About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 138
|
|
Silverglade (Edms) Bpk v Wessels and Another (5946/2008) [2008] ZAFSHC 138 (11 December 2008)
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Aansoek
nr. 5946/2008
In
die aansoek
van:
SILVERGLADE
(EDMS) BPK
Applikant
en
WESSIE WESSELS
Eerste respondent
MEV M CLOETE
Tweede respondent
CORAM:
PLOOS
VAN AMSTEL, WND. R
UITSPRAAK:
PLOOS VAN AMSTEL, WND. R
_______________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
16 OKTOBER
2008
_______________________________________________________
GELEWER
OP:
11 DESEMBER
2008
_______________________________________________________
[1] Hierdie aansoek wat
handel met ‘n versoek om die herstel van beweerde
besitsversteuring spruit voort uit die onverkwiklike
gebeure tussen
twee boere in die distrik van Vredefort, deurdat die een sonder die
medewete, medewerking of toestemming van die
ander, ‘n
ingangshek na die plaas
“
Lewensbron”
met ‘n swaar ketting en slot gesluit het, op die wyse en onder
die omstandighede soos in hierdie uitspraak
uiteengesit.
[2] Die party op wie se besitsreg na bewering inbreuk
gemaak is, is ‘n maatskappy bekend as Silverglade (Edms) Bpk,
in die
hofverrigtinge kragtens resolusie van die direksie
verteenwoordig deur ene Hennie (“Pik”) Schultz.
[3] Na die maatskappy en gemelde Schultz word, hetsy
gesamentlik hetsy afsonderlik, verwys as “die applikant”,
aangesien
Schultz deurgaans opgetree het namens die maatskappy.
[4] Die party wat die hek toegesluit het, is DJ
(“Wessie”) Wessels van die plaas “Vreugde” in
dieselfde
distrik, na wie ek verwys as die eerste respondent.
[5] Die tweede respondente is die bejaarde skoonmoeder
van die eerste respondent, ook woonagtig op die plaas “Vreugde.”
Sy is die geregistreerde eienares van die plaas “Lewensbron”,
wat huidiglik deur die applikant geokkupeer word.
SPOLIASIE:
[6] Die regsverligting
wat aangevra word, is in die aard van ‘n mandament van spolie,
en is gerig op die herstel van die
status
quo ante.
[7] Met betrekking tot die doel en
effek van sodanige aansoek, verklaar INNES, HR as volg in
NINO
BONINO v DE LANGE
1906
(1) TS 120
op 122:
“
It is a fundamental principle
that no man is allowed to take the law into his own hands; no one is
permitted to dispossess another
forcibly or wrongfully and against
his consent of the possession of property, whether movable or
immovable. If he does so, the
court will summarily restore the
status
quo ante,
and
will do that as a preliminary to any enquiry or investigation into
the merits of the dispute.”
[8] Ten einde te slaag met ‘n aansoek om ‘n
spoliasie bevel, hoef die applikant slegs aan te toon dat hy in
ongesteurde
besit was van die saak (hetsy roerend of onroerend) en
dat die respondente daardie besit versteur het.
BESIT:
[9] Dit is gemeensaak
vir doeleindes van die beregting van die aansoek dat die applikant
voor die aanbring van die slot en ketting
deur eerste respondent, in
vrye en ongestoorde besit was van die bates waarna in die
Kennisgewing van Mosie verwys word (die plaas,
beeste, implemente,
toerusting en ander eiendom); vrye en onbelemmerde toegang daartoe
gehad het deur die bepaalde ingangshek;
fisiese beheer oor daardie
bates uitgeoefen het; en deurgaans die bedoeling gehad het om die
bates in die normale handelsverkeer
aan te wend en finansiële
voordeel daaruit te trek (
animus
ex re commodum acquirendi)
.
GESKILPUNTE:
[10] Die enigste geskilpunt is of die respondente die
besitter (die applikant) van die toegang tot en dus fisiese beheer
oor die
vee en ander bates, ontneem het.
[11] Spolie is naamlik aanwesig indien die applikant as
gevolg van die respondent se optrede verhinder word om beheer oor die
saak
uit oefen.
