Oliphant v Oliphant (3690/05) [2007] ZAFSHC 27 (15 March 2007)

55 Reportability

Brief Summary

Divorce — Maintenance — Claim for spousal maintenance — Parties agreed on divorce and division of joint estate — Dispute over maintenance claim of R1,000 per month for 12 months — Husband contended he had no maintenance obligation and lacked financial means — Court assessed financial positions of both parties, including income and assets — Maintenance claim granted based on wife's financial needs and husband's ability to pay.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 27
|

|

Oliphant v Oliphant (3690/05) [2007] ZAFSHC 27 (15 March 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANGE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 3690/05
In
die saak tussen:-
CORNELIUS
OLIPHANT
Eiser
en
CAROLINE
MAGDALENA OLIPHANT
Verweerderes
(Gebore
Jones)
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
26 JANUARIE 2007
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
2 FEBRUARIE 2007
_____________________________________________________
[1] In hierdie
eskeidingsaksie het eiser verweerderes gedagvaar vir ‘n bevel van
egskeiding en gepaardgaande regshulp. Verweerderes
het ‘n
verweerskrif en voorwaardelike teeneis geliasseer, waarin sy ontken
het dat die huweliksverhouding tussen die partye onherstelbaar
verbrokkel het, maar indien dit bevind sou word dat die huwelik wel
onherstelbaar verbrokkel het, het sy insgelyks ‘n bevel van
egskeiding en aanverwante regshulp gevorder.
[2] Eiser
is gedurende die hofverrigtinge deur ‘n advokaat verteenwoordig,
synde Mnr. Greyling. Hoewel verweerderes aanvanklik
gedurende die
liassering van haar pleitstukke regsverteenwoordiging geniet het, het
haar prokureur van rekord vroeër onttrek en
het sy by die aanvang
van die hofverrigtinge aangedui dat aangesien sy nie oor fondse
beskik om ‘n prokureur te bekom nie en sy
nie vir regshulp
kwalifiseer nie, sy wens met die verhoor voort te gaan en haar eie
saak te behartig.
[3] Hoewel
daar aanvanklik op die pleitstukke meerdere geskilpunte tussen die
partye bestaan het, het dit by die aanvang van die verrigtinge
geblyk
dat die partye dit nou eens is dat ‘n bevel van egskeiding verleen
moet word, dat die verdeling van die gemeenskaplike boedel
daarop
moet volg en dat elke party gelas behoort te word om sy eie koste te
betaal. Die enigste vordering wat steeds in dispuut
is en gevolglik
deur my bereg moet word, is verweerderes se vordering van onderhoud
vir haarself in die bedrag van R1 000,00 per
maand as
oorbruggingsonderhoud vir ‘n termyn van 12 maande na datum van die
verlening van die egskeiding. Hierdie vordering is
deur eiser
teengestaan op die basis dat hy in die gegewe omstandighede, nie
enige onderhoudsplig jeens verweerderes het nie en in
ieder geval nie
oor die finansiële vermoë beskik om enige onderhoud aan
verweerderes te betaal nie.
[4[ Wat
die verdeling van die gemeenskaplike boedel betref, meen ek dat dit
doelmatig is om reeds op hierdie stadium te vermeld dat
ek by die
aanvang van die verrigtinge meegedeel is dat die partye nie in staat
is om ‘n ooreenkoms te bereik met betrekking tot
die wyse waarop
die gemeenskaplike boedel tussen hulle verdeel moet word nie en dat
hulle voorsien dat hulle ook nie na lewering
van hierdie uitspraak
hierop sal kan ooreenkom nie. Ek het gevolglik gedurende die verhoor
voorgestel dat die partye moes poog om
‘n ooreenkoms te bereik met
betrekking tot die aanstelling van ‘n onafhanklike prokureur as
ontvanger en verdeler van die gemeenskaplike
boedel, welke ooreenkoms
dan deur my by die hofbevel geïnkorporeer kan word ten einde te
verhoed dat daar in die toekoms onnodig
verdere regskoste spandeer
moet word ten einde ‘n aansoek te bring vir die aanstelling van
sodanige ontvanger en verdeler. Die
partye het wel aldus ooreengekom
en is ek deur Mnr. Greyling in besit gestel van ‘n konsepbevel
waarin die partye ooreengekom het
dat ene Mnr. L.A. Roux van die
firma Maroka Prokureurs, Bloemfontein, aangestel word as ontvanger en
verdeler van die gemeenskaplike
boedel van die partye en welke
konsepbevel ook ‘n uiteensetting bevat het van die magte, funksies
en verpligtinge van die ontvanger
en verdeler. Verweerderes het op
my navraag bevestig dat sy toestem daartoe dat hierdie ooreenkoms by
die onderhawige bevel geïnkorporeer
word.
[5] Beide
eiser en verweerderes het persoonlik getuig. Uit hulle getuienis het
die volgende aspekte geblyk gemeensaak te wees. Die
partye is met
mekaar getroud op 1 Mei 1999 in gemeenskap van goedere. ‘n Afskrif
van die huweliksertifikaat is ingehandig as bewysstuk
“A”.
Hoewel eiser kinders het en verweerderes ‘n 15-jarige dogter het,
het die partye nie gesamentlik enige kinders gehad
nie. Volgens
eiser het die huweliksverhouding tussen die partye onherstelbaar
verbrokkel en soos reeds vroeër hierin aangedui,
gee verweerderes
toe dat sy bereid is om dit so te aanvaar. Eiser was aanvanklik by
Stellenbosch Boerewynmakery Vereniging werksaam,
welke werk hy
gedurende 2001 verlaat het en ‘n pensioen-uitbetaling op daardie
stadium aan hom gemaak is. Die partye het gedurende
2002 verhuis
vanaf Bloemfontein na Springfontein waar eiser van sy pensioengeld
gebruik het om ‘n snoepwinkel te begin, welke winkel
opgerig en
bedryf is op die perseel van sy skoonma. Voormelde winkel het egter
finansieel nie die mas opgekom nie en is die besigheid
gesluit. Nadat
die winkel nie finansieel die mas kon opkom nie, was die perseel
aanvanklik verhuur en het die partye die huurinkomste
ontvang. Tans
word die perseel egter nie verhuur nie en omdat die perseel op die
eiendom van verweerderes se skoonma is, het nie
een van die partye
werklik beheer en/of seggenskap daaroor nie.
Ten tyde van hulle
huweliksluiting was verweerderes werksaam as bestuurderes by Diamond
Express te Bloemfontein. Gedurende 2002 het
sy egter bedank ten
einde ook voltyds Springfontein toe te verhuis saam met eiser. Wie
die inisieerder vir haar bedanking was, is
in dispuut en sal ek
hieronder daarna terugkeer. Voordat sy as sulks by Diamond Express
begin werk het, was sy meer as 13 jaar by
Bayswater Supermark te
Bloemfontein as kassiere werksaam. Tot en met haar bedanking by
Diamond Express gedurende 2002 was sy haar
hele lewe lank werksaam.
Verweerderes het standerd 7 op skool geslaag, waarna sy genoodsaak
was om skool te verlaat vanweë die
feit dat hulle baie kinders was
en sy dus finansieel verplig was om te begin werk. Nadat sy bedank
het en na Springfontein verhuis
het, was sy ‘n huisvrou.
Die
partye woon sedert Julie 2005 nie meer as man en vrou saam nie en is
verweerderes tans te die gemeenskaplike woning te Springfontein
saam
met haar 15-jarige dogter woonagtig, Die partye het gedurende 2003
die gemeenskaplike woning te Van Riebeekstraat 29, Springfontein,
aangekoop vir die bedrag van R50 000,00 welke eiendom in beide partye
se name geregistreer is en binne die gemeenskaplike boedel
val. Eiser
is tans in ‘n huis te Lekaystraat 43, Heidedal, Bloemfontein
woonagtig. Volgens eiser is die munisipale waardasie van
hierdie
eiendom die bedrag van R22 000,00 en plaas verweerderes dit nie in
dispuut dat dit die waarskynlike markwaarde van die tersaaklike
eiendom is nie. Ek keer hierinlater weer terug na die “status”
van hierdie laasgenoemde eiendom. Gedurende Julie 2005 het eiser
‘n
huurmotorlisensie verkoop aan ene Mnr. Asmund Stone vir die bedrag
van R12 000,00. Die partye is dit eens dat R5 000,00 ten
opsigte
daarvan ontvang is en deur die partye gebruik is ten einde vir die
begrafnis van ‘n seun van eiser te betaal. Daar bestaan
egter ‘n
dispuut tussen die partye met betrekking tot die oorblywende R7
000,00 en sal ek ook hierinlater daarmee handel.
Die
partye is dit voorts eens dat eiser oor die gebruik van ‘n Venture
voertuig beskik en dat daar ook ‘n karavaan geparkeer staan
by die
huis te Heidedal waar eiser woonagtig is, maar is die eienaarskap van
hierdie twee voertuie ook in dispuut.
Eiser
is byna 59 jaar oud, ontvang dus geen pensioen nie en beklee nie ‘n
vaste betrekking nie. Verweerderes is 45 jaar oud, beklee
geen
betrekking nie, maar ontvang vanweë swak gesondheid ‘n maandelikse
ongeskiktheidspensioen ten bedrae van R820,00 per maand,
ten opsigte
waarvan R20,00 vir koste aangewend word en sy gevolglik die netto
bedrag van R800,00 per maand.
[6] Die
wesenlike aspekte wat in dispuut is tussen die partye, slaan op die
bate- en verdere finansiële posisie van die partye.
Ek gaan na die
belangrikste hiervan verwys. Volgens eiser het sy
pensioenuitbetaling wat hy ontvang het reeds gedurende 2003 uitgeput
geraak nadat hy herhaaldelik fondse daaruit in die winkel aangewend
het, maar sonder suksesvolle opbrengs. Hierdie bewering word
nie
deur verweerderes erken nie, aangesien sy beweer dat sy nooit insae
in eiser se finansiële posisie ten opsigte van sy
pensioenuitbetaling
gehad het nie. Wat die gemeenskaplike huis te
Springfontein betref, is eiser van mening dat die huidige markwaarde
daarvan tussen
R50 000,00 en R60 000,00 beloop. Verweerderes het
getuig dat die munisipale waardasie ten opsigte van die eiendom R100
000,00 beloop,
welke bewering nie deur eiser betwis kon word nie.
Wat die woning te Heidedal betref, is daar ‘n groot dispuut tussen
partye ten
opsigte daarvan. Volgens eiser het sy oorlede vader die
huis gedurende 1960 gebou en is daar in ‘n testament bepaal dat
eiser
die huis sou erf. Gedurende 1985, kort voordat sy vader
oorlede is, het sy vader klaarblyklik mondelings aangedui dat hy wens
dat
die huis moet vererf aan eiser en sy twee broers in gelyke dele.
Die testament is egter nie dienooreenkomstig verander voor sy vader
se afsterwe nie. Tot op hede is die registrasie van die eiendom ook
nog nie in enige opsig gewysig nie en is die huis tans nog
geregistreer
op naam van die Mangaung Plaaslike Oorgangsraad. Die
bewering dat die huis aan die drie broers moes vererf, word deur
verweerderes
ontken. Volgens haar is dit eers sedert die
egskeidingsaksie aanhangig gemaak is dat die ander twee broers van
eiser se beweerde
belang in die huis ter sprake gekom het. Sy het
voorts getuig dat die een broer in ieder geval ook oorlede is en dit
gevolglik slegs
eiser en sy een broer is wat tans nog in lewe is.
Toe die partye nog in Springfontein woonagtig was, is die huis en
twee agterste
kamers ten opsigte daarvan uitverhuur en is die bedrag
van R1 540,00 ten opsigte daarvan per maand as huurinkomste ontvang.
Eiser
beweer egter dat hy slegs R540,00 ten opsigte daarvan ontvang
het en dat die res daarvan tussen sy twee broers verdeel is. Tans
word slegs een van die agterste kamers verhuur teen die bedrag van
R180,00, welke bedrag wel deur eiser ontvang word, maar, aldus
sy
getuienis, vir doeleindes van die betaling van die munisipale
rekening aangewend word met goedkeuring van sy broer. Hierdie
inkomste
gaan ook aan die einde van die maand verval, aangesien sy
een dogter dan daardie kamer gaan betrek. Daarna sal hy geen
huurinkomste
meer uit die huis of die agterste kamers ontvang nie.
Eiser
se huidige maandelikse inkomste is ‘n groot punt van dispuut tussen
die partye. Wat betref die Venture voertuig wat hy tot
sy beskikking
het, is die partye dit eens dat die voertuig die partye se
gemeenskaplike voertuig was toe hulle nog bymekaar woonagtig
was.
Volgens eiser is hierdie 1994 model Venture gedurende 2005 aan sy
neef, A.S. Oliphant, verkoop vir die bedrag van R8 000,00
en is die
Venture ook in die naam van Mnr. A.S. Oliphant geregistreer. Sy neef
stel slegs die voertuig vir sy gebruik tot sy beskikking.
Hoewel die
voertuig voltyds by eiser se huis geparkeer is en voltyds tot sy
beskikking is, wend hy dit, aldus hom, slegs op beperkte
wyse aan om
‘n inkomste te genereer deurdat hy Saterdae begrafnisondernemers
behulpsaam is met die hantering van begrafnisse ten
opsigte waarvan
hy wat eiser is slegs die bedrag van R25,00 per Saterdag vanaf sy
neef ontvang vir hierdie werk verrig. Hy beweer
gevolglik dat hy
slegs R100,00 per maand inkomste hieruit genereer en dat sy drie
dogters en sy oudste kleinseun andersins in sy
finansiële behoeftes
voorsien. Dit is verweerderes se getuienis dat die beweerde verkoop
van die Venture voertuig aan eiser se
neef slegs `n skyntransaksie is
en dat sy van mening is dat wanneer die egskeiding afgehandel is,
eiser net weer die voertuig sal
“terugneem” as sy eiendom. Sy
het ook gedurende haar getuienis beweer dat eiser die voertuig op
meer gereelde basis gebruik
ten einde persone teen vergoeding te
vervoer, ook op ver afstande. Aldus haar verdien hy derhalwe ‘n
baie groter inkomste uit
die gebruikmaking van die Venture as deur
hom beweer, hoewel sy nie in ‘n posisie is om uit eie kennis aan te
dui hoeveel hierdie
inkomste volgens haar sou beloop nie.
Verweerderes het ook getuig dat sy gedurende 2006 persoonlik
waargeneem het dat eiser ‘n
snoepie by Dr. Block Skool te Heidedal
bedryf waar koeldrank ensovoorts aan die kinders verkoop word en dat
hy dus hieruit ook `n
inkomste verdien. Hierdie bewering is deur
eiser ontken.
Met
betrekking tot die beweerde uitstaande bedrag van R7 000,00 ten
opsigte van die huurmotorlisensie wat verkoop is, was dit eiser
se
getuienis dat die res van die geld ook ontvang is en eventueel alles
vir die begrafniskoste van sy seun aangewend is. Hierdie
bewering is
deur verweerderes ontken en het sy getuig dat die addisionele kostes
bo en behalwe die R5 000,00 wat reeds betaal was,
gedelg is uit
bydraes van vriende en familielede. Volgens haar behoort eiser
gevolglik hierdie geld tot sy beskikking te hê en/of
nog geregtig
wees daarop om dit te vorder vanaf Mnr. Stone.
Verweerderes het getuig
en beweer dat die karavaan wat hierbo vermeld is, deur eiser
aangekoop is vir die bedrag van R3 000,00 en
dat dit sy eiendom is.
Eiser het hierdie bewering ontken en beweer dat die aangekoop is vir
R4 500,00 en dat dit inderdaad deur
sy oorlede seun aangekoop is en
op sy dogter se naam geregistreer is. Hy beweer gevolglik dat hy nie
die eienaar daarvan is nie
en dat die gemeenskaplike boedel derhalwe
ook nie die eienaar daarvan is nie.
Met
betrekking tot die omstandighede rondom die bedanking van
verweerderes by Diamond Express het sy getuig dat eiser haar destyds
verplig het om te bedank aangesien hy adamant was dat sy as sy vrou
hom moes vergesel na Springfontein en voltyds saam met hom daar
moes
woon. Haar getuienis hieromtrent was tot dien effekte dat eiser
selfs haar bedankingsbrief namens haar geskryf het en haar
slegs
aangesê het om dit te onderteken en aan haar destydse se bestuurder
te oorhandig. Hierdie bewerings is deur eiser ontken.
Hy het beweer
dat hy tevrede sou wees daarmee om alleen in Springfontein te wees en
dat hulle dan mekaar slegs naweke sou sien.
Volgens hom was dit
verweerderes wat nie hiermee tevrede was nie, aangesien sy hom
daarvan verdink het dat hy onder daardie omstandighede
buite-egtelike
verhoudings te Springfontein sou aanknoop en het sy gevolglik uit eie
bewering bedank. Volgens verweerderes het sy
ongeveer R3 500,00 per
maand verdien ten tyde van haar bedanking. Hierdie bewering is deur
eiser ontken en was dit sy getuienis
dat dit nader in die omgewing
van R2 000,00 per maand was. Hierop was verweerderes se reaksie dat
toe sy daar begin werk het gedurende
1999, sy reeds ongeveer R2
000,00 per maand verdien het en dat dit gevolglik beslis nie meer
slegs R2 000,00 per maand was gedurende
haar bedanking gedurende 2002
nie. Sy het verduidelik dat die bedankingskrywe wat, volgens haar
getuienis, deur eiser geskryf was
en waarvan sy ‘n kopie gehou het,
sowel as sekere van haar salarisstrokies, gedurende die trekproses
vanaf Bloemfontein na Springfontein
weggeraak het en beskik sy
gevolglik nie meer daaroor om dit aan die hof voor te lê nie.
Daar
is ook getuienis aangebied deur verweerders van ‘n lewenspolis wat
eiser sou uitgeneem het op sy oorlede seun se lewe, synde
die seun
wat gedurende 2005 oorlede is. Sy het gevolglik getuig dat na die
beste van haar wete ‘n bedrag geld daaruit aan eiser
uitbetaal moes
gewees het. Eiser het egter getuig dat nadat sy seun oorlede is hy
navraag gedoen het rondom hierdie polis, maar
het dit geblyk dat die
polis op ‘n vroeër stadium reeds verval het.
[7] Verweerderes
het ook getuienis aangebied rondom haar swak gesondheidstoestand.
Volgens haar het haar gesondheidsprobleme reeds
gedurende 1999 begin
en progressief erger geword. Sy ly aan verskeie mediese toestande
ten opsigte waarvan sy kroniese medikasie
ontvang. Sy moet tans
mandeliks ‘n dokter te Bloemfontein besoek en ‘n professor, ook
te Bloemfontein, elke ses maande. Gedurende
Maart 2006 en weer
gedurende Augustus 2006 het sy twee groot operasies ondergaan.
Gedurende kruisverhoor het dit geblyk dat sy,
onder andere, kanker in
haar vroulike organe het en is die operasies wat uitgevoer is ook ten
opsigte hiervan uitgevoer. Sy het
getuig dat sy nie lank kan staan
nie, want dan word haar bene lam. Sy het ook ‘n ligte
beroerte-aanval al gehad en ondervind sy
ook hartprobleme. Dit was
haar getuienis dat sy vanweë haar gesondheidsprobleme fisies nie in
staat is om op enige wyse die arbeidsmark
te betree ten einde ‘n
inkomste te genereer nie. Toe sy gedurende kruisverhoor gefronteer
is met stellings dat indien dit werklik
nodig is sy wel fisies in
staat sal kan wees om te werk, het sy verduidelik dat sy sommige dae
nie eers uit haar bed kan opstaan
nie en dat haar dogter haar dan
moet versorg. Sy het volhard daarmee in kruisverhoor dat sy nie in
staat is om enige inkomste uit
enige werksaamhede te genereer nie.
[8] Dit
het in wese die getuienis voltooi. Mnr. Greyling het gedurende
betoog aangevoer dat ek behoort in ag te neem dat die partye
nie baie
lank met mekaar getroud was nie, dat eiser op die getuienis nie oor
enige behoorlike maandelikse inkomste beskik nie, dat
hy ook nie
werklik oor ‘n verdienvermoë beskik nie en dat hy gevolglik nie
gelas behoort te word om onderhoud aan verweerderes
te betaal nie.
In die alternatief het Mnr. Greyling betoog dat indien ek sou bevind
dat hy wel onderhoudspligtig jeens verweerderes
is, sodanige
onderhoud slegs vir ‘n vasgestelde tydperk behoort te wees soos
reeds voorsien in verweerderes se voorwaardelike teeneis.

Verweerderes het gedurende haar betoog volhard daarmee dat eiser wel
oor ‘n verdienvermoë beskik, dat hy wel ‘n groter maandelikse
inkomste genereer as wat deur hom aan die hof voorgehou is en dat hy
gegewe die feite en omstandighede wel gelas behoort te word
om
onderhoud aan haar te betaal.
[9] Ek meen dat dit ook
nodig is om te vermeld dat my kollega, Cillié R, op 2 Februarie 2006
in ‘n bestrede Reël 43 aansoek tussen
die partye gelas het dat
respondent (eiser) onderhoud
pendente lite
aan die applikante
(verweerderes) moet betaal teen R750,00 per maand, dat respondent ‘n
bydra tot applikant se kostes moes maak
in die bedrag van R1 500,00
betaalbaar teen R250,00 per maand en dat voormelde betalings moes
geskied voor of op die laaste dag van
elke maand, die eerste betaling
welke gemaak moes word voor of op 28 Februarie 2006. Dit het
gedurende die getuienis geblyk en is
dit gemeensaak tussen die partye
dat eiser nie enige van voormelde betalings aan verweerderes gemaak
het nie. Volgens sy getuienis
het hy dit nie betaal nie, aangesien
hy nie oor die finansiële vermoë ten opsigte daarvan beskik nie.
[10] Hoewel
die beginsels met betrekking tot die betaling van onderhoud, al dan
nie, en die vasstelling van die bedrag daarvan, geyk
is, meen ek dit
is doelmatig om dit tog hierin opsommenderwys te herhaal soos dit
voorkom in Schäfer ,
Family Law Service
, Afdeling C, par. C27
op p. 22:
“
The divorce court may, in the
absence of an order made in terms of a written agreement between the
parties take certain factors into
consideration in making a
maintenance order; namely, the existing or prospective means of each
of the parties, their respective earning
capacities, financial needs
and obligations, their age, the duration of the marriage, their
standard of living prior to the divorce,
their conduct insofar as it
may be relevant to the breakdown of the marriage, an order for the
division of assets and any other factor
which in the court’s
opinion should be taken into account. If the court decides to award
maintenance, it is also these factors
which will determine the
quantum of maintenance. ........ That the court may consider ‘any
other factor’ which in its opinion
should be taken into account,
highlights the fact that, although the court may have regard to the
various factors its discretion
is absolute.”
[11] Wanneer die feite en
omstandighede van die onderhawige geval in ag geneem word, meen ek
dat die volgende aspekte daarvan die
meeste oorweging geniet. Hoewel
die tydperk van ongeveer ses jaar waartydens die partye reeds getroud
is inderdaad nie ‘n buitengewone
lang tydperk is nie en bloot `n
gemiddelde tydperk is, is dit na my mening steeds ‘n faktor wat
beoordeel moet word teen die agtergrond
van die verdere feite. Dit
is verweerderes se onbetwiste getuienis dat sy sedert skoolverlating
tot en met haar bedanking gedurende
2002 voltyds werksaam was.
Hoewel dit in dispuut is of haar bedanking vrywillig of op aandrang
van eiser was, meen ek dat haar bogemelde
werksgeskiedenis aanduidend
is daarvan dat sy waarskynlik onder dwang van eiser bedank het. Hoe
dit ook al sy, meen ek dat dit nie
werklik nodig is vir my om ‘n
bevinding te maak met betrekking tot wie die inisiatief ten opsigte
van haar bedanking geneem het
nie. Na my mening is dit eerder
belangrik om die feite wat nie in dispuut is hieromtrent nie, in
oorweging te neem. Dit is tot
die effek dat die verhuising na
Springfontein duidelik eiser se inisiatief was, welke besluit hy
geneem het op ‘n stadium wat hy
getroud was met verweerderes en
verweerderes te Bloemfontein werksaam was. Eiser het tog sekerlik
voorsien dat dit dus eintlik ‘n
logiese gevolg van sy besluit sou
wees dat verweerderes eiser sou moes volg na Springfontein en dus sou
moes bedank. Nadat sy bedank
het gedurende 2002 en haar by eiser in
Springfontein aangesluit het, was sy voltyds huisvrou en het eiser
haar tot en met die stadium
wat hulle apart begin woon het gedurende
Julie 2005, onderhou en verlief geneem daarmee dat sy ‘n voltydse
huisvrou is en nie ‘n
inkomste van haar eie genereer nie. Hierdie
omstandighede inaggenome is ek van mening dat eiser nie nou skielik
verweerderes sonder
`n heenkome kan laat en bloot die houding kan hê
dat hy nie ‘n onderhoudsplig, selfs al is dit net ‘n beperkte
onderhoudsplig,
jeens verweerderes het nie. Saam met dit moet in ag
geneem word dat wat verweerderes betref blyk dit dat sy vanweë haar
swak gesondheid
op waarskynlikhede inderdaad nie oor enige
verdienvermoë beskik nie. Dit is wel so dat sy die netto
maandelikse ongeskiktheidspensioen
ten bedrae van R800,00 verdien,
maar spreek dit vanself dat dit nie voldoende is om in haar behoeftes
te voldoen nie. Hierteenoor
en hoewel eiser ouer as verweerderes is,
blyk hy nog in goeie gesondheid te verkeer en het hy nog nie die
gebruiklike aftree ouderdom
van 65 oud jaar bereik. Gegewe die goeie
betrekking wat hy vantevore beklee het, sowel as die inisiatief wat
hy geneem het met die
daarstelling van die winkel te Springfontein,
is ek van mening dat hy inderdaad, ten minste nog vir ‘n aantal
paar jaar, oor ‘n
redelike potensiële verdienvermoë beskik.
Hiermee saam moet ek vermeld dat sy getuienis dat hy die Venture
voertuig, hetsy dit
nou sy eiendom of sy neef se eiendom is, voltyds
tot sy beskikking het, maar slegs op beperkte basis op Saterdae
aanwend om ‘n
inkomste van R25,00 per week te verdien, op sigwaarde
uiters onwaarskynlik voorkom. Ek meen dat die hof geregtelik daarvan
kan kennis
neem dat die woonbuurt en omgewing waarin eiser hom
bevind, ‘n woonbuurt en omgewing is waar mense nie geredelik oor
eie vervoer
beskik nie en dikwels van betaalde geleenthede as vervoer
wil gebruik maak. Na my mening maak eiser se weergawe dat hy hierdie
Venture
slegs so beperk gebruik, dus bloot nie sin op die
waarskynlikhede nie. Ek is van mening dat hy waarskynlik die
voertuig baie meer
gereeld en aktief vir doeleindes van die
generering van ‘n inkomste gebruik as wat hy aan die hof voorhou.
Selfs indien hy tans
nie die voertuig dermate aktief gebruik om ‘n
behoorlike maandelikse inkomste te genereer nie, meen ek dat daar
geen rede aan my
voorgehou is as regverdiging waarom hy dit inderdaad
nie doen nie. Ek is derhalwe van mening dat met die Venture tot sy
beskikking
soos deur hom getuig, hy die potensiaal het om ‘n baie
meer behoorlike en substantiewe maandelikse inkomste daaruit te
verdien. Dit het
ook op geen stadium uit die getuienis geblyk dat sy
neef, indien die Venture aan sy neef sou behoort, enige beswaar
daarteen sou
hê indien hy die Venture op meer aktiewe wyse vir
doeleindes van ‘n inkomste sou aanwend nie.
Addisioneel tot voormelde
neem ek ook sy getuienis in ag dat hy vantevore nog geld genereer het
uit die verhuring van die agterste
kamers van die huis te Heidedal,
maar dat sy dogters nou hierdie kamers betrek het en/of gaan betrek
en dat daardie maandelikse inkomste
dus gaan verval. Hoewel ek
uiteraard in beginsel geen probleem daarmee het dat sy dogters hul
intrek by hom neem nie, meen ek egter
dat dit nie as “verskoning”
gebruik kan word waarom hy nou nie meer ‘n huurinkomste daaruit
gaan genereer nie. Volgens sy
eie getuienis onderhou sy dogters en
sy oudste kleinseun hom finansieel. Indien dit so is, kan ek geen
rede sien waarom hulle dan
nie huurgeld aan hom kan betaal ten
opsigte van die kamers wat hulle nou gaan betrek nie;
alternatiewelik, dat hulle in ruil vir
hul bewoning van die kamers
hom finansieel help en bystaan vir sy persoonlike doeleindes sodat hy
van die inkomste wat hy maandeliks
genereer en/of behoort te kan
genereer uit die gebruik van die Venture aan verweerderes kan betaal.
[12] In
die vooropstelling en in die uitoefening van my diskresie gebaseer op
die relevante feite en omstandighede is ek van mening
dat eiser wel
gelas behoort te word om onderhoud aan verweerderes te betaal. Ek is
dit egter eens met Mnr. Greyling se alternatiewe
betoog dat hierdie
nie ‘n geval is wat ‘n onbeperkte termyn van betaling van
onderhoud regverdig nie. Ek is van mening dat daar
vir ‘n beperkte
termyn onderhoud deur eiser aan verweerderes betaal moet word, onder
andere om ook as oorbrugging te dien vir die
tydperk wat dit gaan
neem vir die afhandeling van die verdeling van die boedel en die
finansiële voordeel wat verweerderes waarskynlik
daaruit sal
ontvang. Wat die bedrag van die onderhoud betref, is dit uiteraard
baie moeilik om daardie vasstelling te maak gegewe
die vaagheid van
die beskikbare getuienis en gegewe die feit dat die berekening gemaak
word meer op die basis van die potensiële
verdienvermoë van die
eiser as op die basis van beskikbare getuienis van wat hy inderdaad
verdien of daadwerklik kan verdien indien
hy die Venture voertuig
behoorlik aanwend. Dit alles inaggenome is ek egter van mening dat
die bevel wat ek van voornemens is om
te maak ten opsigte van die
onderhoud, ‘n gepaste bevel gegewe die omstandighede is.
[13] Met
betrekking tot die bepalings van die Reël 43 hofbevel wat nie deur
eiser nagekom is nie, is ek terdeë bewus daarvan dat
dit
verweerderes vrystaan om ‘n lasbrief ten opsigte daarvan te laat
uitreik vir doeleindes van die beslaglegging van (moontlike)
bates
van eiser ter delging van die agterstallige bedrae. Waar daar in die
onderhawige geval egter ‘n gemeenskaplike boedel is,
sal die
uitreiking van sodanige lasbrief op hierdie stadium geen doel dien
nie, aangesien dit in ieder geval gemeenskaplike bates
is waarop
beslag gelê sal word. Na my mening word die regspleging egter
verydel indien ‘n party bloot versuim om ‘n hofbevel
na te kom en
daar nie vir hom of haar enige gevolge daaraan kleef nie. In die
onderhawige geval word behoorlike regspleging voorts
frustreer
deurdat verweerderes nie oor fondse beskik om die dienste en advies
van ‘n prokureur te bekom nie. Gevolglik meen ek
dat die ontvanger
en verdeler wat hierin aangestel word, oorweging daaraan moet skenk
om by die verdeling van die gemeenskaplike
boedel eiser se
verskuldigheid aan verweerderes voortspruitend uit die Reël 43 bevel
ten gunste van verweerderes in verrekening
te bring.uitvoering gegee
word aan die Reël 43 hofbevel.
[14] Wat
betref die onderhoudsbevel wat ek voornemens is om te maak ten
opsigte van die oorbruggingsonderhoud wat deur eiser aan verweerderes
betaal moet word, is ek insgelyks van mening dat die ontvanger en
verdeler oorweging daaraan behoort te skenk om enige onderhoud
wat
dan op daardie stadium agterstallig is of mag wees, indien enige,
voortspruitend uit die betaling van die onderhoud wat ek hieronder
gelas, by die verdeling van die boedel ten gunste van verweerderes in
verrekening te bring.
Ek
is in ieder geval van mening dat die ontvanger en verdeler in besit
gestel behoort te word van `n afskrif van hierdie uitspraak
ten einde
kennis te neem van die onderskeie bates wat in dispuut is tussen die
partye en hul onderskeie bewerings ten opsigte daarvan,
sowel as van
bogemelde verskuldigheid deur eiser aan verweerderes. Ek is gevolglik
voornemens om die Griffier te versoek om toe te
sien daartoe.
[15] Soos
reeds vroeër hierin vermeld, was die partye dit eens dat elke party
gelas behoort te word om sy eie koste te betaal en
is ek in die
uitoefening van my diskresie ten opsigte van die betaling van koste,
tevrede met sodanige bevel as synde die gepaste
bevel in die huidige
omstandighede.
[16] In
die vooropstelling word die volgende bevele verleen:
`n Bevel van egskeiding.
Eiser word beveel om
onderhoud aan en ten gunste van verweerderes te betaal in die bedrag
van R350,00 per maand vir ‘n tydperk
van 12 (twaalf) maande, die
eerste betaling om gemaak te word voor of op 1 Maart 2007 en daarna
voor of op die eerste dag van elke
daaropvolgende maand tot en met
die uitloop van die tydperk van 12 (twaalf) maande.
Dit word beveel dat die
gemeenskaplike boedel tussen die partye verdeel moet word, vir
doeleindes waarvan Mnr. L.A. Roux van die
firma Maroka Prokureurs,
Suite 19, Reitzpark, President Reitzlaan 74/80, Westdene,
Bloemfontein aangestel word as ontvanger en
verdeler van die
gemeenskaplike boedel van eiser en verweerderes, beklee met die
volgende magte, funksies en verpligtinge:
Om van eiser en
verweerderes hierin ‘n ware en korrekte opgawe te vereis van die
gedeelte van die bates van die gemeenskaplike
boedel wat elkeen in
sy of haar besit het, geneem het of waarmee elkeen gehandel het;
Om van eiser en
verweerderes hierin die betaling en/of lewering te vereis van enige
sodanige gedeelte van die bates van die gemeenskaplike
boedel
waarmee elkeen gehandel het;
Om ‘n behoorlike
waardasie te doen of te bekom van al die bates van die
gemeenskaplike boedel;
Om die bates van die
gemeenskaplike boedel te realiseer indien en in soverre dit nodig
mag wees ten einde uitvoering te gee aan
die magte, funksies en
verpligtinge hierin;
Om die skulde en/of
aanspreeklikhede van die gemeenskaplike boedel te delg;
Om die restant van die
gemeenskaplike boedel in gelyke dele tussen eiser en verweerderes
te verdeel en om die verdeelde halwe-aandele
aan eiser en
verweerderes respektiewelik oor te betaal;
Alternatiewelik en
indien ‘n verdeling van die restant of enige gedeelte van die
gemeenskaplike boedel nie moontlik blyk te
wees nie, dat die
ontvanger en verdeler gemagtig word om die restant of enige
gedeelte van die gemeenskaplike boedel te gelde
te maak en die
opbrengs daarvan in gelyke dele te verdeel tussen eiser en
verweerderes;
4.
Die koste/fooie/vergoeding van voormelde ontvanger en verdeler moet
uit die gemeenskaplike boedel betaal word.
5. Die
griffier word versoek en beveel om onverwyld `n afskrif van hierdie
uitspraak te verskaf aan die ontvanger en verdeler hierin
aangestel,
synde Mnr. L.A. Roux van die firma Maroka Prokureurs, Suite 19,
Reitzpark, President Reitzlaan 74/80, Westdene, Bloemfontein.
5. Elke party word gelas
om sy/haar eie koste te betaal.
____________
C. VAN ZYL, R
Namens
die eiser: Adv. P. Greyling
In
opdrag van:
Frade
Prokureurs
Bloemfontein
Tel:
051 - 4304412
Namens
verweerderes: In persoon
/sp