Hennie Kruger Boekhouers BK v Le Roux and Another (1182/2006) [2007] ZANCHC 52 (7 September 2007)

62 Reportability
Insolvency Law

Brief Summary

Insolvency — Provisional sequestration — Application for confirmation of provisional sequestration of respondent's estate — Applicant claiming R30,000 loaned to respondent — Respondent's ex-spouse opposing application, asserting applicant's claim lacks merit — Court considering whether applicant established a valid claim and whether sequestration would benefit creditors — Court finding that applicant demonstrated a valid claim and that sequestration was warranted, dismissing the opposition.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2007
>>
[2007] ZANCHC 52
|

|

Hennie Kruger Boekhouers BK v Le Roux and Another (1182/2006) [2007] ZANCHC 52 (7 September 2007)

Rapporteerbaar:
JA / NEE
Sirkuleer
onder Regters: JA / NEE
Sirkuleer
onder Landdroste: JA / NEE
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: JA / NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno:
1182 /2006
Datum
Aangehoor: 24/08/2007
Datum
Gelewer: 07/09/2007
In
die saak tussen:
HENNIE KRUGER
BOEKHOUERS BK
APPLIKANT
en
LE
ROUX H C RESPONDENT
VAN
DER BERGH-SEPTEMBER L H TUSSENBEIDETREDENDE
SKULDEISER
Coram:
Olivier R
UITSPRAAK
OLIVIER R:
Die
applikant, Hennie Kruger Boekhouers BK, doen nou aansoek om die
bekragtiging van die voorlopige sekwestrasie van die boedel
van die
respondent, mnr Hendrik Cornelius le Roux, wat op 6 Oktober 2006
toegestaan is. Die toetredende skuldeiser, me Laurette
Hendrieletta
van der Bergh-September, ‘n vorige eggenoot van die respondent,
staan die aansoek teen en versoek dat die voorlopige
sekwestrasiebevel tersyde gestel word (alhoewel aanvanklik in die
kennisgewing van mosie bloot versoek is dat die bevel opgehef
word).
Die
applikant se aansoek is gebaseer op ‘n bewering dat die respondent
aan die applikant ‘n bedrag van R30 000,00 (en rente
daarop)
verskuldig is uit hoofde van geld geleen en voorgeskiet. Die
toetredende skuldeiser het op haar beurt ‘n getakseerde
kostebevel
teen die respondent, welke koste altesame (met rente) ‘n bedrag
van R296 279,06 beloop. Hierdie kostebevel is reeds
ingevolge
artikel 65M van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944, omskep en die
respondent moes op 11 September 2006 voor ‘n Landdros
verskyn het
vir ‘n ondersoek ingevolge artikel 65A(1) van die betrokke Wet,
maar het blykbaar versuim om so te doen. Die verrigtinge
is toe
verdaag tot 16 Oktober 2006, maar is klaarblyklik intussen van die
rol verwyder.
Die toetredende
skuldeiser het in haar eedsverklarings heelwat moeite gedoen om te
probeer aantoon dat die respondent bates van
hom versteek of
verskuil het en dat hy oor meer belange of bates beskik as wat uit
die stukke blyk. Hierdie aanslag is nie in
betoog verder geneem
namens die toetredende skuldeiser nie en is haar saak in argument
deur mnr Olivier SC beperk tot slegs twee
geskilpunte, naamlik of
die applikant bewys het dat dit oor ‘n vordering teen die
respondent beskik en of die sekwestrasie van
die respondent se
boedel tot voordeel van sy skuldeisers sou wees.
Verder is namens die
toetredende skuldeiser aan die hand gedoen dat, selfs al sou bevind
word dat die applikant wel aangetoon het
dat dit oor ‘n vordering
beskik en dat die sekwestrasie tot die voordeel van die respondent
se skuldeisers sou wees, die Hof
in die uitoefening van sy diskresie
nie die voorlopige sekwestrasiebevel behoort te bekragtig nie.
Mnr
Olivier se betoog in hierdie verband was hoofsaaklik gegrond op die
submissie dat hierdie eintlik ‘n vriendskaplike aansoek
om
sekwestrasie is en dat daar om hierdie rede met noukeurigheid en
skeptisisme gekyk moet word na die applikant se saak.
Dit
blyk dat die respondent se latere eggenote (me le Roux), van wie hy
ook intussen geskei is maar wat duidelik in die verlede
hom al
finansieel behulpsaam was, ‘n adres deel met die applikant en dat
haar broer (en dus ‘n gewese swaer van die respondent)
‘n
sakevennoot is van mnr Kruger, die deponent vir en die enigste lid
van die applikant.
Dit
is ook so dat daar by Kruger se funderende eedsverklaring ‘n
afskrif aangeheg is van die kennisgewing wat ingevolge artikel
65A(1) van die Wet op Landdroshowe aan die respondent gerig is, wat
Kruger op die waarskynlikhede tog sekerlik maar net by die
respondent kon gekry het.
