S v Nhlathi (CA&R 14/2007) [2008] ZANCHC 23 (20 March 2008)

48 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Appeal — Conviction for robbery and culpable homicide — Appellant convicted of robbery with aggravating circumstances, illegal possession of a firearm and ammunition, and culpable homicide — Appellant denied involvement in the robbery, claiming he was elsewhere — State's case based on identification by the complainant and a witness — Appellant's identity as one of the attackers not successfully challenged — Evidence supported the complainant's identification — Appellant's claim of self-defense in culpable homicide charge found to be without merit — Appeal dismissed, convictions upheld, and sentences considered appropriate despite administrative errors in sentencing documentation.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2008
>>
[2008] ZANCHC 23
|

|

S v Nhlathi (CA&R 14/2007) [2008] ZANCHC 23 (20 March 2008)

Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saak
No: CA&R 14/2007
Saak
Aangehoor: 25/02/2008
Datum
gelewer: 20/03/2008
In
die saak tussen:
GILBERT
NHLATHI APPELLANT
en
DIE
STAAT RESPONDENT
Coram:
Lacock R et Olivier R
UITSPRAAK
OP Appèl
Olivier R:
Die appellant is
in die Streekhof skuldig bevind aan aanranding met die opset om
ernstig te beseer (aanklag 2), roof met verswarende
omstandighede
(aanklag 3), die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie
(onderskeidelik aanklagte 5 en 6) en strafbare manslag
(aanklag 8).
Hy is op aanklag 2 gevonnis tot een jaar gevangenisstraf, op aanklag
3 tot agt jaar gevangenisstraf, op aanklagte
5 en 6 (saamgeneem) tot
twee jaar gevangenisstraf en op aanklag 8 tot agt jaar
gevangenisstraf.
Hy kom nou met verlof
van die verhoorhof in hoër beroep teen sy skuldigbevindings op
aanklagte 3, 5, 6, en 8.
Aanklagte 3, 5 en 6 het
voortgespruit uit gebeure wat plaasgevind het op 31 Oktober 2004.
Dit was gemeensaak dat die klaer by daardie
geleentheid beroof is
van sy vuurwapen (met 2 patrone daarin), dat een van die rowers toe
in die onwettige besit was van die vuurwapen
en ammunisie en dat die
klaer in die proses met ʼn mes gesteek is (wat die verswarende
omstandighede daargestel het). Al wat in
geskil was, was die
identiteit van die aanvallers, en meer spesifiek van die appellant
as een van hulle.
Dit was die Staat se saak dat die
appellant een was van die groep persone wat die klaer aangeval het
en dat dit hy was wat die klaer
met die mes op sy hand gesteek het
en die vuurwapen en ammunisie afgevat en toe in sy besit gehad het.
Die appellant het ontken dat hy op
die toneel was. Sy saak was dat hy vroeër by ʼn paar plekke saam
met vriende gedrink het en
dat hy oppad huis toe was met nog drank
toe hy gearresteer is.
Dit is geykte reg dat ʼn Hof van
appèl nie ligtelik sal inmeng met ʼn verhoorhof se feite- en
geloofwaardigheidsbevindinge nie
en slegs so sal doen waar die Hof
van appèl oortuig is dat sodanige bevindinge verkeerd was.
Dit is so dat daar
etlike weersprekings was tussen die klaer en die getuie mnr Amien
Peterson ten aansien van dié gebeure. Geeneen
van daardie
weersprekings het egter geslaan op die identiteit van die appellant
as een van die aanvallers nie.
Dit is verder so
dat nòg die klaer nòg mnr Amien Peterson enige spesifieke kenmerke
kon uitlig waaraan hulle die appellant uitgeken
het. Alhoewel dit
sekerlik van belang is, is dit nie noodwendig deurslaggewend nie
(sien
S
v Pretorius en ʼn Ander
1991 (2) SACR 601
(A) op 607i-608a).
Feit is egter
dat die klaer minute n
á
die aanval die appellant aan lede van die polisie uitgewys het as
een van die aanvallers. Die beskrywing wat hy vooraf aan die
polisiebeamptes verstrek het, naamlik dat die man ʼn swart
leerbaadjie aangehad het, het geklop met die appellant se eie
getuienis
dat hy inderdaad so ʼn baadjie aangehad het toe hy
gearresteer is.
Toe die appellant die
polisievoertuig gewaar het, het hy weggehardloop en hom agter iemand
anders se huis verskuil. Sy bewering
dat hy so opgetree het omdat
hy bang was dat die polisie hom sou arresteer weens die feit dat hy
drank in sy besit gehad het, gaan
nie op nie.
In die eerste plek is daar geen
rede waarom die polisie hom sou arresteer om sò ʼn rede nie.
