About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2008
>>
[2008] ZANCHC 16
|
|
S v Nelson (29/2005) [2008] ZANCHC 16 (7 March 2008)
Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saak
No: 29/2005
Saak
Aangehoor: 03/03/2008
Datum
gelewer: 07/03/2008
In
die saak tussen:
Piet
Willem Nelson APPELLANT
en
Die
Staat RESPONDENT
Coram:
Majiedt R et Olivier R
UITSPRAAK
APPèL
Olivier R:
Die appellant is
op 31 Mei 2002 in die Streekhof te Vryburg skuldig bevind aan moord
(aanklag 1) en aanranding met die opset om
ernstig te beseer
(aanklag 2) en op hierdie aanklagte gevonnis tot, onderskeidelik, 15
jaar gevangenisstraf en 18 maande gevangenisstraf.
Alhoewel die
landdrosdistrik van Vryburg sedert 27 Junie 2003 nie meer binne die
regsgebied van hierdie Hof val nie, maar binne
die regsgebied van
die Bophuthatswana Hooggeregshof (Goewermentskennisgewing 937, wat
ingevolge die bepalings van Wet 41 van 2001
gepubliseer is in
Staatskoerant 25141), is sy kennisgewing van appèl en aansoek om
kondonasie afgelewer voor daardie datum. Ek
is gevolglik van
oordeel dat die onderhawige verrigtinge vir die doeleindes van
artikel 2 (3) van die gemelde Wet ingestel is voor
daardie datum en
dat hierdie Hof dus wel hierin regsbevoegdheid het soos bedoel in
artikel 309 (1) van die Strafproseswet, 51 van
1977.
Alhoewel die appellant
in sy kennisgewing van appèl ook aangevoer het dat hy nie die
oorledene gedood het of die klaer aangerand
het nie, blyk dit uit
die betoogshoofde wat nou namens die appellant afgelewer is deur sy
advokaat dat sy appel slegs gerig is
teen die vonnis van 15 jaar
gevangenisstraf, en teen die feit dat die Streeklanddros nie gelas
het dat die twee vonnis samelopend
uitgedien moes word nie.
Die kennisgewing van appèl is laat
afgelewer en die appellant doen aansoek om kondonasie. Die redes
wat vir die versuim aangevoer
is, is dat die appellant nie
regskennis gehad het nie en dat hy nà vonnisoplegging eers in die
Vryburg polisiestasie se selle
aangehou is.
Die appellant was by sy verhoor
regsverteenwoordig. Afgesien hiervan, is sy regte met betrekking
tot appèl deur die Streeklanddros
aan hom verduidelik, waarna hy te
kenne gegee het dat hy dit verstaan. Sy verskoning dat hy nie
regskennis gehad het nie, gaan
dus nie op nie.
Dat die appellant vir Å tyd by die
polisiestasie in Vryburg aangehou is, neem ook nie eintlik die saak
verder nie. Hy het in hierdie
verband aangevoer dat hy niks kon
gedoen het waarvan hy nie kennis gedra het nie. Soos reeds
uitgewys, het hy wel geweet wat hom
te doen gestaan het. Hy het
nooit aangevoer dat dit nie vir hom moontlik was om die nodige
stappe te neem nie.
Die redes wat die
appellant vir sy versuim aangevoer het, is dus onvoldoende. In die
lig van wat volg, meen ek egter dat dit dienstig
is om die meriete
van die appèl teen die vonnisse te oorweeg.
Wat die aanklag van moord betref,
het die Streeklanddros bevind dat daar geen wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan het wat
Å afwyking regverdig het van die
vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat ingevolge die bepalings van
die Strafregwysigingswet,
105 van 1997, voorgeskryf was vir die
betrokke misdaad nie. Daar word namens die appellant aangevoer dat
die Streeklanddros in
hierdie bevinding fouteer het.
Die appellant se aanval op die
oorledene is voorafgegaan deur Å onderonsie tussen die twee van
hulle. Inteendeel, die Streeklanddros
het bevind dat dit redelik
moontlik was dat hulle in hierdie proses nie alleen Å
woordewisseling gehad het nie, maar selfs handgemeen
geraak het deur
mekaar aan die klere te gryp.
Dit was toe dat
die appellant die oorledene die enkele fatale steekwond toegedien
het. Toe die oorledene se broer (wat die klaer
op aanklag 2 was)
tussenbeide gekom het, het die appellant hom ook Å steekhou op die
rug toegedien.
Ek is van oordeel dat die
Streeklanddros onvoldoende erkenning verleen het aan die bevinding
dat die appellant en die oorledene
handgemeen was en dat daar dus
wel Å mate van provokasie was.
Of die onderonsie gegaan het
daaroor dat die oorledene per abuis op die appellant se voet getrap
het op die dansbaan, is nie duidelik
nie. Dit is net deur een
staatsgetuie getuig, wie se weergawe van die voorval grootliks
verskil het van die weergawes van die
ander staatsgetuies. Die feit
is egter dat daar wel Å uitval was tussen die appellant en die
oorledene en dat dit duidelik gelei
het tot die fatale steekwond.
Dit lyk ook nie of die
Streeklanddros werklik in ag geneem het dat die appellant op alle
aanduidings redelik sterk onder die invloed
van drank was tydens die
voorval nie. Inteendeel, dit was Å totale dronkspul en die
oorledene en die getuies was almal onder
die invloed van drank.
Die appellant was boonop Å eerste
oortreder. Ek meen dat die voorgaande tog wesenlike en dwingende
omstandighede daargestel het
wat Å mindere vonnis regverdig het op
die aanklag van moord. Die toegewing wat in hierdie verband namens
die respondent gemaak
is deur mnr Bagananeng, is na my oordeel
korrek.
By die oorweging van wat Å gepaste
vonnis op aanklag 1 dan sou gewees het, sal die voorgeskrewe vonnis
van 15 jaar gevangenisstraf
egter in gedagte gehou word as Å
maatstaf.
Die Streeklandros het ook nie op
die oog af enige oorweging verleen daaraan om te gelas dat die twee
vonnisse samelopend uitgedien
word nie. Die aanvalle op die
oorledene en sy broer was wesenlik deel van een voorval en die
kumulatiewe effek van die vonnisse
behoort na my mening op hierdie
wyse getemper te word.
In die omstandighede sou ek die
volgende bevele hierin maak:
Die laat aflewering
van die kennisgewing van appèl word gekondoneer.
Die appèl teen die
vonnis op aanklag 1 slaag en die vonnis word tersyde gestel en
vervang met een van 10 jaar gevangenisstraf,
welke gevangenisstraf
teruggedateer word na 31 Mei 2002.
Die vonnis op
aanklag 2 word bekragtig, maar dit word gelas dat dit samelopend met
die vonnis op aanklag 1 uitgedien sal word.
________________________
C
J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek
stem saam en dit word so gelas:
________________________
S
A MAJIEDT
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Appellant: Adv P J Cloete
In
opdrag van: Regshulpsentrum, KIMBERLEY
Nms
Respondent: Adv M G W Baganeneng
In
opdrag van: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY