About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2008
>>
[2008] ZAWCHC 21
|
|
Vermaak v Addisionele Landdros (Kuilsrivier) (12024/07) [2008] ZAWCHC 21 (30 April 2008)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer: 12024/07
In die
saak tussen:
SUSAN
VERMAAK
Applikant
en
DIE
ADDISIONELE LANDDROS (KUILSRIVIER)
Respondent
UITSPRAAK: 30 APRIL 2008
VAN ZYL
R:
INLEIDING
[1] Hierdie is ân hersieningsaansoek
voortspruitend uit die bevinding wat die respondent op 27 April 2007,
as voorsittende beampte
in ân geregtelike doodsondersoek na die
oorlye van wyle Werner Vermaak (âdie oorledeneâ), uitgebring het.
Toe die saak op 16
November 2007 op ân ongeopponeerde basis voor
hierdie hof geargumenteer is, is die aansoek toegestaan onderhewig
daaraan dat redes
vir die bevel later verstrek sou word. Die redes
blyk uit wat hieronder volg. Die hof spreek sy dank uit teenoor Adv F
van Zyl SC
wat namens die applikant opgetree het en volledige hoofde
van betoog voorgelê het. Dank is ook verskuldig aan Adv R J de Kock
van
die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings: Kaap die
Goeie Hoop, wat in ân memorandum ân regsopinie oor die
aangeleentheid
verskaf het.
[2] Die
kern van die saak is of die oorledene, wat homself om die lewe
gebring het, voor middernag op 30 September 2005 dood is of
eers
daarna. Indien dit eersgenoemde was, sou sekere voordele aan sy vrou,
die applikant, en sy twee minderjarige seuns (vyftien
en dertien jaar
oud onderskeidelik) toeval. Indien dit laasgenoemde was, sou hulle
die voordele verbeur.
[3] In die
relevante stadium was die oorledene as hoof regsadviseur in diens van
die Universiteit van Stellenbosch (âdie Universiteitâ).
As gevolg
van sekere beweerde onreëlmatighede, het hy bedank met effek vanaf
30 September 2005, wat dan sy laaste dag van diens
sou wees. Indien
hy voor middernag op daardie dag tot sterwe sou kom, sou sy vrou en
kinders substansiële pensioen- en mediese voordele
ontvang, terwyl
sy kinders gratis aan die Universiteit sou kon studeer.
[4] Die
probleem is dat hy op die vorige dag, naamlik 29 September 2005, ân
onsuksesvolle poging aangewend het om homself om die
lewe te bring
deur die neem van ân oordosis pille. Hy het eers om 22.16 die aand
van 30 September 2005 die tou gekoop waarmee hy
hom daarna opgehang
het en sy dood veroorsaak het. Sy liggaam is egter eers die volgende
dag, naamlik 1 Oktober 2005, gevind. Dit
was dan ook die datum van
afsterwe wat in sy sterftesertifikaat aangebring is.
[5] Ten
tye van die formele geregtelike doodsondersoek het Dr E H Burger, ân
geregtelike pataloog, en Mev L E Vermaak, die moeder
van die
oorledene, getuienis aangebied. Daarbenewens is heelwat dokumentasie
aan die respondent voorgelê. Na oorweging daarvan het
die
respondent, ingevolge artikel 16(2)(c) van die
Wet
op Geregtelike Doodsondersoeke
58 van
1959, tot die slotsom gekom dat dit nie bepaal kon word of die
oorledene op 30 September of 1 Oktober 2005 tot sterwe gekom
het nie.
Dit moes dus bevind word dat hy òf op die een òf op die ander datum
gesterf het.
[6] Soos
blyk uit die beëdigde verklaring van Mnr J P van Niekerk, die
applikant se prokureur, het hy skriftelik kennis van die onderhawige
aansoek gegee aan die Universiteit, die oorledene se werknemer, en
aan Sanlam, die onderskrywer van die tersaaklike pensioenfonds.
Beide
instansies het skriftelik aangedui dat hulle nie van voorneme was om
die aansoek te betwis nie. Die respondent het eweneens
berus by die
bevinding van hierdie hof.
AGTERGROND
[7] Die tersaaklike agtergrond blyk uit die
funderende beëdigde verklaring van die applikant. Daaruit blyk dit
dat die oorledene
beskik het oor die LL.B en LL.M grade. Laasgenoemde
was ân meestersgraad in arbeidsreg. Met hierdie kwalifikasies was
hy nie alleen
by uitstek geskik en gekwalifiseer om sy funksies as
hoof regsadviseur van die Universiteit na behore uit te voer nie,
maar het dit
hom ook in staat gestel om die inhoud en omvang van sy
dienskontrak met die Universiteit in alle opsigte te begryp.
[8] Dat
die oorledene daarvan bewus was dat die tyd van sy beplande afsterwe,
te wete vóór middernag op 30 September 2005, van kardinale
belang
was indien sy vrou en kinders ingevolge sy dienskontrak daaruit
voordeel sou trek, blyk uit verskeie feite en gebeure wat
kort voor
sy oorlye plaasgevind het. Ek handel met wat voorkom die belangrikste
te wees.
[9] Van
groot belang was ân brief aan die applikant gedateer 28 September
2005, waarin die oorledene gepoog het om te verduidelik
wat presies
tot die ongelukkige toedrag van sake aanleiding gegee het. Hy het ten
aanvang verskoning gevra indien sy brief âkliniesâ
of âkort-afâ
sou oorkom; dit was nie sy bedoeling nie, maar hy was ânet onder
geweldige tydsdrukâ. Sy motivering om so gou
moontlik sy eie lewe
te neem, blyk duidelik uit die volgende uittreksels uit sy brief:
Ek verstaan dat julle dalk hartseer en kwaad sal
wees oor wat ek nou moes doen, maar glo my, ek het hierdie slag geen
ander keuse
nie, absoluut geen ⦠Jy en die klonge sou geen medies
hê nie, en as julle ernstig siek raak, sou julle na ân
staatshospitaal
soos Tygerberg moes gaan. Die klonge sou ook nie
universiteit toe kon gaan nie, omdat jy nie genoeg geld sal verdien
om hulle soontoe
te stuur nie â¦Maar as ek egter te sterwe sou kom
terwyl ek nog in die US se diens is, sal jy vanaf volgende maand ân
maandelikse
pensioen kry vir die res van jou lewe â¦Jy en die klonge
sal steeds op Discovery se mediese fonds bly: totdat hulle finansieel
selfonderhoudend
raak, of tot ouderdom 24, en jy vir die res van jou
lewe ⦠Hiermee saam sal beide Ruds en Ferds GRATIS kan gaan studeer
by die
US vir enige graad van hulle keuse ⦠Deel van my voordele is
ook dat ek ân begrafnispolis het. Julle hoef dus nie vir my
begrafnis
uit eie fondse te betaal nie ⦠My tyd loop uit Poplap, en
ek het nog ongelooflik baie om te doen vanaand. Ek smeek jou om
vergiffenis
vir al die hartseer, pyn, swaarkry, verdriet, skaamte en
ongeluk wat ek jou en die klonge, en jou ouers, veroorsaak het.
[10] Die oorledene het ook op 28 September 2005 briewe geskryf aan sy
skoonouers, Mnr P W G en Mev C Rossouw, sy broer, Mnr E W Vermaak,
en
aan elk van sy seuns, naamlik Ferdie en Rudie Vermaak. In al die
briewe het hy verskoning gevra vir die pyn, hartseer en vernedering
wat hulle moes deurmaak as gevolg van foute wat hy gemaak het. Dit
was ook daaruit duidelik dat hy van plan was om sy eie lewe te
neem
in ân poging om sy vrou en kinders se situasie te verbeter.
[11] Die
feit dat die oorledene die dag voor sy selfmoord onsuksesvol gepoog
het om sy eie lewe te neem, was tekenend daarvan dat
hy deurentyd die
bedoeling gehad het om vóór 30 September 2005 sy lewe te beëindig.
Dit is bevestig deur die getuienis van sy
moeder, Mev L E Vermaak. Sy
het daarop gewys dat hy op 29 September 2005 gepoog het om selfmoord
te pleeg deur ân oordosis pille
in te neem. As gevolg daarvan is hy
in die Karl Bremer hospitaal opgeneem. Sy het hom die oggend van 30
September met haar motor
gaan haal en na haar huis geneem sodat sy
oor hom kon waak. Hy het vir haar duiselig en deurmekaar voorgekom en
het gesukkel om te
praat.
[12] Nadat
hy ân tyd lank geslaap het, het hy haar gevra wat die datum en tyd
is. Sy het hom meegedeel dat dit namiddag is op 30
September 2005. Hy
het toe by haar geld geleen en daarna, tussen 19.00 en 20.00, op sy
moeder se selfoon sy vrou (die applikant),
sy seuns en sy skoonmoeder
gebel. Ongeveer 21.40 het hy sy moeder gevra of hy haar motor mag
leen om na sy neef, Mnr D Versfeld,
te ry. Sy was huiwerig om dit te
doen aangesien sy nie daarvan oortuig was dat hy in staat sou wees om
te bestuur nie. Vanweë sy
sigbare haas en irritasie het sy egter
toegegee en hy het ongeveer 21.50 met haar motor gery. In ân
beëdigde verklaring het Mnr
Versfeld te kenne gegee dat die
oorledene nooit die betrokke aand by hom uitgekom het nie.
[13] Die
volgende oggend het die polisie Mev Vermaak meegedeel dat die
oorledene hom aan ân tou by Kuilsrivier se gholfbaan opgehang
het.
Sy het later opgemerk dat dat daar voetspore op die motor se
enjinkajuit en dak was. Binne-in die motor het sy die sakkie, wat
waarskynlik die tou bevat het waarmee hy hom opgehang het, gevind
tesame met ân winkelstrokie wat gewys het dat hy die tou om 22.16
gekoop het. Dit alles het vir haar daarop gedui dat hy hom om die
lewe wou bring voordat 30 September sou uitloop.
[14] Dit
het voorts geblyk dat die winkel waar die oorledene die tou gekoop
het ongeveer ân halwe kilometer van Mev Vermaak se huis
was terwyl
die gholfbaan ongeveer drie kilometer verder was. Volgens haar
herinnering aan die kilometerlesing van haar motor het
die oorledene
in totaal by die drie kilometer daarmee gery. Dit beteken dat hy
direk vanaf die winkel na die gholfbaan moes gery
het. Dit sou hom
nie meer as enkele minute, ná sy aankoop van die tou, geneem het om
te kom by die plek waar hy sy lewe geneem het
nie. Dié plek het
later geblyk ongeveer drie honderd meter vanaf die gholfbaan se
ingang te gewees het.
[15] Die
getuienis van die geregtelike pataloog, Dr E H Burger, wat op 3
Oktober 2005 ân na-doodse ondersoek op die oorledene uitgevoer
het,
het die saak nie veel verder gevoer nie. Die oorsaak van die dood het
volgens haar ingepas by ophang met ân blou en wit geweefde
nylon
koord wat met ân skuifknoop verbind was en nog steeds om die nek
van die oorledene aanwesig was.
[16] Op
18 Desember 2005 het Dr Burger ân tweede na-doodse ondersoek
uitgevoer in ân poging om die tyd van die oorledene se dood
vas te
stel. Sy het kennis geneem van die oorledene se poging om op 29
September sy eie lewe te neem en van Mev L E Vermaak se verklaring
oor sy optrede die aand van 30 September. Sy het eweneens kennis
geneem van die feit dat sy liggaam eers om 05.30 op 1 Oktober ontdek
is, waar dit van ân oorhoofse kragpaal by die gholfbaan gehang het,
en dat hy om 07.20 dood verklaar is. Aangesien daar geen pataloog
op
die toneel was toe die liggaam ontdek is nie, was dit nie moontlik om
te bepaal wanneer presies die dood ingetree het nie, naamlik
vóór
middernag op 30 September 2005 of daarna. Dr Burger was egter van
mening dat die oorledene in alle waarskynlikheid nie langer
as vyf
minute sou geleef het nadat hy van die motor gespring het met die tou
om sy nek nie.
[17] In
die uitspraak van die respondent is dit beklemtoon dat dit die
funksie van die voorsittende bampte was om feite te weergee
en nie om
afleidings te maak nie. Dit was nie nodig om te kyk na
bewysmaatstawwe in die bepaling van sodanige feite nie: die
voorsittende
beampte was bloot âsoos ân spieël wat reflekteer
wat die feite is wat deur die ekspert bevind isâ. Wat betref die
datum van
die oorledene se dood het alles daarop gedui dat hy voor
middernag op 30 September wou sterf. Uit die getuienis van die
pataloog
kon dit egter nie vasgestel word of die oorledene op 30
September of 1 Oktober 2005 dood was nie. Die respondent se bevinding
was
dus dat dit op die een of die ander van hierdie datums kon gebeur
het.
[18] In sy
betoog namens die applikant het Mnr Van Zyl aan die hand gedoen dat
die respondent gefouteer het deur slegs op die direkte
deskundige
getuienis van die pataloog, Dr Burger, staat te maak en geensins
oorweging te gee aan die omstandigheidsgetuienis wat
uit die
getuienis van die oorledene se moeder, Mev L E Vermaak, of uit die
briewe en beëdigde verklarings geblyk het nie. Daarbenewens
het die
respondent skynbaar geen bewysmaatstaf in hierdie verband toegepas
nie.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[19] Dit moet uit die staanspoor besef word dat ân
geregtelike doodsondersoek nie ân verhoor is met strydende partye
nie. Die
voorsittende beampte mag in sy diskresie sodanige getuienis
en ander bewyse toelaat as wat hom in staat sal stel om sy funksies
geregtelik
uit te oefen. Kyk
Raditsela v
Senior Magistrate, Johannesburg and Others
1986
(4) SA 559
(W) op 567-568.
[20] Artikel
16(2) van die
Wet op Geregtelike
Doodsondersoeke
58 van 1959 (âdie
Wetâ) bepaal aldus:
(2) Die landdros wat ân geregtelike doodsondersoek waarneem, moet
met betrekking tot die ondersoek ân bevinding aanteken:
(a) omtrent die identiteit van die oorledene;
(b)
omtrent die oorsaak of waarskynlike oorsaak van dood;
(c)
omtrent die datum van die sterfgeval;
(d) of die dood veroorsaak is deur ân handeling
of versuim wat
prima facie
ân misdryf aan die kant van iemand insluit of uitmaak.
[21] Indien die landdros op die feite voor hom nie
daartoe in staat is om enige sodanige bevinding te maak nie, moet hy
dit ingevolge
artikel 16(3) van die Wet boekstaaf. Bevindings wat wel
gemaak word, word egter nie beskou as finale vasstellings van regte
wat op
die betrokke party of partye bindend is nie. Kyk
In
Re Goniwe and Others (Inquest)
1994 (3)
SA 877
(SE) op 879C-D;
Ferreira v Die
Meester
2001 (3) SA 365
(O) op 371E-H.
[22] Hoewel
die Wet en, wat dit betref, enige ander statutêre bepalings, nie vir
die hersiening van bevindings in geregtelike doodsondersoeke
voorsiening maak nie, het hierdie hof nog altyd sy inherente
gemeenregtelike hersieningsbevoegdheid. Kyk
Padi
en ân Ander v Botha NO en Andere
1996
(3) SA 733
(W) op 743F-744A. Kyk ook
Harnaker
v Minister of the Interior
1965 (1) SA
372
(C) op 376E-377H;
In Re Kleinâs
Inquest
1992 (2) SA 658
(C) op 662G-I
en 663C-D.
[23] Die
persoon wat die aansoek bring om hersiening van een of meer
bevindings van ân geregtelike doodsondersoek, moet natuurlik
die
bevoegdheid (
locus standi
)
hê om dit te doen. Iemand wat ân direkte finansiële belang in
sodanige bevinding of bevindings het, sou die nodige bevoegdheid
hê
vir sover dit aan hom of haar ân wesenlike en besondere belang in
die uitslag van die ondersoek gee. Kyk die volledige bespreking
in
Claassens en ân Ander v Landdros,
Bloemfontein en ân Ander
1964 (4) SA
4
(O) op 11H-13D.
[24] Waar
kinders of minderjariges se belange op die spel is, sal die
bevoegdheid van ân applikant om in hulle belang op te tree
ân
sterk oorweging wees by bepaling van die
locus
standi
van sodanige applikant. Nie
alleen is dit met die bepalings van artikels 14 en 15, saamgelees met
artikels 8(1) en 9, van die
Kinderwet
38
van 2005 versoenbaar nie, maar dit strook ook met die bepalings van
artikels 28(1)(b) (reg op ouerlike sorg) en 28 (2) van die
Grondwet
(Wet 108 van 1996). Laasgenoemde maak dit juis duidelik dat ân kind
se beste belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid
wat die kind raak. As oppervoog van alle kinders moet hierdie hof
sorg dra dat sodanige beginsel ten uitvoer gebring word. Kyk verder
die
Padi
saak
(par [22] hierbo) op 742E-743C.
[25] Wat
betref die bewysmaatstaf vir bevindings in geregtelike
doodsondersoeke het die hof in die
Claassens
saak (par [23] hierbo) op 11D aan die
hand gedoen dat, by oorweging van die vraag of die dood ingevolge
artikel 16(2)(d) van die Wet
deur ân misdryf veroorsaak is, die
relevante bevinding op ân oorwig van waarskynlikhede gemaak moet
word. In die ongerapporteerde
saak van
Inquest
into the Death of Dr David Joseph Webster
(gelewer
op 22 Januarie 1993 in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling) het
die hof egter bevind dat, as gevolg van die invoeging
van die woorde
prima facie
deur artikel 7 van Wet 8 van 1991, die bewysmaatstaf dié van
toepassing in strafverhore, naamlik âbo redelike twyfelâ, geword
het. Hierdie bevinding is in die
Goniwe
saak (par [21] hierbo) op 879D-880C
verwerp op die grondslag dat die gemelde invoeging op ân minder
streng maatstaf as die kriminele
dui. Kyk ook die
Padi
saak (par [22] hierbo) op 740G waar die
kriminele maatstaf ook verwerp word.
[26] Hoewel
daar in die
Goniwe
en
Padi
sake
nie bevind is dat die bewysmaatstaf die siviele maatstaf van âoorwig
van waarskynlikhedeâ is, soos in die
Claassens
saak bevind nie, wil dit voorkom onnodig te wees om op ân bepaalde
maatstaf staat te maak wanneer oorweeg word of daar op die oog
af
(
prima facie
)
genoegsame getuienis bestaan vir ân bevinding ingevolge artikel
16(2)(d) van die Wet. Vir sover ân geregtelike doodsondersoek
inkwisitoriaal is en nie adversatief nie, moet die landdros bloot
tevrede gestel te word dat die getuienis ân bevinding ingevolge
die
betrokke artikel regverdig. Waarskynlikhede mag wel ân rol speel by
bepaling van die waarskynlike oorsaak van die dood ingevolge
artikel
16(2)(b), indien daar nie duidelike en direkte getuienis ten dien
effekte is nie. Dieselfde geld vir vasstelling van die
oorledene se
identiteit en datum van oorlye ingevolge artikels 16(2)(a) en (c).
[27] Die
feit dat daar nie direkte getuienis ten aansien van een of meer van
hierdie aspekte is nie, beteken nie dat daar nie van
omstandigheidsgetuienis kennis geneem mag word nie. Die landdros wat
die ondersoek doen moet al die beskikbare getuienis holisties
beskou
en, waar nodig, die toepaslike afleidings daarvan maak. Al waarteen
gewaak moet word is gissings, veronderstellings of spekulasie:
die
afleidings moet op bewese of objektief vasstelbare feite berus. Die
klassieke
dictum
in hierdie verband is dié van Lord Wright in
Casswell
v Powell Duffryn Associated Collieries Ltd
[1939]
3 All ER 722
(HL) op 733E-F (met goedkeuring aangehaal in
S
v Essack and Another
1974 (1) SA 1
(A)
op 16D):
Inference must be carefully distinguished from
conjecture or speculation. There can be no inference unless there are
objective facts
from which to infer the other facts which it is
sought to establish. In some cases the other facts can be inferred
with as much practical
certainty as if they had actually been
observed. In other cases the inference does not go beyond reasonable
probability. But if there
are no positive proved facts from which the
inference can be made, the method of inference fails and what is left
is mere speculation
or conjecture.
[28] Die afleiding wat in ân doodsondersoek soos
die onderhawige gemaak word hoef nie, soos in strafregtelike
verrigtinge, die enigste
redelike afleiding te wees nie (kyk
R
v Blom
1939 AD 188
op 202-203). Die hof
moet bloot oortuig wees dat dit âdie mees voor-die-hand-liggende en
aanvaarbare afleiding is van ân aantal
moontlike afleidingsâ (
A
A Onderlinge Assuransie-Assosiasie Bpk v De Beer
1982
(2) SA 603
(A) op 614H). Kyk ook
Govan v
Skidmore
1952 (1) SA 732
(N) op 734C-D,
waar Selke R sê:
â¦
[I]n
finding facts or making inferences in a civil case, it seems to me
that one may, as Wigmore conveys in his work on
Evidence
(3rd ed., para. 32), by balancing probabilities select a conclusion
which seems to be the more natural, or plausible, conclusion
from
amongst several conceivable ones, even though that conclusion be not
the only reasonable one.
TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE FEITE
[29] Dit is ten aanvang duidelik dat die applikant
in haar hoedanigheid as eggenote en bevoordeelde van die oorledene,
asook in haar
hoedanigheid as moeder van haar en die oorledene se
twee seuns, wat ook bevoordeeldes is, die nodige bevoegdheid (
locus
standi
) het om hierdie aansoek te
bring. Dit is eweneens duidelik dat hierdie hof nie alleen beskik oor
die inherente hersieningsbevoegdheid
om die aansoek aan te hoor en te
oorweeg nie, maar ook in sy hoedanigheid as oppervoog van die seuns
die grondwetlike plig het om
na hulle beste belange om te sien.
[30] Met
die respondent se siening oor die bewyslas van toepassing op
bevindings ingevolge artikels 16(2) van die Wet, hoef daar na
my
mening nie in geding getree te word nie. Die respondent het egter
wel, volgens my eerbiedige mening, gefouteer deur slegs die
direkte
deskundige getuienis van Dr Burger in aanmerking te neem vir
doeleindes van bepaling van die datum van die oorledene se dood
ingevolge artikel 16(2)(c) van die Wet. Daar was heelwat indirekte en
omstandigheidsgetuienis wat in ag geneem kon, en moes, gewees
het om
sodanige bepaling te doen.
[31] In
hierdie verband moet aanvaar word dat die oorledene as
gekwalifiseerde regsgeleerde oor genoegsame kennis en ervaring beskik
het om presies te weet hoe belangrik dit vir hom was om te sterf
terwyl hy nog in diens van die Universiteit was, dit wil sê voor
middernag op 30 September 2005, synde die laaste dag van sy diens.
Dit spreek vanself dat hy in alle waarskynlikheid hoogs emosioneel
was vanaf die tyd dat hy die besluit geneem het om selfmoord te pleeg
totdat hy tot die daad oorgegaan het. Nogtans dui sy gedrag
onteenseglik daarop dat hy vas van plan was om betyds sy voorneme uit
te voer, soos uit verskeie gebeure blyk.
[32] Hy
het reeds op 28 September 2005, meer as twee dae voor die afsnypunt,
briewe aan sy vrou, seuns, broer en skoonouers geskryf
om te
verduidelik waarom hy van mening was dat selfmoord die enigste uitweg
was en hoe spyt hy was dat hy so ân drastiese besluit
moes neem.
Die volgende dag, 29 September 2005, het hy reeds sy plan probeer
deurvoer. Toe dit misluk, het hy, sodra hy genoegsaam
by sy positiewe
was, sy alternatiewe plan, naamlik om homself met ân tou op te
hang, in werking gestel. Dit blyk uit die navraag
by sy moeder, toe
hy die laat-middag wakker geword het, oor die datum en tyd. Dit is
opgevolg deur die oproepe aan sy vrou, seuns
en skoonmoeder voordat
hy by sy moeder geld geleen het en onder valse voorwendsels haar
oorreed het om haar motor aan hom te leen.
[33] Die
daaropvolgende gebeure moes desnoods binne ân kort tyd afgespeel
het. Die oorledene het waarskynlik direk van sy moeder
se woning gery
na die winkel ân halwe kilometre daarvandaan. Daar het hy om 22.16
met die geleende geld ân tou (en niks anders
nie) gekoop.
Daarvanaf, soos blyk uit die motor se kilometerlesing, het hy direk
na die gholfbaan, drie kilometer verder, gery en
ongeveer drie
honderd meter van die ingang af by ân oorhoofse kragpaal stilgehou.
Binne oomblikke sou hy die tou uit die sakkie
kon haal en op die
motor se dak kon klim. Op die meeste sou dit hom enkele minute geneem
het om die tou oor die dwarsbalk van die
kragpaal te gooi en daarna
sekuur om sy nek te bind. Sy daaropvolgende sprong in die niet moes,
volgens Dr Burger se getuienis, binne
vyf minute sy dood veroorsaak
het en sy berekende plan tot finale uitvoering gebring het.
[34] Wanneer
hierdie feite en omstandighede in oënskou geneem word, is die
waarskynlikhede oorweldigend dat die oorledene met die
tweede
probeerslag seker wou maak dat hy voor middernag op 30 September 2005
tot sterwe sou kom. Alles dui daarop dat hy so gou moontlik
nadat hy
telefonies van sy geliefdes afskeid geneem het, sy selfmoordplan wou
deurvoer. Elke stap wat hy geneem het was deel van
ân berekende
plan om sy vrou en kinders te bevoordeel deur sy âtydigeâ dood.
[35] Die enigste fout wat die oorledene miskien
gemaak het was om nie
te sorg dat sy lyk voor die afsnypunt om middernag op die gewraakte
dag ontdek sou word nie. Dit doen egter
nie afbreuk aan die
voor-die-handliggende afleiding wat desnoods uit hierdie feite en
omstandighede gemaak moet word nie. Hy wou
ten alle koste vóór
afloop van sy laaste dag in diens van die Universiteit tot sterwe
kom, en dit is heel waarskynlik dat hy hy
voor 23.00 op sodanige dag
dit reggekry het.
GEVOLGTREKKING
[36] Om
hierdie redes is die aansoek toegestaan en is die bevinding van die
respondent ingevolge artikel 16(2)(c) van die Wet tersyde
gestel en
met die volgende vervang:
Die datum van die oorledene, Werner Vermaak, se dood word bepaal
as 30 September 2005.
D H VAN
ZYL
Regter van die Hooggeregshof
Ek stem
saam. Dit word so beveel.
J M
HLOPHE
Regter-President van die Hooggeregshof