Die polisie het ook
geen drank gevind op die toneel waar die appellant gearresteer is
en waar hy beweer het hy die drank inderhaas
neergesit het nie.
Die appellant
se getuienis dat hy spesifiek die drank aan die polisie uitgewys
het en dat die polisie eers nie wou teruggaan in
die perseel in om
dit te gaan besigtig nie, maar dit toe volgens hom tog later
uitgegooi het, is nooit deur sy regsverteenwoordiger
in
kruisverhoor aan die betrokke polisiebeampte gestel nie.
Dan is daar nog die klaer se
getuienis dat, toe hy nog dieselfde dag by die polisiestasie ʼn
verklaring afgelê het, die gearresteerde
appellant aangebied het om
sy vuurwapen terug te gee as hy die klagte terugtrek.
Daar is geen basis waarop kan of
behoort ingemeng te word met die Streeklanddros se aanvaarding van
hierdie getuienis van die klaer
nie, al was die klaer ten aansien
daarvan ʼn enkel-getuie. Die appellant se weergawe hieroor was
duidelik leuenagtig.
Dit is in kruisverhoor namens die
appellant aan die klaer gestel dat die appellant nooit by daardie
geleentheid met die klaer
gepraat het nie.
In sy
hoofgetuienis het die appellant egter aangevoer dat daar wel ʼn
gesprek was tussen hulle by die polisiestasie. Volgens
die
appellant het die klaer toe vir hom gesê om sy vuurwapen terug te
gee, waarop die appellant bloot sou gesê het dat hy die
klaer nie
geken het nie en dat die klaer versigtig moes kyk om seker te maak
van sy identiteit.
Onder
kruisverhoor het die appellant egter ʼn ander weergawe verstrek.
Hy het toe aangevoer dat die klaer die een was wat met
hom gepraat
het en aangebied het om die aanklag terug te trek as die appellant
sy vuurwapen vir hom sou gee.
Die appellant
het toe eers aangevoer dat hy glad nie by daardie geleentheid met
die klaer gepraat het nie, toe weer dat hy wel
geantwoord het (maar
nie geopenbaar wat hy dan vir die klaer sou gesê het nie) en later
weer beweer dat hy hoegenaamd nie eers
die klaer op dié voorstel
geantwoord het nie (maar bloot die polisiebeampte geroep het).
Ek is van oordeel dat
daar genoegsame betroubaarheids-waarborge was vir die klaer en mnr
Amien Peterson se uitkenning van die appellant
en bestaan daar na my
oordeel geen basis waarop ingemeng kan of behoort te word met die
Streeklanddros se bevindinge in hierdie
verband nie.
Wat aanklag 8
betref, het die appellant aanvanklik tereggestaan op ʼn aanklag van
moord, maar is hy skuldig bevind aan strafbare
manslag. Daardie
skuldigbevinding het die Streeklanddros gebaseer op die appellant se
eie weergawe, en wel klaarblyklik op die
basis dat die appellant die
perke van noodweer oorskry het en die oorledene nalatiglik gedood
het.
Die aanvaarde
feitebasis in hierdie verband was die volgende:
Die appellant was besig om in ʼn
straat weg te hardloop van twee persone nadat een van hulle hom
deursoek het vir ʼn mes, maar
dit nie gevind het nie.
Die oorledene
het van vooraf aangekom en is deur een van die agtervolgers versoek
om die appellant voor te keer.
Die oorledene
het toe sy arms wyd uitgestrek en, wanneer die appellant van
rigting verander het om by die oorledene te kon verbyhardloop,
telkens weer in die appellant se pad inbeweeg.
Die appellant
het toe die oorledene een fatale steekwond met ʼn mes op sy bors
toegedien en weggehardloop.
Die oorledene het nooit ʼn wapen
hanteer nie en het niks meer gedoen as om die appellant te probeer
voorkeer nie.
Daar was ook geen getuienis dat
enige van die persone wat die appellant gejaag het, gewapen was
nie.
Selfs
al sou aanvaar word dat die appellant in ʼn noodweersituasie teenoor
die oorledene en/of ʼn noodtoestand-situasie teenoor
die
agtervolgers verkeer het toe hy die fatale steekwond toegedien het,
sou die vraag steeds wees of hy die perke daarvan oorskry
het en na
my oordeel moet die antwoord hierop bevestigend wees.
Die oorledene was ongewapen en daar
was geen suggestie dat die appellant ooit anders kon gedink het nie.
Die appellant het die
oorledene nooit gewaarsku dat hy gewapen was
en dat hy hom met die mes sou steek nie. Die appellant het geen
poging aangewend
om die oorledene op ʼn ander wyse uit sy pad te
stamp of te verwyder, anders as om hom die fatale steekwond toe te
dien nie (Sy
latere weergawe dat hy eintlik in die proses van ‘n
stamp die oorledene raakgesteek het, was duidelik ‘n valse
aanpassing van
sy weergawe, soos ook hieronder weer na verwys).
Wat die agtervolgers betref, is dit
so dat die appellant twee weke tevore met een van hulle, genaamd
Bowa, in ʼn bakleiery betrokke
was oor ʼn meisie.
Alhoewel die appellant aangevoer
het dat die twee van hulle om daardie rede nie om dieselfde vuur
gesit het nie, het hy tog ook
getuig dat hy op die dag van die
voorval gedink het dat die betrokke persoon ʼn grap maak en speel
toe hy wou weet of die appellant
ʼn mes by hom gehad het.
Toe die appellant tydens die
vorige voorval tussen hulle ʼn mes tevoorskyn gebring het, het Bowa
op die vlug geslaan.
Die appellant het, veral waar nòg
Bowa nòg die ander agtervolger enige aanduiding gegee het dat
hulle gewapen was, en hy wat
die appellant was self gewapen was met
presies dieselfde wapen wat Bowa al voorheen op die vlug laat slaan
het, geen grondslag
gehad om te dink dat sy lewe in gevaar was nie.
Wat die skuldvorm
betref, was die appellant moontlik ietwat gelukkig dat die
Streeklanddros bevind het dat hy slegs nalatig was.
Die appellant
se weergawe was aanvanklik dat hy die oorledene met die mes gesteek
het om hom uit sy pad te kry en dat hy nooit
bedoel het om hom te
dood of dit in gedagte gehad het nie.
Later het die
appellant sy weergawe probeer aanpas, deur voor te gee dat hy
eintlik bloot die oorledene probeer wegstamp het en
hom toe met die
mes getref het.
Na my oordeel
behoort die appel teen die skuldigbevinding teen aanklag 8 ook nie
te slaag nie.
Dit bring my by die
kwessie van die vonnisse, ten aansien waarvan daar nie aan die
appellant verlof tot appel verleen is nie.
Ek het reeds verwys na
die vonnisse wat die Streeklanddros opgelê het. Die Streeklanddros
het egter op die klagstaat (vorm J15)
die vonnis op aanklag 3
verkeerdelik aangeteken as synde 24 maande gevangenisstraf, en toe
die lasbrief ter gevangesetting uitgemaak
en onderteken is, is dié
fout daarin voortgesit.
Van meer belang vir huidige
doeleindes is dat dit nou blyk dat die Streeklanddros, by die
oorweging van die aansoek om verlof tot
appèl teen die vonnisse, as
gevolg hiervan onder die indruk verkeer het dat die appellant in
totaal tot dertien jaar gevangenisstraf
gevonnis is, terwyl die
totale vonnis wat opgelê is in werklikheid negentien jaar
gevangenisstraf was.
Die Streeklanddros
gee toe dat, indien hy hiervan bewus was, verlof tot appèl teen
die vonnisse verleen sou gewees het.
Die
Streeklanddros doen aan die hand dat die aansoek om verlof tot
appèl na hom terugverwys word vir
de
novo
oorweging.
In die lig van
die aanduiding wat die Streeklanddros egter nou reeds gegee het ten
aansien van die moontlikheid van verlof tot
appèl teen die
vonnisse, meen ek egter dat die praktiese oplossing hier sal wees
om in die uitoefening van hierdie Hof se inherente
hersieningsbevoegdhede die vonnisse te oorweeg asof verlof tot
appèl ook daarteen verleen is.
By die aanhoor
van die appèl was die houding van beide die appellant en die
respondent se regsverteen-woordigers dan ook dat
daar geen
benadeling uit hierdie wyse van hantering sou kon voortspruit nie.
Blykens die betoogshoofde namens
die appellant is die aanval in hierdie verband gerig op die vonnis
op aanklag 8, en dan ook op
die kumulatiewe effek van die
verskillende vonnisse.
Die vonnis op
aanklag 3 was duidelik eintlik agt jaar gevangenisstraf, en nie
slegs 24 maande gevangenisstraf nie.
In die betoogshoofde
namens die appellant is dan ook nou van dié standpunt uitgegaan.
Die fout op die
klagstaat en op die lasbrief was bloot administratief van aard.
Daar is ook nie
namens die appellant enige betoog gevoer dat daar met die vonnis
van agt jaar gevangenisstraf op aanklag 3 ingemeng
behoort te word
nie.
In sy destydse
aansoek om kondonasie en in die aansoek om verlof tot appèl het
dit ook duidelik geblyk dat die appellant daarvan
bewus was dat sy
vonnis op aanklag 3 eintlik agt jaar gevangenisstraf was en is geen
kritiek daarop gelewer nie.
Vir soverre dus
nou weer van die standpunt uitgegaan sou word, en vir
administratiewe doeleindes duidelik gemaak sou word, dat
die vonnis
op aanklag 3 eintlik agt jaar gevangenisstraf is, en nie net 24
maande gevangenisstraf nie, kan dit nie as ʼn verswaring
van vonnis
beskou word nie.
Wat die vonnis op aanklag 8 betref,
meen ek egter dat dit, alles inaggenome, skokkend swaar is.
Die appellant was ten
tye van die pleging van die misdaad maar 20 jaar oud, en slegs 22
jaar oud toe vonnis opgelê is.
Alhoewel die neem van ʼn ander se
lewe, selfs ook nalatiglik, natuurlik altyd ernstig is, meen ek dat
die Streeklanddros nagelaat
het om behoorlike oorweging te skenk
aan die omstandighede waaronder die oorledene gedood is; weereens
geneem op die appellant
se weergawe.
Die appellant was nie die betrokke
aand die inisieerder van die probleme tussen hom en Bowa nie. Hy
is deur Bowa in ʼn situasie
gedompel waar hy moes vlug.
Die oorledene, wat
nie eers aan die appellant bekend was nie, het dit goedgedink om
bloot op Bowa se versoek die appellant voor
te keer.
Daar het ʼn
noodweer- en/of noodsituasie bestaan en, alhoewel die appellant die
perke daarvan oorskry het, meen ek tog dat die feit
dat die
appellant sonder enige aandeel van sy kant in sodanige situasie
geplaas is, as sterk versagtend oorweeg moes gewees het
(vergelyk
S
v Goliath
1972 (3) SA 1
(A) op 30).
Aan die ander
kant is daar egter die appellant se rekord van vorige veroordelings.
Dit blyk dat hy in die periode vanaf Maart 1997
tot September 2000
nie minder nie as sewe keer met die gereg gebots het.
Slegs een van sy vorige
veroordelings slaan egter op geweld teenoor die persoon van ʼn
ander, te wete ʼn skuldigbevinding in 1999
aan aanranding met die
opset om ernstig te beseer, waarvoor hy tot 6 maande
gevangenisstraf gevonnis is. Die appellant moes
toe egter maar nog
ʼn blote kind gewees het.
Die ander vorige
veroordelings bestaan uit twee skuldigbevindings aan diefstal, een
aan kwaadwillige saakbeskadiging, twee aan
huisbraak met die opset
om te steel en diefstal en een aan die onwettige besit van dagga.
Van belang is egter
dat die appellant by die laaste geleentheid in September 2000 4
jaar gevangenisstraf opgelê is en hy moes
dus maar kort uit die
gevangenis gewees het toe hy die eerste van die onderhawige misdade
gepleeg het. Inteendeel, dit het uit
die appellant se eie
getuinenis geblyk dat hy nog op parool was op daardie stadium.
Verswarend is
verder dat die appellant se optrede oor die periode waarbinne die
aanranding met die opset om ernstig te beseer, die
roof en die
strafbare manslag gepleeg is, opsigself al ‘n beeld begin vorm het
van ‘n persoon wat gewapen met ‘n mes rondbeweeg
en nie huiwer
om dit te gebruik nie.
Geen ander vonnis as
een van gevangenisstraf sal dus op aanklag 8 gepas wees nie.
Verder meen ek
dat die kumulatiewe effek van die vonnisse skokkend swaar is. Dit
is so dat aanklagte 5 en 6 saamgeneem is vir die
doeleindes van
vonnis, maar daardie oortredings het so ʼn integrale deel uitgemaak
van die roof dat ek meen dat die vonnis op aanklagte
5 en 6 tesame
met aanklag 3 uitgedien kan word; wat ook ʼn verskil sal maak aan
die kumulatiewe effek van al die vonnisse wat die
appellant hier
opgelê is en gaan word.
Ek sou dus die
volgende bevele hierin maak:
Die appèl teen die
skuldigbevindings op aanklagte 3, 5 6 en 8 word afgewys en die
skuldigbevindings op daardie aanklagte word bekragtig.
Die appèl teen die opgelegde
vonnisse slaag en die opgelegde vonnisse word onderskeidelik soos
volg bekragtig of gewysig:
Aanklag 2: Een
jaar gevangenisstraf.
Aanklag 3: Agt
jaar gevangenisstraf.
Aanklagte 5 en 6:
(saamgeneem): Twee jaar gevangenisstraf.
Aanklag 8: Ses
jaar gevangenisstraf.
Dit word gelas dat
die vonnis op aanklagte 5 en 6 samelopend uitgedien sal word met dié
op aanklag 3.
Die vonnis op
aanklag 8 word teruggedateer tot 7 Junie 2006.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek
stem saam en dit word so gelas:
_______________________
H
J LACOCK
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Appellant: Adv B Segone
In
opdrag van: Regshulpsentrum, KIMBERLEY
Nms
Respondent: Adv A H van Heerden
In
opdrag van: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY