Padongelukkefonds v Oliphant (A161/06) [2007] ZAFSHC 16 (16 February 2007)

45 Reportability
Personal Injury Law - Road Accident Fund

Brief Summary

Tort — Negligence — Liability of motor vehicle owner — Respondent, a paraplegic, claimed damages from appellant, the Road Accident Fund, for injuries sustained due to alleged negligence of her husband while operating a vintage vehicle — Trial court found husband solely negligent, leading to appellant's liability — Appellant appealed against the finding of negligence — Court held that the trial court's acceptance of the husband's testimony was flawed due to improbabilities in the evidence presented, warranting a reversal of the negligence finding and dismissal of the claim against the appellant.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2007
>>
[2007] ZAFSHC 16
|

|

Padongelukkefonds v Oliphant (A161/06) [2007] ZAFSHC 16 (16 February 2007)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnommer : A161/06
In
die appèl tussen:-
PADONGELUKKEFONDS
Appellant
en
SANNA
SUZAN OLIPHANT
Respondent
_______________________________________________________
CORAM:
HATTINGH
R
et
VAN DER MERWE R
et
VAN ZYL R
_______________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
5 MAART
2007
_______________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN DER
MERWE R
_______________________________________________________
GELEWER
OP:
15 MAART 2007
_______________________________________________________
[1] Die respondent het ‘n
besering opgedoen met sodanig tragiese nagevolge dat sy tans ‘n
parapleeg is. Die respondent het gevolglik
in hierdie Afdeling aksie
ingestel vir die verhaal van skadevergoeding van die appellant
gegrond op die nalatigheid van haar eggenoot,
Mnr. Isaac Ndleleni
Oliphant, in die bestuur van ‘n Chevrolet Commodore motorvoertuig
wat dateer uit die jare sewentig (“die
voertuig”).
[2] By die aanvang van
die verhoor het die verhoorhof by ooreenkoms tussen die partye ‘n
bevel ter skeiding van die geskilpunte
tussen die partye verleen wat
tot gevolg gehad het dat slegs die kwessie van nalatigheid aanvanklik
afsonderlik bereg moes word en
dat alle ander geskilpunte oorstaan
vir latere beregting, indien nodig. In die respondent se saak het
die respondent self getuig,
asook Mnr. Oliphant en Mnr. Barry
Grobbelaar wat as ‘n deskundige getuie geroep is. Namens die
appellant het slegs Mnr. D.L. van
Onselen as deskundige getuie
getuig. Na afloop van die verhoor op hierdie geskilpunt het die
verhoorhof ‘n bevinding gemaak dat
Mnr. Oliphant uitsluitlik
nalatig was in die veroorsaking van die ongeluk waarin die respondent
beseer is en dat die appellant gevolglik
aanspreeklik is vir sodanige
skadevergoeding as wat die respondent mag bewys sy as gevolg van die
nalatigheid van Mnr. Oliphant gely
het. Dit is gelas dat koste van
die verhoor koste in die geding moet wees. Met verlof daartoe
verleen deur die verhoorhof, appelleer
die appellant nou teen die
gemelde bevinding van nalatigheid.
[3] Die wesenlike
getuienis ten aansien van hoe die beweerde voorval plaasgevind het,
is gelewer deur Mnr. Oliphant. Mnr. Grobbelaar
se deskundige
getuienis was essensieel tot die effek dat die gebeure soos deur Mnr.
Oliphant in sy getuienis beskryf, moontlik was
of nie onmoontlik was
nie. Daarenteen was Mnr. Van Onselen se mening in sy getuienis dat,
alhoewel enigiets moontlik is, die moontlikheid
dat die gebeure kon
plaasvind soos deur Mnr. Oliphant beskryf, baie skraal en dus baie
onwaarskynlik is.
[4] Mnr. Oliphant het
getuig dat die voertuig ‘n outomatiese ratkas gehad het. Hy het
egter die ratkas sodanig gebrug dat die enjin
in enige rat
aangeskakel kon word en nie net in die parkeerrat nie. Omdat hy
probleme gehad het om die voertuig aan die gang te
kry, het Mnr.
Oliphant ‘n aansitknoppie in die kajuit geïnstalleer met twee
drade deur die paneelbord direk aan die aansittermotor
gekoppel. Ten
einde die aansitterknoppie te gebruik om die voertuig aan te skakel,
moes die vonkskakelaar (“ignition switch”),
wat met ‘n sleutel
gewerk het, egter aangeskakel word deur die sleutel na regs te draai.
Sodoende het daar twee liggies op die
paneelbord aangekom. Op die
betrokke oggend het Mnr. Oliphant die enjinkap oopgemaak en toe
omgeloop en die enjin op die gebruiklike
manier aangeskakel en laat
luier. Die ratkas was in die parkeerrat geskakel. Volgens Mnr.
Oliphant het hy toe ‘n ongewone geluid
van die kant van die enjin
gehoor, as gevolg waarvan hy die enjin weer afgeskakel het, waarna hy
die sleutel uit die vonkskakelaar
getrek het en in sy sak gedruk het.
Hy het die regterkantste voordeur oopgelos. Hy het vasgestel dat
‘n moer waarmee die petrolpomp
vasgetrek word, los was. Hy het ‘n
moersleutel geneem en die moer stywer gedraai. Hy het toe aan die
regterkant van die voertuig
gestaan en oor die enjin gebuk. Op
daardie stadium was die respondent in die huis enkele tree daarvan
af. Die moersleutel het gegly
en uit sy hand geval en op die
solenoïde en aansittermotor geval. Volgens Mnr. Oliphant het die
aansittermotor toe begin draai,
die enjin aangeskakel en, soos hy dit
gestel het, “onmiddellik het die kar sommer weggegaan van my af”
en wel agteruit. Die
voertuig het ‘n paar meter verder tot
stilstand gekom, aangesien die regtervoordeur daarvan aan ‘n
sinkgeboutjie gehaak het.
Hy het die enjin doodgemaak deur die drade
van die klos en die vonkpropdrade uit te trek. By ondersoek het hy
vasgestel dat die
respondent onder die voertuig lê en dat sy beseer
is. Hy het opgemerk dat die ratkas van die voertuig in trurat
geskakel was en
dat die stuurwielslot aangeskakel was. Die
stuurwielslot word losgemaak deur die vonkskakelaar aan te skakel.
[5] Die verhoorhof het
die getuienis van Mnr. Oliphant aanvaar. Dit is welbekende reg dat
hierdie bevinding moet bly staan, tensy
die verhoorhof ‘n
wanvoorligting begaan het óf die hof van appèl oortuig is daarvan
dat dit verkeerd is. Dit is onnodig om daarop
in te gaan of die
verhoorhof ‘n wanvoorligting op die feite begaan het, aangesien ek,
vir die redes wat volg, oortuig is daarvan
dat die bevinding verkeerd
is.
[6] Die bevinding dat
Mnr. Oliphant ‘n geloofwaardige getuie was, was gegrond op beide
die wyse waarop hy sy getuienis afgelê het,
sowel as die inhoud
daarvan, d.w.s die waarskynlikhede. Die uitspraak van die verhoorhof
bevat egter nie besonderhede aangaande
die voorkoms of wyse van
getuienisaflegging (“demeanour”) van die getuie nie. Die waarde
van voorkoms en wyse van getuienisaflegging
by beoordeling van die
geloofwaardigheid van ‘n getuie se getuienis waar daar kultuur- en
agtergrondverskille ter sprake is en/of
van ‘n tolk gebruik gemaak
word, soos wat die geval hier is, is al meermale betwyfel. Sien
byvoorbeeld
PRESIDENT OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA AND
OTHERS v SOUTH AFRICAN RUGBY FOOTBALL UNION AND OTHERS
2000
(1) SA 1
(KH) op 43 para 79. Wat wel baie duidelik is, is dat geen
aanvaarbare geloofwaardigheidsbevinding gemaak kan word sonder dat
die
waarskynlikhede in die betrokke geval na behore oorweeg is nie.
Innes HR sê in
ARTER v BURT
1922 AD 303
op 306 kragtig
die volgende:
“
The
advantage enjoyed by a Trial Court of observing the manner and
demeanour of the witnesses is very great and a resulting conclusion
will not lightly be disturbed. But a finding baldly based on
demeanour alone is not satisfactory. The reason should indicate that
the general probabilities and the broader aspects of the case have
not been overlooked.”
Sien ook
BODY
CORPORATE OF DUMBARTON OAKS v FAIGA
[1998] ZASCA 101
;
1999 (1) SA 975
(HHA) op
979 en
MEDSCHEME HOLDINGS (PTY) LTD AND ANOTHER v BHAMJEE
2005 (5) SA 339
(HHA) op 345 para 14.
Soms blyk
selfs onweerspreekte getuienis so onwaarskynlik te wees dat dit nie
aanvaar kan word nie. Sien
MINISTER
OF JUSTICE v SEAMETSO
1963 (3) SA
530
(A) op 534 H – 535 A.
Myns insiens
is dit die geval met die getuienis van Mnr. Oliphant.
[7] Dit is gemeensaak dat
die voertuig in die onderhawige geval slegs deur middel van die enjin
daarvan agteruit kon beweeg indien
ten minste al vier die
ondervermelde gebeur het of van toepassing was:
Die moersleutel moes
voldoende en lank genoeg kontak bewerkstellig het tussen die
positiewe pool van die aansittermotor en die positiewe
pool van die
solenoïde sodat die aansittermotor die enjin kon aansluit.
Die vonkskakelaar moes
aangeskakel gewees het, sodat die elektriese stroombaan voltooi was
tussen die battery en die klos en vonkverdeler.
Die ratkas moes in
trurat geskakel gewees het.
Die enjin moes voldoende
revolusies opgebou het om die voertuig te laat wegtrek.
[8] Die getuienis van
Mnr. Oliphant op elkeen van hierdie aspekte en des te meer op almal
tesame, is myns insiens so onwaarskynlik
dat dit nie aanvaar kan word
nie. Oorkoepelend moet op grond van algemene waarskynlikhede in
gedagte gehou word dat die probleem
met hierdie tipe ou voertuig juis
is om dit aan die gang te kry en nie andersom nie, wat ook strook met
Mnr. Oliphant se eie ervaring.
[9] Dit is natuurlik in
die eerste plek besonder eienaardig dat die moersleutel toevallig
presies gelyktydig geval het net op die
positiewe pool van die
aansittermotor en die positiewe pool van die solenoïde. Boonop het
Mnr. Oliphant gesê dat die moersleutel
nie vasgewig was nie, maar
bloot op die twee pole geval het, vir ‘n wyle vasgebrand het daarop
en toe afgeval het. Mnr. Grobbelaar
het self gesê dat hy dit
betwyfel dat die enjin aangeskakel kon word indien die moersleutel
nie op die betrokke twee pole vasgewig
was of vasgesteek het nie.
Daar is verwys na brandmerke wat op die betrokke pool of pole
voorgekom het. In die omstandighede is
hierdie getuienis vir my van
min waarde. Dit is ‘n baie ou voertuig en dit is duidelik dat Mnr.
Oliphant bewus was van hoe ‘n
voertuig aangeskakel kon word deur
kontak tussen die twee pole te bewerkstellig. Trouens, hy het self
verduidelik hoe hy dit tot
verbasing van een van die persone wat hom
met betrekking tot die saak besoek het, op die voertuig gedemonstreer
het. Selfs Mnr.
Grobbelaar het, volgens sy eie getuienis, ‘n toets
gedoen voor sy demonstrasie in die hof om aan te dui hoe die
aansittermotor
aangeskakel kon word deur die twee genoemde pole
meganies te verbind.
[10] Mnr. Grobbelaar het
in sy getuienis die moontlikheid geopper dat die vonkskakelaar
aangesluit kon gebly het, indien dit erg uitgeslyt
was. Hy het egter
nie die vonkskakelaar ondersoek nie. Dat die vonkskakelaar moontlik
aangeskakel kon gebly het, is egter myns
insiens in die omstandighede
tot die hoogste mate onwaarskynlik en berus op ‘n baie bedenklike
getuienisbasis. Mnr. Oliphant se
getuienis hieromtrent was duidelik.
Toe hy die moer begin vasdraai, was die vonkskakelaar afgeskakel,
die sleutel in sy sak, was
daar geen krag vanaf die battery na die
klos en vonkverdeler nie en kon die enjin op geen manier aan die gang
gesit word nie. Klaarblyklik
het hy pas voordat die moersleutel uit
sy hand sou geval het, die enjin afgeskakel deur juis die
vonkskakelaar af te skakel. Dit
verbaas derhalwe nie dat Mnr.
Oliphant in kruisverhoor op die vraag aangaande hoe dit desondanks
dan moontlik is dat die enjin aangeskakel
kon word, onsamehangend
soos volg geantwoord het:
“
Kan
u net vir die Hof sê hoe op aarde is dit moontlik dat hierdie enjin
ge-idle en geloop het terwyl die ignition nie aan was nie?
--- Wat
daar is, dit kan moontlik wees die ignition, al is hy aan, dan kan ek
die sleutel uittrek. Al is hy af, ek kan die sleutel
uittrek.”
Mnr. Oliphant het dus nie
op hierdie kritiese vraag geantwoord dat die vonkskakelaar erg
uitgeslyt was en daarom aangeskakel gebly
het al het hy dit so pas
afgeskakel nie. In sy hoofgetuienis het hy in ‘n ander konteks,
nl. as die rede waarom hy die aansitterknoppie
geïnstalleer het,
gesê dat die vonkskakelaar ‘n bietjie uitgewerk was. Eers in
herverhoor het hy op ‘n erg leidende vraag
geantwoord dat die
vonkskakelaar baie uitgewerk was. Hierby moet gevoeg word dat
volgens Mnr. Oliphant die stuurwielslot ontkoppel
word deur die
vonkskakelaar aan te skakel en die stuurwielslot onmiddellik na die
voorval aangeskakel of gekoppel was. Indien die
stuurwielslot
gekoppel was, volgens die onbetwiste getuienis van Mnr. Van Onselen,
dui dit aan dat die vonkskakelaar af was.
[11] Die moontlikheid dat
die ratkoppeling vanuit die parkeerrat na trurat kon “gespring”
het, was gebaseer op ‘n beweerde vorige
voorval waartydens iets
soortgelyks sou gebeur het. Mnr. Oliphant se getuienis hieromtrent
is egter so weersprekend en onbevredigend
dat dit nie aanvaar kan
word nie. In sy hoofgetuienis het hy in die uiterste vae terme en
sonder om eers na die ratkoppeling te
verwys, vertel hoe die voertuig
by geleentheid ook “...... sommer skielik agtertoe gegaan” het.
Mnr. Van Onselen het getuig
dat toe hy vir doeleindes van die saak
vir Mnr. Oliphant besoek het en die voertuig ondersoek het, Mnr.
Oliphant aan hom ten aansien
van die beweerde vorige geleentheid
vertel het dat die motorvoertuig vorentoe beweeg het. Hy het notas
hiervan geneem en daardie
notas is tot beskikking van die respondent
se advokaat gestel. Toe Mnr. Van Onselen se gemelde getuienis in
kruisverhoor aan Mnr.
Oliphant gestel is, het hy dit nie ontken nie.
Wat oorbly is die onbetwiste getuienis van Mnr. Van Onselen dat dit
moeilik was om
ratskakeling te verkry, die rathefboom moes
gemanipuleer word om dit te kon doen. Ek aanvaar dat daar skade aan
die regterdeur voordeur
van die voertuig was wat ooreengestem het met
die tipe skade wat daaraan verwag sou word indien die oop deur aan
die sinkhuis gehaak
het, soos beskryf. In lig daarvan dat op Mnr.
Oliphant se getuienis dit onverklaarbaar is hoe die voertuig in
trurat kon gekom het,
het hierdie getuienis vir my weinig waarde.
[12] Mnr. Oliphant het in
sy getuienis vertel dat wanneer hy met die voertuig byvoorbeeld by ‘n
stopstraat gestop het, die voertuig
nie weer beweeg het tensy hy die
versneller getrap het nie en dat selfs dan “hy vat ‘n tydjie om
te gaan, maar hy gaan”. Mnr.
Grobbelaar het getuig dat dit gebeur
wanneer die olievlak in die ratkas laag is. Mnr. Oliphant het
bevestig dat hy dikwels olie
vir die ratkas moes ingooi. Dat die
luierspoed hoog gestel was, is neutraal. Dit geld ook wanneer by die
stopstraat gestop word.
Hierdie getuienis rym dus nie op
waarskynlikhede met die getuienis dat op die betrokke dag die
voertuig onmiddellik weggetrek het
sonder dat die versneller in
werking gestel is nie.
[13] Dit is nie namens
die respondent betoog dat op die respondent se eie feitelike
getuienis alleenstaande ‘n bevinding ten gunste
van die respondent
gegrond kan word nie. Ek meen dat dit ‘n korrekte benadering is.
Die probleem is dat die respondent se eie
getuienis in die uiterste
vaagheid gehul is. Behalwe dat sy sê dat sy agter die voertuig
verbygeloop het, sê sy herhaaldelik daarna
net dat “toe sien ek
dat ek lê” onder die voertuig. Sy het nie bewus geword daarvan
dat die voertuig beweeg nie en kan nie
bevestig of die enjin geloop
het of nie. Die ongelukkige resultaat is dat geen aanvaarbare
getuienis deur of namens die respondent
aangebied is aangaande hoe
die respondent beseer is nie.
[14] Namens die appellant
is betoog dat nalatigheid aan die kant van Mnr. Oliphant in ieder
geval nie bewys is nie, omdat dit op sy
weergawe nie redelikerwys
voorsienbaar was dat die voertuig agteruit sou beweeg of dat die
respondent daardeur beseer sou word nie.
Ek meen uit hoofde van die
voormelde dat die appellant ook hierin gelyk gegee moet word.
[15] Gevolglik
slaag die appèl met koste en word die verhoorhof se bevinding
tersyde gestel en vervang met ‘n bevel ingevolge waarvan
die
respondent se vordering van die hand gewys word met koste.
________________________
C.H.G.
VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
________________
G.A. HATTINGH, R
Ek stem saam.
____________
C.
VAN ZYL, R
Namens die
appellant: Mnr. L. le R Pohl
In
opdrag van:
Honey
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. C. Nel
In
opdrag van:
Symington
& De Kok
BLOEMFONTEIN
/sp