Dwyili v S [2008] ZAFSHC 144 (6 November 2008)

52 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Self-defence — Appellant convicted of murder after altercation resulting in the death of Simon Booi — Appellant claimed he acted in self-defence after being attacked with a knife — Evidence presented by state witnesses indicated appellant and co-accused assaulted the deceased, leading to his death — Appellant's conviction upheld despite claims of provocation and self-defence, as evidence supported the finding of guilt beyond reasonable doubt.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 144
|

|

Dwyili v S [2008] ZAFSHC 144 (6 November 2008)

IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. :
A9/2008
In
die appèl tussen:
MZWABANTU
WILSON DYWILI
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL R
et
MOLOI WND R
UITSPRAAK:
VAN
ZYL R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
27
OKTOBER 2008
GELEWER
OP:
6
NOVEMBER 2008
[1] Appellant
het in die Streekhof te Bloemfontein tereggestaan op ‘n aanklag van
moord deurdat hy na bewering die oorledene,
Simon Booi, op 1
Februarie 2003 wederregtelik en opsetlik gedood het. Hy het
onskuldig gepleit, maar is op 19 Mei 2006 skuldig
bevind soos
aangekla en op dieselfde datum gevonnis tot 12 jaar gevangenisstraf.
Die appèl is teen beide die skuldigbevinding
en die vonnis
gerig nadat verlof daartoe deur die hof
a
quo
op 19 Mei 2006 verleen is.
[2] Dit dien vermeld te
word dat hier ook ‘n kondonasie aansoek deur appellant geloods is
met betrekking tot die laat voortsetting
van die appèl. Dit
word nie deur die Staat opponeer nie en gegewe die redes daarin
vermeld en appellant se redelike kans
op sukses, word die kondonasie
aansoek toegestaan.
[3] Appellant
het aanvanklik as beskuldigde 1 saam met sy vrou, as beskuldigde 2,
tereggestaan. Terwyl die verrigtinge in die hof
a
quo
nog
hangend was, is beskuldigde 2 egter oorlede. Die vervolging is
gevolglik teen haar gestaak en het appellant as enigste beskuldigde

in die voortsetting van die verrigtinge tereggestaan op die voormelde
aanklag.
[4] Appellant
het regsverteenwoordiging in die hof
a
quo
geniet. Ten tyde van sy pleit van onskuldig is ‘n
pleitverduideliking namens hom op rekord geplaas tot dien effekte dat
hy
in selfverdediging opgetree het, terwyl die pleitverduideliking
van beskuldigde 2 op rekord gestel is as dat sy al die elemente
van
die misdryf in geskil plaas.
[5] Voordat getuienis
aangebied is, is namens beide appellant en beskuldigde 2 die volgende
formele erkennings in terme van artikel
220 van die Strafproseswet,
Wet No. 51 van 1977, gemaak:
1. Die identiteit van die
oorledene is erken as Simon Booi;
2. Die inhoud van die
regsgeneeskundige lykskouingsverslag is erken as waar en korrek;
3. Dit is erken dat die
liggaam van die oorledene geen verdere beserings opgedoen het vanaf
die toneel van die misdryf tot en met
die uitvoering van die
lykskouing nie.
Die lykskouingsverslag is
ontvang as bewysstuk A en die foto’s ten opsigte van die lykskouing
as bewysstuk B. Uit die lykskouingsverslag
blyk dit dat die oorsaak
van die dood aangedui word as ‘n kopbesering as gevolg waarvan die
breinweefsel beskadig is.
[6] Die staat het 2
getuies geroep. Die eerste was Filemon Booi, die broer van die
oorledene. Hy is ongeletterd. Volgens sy getuienis
in hoof was daar
die dag van die voorval, ongeveer 12 uur die middag, ‘n bakleiery
tussen appellant en die oorledene by die Bloemdal
Kontantwinkel. Die
oorledene het die winkel verlaat, maar later teruggekeer ten einde ‘n
argument stop te sit wat tussen sy
dogter en ‘n ander dame
plaasgevind het. Hiertydens het die oorledene se dogter
weggehardloop. Appellant het daarna uit die
winkel gekom en beweer
dat die oorledene hom met ‘n mes gesteek het. Daarna het appellant
en sy vrou, beskuldigde 2, die oorledene
agtervolg die straat af en
hom op die grond laat neerval, waarna hy gesien het dat beskuldigde 2
op die oorledene getrap het.
Hy het nie gesien dat appellant die
oorledene aanrand nie, maar dat hy met ‘n mes langs die oorledene
gestaan het terwyl beskuldigde
2 so op hom getrap het. Hoewel hy nie
gesien het dat appellant die oorledene aanrand nie, beweer hy dat op
die stadium wat hy
op die toneel opgedaag het, appellant reeds klaar
die oorledene aangerand het, hoewel hy geen basis vir hierdie
bewering verskaf
het nie. Appellant het niks gesê terwyl
beskuldigde 2 die oorledene so aangerand het nie. Beskuldigde 2 het
op die oorledene
getrap en op hom gespring. Hierdie getuie het toe
later weer getuig dat die oorledene baie dronk was met geen balans
nie en toe
appellant by hom opdaag, appellant hom met die vuis
geslaan het, waarop die oorledene op die grond geval het en geensins
kon terugveg
nie. Dit was toe dat beskuldigde 2 hom so aangerand het
met die trappery en springery. Volgens hom was appellant en
beskuldigde
2 ook onder die invloed van drank, maar nie so erg soos
die oorledene nie. Hyself was ook onder die invloed, maar ook nie so
erg
nie, terwyl appellant meer onder die invloed was as hyself. Hy
het op ‘n stadium die toneel verlaat om hulp te gaan soek by die