[12] Wat vereis word is onregmatige besitsontneming, dit
wil sê die ontneming van besit, fisiese beheer of toegang tot
die
saak, sonder die toestemming en teen die wil van die besitter.
[13] In die onderhawige geval sal blote inbreukmaking,
versteuring of belemmering van besit, toegang of beheer egter nie as
spolie
kwalifiseer nie; slegs die ontneming daarvan sal spolie
daarstel.
FEITE-DISPUUT:
[14] Omdat die regshulp wat in bedes
2.1, 2.2 en 2.3 aangevra word, finale bevele in die vorm van
gebiedende interdikte is, kan
dit toegestaan word slegs indien op die
feite-bewerings wat deur die respondente gemaak word, asook die
erkende feite-bewerings
van die applikant, ‘n saak daarvoor
uitgemaak word. (Sien
PLASCON-EVANS
PAINTS LTD v VAN NIEKER PAINTS (PTY) LTD
[1984]
ZASCA 51
;
1984
(3) SA 623
(A) op 634E – G); dit wil sê op die
respondente se eie weergawe.
[15] Ten einde met die aangevraagde regshulp te slaag
moet die applikant die bestaan van ‘n duidelike reg, ‘n
inbreukmaking
of dreigende inbreukmaking op daardie reg asook die
afwesigheid van ‘n effektiewe alternatiewe regsmiddel bewys.
DIE REG VAN OKKUPASIE:
[16] Die applikant se reg tot okkupasie van die plaas
“Lewensbron” is deur respondente in geskil geplaas. Die
applikant
voer egter tereg aan dat die bestaan, sluiting of
regsgeldigheid van die beweerde huurkontrak waaruit die applikant sy
reg van
besit en okkupasie ontleen, vir doeleindes van die aansoek om
‘n mandement van spolie, ontersaaklik is.
[17] Dit is die geval omdat die respondente, indien
hulle die applikant se regte ingevolge die huurkontrak wil betwis en
wil aanvoer
dat die applikant nie op die besit en gebruik van die
eiendom geregtig is nie, nie geregtig is om eie rigting te neem nie,
maar
verplig is om deur middel van die regsproses hul aansprake te
opper en te laat bereg.
[18] Wat duidelik blyk uit die samehang van die stukke
en uitdruklik deur respondente erken word, is dat die applikant te
alle relevante
tye in beheer van die gemelde eiendom was deurdat die
applikant daarop vry en ongestoord, vreedsaam en sonder voorval,
boerdery
bedryf het met die Bonsmara kudde, tot en met die gebeure
van 11 September 2008 waarna ek later verwys.
[19] Die eerste respondent gee toe dat die bestaan, al
dan nie, van ‘n beweerde mondelinge huurkontrak irrelevant is
vir doeleindes
van die beregting van hierdie aansoek, dog belas die
hofstukke met ‘n uitgebreide uiteensetting van lywige en
ontersaaklike
bewerings ten aansien van die geskil tussen die partye
in hierdie verband.
[20] Dit moet in gedagte
gehou word dat die wesenselement van die mandament van spolie
weerspieël word in die stelreël
spoliatus
ante omnia restituendus est:
die
persoon wie se besit ontneem is, moet eers in sy vorige stand herstel
word, voordat daar op die meriete van die saak ingegaan
word.
BESKRYWING VAN DIE EIENDOM:
[21] Die respondente het ‘n lang uiteensetting
gegee van die redes op grond waarvan hulle aanvoer dat applikant se
beskrywing
van die plaasname foutief is.
[22] Volgens die respondente bring die wan-beskrywing
van die plase mee dat die aangevraagde regshulp nie toegestaan kan
word nie,
omdat:
daar nie ‘n plaas bestaan “soos beskryf
deur applikant” nie;
die applikant nie in besit was of in beheer kon wees
van “beweerde huurgrond wat nie bestaan nie” – en
dat die respondente dus nie die applikant se besit van
‘n plaas “wat nie bestaan nie” kan versteur of
ontneem
nie.
[23] Hierdie argument is onsinnig en onhoudbaar, en het
die hofstukke onnodig belas.
