Crots v Pretorius (A61/2008) [2008] ZAFSHC 146 (29 November 2008)

55 Reportability

Brief Summary

Delict — Defamation — Claim for damages arising from alleged theft of cattle — Appellant's claim dismissed and counterclaim for defamation upheld — Appellant alleged respondent stole cattle, while respondent claimed he purchased them from a third party — Court found no evidence respondent knew cattle were stolen — Appellant failed to prove existence of third party as a witness, undermining his case — Appeal dismissed, confirming lower court's findings and decision.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 146
|

|

Crots v Pretorius (A61/2008) [2008] ZAFSHC 146 (29 November 2008)

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl
Nr. A61/2008
In die appèl van:
PIETRICH
FREDERICH
GERHARDT
CROTS
Appellant
en
JACQUES PRETORIUS
Respondent
CORAM:
VAN
DER MERWE, R et
PLOOS VAN AMSTEL, WND R
UITSPRAAK:
PLOOS VAN AMSTEL, WND R
_______________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
20 OKTOBER
2008
_______________________________________________________
GELEWER
OP:
20 NOVEMBER
2008
_______________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n
beslissing gegee in die Landdroshof van Kroonstad ingevolge waarvan
‘n
eis om skadevergoeding weens die beweerde diefstal van vee
van die hand gewys en ‘n teeneis weens laster as gevolg van die

bekendmaking van hierdie bewerings, toegestaan is.
[2] Die feitelike agtergrond kan as volg saamgevat word:
2.1 Op Vrydag, 5
Augustus 2005, as gevolg van ‘n telefoniese mededeling wat hy
van ‘n werknemer ontvang het, het die
appellant (die eiser) na
die plaas Vaalhoek in die distrik van Edenville gery waar daar 121
van sy beeste geloop het;
2.2
Met
sy aankoms op die plaas vind hy dat daar ‘n tekort van nege
Brahman verse is;
2.3 Al die eiser se
verse was behoorlik op die linkerboud gemerk met sy geregistreerde
brandmerk, in die ore getatoeëer met
sy voorletters en al die
ore van die verse was aan die bokant met ‘n vierkant geknip;
2.4 Eiser het
onmiddellik die Veediefstaleenheid van die Suid-Afrikaanse
Polisiediens ontbied en die saak aangemeld;
2.5 By nadere ondersoek
het die eiser die spore herken van ‘n vragmotor wat op een van
die ander plase ‘n stuk band
verloor het toe dit ‘n
ysterpen in die grond raakgetrap het en gevolglik ‘n
kenmerkende bandafdruk gelaat het;
2.6 Die eiser het die
eienaar van hierdie vragmotor (ene De Waal) telefonies gekontak en
dié het bevestig dat sy vervoeronderneming
op versoek van die
respondent (die verweerder) die vorige dag beeste gelaai het;
2.7 De Waal het onderneem om die drywer van sy vragmotor
tot die eiser se beskikking te stel ten einde die nodige uitwysings
te
doen;
2.8 Die betrokke drywer
(ene Ndomo) het aan die eiser uitgewys waar hy die nege Brahman verse
in ‘n stoor op die plaas Vaalhoek
aangetref, op die vragmotor
gelaai en na die slagpale van Country Meat te Kroonstad vervoer het;
2.9 Gemelde Ndomo het
aan eiser verduidelik dat dit alles geskied het op die instruksies en
ooreenkomstig die uitwysings van ‘n
sekere persoon (ene Mohane)
wie hy vooraf opgelaai het, soos tussen sy werkgewer (De Waal) en die
verweerder gereël;
2.10 Die eiser het
intussen vasgestel dat sy verse inderdaad by die betrokke slagpale
geslag is en het by wyse van ‘n dringende
hofaansoek suksesvol
in die landdroshof aansoek gedoen om die beslaglegging op die
opbrengs daarvan.
[3] Die bogemelde feite was nie op appél in
geskil nie.
[4] Die verweerder het
egter in die verhoorhof die volgende aangevoer:
4.1