oorledene se werkgewer. Op daardie stadium het beskuldigde 2 steeds
die oorledene aangerand. Met sy terugkeer na die toneel het
die
oorledene nog op die grond gelê en hoewel hy nog geleef het,
was hy klaarblyklik bewusteloos en het stadig asem gehaal.
Niemand
anders was op die toneel nie.
[7] In kruisverhoor het
hy getuig dat appellant ook die oorledene geskop het en dat hy bedoel
het om dit ook in hoofverhoor te getuig
het. Tydens stellings in
kruisverhoor is dit aan hom gestel dat appellant die oorledene slegs
een keer in die gesig met die vuis
geslaan het en dat beskuldigde 2
geensins die oorledene aangerand het nie.
[8] Hierna het die dogter
van die oorledene, Dora Mathabane, as staatsgetuie getuig. Haar
hoogste kwalifikasie is graad 2 en was
sy 25 jaar oud ten tyde van
getuienisaflegging. Die dag van die voorval was sy in ‘n
woordewisseling met beskuldigde 2 betrokke
toe sy haar vader, die
oorledene, gaan roep het om haar te kom help. Dit het gely tot die
aanranding deur appellant en beskuldigde
2 op die oorledene. Op ‘n
stadium het appellant die oorledene getrip, waarop hy geval het.
Appellant het hom vasgedruk en met
sy voete op die oorledene
gespring. Uit die totaliteit van haar getuienis blyk dit dat sy
beweer dat appellant op die oorledene
gespring het en hom ook geskop
het orals op sy lyf, ingesluit sy bors en sy kop. Beskuldigde 2 het
die oorledene met ‘n leë
bierbottel agter sy kop geslaan. Op
‘n stadium het sy na die oorledene se werkgewer se huis gehardloop
om hulp te gaan soek.
Sy het op geen stadium ‘n mes in die hand
van appellant gesien nie.
[9] Gedurende
kruisverhoor verduidelik sy dat die dispuut tussen die partye
ontstaan het deurdat appellant vir homself van die oorledene
se drank
ingeskink het. Dit was, aldus haar, egter appellant wat die
bakleiery begin het. Daar is in kruisverhoor ook aan haar
gestel dat
appellant die oorledene slegs een hou met die vuis geslaan het in
selfverdediging en dat hy eers later verneem het dat
beskuldigde 2 op
die oorledene gespring het en hom geskop het.
[10] In herverhoor getuig
sy dat voortspruitend uit die dispuut oor die drank, het die
oorledene eerste met vuiste na appellant
geslaan, waarna appellant
teruggeslaan het. Daarna het die oorledene weggehardloop, appellant
en beskuldigde 2 het hom agtervolg
en toe het die aanrandings wat
reeds hierbo beskryf is, op die oorledene plaasgevind.
[11] Dit het die
staatsaak voltooi. Na ‘n onsuksesvolle aansoek om ontslag in terme
van artikel 174 van die Strafproseswet, het
appellant in sy eie
verdediging getuig.
[12] Volgens sy getuienis
het hy in die werf van die winkel gesit toe daar ‘n stryery tussen
die tweede staatsgetuie en ene Marie
plaasgevind het. Die 2de
staatsgetuie, Dora, het weggehardloop, waarna die oorledene Marie met
‘n mes wou steek. Appellant
het toe tussenbeide getree. Daarna
het appellant by sy vriende gaan sit. Die volgende oomblik het die
oorledene langs hom gestaan
en hom met ‘n mes in sy bo-been gesteek
terwyl hy nog gesit het. Daarna het die oorledene na die straat
gehardloop. Appellant
is toe na die eerste staatsgetuie en het hom
meegedeel dat die oorledene hom met ‘n mes gesteek het. Die eerste
staatsgetuie
het nie hierop reageer nie. Hy is toe na die hek van
die werf van die winkel en het hy die oorledene teruggeroep. Die
oorledene
het teruggekom, waarna hy die oorledene gevra het waarom hy
hom met ‘n mes gesteek het. Die oorledene het vulgêre taal