[24] Dit blyk duidelik uit die weergawe van al die
partye dat hulle dit eens is presies welke hek en welke plaaseiendom
bedoel word;
en dat die betrokke hek waarop die respondente se slot
en ketting aangebring is, toegang verleen tot daardie betrokke
plaaseiendom
waarop applikant se beeste, trekker, toerusting en
implemente gehou word, welke plaaseiendom na my mening in ieder geval
behoorlik
omskryf en onder die noemnaam geïdentifiseer is.
INBREUKMAKINGSHANDELING:
[25] Dit is gemene saak dat die betrokke hek te alle
relevante tye met applikant se eie ketting en slot gesluit was.
[26] Volgens tweede respondente het sy vir haar
skoonseun (eerste respondent) gevra om ‘n addisionele slot aan
die betrokke
ingangshek tot die plaas “Lewensbron” aan te
bring.
[27] Eerste respondent beskryf dat hy saam met sy
bejaarde skoonmoeder (tweede respondente) na die plaas “Lewensbron”
gegaan het, op 11 September 2008. Hy het vir een van applikant se
werkers gevra om applikant se slot oop te sluit. Die ingangshek
was
naamlik met applikant se ketting en slot gesluit en volgens
respondente kon hul nie deur hierdie betrokke hek toegang tot tweede
respondente se ander plaaseiendomme verkry nie.
[28] Eerste respondent het hierna applikant se ketting
met behulp van hierdie plaaswerker, om die hek se hoof-raampype
geplaas en
weer die ingangshek met die bestaande slot van die
applikant gesluit. Hy het applikant se sleutel weer aan die
plaaswerker gegee.
Daarna het hy sy eie swaar ketting ook op die
betrokke ingangshek aangebring en dit met sy eie slot gesluit.
[29] Op eerste respondent se eie weergawe dus het hy
gepeuter met die slot en ketting van applikant asook met die betrokke
ingangshek.
BESITSONTNEMING:
[30] Eerste respondent se verduideliking vir sy optrede
is dat hy vir hom en tweede respondente toegang tot haar plase deur
hierdie
ingangshek wou bewerkstellig.
[31] Hulle kon nie toegang tot haar ander plase deur
hierdie hek kry nie (wel deur ander bestaande hekke), want dit was
met applikant
se ketting en slot gesluit.
[32] Volgens hom was hy te alle tye tweede respondente
se behoorlik gevolmagtigde verteenwoordiger.
[33] Volgens eerste respondent wou hy nie applikant
daarvan weerhou om die betrokke ingangshek te gebruik nie, en het dus
applikant
se bestaande slot en ketting op die hek behou, en bloot sy
eie ketting en slot ook daarop aangebring, op so ‘n wyse dat
die
ingangshek met elke afsonderlike slot gesluit of oopgesluit kon
word. Die slotte kon dus afsonderlik en onafhanklik van mekaar
oopgesluit word en sodoende vir beide applikant en respondente
toegang tot die plaas “Lewensbron” verleen.
BESITSONTNEMING:
[34] Eerste respondent voer aan dat dit bestaande en
geykte praktyk tussen boere is om hekke op hierdie wyse te sluit, elk
met sy
eie ketting en slot, sodat toegang deur die hek aan beide
partye verleen word.
[35] Volgens eerste respondent kon applikant bloot sy
eie bestaande slot met sy eie sleutel oopsluit om toegang te verkry
tot sy
bates en tot die huurgrond.
[36] Eerste respondent voer aan dat sy eie slot en
ketting op so ‘n wyse aangebring is dat beide applikant en
respondent toegang
het tot die grond, en applikant is derhalwe nie
van sy toegang, besit of beheer ontneem nie.
FOTO’S:
[37] In sy funderende verklaring asook in sy
repliserende verklaring, voer applikant aan dat dit duidelik blyk uit
‘n foto
wat hy van die hek geneem het, dat dit vir hom
onmoontlik sou wees om toegang tot die plaas te verkry.
[38] Hy beweer dat eerste respondent se foto, wat na
bewering geneem is op 11 September 2008 om 16h30, nie die posisie van
die onderskei
kettings en slotte korrek weergee nie.