n
Persoon met die naam van Petrus het hom die voorafgaande dag
(Donderdag, 4 Augustus 2005) telefonies geskakel en gesê dat
hy
nege beeste het om te verkoop;
4.2 Hierdie Petrus wou
hê dat verweerder die volgende dag na die beeste moes gaan kyk,
maar verweerder sou die volgende dag
in Johannesburg wees en daar is
gevolglik ooreengekom dat die verweerder ‘n transporteerder sou
kry om die beeste te gaan
haal terwyl Petrus sou reël vir iemand
om die beeste aan die vragmotorbestuurder uit te wys;
4.3 Verweerder het dit
as ‘n vereiste gestel dat hy slegs die beeste sou koop per
uitgeslagte gewig en het hy teenoor de Waal
asook teenoor Petrus
aangedui dat die beeste na Country Meat Slagpale in Kroonstad geneem
moes word om daar geslag te word;
4.4 Petrus wou ‘n
voorskot hê en die verweerder het die Vrydagmiddag waarop die
beeste geslag is, met sy terugkeer vanaf
Johannesburg R2 000,00
kontant aan ‘n man oorhandig wie hy aangeneem het Petrus is;
4.5 Die daaropvolgende
Maandag is die verweerder deur die polisie meegedeel dat ‘n
klagte van veediefstal teen hom gelê
is en het hy die eiser
geskakel om ‘n verduideliking te vra. Die eiser het volgehou
dat die verweerder sy vee gesteel het
en wou geen gesprek daaromtrent
voer nie.
[5] Die verhoorlanddros het die verweerder se weergawe
aanvaar.
[6] Die landdros het in sy uitspraak volledig met die
getuienis wat voor hom afgelê is, gehandel en het sy bevindinge
breedvoerig
gemotiveer.
[7] Daar is geen
aanduiding in sy uitspraak, en dit is ook nie in die kennisgewing van
Appél of voor ons in betoog aangevoer,
dat die verhoorlanddros
in enige opsig misgetas of homself wanvoorgelig het in die
beoordeling van die getuienis of met betrekking
tot sy
feitebevindinge nie.
[8] Dit is geykte reg
dat ‘n hof van appèl nie ligtelik sal inmeng met die
bevindinge van ‘n hof
a
quo
nie, veral waar
daar nie aangevoer word dat die verhoorlanddros ‘n mistasting
of feitedwaling begaan het nie.
[9] ‘n Hof van
appèl sal in hierdie omstandighede die gevolgtrekkings en
bevindinge van ‘n hof
a
quo
slegs tersyde
stel as die hof van appèl oortuig is dat die landdros verkeerd
is.
[10] Hierdie benaderingswyse word
soms uitgedruk as ‘n vermoede dat