gebruik en het gedreig dat hy appellant sou steek en doodmaak. Die
oorledene het toe die appellant genader en wou die appellant
weer
steek. Appellant het die oorledene toe een keer met die vuis
geslaan, waarop die oorledene geval het. Appellant het omgedraai
en
weggestap. Appellant het ontken dat hy ooit die oorledene geskop of
andersins aangerand het nadat hy geval het. Op ‘n vraag
of
beskuldigde 2 ooit die oorledene aangerand het, het hy gesê dat
hy nie weet nie, aangesien hy so kwaad was dat hy net
weggestap het.
Hy het bevestig dat die oorledene erg onder die invloed van drank
was, terwyl hyself en beskuldigde 2 slegs een
bier gedeel het.
[13] In kruisverhoor het
hy toegegee dat hy kwaad en seergemaak was deur die feit dat die
eerste staatsgetuie nie reageer het toe
hy ingelig is dat die
oorledene appellant met ‘n mes gesteek het nie. Dit was ‘n hele
tydjie na die steek-insident wat hy
die oorledene teruggeroep het.
Volgens appellant wou hy die oorledene terugroep om te verneem wat hy
verkeerd gedoen het dat die
oorledene hom gesteek het. Op daardie
stadium het die oorledene geen beserings gehad nie en het beskuldigde
2 nooit met die oorledene
gestry of baklei nie. Volgens appellant
weet hy niks van die wonde wat deur die oorledene opgedoen is nie en
weet hy nie of ander
persone na die oorledene kom kyk het nadat hy
geval het nie.
[14] Dit het die saak vir
die verdediging voltooi.
[15] Wanneer die
getuienis van die twee staatsgetuies evalueer word, is dit duidelik
dat daar weersprekings bestaan in hulle eie
getuienis en ook tussen
hulle getuienis onderling, in besonder met betrekking tot wie van
appellant en beskuldigde 2 welke aanrandings
op die oorledene sou
uitgevoer het. Die verhoorhof het dan ook na die bestaan van hierdie
weersprekings verwys en dit evalueer.
Dit is na my mening heeltemal
tereg deur die verhoorhof in ag geneem dat die twee staatsgetuies
vanaf verskillende posisies en
besonder op verskillende tye die
aanrandings op die oorledene waargeneem het. In die verband moet
onthou word dat beide die staatsgetuies
op verskillende stadiums die
toneel verlaat het om te gaan hulp soek. Die wese van beide se
weergawes met betrekking tot die verloop
van die gebeure is egter
dieselfde, synde dat daar ‘n dispuut van ‘n soort tussen die
oorledene, appellant en beskuldigde 2
plaasgevind het by die winkel,
voortspruitend waaruit die oorledene die straat afgehardloop het, die
oorledene deur appellant en
beskuldigde 2 agtervolg is en as gevolg
van hulle optrede, oorledene op die grond neergeval het. Hoewel
hulle dan verskil oor
watter van appellant en beskuldigde 2 watter
aanrandings uitgevoer het, meen ek hierdie verskille is redelikerwys
verstaanbaar
en verduidelikbaar gegewe hulle verskillende tydstippe
van waarneming daarvan. Die slotsom van beide getuies se weergawes
is dat
appellant en beskuldigde 2 die twee persone, en die enigste
twee persone, was wat vir die aanranding op die oorledene
verantwoordelik
was.
[16] Hulle beskrywing van
die gebeure en die beserings toegedien op die oorledene, hetsy dit
deur appellant en/of beskuldigde 2
toegedien is, word dan ook gestaaf
deur die objektiewe mediese getuienis.
[17] Gegewe appellant se
eie weergawe dat hy deur die oorledene met ‘n mes gesteek is, wat
ek bereid is om te aanvaar gegewe die
eerste staatsgetuie se
bevestiging dat appellant so mededeling aan hom gemaak het op die
toneel, meen ek ook dat die staatsgetuies
se weergawes met betrekking
tot die daaropvolgende gebeure, strook met die waarskynlikhede,
deurdat hierdie messteek as provokasie
gedien het wat daartoe gelei
het dat appellant en beskuldigde 2 opgetree het op die wyse deur die
twee staatsgetuies beskryf.
[18] Gevolglik meen ek
dat die verhoorhof heeltemal tereg nie die staatsgetuies se weergawes
as gevolg van die weersprekings, verwerp
het nie.
[19] Daarteenoor en
wanneer appellant se weergawe inaggeneem word, blyk dit onwaarskynlik
te wees dat appellant, waar hy pas deur
die oorledene met ‘n mes
gesteek is, weer die oorledene sou terugroep om met hom daaroor te
praat, dít terwyl die oorledene
steeds bewapen is en appellant
nie enige wapen gehad nie. Verdermeer strook appellant se weergawe
dat hy die oorledene slegs een
maal met die vuis geslaan het, dat hy
hom geensins verder aangerand het nie en dat beskuldigde 2 ook nie
die oorledene aangerand
het nie, geensins met die objektiewe mediese
getuienis nie. Sy powere poging om tydens kruisverhoor daarop te
sinspeel dat die
verdere beserings moontlik deur ander persone
veroorsaak kon wees, gaan ook glad nie op nie, aangesien daar geen
getuienis is dat
ander persone moontlik betrokke was nie en dit ook
nooit appellant se saak was dat die beserings deur ander persone
veroorsaak
is nie. Inteendeel, in die verband moet in gedagte gehou
word dat appellant se pleitverduideliking een van selfverdediging was

en is die indruk wat dus daardeur verwek is, dat erken word dat die
beserings soos blyk uit die lykskouingsverslag toegedien is,
maar dat
dit in selfverdediging geskied het.
[20] Gevolglik meen ek
dat appellant se weergawe dat hy die oorledene slegs een vuishou
toegedien het en dat beskuldigde 2 geensins
betrokke was nie,
heeltemal tereg deur die verhoorhof as onwaarskynlik verwerp is.
[21] Wanneer die verweer
van selfverdediging of dan noodweer aan die staat se weergawe gemeet
word, meen ek dat dit duidelik is
dat hoewel aanvaar word dat die
oorledene eerste die aanval op appellant geloods het by wyse van die
messteek, die oorledene daarna
weggehardloop het en dus geen verdere
bedreiging vir appellant ingehou het nie. Die feit dat appellant (en
beskuldigde 2) daarop
die oorledene ingehardloop het en aangerand
het, kan dus geensins as optrede in selfverdediging beskou word nie,
omdat die oorledene
juis weggehardloop het en geen verdere bedreiging
vir appellant ingehou het nie. Na my mening het die staat dus die
afwesigheid
van noodweer bewys.
[22] Hoewel dit nie uit
die staatsgetuie se weergawes met sekerheid bevind kan word welke van
appellant en beskuldigde 2 welke
aanrandingshandelinge gepleeg het
nie, meen ek dat die verhoorhof heeltemal tereg bevind het dat hulle
met gemeenskaplike opset
opgetree het. Hulle het oor en weer hulself
aktief assosieer met die ander een se handelinge.
[23] Wat
betref die vraagstuk na
mens
rea
,
het die verhoorlanddros ook volledig daarmee gehandel in haar
uitspraak. Sien oorkonde p. 118, reël 23 – p. 120, reël