Soos ook later weer
mee gehandel sal word, moes daar ook op die waarskynlikhede minstens
een gesprek tussen Kruger en die respondent
gewees het voordat die
respondent toe ‘n skrywe gerig het wat dade van insolvensie
daargestel het.
Verder
is dit so dat die applikant wel op hierdie stadium die samewerking
van die respondent het, deurdat die respondent die applikant
sedertdien van meerdere eedsverklarings voorsien het in reaksie op
beweringe wat die toetredende skuldeiser gemaak het in haar
aansoek
om toetrede en later in haar stukke ter ondersteuning van haar
aansoek om die opheffing/tersydestelling van die voorlopige
sekwestrasiebevel.
Aan
die ander kant was daar, afgesien van die aanhegting van die afskrif
van die artikel 65A(1)-kennisgewing, nie in die applikant
se
funderende stukke aanduidings van samewerking van die kant van die
respondent nie. Die applikant het, byvoorbeeld, nie op daardie
stadium beskik oor kennis van die respondent se bates en laste nie
en was Kruger op daardie stadium foutiewelik onder die indruk
dat
die respondent wel op 11 September 2006 voor die Landdros verskyn
het.
Verder
ontbreek ‘n hele klomp van die kenmerke wat tiperend is van die
tipe ooreenkomste en dade van insolvensie wat gewoonlik
voorkom in
vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie (sien
Craggs
v Dedekind; Baartman v Baartman and Onother; Van Jaarsveld v
Roebuck; Van Aardt v Borrett
1996(1) SA 935(C) en
Esterhuizen
v Swanepoel and Sixteen Other Cases
2004(4) SA 89(W)).
Wat die onderhawige
lening betref, was dit beslis nie vir ‘n klein of onbenullige
bedraggie nie en is die terme daarvan in hierdie
geval vervat in ‘n
behoorlike kontrak. Ek sal later weer verwys na die kontrak en na
die inligting wat wel in hierdie geval
voor die Hof is ter
verduideliking van die rede en noodsaak vir die lening en die wyse
waarop met die fondse gehandel is.
Die
brief wat die respondent aan die applikant gerig het en waarvan die
inhoud dade van insolvensie uitgemaak het, was ook nie die
tipiese
een wat voorkom by vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie nie.
Hier het die respondent nie in die skrywe gelate aanvaar
dat die
applikant stappe sou neem teen hom nie (en allermins nog
sekwestrasiestappe) en het die respondent inteendeel die applikant
versoek om “
geduldig
”
te wees (vergelyk
Esterhuizen-
saak
op 94B).
Kruger
is ook nie ‘n familielid of vriend van die respondent nie en het
bloot uit hoofde van ‘n aanbeveling van iemand wat voorheen
‘n
swaer van die respondent was die lening toegestaan. Dit staan ook
onbetwis dat die applikant as deel van sy besigheid en
in die
normale loop van sake geld uitleen aan kliënte en uit dié oogpunt
beskou was daar dus niks vreemds aan die lening van
die applikant
aan die respondent nie. Alhoewel die applikant boekhouerdienste ook
lewer, was ‘n ander instansie te alle tye
die respondent se
boekhouers.
Verder is die geld aan
die respondent uitgeleen op die basis dat hy rente sou betaal teen
een persentasiepunt bokant die prima koers
en is dit in duidelike
terme ooreengekom op hoe en wanneer die kapitaal en rente
terugbetaal sou word.
In die omstandighede
meen ek dat hierdie aansoek nie beskou kan word as die tipiese
vriendskaplike aansoek om sekwestrasie nie.
By
die beoordeling van die vraag of daar ter voldoening aan artikel
12(1)(a) van die Insolvensiewet, 24 van 1936, aangetoon is dat
die
applikant oor ‘n vordering beskik soos bedoel in artikel 9 van die
Insolvensiewet, sal ek egter nietemin met die noukeurigheid
te werk
gaan wat normaalweg vereis word in die geval van sogenaamde
vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie. Dit moet egter in
gedagte
gehou word dat alle sodanige aansoeke in elk geval nie noodwendig
sinister is nie (sien
Jhatam
and Others v Jhatam
1958 (4) SA 36
(N) op 39-40).
Verder
is dit so dat die applikant op hierdie stadium finale regshulp
versoek en dat die normale benadering wat in so ‘n geval
gevolg
word, is om “
die
feite wat gemene saak is te neem en waar daar werklike dispuut op
die feite bestaan die weergawe van die respondent, vir doeleindes
van die uitspraak, te aanvaar
”
(sien
Staatsdiensliga
van Suid-Afrika en Andere v Minister van Waterwese
1990 (2) SA 440
(NK) op 443 G). Hierdie reël sou natuurlik slegs
toepassing vind in die geval van werklike feitedispute (sien
Plascon-Evans
Paints Ltd v Van Riebeeck Paints Pty Ltd
1983
(3) SA 623
(A) op 632 I).
Die toetredende
skuldeiser se saak in hierdie verband is na my oordeel niks meer as
‘n blote ingeskilstelling van die bewering
van ‘n vordering, en
‘n algemene verdagmakery daarvan, nie.
So,
byvoorbeeld, is gewag gemaak van die feit dat daar in klousule 1 van
die leningskontrak waarop die applikant steun, en wat voorgee
op 17
Maart 2006 onderteken te gewees het, verwys is na die bedrag van R30
000,00 as geld wat “
verskuldig
is
”,
terwyl dit die applikant se saak is dat die bedrag eers op 3 April
2006 aan die respondent oorbetaal is. Dit is werklik na
my oordeel
bloot ‘n kwessie van semantiek en die suggestie, klaarblyklik, dat
dit aanduidend daarvan sou wees dat die leningskontrak
vals of ‘n
fiksie is, is totaal vergesog.
‘
n Kontrak moet in
elk geval altyd as ‘n geheel gelees word en in klousule 6.1(a) is
weer verwys na die bedrag van
R30
000,00 as “
synde
die kontantbedrag wat werklik deur die Skuldenaar
ontvang
word
”,
wat weer eerder sal impliseer dat dit op daardie stadium nog nie
ontvang was nie.
Verder is verwys
daarna dat daar in ‘n klousule van die kontrak waarin gehandel is
met koste, nie slegs verwys is na die koste
van die opstel van die
kontrak nie, maar ook na die koste van die registrasie van ‘n
eerste verband, terwyl hier geen sprake
van so ‘n verband is nie.
Hoe dit aanduidend sou kon wees daarvan dat die kontrak ‘n
simulasie of valsheid is, is onduidelik.
Mnr Olivier moes toegee
dat dit waarskynlik die gevolg is daarvan dat ‘n standaardvorm
gebruik is vir die kontrak. Dit sou
na my oordeel strook met die
applikant se saak dat dit normaalweg geld uitleen.
Die feit is egter dus
dat daar voor hierdie Hof ‘n skriftelike leningskontrak is wat
onderteken is deur die respondent en die
gemelde mnr Kruger, namens
die applikant. Dit is ‘n betreklik uitvoerige kontrak en nie ‘n
blote notulering van die leen en
voorskiet van geld nie.
Die feit dat daar nie
in die betrokke kontrak voorsiening gemaak is vir sekuriteit nie, is
nie na my oordeel enige refleksie op
die egtheid van die kontrak
nie. Dit blyk uit die stukke dat die respondent waarskynlik niks
sou gehad het om aan te bied as sekuriteit
nie en verder is hy
duidelik as kliënt aanbeveel deur ‘n sakevennoot van mnr Kruger.
Die kontrak is verder
behoorlik onderteken deur twee getuies en die rekeningnommer wat in
klousule 5 daarvan verskaf is as die een
waarin die respondent die
maandelikse paaiemente moes betaal ter delging van die kapitaal en
rente, stem toevallig ooreen met diè
op die bankstaat waarvan die
applikant ‘n afskrif verskaf het om aan te toon dat die bedrag van
R30 000,00 op 3 April 2006 aan
die respondent betaal is.
Mnr Olivier het,
terwyl hy blykbaar aanvaar het dat ‘n bedrag van R30 000,00 dan
aan die respondent oorbetaal moes gewees het,
geargumenteer dat dit
steeds nie uit die betrokke bankstaat geblyk het of die oorbetaling
dalk om ‘n ander rede as vir ‘n lening
was nie en of dit nie in
elk geval dalk al terugbetaal was nie. Hierdie is blatante
spekulasie wat nie versoenbaar is met die
getuienis wat onder eed
deur die applikant en die respondent voor die Hof geplaas is nie.
Die
applikant het ook ‘n staat voorgelê waaruit die respondent se
verskuldigheid soos op 31 Augustus 2006 blyk en waaruit dit
duidelik
blyk hoe rente gedebiteer is. Die feit dat rente daarvolgens eers
vanaf Mei 2006 gedebiteer is, en nie vanaf April 2006
( soos die
kontrak voor voorsiening maak) nie, doen nie na my oordeel enige
afbreuk aan die applikant se saak in hierdie verband
nie.
Die
applikant se beweringe oor die lening is in alle wesenlike opsigte
deur die respondent gestaaf onder eed. Die respondent het
boonop
verduidelik presies waarvoor en waarom die lening nodig was en wat
met die geld gedoen is. Me le Roux het op daardie stadium
‘n
egskeidingsgeding teen die respondent ingestel en die respondent se
inkomste uit ‘n beslote korporasie waarvan me le Roux
die lid was,
sou tot ‘n einde kom. Die respondent se oortrokke fasiliteit is
ook opgeroep en hy het toe polisse te gelde gemaak
en die betrokke
bedrag by die applikant geleen om sy skuld aan die bank te betaal en
om te begin met veespekulasie om ‘n inkomste
te probeer verdien.
Die toetredende
skuldeiser het gewag gemaak daarvan dat die respondent, blykens
antwoorde van hom tydens ‘n ondervraging gedurende
November 2005,
oor ‘n oortrokke fasiliteit by ‘n bank beskik het en dit is op
daardie basis aan die hand gedoen dat dit dan
vreemd sou gewees het
vir die respondent om geld te gaan leen by die applikant. Dit blyk
egter uit dieselfde oorkonde dat die
respondent se oortrokke
fasiliteit beperk was tot R30 000,00 en dat sy saldo reeds toe al
reg by die betrokke limiet gelê het.
Die respondent se stelling
dat dié fasiliteit in elk geval gedurende Januarie 2006 gestop is,
staan onweerspreek.
Die
toetredende skuldeiser het ook aangevoer dat die feit dat, indien
die respondent dan al ingevolge die leningsooreenkoms vanaf
1 Junie
2006 reeds moes begin het met die betaling van maandelikse
paaiemente (maar versuim het om dit te doen), die applikant
eers op
14 September 2006 ‘n aanmaningskrywe aan hom gerig het, ook
aanduidend daarvan is dat daar nie werklik ‘n ooreenkoms
gesluit
is soos beweer deur die applikant nie.
Mnr Kruger het egter
nou verduidelik dat daar 60 dae grasie gegee word aan alle kliënte
voordat stappe geneem word en in elk geval
sou die blote versuim om
vroeër stappe te neem sekerlik nie kon lei tot die afleiding, as
die mees waarskynlike, dat daar dan
in werklikheid nooit geld geleen
en voorgeskiet is nie.
Op die getuienis is
dit totaal vergesog dat die beweringe van ‘n lening vals sou wees,
of selfs dat die lening bloot aangegaan
is om ‘n vordering te
bewerkstellig vir die doeleindes van sekwestrasie.
Wat
die laasgemelde moontlikheid betref, is dit so dat die
leningskontrak onderteken is en die geld oorbetaal is meer as vyf
maande
voordat die respondent voor die Landdros sou moes verskyn.
Inteendeel, die artikel 65A(1)-kennisgewing (en meegaande
sertifikaat)
is eers op 30 Julie 2006 onderteken, en dus in elk
geval ook meer as vier maande nadat die leningsooreenkoms onderteken
is.
Dit
is verder vergesog dat die applikant, die respondent en me Le Roux,
‘n prokureur, almal kop-in-een-mus en onderduims te werk
sou
gegaan het om ‘n leningsooreenkoms te vervals en om ‘n bedrag
van soveel as R30 000,00 aan die respondent oor te betaal
net om
valslik die skyn van ‘n lening te verwek.
Mnr
Olivier het aangevoer dat daar, ten spyte van die feit dat die
respondent en me Le Roux ook sedertdien geskei is, steeds ‘n
noue
band tussen hulle bestaan. Hy het in hierdie verband gewys op die
feit dat me Le Roux se naam ook verskyn op die lys van
getuies wat
die toetredende skuldeiser wou ondervra in die artikel
65A(1)-verrigtinge en het aan die hand gedoen, klaarblyklik,
dat die
respondent baie graag sou wou vermy dat me Le Roux so ondervra word.
Selfs al sou dit so wees, sou die motief nie noodwendig
deurgetrek
kon word na die applikant nie en in elk geval sou ‘n
sekwestrasieproses ook maar die gevaar van ‘n ondervraging
inhou.
Die
tydsberekening van die ondertekening van die leningskontrak en van
die oorbetaling strook met die feit dat die respondent van
die begin
van 2006 af geen inkomste of hulp meer van me Le Roux se kant gekry
het nie en sou moes begin om ‘n eie inkomste te
probeer genereer
uit veespekulasie, terwyl sy oortrokke fasiliteit op dieselfde
stadium opgeskort is.
Dit volg dus dat ek
van oordeel is dat die applikant wel ‘n behoorlike saak daarvoor
uitgemaak het dat dit oor die nodige vordering
beskik.
Wat
die kwessie van voordeel vir die skuldeisers betref, is ek eweneens
tevrede dat die applikant ‘n behoorlike saak uitgemaak
het. Nadat
me Le Roux haar eis teen die respondent abandoneer het, blyk daar ‘n
verwagte dividend van ongeveer 18 sent in die
rand te wees, wat na
my oordeel voldoende is. Tewens, as daar meriete sou wees in die
toetredende skuldeiser se beweringe dat
die respondent oor meer
bates beskik as wat nou uit die stukke blyk, sal die verdere
voordeel van ‘n sekwestrasieproses wees
dat die kurator die nodige
ondersoek daarna sou kon instel, wat mag lei tot selfs ‘n groter
finansiële voordeel vir skuldeisers.
Namens
die toetredende skuldeiser het mnr Olivier geargumenteer, met
verwysing na die beslissing van
Gardee
v Dhanmanta Holdings and Others
1978 (1) SA 1066
(N), dat die proses ingevolge artikel 65 van die
Wet op Landdroshowe meer voordelig sou wees as ‘n
sekwestrasieproses, veral
uit ‘n koste-oogpunt gesien, en dat daar
op hierdie basis bevind moet word dat die sekwestrasie van die
respondent se boedel
nie in die belang van sy skuldeisers sou wees
nie. Daar is ondermeer groot klem gelê op die submissie dat
artikel 65 vir skuldeisers
dieselfde voordele inhou as die
sekwestrasieproses wat betref die ondervraging van getuies en die
soeke na bates, maar teen ver
minder onkoste.
Dit
is so dat daar op die stukke nou slegs twee skuldeisers is, naamlik
die applikant en die toetredende skuldeiser. Mnr Olivier
se
argument was dat niks die applikant verhoed om ook ‘n vonnis teen
die respondent te kry en om dan stappe ingevolge artikel
65 teen die
respondent in te stel nie. Volgens mnr Olivier sou die twee
skuldeisers se prosesse dan saam kon loop. Klem is ook
gelê op die
betreklik klein deel van sy vordering wat die applikant gaan
realiseer deur middel van die sekwestrasieproses, teen
‘n dividend
van 18 sent in die rand.
Op
my vraag of twee kompeterende skuldeisers dan ingevolge die artikel
65-prosedure ook in die posisie sou kon land waar hulle,
soos by
sekwestrasie, as konkurente skuldeisers eweredig sou kon deel in die
respondent se boedel, het mnr Olivier met verwysing
na artikel
65A(1) van die Wet op Landdroshowe aan die hand gedoen dat die
Landdros in hierdie verband die bevel sou kon maak wat
in die
omstandighede reg en billik is en dat dit tot so ‘n verdeling sou
kon lei.
Mnr
Olivier kon my egter na geen gesag in hierdie verband verwys nie.
Die feit is dat ‘n kompeterende skuldeiser in so ‘n geval
op die
oog af uitgelewer sou wees aan die Landdros se diskresie. Dit mag
wees dat die Landdros besluit om, omdat die toetredende
skuldeiser
eerste stappe geneem het, voorkeur aan die toetredende skuldeiser te
verleen wat betref die eerste, en tans enigste,
bates wat beskikbaar
is vir verdeling. Dit sou die applikant kon laat met geen
vergoeding nie, teenoor dit wat die applikant darem
deur middel van
‘n sekwestrasieproses sou kon kry.
Artikel
65C van die Wet op Landdroshowe sou in elk geval slegs die
gesamentlike hantering van meerdere skuldeisers se verrigtinge
veroorloof waar hulle kennisgewings dieselfde verhoordatum bevat
het.
Ek
is gevolglik hoegenaamd nie tevrede dat die artikel 65- prosedure
vir die applikant as skuldeiser ‘n oorweegbare alternatief
sou kon
bied tot ‘n aansoek om sekwestrasie nie. Mnr Olivier se argument
dat die artikel 65-proses dieselfde voordeel sou inhou
wat
ondervraging en die soek na verdere bates betref as by ‘n
sekwestrasieproses, val ietwat vreemd op in die lig van sy eie
submissie dat so ‘n ondervraging op hierdie stadium niks meer sal
oplewer nie; volgens hom weens die tyd wat reeds verstryk het
sedert
die respondent van die betrokke bates ontslae geraak het.
Op
die feite is die
Gardee
-saak
ook van die onderhawige geval te onderskei. In die
Gardee
-saak
was daar slegs een skuldeiser en het die gevaar dus nie bestaan dat
‘n alternatiewe metode van skuldvordering vir die betrokke
skuldeiser dalk niks kon oplewer nie.
Mnr
Olivier het ook aan die hand gedoen dat die artikel 65-proses die
voordeel inhou dat ‘n skuldeiser weer en weer sou kon probeer
om
sy geld te kry en het aangevoer dat die posisie by sekwestrasie die
teenoorgestelde is en dat die sekwestrasiebevel ‘n skuldeiser
vir
ewig bevry van sy of haar laste soos op daardie stadium. Dit is
natuurlik nie heeltemal so eenvoudig nie. As die respondent
op die
een of ander latere stadium, na sy sekwestrasie, oor die fondse sou
beskik om ‘n bydrae te maak aan skuldeisers wat ‘n
klein
dividend ontvang het, en kan sy rehabilitasie daarvan afhanklik
gemaak word (sien
Insolvency
Law
,
Meskin, par. 14.4.1).
Die
prentjie wat mnr Olivier geskilder het dat die sekwestrasie van die
respondent se boedel vir hom ‘n uitkoms gaan wees en ‘n
einde
aan sy probleme gaan maak, is dus nie heeltemal so eenvoudig nie.
Dit is in elk geval ontersaaklik watter voordeel die sekwestrasie
van sy boedel vir die respondent sal inhou. Dit gaan hier om wat
tot voordeel van sy skuldeisers sal wees en in hierdie verband
is
soos volg na die meganisme van sekwestrasie verwys in
Chenille
Industries v Vorster
1953 (2) SA 691
(O) op 699:

g
.....
the superior legal machinery which creditors acquire by
sequestration, the right to control the collection, custody and
disposal
of all the assets through their nominee, the trustee, the
right to control similarly the sale of the assets, the certainty that
the
insolvent cannot contract further debts and diminish the estate
and the assurance that all creditors will be accorded the treatment
prescribed by law in the division of the proceeds”.
Dit
is nie in geskil dat die respondent op die beskikbare getuienis
insolvent is nie, en dat hy dade van insolvensie gepleeg het,
is nie
in argument namens die toetredende skuldeiser aangeveg nie.
Die
toetredende skuldeiser het by herhaling beweer dat die aansoek om
sekwestrasie die produk is van ‘n samespanning tussen die
applikant en die respondent en dat dit neerkom op misbruik van die
proses. Die bewyslas in hierdie verband was natuurlik op die
toetredende skuldeiser (sien
Yenson
& Co v Garlick
1926
WLD 53
op 56).
Meer
spesifiek is deur die toetredende skuleiser aangevoer dat die doel
van die aansoek eintlik is om te verhoed dat die respondent
en
andere ingevolge die bepalings van artikel 65 van die Wet op
Landdroshowe ondervra word. Indien dit waar was, sou ‘n mens
egter verwag het dat die aansoek om sekwestrasie gebring sou gewees
het voor 11 September 2006, toe die respondent veronderstel
was om
vir die eerste keer voor ‘n Landdros te verskyn het. Dit het nie
gebeur nie. Die aanmaningsbrief is eers op 14 September
2006 aan
die respondent gerig. Dat die bevel toe bekom is op 6 Oktober 2006
(terwyl die saak in die Landdroshof uitgestel was
tot 16 Oktober
2006) neem ook nie juis die saak verder nie. Die applikant het ‘n
gegronde vrees gehad dat die toetredende skuldeiser
eksekusiestappe
kon neem tot die nadeel van die applikant.
In
betoog namens die toetredende skuldeiser is gewys daarop dat die
kennisgewing van mosie in die aansoek om sekwestrasie gedateer
is 2
September 2006. Dit is na my oordeel ‘n duidelike fout. Die
Griffier se stempels daarop is 3 Oktober 2006 gedateer en
daar is
geen rede waarom die kennisgewing van mosie al op 2 September
onderteken sou gewees het deur die applikant se prokureur,
en dan
eers op 3 Oktober ingedien sou gewees het nie. Die funderende
eedsverklaring van Kruger is ook eers op 2 Oktober afgelê.
Hierdie is in elk
geval ‘n tweesnydende swaard, want indien die applikant al op 2
September 2006 sekwestrasiestappe oorweeg het,
kon die applikant
maklik al ‘n aansoek om sekwestrasie geloods het nog voor die
eerste datum waarop die respondent voor ‘n
Landdros moes verskyn
het.
Gewag is ook gemaak
van die feit dat die respondent se skrywe, waarin hy erken het dat
hy die applikant nie op daardie stadium kon
betaal nie, op dieselfde
datum gedateer is as die applikant se funderende eedsverklaring en
dat dit ook gerig moes gewees het nog
voordat die respondent die
applikant se geregistreerde aanmaning kon ontvang het.
Dit
blyk egter dat Kruger intussen, dit wil sê nadat die geregistreerde
stuk versend is en nog voordat dit deur die respondent
ontvang is,
nie alleen telefonies met die respondent gepraat het oor die feit
dat hy nie begin het om die ooreengekome paaiemente
te betaal nie,
maar ook ‘n afskrif van dieselfde aanmaningskrywe per faks aan die
respondent voorsien het.
Hierdie
verduideliking is nie alleen onder eed verskaf nie, maar dit blyk
dan ook duidelik uit die respondent se skrywe van 2 Oktober
2006,
waar hy met die woorde “
Soos
reeds gesê
”
duidelik verwys het na minstens een voorafgaande gesprek tussen hom
en Kruger.
Dat
die applikant onder daardie omstandighede teen 2 Oktober 2006 al
gereed sou gewees het om stappe te neem om sy belange te beskerm,
sou nie vreemd wees nie.
Verder
is gesinspeel daarop dat die respondent oneerlik was deur te kenne
te gee dat al sy polisse gesedeer was aan me Le Roux.
Dit blyk
duidelik uit die toetredende skuldeiser se eie stukke dat die
respondent nooit so te kenne gegee het nie en dat hy lankal
die
bestaan en beskikbaarheid van sy annuïteitpolisse openbaar het.
Daar
is aangevoer dat die applikant die prokureur en kliënt deel van sy
koste nie sou terugkry nie en dat die voordeel in ‘n
sekwestrasieproses vir die applikant dan so min gaan wees dat dit
nooit die applikant se beweegrede vir die aansoek kon gewees
het
nie. Afgesien daarvan dat die versuim om aansoek te doen om
sekwestrasie daartoe kon gelei het dat die applikant heeltemal
geen
deel van sy vordering kry nie, is daar in elk geval gesag tot die
effek dat die koste van sekwestrasie, na verwys in artikel
97 van
die Insolvensiewet, getakseer sal word op die prokureur-en
kliëntskaal (sien
Brooks
v Taxing Master and Another
1960
(3) SA 225
(N)).
Die toetredende
skuldeiser het tot op ‘n stadium aangevoer dat ene mnr Stander, ‘n
werknemer van Corporate Liquidators (Pty)
Ltd en wat saam met ‘n
prokureur van Upington aangestel is as een van twee mede-kuratore in
die bereddering van die respondent
se boedel, dieselfde persoon was
as ‘n mnr Stander wat voorheen as prokureur vir die respondent
opgetree het in ‘n geding tussen
haar en die respondent. Dit het
sedertdien geblyk nie dieselfde persoon te wees nie.
Soos
reeds gemeld, is daar heelwat aanduidings dat die aanvanklike
aansoek om sekwestrasie nie die produk was van selfs bloot
samewerking
tussen die applikant en die respondent nie. Indien dit
anders was, sou ‘n mens verwag het dat Kruger reeds op daardie
stadium
sou geweet het dat die respondent darem nog nie op 11
September 2006 voor die Landdros verskyn het nie en dat Kruger op
daardie
stadium reeds sou te kenne gegee het dat hy darem oor selfs
basiese kennis beskik het van die respondent se bates en laste.
Ek moet darem sê dat
mnr Olivier, ten spyte van die toetredende skuldeiser se herhaalde
beskuldigings van ‘n samespanning, nie
bereid was om self te
argumenteer dat daar ‘n samespanning was nie, en na my oordeel
wyslik so.
Ek
is tevrede dat daar nie ‘n onbehoorlike samespanning was tussen
die applikant en die respondent nie. Selfs al sou daar egter
ook so
‘n samespanning geblyk het, sou ek steeds nie my diskresie
uitgeoefen het deur die voorlopige sekwestrasiebevel op te
hef of
tersyde te stel nie (vergelyk
Lawclaims
(Pty) Ltd v Rea Shipping Co SA
1979
(4) SA 745
(N) op 755).
Dat
die toetredende skuldeiser egter wel hierdie bewering oor en oor
gemaak het, en ongegronde bewerings gemaak het soos dié rakende
die
kurator, is van belang vir soverre dit getuig van ‘n gesindheid
wat sou inpas by wat sy volgens die respondent hom sou meegedeel
het, naamlik dat sy hom sou “
jag
totdat
(hy)
vrek
”
en dat sy sou sorg dat die respondent in die tronk beland. Dit blyk
dan ook duidelik uit die toetredende skuldeiser se eedsverklaring
van 31 Oktober 2006 dat dit is hoe sy die artikel 65-proses beskou
het.
Namens die toetredende
skuldeiser is gewys op haar bewering dat die respondent sou gesê
het dat hy sou sorg dat sy nie haar geld
van hom kry nie. Die
eenvoudige antwoord hierop is natuurlik dat dit nie hier gaan oor
die respondent en sy motiewe nie. Dit
gaan oor wat in die belang
van sy skuldeisers as ‘n groep sou wees, al is daar ook net twee
van hulle.
Die
grootste gedeelte van die respondent se bates (minstens soos wat dit
op die stukke blyk) is reeds te gelde gemaak, met goedkeuring
van
die toetredende skuldeiser. Die bereddering van die respondent se
boedel in terme van die Insolvensiewet sal ook die respondent
se
skuldeisers as ‘n groep bevoordeel, terwyl die proses ingevolge
artikel 65 van die Wet op Landdroshowe die toetredende skuldeiser
alleen sou bevoordeel.
Na my oordeel behoort
die voorlopige sekwestrasiebevel dus bekragtig te word.
In
die bevel waarin aan die toetredende skuldeiser verlof verleen is om
toe te tree, is genotuleer dat die toetredende skuldeiser
“
haar
regte voorbehou het oor die toelaatbaarheid, al dan nie van die
liassering van verdere stukke deur Applikant
”.
Daar is dan toe ook daarna verdere stukke deur die applikant
geliasseer.
By
die aanhoor van die aansoeke is op geen stadium namens die
toetredende skuldeiser aangevoer dat dié stukke van die applikant
ontoelaatbaar was nie; na my oordeel tereg. Dié stukke is
geliasseer in antwoord op ‘n tweede stel stukke van die
toetredende
skuldeiser. Dit is tydig ingedien en niemand is
daardeur benadeel nie. Inteendeel, ek is van oordeel dat die
betrokke stukke
in belang van regspleging toegelaat sou moes word
(sien
Shepherd
v Mitchell
Cotts
Seafreight (SA) (Pty) Ltd
1984 (3) SA 202
(T) en
Ganes
and Another v Telecom Namibia Ltd
2004 (3) SA 615
(SCA) op 625 D-G).
Dit bring my by die
aspek van koste. Ek meen dat daar geen rede is waarom die koste nie
die uitslag behoort te volg nie.
Mnr
Olivier het namens die toetredende skuldeiser geargumenteer dat haar
toetrede en optrede nie onredelik was nie en dat, selfs
al sou die
voorlopige sekwestrasiebevel bekragtig word, die toetredende
skuldeiser se koste deel van die sekwestrasiekoste behoort
te wees.
Selfs al sou so ‘n bevel moontlik gewees het (vergelyk
Lowenstein
and Moffet (Pty) Ltd v Rawlins
1964 (3) SA 207
(O) op 208, maar sien ook
Insolvency
Law, supra,
par 2.1.14.3 en
Law
of Costs
,
Cilliers, par 10.20), sou ek egter nie so ‘n bevel as gepas beskou
het in die onderhawige geval nie.
Nie alleen was daar na
my oordeel geen meriete in die toetredende skuldeiser se aansoek om
opheffing/tersydestelling van die voorlopige
sekwestrasiebevel nie,
maar ook het sy die stukke onnodig beswaar met inligting wat glad
nie tersaaklik was vir doeleindes van
die onderhawige geskilpunte
nie. So het sy die geheel van ‘n transkripsie aangeheg van ‘n
ondervraging van die respondent,
welke transkripsie strek vanaf
bladsy 147 van die stukke tot by bladsy 215 daarvan, maar slegs na
een bladsy daarvan verwys.
Die toetredende
skuldeiser het ‘n 30 bladsy lange uitspraak aangeheg in ‘n saak
waarin sy en die respondent betrokke was, en
verwys na een bladsy
daarvan waar bevind is dat die respondent nie met skoon hande Hof
toe gegaan het nie. Daardie opmerking het
egter gegaan oor die
respondent se optrede rondom sy toegang tot hulle minderjarige kind
en was vir doeleindes van die onderhawige
saak totaal ontersaaklik.
Ek het reeds verwys na die respondent se ongegronde bewering ten
aansien van die een kurator, mnr Lourens.
Wat betref die koste
verbonde aan die uitstel van 23 Maart 2007, wat oorgehou is vir
latere beregting, meen ek dat mnr Olivier gelyk
gegee moet word in
sy submissie dat dit koste in die geding behoort te wees. Daar is
geen inligting voor my geplaas wat daarop
dui dat enige spesifieke
party te blameer was vir die uitstel nie en ek meen ook nie dat die
blote feit van die toetredende skuldeiser
se aansoek en opposisie
haar vir dié verspilde koste aanspreeklik behoort te maak nie.
In die omstandighede
word die volgende bevele hierin gemaak:
DIE
VERSPILDE KOSTE TEWEEGGEBRING DEUR DIE UITSTEL VAN 23 MAART 2007 SAL
KOSTE IN DIE GEDING WEES.
2. DIE
TUSSENBEIDETREDENDE SKULDEISER SE AANSOEK OM DIE
OPHEFFING/TERSYDESTELLING VAN DIE VOORLOPIGE SEKWESTRASIEBEVEL VAN 6
OKTOBER
2006 WORD MET KOSTE AFGEWYS EN DIE TUSSENBEIDETREDENDE
SKULDEISER WORD GELAS OM OOK DIE KOSTE TEWEEGGEBRING DEUR HAAR
TOETREDE EN
OPPOSISIE VAN DIE AANSOEK OM SEKWESTRASIE TE BETAAL.
3. DIE RESPONDENT SE
BOEDEL WORD FINAAL GESEKWESTREER EN DIE GEMELDE VOORLOPIGE
SEKWESTRASIEBEVEL WORD BEKRAGTIG, BEHOUDENS WAT REEDS
GELAS IS TEN
AANSIEN VAN DIE KOSTE.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Namens
: Applikant Adv N Davis SC
In
opdrag van: Engelsman, Magabane Ing, Kimberley
Namens : Respondent
Adv J W Olivier SC
In
opdrag van: Haarhoffs Ing, Kimberley