S v Makari (CA&R 232/2003) [2007] ZANCHC 28 (30 April 2007)

70 Reportability
Criminal Procedure

Brief Summary

Criminal Procedure — Appeal — Condonation for late filing of notice of appeal — Appellant convicted of murder and sentenced to 15 years imprisonment — Notice of appeal filed nearly five years after conviction — Appellant unrepresented during trial and appeal process — Court finds that the appellant was not informed of his rights regarding appeal and the presence of assessors — Condonation granted due to significant procedural irregularities and the delay in the appeal process being deemed unacceptable.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2007
>>
[2007] ZANCHC 28
|

|

S v Makari (CA&R 232/2003) [2007] ZANCHC 28 (30 April 2007)

Reportable:
YES / NO
Circulate
to Judges: YES / NO
Circulate
to Magistrates: YES / NO
Circulate
to Regional Magistrates: YES / NO
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno:
CA&R 232/2003
Datum
Aangehoor: 23/04/2007
Datum
Gelewer: 30/04/2007
In
die saak tussen:
J MAKARI
teen
DIE STAAT
Coram:
Williams R et Olivier R
UITSPRAAK
OP APPéL
OLIVIER R:
Die appellant is in
die Streekhof te Upington skuldig bevind aan die moord op sy
saamleefmaat van 30 jaar, en gevonnis tot 15 jaar
gevangenisstraf.
Hy kom nou in hoër beroep teen beide die skuldigbevinding en die
vonnis.
Wat die
skuldigbevinding betref, was die Staat se saak teen die appellant
in wese gebaseer op getuienis van die appellant se minderjarige
kind, Jacobus Nel, wat volgens hom sou gesien het hoedat die
appellant die oorledene met ʼn mes gesteek het, die getuienis van
mnr Joseph Philander, wat die oorledene van buite haar woonplek
ingedra het (blykbaar op ʼn stadium toe sy reeds noodlottig verwond
was), die getuienis van die polisiebeampte Inspekteur Jansen rakende
die inhoud van ʼn waarskuwingsverklaring wat die appellant
volgens
die getuie sou afgelê het en die getuienis van ʼn verdere
polisiebeampte, Inspekteur Myburgh, oor ʼn mes wat hy in die
appellant se besit gevind het toe die appellant kort ná die voorval
gearresteer is.
Die appellant is reeds
op 5 November 2001 gevonnis en sy kennisgewing van appél is eers op
11 September 2002 deur die Landdroskantoor
te Upington ontvang. Hy
het dus ook ʼn aansoek om kondonasie afgelewer, waarin hy aangevoer
het dat sy kennisgewing van appèl
wel gedurende Februarie 2002
ingehandig is by die gevangenisowerhede.
Dit
sou natuurlik al klaar laat gewees het, maar die appellant het nie
alleen sonder regsverteenwoordiging in die verhoor opgetree
nie,
maar het ook onverteenwoordig en as gevonnisde gevangene sy appél
probeer loods. Bowendien blyk dit ook uit die oorkonde
dat die
Streeklanddros nooit aan die appellant sy regte met betrekking tot
appél verduidelik het nie. In die lig hiervan, en
ook in die lig
van wat volg, meen ek dus dat kondonasie toegestaan behoort te word.
Dit
is egter uiters kommerwekkend dat die kennisgewing van appél reeds
so lank terug as in September 2002 by die Landdroskantoor
te
Upington ontvang is, en die appél nou eers, byna 5 jaar later,
aangehoor word. Ten spyte van ‘n navraag in hierdie verband,
is
daar steeds geen verduideliking hiervoor nie. Dit spreek vanself
dat so ‘n vertraging, veral as dit bloot weens administratiewe
rompslomp of flaters was, totaal onaanvaarbaar is en nodeloos om te
sê ook uiters benadelend vir ‘n onverteenwoordigde beskuldigde
soos die appellant.