6. Ek meen dat die verhoorlanddros se beredenering van hierdie
vraagstuk en haar gevolgtrekkings daaromtrent heeltemal korrek
is en
stem ek daarmee saam.
[24] Gevolglik meen ek
dat daar geen basis is waarop met die skuldigbevinding ingemeng kan
word nie en het Mnr. Van der Merwe, namens
appellant, op
verantwoordelike wyse ook hierdie toegewing gemaak.
[25] Wat die opgelegde
vonnis betref, blyk dit dat die verhoorhof tereg daarop gewys het dat
by die oorweging van ‘n gepaste vonnis
die elemente van
strafoplegging oorweeg moet word, synde die persoonlike omstandighede
van appellant, die aard en erns van die
misdryf en die belange van
die gemeenskap. Met inagneming daarvan het die verhoorlanddros na my
mening heeltemal tereg bevind
dat daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis as
die minimum van 15 jaar voorgeskryf
deur artikel 51 van Wet 105 van
1997, regverdig.
[26] By verdere ontleding
van die redes vir die vonnis meen ek egter dat die verhoorhof fouteer
het deur die aard en erns van die
misdryf te oorbeklemtoon, sonder
behoorlike inagneming van die omringende omstandighede tot die
pleging daarvan. Hoewel die verhoofhof
wel na die versagtende
faktore hieromtrent verwys het, blyk dit, met respek, of dit meer
lippediens was as ‘n werklike inagneming
daarvan, terwyl die
verswarende faktore ten opsigte daarvan, oorbeklemtoon is. Dit het
dan ook daartoe gelei dat die aard en erns
van die misdryf
oorbeklemtoon is ten koste van die persoonlike omstandighede van die
appellant. Op ‘n pertinente vraag deur
myself aan Mnr Bontes,
namens die staat, hieromtrent, het hy toegegee dat dit inderdaad so
blyk uit die nalees van die redes vir
die opgelegde vonnis.
[27] Wat die versagtende
faktore met betrekking tot die omringende omstandighede tot die
pleging van die misdryf betref, is dit
duidelik dat die misdryf
gepleeg is voortspruitend uit erge provokasie van appellant deur die
oorledene, deurdat die oorledene
hom met ‘n mes gesteek het.
Verder is dit duidelik dat alle relevante partye onder die invloed
van drank was en was dit die
getuienis van die eerste staatsgetuie
dat appellant nog meer onder die invloed as hyself was. Hoewel dit
blyk, soos tereg deur
die verhoorhof uitgewys, dat die oorledene
klaarblyklik die ergste onder die invloed was, doen dit nog nie
afbreek aan appellant
se staat van intoksikasie en sy gevolglike
mindere morele blaamwaardigheid as gevolg van die inhibering van sy
oordeel wat dit
tot gevolg sou hê nie.
[28] Voormelde
versagtende faktore moet ook in samehang met die persoonlike
omstandighede van appellant oorweeg word, synde dat
hy ten tyde van
die pleging van die misdryf 37 jaar oud was, ‘n algehele eerste
oortreder was, getroud met vier kinders wat hy
moet onderhou en
werksaam was as ‘n algemene arbeider op ‘n plot waar hy ook
woonagtig was. Dit blyk dus na my mening dat
appellant inherent
goeie mensemateriaal is wat sy kanse op rehabilitasie verhoog.
[30] Dit is egter wel ook
so, soos deur die verhoorlanddros aangestip, dat dit ‘n uiters
ernstige misdryf is waarvoor appellant
na behore gestraf moet word.
Die gemeenskapsbelang tree na vore in die geval van ‘n
geweldsmisdaad soos hierdie en word daar
van die howe vereis om deur
middel van ‘n gepaste vonnis sy afkeur in geweldsmisdade te
reflekteer, in besonder waar dit gelei
het tot die onherroeplike
verlies van ‘n kosbare lewe.
[31] Gegewe die
verhoorhof se voormelde oorbeklemtoning van die aard en erns van die
misdryf, meen ek dit het die resultaat gehad
dat die verhoorhof nie
sy vonnis diskresie redelik uitgeoefen het nie en regverdig dit onder
die omstandighede inmenging.
[32] Na behoorlike en
gebalanseerde opweging van al die tersaaklike omstandighede en
faktore, meen ek dat 10 jaar gevangenisstraf
‘n gepaste vonnis is.
[33] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
33.1 Die appèl
teen die skuldigbevinding word afgewys en die skuldigbevinding word
bekragtig.
33.2 Die appèl
teen die opgelegde vonnis slaag, die opgelegde vonnis word tersyde
gestel en vervang met een van 10 jaar gevangenisstraf,
welke
gevangenisstraf geag moet word opgelê te gewees het op 19 Mei
2006.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek
stem saam.
____________________
K. J. MOLOI, WND R
Namens
die appellant: Mnr P. van der Merwe
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum
Bloemfontein
Namens
die respondent: Adv. D. W. Bontes
In
opdrag van:
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/EM