Mokoena v S [2007] ZAFSHC 19 (22 February 2007)

55 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Appeal against conviction and sentence — Appellant convicted of robbery with aggravating circumstances and sentenced to 10 years imprisonment — Appellant contended that he was not involved in the robbery — Evidence presented by the State included testimonies from the complainant and witnesses establishing appellant's participation — Trial court found the complainant and witnesses credible, while appellant's testimony was deemed unreliable — Appeal dismissed as the trial court's findings were upheld, confirming the conviction and sentence.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 19
|

|

Mokoena v S [2007] ZAFSHC 19 (22 February 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A242/2006
In
die appèl tussen:
OUPA
KAMOHO SAMSON MOKOENA
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
DER MERWE R
et
VAN ZYL R
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
VAN
ZYL R
AANGEHOOR OP:
5
FEBRUARIE 2007
GELEWER OP:
15
FEBRUARIE 2007
[1] Appellant het as
beskuldigde 2 van twee beskuldigdes in die streekhof te Sasolburg
tereggestaan op ‘n aanklag van roof met
verswarende omstandighede.
Hy het onskuldig gepleit, maar is op 21 September 2005 skuldig bevind
en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf.
[2] Hoewel verlof aan
appellant verleen is om te appelleer, is dit ietwat onduidelik of
sodanige verlof verleen is slegs ten opsigte
van die vonnis of ten
opsigte van beide die skuldigbevinding en die vonnis. In die verband
blyk die rekord nie heeltemal volledig
te wees met betrekking tot die
verrigtinge ten opsigte van die aansoek om verlof om te appelleer
nie. Uit die gedeelte van die rekord
wat wel beskikbaar is, blyk dit
asof daar slegs sprake was van ‘n kondonasie aansoek en ‘n
aansoek om verlof om te appelleer
teen die opgelegde vonnis. Die
bevel wat gemaak is spesifiseer ook nie die verlof wat verleen is
nie, deurdat dit slegs bepaal “THE
COURT WILL THEREFORE GRANT YOU
LEAVE TO APPEAL”. (Sien oorkonde p. 131 – 132.) Hierteenoor
vermeld die streeklanddros op p.
135 van die oorkonde dat “Die
beskuldigde/s gaan nou in hoër beroep teen die skuldigbevinding en
vonnis”. Die kennisgewing
van appèl, soos dit voorkom op p. 149 –
152 van die oorkonde, is ook redelik vaag. Dit blyk egter uit ‘n
skrywe van appellant,
gedateer 21 November 2005, soos dit voorkom op
p. 157 van die oorkonde, dat appellant ontken dat hy enigsins by die
roof betrokke
was. Veiligheidshalwe en in die belang van regspleging
word hierdie appèl gevolglik hanteer asof dit ‘n appèl teen beide
die
skuldigbevinding en opgelegde vonnis is.
[3] Die
aanklag spruit voort uit ‘n voorval wat op 30 Maart 2001 om omtrent
20h45 plaasgevind het. Die Staat het vier getuies geroep,
synde die
klaer, Clastin Mashigo (“die klaer”), ‘n familielid van hom,
Ephraim Mashaba (“Ephraim”), Chithaba Raphiri (“Chithaba”)
en
‘n inspekteur in die SA Polisie, Moses Mahlatsi (“Mahlatsi”).
Uit hulle getuienis het die volgende gebeure geblyk. Die
klaer was
die betrokke aand te voet oppad na sy woning te die woonbuurt Frans,
Sasolburg. Twee persone het hom van voor genader,
by hom verby
gestap, omgedraai en hulle toe by hom aangesluit. Die een persoon
was beskuldigde 1, wie hy geken het as Lucky en wie
hy van sien geken
het en die ander persoon was appellant, wie hy daardie aand die
eerste keer gesien het. Nadat hulle hulself met
vals name aan hom
voorgestel het en saam met hom geloop en gesels het, het hulle op ‘n
stadium vanaf die teerpad gedraai op ‘n
voetpad deur die gras.
Beskuldigde 1 het toe ‘n panga te voorskyn gebring en die klaer
beveel om sy geld aan beskuldigde 1 te
oorhandig. Appellant het op
daardie stadium die klaer van agter om die lyf gegryp. Hulle het aan
die klaer gesê dat as hy nie
sy geld oorhandig nie, hulle hom sou
vermoor. Beskuldigde 1 het die klaer met die plat kant van die panga
op beide sy skouers en
sy kop gekap. Beskuldigde 1 het die klaer se
selfoon uit sy linker broeksak gehaal en in sy eie baadjiesak gesit.
Appellant het
sy hand in die klaer se regter broeksak gesteek en
R1000,00 uitgehaal, welke geld die klaer sou gebruik het om vir
sinkplate te betaal.
In die proses het die klaer appellant probeer
keer om die geld te vat, maar het beskuldigde 1 hom so met die panga
geslaan dat hy
nie verder kon keer nie. Beskuldigde 1 en appellant
het die klaer toe neergegooi en hom aangerand met vuiste, oop hande
en deur
hom te skop. Beskuldigde 1 het hom intussen ook nog verder
met die panga geslaan. Die klaer het om hulp geskreeu en beide die
aanvallers
het toe weggehardloop. Uit sy getuienis, saamgelees met
die J88 mediese verslag wat as ‘n bewysstuk ingehandig is, het dit
geblyk
dat twee beentjies in die klaer se regterhand gebreek was
waarvoor die hand in gips geplaas was. Op sy linkerwang, onder sy
linkeroog,
aan die onderkant van sy ken op die regterkant en op sy
rug het die klaer oppervlakkige skaafwonde opgedoen.
[4] Die volgende dag het
Ephraim en die klaer die aanvallers in die woonbuurt gaan soek. By
‘n kroeg het die klaer beskuldigde
1 uitgewys as een van sy
aanvallers. Beskuldigde 1 was bekend aan Ephraim en het Ephraim met
hom gepraat. Tydens die gesprek tussen
Ephraim en beskuldigde 1 het
beskuldigde 1 aangedui dat die geroofde goedere by sy huis was en dat
hy dit die volgende dag sou bring.
Hoewel die klaer tydens hierdie
geleentheid die polisie ontbied het, was beskuldigde 1 reeds weg toe
die polisie opdaag.
[5] Die
daaropvolgende dag is Ephraim en die klaer na beskuldigde 1 se huis
waar hulle beskuldigde 1 aangetref het. Nadat hulle
met moeite
toegang tot beskuldigde 1 se huis verkry het, waartydens beskuldgide
1 ook ‘n mes (wat beskuldigde 1 later self as
`n panga beskryf) te
voorskyn gebring het, het beskuldigde 1 eventueel aangedui dat hy aan
hulle sou gaan wys waar hy die selfoon
verkoop het. Hulle is toe na
Chithaba by wie hulle wel die klaer se selfoon gevind het. Volgens
Chithaba se getuienis het hy die
selfoon vir R100,00 vanaf
beskuldigde aangekoop. Daarna het hulle beskuldigde 1 omtrent die
geroofde geld gevra en het beskuldigde
1 aangedui dat die geld by die
ander persoon was wie saam met hom by die rooftog betrokke was.
Hulle is toe na appellant se huis,
welke huis deur beskuldigde 1
uitgewys is, waar hulle appellant slapend aangetref het. Appellant
het beserings gehad met droë bloed
op sy kop en in sy gesig.
Beskuldigde 1 het appellant meegedeel dat die klaer-hulle op soek was
na die geld wat hulle geroof het.
Appellant se reaksie was dat nadat
hulle die klaer geroof het, het beskuldigde 1 en sy vriende die geld
weer by appellant afgeneem.
Daar het ‘n stryery tussen beskuldigde
1 en appellant ontstaan met betrekking tot die geld. Toe die klaer
en Ephraim aandui dat
hulle die polisie gaan ontbied, het beskuldigde
1 aangedui dat die geld wat hy vir die selfoon gekry het nog by sy
huis was en dat
hy die geld by sy moeder sou kry om die klaer terug
te betaal. Hulle, tesame met appellant, het beskuldigde 1 vergesel
na sy moeder
te die woonbuurt Frans en het beskuldigde 1 sy moeder
meegedeel dat hy op soek is na die geld wat hy die vorige dag of nag
vir haar
gegee het, maar sy het ontken dat sy enige geld ontvang het.
Ander persone het op die toneel opgedaag en begin om beskuldigde 1
en appellant aan te rand. Die polisie is ontbied en beskuldigde 1 en
appellant is gearresteer. Die klaer het wel sy selfoon terugontvang,
maar geen gedeelte van die geld nie.
[6] Ten
tyde van sy getuienisaflegging het beskuldigde 1 ontken dat hy
enigsins by die roof betrokke was. Hy het ontken dat hy op
die dag
van die voorval saam met appellant was en het hy verduidelik dat hy
appellant uitgewys het omdat hy aangerand was en toe
besluit het om
appellant uit te wys bloot omdat appellant naby Chithaba se plek
woonagtig was. Met betrekking tot die selfoon het
hy verduidelik dat
Ephraim hom R100,00 geskuld het, Ephraim het nie geld gehad om hom te
betaal nie en derhalwe het Ephraim vir hom
die selfoon gegee en gesê
hy moet dit gaan verpand vir R100,00. Hy wat Ephraim issou dan later
weer die foon gaan terugkoop. Dit
is hoekom beskuldigde 1 toe die
selfoon aan Chithaba gaan verpand het vir R100,00. Die volgende het
die klaer en Ephraim by sy huis
opgedaag en die selfoon gesoek.
Volgens hom het hulle hom aangerand en gesê dat hy sy vriend moes
gaan uitwys, waarop hy appellant
gaan uitwys het. Toe hulle by
appellant opdaag, is appellant ook deur hulle aangerand.
[7] Appellant
het ontken dat hy enigsins by die rooftog betrokke was of enige
kennis daarvan het. Hy ken beskuldigde 1 slegs van
sien. Volgens hom
het beskuldigde 1 saam met ander persone, wie hy nie geken het nie,
by sy woning opgedaag en hom aangerand. Beskuldigde
1 het hom egter
nie aangerand nie – slegs die ander persone. Hulle het hom toe
saamgeneem na die woonbuurt, Frans, waar hy arresteer
is.
[8] Die
verhoorhof het in sy uitspraak al die getuienis deeglike evalueer.
Na aanleiding hiervan het hy bevind dat die klaer ‘n
eerlike en
geloofwaardige getuie was en het hy ook soortgelyke bevindings met
betrekking tot Ephraim en Chithaba gemaak. Mahlatsi
se getuienis was
in ieder geval nie werklik in dispuut nie. Die verhoorhof het egter
tot die teendeel bevind met betrekking tot
beskuldigde 1 en
appellant. Volgens die verhoorhof het hulle hom glad nie as getuies
beïndruk nie, deurdat hulle hulle weergawes
in sekere opsigte
aangepas het, hulself by geleenthede weerspreek het, huiwerig was om
sekere vrae te beantwoord en sekere inherente
onwaarskynlikhede in
hulle getuienis voorgekom het. Die detail ten opsigte hiervan is
reeds behoorlik in die verhoorhof se uitspraak
uiteengesit en meen ek
nie dat dit nodig is om hierin herhaal te word nie. By bestudering
daarvan en van die getuienis, is daar
na my mening geen fout te vind
met die verhoorhof se geloofwaardigheids– en feitebevindings nie.
Gevolglik is ek ook van mening
dat die verhoorhof heeltemal tereg
beskuldigde 1 en appellant se weergawes as vals verwerp het en
insgelyks heeltemal tereg bevind
het dat die Staat beskuldigde 1 en
appellant se skuld bo redelike twyfel bewys het. Die appèl teen die
skuldigbevinding kan derhalwe
nie slaag nie.
[10] Wat
die opgelegde vonnis betref het die verhoorhof behoorlike oorweging
gegee aan die elemente van strafoplegging. Wat betref
die persoonlike
omstandighede van appellant is in ag geneem dat hy 25 jaar oud is,
ongetroud en met geen afhanklikes nie. Appellant
het Gr. 9 op skool
geslaag en het klere verkoop waaruit hy ‘n inkomste van R250,00 per
maand verdien het. Hy is ‘n algeheel
eerste oortreder.
Wat die aard en erns van
die misdryf betref, het die verhoorhof tereg die geweldige hoë
voorkoms van die misdryf in aanmerking geneem.
Hy het ook bevind dat
die roof vooraf beplan was gegewe die feit dat hulle ‘n panga
byderhand gehad het, hulle wyse van optree
deur onderskeidelik voor
en agter die klaer te loop toe daar vanaf die teerpad op die
voetpaadjie geloop is en die wyse waarop hulle
saamgewerk het met die
aanval op die klaer. Dit is wel ten gunste van appellant in ag
geneem dat hoewel die waarde van die geroofde
items R3200,00 was, die
selfoon ter waarde van R2200,00 teruggevind is.
Dit is ook ten gunste van
appellant in ag geneem die lang tydperk van ongeveer 4 en ‘n half
jaar wat dit geneem het sedert die voorval
plaasgevind het tot en met
die afhandeling van die aangeleentheid, tydens welke tydperk
appellant ongeveer 10 maande as verhoorafwagtende
in hegtenis was
voor hy vrygelaat is op borg. Daar is ook in ag geneem dat die
klaer nie ernstig beseer is nie. Hierteenoor is
dit egter deur die
verhoorhof vermeld dat gegewe die erns en hoë voorkoms van die
misdryf, die gemeenskapsbelang vereis dat appellant
behoorlik
gevonnis moet word.
[11] Inaggenome die
elemente van strafoplegging en bogemelde feite en omstandighede, het
die verhoorhof na my mening tot die korrekte
gevolgtrekking gekom
deur te bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan
wat die oplegging van ‘n mindere vonnis
dan die voorgeskrewe
minimum vonnis van 15 jaar regverdig. Mnr. Van Rensburg, namens
appellant, het aan die hand gedoen dat die
appèl teen die opgelegde
vonnis behoort te slaag en dat ‘n termyn van 8 jaar gevangenisstraf
‘n gepaste vonnis is. Hierteenoor
het mnr. Pienaar, namens die
Staat, betoog dat daar nie met die opgelegde vonnis ingemeng behoort
te word nie.
[12] Dit is geykte reg
dat ‘n hof van appèl se bevoegdheid om met ‘n opgelgde vonnis in
te meng, beperk is en dat dit slegs gedoen
kan word indien die
verhoorhof ‘n mistasting ten opsigte daarvan begaan het of die
opgelegde vonnis skokkend onvanpas is. Na my
mening bestaan nie een
van hierdie twee gronde van inmenging in die onderhawige geval nie en
rus daar geen basis waarop met die opgelegde
vonnis kan of behoort
ingemeng te word nie. Gevolglik kan die appèl teen die opgelegde
vonnis nie slaag nie.
[13] In die
vooropstelling word die appèl teen beide die skuldigbevinding en die
opgelegde vonnis van die hand gewys.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
_______________________
C.H.G. VAN DER MERWE,R
Namens
die appellant: Adv. T.B. van Rensburg
i.o.v.
Regshulpraad
KROONSTAD
Namens
die respondent: Adv. F. Pienaar
i.o.v.
DOV
BLOEMFONTEIN
/Ecoetzee