In
sy aanvanklike betoogshoofde het die appellant se advokaat, mnr S P
Rasethuntsa, die toegewing gemaak dat die skuldigbevinding
in orde
is, nadat vlugtig verwys is na wat die Staat se getuienis teen die
appellant was. Nadat die advokate vir die appellant
en die
respondent toe egter die geleentheid gegee is om sekere verdere
aspekte aan te spreek wat vir ons op die oog af gelyk het
soos
onreëlmatighede, het mnr Rasethuntsa namens die appellant die
houding ingeneem dat die appél teen die skuldigbevinding behoort
te
slaag. Mnr Olivier, die advokaat namens die respondent, het ook
toe toegegee dat verskeie onreëlmatighede begaan is en aan
die hand
gedoen dat die skuldigbevinding op die basis van enige een daarvan
tersyde gestel behoort te word.
In die lig daarvan dat
die bykomende aspekte nie deel uitgemaak het van die appellant se
kennisgewing van appél nie, is die Griffier
ook versoek om op ʼn
dringende basis die inhoud van ons navrae onder die betrokke
Streeklanddros se aandag te bring, vir die geleentheid
om daarop
kommentaar te lewer, maar is daar tot dusver nog geen reaksie hierop
ontvang nie. In die lig van die totaal onaanvaarbare
vertraging wat
daar reeds plaasgevind het in die afhandeling van hierdie appél,
meen ek nie dat dit wenslik sal wees om langer
te wag vir sodanige
kommentaar nie.
Telefoniese navrae het
in elk geval aan die lig gebring dat die betrokke Streeklanddros nie
meer in voltydse diens as sodanig is
nie en mnr Olivier het ook
aangedui dat pogings om die Streeklanddros op te spoor onsuksesvol
was tot op hierdie stadium.
Die
eerste aspek waarmee vervolgens in hierdie verband gehandel word,
raak die kwessie van assessore. Omdat die appellant in ʼn
Streekhof
tereggestaan het op ʼn aanklag van moord, was die
voorbehoudsbepaling tot artikel 93
ter
(1) van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944, van toepassing, en was
die gebiedende bepaling dus dat die Streeklandros
“deur
twee assessore bygestaan
moet
word, tensy so ʼn beskuldigde
versoek
dat die verhoor sonder assessore voortgesit word, waarop die
regterlike amptenaar na goeddunke een of twee assessore kan aansê
om hom by te staan”
(my onderstrepings).
In
S
v Titus
2005 (2) SACR 204
(NC) is hierdie bepalings vertolk om te beteken
dat, waar ʼn beskuldigde in die Streekhof teregstaan op ʼn aanklag
van moord, dit
eers nà ʼn spesifieke versoek van die beskuldigde
dat assessore nie aangestel moet word nie, sal wees dat die
Streeklanddros enige
diskresie sal hê in hierdie verband. Tot en
met so ʼn versoek deur die beskuldigde, of ʼn ander positiewe stap
van die kant van
die beskuldigde om die verhoor te laat voortgaan
sonder assessore, sal dit dus verpligtend wees dat so ʼn Hof vir die
doeleindes
van die verhoor saamgestel is uit ʼn Streeklanddros en
twee assessore.
Daar
is ook in die gemelde beslissing met goedkeuring verwys na die
beslissing van
S
v Khambule
1999 (2) SACR 365
(O), waar beslis is dat dit slegs ʼn positiewe
stap van die kant van die beskuldigde, naamlik ʼn pertinente versoek
dat assessore
nie aangestel word nie, sal wees wat die verpligte
teenwoordigheid van twee assessore sal ophef.
Blykens
die Streeklanddros se handgeskrewe aantekeninge met betrekking tot
die verrigtinge van 1 November 2001, toe die appellant
vir die
laaste keer regsverteenwoordigd verskyn het (maar nog voordat die
aanklag gestel is en die verhoor ‘n aanvang geneem
het), het die
appellant se prokureur op daardie stadium onttrek weens onvoldoende
fondse en het die appellant toe aangedui dat
hy nie regshulp verlang
het nie en
“ook
nie assessore nie”
.
As deel van dieselfde
handgeskrewe aantekening, wat voorgee ʼn opsomming te wees van wat
op 1 November 2001 by die betrokke verskyning
gebeur het, is ook
genotuleer dat die betrokke verrigtinge meganies opgeneem is. Word
gekyk na die getranskribeerde oorkonde,
blyk dit dan ook dat daardie
deel van die verrigtinge waar die prokureur onttrek het, die
appellant aangedui het dat hy nie regshulp
verlang het nie en daar
toe met die verhoor voorgegaan is, wel meganies opgeneem is.
