About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 43
|
|
Pienaar v Schoeman (1984/2007) [2007] ZAFSHC 43 (31 May 2007)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 1984/2007
In
die saak tussen:-
ALET
JACOBUS PIENAAR
Applikant
en
FANIE
SCHOEMAN
Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
24 MEI 2007
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN DER MERWE R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
31 MEI 2007
_____________________________________________________
[1] Die onderwerp van
hierdie aansoek is ân Case 1660 stroper met registrasienommer
DSL349NW (âdie stroperâ). Dit is op die
stukke voor my
gemeensaak tussen die partye dat die applikant die stroper op 14
Desember 2006 kragtens mondelinge ooreenkoms aan
die respondent
verkoop het. Dit is ook gemeensaak tussen die partye dat die
respondent tans in besit is van die stroper en dat die
respondent die
stroper minstens sedert 14 Mei 2007 gebruik vir die stroop van
mielies.
[2] Die
onderhawige aansoek is geloods as ân dringende aansoek waarin beoog
was om regshulp te verkry hangende die beslissing van
die
onderstaande finale regshulp en koste, wat later in dieselfde aansoek
deur die applikant aangevra sou word, te wete bevele:
â
3.1 dat die koopooreenkoms tussen
die applikant en die respondent rakende die aankoop van ân Case
1660 stroper met registrasienommer
DSL 349 NW (âdie stroperâ)
gekanselleer is:
3.2 dat
die respondent gelas word om die stroper aan die applikant te lewer;â
[3] Antwoordende en
repliserende beëdigde verklarings is egter intussen afgelewer,
voordat enige regshulp toegestaan is. By die
aanvang van die
argument voor my is namens die applikant gevra dat regshulp verleen
word hangende ân aksie binne ân bepaalde
tydperk ingestel te word
en dat die Kennisgewing van Mosie dienooreenkomstig gewysig word.
Hierdie wending is klaarblyklik veroorsaak
deur die wesenlike
feitegeskille tussen die partye met betrekking tot die regshulp wat
hierbo aangehaal is, wat uit die stukke blyk.
Namens die respondent
is aangedui dat daar geen beswaar daarteen is dat die aansoek op
hierdie basis oorweeg word nie. Gevolglik
word tans essensieel deur
die applikant gevra dat hangende finale beregting van die aksie
ingestel te word, die balju gemagtig en
gelas word om die stroper uit
die besit van die respondent te verwyder en dit in bewaring te hou,
alternatiewelik
dat die respondent verbied word om die stroper
te gebruik. Uit die hoofde van die voormelde is dit duidelik dat
tans aanvaar moet
word dat die regshulp hierbo aangehaal, deur die
applikant in die aksie gevorder sal word.
[4] Die applikant vra dus
twee alternatiewe vorme van regshulp aan, hangende die beslegting van
die aksie. Hierdie twee alternatiewe
vorme van regshulp word boonop
deur die respondent op twee alternatiewe regsgrondslae teengestaan.
Die gevolglike wisselwerking,
soos wat aanstons sal blyk, veroorsaak
dat die alternatiewe vorme van regshulp wat die applikant aanvra,
elkeen afsonderlik oorweeg
moet word.
[5] Die regshulp wat in
die eerste plek deur die applikant aangevra word, is dat die stroper
uit die respondent se besit verwyder
moet word. Ek aanvaar dat die
voorgestelde bevel ân
interim
interdik daarstel op die basis
dat die vraag of die respondent verplig is om die stroper aan die
applikant te lewer, in die aksie
beslis sal word. Gevolglik moet in
die eerste plek beoordeel word of die applikant ân
prima facie
saak vir teruglewering van die stroper aangetoon het.
[6] Die aanvaarde toets
in hierdie omstandighede is om eerstens die feite wat deur die
applikant beweer word te oorweeg tesame met
sodanige feite wat deur
die respondent beweer word, maar nie deur die applikant betwis word
of kan word nie en met inagneming van
die inherente waarskynlikhede
die vraag te vra of die applikant daarop in die aksie behoort te
slaag. Indien nie, moet die applikant
vir daardie rede alleen
natuurlik reeds faal. Indien die applikant die eerste hekkie oorkom,
moet die feite wat deur die respondent
beweer word oorweeg word en
indien daardie feite ernstige twyfel of meer dan âsome doubtâ
werp op die saak van die applikant,
kan die applikant ook nie slaag
nie. Sien byvoorbeeld
SIMON NO v AIR OPERATIONS OF EUROPE AB
AND OTHERS
[1998] ZASCA 79
;
1999 (1) SA 217
(HHA) op 228 G â H.
[7] Die applikant se saak
is dat hy die koopkontrak met betrekking tot die stroper geldig
gekanselleer het weens wanbetaling deur
die respondent van die
koopprys en dat die applikant gevolglik geregtig is op teruggawe van
die stroper. Die respondent daarenteen
erken dat hy nog geen
betaling aan die applikant gemaak het ten aansien van die koopprys
van die stroper nie, maar voer in die eerste
plek aan dat volgens die
terme van die koopkontrak, geen gedeelte van die koopprys betaalbaar
was op die stadium toe die aansoek
aanhangig gemaak is nie. Die
partye is dit eens dat die koopprys R200 000,00 was, maar verskil oor
of BTW daarby ingesluit is of
nie.
[8] Namens die respondent
is aangevoer dat by die toepassing van hierdie toets, die applikant
nie
prima facie
aangetoon het dat die koopkontrak geldig
gekanselleer is nie. Ek stem nie saam nie. Die wesenlike vraag hier
is wanneer die koopprys
of enige wesenlike gedeelte daarvan
betaalbaar was kragtens die koopkontrak. Beide partye sê dat dit
ooreengekom was dat die koopprys
betaal sou word deurdat alle
stroopgelde wat met die stroper verdien sou word, deur die respondent
aan die applikant oorbetaal moes
word. Die applikant sê dat
kragtens die koopkontrak daar egter ân finale datum was waarop
volle betaling van die koopsom moes
geskied, naamlik einde Februarie
2007. Die respondent sê op sy beurt dat geen sodanige afsnydatum
deel gevorm het van die koopkontrak
nie en dat hy nie enige
stroopgelde met die stroper verdien het voordat die onderhawige
aansoek aanhangig gemaak is nie. Wat egter
in hierdie verband
belangrik is, is dat die applikant aanvoer dat die koopkontrak by
ooreenkoms tussen die partye dusdanig gewysig
is dat ân bedrag van
R100 000,00 voor of op einde Februarie 2007 betaal moes word. Die
applikant voer aan dat hierdie wysigingsooreenkoms
aangegaan is nadat
dit geblyk het dat geen betalings deur die respondent gemaak word nie
en fondse dringend benodig geword het vir
doeleindes van ân
hartomleidingsoperasie van die applikant se seun. Op die basis dat
die respondent versuim het om ân bedrag
van R100 000,00 te betaal
voor of op die ooreengekome datum van 28 Februarie 2007, sou die
applikant myns insiens geregtig wees om
die koopkontrak te kanselleer
soos wat aan die respondent meegedeel is in ân skrywe gedateer 4
April 2007. Die respondent se bewerings
met betrekking tot die
beweerde gewysigde betalingsooreenkoms, werp myns insiens nie
ernstige twyfel op die applikant se getuienis
in hierdie verband nie,
maar neig eerder om dit op die waarskynlikhede te ondersteun. Die
respondent sê self dat hy op 10 Maart
2007 ân SMS boodskap
afkomstig van die applikant ontvang het waarin die respondent gedreig
is dat die stroper afgehaal sou word
indien die respondent nie die
bedrag van R100 000,00 summier betaal nie. Dié optrede sou vreemd
wees indien dit nie strook met
wat op ooreengekom is nie. Bowendien
blyk dit uit die respondent se eie getuienis dat hy daarna tot 20
Maart 2007 met die applikant
saamgewerk het om te poog om iemand
anders te kry om die stroper te koop en dat die respondent in die
proses selfs aangebied het
om die brandstofkoste van ân voornemende
koper afkomstig vanaf Delmas na Marquard/Excelsior te betaal.
Volgens die respondent
het die applikant op 20 Maart 2007 te kenne
gegee dat die respondent verder van die applikant se prokureurs sou
verneem. Hierdie
erkende optrede van die respondent strook eerder
met die applikant se weergawe as met die respondent se beweerde blote
welwillendheidsgebare.
