Saamwerk Soutwerke (Edms) Bpk v SA Soutwerke (Edms) Bpk and Others (1507/2008) [2008] ZANCHC 76 (12 December 2008)

50 Reportability

Brief Summary

Mining — Validity of mining permit — Applicant sought interim relief pending determination of the validity of mining permit MP169/2004 — Dispute centered on whether the permit was valid or fraudulent — Court allowed further affidavits to be submitted to address issues of urgency and relevance — Applicant required to demonstrate likelihood of success on merits regarding the permit's validity — Interim relief granted as the applicant established sufficient grounds for urgency and potential merit in the main application.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2008
>>
[2008] ZANCHC 76
|

|

Saamwerk Soutwerke (Edms) Bpk v SA Soutwerke (Edms) Bpk and Others (1507/2008) [2008] ZANCHC 76 (12 December 2008)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer aan
Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan
Landdroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saaknommer: 1507/2008
Datum
Verhoor: 2008-12-01
Datum
Gelewer: 2008-12-12
In
die saak van
:
SAAMWERK
SOUTWERKE (EDMS) BPK APPLIKANT
versus
SA
SOUTWERKE (EDMS) BPK EERSTE RESPONDENT
MINISTER
VAN MINERAAL EN
ENERGIESAKE TWEEDE RESPONDENT
DIREKTEUR-GENERAAL
VAN MINERAAL
EN ENERGIESAKE DERDE RESPONDENT
STREEKBESTUURDER:
MINERAAL EN
ENERGIESAKE: NOORD-KAAP STREEK
VIERDE
RESPONDENT
Coram:
MAJIEDT R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Die Applikant bring

n
aansoek vir tussentydse regshulp hangende die afhandeling van
saaknommer 292/07 in hierdie Hof. Hierdie aansoek vir tussentydse

regshulp word teengestaan, soos ook die geval is met die
aangeleentheid in saaknommer 292/07. Vir doelmatigheidsredes sal ek

na die onderhawige aansoek verwys as die "
tussentydse
aansoek

waar toepaslik
en na saaknommer 292/07 as die

hoofaansoek

.
Sentraal tot die dispuut
tussen die partye in beide aangeleenthede is die geldigheid aldan
nie van mynpermit MP169/2004. Dit
is gemene saak tussen die partye
dat, indien die permit vals of ongeldig is, die Eerste Respondent
dan geen reg sou hê
om op die soutpan, wat meer volledig
beskryf word as Gedeelte 146 van Gedeelte 58 (Vrye Soutpan) van die
plaas Kalahari-Wes No
215 geleë in die administratiewe distrik
Gordonia, te myn nie.
Drie preliminêre
aspekte is op die stukke deur die Eerste Respondent geopper, te wete
die kwessie van dringendheid,
lis pendens
en
locus standii
en is in betoog voor my verder aangevul. Ek moet op hierdie
stadium alreeds uitwys dat alhoewel die Tweede, Derde en Vierde
Respondente
berus by die beslissing van hierdie Hof, hulle op

n
vroeëre stadium in die verrigtinge voor my ampsbroeder, Bosielo
WnRP, verteenwoordig was deur

n
advokaat, maar tydens die aanhoor van die tussentydse aansoek voor
my was daar geen sodanige verskyning namens die bepaalde
Respondente
nie. Hierdie is

n groot jammerte,
omrede, soos aanstons sal blyk, die verwarring en deurmekaarspul in
die kantoor van veral Vierde Respondent,
grootliks daartoe bygedra
het om hierdie aangeleentheid aansienlik te kompliseer.
Ek moet heel eerste
redes verskaf vir my beslissing dat

n
verdere eedsverklaring, naamlik dié van Mnr. Petrus Nicolaas
Prins, namens die Eerste Respondent toegelaat word as getuienis
in
die saak. Ek het die bepaalde eedsverklaring toegelaat, ten spyte
daarvan dat dit heftig teengestaan is deur die Applikant
en my redes
was voorbehou. Daar was

n
substantiewe aansoek gebring by wyse van kennisgewing van mosie
onder

n verdere saaknommer
1664/2008 vir die toelating van hierdie bepaalde eedsverklaring. Ek
het gelas dat die aansoek om toelating
van Prins se beëdigde
verklaring toegestaan word en dat Eerste Respondent die koste van
die aansoek betaal op

n bestrede
basis. Na hierdie bevel het die Applikant in die tussentydse
aansoek (Eerste Respondent in aansoek nr 1664/08) onmiddellik

aansoek gedoen om

n aanvullende
eedsverklaring van die deponent Mnr. Du Toit toe te laat, welke
verklaring

n antwoord is op die
beweringe vervat in Prins se voormelde eedsverklaring. Ek het dié
aansoek ook toegestaan.
Ek verskaf gevolglik
redes vir my bevele soos voormeld. Ten einde verwarring te vermy
verwys ek na die partye soos hulle verskyn
in die tussentydse
aansoek, gedagtig daaraan dat die Eerste Respondent in die
tussentydse aansoek die Applikant in aansoek nommer
1664/08 is en
die Applikant in die tussentydse aansoek die Eerste Respondent in
aansoek nommer 1664/08 is. Namens die Eerste
Respondent het Mnr.
Van Rhyn SC (wat saam met Mnr. Pohl vir die Eerste Respondent hierin
verskyn) aangedui dat die doel en relevantheid
van Prins se verdere
eedsverklaring slaan op die kwessie van dringendheid, aangesien
Prins in sy eedsverklaring verwys na sekere
gebeure wat plaasgevind
het by die betrokke soutpan. Verder het Mnr. Van Rhyn ook aangedui
dat Prins se verklaring ook handel
met die kwessie van die balans
van gerief. Namens die Applikant het Mnr. Tredoux, heeltemal tereg,
uitgewys dat daar aansienlike
gebreke is in hierdie aansoek. Reël
6(1) bepaal dat elke aansoek ondersteun moet word deur

n
eedsverklaring. In die onderhawige geval het die Eerste Respondent
geen sodanige ondersteunende eedsverklaring aangeheg tot
sy
kennisgewing van mosie nie en het bloot Prins se verklaring, wat die
Eerste Respondent vra om ingehandig te word, aangeheg.
Uit die aard
van die saak, het Prins se verklaring geen bewerings bevat oor
waarom die Hof dié bepaalde eedsverklaring
behoort toe te
laat nie. Dit is geykte reg dat

n
Hof

n diskresie het soos vervat in
Reël 6(5)(e) ten aansien van die indiening van verdere beëdigde
verklarings. Hierdie
is

n
vergunning en moet

n Applikant wat
sodanige vergunning aanvra die nodige gronde uitmaak vir die
toestaan van sodanige regshulp. In die onderhawige
geval is

n
verduideliking vir die aanvra van sodanige vergunning nie verskaf in

n eedsverklaring nie, maar slegs in
die advokate se betoogshoofde.
In paragraaf 4.2 van die
eedsverklaring van Prins word beweer dat sy verklaring dien as

n
uitbreiding van die feitelike basis wat in die eedsverklaring van
die Eerste Respondent se deponent, Blaauw, gemaak is. Ek
is dit
eens met Mnr. Tredoux dat dit nooit

n
basis kan vorm vir die toelating van

n
verdere eedsverklaring nie.
Mnr. Van Rhyn se repliek
op hierdie geldige regsargumente voorgehou deur Mnr. Tredoux was
bloot dat hierdie Hof sy diskresie ten
gunste van die Eerste
Respondent behoort uit te oefen en Prins se verdere eedsverklaring
toe te laat, aangesien die eedsverklaring
van groot belang en hoogs
relevant is vir die beregting van hierdie aansoek.
As

n
algemene reël behoort die beperking ten aansien van die getal
en opeenvolging van eedsverklarings soos vasgelê in
Reël
6 gevolg te word deur 'n litigant, maar hierdie reël is nie
rigied en onbuigsaam nie.

n
Geregshof behoort met behoorlike inagneming van al die tersaaklike
feite en omstandighede sy diskresie op regterlike wyse uit
te oefen
ten aansien van

n versoek om
verdere eedsverklarings toe te laat.
Sien in die algemeen in
dié verband:
Erasmus, Superior
Court Practice
te B1-47 en gewysdes daar aangehaal.
In die leidende gesag in
dié verband, te wete
James Brown and Hamer (Pty) Ltd v
Simmons NO 1963 (4) SA 656 (A)
te 660 D-H, het Ogilvie
Thompson AR die bepaalde beginsel as volg voorgehou:

It is in the
interest of the administration of justice that the well-known and
well-established general rules regarding the number
of sets and the
proper sequence of affidavits in motion proceedings should ordinarily
be observed. That is not to say that those
general rules must always
be rigidly applied: some flexibility, controlled by the presiding
judge exercising his discretion in
relation to the facts of the case
before him, must necessarily be permitted. Where, as in the present
case, an affidavit is tendered
in motion proceedings both late and
out of its ordinary sequence, the party tendering it is seeking, not
a right, but an indulgence
from the Court: he must both advance his
explanation of why the affidavit is out of time and satisfy the Court
that, although
the affidavit is late, it should, having regard to all
the circumstances of the case, nevertheless be received. Attempted
definition
of the ambit of a discretion is neither easy nor
desirable. In any event, I do not find it necessary to enter upon
any recital
or evaluation of the various considerations which have
guided Provincial Courts in exercising a discretion to admit or
reject a
late tendered affidavit

.
It is sufficient for the purposes of this appeal to say that, on any
approach to the problem, the adequacy or otherwise of the
explanation
for the late tendering of the affidavit will always be an important
factor in the enquiry.

Hierdie is

n
omvangryke saak en kan daar nie sondermeer gesê word dat Prins
se eedsverklaring glad nie relevant is of sal bydra tot
die
beslegting van die geskille tussen die partye nie. Gedagtig aan die
toets voorgehou in die gewysdes, veral die
James Brown v
Hamer-saak
, supra
, het ek in my diskresie die bepaalde
eedsverklaring toegelaat en geleentheid gebied aan die Applikant om

n verdere eedsverklaring in
antwoord op dié van Prins in te dien. Ek het gelas dat die
Eerste Respondent die koste van
die aansoek betaal op

n
bestrede basis, omrede ek meen:
a) Die Applikant bestraf
moes word vir die slordige en onreëlmatige wyse waarop die
aansoek gebring is; en
b) Die Eerste Respondent
heeltemal korrek opgetree het deur die interlokutore aansoek teen te
staan, aangesien, soos dit blyk uit
my bovermelde redes, daar
heeltemal voldoende gronde was vir sodanige

n
bestryding.
Ek wend my nou na die
tussentydse aansoek self. Soos alreeds vermeld, het die Eerste
Respondent

n aantal preliminêre
aspekte geopper wat heel eerste bereg moet word. Die bepaalde
aspekte wat ek gaan behandel gaan oor
die kwessie van dringendheid,
lis pendens
sowel as
locus standii.
Gegewe my
bevindinge hieraangaande, beoog ek nie om in groot besonderhede te
handel met die meriete van die tussentydse aansoek
nie.
Ten einde die
preliminêre aspekte sinvol te behandel, is dit nodig dat ek
eers kortliks die gemeensaaklike feite of die
feite soos aangevoer
deur die Eerste Respondent of soos aangevoer deur die Applikant en
wat onbetwis op die stukke staan, bondig
op te som:
11.1 Soos hierbo aangedui
gaan die dispuut hoofsaaklik oor die reg om te myn vir sout op die
Vrye Soutpan. Dit is gemene saak tussen
die partye dat die Eerste
Respondent vir

n lang tydperk
alreeds sout myn op die bepaalde pan. Dit is verder ook gemene saak
dat die Applikant

n geldige
bestaande huurkontrak het ten aansien van die pan, wat hy gesluit het
met die Staat wat die eienaar van dié bepaalde
grond is.
11.2 Die Applikant het,
met behulp van uitvoerige ondersoeke, insluitende deur

n
handskrifdeskundige, feite voorgehou aan die Hof waarin beweer word
dat die mynpermit ingevolge waarvan die Eerste Respondent
op die Vrye
Soutpan myn, naamlik permit MP169/2004, vervals of dan ten minste
ongeldig is. Ek sal doelmatigheidshalwe na dié
bepaalde
magtiging bloot verwys as

die
mynpermit

.
11.3 Die kardinale vraag
is derhalwe, nie net in die tussentydse aansoek op die meriete nie,
maar ook op die meriete in die hoofaansoek,
eenvoudig of die
Applikant daarin geslaag het om op

n
oorwig van waarskynlikhede te bewys dat die mynpermit vals is.
Indien dit wel vals of ongeldig is, dan het die Eerste Respondent

geen reg om op die pan te myn of om op die pan te wees nie. Die
vraag wat vervolgens dan sou ontstaan is of die Applikant op sý

beurt enige reg sou hê om op die soutpan te myn (inteenstelling
daarmee dat hy geregtig sal wees uit hoofde van sy huurkontrak
met
die Staat om fisies die pan te okkupeer).
Die eerste preliminêre
aspek wat ek nou behandel is die kwessie van dringendheid. Dit is
die Eerste Respondent se saak
dat die tussentydse aansoek nie
dringend is nie en, in soverre daar wel

n
mate van dringendheid is, dit geskep is deur die Applikant self.
Ter motivering van dié submissie word verwys na die

breedvoerige uiteensetting in die Eerste Respondent se antwoordende
eedsverklaring voorgehou deur Blaauw. Daarin word verwys
na die
tydsperiodes wat verloop het sedert die handskrifdeskundige,
Hattingh, sy ondersoeke gedoen en verslae uitgebring het
hierin.
Dit is korrek soos Blaauw aanvoer dat Hattingh se ondersoeke
klaarblyk al afgehandel is op 9 Junie 2008, maar sy beëdigde

verklaring in hierdie bepaalde tussentydse aansoek is eers op 21
Oktober 2008 afgelê. Die deponent Du Toit, wat die

ondersteunende eedsverklaring namens die Applikant in die
tussentydse aansoek afgelê het, se verklaring is afgelê
op 22 Oktober 2008 en is die aansoek uitgereik op 24 Oktober 2008 en
op Eerste Respondent beteken op 27 Oktober 2008. Soos Blaauw
tereg
verder uitwys, steun die Applikant grootliks vir dringendheid op die
feit dat die Eerste Respondent na bewering voortdurend
besig is om

n misdryf te pleeg deur sonder

n
geldige permit sout te myn.

