About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 98
|
|
Hamilsplit (EDMS) Bpk and Another v Erasmus and Another (4483/2005) [2007] ZAFSHC 98 (20 September 2007)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak
Nr. 4483/2005
In
die saak tussen:
HAMILSPLIT
(EDMS) BPK
Eerste Eiser
HAMILTON
SOLUTIONS BPK
Tweede Eiser
en
JOHANNES
GERHARDUS ERASMUS
Eerste Verweerder
PIETER
JOHANNES PIETERSE
Tweede
Verweerder
UITSPRAAK:
VAN DER MERWE, R
AANGEHOOR
OP:
4 en 5 SEPTEMBER 2007
_______________________________________________________
GELEWER
OP:
20 SEPTEMBER 2007
[1] In
die dagvaarding in hierdie saak vorder die eisers terugbetaling vanaf
die eerste verweerder van kommissie wat met betrekking
tot die
verkoop van lewensversekeringsprodukte betaal sou gewees het aan
makelaars onder sy beheer en vorder die tweede eiser terugbetaling
van die tweede verweerder van sodanige kommissie wat aan die tweede
verweerder betaal was.
[2] Die tweede verweerder
het in persoon by die verhoor verskyn en het by die aanvang daarvan
toegestem tot vonnis ten gunste van
die tweede eiser. Gevolglik is
vonnis by ooreenkoms ten gunste van die tweede eiser teen die tweede
verweerder verleen ingevolge
die dagvaarding. By die aanvang van die
verhoor is sonder beswaar daarteen, die naam van die eiser oral waar
dit voorkom in die stukke
gewysig vanaf Vitex Beleggings 815 (Edms)
Bpk na Hamilsplit (Edms) Bpk. Dit blyk dat die eerste eiser bloot ân
naamverandering
ondergaan het. Ook is in gevolge die bepalings van
hofreël 33(4) gelas dat die geskilpunte met betrekking tot die
omvang van die
beweerde eis teen die eerste verweerder oorstaan vir
latere beregting, indien nodig, en dat alle ander geskilpunte
aanvanklik afsonderlik
bereg word. Die gevolg was dat die verhoor
voortgegaan het slegs ten einde die aanspreeklikheid al dan nie van
die eerste verweerder
te bepaal.
[3] Drie getuies het by
die verhoor getuig. Namens die eiser het getuig Mnr. H. L. van der
Westhuizen, wat gedurende die tersaaklike
tydperk in beheer was van
ân groep van maatskappye wat die eerste eiser en die tweede eiser
ingesluit het maar wat sedertdien sy
belange daarin verkoop het. Die
eerste verweerder het self getuig asook Mnr. Schalk Marais, ân
rekenmeester wat werk verrig het
ten aansien van Actisol 24 BK (âdie
BKâ). Die eerste verweerder was betrokke by die BK op die wyse
hieronder uiteengesit.
[4] Sonder
inagneming van die beweerde wysiging waarna hierinlater verwys word,
was die struktuur en werkswyse van die besigheid van
die eerste eiser
en die tweede eiser soos volg. Die tweede eiser het skriftelike
sogenaamde samewerkingsooreenkomste gesluit met
makelaars wat in
terme daarvan lewensversekeringsprodukte van versekerings-maatskappye
waarmee die eisers ân verbintenis gehad
het, verkoop het. As
vergoeding hiervoor het die betrokke lewensversekeringsmaatskappye
kommissie op verkope aan die tweede eiser
betaal. Die tweede eiser
het hierdie kommissie ten volle aan die betrokke makelaars betaal.
Die verkoopskommissie is by die sluit
van die lewensversekeringspolis
deur die lewensversekerings-maatskappy aan die tweede eiser uitbetaal
en deur laasgenoemde aan die
betrokke makelaars betaal. Indien die
polis egter binne ân bepaalde periode beeïndig is, moes die
kommissie proposioneel terugbetaal
word aan die
lewensversekeringsmaatskappy afhangende van die duur van die polis
voor die beëindiging daarvan. Kommissie wat aldus
terugbetaalbaar
geword het, is in die getuienis verwys na as âvervallingsâ.
