Tswai v S [2007] ZAFSHC 21 (8 March 2007)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder and Robbery — Conviction and Sentencing — Appellant convicted of murder and robbery with aggravating circumstances for the unlawful killing of Wilson Johan Claassen and theft of a truck and its cargo. Appellant denied involvement, claiming he was merely a bystander at the scene. The trial court found overwhelming evidence, including cellphone records linking the appellant to the crime scene, and sentenced him to life imprisonment for murder and eighteen years for robbery. Appeal against conviction and sentence dismissed, with the court finding no merit in the appellant's claims of innocence.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 21
|

|

Tswai v S [2007] ZAFSHC 21 (8 March 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnommer : A132/2005
In
die appèl tussen:-
AGREY
WALTER TSWAI
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
MALHERBE
RP
et
BECKLEY
R
et
CILLIé
R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
5 MAART 2007
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
MALHERBE RP
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
8 MAART 2007
_____________________________________________________
Appellant het in die
Rondgaande Hof te Kroonstad voor Hattingh R tereggestaan op twee
aanklagte, te wete Moord en Roof met verswarende
omstandighede. In
aanklag 1 is beweer dat hy vir Wilson Johan Claassen, ’n volwasse
man, op of omtrent 13 – 14 September 2003,
en te of naby die N1
tolpad in die distrik van Koppies, wederregtelik en opsetlik gedood
het. Aanklag 2 beweer dat appellant op
dieselfde datum en plek die
genoemde Claassen (hierna “die oorledene” genoem) van ’n MAN
voorhaker ter waarde van R1,1 miljoen
en twee sleepwaens ter waarde
van R200 000,00 elk beroof het, asook ’n groot besending koekies
(biscuits) ter waarde van ongeveer
R332 000,00 wat op die sleepwaens
vervoer is. Die beweerde verswarende omstandighede is daarin geleë
dat appellant of ’n medepligtige
by die geleentheid waarby die
misdryf gepleeg is, hetsy voor, gedurende of na die pleging daarvan,
’n vuurwapen hanteer het en/of
die oorledene ernstige liggaamlike
beserings toegedien het. Appellant se verweer was ’n algehele
ontkenning dat hy by die misdrywe
betrokke was. Appellant is skuldig
bevind soos aangekla en soos volg gevonnis:
Aanklag
1:
Lewenslange gevangenisstraf.
Aanklag
2:
Agtien jaar gevangenisstraf.
Die geleerde
Verhoorregter het aan appellant verlof verleen om teen die
skuldigbevindings sowel as die vonnisse te appelleer.
Appellant se kennisgewing
van appèl is laat geliasseer weens geen skuld aan sy kant nie. Voor
ons dien ook ’n aansoek om kondonasie
van sy versuim om daardie
kennisgewing betyds te liasseer. Dit is by die aanvang van die
verrigtinge toegestaan sonder beswaar deur
die Staat.
By die verhoor was dit
nie in geskil nie dat die oorledene in diens was van R P Carriers as
vragmotorbestuurder en dat hy op Saterdag
13 September 2003 met die
betrokke voorhaker en sleepwaens vanaf Isando aan die Rand met ‘n
vrag koekies vertrek het oppad na Kaapstad;
dat hy suidwaarts met die
N1 tolpad sou ry; dat hy nie sy bestemming bereik het nie; dat sy
liggaam ongeveer 11 vm. die volgende
dag, nl. Sondag 14 September
2003, tussen Kroonstad en die Vaal Plaza langs die N1 tolpad gevind
is in die distrik van Koppies; dat
Mnr. Nel van die Danie Day Privaat
Ondersoekdiens die voorhaker ongeveer 4 nm. op dieselfde dag by die
N3 Engen vragmotorstaanplek
op die R554 pad tussen Alberton en
Brakpan gevind het en die volgende dag die twee sleepwaens by ‘n
besigheidsperseel in Johannesburg.