judgments,
unless shown to be wrong, are
right.”
(Per VAN DEN HEEVER, R in
R
v HAEFELE
1938
(2) PH F180 (SWA). En sien
R
v DHLUMAYO AND ANOTHER
1948
(2) SA 677
(AD) te 706;
WESSELS
v JOHANNESBURG MUNICIPALITY
1971
(1) SA 479
(AD) 482G – H;
MUNSTER
ESTATES (PTY) LTD v KILLARNEY HILLS (PTY) LTD
1979
(1) SA 621
(AD) 623H.
[11] Waar ‘n Hof
van Appèl dus bloot twyfel oor die korrektheid van die
verhoorlanddros se bevinding, sal die hof
a
quo
se beslissing
steeds gehandhaaf en bevestig word.
[12] Die eerste aspek wat ons moet oorweeg, is of die
Landdros se bevinding aangaande die bestaan van ‘n persoon met
die naam
van Petrus, en sy beweerde rol in die veediefstalskema,
ooglopend verkeerd is.
[13] Die eiser se advokaat het ons gevra om te bevind
dat sodanige (fiktiewe) persoon nooit bestaan het nie, maar ‘n
blote
versinsel van die verweerder is.
[14] Hierdie submissie is onder andere gegrond op die
betoog dat ‘n nadelige afleiding gemaak moet word teen die
verweerder
omdat hy versuim het om hierdie Petrus as getuie te roep
om sy eie weergawe te bevestig.
[15] Na my mening is hierdie kritiek met gepaardgaande
negatiewe afleiding, nie geregverdig nie. Dit is onbetwis dat hierdie
getuie
nie beskikbaar was om te getuig nie, omdat hy nie opgespoor
kon word nie. Die verweerder het naamlik getuig dat hy Petrus se
selfoonnommer
herhaaldelik geskakel het nadat die beweringe van
veediefstal teen hom gemaak is, en toe hy geen antwoord kon kry nie,
hy die selfoonnommer
aan die polisie gegee het. Nieteenstaande sy eie
pogings en dié van die polisie, kon die gemelde Petrus nie
opgespoor word
nie.
[16] Die kritiek is ook om ‘n ander rede nie
geregverdig nie. Dit is naamlik onrealisties om van ‘n
verweerder onder
hierdie omstandighede te verwag om ‘n persoon
te roep wie hy nie ken nie, om voor die hof te kom erken dat hy ‘n
veedief
is en aanspreeklikheid vir die verlies van die eiser se
beeste aanvaar.
[17] Van belang is dat
die eiser self die aspekte rondom Petrus nie in die hof
a
quo
opgeklaar het
nie. Die eiser het nie daarmee gehandel of hy wel sodanige persoon
ken, of hy ‘n persoon met die naam van Petrus
in diens het of
gehad het, en of hy van die bestaan van so ‘n persoon weet nie.
[18] Die eiser self het trouens in die verhoor voor die
Landdros van die uitgangspunt uitgegaan dat sodanige persoon wel
bestaan,
deur ondermeer in kruisverhoor by monde van sy
regsverteenwoordiger die volgende stellings aan die verweerder te
maak:

...
daardie
Petrus
het
nooit vir u gesê dat hy die eienaar van hierdie beeste is nie.
...”
(OORKONDE, p. 125/10).

En meneer kan u net vir die
hof dan nou verder sê u het met ander woorde eintlik nou maar
net as ‘n tussenganger opgetree
u het met ander woorde hierdie
beeste namens
hierdie
Petrus
gaan
verkoop, is dit korrek? ... Ja.”
(OORKONDE, p. 135/22 –
136/1).
[19] Daar is ook op geen
stadium namens die eiser aan die verweerder onder kruisverhoor gestel
dat die verweerder se weergawe aangaande
Petrus ‘n verdigsel is
of dat sodanige persoon nie bestaan nie of dat Petrus bloot ‘n
fiktiewe persoon is nie.
[20] Die verweerder is dus nie in die verhoorhof die
geleentheid gegee om ‘n antwoord of verduideliking te verstrek
ten aansien
van die eiser se betoog dat “Petrus” ‘n
fiktiewe persoon en dus ‘n versinsel is nie, en ons kan
gevolglik
nie op appèl sonder meer die verweerder se weergawe
ten aansien van hierdie aspek, as vals verwerp nie.
[21] Ek is nie oortuig dat die verhoorlanddros se
uitgangspunt om die saak te beslis op die verweerder se weergawe wat
betref die
verwikkelinge en gebeure rondom die persoon van Petrus,
verkeerd is nie.
[22] Die kernvraag wat oorbly is of die verweerder geglo
het dat hy regmatiglik die beeste by Petrus aankoop of inteendeel
willens
en wetens, met gepaardgaande dieftige opset, aandadig was aan
Petrus se beplande veediefstal.
[23] Anders gestel moet ons aan die hand van die
getuienis wat voor die verhoorlanddros afgelê is, bepaal of die
Landdros
fouteer het in sy bevinding dat daar geen getuienis op
rekord is wat daarop dui dat die verweerder geweet het dat dit
gesteelde
vee is wat aan die eiser behoort; en ook dat daar geen
getuienis is wat diefstal aan die kant van verweerder aandui of so ‘n

afleiding regverdig nie.
[24] Daar is sekere feite en omstandighede wat
aanleiding gegee het tot die eiser se oortuiging dat die verweerder
sy vee gesteel
het, en wat ook deur ons beoordeel en geweeg moet word
in ons oorweging van hierdie vraag.
[25] Hierdie gronde van suspisie kan as volg saamgevat
word:
dit is nie die eerste
keer dat die verweerder betrokke was by ‘n verdagte
veetransaksie nie. Die verweerder het naamlik
in kruisverhoor erken
dat hy tevore vee by ‘n plaasarbeider gekoop het en toe as
staatsgetuie opgeroep is toe die plaasarbeider
aangekla is dat hy
sy werkgewer se vee gesteel en aan verweerder verkoop het. In die
lig van hierdie agtergrond kon daar met
reg van die verweerder
verwag word dat hy beter voorsorg en beter maatreëls sou tref
om te verhoed dat hy weer by veediefstal
betrek word. Die feit dat
hy weereens vee onder verdagte omstandighede by ‘n
plaasarbeider gekoop het, versterk die vermoede
dat hy aandadig of
op een of ander wyse betrokke was by die diefstal van die eiser se
vee;
die verweerder was
deurlopend betrokke by die uitvoering van die diefstal van die vee,
want hy het alles gereël, naamlik:
die transporteerder;

n persoon om die beeste aan
die vragmotorbestuurder uit te wys;
hy laat haal die beeste op die eiser se grond;
hy laat slag die eiser se beeste;
hy gee telefoniese
aanwysings terwyl die verse vervoer word;
die persoon wat deur
die verweerder aangewys word as synde die hoofdader en
hoofbeplanner van die veediefstal, te wete Petrus,
kon nie deur
respondent self of deur die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, opgespoor word nie.
Dit is verdag en mag aanleiding gee tot ‘n afleiding dat
verweerder hierdie getuie “wegsteek”
sodat die
verweerder se ware rol in die beplanning en uitvoering van die
veediefstal, nie op die lappe kan kom nie;
die verweerder se weergawe rondom Petrus is vaag en
verdag, wat ‘n moontlike afleiding regverdig dat hy die man
wil beskerm:
hy kan geen besonderhede van Petrus verstrek, buiten
‘n selfoonnommer nie (wat nie werk nie);
hy weet nie wat die persoon se van is nie;
hy weet nie waar die persoon bly nie;
hy weet nie waar die persoon werk nie;
hy het nie ‘n afskrif van die persoon se
identiteitsdokument bekom nie;
hy het die man nog nooit tevore gesien nie;
hy oorhandig R2 000,00 in kontant as voorskot aan ‘n
onbekende persoon sonder om te bevestig dat die persoon wel Petrus
is;
hy weet nie of Petrus
wel die eienaar van die beeste is nie;
dit is verdag dat verweerder, as veespekulant, die
beeste koop sonder om dit vooraf te sien of te besigtig;
as ervare veespekulant
bevraagteken hy nie die feit dat ‘n plaaswerker sy jong
vroulike diere (wat waarskynlik dragtig
is) laat slag nie;
dit moes hom op sy hoede gestel
het;
hy koop die diere teen halfprys, want die vergoeding
(per kilo soos geslag) beloop R23 082,70 terwyl die waarde van die
verse,
R45 000,00 beloop;
hy kies ‘n vervoerkontrakteur met wie hy nie
voorheen besigheid gedoen het nie, maak geen persoonlike kontak met
dié
transporteerder of dié se drywer nie, betaal hom
nie direk nie, maar laat sy ooreengekome fooi by ‘n sekere
slaghuis
te Kroonstad waar die vervoerkontrakteur dit later afhaal;
die verweerder kon
geen verduideliking in die hof gee waarom hy nie in sy beëdigde
verklaring ter opponering van die aansoek
om beslaglegging van die
geld by die slagpale, melding gemaak het van die “Petrus”
en dié se rol nie;
alhoewel respondent ‘n ervare veespekulant is,
het hy geen voorskrif van die Wet op Veediefstal, nr 57 van 1959
met betrekking
tot voorgeskrewe dokumente vir ‘n
veetransaksie, nagekom nie:
hy het aflewering van die vee wat hy aangekoop het,
aanvaar sonder dat hy in besit geplaas is van ‘n dokument van
identifikasie
wat deur die eienaar van die vee uitgereik is en
waarin die identiteit van die eienaar, die vee, die koper en
besonderhede
van die veetransaksie vermeld word; en het dus die
bepalings van artikel 6(2) gelees met artikel 6(1) van die
Veediefstalwet
oortree;
hy het die vee aan Country Meat Slagpale verkoop,
gelewer en laat slag sonder om ten tyde van die aflewering van die
vee ‘n
dokument van identifikasie te verstrek en het dus die
bepalings van artikel 6(1) van die Veediefstalwet oortree;
hy het die verse laat verwyder vanaf die appellant se
plaas en laat vervoer na die slagpale sonder ‘n
verwyderingsertifikaat
wat deur die eienaar van die vee uitgereik
is soos bedoel in artikel 8(2) van die Veediefstalwet;
hy het die verse vir verkoop in sy besit ontvang van
‘n persoon wat nie ‘n bekende woonplek het nie, sonder
‘n
sertifikaat dat gemelde persoon geregtig is om daardie vee
van die hand te sit, soos bedoel in artikel 7 van die
Veediefstalwet;
hy het die vee ontvang vanaf ‘n persoon wat
vermoedelik in diens was van die eienaar van grond sonder dat die
werknemer
in besit was van ‘n sertifikaat van die eienaar wat
sertifiseer dat die werknemer geregtig is om die vee van die plaas
te laat verwyder, soos bedoel in artikel 8(4) van die
Veediefstalwet;
die verweerder het
geen dokumente voltooi ter bewys van die transaksie tussen hom en
Petrus, soos byvoorbeeld ‘n aankoopfaktuur,
rekeningstaat,
afrekeningsbewys, ensovoorts nie;
die verweerder betaal
aan die Petrus ‘n kontantvoorskot van R2 000,00 maar laat hom
nêrens teken vir die ontvangs
van die geld, en vra nie sy
adres, ensovoorts nie. Dit versterk die vermoede dat hy die eiser
se nege Brahman verse aangekoop
het by hierdie onbekende persoon
vir die somtotaal van R2 000,00, veral omdat hy die “Petrus”
nie weer daarna gesien
het of te voorskyn kon bring nie.
[26] Daar bestaan egter
ook sterk objektiewe aanduidings dat die verweerder wel
bona
fide
opgetree het
of gemeen het dat hy regmatig handel, en moet die nodige gewig ook
hieraan verleen word by ‘n afweging van die
waarskynlikhede in
die saak.
[27] Hierdie feite en omstandighede kan as volg
saamgevat word:
die gebeure moet
gesien word teen die agtergrond dat dit in die veebedryf volgens
die getuie Hanekom van BKB-Louwid, nie ‘n
vreemde verskynsel
is vir veespekulante om beeste te koop teen geslagte gewig per
kilogram vleis, sonder om die beeste vooraf
te besigtig nie;
volgens hom kan ‘n veespekulant net eenvoudig nie orals wees
nie;
alhoewel bemarkers in
die veebedryf
probeer
om diefstal te bekamp deur ‘n prosedure te volg waarin hulle
die agtergrond van die verkoper, ‘n fotostaat
van sy
identiteitsdokument, toepaslike brandmerke, ensovoorts poog te
bekom, slaag hulle nie altyd daarin nie: volgens die
getuie Hanekom
is dit ‘n groot probleem;
die eienaar van die
vervoeronderneming (De Waal) het onder eed bevestig dat hy niks
snaaks gevind het aan die verweerder se
opdrag om die beeste te
gaan oplaai waar dit uitgewys sou word en daarna na die slagpale te
vervoer nie;
die verweerder het vir gemelde De Waal gevra of hy ‘n
verwyderingsertifikaat beskikbaar het, en dit kan daarop dui dat

die verweerder geglo het dat hy die beeste by iemand koop en nie
steel nie;
die verweerder het na die voorval vir die eiser gebel
en gevra op grond waarvan die eiser hom van diefstal beskuldig het.
Hierdie
optrede dui allermins op ‘n skuldige gewete;
ondervinding het
geleer dat veeboere en veespekulante nie noodwendig alle
voorskrifte met betrekking tot die aankoop, verkoop
en vervoer van
vee stiptelik en deurlopend nakom nie, met spesifieke verwysing na
die uitreiking van afleweringsertifikate,
sertifikate van
eienaarskap en sertifikate van identifikasie, ensovoorts: die
afwesigheid van sodanige sertifikate is dus nie
sondermeer ‘n
aanduiding van dieftige opset aan die kant van die verweerder nie;
die verweerder nader
‘n vervoerkontrakteur wat ‘n bestaande, gevestigde
besigheid het, oop en bloot, terwyl hy hom
nie ken nie en moes weet
dat hierdie persoon ‘n potensiële getuie teen hom is;
die verweerder weet
dat die drywer van die vragmotor nie aan hom bekend is nie en dus

n verdere
potensiële getuie is: nogtans gebruik hy nie sy eie
vertroueling nie, soos verwag kan word indien hy besig was
om die
vee te steel;
die voorval waartydens die verweerder die vee op die
eiser se plaas laat oplaai, na die slagpale laat vervoer, daar laat
aflaai
en daar laat slag, vind helder oordag oop en bloot plaas;
die verweerder gee
openlik instruksies aan meerdere persone dat die vee na Country
Meat Slagpale geneem moet word om daar geslag
te word;
die verweerder
verstrek sy naam en telefoonnommer aan die slagpale asook aan die
vervoerkontrakteur: hy word dan ook vanaf die
slagpale en vanuit
die vragmotor geskakel en sy identiteit is ten volle vooraf deur
hom aan hierdie persone geopenbaar;
die verweerder reël oop en bloot dat die opbrengs
van die nege verse soos geslag, deur die slagpale in sy eie
bankrekening
inbetaal moet word;
die verweerder laat die beeste helder oordag en oop en
bloot by die slagpale slag, terwyl hy weet dat die personeel daar
almal
potensiële getuies teen hom is;
die verweerder reël dat die fakture deur die
slagpale in sy eie naam uitgemaak moet word;
die diefstal van die
verse was fyn en noukeurig beplan, soos blyk uit die feit dat die
nege verse nie toevallig in die stoor
sou gestaan het toe De Waal
se vragmotor daar aankom nie: dit is onwaarskynlik dat verweerder
in hierdie beplanning nie sy
eie rol sou wou verbloem of verberg
nie;
die feit dat die
verweerder oop en bloot in helder daglig hierdie optrede uitgevoer
het, druis in teen ‘n vermoede van
diefstal, omdat die
verweerder nie gepoog het om sy spore dood te vee nie;
alle spore lei trouens
na homself en is dit totaal onwaarskynlik dat die verweerder so ‘n
uitdagende veediefstalskema
sou aanpak sonder enige beplanning of
maatreëls om sy eie rol en aandeel daarin te verberg.
[28] Na my mening kan die saak nie op appèl in
die guns van die eiser (die appellant) beslis word op die basis dat
die verweerder
(die respondent) se weergawe so vergesog is, dat die
verhoorlanddros verkeerd was om dit nie as vals te verwerp nie. Na my
mening
bestaan daar dus geen gronde om ‘n inmenging met die
feitebevindinge van die verhoorlanddros, te regverdig nie.
[29] Die gevolgtrekking van die bogemelde uiteensetting
is dus dat die appèl teen die afwysing van die hoofeis, nie
gehandhaaf
kan word nie.
[30] Die eiser het ook appèl aangeteken teen die
feit dat die verweerder se teeneis op grond van laster, teen hom
toegestaan
en hy beveel is om ‘n bedrag van R20 000,00 aan die
verweerder vir genoegdoening te betaal.
[31] In die verweerder
se teeneis is naamlik aangevoer dat die eiser wederregtelik en
opsetlik lasterlike aantygings aangaande verweerder
teenoor derdes
gemaak het, tot dié effek dat verweerder verse van die eiser
gesteel het; welke bewerings van alle waarheid
ontbloot is, maar
aanleiding gegee het tot die
innuendo
dat die verweerder ‘n skelm is,
‘n dief is, oneerlik en onbetroubaar is, en op ‘n
oneerlike, duistere en agterbakse
manier ‘n inkomste verdien.
[32] Die eiser het ‘n bedrag van R50 000,00 geëis
op grond van hierdie lasterlike bewerings wat na bewering ten doel
gehad het om die verweerder in sy goeie naam, eer en waardigheid aan
te tas.
[33] Die eiser se verweer op die teeneis soos blyk uit
die verweerskrif, is ‘n blote ontkenning: dit word ontken dat
enige
sodanige aantygings of bewerings gemaak is, en dit word voorts
ontken dat die verweerder enige skade gely het.
[34] Geen verdere of enige spesifieke verwere word in
die verweerskrif tot die teeneis, geopper nie.
[35] In betooghoofde en in argument voor ons is namens
die eiser aangevoer dat die verhoorlanddros die teeneis om laster van
die
hand moes wys weens die volgende oorwegings, naamlik:
daar is deur die eiser bewys dat sy beeste gesteel en
verkoop is;
die hoof-eis moes dus slaag op die basis dat daar op
‘n oorwig van waarskynlikhede aangetoon is dat verweerder die
persoon
is wat die eiser se beeste gesteel het;
verweerder moes bewys dat hierdie bewering vals is;
om hom van hierdie bewyslas te kwyt, moes verweerder
aantoon dat hy die vee by Petrus aangekoop het, en dat daardie vee
nooit
aan die eiser behoort het nie; en dat eiser se bewerings
vervolglik lasterlik was;
ten opsigte van hierdie bewyslas, het die verweerder
jammerlik gefaal.
[36] Hierdie betoog kan nie gehandhaaf word nie.
[37] Ten eerste het eiser nooit tot die teeneis gepleit
dat die beweringe die waarheid is nie. Selfs al het hy dus met die
hoof-eis
geslaag, gegrond op veediefstal, moes die teeneis steeds
toegestaan word. Die eiser het naamlik geen ander verweer teen die
verweerder
se vordering weens laster geopper as dat hy nié die
bewerings geuiter het nie, en dat verweerder geen skade gely het nie.
[38] Tweedens moes eiser pleit en aantoon, as
noodsaaklike element van sodanige verweer, dat dit in die openbare
belang was dat
die waarheid deur hom verkondig moes word :

...truth apart from the
element of public benefit is not in itself a complete defence.”
[39] Dit is dus regtens onbestaanbaar om van ‘n
eiser te vereis of te verwag om aan te toon dat die bewerings wat
aangaande
hom gemaak is, vals is. Daar rus geen sodanige bewyslas op
‘n eiser nie :

Falsity is not a matter to be
alleged or proved by the plaintiff, because the defamatory nature of
a statement is not dependent
on its falsity. “
AMLER’S
PRECEDENTS
OF
PLEADING
6de
Uitgawe p136 en gesag aldaar.
[40] Die verhoorlanddros het, soos met die uitspraak op
die meriete van die hoofeis, insgelyks volledig met die getuienis ten
opsigte
van die teeneis gehandel, dit ontleed en sy bevindinge
gemotiveer.
[41] Daar is geen basis waarop bevind kan word dat die
verhoorlanddros verkeerd is nie.
[42] Die
quantum
van die toekenning aan genoegdoening
is nie aangeveg nie en daar bestaan geen gronde vir inmenging met die
verhoorlanddros se uitoefening
van sy diskresie in hierdie verband
nie.
[43] Die appèl
word gevolglik met koste van die hand gewys, beide wat betref die hof
a quo
se afwysing van die hoof-eis en die
toestaan van die teeneis.
C. PLOOS VAN AMSTEL,
WND R
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die appellant : Adv. S. J. Reinders
In opdrag van:
Rosendorff Reitz Barry
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent : Adv. J. G. Gilliland
In opdrag van:
Molefi Thoabala Prokureurs
BLOEMFONTEIN