Geriefshalwe sal ek ook so daarna verwys. Die vervallings
is in die
algemeen deur die tweede eiser verreken teen die kommissie wat aan
die makelaars betaalbaar was. Vervallings is dus verreken
waarna
enige balans uitbetaal is. Die lewensversekeringsmaatskappye het
egter ook ân bedrag gelyk aan tussen 25% en 40% van die
kommissie
wat aan die tweede eiser betaal is, aan die eerste eiser betaal as ân
sogenaamde bestuursfooi. Essensieel is hierdie
bestuursfooi aan die
eerste eiser betaal ten einde die risiko met betrekking tot die
lewensversekeringsprodukte te bestuur. Dit
beteken hoofsaaklik dat
sake so bestuur moes word dat vroeë beëindiging van lewenspolisse
en derhalwe vervallings, sover moontlik
beperk word. Die eerste
eiser het op sy beurt skriftelike bestuurooreenkomste met bestuurders
gesluit. In terme van hierdie ooreenkomste
moes die bestuurders
makelaars werf om samewerkingsooreenkomste met die tweede eiser aan
te gaan en moes die bestuurder dan daardie
makelaars bestuur teen
betaling van ân ooreengekome gedeelte van die bestuursfooi wat ten
opsigte van makelaars onder beheer van
die betrokke bestuurder, deur
die lewensversekeringsmaatskappye aan eerste eiser betaal is.
[5] Die eerste verweerder
het op 16 Januarie 2004 die standaard skriftelike bestuursooreenkoms
van die eerste eiser onderteken. Die
eerste verweerder het gedurende
sy getuienis die verweer dat hy die bestuursooreenkoms namens die BK
met die eerste eiser aangegaan
het en dus nie in eie naam nie,
geabandoneer. Dit is gevolglik gemeensaak dat ân
bestuursooreenkoms tussen die eerste eiser en
die eerste verweerder
gegeld het waarvan die werking was soos hierbo uiteengesit. Sentraal
tot hierdie werking was natuurlik dat
die tweede eiser die kommissie
aan die makelaars betaal het, dat die tweede eiser die risiko van
verhaling of terugbetaling van vervallings
gedra het en dat die
eerste verweerder geen aanspreeklikheid ten opsigte daarvan gehad het
nie. Die tweede verweerder was een van
die makelaars wat ingevolge
die bestuursooreenkoms deur die eerste verweerder bestuur is.
[6] Die eisers se saak
berus op ân mondelinge wysiging van die bestuursooreenkoms
aangegaan met die eerste verweerder. Volgens
die eisers het Mnr. Van
der Westhuizen namens hulle gedurende Oktober 2004 mondeling met die
eerste verweerder ooreengekom dat die
eerste verweerder se vergoeding
verhoog word van 10% van die bestuursfooi deur die betrokke
versekeringsmaatskappye aan eerste eiser
betaal ten aansien van
kommissie van makelaars deur die eerste verweerder bestuur, na 20%
van daardie bestuurfooi. Volgens Mnr.
Van der Westhuizen is aldus
ooreengekom in ruil daarvoor dat die eerste verweerder voortaan volle
verantwoordelikheid aanvaar vir
die verhaling en indien nodig,
terugbetaling, van vervallings. Volgens Mnr. Van der Westhuizen sou
vervallings verreken word teen
die bestuursfooi betaalbaar deur die
eerste eiser aan die eerste verweerder of sy genomineerde. Volgens
hierdie getuie is terselfdertyd
ook ooreengekom dat die kommissie nie
meer maandeliks deur die tweede eiser aan die makelaars wat deur die
eerste verweerder bestuur
is, betaal sou word nie, maar dat die
tweede eiser die kommissie weekliks aan die eerste verweerder se
genomineerde, te wete die
BK, sou betaal.
[7] Volgens die eerste
verweerder is die bestuursooreenkoms wel gedurende Oktober 2004
mondeling gewysig met betrekking tot die oorbetaling
van kommissie
soos wat die eisers beweer. Volgens die eerste verweerder is die
voordeel hiervan dat beter kwaliteit persone as makelaars
gewerf kon
word en dat frustrasies met betrekking tot die regstelling van
probleme met die maandelikse betalings, uitgesny is. Volgens
die
eerste verweerder is sy bestuursfooi verhoog van 15% na 20% aangesien
die administrasie van die betaling van die makelaars voortaan
deur of
namens hom gedoen sou word. Die eerste verweerder het ten ene male
ontken dat hy enige aanspreeklikheid vir die verhaling
of
terugbetaling van vervallings aanvaar het. Volgens die eerste
verweerder is vervallings geensins bespreek tydens hierdie
wysigingsooreenkoms
nie.
[8] Die eerste verweerder
het egter ook daarop gesteun dat die mondelinge wysiging van die
bestuursooreenkoms onafdwingbaar is. In
hierdie verband het die
eerste verweerder gesteun op klousule 7.2 van die bestuursooreenkoms
wat bepaal dat geen bepaling van die
bestuursooreenkoms, insluitende
die betrokke klousule beskou kan word as verslap, gewysig of herroep,
tensy sodanige verslapping,
wysiging of herroeping skriftelik is en
dat dit deur ân direkteur van die eerste eiser geteken is nie.
Enige toegeeflikheid aan
die kant van die eerste eiser sal volgens
hierdie klousule nie beskou kan word as ân wysiging van sy regte
ingevolge die ooreenkoms
nie. Die antwoord van die eisers hierop is
dat die hierdie klousule in die bestuursooreenkoms ingevoeg is tot
die uitsluitlike voordeel
van die eerste eiser, dat Mnr. Van der
Westhuizen namens die eerste eiser derhalwe daarvan afstand kon doen
en inderdaad afstand
daarvan gedoen het. Die nodigheid om ân
beslissing op hierdie aspek te gee, ontstaan egter natuurlik eers
indien die eisers die
mondelinge wysiging van die bestuursooreenkoms
waarop hul steun, aangetoon het.
[9] Daar
is geen wesenlike kritiek uit te spreek op die wyse waarop enigeen
van die getuies hul getuienis afgelê het nie. Die eisers
kan
gevolglik slegs slaag indien die weergawe van die eisers, soos deur
Mnr. Van der Westhuizen voorgelê, die meer waarskynlike
is. Vir die
redes wat volg, meen ek dat dit nie die geval is nie en dat op die
beste vir die eisers, die waarskynlikhede ewewigtig
is.
[10] Indien die eerste
verweerder se bestuursfooi verdubbel is, soos wat Mnr. Van der
Westhuizen gesê het, sou dit op waarskynlikhede
neig om die weergawe
van Mnr. Van der Westhuizen dat die eerste verweerder
aanspreeklikheid vir vervallings aanvaar het, te ondersteun.
Aan die
ander kant, indien die bestuursfooi slegs van 15% na 20% verhoog is,
sou dit neig om steun te bied daarvoor dat die eerste
verweerder
slegs die administrasie van die betaling van die kommissie van die
makelaars oorgeneem het. Dit blyk uit die getuienis
van Mnr. Marais
dat hy namens die eerste verweerder hierdie administrasie hanteer het
en daarvoor ten koste van die eerste verweerder
en/of die BK, ekstra
vergoeding ontvang het. Die probleem is egter dat dit na my oordeel
nie enigsins moontlik is om ân keuse
te maak tussen die getuienis
dat die aanvanklike bestuursfooi van die eerste verweerder 10% was en
die getuienis dat die aanvanklike
bestuursfooi van die eerste
verweerder 15% was nie. Geen dokumentêre bewys is in hierdie
verband in getuienis voorgelê nie. ân
Mens sou verwag dat indien
die eerste verweerder wel aldus aanvanklik slegs die 10% bestuursfooi
ontvang het of sy bestuursfooi verdubbel
is, dit geredelik met
dokumentasie aangetoon sou kon word.
[11] ân Faktor waarop
Mnr. Van der Westhuizen sterk en herhaaldelik in sy getuienis gesteun
het, is dat die gewysigde ooreenkoms
vir ân tydperk van tien maande
toegepas is en dat in daardie tyd vervallings teen die eerste
verweerder se bestuursfooi verreken
is sonder beswaar van die kant
van die eerste verweerder. Hierdie getuienis is egter duidelik en
effektief weerspreek deur die getuienis
van Mnr. Marais. Mnr. Marais
het die getuienis van die eerste verweerder bevestig dat die
verbintenis tussen die eisers en die eerste
verweerder gedurende
Maart 2005 reeds tot ân einde gekom het. Hy het ook bevestig dat
hy persoonlik die administrasie van die
kommissiebetalings in opdrag
van die eerste verweerder hanteer het gedurende die tydperk vanaf
Oktober 2004 tot Maart 2005. Volgens
sy getuienis het hy in hierdie
tydperk weekliks gedetailleerde kommissiestate ontvang saam met die
oorbetalings vanaf die tweede
eiser aan die BK. In hierdie
kommissiestate is vervallings ten aansien van makelaars individueel
verreken sodat die netto bedrag
van kommissie betaalbaar minus
vervallings, oorbetaal is. Voorbeelde van hierdie weeklikse
gedetailleerde kommissiestate, wat die
verrekening van vervallings
aldus aantoon, is deur Mnr. Marais vanuit die dokumentasie van die
eisers geïdentifiseer en in getuienis
geïnkorporeer. Meer nog,
Mnr. Marais het getuig dat daar in die tydperk vanaf Oktober 2004 tot
Maart 2005 geen terugbetaling van
vervallings deur makelaars versoek
of verkry is nie soos wat ân mens sou verwag indien vervallings uit
die eerste verweerder se
bestuursfooi verhaal is. Mnr. Marais is ân
onafhanklike getuie wat duidelike getuienis afgelê het ten aansien
van ân onderwerp
wat hy persoonlik hanteer het. Daarenteen was die
getuienis van Mnr. Van der Westhuizen in hierdie verband in baie
opsigte vaag
en is dit duidelik dat hy beperkte eerstehandse kennis
daarvan het. Geen dokumentasie is namens die eisers in getuienis
voorgelê
waaruit blyk dat vervallings teen die eerste verweerder se
bestuursfooi verreken is nie. Die teendeel blyk soos gemeld uit die
dokumentasie
wat wel deel gemaak is van die getuienis. Dit is so dat
die eerste verweerder op ân stadium getuig het dat vervallings
gedurende
die betrokke tydperk uit sy bestuursfooi verhaal is. Hy
het egter ook getuig dat daar in die tydperk geen vervallings was
nie.
Myns insiens is die getuienis van Mnr. Marais te verkies bo die
van Mnr. Van der Westhuizen en die eerste verweerder.
[12] Op
die totaliteit van die getuienis is dit minstens net so waarskynlik
dat die eerste verweerder nie aanspreeklikheid vir verhaling
of
terugbetaling van vervallings aanvaar het nie as andersom. Dit volg
dat die eisers nie hulle saak bewys het nie.
[13] Gevolglik
word die eerste verweerder verlos van die instansie, met koste.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Namens die eisers: Adv.
H. P. West
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens
die eersteverweerder: Adv. S. J. Reinders
In
opdrag van:
Van
Wyk & Preller
BLOEMFONTEIN
/em