[9] In sy opposisie van
ân verwyderingsbevel ten opsigte van die stroper steun die
respondent egter in die alternatief ook op ân
retensiereg
voortspruitende uit herstelwerk aan die stroper aangebring. Volgens
die respondent het die betrokke herstelwerk die
waarde van die
stroper met tussen ân R100 000,00 en R150 000,00 laat toeneem. Die
applikant gee toe dat herstelwerk aan die stroper
nodig was en dat
herstelwerk daaraan inderdaad deur die respondent gedoen is. Die
applikant betwis ook nie die getuienis met betrekking
tot die
waardevermeerdering van die stroper as gevolg van die herstelwerk
nie. Die applikant voer aan dat hy eiendomsreg ten opsigte
van die
stroper voorbehou het totdat volle betaling van die koopsom geskied
het. Op die applikant se saak was die respondent dus
ân regmatige
houer van die stroper op die stadium toe die herstelwerk daaraan
gedoen is. Alhoewel die presiese omvang van die
uitgawes deur die
respondent aan die stroper bestee tans nie duidelik is nie, blyk dit
dus dat die applikant nie kan betwis dat die
respondent op ân
verrykingsretensiereg kan staatmaak indien die koopkontrak wel geldig
gekanselleer is nie. Sien C.G. van der
Merwe,
Sakereg
, Tweede
Uitgawe p. 163. Daar is geen of onvoldoende getuienis voor my dat
die applikant die respondent se vergoedingseis sal betaal
of
versekureer nie. Dit volg dat op hierdie basis die applikant nie in
die hoofaksie sal slaag om ân bevel tot teruglewering van
die
stroper te verkry nie.
[10] Vervolgens moet
oorweeg word of die alternatiewe regshulp van ân verbod op die
respondent om die stroper hangende die beslegting
van die aksie te
gebruik, toegestaan kan word. Die eerste vraag in hierdie verband is
myns insiens of hierdie regshulp ân finale
of tussentydse interdik
daarstel. Die kernverskil tussen ân finale interdik en ân
interim
interdik is
dat by die eersgenoemde die betrokke regte van die partye finaal
beslis word en by laasgenoemde nie. Sien
LAWSA
,
Volume 11, First Re-issue p. 288 para 307 en p. 290 â 291 para 314
en
APLENI v MINISTER OF LAW AND ORDER AND
OTHERS
1989 (1) SA 195
(A) op 201. Soms
is ân interdik wat slegs vir ân beperkte tydsduur sal geld steeds
ân finale interdik, omdat ân finale beslissing
van regte geverg
word. Dit sal die geval wees wanneer die betrokke reg of geskil nie
in die hoofgeding ter sprake sal kom nie.
Sien byvoorbeeld
STRAUSZ
v STRAUSZ AND OTHERS
1964 (1) SA 720
(W)
op 722 en 723 en
CAPE TEX ENGINEERING WORKS
(PTY) LTD v SAB LINES (PTY) LTD
1968 (2)
SA 528
(K) op 530 A â B. Vergelyk ook
METLIKA
TRADING LTD AND OTHERS v COMMISSIONER, SOUTH AFRICAN REVENUE SERVICE
2005 (3) SA 1
(HHA) op 12 E en 12 H. Die vraag of die respondent die
stroper mag gebruik terwyl hy in besit daarvan is, sal na my oordeel
nie
in die aksie beslis word nie. Anders gestel, ân bevel dat die
respondent verbied word om die stroper te gebruik, sal nie by die
aksie heroorweeg word nie. Dit volg dat die alternatiewe interdik
wat deur die applikant aangevra word, ân finale interdik is.
Gevolglik moet die gewone beginsels by beoordeling van feitedispute
in aansoeke soos uiteengesit in
PLASCON-EVANS
PAINTS LTD v VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3) SA 623
(A) op 634 en 635, toegepas word. Aangesien die
respondent se weergawe nie bloot op die stukke verwerp kan word nie,
moet die aansoek
vir hierdie regshulp op sy weergawe beslis word.
[11] Die respondent se
weergawe is dat die koopkontrak nog geld en dat hy derhalwe steeds
geregtig is om die stroper te gebruik.
Hy beroep hom slegs in die
alternatief, indien bevind sou word dat die koopkontrak wel geldig
gekanselleer is, daarop dat hy oor
retensiereg vir verbeterings
beskik. Hy het wel aangebied om die stroper terug te lewer teen
betaling van sy vergoedingseis in die
bedrag van R46 199,00 maar
daardie aanbod is nie aanvaar nie. Dit is so dat ân
retentor
nie die saak waaroor die retensiereg geld mag gebruik nie, maar, soos
reeds verduidelik, kan die saak nie op hierdie basis beslis
word nie.
Dit volg dat die alternatiewe aangevraagde regshulp ook nie
toegestaan kan word nie.
[12] Die
aansoek word van die hand gewys met koste.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Namens
die applikant: Adv. P.J. T. de Wet
In
opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. P.U. Fischer
In
opdrag van:
E
G Cooper Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp