S v Lechesa [2007] ZAFSHC 104 (10 August 2007)

57 Reportability
Criminal Procedure

Brief Summary

Criminal Procedure — Plea and conviction — Accused not given opportunity to plead — All 17 accused charged with trespass and theft, found guilty by magistrate — Conviction on theft charge set aside as no plea entered — Irregularity in proceedings necessitating setting aside of convictions on that charge — Convictions on trespass and theft by first accused upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 104
|

|

S v Lechesa [2007] ZAFSHC 104 (10 August 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening
Nr. : 505/2007
In
die saak tussen:
DIE
STAAT
en
LECHESA
LECHESA & 16 ANDERE
CORAM:
BECKLEY,
WRP
et
BLOEM, WND R
UITSPRAAK:
BLOEM,
WND R
GELEWER OP:
10
AUGUSTUS 2007
[1] Al
17 beskuldigdes was aangekla in die Landdroshof van ‘n klag van
betreding, soos omskryf in die Wet op Oortreding, 1959 (Wet
No. 6 van
1959) en ‘n ander klag van diefstal. Beskuldigde 1 was ook
aangekla van ‘n verdere klag van diefstal. Die Landdros
het al die
beskuldigdes skuldig bevind aan die klagtes waarvan hulle aangekla
was. Hy het elk van die beskuldigdes gevonnis tot
8 maande
gevangenisstraf op klagte 1, 4 maande gevangenisstraf op klagte 2 en
18 maande gevangenisstraf vir beskuldigde 1 op klagte
3. Toe die
saak op hersiening voor Zietsman Wnd R gedien het, het hy sekere vrae
aan die Landdros gerig ten opsigte van die pleit
en skuldigbevinding
op klagte 2 en die skuldigbevinding van beskuldigde 1 op klagte 3.
[2] Die notule van die
verrigtinge in die Landdroshof dui aan dat op 2 April 2007 al 17
beskuldigdes skuldig gepleit het op klagte
1. Nadat elkeen van hulle
afsonderlik ondervra was ingevolge die bepalings van artikel
112(1)(b) van die Strafproseswet, 1977 (Wet
No. 51 van 1977) (“die
Wet”) en nadat die Landdros oortuig was dat hulle skuldig was aan
die misdryf waaraan hulle skuldig gepleit
het, het hy hulle skuldig
bevind daaraan dat hulle die nommer 5 Masimongmyn in die distrik van
Hennenman betree het sonder die toestemming
van die wettige
okkupeerder of eienaar daarvan, in stryd met die bepalings van
artikel 1(1)(a)(b) gelees met artikel 2 van bogenoemde
Wet.
[3] Nadat
die beskuldigdes op klagte 1 skuldig bevind was, lees die notule as
volg:
“
SA: “Goud is
gekry op die voertuig na beskuldigdes vervoer is. Klagte 2 sal dus
aangepas moet word.”
[4] Die
saak was toe uitgestel na 7 Mei 2007. Volgens die notule het die
Staatsaanklaer op daardie dag (7 Mei 2007) slegs vir die
Landdros
meegedeel dat “getuienis sal aangebied word tov R25 000,00 goud
wat gevind is by beskuldigdes”. Die saak was daarna
uitgestel na
22 Mei 2007.
[5] Op
22 Mei 2007 het die Staatsaanklaer klagte 3 aan beskuldigde 1 gestel.
Hy het skuldig gepleit. Nadat die Landdros hom ondervra
het en
homself oortuig het dat beskuldigde 1 wel goudstof ter waarde van R25
210,54 van bogenoemde myn gesteel het, het hy hom aan
diefstal
skuldig bevind. In daardie verband lees die notule as volg:
“
Hof
is oortuig dat beskuldigde 1 skuldig pleit op
klagte 3 en alle elemente erken. Op klagte 2 is hof ook oortuig dat
al die elemente erken.”
[6] Ek
is van oordeel dat reg behoorlik geskied het toe al die beskuldigdes
skuldig bevind was op klagte 1 en toe beskuldigde 1 skuldig
bevind
was op klagte 3.
[7] Ek kan nie dieselfde
sê ten opsigte van die skuldigbevindings op klagte 2 nie. Volgens
die notule was klagte 2 nooit aan die
beskuldigdes gestel nie. Hulle
het ook nie daarop gepleit nie. Die Landdros sê dat hy verkeerdelik
onder die indruk verkeer het
dat al die beskuldigdes kragtens die
bepalings van artikel 112(1)(b) van die Wet ondervra was en skuldig
bevind was aan diefstal
van mynlampies ter waarde van R7 650,00. Hy
sê dat hy homself verwar het met ‘n ander saak wat gedurende
daardie selfde tydperk
voor hom gedien het “waar daar ook ‘n
groot groep mans verskyn het op presies dieselfde klagtes en waar die
hof reeds die ondervraging
ingevolge artikel 112(1)(b) Wet 51/1977 op
al die klagtes afgehandel het”. Ek aanvaar sy verduideliking.
[8] Wat minder
aanvaarbaar is is dat die Landdros, nieteenstaande die feit dat die
notule hom nie staaf nie, soos hierbo uiteengesit,
daarvan oortuig is
dat die beskuldigdes “later ingelig is dat klagte twee nie meer
gaan oor goud diefstal nie maar slegs diefstal
van die myn koplampe.
Almal het daarop skuldig gepleit”. Hy is van mening dat hy
gefouteer het om direkte gevangenisstraf ten
opsigte van aanklag 2 op
te lê. Hy is van oordeel dat hy ‘n boete van tussen R500 en R800
moes opgelê het en by wanbetaling
daarvan gevangenisstraf van tussen
40 en 60 dae moes opgelê het.
[9] Myns insiens gaan dit
hier nie of die vonnis vanpas is al dan nie, maar of die beskuldigdes
behoorlik skuldig bevind is aan klagte
2. Ingevolge artikel 105 van
die Wet moet ‘n beskuldigde op ‘n aanklag pleit. Daardie artikel
lees as volg:
“
Voordat
die verhoor van ‘n beskuldigde ‘n aanvang neem
,
word die aanklag deur die aanklaer aan hom of haar gestel en word hy
of sy, behoudens die bepalings van artikels 77, 85 en 105A,
deur die
hof aangesê om onverwyld ooreenkomstig artikel 106 daarop te pleit.”
[10] ‘n
Verhoor kan dus nie aanvang neem nie alvorens ‘n beskuldigde nie
gepleit het nie ingevolge artikel 106. Dit is as volg
deur Jordaan
Wnd R in
S
v SITHOLE AND OTHERS
1999 (1) SASV 227 (T) op 230 c – d gestel:
“
To convict an
accused on a charge he was not requested to plead to is in my view
such a departure from the rules and principles governing
the conduct
of criminal proceedings that it cannot be countenanced.”
[11] In
daardie saak het die geleerde Regter al die skuldigbevindings ter
syde gestel waar die beskuldigdes skuldig bevind was sonder
dat hulle
‘n geleentheid gehad het om te pleit.
[12] Soos
hierbo aangedui, is daar geen teken in die notule dat klagte 2 aan
die beskuldigdes gestel was nie. Die notule laat dit
ook nie toe dat
daar ‘n afleiding gemaak kan word dat die klagte wel aan die
beskuldigdes gestel was nie. Ek bevind dat klagte
2 nie aan die
beskuldigdes gestel was nie en dat hulle nie daarop gepleit het nie.
‘n Onreëlmatigheid het dus plaasgevind wat
my verplig om al 17
beskuldigdes se skuldigbevindings op klagte 2 ter syde te stel. Die
skuldigbevindings en vonnisse van al die
beskuldigdes word dus ter
syde gestel.
[13] In al die
omstandighede word die skuldigbevindings en vonnisse van al die
beskuldigdes op klagte 1 bekragtig, die skuldigbevindings
en vonnisse
van al die beskuldigdes op klagte 2 word ter syde gestel en die
skuldigbevinding en vonnis van beskuldigde 1 op klagte
3 word
bekragtig.
___________________
G.
H. BLOEM, WND R
Ek
stem saam
___________________
A.
P. BECKLEY, WRP
/EM