n
Tweede grond van dringendheid is dat, volgens die Applikant, hy op
17 Oktober 2008 opgemerk het dat die Eerste Respondent besig
is om
alternatiewe akkers voor te berei vir ontginning van sout op die
pan.
Daar kan kwalik gekibbel
word oor Blaauw se uiteensetting en gevolgtrekking van die gebrek
aan dringendheid. Wat vir my egter
selfs groter oorredingskrag het,
is die volgende feite en/of omstandighede:
13.1 In die hoofaansoek
het die huidige Eerste Respondent wat die Vierde Respondent in die
hoofaansoek is, sy antwoordende eedsverklaring
geliasseer op 7 Mei
2007. Daarna het die Applikant in die hoofaansoek (wat ook die
Applikant in die tussentydse aansoek is)

n
repliserende eedsverklaring van Du Toit geliasseer op 23 Oktober
2007. Lank daarna en eers op 13 April 2008, is

n
antwoorde eedsverklaring namens die Eerste, Tweede en Derde
Respondente in die hoofaansoek geliasseer. Dié Respondente
is
dieselfde respondente wat die Tweede, Derde en Vierde Respondente in
die tussentydse aansoek is. Daardie antwoordende eedsverklaring
in
die hoofaansoek is afgelê deur Mnr. Maleka Jerry Mndaweni, wat
die Vierde Respondent hierin is. Daarin maak Mndaweni
die punt ter
aanvang dat dié bepaalde Respondente hulle berus in die
uitspraak van hierdie Hof in die hoofaansoek. Hy wys
uit dat sy
eedsverklaring slegs geliasseer word ten einde die Hof by te staan,
maar wys hy ook uit dat die toestaan van die regshulp
soos aangevra
inbreuk sou maak op die uitoefening van die statutêre
bevoegdhede van die betrokke Respondente wat die Staat

verteenwoordig.
13.2 Van belang in die
voormelde antwoordende eedsverklaring van Mndaweni is dat hy in
paragrawe 13 en 14 daarvan

n
aanduiding gee dat sy kantoor op 5 September 2005

n
aansoek vir

n mynreg om vir sout te
myn op die bepaalde pan aanvaar het vanaf die Applikant. Hy wys
verder uit dat hierdie aanvaarding van
die aansoek

n
fout was, aangesien sy kantoor op daardie stadium buite rekening
gelaat het dat daar

n alreeds
bestaande houer van

n mynreg vir
dieselfde mineraal op dieselfde grond (Vrye Soutpan) was en dat die
aanvaarding daarvan onbevoegd was ingevolge die
bepalings vervat in
art 22(2) van die Mineral and Petroleum Resources Development
Act, No 28 van 2002 (

die Wet

)
.
Mndaweni gee verder ook

n
verduideliking van hoe die fout ingesluip het en skryf dit toe aan
die gebruik van

n ou stelsel wat op
daardie stadium in sy kantoor aangewend was.
13.3 Na die liassering
van hierdie antwoordende eedsverklaring namens Eerste, Tweede en
Derde Respondente in die hoofaansoek op
13 April 2008, is die saak
uitgestel op die koste van die bepaalde Respondente, omrede die
Applikant in die hoofaansoek nie gereed
was om daarmee voort te gaan
nie in die lig daarvan dat die antwoordende eedsverklaring laat
geliasseer is en die Applikant gevolglik
tyd nodig gehad het om dit
deur te gaan en daaraangaande te besin.

n
Lang tydperk het verloop en intussen is die tussentydse aansoek op

n
dringende basis geloods op 24 Oktober 2008.

n
Repliserende eedsverklaring namens die Applikant is eers op 10
November 2008 geliasseer in die hoofaansoek.
Mnr. Van Rhyn het namens
die Eerste Respondent aangevoer dat die loods van die tussentydse
aansoek op

n dringende basis

n
misbruik van die regsproses is en dat Applikant hom teen 'n
spreekwoordelike muur vasgeloop het in die lig van Mndaweni se
antwoordende eedsverklaring in die hoofaansoek. Hy maak die
submissie verder dat die Applikant hom toe gewend het na die
dringende
tussentydse aansoek in 'n poging om sy probleme
voortspruitend uit Mndaweni se voormelde verklaring te ondervang.
Ek is dit eens met Mnr.
Van Rhyn dat daar nie voldoende gronde vir dringendheid uitgemaak is
in die tussentydse aansoek nie.
Die lang tydsverloop tussen die
afhandeling van die ondersoek en verslag van die handskrifdeskundige
Hattingh en sy daaropvolgende
eedsverklaring, word deur Mnr. Tredoux
namens die Applikant verduidelik as noodsaaklik, omrede volgens hom,
Hattingh baie besig
was en moes sy verslag eers in

n
behoorlike eedsverklaring saamgestel word. Hattingh se verslae is
opgestel in terme van die bepalings vervat in a212 van die

Strafproseswet, 51 van 1977, aangesien daar klaarblyklik

n
polisieondersoek aan die gang is ten aansien van die beweerde
vervalste mynpermit. Hierdie verduideliking gaan nie ver genoeg
na
my mening nie. Ek is die mening toegedaan dat die Applikant
inderdaad voete gesleep het in die hoofaansoek toe hy hom vasgeloop

het teen Mndaweni se antwoordende eedsverklaring in daardie saak.
Die loods van

n tussentydse aansoek
op

n dringende basis was as

t
ware na my mening om te ontkom van die gevolge van Mndaweni se
eedsverklaring in die hoofaansoek en om die Respondente op

n
ander wyse voor die Hof te daag.
Verder vind ek die
beweringe aangaande alternatiewe akkers wat geskep sou word en
opgemerk is na bewering op 17 Oktober 2008 glad
nie oortuigend nie.
Hierdie aspek is volledig beantwoord deur Blaauw in sy antwoordende
eedsverklaring in die tussentydse aansoek.
Daarin het hy uitgewys
dat die sogenaamde

alternatiewe
akkers

eintlik werk is
wat gedoen word op

n aangrensende
gedeelte van die pan. In die repliserende eedsverklaring het die
Applikant se deponent heel insiggewend toegegee
dat dit inderdaad
die geval is. Daar kan dus, streng gesproke, nie sprake daarvan
wees dat die huidige mynaktiwiteite op die
Vrye Soutpan drasties
uitgebrei word nie, soos wat die Applikant probeer voorgee het nie.
Wat inderdaad aan die gebeur is, is
dat werk gedoen word op

n
aangrensende gedeelte van die soutpan. Hierdie grond van
dringendheid hou dus ook nie water nie.
In
Luna
Meubelvervaardigers (Edms) Bpk v Makin and another t/a Makin’s
Furniture Manufacturers) 1977 (4) SA 135 (W)
het
Coetzee R die siening uitgespreek dat die mees misbruikte Reël
in daardie Afdeling Reël 6(12) is wat betrekking
het op
dringende aansoeke. Op 139 F-H het hy uitgewys wat die graad
van dringendheid is wat uiteengesit moet word in

n
applikant se funderende eedsverklaring ten einde die bepalings
vervat in Reël 6(12) van toepassing te maak. Op die toets
soos
neergelê in die voormelde gewysde en nagevolg male sonder tal
deur ons howe, is ek die mening toegedaan dat hierdie
aansoek nie
een van genoegsame dringendheid was nie. Die noodwendige gevolg is
dat die tussentydse aansoek normaalweg van die
rol geskrap sou moes
word. Vir die redes wat volg meen ek dat die tussentydse aansoek op
ander gronde eerder van die hand gewys
behoort te word.
Ten aansien van
selfgeskepte dringendheid het die Grondwetlike Hof alreeds by twee
geleenthede uitgewys dat omstandighede wat
geskep word deur

n
litigant self waarop hy dan daarna steun vir dringendheid, nie
dringendheid uitmaak nie.
Vergelyk in dié
verband:
Ex parte Minister of
Social Development and others 2006 (4) SA 309 (CC)
te
par [17], 314 I

315 A;
South African
Broadcasting Corp Ltd v National Director of Public Prosecutions and
others 2007 (1) SA 523 (CC)
te par [112], 565 F-G.
Ek bespreek vervolgens
die kwessie van
lis pendens
. Ten einde hierdie
aangeleentheid sinvol te behandel, moet die regshulp wat aangevra
word in die tussentydse aansoek sowel as
in die hoofaansoek volledig
uiteengesit word.
In die hoofaansoek vra
die Applikant die volgende regshulp aan:

1. Dat verklaar
word dat Applikant geregtig is daarop dat

n
mynreg vir die myn van sout op die plaas bekend as:
Gedeelte 146 van
Gedeelte 58 (Vrye Soutpan) van die plaas Kalahari-Wes no 251, geleë
in die Administratiewe Distrik Gordonia
gehou deur die Republiek van
Suid-Afrika kragtens Sertifikaat van Geregistreerde Titel nr 980/93,
Groot: 855,9773
hektaar
aan Applikant uitgereik
word.
(

die
plaas

.).
2. Dat verklaar word dat
Applikant se omgewingsbestuurprogram deur eerste respondent
goedgekeur is alternatiewelik dat derde respondent
gelas word om dit
goed te keur,
alternatiewelik
dat indien hy sou versuim om dit
te doen binne 7 dae vanaf datum van die bevel wat die hof in die
verband mag verleen, dat die
applikant geregtig is om ingevolge die
mynreg te myn asof die omgewingsbestuursprogram deur eerste
respondent goedgekeur is ingevolge
artikel 39(4) van die Wet.
3. Dat die eerste
respondent gelas word om self of deur middel van sy gevolgmagtigde te
verskyn voor

n behoorlik toegelate
notaris en om die mynreg waarvan

n
afskrif aangeheg is as bylaag

C

tot die funderende beëdigde verklaring te onderteken voor
sodanige notaris, terwyl applikant se verteenwoordiger ook
teenwoordig
is.
4. Dat indien die
respondente waarna verwys word in smeekbede 3 sou versuim om te
handel soos daarin vervat binne sewe dae vanaf
datum van hierdie
bevel, die Griffier van hierdie hof gemagtig en gelas word om dit
namens sodanige respondent te doen.
5. Dat verklaar word dat
die mynpermit nr.
MP169/2004
wat voorgee om uitgereik te wees
ingevolge artikel 9(1) gelees met artikel 9(3)(d) van die
Mineraalwet, 50 van 1991, aan vierde
respondent, verval het,
alternatiewelik
nietig is,
alternatiewelik
nie van krag
was onmiddellik voor
1 Mei 2004 nie
.
6. Dat verklaar word dat
vierde respondent nie geregtig is om vir sout te myn op die plaas
nie.
7. Dat eerste, tweede en
derde respondente gelas word om die koste van die aansoek gesamentlik
en afsonderlik te betaal, en dat
vierde respondent indien hy hierdie
aansoek sou bestry, gelas word om gesamentlik en afsonderlik met
eerste, tweede en derde respondente
die koste van die aansoek te
betaal.
8. Dat verdere en/of
alternatiewe regshulp aan applikant verleen word."
In die tussentydse
aansoek vra die Applikant die volgende regshulp aan:

1. Dat kondonasie
aan die Applikant verleen word vir die nie-nakoming van Hofreëls
met betrekking tot betekening en proses
en dat hierdie aansoek as
dringend oorweeg en bereg word.
2. Dat hangende die
finale afhandeling van saaknommer 292/07 in hierdie Hof, die Eerste
Respondent
2.1 gebied word om
onmiddellik alle mynbedrywighede op Gedeelte 146 van Gedeelte 58
(Vrye Soutpan) van die plaas Kalahari-Wes nr.
251, geleë in die
Administratiewe Distrik Grodonia, gehou deur die Republiek van
Suid-Afrika kragtens Sertifikaat van Geregistreerde
Titel nr 980/73
(hierna genoem

Vrye Soutpan

),
te staak;
2.2 gelas word om binne
48 uur na verlening van hierdie bevel, die gemelde Vrye Soutpan te
verlaat en te ontruim;
2.3 verbied word om op

n
direkte of indirekte wyse die Applikant te verhinder om okkupasie van
Vrye Soutpan te neem.
3. Dat Eerste Respondent
gelas word om die koste van hierdie aansoek te betaal en, indien
enige van die ander Respondente die aansoek
opponeer, al sodanige
Respondente gelas word om gesamentlik en afsonderlik met die Eerste
Respondent die koste van die aansoek
te betaal.
4. Verdere en/of
alternatiewe regshulp.

Ek is dit eens met Mnr.
Van Rhyn dat die tersaaklike paragrawe in die twee aansoeke wat
oorweging verg ten aansien van die regsaspek
van
lis pendens¸
paragrawe 5 en 6 in die hoofaansoek hierbo aangehaal, en
paragraaf 2 (met insluiting van sub-paragrawe 2.1, 2.2 en 2.3) in
die
tussentydse aansoek is. Ek is dit verder met hom eens dat die
kerngeskilpunt wat beregting verg ten aansien van die onderskeie

voormelde paragrawe in die onderskeie aansoeke juis gaan oor die
geldigheid al dan nie van die bepaalde mynpermit. Geen beslissing

sal in die tussentydse aansoek gevel kan word onafhanklik van

n
beslissing aangaande die geldigheid aldan nie van die mynpermit nie.
In substansie is die
wese van die regshulp wat aangevra word in die onderskeie voormelde
paragrawe van die onderskeie aansoeke
dus dieselfde en hang dit
albei af van die beslissing van wesenlik dieselfde geskilpunt (die
geldigheid van die mynpermit).
Verder is dit tog baie duidelik dat
die litigasie in die twee aansoeke gevoer word deur dieselfde
partye.
In antwoord op hierdie
submissies het Mnr. Tredoux uitgewys dat die regshulp wat in die
onderskeie aansoeke aangevra word nie
identies is nie. Volgens hom
is die regshulp in paragrawe 5 en 6 van die hoofaansoek in die vorm
van verklarende bevele, terwyl
die regshulp aangevra in die
tersaaklike paragraaf 2 in die tussentydse aansoek in die vorm is
van

n tussentydse interdik
pendente
lite
, d.w.s. hangende die finale uitslag van die hoofaansoek.
Hy het verder ook aan die hand gedoen dat selfs al word bevind dat

daar aan die vereistes van
lis pendens
voldoen is, dit slegs
daartoe sou lei dat

n vermoede
ontstaan dat die aansoek kwelsugtig is wat op sy beurt weer die
Applikant met

n weerleggingslas
opsaal om aan te toon dat die balans van die gerief en billikheid
meebring dat daar met die tussentydse aansoek
behoort voortgegaan te
word. Hy het gesubmitteer dat in die onderhawige geval dit billik
is en die balans van die gerief in
die Applikant se guns is dat die
tussentydse aansoek aangehoor moet word, omdat die Eerste Respondent
volgens hom voortdurend
besig is met die pleging van

n
misdryf omdat hy met

n
vervalste/ongeldige permit myn.
In ons reg rus die
onus
op die party wat die verweer opper van
lis alibi pendens
en moet sodanige party aantoon dat:
a) daar hangende
litigasie is;
b) tussen dieselfde
partye of hulle agente;
c) gebaseer op dieselfde
eisoorsaak.
Sien in dié
verband:
Lawsa 2de uitg, vol 3,
deel 1
te par 230 en gewysdes daar aangehaal.
Ten aansien van

n
geregshof se diskresie om, ten spyte van

n
bevinding van
lis pendens
, toe te laat dat die tweede aansoek
voortgaan. Sien:
Richtersveld Community
v Alexkor Ltd and another 2000 (1) SA 337 (LCC)
te 343
C-E.
Sien verder ook:
Loader v Dursot Bros
(Pty) Ltd 1948 (3) SA 136 (T)
te 138-139.
Na my mening is die
verweer van
lis alibi pendens
soos geopper deur die Eerste
Respondent geopper in sy stukke en in betoog

n
gegronde verweer. Na my mening sal dit regtens onhoudbaar wees dat
ek nou in die tussentydse aansoek bevindinge maak wat die
kern vorm
van die geskil tussen die partye, veral die Applikant en Eerste
Respondent, in die hoofaansoek, naamlik die geldigheid
van die
mynpermit. Daar is geen rede waarom ek nou in

n
tussentydse dringende aansoek só

n
kernaspek moet bereg nie, terwyl dieselfde dispuut hangende is en
bereg moet word in die hoofaansoek. Ek aanvaar, vir doeleindes

hiervan en sonder om dit te beslis (vir vanselfsprekende redes
gegewe die kerngeskil in die hoofaansoek), dat die mynpermit op
die
oog af vals voorkom. Daarvan getuig die handskrifdeskundige
Hattingh se verslae soos vervat in sy eedsverklaring in hierdie

stukke, sowel as die bykomende aanduidings wat geopper is deur die
Applikant, oorvloediglik. Of die moontlike vervalstheid daarvan
ook
sal lei tot die ongeldigheid daarvan is natuurlik

n
ander saak wat weereens meer geskik is om by die hoofaansoek beslis
te word. Gevolglik bevind ek dat die verweer van
lis pendens
wel
van toepassing is hier en dat die tussentydse aansoek nie huidiglik
regtens ontvanklik is nie. 'n Belangrike oorweging wat
my tot
hierdie slotsom bring is die feit dat, soos Mnr. Van Rhyn tereg
voorgehou het, in die hoofaansoek daar talryke wesenlike

feitegeskille bestaan. 'n Verwysing van die hoofaansoek na
mondelinge getuienis is dus 'n groot moontlikheid. Die beslegting

van hierdie kern feitegeskille by wyse van mondelingse getuienis by
die hoofaansoek is veel eerder te verkies as die gepoogde
beregting
daarvan by hierdie tussentydse aansoek.
Ek is nie oortuig dat,
nieteenstaande my voormelde bevinding van
lis pendens
, ek
behoort toe te laat dat die tussentydse aansoek voortgaan nie. Daar
is geen voldoende gronde na my mening aangevoer waarom
op grond van
billikheid en die balans van gerief hierdie tussentydse aansoek
aangehoor behoort te word nie. Die enigste grond
waarop gesteun is
deur Mnr. Tredoux is dat die Eerste Respondent voortdurend besig is
om

n misdryf te pleeg deur sonder

n geldige mynpermit sout te myn op
Vrye Soutpan. Hierdie aspek is nou verwant aan die kwessie waarmee
ek nou vervolgens handel.
Samevattend is ek van oordeel dat die
weerleggingslas wat op die Applikant skuif met

n
bevinding van
lis pendens
, nie gekwyt is deur die Applikant
nie.
Die volgende aspek wat
oorweging verg is dié van
locus standii
. Namens die
Eerste Respondent het Mnr. Van Rhyn aangevoer dat die Applikant geen
locus standii
het in hierdie aansoek nie. Hy maak dié
submissie uit hoofde daarvan dan, volgens hom, die Applikant geen
reg het om te
myn op die soutpan nie. Dit is inderdaad so. Die
Applikant het dit ook nie ontken nie, maar voer aan dat hy, soos ek
die betoog
verstaan, ten minste

n
regmatige verwagting het dat sy aansoek wat tans hangende is in die
kantoor van die Vierde Respondent, goedgekeur sal word.
Die feit dat
die Applikant oor

n huurkontrak met
die Staat, en wel met die Department van Openbare Werke, beskik ten
aansien van die grond waarop Vrye Soutpan
geleë is, baat hom
niks ten aansien van die kwessie van
locus standii
nie. Die
vraag wat beantwoording verg is of die blote regmatige verwagting
(as aanvaar word dat dit bestaan) om in die toekoms
daar te myn,
voldoende is vir
locus standii
in die feite en omstandighede
van hierdie saak. Ek meen dat Mnr. Van Rhyn gelyk gegee moet word
met hierdie submissies.

n Party wat
verrigtinge instel moet beweer en bewys dat hy die nodige
locus
standii
het en die
onus
om hierdie aangeleentheid te
bewys rus voortdurend op sodanige party.
Sien in die algemeen in
dié verband:
Mars Inc v Candyworld
(Pty) Ltd 1991 (1) SA 567 (A)
te 575.
In
Kolbatschenko v
King NO and another 2001 (4) SA 336 (C)
te 346 G-H word die
vereistes om
locus standii
te bewys as volg neergelê:

What is required,
then, is that
(a) the applicant for
relief must have an adequate interest ('voldoende belang') in the
subject-matter of the litigation, which
is not a technical concept;
it is usually described as a direct interest in the relief sought;
(b) it must not be too
far removed;
(c) it must be actual,
not abstract or academic;
(d) it must be a current
interest, and not a hypothetical one

Sien verder ook:
Jacobs en

n
ander v Waks en andere
[1991] ZASCA 152
;
1992 (1) SA 521
(A)
te 533 J

534 E.
In die onderhawige geval
is ek die mening toegedaan dat die Applikant se sogenaamde regmatige
verwagting nie voldoende is om
locus standii
daar te stel
nie. Na my mening het die Applikant geen reg wat aangetas word in
die omstandighede van hierdie saak nie.
Gevolglik moet, uit
hoofde van my bevinding van
lis pendens
en van

n
gebrek aan
locus standii
die aansoek afgewys word.
Ek ag dit nie nodig of
wenslik om verder met die meriete te handel nie, gegewe my bevinding
van veral
lis pendens
in hierdie saak. Wat ek wel egter wil
vermeld is dat die spronge gemaak deur Mndaweni namens die Staat
(soos alreeds hierin vermeld
is hy die Vierde Respondent in die
tussentydse aansoek) met verwysing na die mynpermit, aangeleenthede
aansienlik gekompliseer
het in hierdie tussentydse aansoek. Dit mag
wel later ook die geval wees met die hoofaansoek, maar laat ek my
nie daaroor uit
nie. Mndaweni het naamlik aanvanklik in sy
antwoordende eedsverklaring in die hoofaansoek beweer dat die
mynpermit uitgereik
aan die Eerste Respondent wel regsgeldig is.
Daarna het hy in

n latere
eedsverklaring in hierdie verrigtinge, d.w.s die onderhawige
tussentydse aansoek, heeltemal 'n ommekeer gemaak en verklaar
dat
hy nou nie meer so seker is daarvan dat die bepaalde mynpermit wel
geldig is nie. Volgens hom kom dit voor asof dit

n
vervalsing mag wees. Hy het toe onderneem om verder indringend
ondersoek te laat doen daarna. By die aanhoor van hierdie
aansoek
het ek verneem waarom daar eerstens geen verdere inligting aangaande
hierdie beloofde indringende ondersoeke voor die
Hof is nie en
tweedens waarom die Respondente wat hierin die Staat verteenwoordig
nie meer verskyn nie. Ek is vanaf die Balie
meegedeel deur Mnr.
Tredoux dat hy nie die eerste vraag kan beantwoord nie, maar dat,
wat betref die tweede voormelde vraag,
die nie-verskyning blykbaar
is om koste te bespaar. Hierdie is

n
groot jammerte, want enige inligting wat sou spruit uit die beloofde
indringende ondersoek in die Vierde Respondent se kantoor,
sou
hierdie Hof in die tussentydse aansoek en moontlik die Hof wat die
hoofaansoek moet aanhoor, van groot hulp wees.
Die koste van 7 November
2008 se verskyning het oorgestaan vir latere beregting. Ek is dit
eens met Mnr. Van Rhyn dat dit meegebring
is deur die Applikant se
nalate deurdat hy nie betyds sy repliserende stukke op die Staat,
met ander woorde die Tweede, Derde
en Vierde Respondente beteken het
nie. Gevolglik moet die Applikant ook dié koste dra. Verder
het Mnr. Van Rhyn aan
die hand gedoen dat die aansoek twee advokate
regverdig gegewe die volume werk en die kort kennisgewing wat daar
gegee is. Mnr.
Tredoux het aan die ander kant aangevoer dat dit nie
nodig was om twee advokate te belas met so

n
aansoek nie. Ek stem daarmee saam. Die hoofaansoek is weliswaar
lywig en van relatief komplekse aard, maar meen ek dat dit
nie nodig
was om twee advokate aan te wend in hierdie tussentydse aansoek nie.
Ek reik die volgende
bevel uit:
DIE AANSOEK WORD
AFGEWYS MET KOSTE WAT INSLUIT DIE KOSTE VAN 7 NOVEMBER 2008 WAT
VOORBEHOU IS.
____________
SA
MAJIEDT
REGTER
NAMENS APPLIKANT : ADV
TREDOUX
IN OPDRAG VAN : HAARHOFFS
NAMENS RESPONDENT : ADV MH
WESSELS SC
IN OPDRAG VAN : DUNCAN &
ROTHMAN