About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 54
|
|
Madonsela v S [2007] ZAFSHC 54 (28 June 2007)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A260/06
In
die appèl tussen:-
SIPHO
EPHRAIM MADONSELA
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
CORAM:
VAN
DER MERWE R
et
VOGES WND R
AANGEHOOR
OP:
25 JUNIE 2007
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VOGES WND R
GELEWER OP:
28
JUNIE 2007
[1] Die appellant het
as beskuldigde 2 in die streekhof tereggestaan op ân aanklag van
roof met verswarende omstandighede. Beskuldigde
1 is vrygespreek,
terwyl beskuldigde 2 op 3 April 2006 op hierdie aanklag skuldig
bevind en op 21 April 2006 gevonnis is tot 10 (tien)
jaar
gevangenisstraf. Hy appelleer na hierdie hof teen sy
skuldigbevinding.
[2] Die vervolging het
voortgespruit uit ân gewapende rooftog wat op 22 Februarie 2005 by
die Eerste Nasionale Bank te Dealesville
plaasgevind het.
[3] Die Staat se saak is
op ân uiters onbeholpe en onnoukeurige wyse aan die hof
a
quo
voorgelê. Adv Ferreira, namens die respondent, het dan
ook in hierdie hof toegegee dat etlike leemtes in die getuienis
bestaan.
So is daar byvoorbeeld geen werknemer of beampte van die
bank geroep t a v die gebeure in die bank tydens die rooftog nie en
is
ook nooit bewys welke bedrag kontant gesteel en/of teruggevind is
nie. Dit is ook nie bewys dat die verpakking van die teruggevonde
geld ooreenstem met bankgebruik nie.
[4] Dit is egter nooit
deur die verdediging in geskil geplaas dat die rooftog wel
plaasgevind het en dat kontant daartydens gesteel
is nie.
[5] Die hof
a quo
het die voordeel gehad van ân video-opname wat tydens die gebeure
in die bank deur die sekuriteitskameras opgeneem was. Daarop
kan
duidelik gesien word hoedat 4 mans die bank binne kom. Een van hulle
was duidelik gewapen met ân pistool. Drie van hulle het
oor die
toonbank gespring waar die tellers werksaam was, terwyl een by die
deur wag gehou het. Al vier is uiteindelik by die bank
uit.
[6] ân
Privaatspeurder en boer, De Jager, wat in die kafee langs die Eerste
Nasionale Bank was, het vier persone by die bank sien
uithardloop.
Van hulle het plastieksakke in hul hande gehad en twee was met
vuurwapens gewapen, naamlik ân pistool en ân geweer.
Al vier
hierdie persone het in ân Mazda motor met EC-registrasienommers
gespring. De Jager het die Mazda met sy eie voertuig
agterna gesit.
[7] Tydens
die agtervolging het die getuie gesien hoedat die Mazda langs die pad
stilhou. ân Wit Venture voertuig met GP registrasienommers
het
langs die Mazda gestop. Vyf persone uit die Mazda het oorgeklim in
die Venture. Laasgenoemde het verder gery met De Jager steeds
agterna.
[8] Die polisie het
intussen ân padblokkade opgestel. Ongeveer ân kilometer vanaf
die padblokkade het die Venture gestop, vyf
persone het daaruit
geklim en die veld ingehardloop. Die Venture het verder gery en by
die padblokkade tot stilstand gekom nadat
die wiel daarvan stukkend
geskiet is. Beskuldigde 1 was die bestuurder van die Venture en het
alleen daarin agtergebly.
[9] Die
Stasiekommissaris van die SAPD, Dealesville, kaptein Ebersohn, is ook
na die toneel van die padblokkade op die Hertzogvillepad.
Hy het
gesien hoedat twee verdagte persone in die veld platval. In die
teerpad het oral geld rondgelê.
In hul soektog na die
verdagtes, het die polisie op die liggame van 3 mans afgekom wat
skynbaar selfmoord gepleeg het, aangesien pistole
naby die liggame
gevind is. ân R5-tipe geweer is ook in die veld opgetel.
Op
die fotoâs wat as bewysstuk voor die hof gedien het, kan gesien
word dat die kleredrag van hierdie drie oorledenes ooreenkom
met die
kleredrag van sommige van die rowers.
[10] Die appellant is
onder ân doringbos gekry waar hy homself versteek het. Onder hom
het ân R100-noot en ân selfoon gelê
en in sy broeksak is R1000
in R10-note gekry. Dit was nuwe note wat met ân bruin papiertjie
vasgebind was, soos wat banke dit
doen.
[11] Die appellant getuig
dat hy die betrokke dag buite Dealesville deur beskuldigde 1 opgelaai
is met die wit Venture-voertuig.
Hulle is later deur mense gestop
wat vir ân geleentheid gevra het. Vyf persone het toe in die
Venture geklim. Geeneen was egter
gewapen nie.
Toe hulle die
polisievoertuig in die pad sien, het hy (beskuldigde 2) saam met
hierdie 5 persone uit die Venture gespring en die veld
in gehardloop.
Hy het dit gedoen omdat hy dagga in sy besit gehad het en hy nie
beskuldigde 1 in die moeilikheid wou laat beland
nie.
Hy
het die dagga weggegooi en onder ân bos weggekruip. Hy ontken dat
hy R1000 se R10-note in sy besit gehad het of enigsins by
die rooftog
betrokke was. Sy selfoon en R100 kontant is wel deur die polisie by
hom afgeneem.
[12] Geen fout kan gevind
word met die verhoorlanddros se bevinding dat die rooftog bo redelike
twyfel bewys is nie. Net so is sy
bevinding ten aansien van die
geloofwaardigheid van die staatsgetuies en die ongeloofwaardigheid
van die appellant nie aan te kyf
nie.
[13] Kortliks opgesom,
regverdig die volgende ân bevinding, as enigste redelike afleiding,
dat die appellant een van die rowers
was:
Vier rowers betree die
bank, hardloop uit en jaag weg in die Mazda.
Vyf persone klim uit die
Mazda oor in die Venture. (Die vyfde persoon is waarskynlik die
bestuurder van die Mazda.)
Vyf persone, insluitende
die appellant, hardloop weg vanaf die Venture. Slegs beskuldigde 1
bly daarin agter.
Drie van hulle word dood
in die veld aangetref. Hierdie drie se kleredrag stem ooreen met
die kleredrag van drie van die rowers.
Die appellant versteek
homself onder ân bos.
R1000 se ongebruikte
R10-note word in sy besit gevind.
Die appellant gee ân
verwerplike, leuenagtige verduideliking vir sy teenwoordigheid op
die toneel van arrestasie.
[14] Die appèl kan
gevolglik nie slaag nie en word van die hand gewys. Die
skuldigbevinding en vonnis van die appellant word bekragtig.
________________
M. VOGES, WND R
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Namens die
appellant: Adv. R.J. Nkhahle
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. A. Ferreira
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
MV/sp