van Wyk v La Touche (708/2006) [2007] ZAFSHC 85 (25 June 2007)

65 Reportability

Brief Summary

Delict — Negligence — Claim for damages arising from personal injury — Plaintiff fell through an unmarked hole in the floor of a storage room provided by the defendant — Plaintiff alleged lack of warning regarding the danger — Defendant contended that the plaintiff was aware of the hole and had previously used the area for illicit activities — Court found that the defendant failed to prove the plaintiff's prior knowledge of the danger and that the defendant was negligent in failing to provide a safe environment — Plaintiff awarded damages for injuries sustained.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 85
|

|

van Wyk v La Touche (708/2006) [2007] ZAFSHC 85 (25 June 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak
Nr. : 708/2006
In
die saak tussen:-
MARTINA
JACOMINA VAN WYK
Eiseres
en
LA
TOUCHE
Verweerder
_____________________________________________________
CORAM:
MALHERBE
RP _____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
5,
6 EN 8 JUNIE 2007
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
MALHERBE
RP
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
25
JUNIE 2007
_____________________________________________________
Eiseres
was voorheen werksaam as gesellin by La Touche gesellinklub in
Bloemfontein waarvan Mev. Juliana Willemse die eienares is.
Op 16
Maart 2005 val eiseres deur ‘n gat in die vloer van die stoorkamer
waarin sy op verweerder se perseel geslaap het en doen
ernstige
liggaamlike beserings op. In hierdie saak vorder sy skadevergoeding
van verweerder voortspruitende uit haar beserings.
By die
aanvang van die verrigtinge het die partye my ingevolge Hofreël
33(4) versoek om te gelas dat die beweerde nalatigheid en
die
quantum
van eiseres se skade apart verhoor word. Ek het aldus gelas en die
verhoor is voortgesit om die kwessie van nalatigheid en moontlike
bydraende nalatigheid te beslis.
Die gat in die vloer
waaroor hierdie saak handel, word uitgebeeld op foto’s B3 tot B12
in die foto album bewysstuk “B”. Die
staaltrap wat die betrokke
stoorkamer verbind met die onderste stoorplek of kelder waarin
eiseres geval het, is ook sigbaar op party
van bogemelde foto’s,
maar veral op foto’s B10 tot B17. Die sketsplan (bewysstuk “A”)
is verweerder se weergawe van die
betrokke vertrek en wat alles
daarin was. Eiseres het haar bed, kas en tafel ingeteken in die
verste regterhoek.
Eiseres was die enigste
getuie in haar saak. Haar verhaal is betreklik eenvoudig: Sy is 36
jaar oud en al vir baie jare in die gesellin
bedryf. Sy ken Mev.
Willemse ook al vir baie jare. Teen die begin van Maart 2005 het sy
en ‘n vriendin in dieselfde bedryf, vanaf
na Pretoria na
Bloemfontein gekom met die oog daarop om by Mev. Willemse te kom
werk. Hulle is gehuisves in ‘n “agterkamer”
in die klub vir
enkele dae waarna hulle na Pretoria geryloop het omdat die vriendin
in ‘n hofsaak moes verskyn in verband met dwelms.
Twee dae later
het eiseres terug geryloop na Bloemfontein om haar werk by Mev.
Willemse te hervat. By haar aankoms het Mev. Willemse
aan haar die
stoorkamer waar sy geval het beskikbaar gemaak as slaapkamer. Haar
indruk was dat die kamer onder konstruksie was:
Daar het los drade
uit die dak gehang; daar was geen beligting nie; die mure was bloot
gepleister; sy is voorsien van ‘n kas,
‘n bed en ‘n tafeltjie
en moes met ‘n kers klaarkom. Die kamer het nie eers ‘n deur
gehad nie, daar was net ‘n deuropening
sonder ‘n deur. Niemand
het haar gewaarsku omtrent die gat in die vloer nie. Waar sy deur
geval het, was planke wat langs mekaar
vasgeheg was met twee
dwarsplanke bo-op. Sy was glad nie bewus dat daardie planke eintlik
die deksel van die gat was waardeur sy
geval het nie. Op die
betrokke aand tussen 7:20 en 8 nm. is sy na hierdie kamer om haar
lipstiffie te gaan haal. Die kamer was
donker. Sy het by die
deuropening probeer lig maak met haar sigaret aansteker. Die
aansteker wou nie werk nie. Sy het vorentoe
beweeg deur die
deuropening op pad na haar bed in die regterhoek. In die proses het
sy haar toon gestamp teen die planke, op haar
knie geval, opgestaan
en die planke opgetel om dit uit die pad te sit teen die muur.
Terwyl sy dit probeer doen, het sy net eenvoudig
in die gat af geval
en op die sementvloer een verdieping ondertoe beland. Toe sy by haar
sinne kom, was daar bloed aan haar kop
en was haar linkerhand ernstig
beseer. Twee van die inwoners van die klub, onder andere Deon
Vorstman, het haar teen die leer opgedra
en ondersteun na ‘n
huurmotor wat haar hospitaal toe geneem het.
Mnr.
Möller se kruisondervraging van die eiseres was daarop gemik om aan
te toon dat sy goed geweet het van die gat en in die verlede
dikwels
die trap gebruik het om sogenaamde “pypies” waarmee dwelms
gebruik word, te gaan bêre of te gaan haal en waarskynlik
ook
daarmee doenig was toe sy in die gat geval het. Daar is ook aan haar
gestel dat die betrokke kamer inderdaad ‘n deur gehad
het en dat sy
van ‘n elektriese bedlampie voorsien is. Sy het hierdie stellings
ontken.
Wat eiseres se beweerde
kennis van die gat betref, getuig Mev. Willemse dat eiseres op ‘n
Sondag (27 of 28 Februarie 2005) by La
Touche aangekom het en dat sy
haar die Maandagaand by die toonbank ontmoet het in die geselskap van
Mej. Lee Marsh, ook bekend as
Taylor. Haar hoofgetuienis vervolg
soos volg:
“
Ek en mej. Van Wyk het eintlik
baie, baie goed oor die weg gekom. Ons het altyd gesit en grappies
maak.
Ja.
--- Toe het ek vir haar gesê onthou nou ek gee vir jou die
stoorkamer, moet asseblief nie weer stout wees en daar onder gaan
peuter nie, dit was uit ‘n blote grap uit.
MNR. MOLLER:
Wat was haar reaksie? --- Ek ken die gat al jare van Chris Grant se
tyd af, dit is waar hy sy dwelms weggesteek het.”
Sy
erken onder kruisondervraging dat eiseres na haar val sigbare
beserings aan haar kop en hand gehad het. Sy ontken egter by
herhaling
dat haar gesellinne en ander werknemers van haar afhanklik
is of was. Hierdie ontkenning gaan nie op nie. In sy betoog het
Mnr.
Möller na my mening tereg toegegee
“
dat
dit baie duidelik was dat die getuies wat vir verweerderes getuig het
nie in alle opsigte objektiewe getuies was nie en dat hulle
klaarblyklik
gepoog
het om die verweerderes met hulle getuienis te begunstig.”
Lee
Marsh is geroep om Mev. Willemse te staaf oor die gesprek oor die gat
die Maandagaand. Sy is die ontvangsdame by die klub en
woon daar in
met Deon Vorstman. Haar hoofgetuienis oor die gesprek is amper
woordeliks dieselfde as Mev. Willemse s’n en lui soos
volg:
“
Mev. Willemse en Tienie het begin
gesels en toe vertel sy vir Tienie sy vir haar ‘n vertrek gaan gee
waar sy kan in bly, maar sy
moet versigtig wees, want daar is ‘n
gat in die grond. Toe sê Tienie ons hoef nie te worry daaroor nie
sy is alreeds bewus van
die gat want sy het al, ‘n paar jaar terug
was daar ‘n plek met die naam Power House waar sy en mnr. Chris
Grant het voorheen
daar afgegaan in die gat en hulle het dwelms daar
gebruik.”
Onder
kruisondervraging las sy by dat sy en Mev. Willemse daardie selfde
aand ná die gesprek by die toonbank vir eiseres na die betrokke
kamer geneem het en met behulp van ‘n flits vir haar die gat
uitgewys het, haar weereens gewaarsku het en dat eiseres weereens
daar in die kamer gesê het dat sy
“
ken die gat, want sy en Mnr. Chris
Grant het altyd daar afgegaan, daar het hy sy dwelms gebêre en dit
is waar hulle gewoonlik afgegaan
het om dwelms te gebruik.”
Sy beskryf ook die deksel
oor die gat soos Mev. Willemse, maar las weereens by dat Deon die
twee houtpale versterk het en swaarder
gemaak het deur ‘n
staalstaaf op elke houtpaal vas te bout.
Deon is namens verweerder
geroep om stawing te verleen omtrent die deksel oor die gat en die
hulp wat hy aan eiseres verleen het nadat
sy geval het. Sy beweerde
versterking van die deksel (wat nie op die model wat hy gemaak het –
bewysstuk 1 – aangebring is nie)
verskil hemelsbreed van dié
waaroor Lee getuig het. Volgens hom het hy twee soliede staalplate
wat dieselfde grootte as die houtdeksel
is, aan die onderkant daarvan
met staalspykers vasgeslaan
“
om net ekstra gewig te gee dat hy
nie maklik kan geskuif word nie.”
Hierdie stukkie getuienis
is klaarblyklik gegee om aan te toon dat eiseres doelbewus en met
krag die deksel sou moes verwyder het!
Deon se oordrywing hou
egter nie daar op nie: Volgens hom was eiseres instaat om haarself
op te trek teen die staalleer met beide
hande en self na die
huurmotor te stap. In die lig van eiseres se kort beskywing en
demonstrasie van die ernstige besering aan haar
linkerhand, is dit ‘n
blatante leuen dat sy self teen die leer uitgeklim het. Dit is ook
baie meer waarskynlik dat sy ondersteun
is oppad na die huurmotor as
dat sy self gestap het, soos hy getuig. Net soos van die ander
getuies probeer hy ook ‘n prentjie
skilder dat die voorval baie
vroeër plaasgevind het as wat eiseres getuig het. Volgens hom was
dit nog lig en het die lig wat by
die venster ingekom het, die gat
verlig tot halfpad ondertoe. Boonop, getuig hy, was die bedlampie
ook aan!
Eiseres
se weergawe dat die voorval tussen 7:20 en 8 nm. plaasgevind het en
dat dit toe reeds donker was, is gladnie in kruisondervraging
aangeval nie. Soos verweerder se saak gevorder het, het dit egter al
ligter geword.
Mej. Annemarie van Eck
(ook bekend as Lana) en Charmaine Jardine (Kleintjie) het ook namens
verweerder getuig. Hulle getuienis is
daarop gemik om aan te toon
dat eiseres gereeld dwelmmiddels in die betrokke kamer gebruik het en
bewus was van die gat in die vloer
– trouens dat sy hulle “pypies”
onder in die kelder gaan versteek het. Hulle het ook beide getuig
dat eiseres se kamer ‘n
deur gehad het en dat daar nie net ‘n
deuropening was nie. Na my mening is dit nie nodig om hulle
getuienis op te som of te ontleed
nie. Veral Mej. Jardine was ‘n
patetiese getuie. Wat wel uit hierdie twee dames se getuienis na
vore kom, is hulle afhanklikheid
van Mev. Willemse. Ook die ander
getuies vir verweerder, insluitende Mev. Willemse self, skets ‘n
prentjie van volkome afhanklikheid.
Ek het reeds hierbo verwys na
Mnr. Möller se toegewing dat verweerder se getuies nie objektief of
onafhanklik is nie. Daarteenoor
getuig eiseres spontaan soos volg
oor haar gesindheid teenoor die getuies vir verweerder:
“
U
het ook gesê op ‘n vraag van mnr. Moller hoekom dink u sou iemand
soos Kleintjie of Taylor leuens vertel indien hulle in die
saak
getuig en toe het u geantwoord hulle is almal afhanklik van mev.
Willemse, onthou u? U het ook gevra moet ek die eerlike waarheid
sê.
Toe sê ons vir u ja, u moet. --- Dit is reg.
Was u ook van haar afhanklik in die
kort tydjie wat u by haar was? --- Ja, ek was.
Voordat
u geval het? --- Ja, ek was. Almal wat in die klub bly is afhanklik
van July.
Omdat hulle hierdie tipe werk doen?
--- Ons wat in die klub gebly het ons kan nie regtig uit die klub uit
by ander mense gaan bly.
Ons het nêrens om heen te gaan nie.
Omdat u hierdie tipe werk in die nag
doen? --- Dit is reg.
Nou
die voorval was in Maart 2005, dit is nou al meer as twee jaar
gelede, nie waar? --- Dit is reg.
Nadat u nou uit die hospitaal ontslaan
is, waarheen is u toe, na die val nou? --- Toe is ek terug na die
klub toe. Kleintjie en Lee
het my versorg, hulle het my gebad, kos
gekoop, want ek kon nie werk nie. En een van die bediendes Johanna
het my ook gebad. Mev.
Willemse het altyd vir my ‘n bordjie kos
gemaak as ek honger is. Pynstillers vir my gegee. Op daardie
stadium kon ek nie my antibiotika
drink nie, dan het ons nou maar R10
oopgemaak en in Grandpa gegooi om my pyne te stil en ek het nie die
finansies gehad om Pelonomi
toe te ry nie. En Kleintjie en Lee het
van hulle werksgeld gebruik om my dokter toe te vat en weer terug te
bring na die klub toe.
En ek het omtrent seker ‘n week na my
voorval het ek teruggegaan Pretoria toe.”
Ek het myself deurgaans
gewaarsku om nie die getuies vir verweerder onbewustelik te
veroordeel bloot omdat hulle in die betrokke bedryf
werksaam is nie.
Immers is eiseres ook ‘n gesellin. My indruk van haar in
getuiebank is dat sy eerlik en openhartig was. Sy
het soms aangedaan
geraak maar nogtans vasgebyt. ‘n Mens kon dikwels die ongeloof op
haar gesig sien wanneer sy in kruisondervraging
gekonfronteer is met
verweerder se weergawe. Ek aanvaar haar weergawe van die gebeure
sonder aarseling as waarskynlik waar.
Mnr. Möller voer aan dat
eiseres se getuienis nie nalatigheid aan die kant van verweerder
bewys nie omdat ‘n redelike man nie sou
moes voorsien het dat
iemand in die donker ‘n plank (wat eintlik die gat se deksel was)
sou probeer verskuif nie. Hy het ook betoog
dat die eiseres ‘n gat
of luik in die vloer van die pakkamer moes voorsien het. Ek kan nie
saamstem nie: Volgens eiseres was
sy onbewus van die gat. Sy het
wel die deksel of plank gesien, nie geweet of dit los of vas was nie
“
maar nie notisie gevat van die
plank nie, want almal beweeg oor hom. Ek het maar net gedink hy lê
daar .... ons almal het maar oor
hom beweeg .... die bediendes het
nogal op die plank ook gesit as hulle ete het en jy kan nie as jy oor
hom loop, voel daar is ‘n
gat onder. Ons almal het maar net geloop
oor hom.”
Tweedens, was dit ‘n
ruwe betonvloer en nie ‘n plafon van ‘n huis waarin ‘n mens ‘n
luik kan voorsien nie.
Eiseres se beskrywing van
die gebeure met die val, pas in by haar weergawe dat daar nie ‘n
deur was nie en dat sy vanaf die deuropening
skuins na regs beweeg
het in die rigting van haar bed. Indien daar ‘n deur was wat net
90º kon opmaak en haar bed wel gestaan
het waar verweerder dit
aantoon op die skets bewysstuk “A”, was daar vir haar geen rede
om oor die deksel te beweeg nie. Die
suggestie dat sy die deksel
doelbewus sou opgetel het om kort voordat sy moes begin “werk” by
haar dwelms uit te kom, is uiters
onwaarskynlik op al die getuienis
en is blote spekulasie.
Ek bevind dat eiseres op
‘n sterk oorwig van waarskynlikhede bewys het dat verweerder
nalatig was deur eiseres nie in te lig omtrent
die gevaar van die gat
nie of waarskuwings op te rig om gebruikers van die pakkamer te
waarsku van die gat nie en om nie behoorlike
beligting in die
pakkamer aan te bring nie, soos gepleit.
Mnr. Möller het ook
betoog dat indien bevind word dat verweerder nalatig was, eiseres ten
minste 50% bydraend nalatig was. Die aanvaarding
van eiseres se
getuienis laat geen ruimte vir so ‘n bevinding nie.
Ek
bevind derhalwe dat verweerder uitsluitlik aanspreeklik is vir die
skade wat eiseres gely het as gevolg van haar val op verweerder
se
perseel op 16 Maart 2005. Verweerder word gelas om die koste van die
geding tot dusver te betaal.
_________________
J.P. MALHERBE, RP
Namens
die eiseres: Adv. H.J. Benade
In opdrag van:
Symington
& De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens
die verweerder: Adv. M.J. Möller
In opdrag van:
McIntyre
& Van der Post
BLOEMFONTEIN
/sp