[39] Eerste respondent voer op sy beurt aan dat
applikant se foto, wat tot die funderende verklaring aangeheg is, nie
in ooreenstemming
is met die posisie waarin hy (eerste respondent)
die kettings en slotte geplaas het nie.
[40] Die partye se onderskeie advokate het elk sy eie
interpretasie aan die onderskeie foto’s geheg in hul betoog dat
ek die
een of die ander party se weergawe moet aanvaar.
[41] Ek is in werklikheid gevra om die foto’s te
interpreteer.
[42] Dit is nie moontlik om hierdie aspek op sterkte van
die foto’s alleen te bereg nie. Ten eerste is die foto’s
nie
vir my so duidelik en deurslaggewend as wat deur die partye
aangevoer word nie, en tweedens is daar ‘n wesentlike
feit-dispuut
oor die korrektheid van die onderskeie weergawes wat
deur die foto’s weerspieël word.
[43] Applikant verklaar nie een maal in sy stukke dat hy
probeer het om deur die ingangshek te gaan, maar nie daarin kon slaag
nie.
[44] Wat applikant sê is dat eerste respondent op
die betrokke eiendom gestaan en hom as’t ware anderkant die hek
ingewag
het. Eerste respondent kon sien dat applikant by die beeste
wou inkom, maar het geen poging aangewend om die hek oop te sluit
nie.
Applikant het nie vir eerste respondent gevra wat aangaan, of
dat eerste respondent die hek moes oopsluit nie. Applikant
verduidelik
dat hy konfrontasie met die eerste respondent, wie
volgens sy weergawe ‘n opgeleide Spesmag Soldaat (Recce) was
met ‘n
gewelddadige geaardheid en vinnige humeur, vermy.
[45] Applikant het dus die toneel verlaat en regsadvies
gaan soek: vandaar die dringende hofaansoek gegrond op die mandament
van
spolie.
[46] Applikant verlaat hom dus op sy eie foto van die
hek om aan te toon dat hy nie toegang tot die plaas “Lewensbron”
kon kry nie.
[47] Die betrokke foto toon duidelik aan dat applikant
se ketting en slot steeds op die ingangshek is, tesame met die
ketting en
slot van die eerste respondent en hierdie feit druis in
teen ‘n noodwendige afleiding dat applikant toegang ontsê
is
deur eerste respondent se ketting en slot wat addisioneel daartoe
aangebring is: dit is meer waarskynlik dat eerste respondent die
ketting en slot van applikant sou vervang met sy eie, indien hy die
hek so wou sluit dat applikant nie kon ingaan nie.
[48] Op sterkte van
bogemelde uiteensetting en die benadering soos hierbo uiteengesit aan
die hand van die
PLASCON-EVANS
saak, moet dus aanvaar word dat
applikant nie ‘n besitsversteuring of besitsontneming kon
aantoon nie: eerste respondent se
weergawe dat hy bloot die normale
en geykte praktyk gevolg het waardeur elk van die partye steeds
toegang tot die plaas met sy
eie sleutel kon verkry, is nie inherent
onwaarskynlik of vergesog of onhoudbaar nie.
[49] Applikant kan gevolglik nie met die aangevraagde
regshulp slaag nie.
VERWYSING VIR MONDELING GETUIENIS:
[50] Die applikant se advokaat het in die alternatief
aan die hand gedoen dat die enkele beperkte geskilpunt, naamlik of
applikant
toegang tot die plaas ontneem is, vir mondelinge getuienis
verwys behoort te word.
[51] Ek het my diskresie daarteen uitgeoefen,
hoofsaaklik weens twee redes :
[52] Eerstens is dit nie
‘n ware en werklike geskilpunt nie : applikant weet nie of hy
wel toegang kon verkry nie, want hy
het nooit (op sy eie weergawe)
probeer om die hek oop te maak nie. Applikant verlaat hom bloot op ‘n
foto wat hy geneem het
vir sodanige afleiding;
[53] Tweedens is dit
gemene saak dat die eerste respondent se slot en ketting reeds
verwyder is , kort na verlening van die bevel
nisi.
Volledige toegang tot die plaas is
dus herstel. Die aansoek word voortgesit slegs alleen om te bepaal
wie die kostes van die aansoek
moet betaal. Ek is nie geneë om
die saak verder te verleng met gepaardgaande koste-implikasies vir
beide partye, bloot om
oor kostes te beslis nie.
[54] Die aansoek word dus op die stukke beslis.
EIERIGTING VAN DIE
RESPONDENTE:
[55] Normaalweg sal die koste van ‘n aansoek die
uitslag volg, wat beteken dat die onsuksesvolle litigant die koste
van die
ander moet betaal.
[56] Ten aansien van ‘n gepaste kostebevel is daar
egter twee aspekte wat oorweging verdien, naamlik die optrede van die
respondente
voorafgaande die instelling van die aansoek asook hul
hantering van die geskilpunte in die hofstukke.
[57] Dit is gemene saak dat eerste respondent ‘n
swaar ketting en slot op applikant se ingangshek na die plaas
“Lewensbron”
aangebring het, sonder enige medewete,
toestemming of medewerking van die applikant, en die hek op daardie
wyse gesluit het.
[58] Eerste respondent het applikant nie meegedeel dat
applikant steeds toegang tot die plaas sou hê deur steeds
hierdie hek
met sy eie sleutel oop te sluit nie, en het niks gedoen
om die misverstand daaromtrent uit die weg te ruim nie. Trouens, hy
het
op die toneel gestaan en toekyk hoedat applikant onverrigter sake
voor die hek omdraai.
[59] Eerste respondent het voldoende geleentheid gehad
uit hoofde van sy kontak met applikant (persoonlik, skriftelik en
telefonies)
om applikant van sy voorneme in te lig om sy eie slot en
ketting op die ingangshek, wat applikant toegang verleen tot sy vee
en
implemente, aan te bring.
[60] Eerste respondent
het dus eensydiglik gehandel met die volle wete dat dit teen die wil
van die applikant kon wees en het dus
in hierdie opsig eie rigting
toegepas en
prima
facie
onregmatig
opgetree.
[61] Die mandament van spolie is nie net daarop gerig om
die besitsverhouding tussen ‘n persoon en ‘n bepaalde
saak
te beskerm nie, maar ook om die regsorde teen vredesbreuk te
beskerm deur persone te verhoed om die reg in eie hande te neem.
[62] Vrede kan nie in ‘n gemeenskap gehandhaaf
word indien elke persoon wat daarop aanspraak maak dat hy ‘n
reg op ‘n
bepaalde saak het, toegelaat word om eie rigting aan
te wend nie. Dit gelde vir beide die persoon wat ‘n ander
sonder die
tussenkoms van die reg van sy besit van ‘n saak
ontneem; en die persoon wat sonder die tussenkoms van die reg sy
besit van
die saak herwin.
[63] Met verwysing na
die versperring van toegang tot ‘n perseel, verklaar SMITH, R
in die
NINO
BONINO
-saak
(
supra)
dan ook as volg op bladsy 125:
“
Any state
of circumstances more likely
to lead to a breach of the peace than that, I find it difficult to
conceive; because if a man finds
property barricaded against him
which he thinks he has a right to enter he is extremely likely to
resort to force to enable to
affect an entrance. It seems to me the
case may be put in another way, which is this – that the Law
will not allow a man
to be a judge in his own case.”
[64] Respondente het
minagtend en met totale verontagsaming van applikant se regte,
eiesinnig opgetree.
[65] Selfs in die hofstukke voer respondente aan dat die
applikant hom nie kan bekla nie omdat hy in ieder geval toegang tot
die
betrokke grond kon verkry deur drie ander verskillende hekke wat
hy met sy eie slotte gesluit het, en heg respondente dan foto’s
van die ander hekke asook kwitansies met betrekking tot die aankoop
van slotte deur applikant, by die hofstukke aan.
[66] Ook hierdie aspekte is ontersaaklik vir die
beregting van die aansoek en het ‘n onnodige uitbreiding van
die hofstukke
teweeg gebring.
BETROKKENHEID VAN TWEEDE RESPONDENTE:
[67] Tweede respondente was deurgaans betrokke en het
haar met eerste respondent se optrede vereenselwig: inderwaarheid het
sy vir
eerste respondent gevra om ‘n addisionele slot aan die
ingangshek tot die plaas “Lewensbron” aan te bring.
[68] Eerste respondent ontken dat hy op enige stadium op
eie houtjie opgetree het en verklaar dat hy uitdruklik op die
instruksies
van tweede respondente gehandel het, wie dit in ‘n
stawende eedsverklaring bevestig.
[69] Eerste respondent voer aan dat hy deurgaans en te
alle relevante tye haar behoorlik gevolmagtigde verteenwoordiger was
en dit
is duidelik dat sy deurgaans bewus was van eerste respondent
se optrede. Nie net het hy haar so verwittig nie, maar bly hulle in
dieselfde huis en was sy trouens teenwoordig op die toneel toe eerste
respondent sy eie slot en ketting op die betrokke ingangshek
aangebring het.
ONTERSAAKLIKE VERWERE:
[70] Die houding wat die respondente inslaan teenoor die
Hof en die applikant in die opponering van die aansoek, beïndruk
my
nie.
[71] Alhoewel respondente telkens verklaar dat hul bewus
is van die ontersaaklikheid van sekere verwere, gaan hul voort om in
besonderhede
argumente daaromtrent voor te hou en die hofstukke met
lywige uiteensettings en aanhangsels te belas, ondermeer die twis
aangaande
die bestaan en terme van die huurkontrak; die beweerde
foutiewe beskrywing van die eiendom; die beskikbaarheid van ander
hekke
om toegang tot die gespolieërde eiendom te verkry;
aankoopfakture met betrekking tot slotte wat deur die applikant vir
daardie
hekke aangekoop is; ‘n lang uiteensetting en foto’s
van applikant se beweerde versuim om die eiendom in stand te hou;
kwetsende opmerkings jeens applikant wat geen bydrae kan lewer tot
die beregting van die aansoek nie; en die weerspieëling
van ‘n
totale roekeloosheid en onverskilligheid jeens applikant se regte en
die versorging van die Bonsmara kudde, wat ongeveer
R3 miljoen werd
is.
DRINGENDHEID:
[72] Die respondente het
hul daarteen bekla dat die aansoek op ‘n dringende basis
gebring is en voer aan dat daar geen gronde
vir dringendheid bestaan
nie, nieteenstaande die klaarblyklike egte en
bona
fide
besorgdheid
van die applikant ten aansien van die welstand van die stamboek diere
waarvan ‘n groot aantal dragtig en swaar
in kalf was en
deurlopende sorg benodig het ten aansien van die voorsiening van kos
en water en met betrekking tot siektes en skete.
[73] In hierdie verband
het respondente ook aangevoer dat hul eers ‘n aanmaning moes
kry en dat die stukke nie vooraf op hul
beteken is nie, ten aansien
waarvan ek respondente se advokaat verlof verleen het om aanvullende
hoofde in te dien, wat wel later
ontvang is. Hiervolgens blyk dit dat
‘n afskrif van die aansoek wel voor die aanhoor daarvan op die
respondente beteken is,
maar dat weens bepaalde omstandighede, die
inhoud daarvan nie tot die respondente se kennis gekom het voordat
die bevel
nisi
op 12 September 2008 in die volgende
terme deur Regter-President MUSI verleen is nie:
“
1. dat verlof aan die
applikant verleen word om hierdie aansoek te loods ooreenkomstig die
bepalings van Reël 6(12) van die
Reëls van hierdie Hof, en
dat afgesien word van die voorgeskrewe wyse van betekening en vorms;
2. dat ‘n bevel
nisi
uitgereik word wat die respondente
oproep om redes, indien enige, aan te voer op Donderdag, 2 Oktober
2008 om 09h30 waarom die volgende
bevel nie verleen sal word nie:
dat die respondente
gelas word om onverwyld en
ante
omnia
die
applikant te herstel in die vrye en ongestoorde besit van die plaas
“Lewensbron”, Vredefort asook Onderverdeling
1 daarvan
(die eiendom);
dat die respondente
gelas word om onverwyld en
ante
omnia
die
applikant te herstel in die vrye en ongestoorde besit van sy
Bonsmara kudde, implemente, toerusting en ander eiendom wat
tans op
die eiendom is;
dat die eerste respondent gelas word om onmiddellik
alle en enige slotte en kettings wat deur eerste respondent
aangebring is
aan hekke wat toegang tot die eiendom verleen te
verwyder by versuim waarvan verlof verleen word aan die applikant
om sodanige
kettings en slotte te verwyder;
dat die respondente, gesamentlik en afsonderlik, die
een te betaal die ander vrygestel te word, gelas word om die kostes
van
die aansoek te betaal op die skaal soos tussen prokureur en
kliënt.
dat die bevele
ingevolge paragrawe 2.1 tot 2.3 hierbo onmiddellike werking hangende
die uitslag van die bevel
nisi
sal hê.”
[74] Op 2 Oktober 2008
is die aansoek uitgestel tot 16 Oktober 2008, op welke datum dit
beredeneer is.
[75] Na my mening speel die feit dat ‘n afskrif
van die aansoek nie voor die aanhoor daarvan aan respondente
verduidelik is,
geen rol by die beregting van die aansoek nie: die
respondente het die geleentheid gehad om die vorige dag reeds die
misverstand
wat klaarblyklik bestaan het, uit die weg te ruim toe
hulle sien dat applikant nie die ingangshek gebruik om by sy diere
uit te
kom nie, omdat hy meen dat dit vir hom ontoeganklik gemaak is
deur respondente se swaar ketting en slot.
KOSTES:
[76] Soos hierbo
aangedui, is die slot en ketting van respondente na die verlening van
die bevel
nisi
en tussentydse interdik, wel verwyder
en is die partye dit eens dat die enigste aspek wat op hierdie
stadium die regte van die partye
raak, die kwessie van kostes is.
[77] Die applikant het dus weer vrye, volledige en
ongesteurde toegang tot die plaas ”Lewensbron” herwin.
[78] Die enigste vraag is dus wie die koste van die
aansoek moet betaal.
[79] Ten aanvang van die
verrigtinge het ek respondente se versoek om dupliserende verklarings
tesame met aanhangsels te liasseer,
van die hand gewys met koste,
vanweë die herhalende aard ten aansien van aspekte waarmee die
partye reeds ten volle gehandel
het en ander aspekte wat die saak nie
verder neem nie.
[80] Afgesien van bogemelde, is die normale reël
dat die onsuksesvolle party die ander se kostes moet betaal. In
gepasde gevalle
kan en sal die hof egter by die uitoefening van sy
regterlike diskresie, van die algemene reël afwyk.
[82] Daar is bepaalde aspekte wat in hierdie verband
oorweging verdien.
[83] Eerste respondent het met die goedkeuring van
tweede respondente eierigting toegepas, versuim om die misverstand
omtrent die
ingangshek uit die weg te ruim juis met die doel om
konfrontasie met applikant uit te lok, het hardvogtig en heethoofdig
opgetree,
sonder enige boetvaardigheid of goeie buurmanskap. Sy
optrede kan nie anders beskryf word as kwelsugtig en sy hantering van
die
opponering van die saak, as ‘n misbruik van die regsproses
nie.
[84] Die optrede van die respondente is afkeurenswaardig
en ek is nie geneë om die applikant te gelas om hul koste van
gedingvoering
te betaal, waar die omvang van die stukke
onredelikerwys deur die respondente self met ontersaaklike en
kwelsugtige bewerings belas
is nie.
[85] Die resultaat is as volg:
die bevel
nisi
uitgereik op 12
September 2008 word opgehef;
die aansoek word van die hand gewys;
geen kostebevel word gemaak nie.
____________________________
C. PLOOS VAN AMSTEL,
WND. R
Namens applikant:
Adv S.J.Reinders
In opdrag van :
Honey Prokureurs
Bloemfontein
(verw. RJ Britz / I 16142)
Namens respondente :
Adv D.K. Nigrini
In opdrag van :
Naudes
Bloemfontein
(verw. J.P. Smit / LP)