Die
probleem is egter, eerstens, dat daar nêrens in dié gedeelte van
die getranskribeerde oorkonde enige aanduiding is van ʼn
gesprek
tussen die Streeklanddros en die appellant rakende assessore nie.
Tweedens, en selfs al
sou die handgeskrewe aantekeninge aanvaar word as ʼn korrekte
weergawe van wat op 1 November 2001, in die
Hof gebeur het, is daar
geen aanduiding:
dat
die onverteenwoordigde appellant ooit ingelig is van sy regte met
betrekking tot assessore in die geval van ʼn ernstige aanklag
soos
moord in ʼn Streekhof nie; of
dat
die appellant ooit pertinent versoek het dat assessore nie
aangestel word nie, of enige ander positiewe stap (in teenstelling
met ʼn negatiewe stap, soos om die aanbod van assessore bloot af te
wys) geneem het om aan te dui dat hy afstand doen van sy
regte met
betrekking tot assessore nie.
Soos
blyk uit die gemelde beslissing van
S
v Titus
sou dié onreëlmatighede rondom die aspek van assessore opsigself
al fataal wees. Net soos in
S
v Titus
gaan dit hier egter ook verder en is daar, soos hieronder aangedui
sal word, ʼn verskeidenheid van verdere faktore wat bygedra
het tot
die fatale onreëlmatigheid van die appellant se verhoor.
Die
volgende probleem kom in by die Streeklanddros se hantering van die
voorskrifte van artikels 162 tot 164 van die Strafproseswet,
51 van
1977. Die voorskrifte van artikel 162 maak dit gebiedend dat ʼn
getuie onder eed geplaas word, behalwe in die uitsonderingsgevalle
waarop die bepalings van artikels 163 en 164 slaan (sien
Henderson
v S
[1997] 1 All SA 594
(C) op 596d-e en
S
v Mashava
1994
(1) SACR 224
(T) op 228f).
Artikel
163 handel met gevalle van getuies wat beswaar het teen die aflê
van die eed op bepaalde gronde of wat die eed nie as bindend
op
hulle gewetens beskou nie. Artikel 164 handel met gevalle waar
getuies
“weens
onkunde voortspruitende uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of
ander oorsaak, bevind word nie die aard en betekenis van
die eed of
bevestiging te begryp nie”
,
in welke gevalle sulke getuies op ʼn bepaalde wyse gewaarsku moet
word.
Soos
reeds gemeld, is die bepalings van artikel 162 gebiedend en die
normale gevolg van die nie-nakoming daarvan is dat die getuienis
wat
afgelê is sonder dat die eed opgelê is, of dan in stryd met die
bepalings van artikels 162 tot 164, nie in ag geneem sal
word nie
(sien
S
v Ndlela
1984 (1) SA 223
(N) op 225G-H en
Henderson
v S, supra
,
op 598b-c).
Selfs
al is ʼn getuie jeugdig, sal dit nie sondermeer en in alle gevalle
regverdig dat ʼn waarskuwing in plaas van die eed (of minstens
ʼn
bevestiging in terme van artikel 163) opgelê word nie. Die Hof
moet minstens darem eers op behoorlike gronde tot ʼn bevinding
kom
dat die getuie inderdaad nie die aard en betekenis van die eed of
bevestiging verstaan nie (sien
S
v B
2003
(1) SASV 52 (HHA)).
Alhoewel
die besondere jong ouderdom van ʼn bepaalde jeugdige getuie
opsigself al in sommige gevalle voldoende mag wees vir so ʼn
bevinding (soos in die geval van die 9-jarige getuie in
Director
of Public Prosecutions, Kwa-Zulu Natal v Mekka
2003 (2) SACR 1
(SCA)), sal dit nie noodwendig die geval wees by ʼn
ouderdom soos 15 jaar nie (sien
S
v Chalale
2004 (2) SACR 264
(W)).
In
die onderhawige geval is daar nie enige aanduiding hoegenaamd dat
enige van die twee polisiebeamptes onder eed geplaas is voor
die
aflegging van hulle getuienis nie.
Daar
is geen aanduiding dat die getuie Philander onder eed geplaas is
voordat hy getuig het nie. Nadat hy aangedui het dat hy 20-jaar
oud
was, het die Streeklanddros bloot vir hom gesê:
“Jy
gaan nou getuig in hierdie saak nou”
,
waarop die getuie toe volgens die oorkonde spontaan sou gesê het:
“Help
my God om die waarheid te praat”
.
In
die geval van die getuie Jacobus Nel het die Streeklanddros, nadat
hy bloot vasgestel het dat die getuie 15 jaar oud was en standerd
5
op skool geslaag het, vir die getuie gesê:
“Goed
kom ons begin nou voor. Jy gaan nou vir die hof vertel van iets
wat gebeur het net die waarheid wat jy weet, wat jy self
weet hoor,
vertel vir die hof die waarheid”
.
Die
getuie Nel is duidelik nie die eed opgelê nie. Daar is geen
aanduiding hoegenaamd dat die Streeklanddros dalk tot die bevinding
gekom het dat die getuie nie die eed sou verstaan nie. In
S
v B, supra
,
het die Hoogste Hof van Appél duidelik nie eers ʼn ouderdom van 13
jaar beskou as so jonk dat dit die moontlikheid sou uitsluit
dat die
getuie die aard en betekenis van die eed kon verstaan nie (vergelyk
ook
S
v Sikhipha
2006 (2) SACR 439
(SCA), waar die getuie 14 jaar oud was).
Selfs al sou die
Streeklanddros geregtig gewees het om ten aansien van die getuie Nel
die bepalings van artikel 164 van die Strafproseswet
toe te pas, lyk
dit nie of dit wat die Streeklanddros toe vir Nel gesê het, ʼn
waarskuwing soos in dié bepalings vereis kon wees
nie, maar in die
lig van die voorgaande is dit onnodig om finaal hieroor te besin.
Dit
bring my by die getuienis oor die appellant se
waarskuwingsverklaring, waarmee ek in die lig van die voorgaande
net kortliks
gaan handel. Toe die aanklaer die betrokke
polisiegetuie, Inspekteur Jansen, se getuienis onderbreek het, op ʼn
stadium voordat
die getuie nog oor die inhoud van die
waarskuwingsverklaring getuig het, het die aanklaer duidelik die
Streeklanddros versoek om
vas te stel of die appellant nie moontlik
die toelaatbaarheid van die verklaring wou betwis nie. Die
Streeklanddros se reaksie
hierop was:
“Laat
hy maar getuig en dan sal ons hoor”
.
Daarop is Inspekteur Jansen se getuienis eenvoudig gelei oor die
inhoud van die betrokke verklaring. Dit het die onverteenwoordigde
appellant ontneem van sy regte om die toelaatbaarheid van hierdie
getuienis aan te val.
Die Streeklanddros het
toe in die uitspraak, sonder dat die appellant ooit die geleentheid
gegee is om hierop kommentaar te lewer,
eenvoudig bevind dat die
inhoud van die betrokke verklaring nie regtens neergekom het op ʼn
bekentenis nie en, alhoewel afgelê
aan ʼn vredesbeampte en nie ʼn
vrederegter nie, dus nie getref is deur die bepalings van artikel
217 (1) (a) van die Strafproseswet
nie en dus nie ontoelaatbaar was
nie.
Die bevinding van die
Streeklanddros dat die inhoud nie neergekom het op ʼn bekentenis
nie, val in elk geval vreemd op in die lig
van die bevinding,
onmiddellik daarna, dat daardie selfde inhoud ooreenstem met die
getuienis van die seun, Jacobus Nel, op welke
getuienis en basis die
Streeklanddros tog immers toe die appellant aan moord skuldig bevind
het.
Die
strekking van die inhoud van die waarskuwingsverklaring was dat die
appellant die oorledene met ʼn mes sou gesteek het omdat
sy besig
was om sy penis te draai en hom seer te maak en nie wou ophou toe
hy haar versoek het om so te doen nie.
Die
inhoud van so ʼn verklaring moet objektief beoordeel word om vas te
stel of dit neerkom op ʼn bekentenis (sien
S
v Yende
1987 (3) SA 367
(A) op 374G en
R
v Kant
1933 WLD 128
op 129-130), selfs op ʼn mindere misdaad (sien,
R v Kant, supra
,
op 129 en
S
v Lalamani
1981 (1) SA 999
(V)). Na my oordeel sou dit heel moontlik die perke
van noodweer oorskry om iemand met ʼn mes te dood in sodanige
omstandighede.
Dit is so dat die
appellant, toe hy daarna vir Inspekteur James ondervra het, gestel
het dat hy nooit die betrokke verklaring afgelê
het of sy
duimafdruk daarop aangebring het nie, maar dit was nadat die volle
inhoud reeds deur die Hof aangehoor en toegelaat is.
Die
Streeklanddros het ook (soos ook in die
Titus
-saak
gebeur het) die Staat gehelp met die aanbied van die getuienis, deur
in die hoofverhoor van Inspekteur Jansen op ʼn leidende
wyse uit hom
te kry dat hy die appellant ingelig het met betrekking tot sy
grondwetlike regte.
Nog is dit het einde
niet. Die Streeklanddros het by meerdere geleenthede toegelaat dat
hoorsê-getuienis deur die aanklaer ontlok
word tydens die verhoor
van die onverteenwoordigde appellant en het dit dan teen die
appellant in ag geneem in die uitspraak.
Alhoewel die bron van die
betrokke mededelings, naamlik die seun Jacobus Nel, wel ook gaan
getuig het, is die vraag wat die status
en bewyswaarde dan was van
mededelings wat die seun aan mnr Philander en Inspekteur Myburgh
gemaak het en wat ooreengestem het
met sy getuienis in die Hof. Die
vraag is, meer spesifiek, of daardie getuienis nie neergekom het op
getuienis van vorige ooreenstemmende
verklarings nie en, indien wel,
op watter basis dit uiteindelik toelaatbaar was en teen die
appellant in ag geneem kon gewees het.
Verder is ek van
oordeel dat die Streeklanddros, in sy aanvaarding van die getuienis
van mnr Philander en die seun Jacobus Nel,
versuim het om oorweging
te verleen aan bepaalde wesenlike strydighede en onwaarskynlikhede.
Daar sal vervolgens baie kortliks
na enkele daarvan verwys word.
Philander se weergawe
in hoof was dat hy die appellant en die oorledene aangetref het waar
hulle bymekaar gesit het by die hek van
die perseel waar hulle
gewoon het. Dit was verder hierdie getuie se hoofgetuienis dat hy
toe die oorledene ingedra het en neergelê
het en dat die appellant
op daardie stadium verdwyn het, maar later self weer teruggekeer het
op ʼn stadium toe die getuie en andere
die polisie gaan bel het.
In
kruisverhoor deur die appellant het die getuie Philander egter met ʼn
totaal ander weergawe vorendag gekom, naamlik tot die effek
dat hy,
nadat hy die oorledene neergelê het – en ook al geweet het dat sy
dood is – die appellant in die straat gekry het
en toe vir hom
gesê het:
“Jy
moet kom en kyk wat het jy gedoen”
.
Toe selfs die
Streeklanddros hierdie weergawe nie kon versoen met die getuie se
weergawe in hoof nie, het Philander verduidelik
dat hy die appellant
in die straat teëgekom het toe hy na hom gaan soek het. Dit was op
die oog af egter ook strydig met sy vroeëre
getuienis dat die
appellant self weer by die huis opgedaag het.
Hierdie weersprekings
is van belang omdat dit juis die appellant se weergawe was dat die
eerste woord wat hy gehoor het van sy vrou
se dood, was toe
Philander hom elders sou kom meedeel het dat hy na sy vrou moet gaan
kyk.
Phillander se
getuienis dat hy die appellant en die oorledene saam by die hek
aangetref het, was totaal strydig met Nel se weergawe,
waarvolgens
die oorledene alleen buite was en Philander haar alleen daar
aangetref het en ingedra het. Inteendeel, volgens Nel
sou Philander
toe nog by hom wou geweet het waar die appellant was.
Volgens Philander het
hy toe, skynbaar nadat hy die oorledene ingedra het, probeer om haar
wakker te kry, en toe hy onsuksesvol
was vir die 15-jarige Nel gevra
om te kom kyk na sy moeder. Volgens hom het Nel toe na die
oorledene gaan kyk, haar oë oopgemaak
en daarna gesê dat sy dood
was. Hoekom sou Philander ʼn 15-jarige seun gevra het om te kom
kyk? Hoekom sou Nel, op sy weergawe,
ook toe eers gaan kyk het;
volgens hom het hy al buite die huis gesien dat die oorledene dood
is, nog voordat Philander op die
toneel gekom het.
Philander het laat val
dat die oorledene ook onder die invloed van drank was. Hoe sou hy
dit geweet het en hoe sou hy, op enige
van sy of Nel se weergawes,
die geleentheid kon gehad het om dit waar te neem?
Volgens Philander sou
hy eers die volgende dag by die kind verneem het dat die appellant
die oorledene gedood het (dit was een van
die gedeeltes
hoorsê-getuienis waarna reeds verwys is). Hoe sou dit dan vir
Philander moontlik gewees het om al die vorige aand
vir die
appellant in die straat te kon gesê het dat hy moet kom kyk wat hy
aan die oorledene gedoen het?
Waarom
sou Philander nie dadelik, toe hy besef het dat die oorledene dood
was, vir Nel gevra het of hy geweet het wat met haar gebeur
het nie?
Philander
het homself duidelik weerspreek toe hy op ʼn stadium beweer het dat
Nel die betrokke aand saam met hom was voordat hy
op die appellant
en die oorledene afgekom het. Later het hy probeer voorgee dat hy
eintlik na iemand anders verwys het wat saam
met hom was.
Alhoewel dit
gemenesaak was dat daar ʼn mes in die appellant se besit was toe hy
kort na die voorval gearresteer is, was Inspekteur
Myburgh nie in
staat om te sê of die mes bebloed was nie en is daar ook nooit
sulke getuienis van die kant van die Staat aangebied
nie.
Verder
het die Streeklanddros toegelaat dat die aanklaer die appellant in
kruisverhoor konfronteer met die blatant verkeerde stelling
dat hy
in sy pleitverduideliking sou gesê het dat Philander die oorledene
in die huis ingedra het op die stadium toe hy en Philander
saam daar
aangekom het. Die appellant se ontkenning dat hy dit in sy
pleitverduideliking gesê het, is afgemaak as vals, terwyl
hy
inderdaad in sy pleitverduideliking uitdruklik gesê het:
“Wat
ek daar kom saam met hom toe het hy al vroeër die vrou in die huis
ingedra”
.
In
die lig van al die voormelde is ek van oordeel dat die appellant nie
ʼn billike verhoor gehad het nie en dat die skuldigbevinding
tersyde
gestel behoort te word. Hierdie resultaat is, alhoewel daar ook
strydighede en onwaarskynlikhede op die aangebode getuienis
was,
hoofsaaklik die gevolg van tegniese onreëlmatighede. Die omvang en
effek van die onreëlmatighede is egter so wyd dat dit
nie hier
moontlik sal wees om (soos in
S
v B, supra
)
die saak terug te verwys vir die regstelling van die een of ander
daarvan nie. Dit is ook so toegegee deur mnr Olivier.
Om
dieselfde rede meen ek ook dat dit nie gerade sal wees om op hierdie
stadium ʼn mening uit te spreek oor of dit regtens moontlik
sal wees
om die appellant weer op die betrokke aanklag te vervolg nie. Dit
is ʼn vraag waaraan die Direkteur van Openbare Vervolgings
maar,
moontlik met inagneming van die tydperk wat die appellant alreeds in
die gevangenis deurgebring het, oorweging kan verleen.
In die omstandighede
is dit ook onnodig om te handel met die appellant se appél teen sy
vonnis en sal ek volstaan met die opmerking
dat die Streeklanddros
na my oordeel verkeerdelik bevind het dat daar geen wesenlike en
dwingende omstandighede was wat ʼn mindere
vonnis regverdig het nie
en dat die opgelegde vonnis inderdaad na my oordeel treffend
onvanpas sou wees op die bepaalde feite (iets
wat eweneens deur mnr
Olivier namens die respondent toegegee is).
In die omstandighede
sou ek die volgende bevele maak:
Die laat
aantekening van appèl word gekondoneer.
Die
appél slaag en die appellant se skuldigbevinding en vonnis word
tersyde gestel.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam en dit
word so beveel:
_______________________
C C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Namen
die appellant: Adv S P Rasethuntsa
In
opdrag van: Regshulpsentrum
Namens die
respondent: Adv D P Olivier
In
opdrag van: Direkteur van Openbare Vervolgings,
KIMBERLEY