se prokureurs ’n skriftelike
kennisgewing ingevolge art. 3(1)(a) en (2)(b) van die Wet aan die
respondent
ten opsigte van die beweerde insident versend. Dit was
natuurlik ongeveer 18 maande nadat dit ingevolge art. 3(2)(a) behoort
beteken
te gewees het. In hierdie kennisgewing het die prokureurs die
volgende besonderhede van die voorval verskaf:
“Op of omtrent 01 November 2004 en te Sir Lowry’s Pass,
Somerset-Wes (‘die misdaadstoneel’), en binne die regsgebied van
die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Kaap die Goeie Hoop Provinsiale
Afdeling, was David die slagoffer van ’n geweldsmisdaad deurdat
hy
sonder provokasie deur ’n SAPD lid, ene Kaptein Young van
Somerset-Wes SAPD tydens die uitvoering van sy werkspligte en
gedurende
sy diensbestek David agter sy nek gegryp en traangas in sy
oë gespuit het (‘die geweldsmisdaad’).”
Hulle het namens hom ook beweer dat as gevolg van
die “geweldsmisdaad” David sy sig heeltemal verloor het en hulle
het die bedrag
van R1.5 miljoen as skadevergoeding van die respondent
geëis. Op 5 Maart 2007 het die respondent se superintendent van
regsdienste
vir die Weskaap op hierdie kennisgewing gereageer deur
uit te wys dat die kennisgewing nie vir die respondent aanvaarbaar
was nie
omdat dit ontvang is meer as ses maande na die datum waarop
die beweerde skuld opeisbaar sou geword het.
Op 22 Mei 2007 het David se prokureurs die respondent se
Provinsiale Kommissaris versoek om sy besluit in die lig van die
besondere
omstandighede van die geval te heroorweeg, en om ingevolge
art. 3(1)(b) van die Wet tot die instel van ’n aksie toe te stem.
Op
7 Junie 2007 het die respondent se voormelde superintendent van
regsdienste namens hom egter skriftelik geweier om sodanige
toestemming
te verleen. Dus die nodigheid van die onderhawige
aansoek.
Op 20 Junie 2007 is die applikant op aansoek van
mev.
Bailey deur hierdie Hof as David se
kurator
ad litem
aangestel.
In art. 3(4)(b) van
die Wet word drie vereistes genoem waaraan voldoen moet word alvorens
‘n Hof ‘n aansoek
om kondonasie
ingevolge art. 3(4)(a) kan toestaan: die Hof moet naamlik tevrede
wees dat –
die skuld nie deur verjaring uitgewis is nie;
daar gegronde rede vir die skuldeiser se versuim bestaan; en
die betrokke staatsorgaan nie onredelik deur die versuim benadeel is
nie.
Mnr.
van der Schyff
,
wat namens die respondent verskyn, het betoog dat die Hof wat so ’n
aansoek oorweeg ook die betrokke applikant se vooruitsigte
van sukses
by ’n uiteindelike verhoor in ag moet neem.
Hy
het verwys na
Melane v. Santam Insurance
Company Ltd.
, 1962(4) SA 531 (A) op 532
C-D,
Casserley v. Stubbs
,
1916 TPD 310
op 312,
Law Society of the
Cape of Good Hope v. C.
, 1986(1) SA 616
(A) op 639 E en
Bills of Costs (Pty.)
Ltd. & Another v. Registrar, Cape, N.O. & Another,
1979(3) SA 923 (A) op 942 D-E.
Hy het
aangevoer dat hierdie gemeenregtelike vereiste nie deur die betrokke
wetgewing uitgesluit of afgeskaf is nie. Ek stem met hom
in hierdie
opsig saam, en ek sal binnekort weer na hierdie aspek terugkeer, wat
mnr.
van der Schyff
betoog het van belang is.
Maar eerstens wat die drie wetregtelike
vereistes vir kondonasie betref: van die eerste, naamlik dat David se
eis teen die respondent
nie deur verjaring uitgewis moet gewees het
nie, kan daar geen sprake wees dat dit nie die geval is nie. Kragtens
art. 3(a) van die
Verjaringswet, No. 68 van 1969 verjaar sy eis eers
drie jaar nadat hy mondig geword het. Op die vroegste sal dit dus op
19 Mei 2009
verjaar, naamlik drie jaar nadat hy die ouderdom van 18
jaar bereik het (sien art. 17 van die Kinderwet, No. 38 van 2005).
Die teendeel
is nie namens die respondent aangevoer nie.
Met betrekking tot die tweede vereiste, naamlik dat daar gegronde
rede moet wees vir David se versuim om betyds aan die respondent
kennis van sy eis te gee, kan ’n mens skaars aan ’n geval dink
waar die redes meer gegrond kan wees as wat hulle hier is. Hier
het
ons te doen met ‘n 16- of 17-jarige kind wat deur sy ouers
geabandonneer is, wat verwaarloos, in haglike omstandighede en sonder
enige bystand van enige volwassene in ’n plakkerskamp bly, wie se
opvoeding waarskynlik ook veel te wense oorlaat, en wat boonop
sedert
November 2004 heeltemal blind is. Daar kon seer sekerlik nie van hom
verwag word om tydiglik aan die formele vereistes van
die Wet te
voldoen het nie, of selfs van die bestaan daarvan te geweet het.
Weliswaar het daar ’n vertraging plaasgevind
vanaf Februarie 2006, toe hy onder mev. Bailey se sorg gekom het, tot
die versending
van die kennisgewing aan die respondent op 3 November
2006. Hierdie vertraging van ongeveer nege maande is egter na my
oordeel in
mev. Bailey se beëdigde verklaring voldoende verduidelik:
sy moes eers David se vader vind en met hom kontak maak, wat in die
omstandighede
nie maklik was nie, sodat hy, as David se voog,
instruksies aan die prokureurs kon gee, wat eers op 1 September 2006
plaasgevind
het. Die tydsverloop is na my oordeel nie onredelik lank
nie. Daarna het die respondent natuurlik meer as vier maande gewag
voordat
hy eers op die kennisgewing op 5 Maart 2007 gereageer het.
Mnr.
van der Schyff
het nie met enige groot geesdrif betoog dat die aansoek op hierdie
grond moes misluk nie, en ek dink tereg so. Myns insiens het die
applikant daarin geslaag om die bestaan van gegronde redes vir die
versuim aan te toon.
Die derde wetteregtelike vereiste is dat die
respondent nie deur die applikant se versuim onredelik benadeel moet
wees nie. Mnr.
van der Schyff
het in hierdie verband betoog dat die aangeleentheid na verloop van
drie jaar vir die respondent moeilik is om behoorlik te ondersoek
omdat rekords in die tussentyd verlore mag gegaan het en die geheue
van getuies mag vervaag het, en dat die respondent gevolglik
deur die
applikant se versuim benadeel is.
In die eerste plek is dit myns insiens onsuiwer om
te sê dat die nodige ondersoek deur die respondent eers nou kan
begin: die respondent
het sedert vroeg November 2006 volledige en
skriftelike kennis van David se eis via sy prokureurs in sy besit
gehad; daar is geen
rede waarom die ondersoek nie reeds ’n jaar
gelede kon begin het nie.
Tweedens kom dit uit mev. Bailey se beëdigde
verklaring voor dat David die beweerde insident nie aan die polisie
aangemeld het nie.
Hierdie bewering word nie deur of namens die
respondent weerlê nie. Daar sal gevolglik na my oordeel nie juis
veel in die vorm van
relevante rekords of aantekeninge bestaan het
wat intussen verlore kon gegaan het nie. Weliswaar beweer mev.
Rozelle Kruger, ’n
amptenaar in die respondent se diens, in haar
opponerende beëdigde verklaring dat Kaptein Young se dagboek vir die
jaar 2004 nie
in die argief opgespoor kon word nie. Maar sy skryf
hierdie probleem nie aan die tydsverloop toe nie.
Sy
sê dat die nie-beskikbaarheid van die dagboek “due to an
inadequate record keeping system occasioned by budgetary constraints”
is.
Dit is skaars iets waarvoor David
verantwoordelik gehou kan word. Die relevante polisie voorvalleboek
is volgens haar in elk geval
wel nog beskikbaar, maar daarin sê sy
is geen inskrywing oor die betrokke insident nie. In die lig van die
afwesigheid van ’n
klagte of aanmelding daarvan deur die beweerde
slagoffer, David, is dit nie verbasend nie. Mev. Kruger het Kaptein
Young gekontak.
Hy is nog altyd as getuie vir die respondent
beskikbaar, indien nodig. Hy kan egter blykbaar niks van die beweerde
insident onthou
nie.
Na sorgvuldige oorweging is ek van oordeel dat enige nadeel wat die
respondent mag gely het as gevolg van die feit dat die kennisgewing
van David se eis ongeveer 18 maande laat was, nie in die
omstandighede as onredelik bestempel kan word nie. Afgesien van die
Suid-Afrikaanse
Polisiediens en ander staatsorgane, moet menigte
ander groot instellings wat privaat is, soos byvoorbeeld banke en
groot maatskappye,
daarmee genoëe neem dat hulle soms tot drie jaar
moet wag, en by geleentheid selfs langer, waar die eiser byvoorbeeld
minderjarig
is of was, voordat hulle deur indiwidue vir
skadevergoeding of op ander eisoorsake gedagvaar word. Tog gaan daar
tot die beste van
my kennis nie stemme op dat hierdie tydsverloop in
hulle geval onbillik is, of dat dit tot regskendings of
onregverdigheid in hul
geval lei nie. Waarom moet ’n vertraging van
slegs ongeveer twee jaar dan in die respondent se geval as onredelik
beskou word?
Ook moet in hierdie verband in ag geneem word dat,
alhoewel dit nie altyd perfek of heeltemal doeltreffend werk nie, die
respondent
oor die byna onbeperkte middele van die staat beskik,
beide wat finansies en mannekrag betref. Dit sluit natuurlik in die
masjienerie
wat nodig is om gesofistikeerde rekords te hou en
behoorlik te bewaar. Daarteenoor staan David alleen, ’n arm, blinde
tienderjarige
wie se ouers hom geabandonneer het. Die stryd is hier
byna letterlik een tussen David en Goliat.
Dit bring my tot die kwessie van die applikant se vooruitsigte van
sukses by ’n verhoor. Weliswaar word die aansoek nie deur
’n
beëdigde verklaring van David self gestaaf nie. Was daar so ’n
beëdigde verklaring, sou sy saak in hierdie opsig ongetwyfeld
sterker gewees het. Daarteenoor is die feit egter dat die respondent
die bewerings wat David maak, nie ontken nie: Kaptein Young
sê net
dat hy die beweerde insident nie kan onthou nie. Die bewering dat
David se blindheid deur die polisie se traangas veroorsaak
is, is ook
deur die respondent in twyfel getrek. Dit is egter alles geskilpunte
wat by ’n verhoor behoorlik ondersoek en beslis
sal kan word, en
dit sou voorbarig van my wees om op hierdie stadium ’n mening
daaroor uit te spreek. Ek volstaan deur te sê dat
die vooruitsigte
van sukses vir die applikant myns insiens nie as so skraal beskou
moet word dat dit meer waarskynlik is dat haar
eis van die hand gewys
sal word, as andersom.
Ook is die vooruitsigte van sukses nie die
enigste gemeenregtelike faktor wat die Hof by ’n aansoek soos
hierdie in ag moet neem
nie.
In
Melane
v. Santam Insurance Co. Ltd.
,
supra
,
loc. cit
.
het
Holmes, A.R.
gesê:
“In deciding whether sufficient cause has been shown, the basic
principle is that the Court has a discretion, to be exercised
judicially
upon a consideration of all the facts, and in essence it
is a matter of fairness to both sides. Among the facts usually
relevant
are the degree of lateness, the explanation therefor, the
prospects of success, and the importance of the case. Ordinarily
these
facts are interrelated: they are not individually decisive, for
that would be a piecemeal approach incompatible with a true
discretion,
save of course that if there are no prospects of success
there would be no point in granting condonation.”
Die laaste faktor wat die geleerde Appèlregter
hier noem is myns insiens in hierdie geval van aansienlike belang,
naamlik die belangrikheid
van die saak vir die eiser. Vir David is sy
eis teen die respondent van die allergrootste belang wat ’n mens
jou kan verbeel: die
uitslag daarvan kan sy hele toekoms vir die res
van sy lewe verander; dit kan die verskil maak tussen onbepaalde jare
van ellende
en haglike, blinde armoede aan die een kant, en ’n
betreklik draaglike lewe met ordentlike behuising, mediese
behandeling, ens.
aan die ander. Die tersaaklike faktore is, soos in
Melane
se
saak,
supra, loc. cit
.,
gesê is, “interralated”: as een sterk in die guns van die
applikant tel, kan dit ’n ander een, wat nie so sterk is nie,
oortref. Die belangrikheid van die saak neutraliseer na my mening in
die onderhawige geval enige swakhede wat daar by die vooruitsigte
van
sukses van die aksie mag bestaan.
In die uitoefening van my diskresie, en om die
redes wat ek hierbo genoem het, kom ek tot die gevolgtrekking dat die
aansoek toegestaan
moet word.
Wat die koste van die aansoek betref: gewoonlik word beveel dat die
koste van so ’n aansoek koste in die geding moet wees, of
dat dit
vir latere beslissing moet oorstaan. Hierdie is egter weens sy
omstandighede ’n ietwat buitengewone geval. David se jeug,
onbeholpenheid, armoede, kwesbaarheid en sy ander persoonlike
faktore, en die feitlik lewensbelangrikheid van sy eis (van sy
oogpunt
beskou), gekoppel met die feit dat die respondent sy
bewerings oor die traangas-insident nie kan ontken nie, het ’n meer
simpatieke
houding aan laasgenoemde se kant myns insiens verdien toe
hy versoek is om sy diskresie in David se guns uit te oefen en om tot
die
instel van ’n aksie toe te stem sonder die vereiste
kennisgewing. As gevolg van die respondent se weiering om aldus toe
te stem
het hierdie aansoek nodig geword. Dit behoort nie nodig te
gewees het nie. Verdere tyd is daardeur verspil, en onnodige koste
moes
aangegaan word. Wat ook al die uitslag van die aksie mag wees,
dink ek dat regverdigheid in hierdie omstandighede vereis dat die
respondent die koste van hierdie aansoek moet betaal.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
Ingevolge artikel 3(4)(a) van die Wet op die
Instel van Regsgedinge teen Sekere Staatsorgane, No. 40 van 2002
(“die Wet”) word
aan die applikant kondonasie verleen vir die
versuim voor haar aanstelling as kurator
ad
litem
om betyds aan die respondent
ingevolge artikel 3(1)(a) van die Wet kennis te gee van die
voorgenome regsgeding waarna verwys word
in paragraaf 2 hieronder.
Ingevolge artikel 3(4)(c) van die Wet word verlof
aan die applikant verleen tot die instel van ’n regsgeding teen
die respondent
vir die verhaal van skadevergoeding voortspruitend
uit beserings wat die minderjarige kind David Smit op of ongeveer 1
November
2004 te of naby Sir Lowry’s Pas opgedoen het toe ’n lid
van die Suid-Afrikaanse Polisiediens na bewering traangas in sy oë
gespuit het.
Die applikant word gemagtig om die voorgenome
regsgeding in te stel binne 30 kalenderdae vanaf die datum van
hierdie bevel.
Die respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te
betaal.
_____________________
THRING, R.