Die sleepwaens was onbeskadig
maar leeg. Die voorhaker was ook onbeskadig. Nel getuig dat Sersant
Mahlatsi op Maandag 15 September
by die Engen vragmotorstaanplek aan
hom ‘n sleutel oorhandig het wat gepas het op die deure van die
voorhaker se kajuit en wat
ook die enjin van die voorhaker
aangeskakel het.
Die sekuriteitswag by die
vragmotorstaanplek, Fanwell Mlotswa, getuig dat appellant kort voor 7
vm. op 14 September 2003 by die genoemde
vragmotorstaanplek met die
betrokke voorhaker opgedaag het en gereël het om die voorhaker daar
te parkeer. Appellant het die voorhaker
bestuur en dit nie gaan
parkeer op die plek wat Fanwell aangewys het nie, maar effens verder
weg
“asof hy dit
wegsteek.”
Op Fanwell se versoek dat
appellant sy bestuurderslisensie of identiteitsdokument moet toon,
het appellant gesê dat hy dit nie by
hom het nie en ook onderneem om
die parkeerfooi te betaal wanneer hy die voorhaker kom haal. Hy het
sy naam as Patrick Dlamini aan
Fanwell verstrek. Laasgenoemde het
die besonderhede van die voorhaker in ‘n register aangeteken.
Fanwell se kollega,
Petrus Letshela, vir wie Fanwell afgelos het, staaf laasgenoemde se
getuienis 100% oor die identiteit van die
bestuurder van die
voorhaker toe dit by die vragmotorstaanplek aangebring is. Petrus is
toe van diens en het vir Fanwell agtergelaat
om verder met appellant
te reël in verband met die parkering. Petrus was weer die volgende
dag, 15 September 2003, aan diens.
Toe hy aan diens kom, was daar,
volgens hom, speurders in sy kantoor wat juis die betrokke voorhaker
onder observasie gehou het.
Teen ongeveer 7 vm. het appellant alleen
daar opgedaag om vir die parkering van die voorhaker te betaal.
Nadat hy betaal het, het
hy na die voorhaker gestap. Petrus is saam
met die speurders agterna en tref appellant in die bestuurderskajuit
agter die stuurwiel
aan. By hom was ‘n passasier wat by die
passasierskant uitgespring en weggehardloop het. Appellant is
daar-en-dan deur Sersant
Mahlatsi gearresteer. Petrus het gesien dat
die polisie ‘n selfoon in appellant se besit gevind het.
Sersant Mahlatsi is die
ondersoekbeampte in die saak. Hy getuig dat hy en sy kollega,
Inspekteur Sekano, op 14 September vir Mnr.
Nel by die
vragmotorstaanplek ontmoet het waar hy die voorhaker aan hulle
uitgewys het. Die voorhaker was gesluit. Die twee polisiebeamptes
het dwarsdeur die nag daar observasie gehou vanuit die kantoor van
die sekuriteitsbeamptes en kort na 6 vm. die volgende môre het
daar
‘n Isuzu bakkie opgedaag waarin twee persone was. Appellant was
een van hulle. Die mans het uitgeklim. Een stap verby in
die
rigting van die voorhaker en appellant kom na die kantoor om te
betaal vir die parkering. Vandaar stap hy na die voorhaker,
sluit
dit oop en klim in. Toe die polisiebeamptes die voorhaker nader, het
beide appellant en sy metgesel uitgespring en weggehardloop.
Die
metgesel het daarin geslaag om weg te kom, maar appellant het oor
ysters wat in die omgewing gelê het, gestruikel en geval
en is daar
in hegtenis geneem. In een van appellant se sakke is twee bosse
sleutels gevind. Van die sleutels in een van die bosse
het op die
voorhaker gepas. Appellant was ook in besit van ‘n Nokia 6110
selfoon met IMEI (of serie-) nommer 45700437453 en foonnommer
0726166738 (bewysstuk “1”). In die Isuzu bakkie was ‘n
leerbaadjie gevind. In die sak van die leerbaadjie was nog ‘n
selfoon
gevind wat die polisie vasgestel het aan ene Mxolisi
Tshabalala behoort (bewysstuk “5”). Onder appellant se
sweetpakbostuk is
twee nommerplate gevind wat nie klop met die
korrekte nommerplate van óf die voorhaker óf enige van die betrokke
sleepwaens nie.
Appellant is toe gearresteer en die polisiefotograaf
en vingerafdrukdeskundige is na die toneel ontbied. Dit is
gemenesaak dat
appellant se vingerafdrukke nie aan die voorhaker
gevind is nie.
Inspekteur
Sekano staaf Sersant Mahlatsi in alle wesenlike opsigte.
Mev. Heyneke is in diens
van Vodacom, ‘n verskaffer van selfone, as ‘n sogenaamde “fraud
specialist”. Sy het op versoek van
die Polisie data getrek in
verband met die selfoon wat in appellant se besit gevind is asook die
selfoon wat in die bakkie gevind
is (bewysstukke “1” en “5”).
Daardie inligting is vervat in ‘n rekenaaruitdruk wat as bewysstuk
“A” ingedien is.
Daaruit het die Staat, onder andere, die
volgende inligting deur middel van die getuie onderstreep:
(i) Op 13.9.2003 om 9h15
was appellant se selfoon in die omgewing van Katlehong toe ‘n
oproep ontvang is vanaf selfoonnommer 0824692406.
(ii) Op
13.9.2003 om 17h05 en 17h07 is daar vanaf appellant se selfoon twee
oproepe gemaak toe daardie selfoon in die omgewing van
die
Roodekop-torings in Germiston omgewing was en om 17h12 het appellant
se selfoon ‘n oproep ontvang toe dit in dieselfde omgewing
was.
Op 13.9.2003 om 20h25,
20h31 en 20h37 is appellant se selfoon gebruik in die omgewing van
die Kroonvaal-torings in die Parys-Koppies
omgewing, d.w.s die roete
wat oorledene sou gery het en waar sy liggaam gevind is. Twee van
hierdie oproepe was uitgaande en een
was inkomend.
Op 13.9.2003 om 23h59 is
daar na appellant se selfoon ‘n oproep wat 49 sekondes geduur het,
gemaak vanaf selfoonnommer 0824488133.
Op daardie stadium was
appellant se selfoon in die Black Reef Road-toring se area, d.w.s.
naby Alrode Scrap Metal in Gauteng-Suid.
Op 14.9.2003 om 00h12 en
weer om 02h03 is daar twee oproepe na appellant se selfoon gemaak
vanaf nommers 0824488133 en 0832398165
wat onderskeidelik 28 en 67
sekondes elk geduur het. Appellant se selfoon was toe by Roodekop
en Black Reef Road onderskeidelik.
Opsommenderwys
kan die volgende gesê word van bewysstuk “A”:
Vanaf 19h15 op 13.9.2003
tot 21h07 op 14.9.2003 is appellant se selfoon op verskillende plekke
gebruik om 53 oproepe te maak en 33
te ontvang, d.w.s. ‘n totaal
van 86. Sewe van die bogenoemde 53 oproepe is na sy vriend Siselo se
selfoon gemaak.
Mev.
Heyneke vat haar getuienis soos volg saam:
“
So
it seems, just to summarise, that the calls made and the calls
received from 072 6166 738, again on 13 September at quarter past
nine the morning was made in rapid succession? --- It seems like
that.
And
incoming calls? --- Incoming calls and there are a few numbers that
are repeated very frequently that were dialled and starting
off early
the morning in Katlehong and if you look to the base stations the
person was travelling or it appears that the person was
travelling
from the Katlehong area
via
Vosloorus, Roodepoort, Black Reef
Road, through Three Rivers which is in Vereeniging, Kroonvaal at
Sasolburg, Roodsgarden, past Vereeniging
again, Klopperpark, Witfield
is in Benoni, the Ravensklip area and back to the Germiston area,
Black Reef Rd 1.
Ja, so it seems. --- That is what it
appears to be, M’lord.
Yes,
that is what I wanted to know. And that presupposes that that
specific cellphone number, the one I have mentioned 072 6166 738,
received and made outgoing calls whilst in motion, so it seems? ---
That is correct, M’lord.”
Sy verduidelik verder dat
die inligting in bewysstuk “A” elektronies gegenereer word, dat
dit nie gemanipuleer kan word nie en
dat dit volkome betroubaar is.
Die getuie is gladnie gekruisvra nie.
Oorledene is dood as
gevolg van ‘n kontakskoot in sy regterslaap wat dwarsdeur die kop
is en aan die linkerkant uit is, met gepaardgaande
skedelfrakture en
beskadiging van die brein. Daar was ook ‘n tweede skietwond in sy
liggaam wat die borskas van voor af binnegedring
het, die aorta
gepenetreer het en massiewe bloeding veroorsaak het.
Appellant was die enigste
verdedigingsgetuie. Hy het ten ene male ontken dat hy ooit die
voorhaker bestuur het of dit by die vragmotorstaanplek
geparkeer het
of dit die volgende dag daar kom haal het, soos getuig is deur die
staatsgetuies. Volgens hom is hy
buite
die vragmotorstaanplek
gearresteer terwyl hy een van ‘n aantal nuuskierige omstanders was
wat wou sien waarmee die Polisie doenig
was en wat ‘n geraas by die
staanplek veroorsaak het. Hy ontken ook dat hy gedurende die
tersaaklike periode in besit van sy selfoon
(bewysstuk “1”) was.
Volgens hom het hy die selfoon op 13 September 2003 aan ‘n vriend,
ene Siselo, oorhandig as pand vir
geld wat hy aan Siselo geskuld het.
Dit is nie hy wat die oproepe gemaak of ontvang het op 13 en 14
September waaroor Mev. Heyneke
getuig het nie. Siselo het die
selfoon eers die Maandag kort voor sy (appellant se) arrestasie aan
hom teruggehandig.
Die geleerde
Verhoorregter het appellant se weergawe as vals verwerp. Ek kan geen
fout met daardie bevinding vind nie. Appellant
se getuienis rondom
sy selfoon was eintlik lagwekkend, want dit het daarop neergekom dat
sy vriend, Siselo, op 13 en 14 September
verskeie oproepe met
appellant se selfoon na sy (Siselo se) eie selfoon gemaak het!
Die verwerping van
appellant se getuienis het noodwendig tot gevolg gehad dat hy verbind
is met die voorhaker wat die oorledene bestuur
het – trouens dat hy
binne enkele ure nadat oorledene klaarblyklik gekaap, beroof en
vermoor is, in besit van die gekaapte voorhaker
was. Hierdie
bevinding regverdig die afleiding dat appellant betrokke was by die
misdrywe. Sy toevlug tot leuens veroorloof nie
spekulasie oor sy
spesifieke rol in die misdrywe nie. Sy skuldigbevinding op beide
aanklagte is volkome in orde.
Ook wat die vonnisse
betref, bestaan daar na my mening hoegenaamd geen grondige rede om
in te meng nie. Die misdrywe waaraan appellant
skuldig bevind is, is
baie, baie ernstig, en veral aanklag 1 verdien die hoogste vonnis wat
‘n Hof kan oplê. Die roof was klaarblyklik
beplan en die
oorledene is letterlik tereggestel om beheer oor die vrag te verkry.
Sy liggaam is deur sy gevoellose moordenaar of
moordenaars net
eenvoudig langs die pad gelos. ‘n Menselewe het inderdaad goedkoop
geword in ons geweld-geteisterde land en misdrywe
soos hierdie
verdien die Howe se sterkste sensuur.
Gevolglik
word die appèl van die hand gewys en word die skuldigbevinding en
vonnis op beide aanklagte bekragtig.
__________________
J.P. MALHERBE, RP
Ek
stem saam.
_______________
A.P. BECKLEY, R
Ek
stem saam.
____________
C.B. CILLIè, R
Namens
die appellant: Adv. I.J. Bezuidenhout
In
opdrag van:
Regshulpraad
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. C.F. Steyn
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp